Archive

Archive for the ‘TO Strand’ Category

Ons kamp amper weer!! Yay!!

June 7, 2010 Leave a comment

Kampe kampe kampe! Amper weer kampseisoen. Ja, die tweede helfte van die jaar is my “kampseisoen”, die tyd waarin ons op hordes jeugkampe gaan en deur saamwees…wel, net saam is en saam speel en saam bid en saam moeg word. Kan byna nie wag nie! Een van die outjies wat laas jaar begin saam kamp het, vra my nou-nou net in die gym: “Wanneer begin ons nou weer bietjie kamp?” Nou, hier is die break down:

Eerste aan die beurt is Kamp 1 van Skolliekamp 2010 by Winklespruit. Nou, ek moet erken, ek was nog nooit self op een nie, maar ek was darem al ‘n paar keer op Skoolverwisselingskamp, en dit lyk my die formaat is baie dieselfde. So ek stres nie regtig nie, ek sien nogals uit. Bybelstudieleier en Ontspanningsleier. Hmmm.

Dan, die laaste naweek van die vakansie het ons ‘n Ringsjeugkamp (of altans, ons probeer een organize). Dit gaan maar sukkel-sukkel, daar was lanklaas so iets hier gehou. Maar ons kyk maar hoe dit gaan! Nog ‘n eerste, die NG Kampterrein by Pongola. Blykbaar op die wal van die rivier, so hoe dit gaan afgaan vroeg in Julie sal ons maar moet sien!

Nie lank daarna nie is dit Chillax-kamp, ons jeugkamp wat laasjaar soos ‘n bom gewerk het. Weer by Matatane River Lodge hoop ek dat dit hierdie keer net so crazy awesome ervaring sal wees soos die vorige keer. Die begin van die jaar se kategese-afskop kamp het ‘n bietjie meer soos werk gevoel, so ons gaan seriously aandag aan daai aspek gee hierdie keer.

Net voor dit het ons ‘n dissipelskap-retraite. Tel dit as ‘n kamp? Hehe.

Kort na Chillax is daar ‘n Winterskool saam met Andrew Root en Marc de Vries en daarna nog ‘n jeugwerker konferensie (ek dink nie ek gaan die jeugwerkerkonferensie bywoon nie, want ek het al die sprekers wat dit gaan aanbied se goed nou al regtig ‘n klomp keer gehoor – niks fout met dit nie, maar ek gaan my tyd mors. Sal eerder ‘n paar kategete stuur!).

Vroeg in die vierde kwartaal het ons ons jaarlikse Belydeniskamp – eintlik die trickyste een van die lot. Want sien, die verwagting is mos dat ‘n mens op hierdie kamp alles moet fix wat jy nie vanjaar met die belydenis-kids kon regkry nie – hierdie is mos die naweek wat jy hulle moet bind om vir ewig toegewyde lidmate van die NG-kerk te word wat elke Sondag die erediens sal bywoon, elke maand hulle tiende sal gee en hard sal saamwerk in die kommissies. Mos.

Dan…vroeg in Desember het ons ons voorbereidingskamp vir ons uitreik TO Strand toe. Hier werk ons, speel ‘n bietjie en doen baie spanbou (of dis ten minste die idee).

En finally, direk na Krismis ry ons af see toe vir Stranddiens. Die kamp wat die meeste voorbereiding, beplanning, dinkwerk en kreatiwiteit kos, maar die bevredigendste is (op soveel verskillende levels dis nie eens snaaks nie.)

So…wanneer begin julle kamp?

Voorspankamp en bekeringstories (oftewel, 30 Seconds terwyl dit katte en honde sous op TO Strand)

October 1, 2009 Leave a comment

‘n Paar van ons was van Sondag tot Woensdag (gister) as ‘n tipe van “voorspan” op T.O. Strand waartydens ons ‘n bietjie met Oom Eddie Fourie en sy vrou Estelle (die oord se bestuurders) gesels het oor wat waarskynlik ons 12de stranddiens in 10 jaar sal wees aan die einde van Desember vanjaar. Hulle was vriendelik genoeg om ons verblyf te verskaf – baie dankie daarvoor! Ons moes net self ons kos, brandstof en sakgeld hanteer.

Ons was 8 persone, my en Oom Ferdinand ingesluit. Dit was bietjie van ‘n cock-fest, met net twee girls wat saam was. Verder was dit net manne! En nee, ons het nie net gebraai nie – maar daar is die hele tyd met rugbyballe gespeel.

Die weer wou nie regtig saamwerk in terme van sonskyn nie, soos dit met die grootste deel van die land gegaan het die afgelope paar dae, maar dit het ons nie laat onderkry nie. Nadat ons Sondagaand High School Musical 3 gekyk het (dit was op M-Net, okay), was die ander braaf genoeg om vir my en Jan Kriel met 30 Seconds aan te vat. Shame. Ons het hulle omtrent gewaste! Ons het amper vir Wiam, Karlie en Jan-Paul gelap! Jan Bekker en Lizahn het beter gevaar, maar ons het nog steeds hulle gatte geskop.

Maandagoggend het ons manne aan die gesels geraak oor die geldigheid van die historisiteit van die Bybel en watse verskil dit maak of dinge nou werklik gebeur het soos wat dit daar staan en of dit nie het nie. Bitter interessante gesprek. Die ouens was nogals lekker oopkop en ek en Oom Ferdinand kon hulle met ‘n paar idees stretch – Noag, Jona, die 3-verdieping wereldbeeld. Hoewel ek kon agterkom hulle weet eintlik nogals min, het ek ook gesien mens kan die geleentheid gebruik om hulle dan iets te leer. Dalk is dit goed dat ons kategesesisteem so afgewater geraak het. Nou weet ons kinders niks en nou kan ons hulle goeie goed leer. Hehehe! 😉

Later het ons darem dit in die water gewaag, maar dit was aan die bitter koue kant. Interessant was dat Jan Kriel pers verkleur in die koue water en oranje vlekkies op sy kneukels kry. Hmmm.
Die middag se kant het ons met Oom Eddie-hulle gekonfereer en so ‘n bietjie gesels oor die aandprogramme en hoe ‘n mens dit nog meer gesinsvriendelik kan maak as wat dit reeds is. Daar was ‘n paar goeie idees wat ek en Jan Bekker nogal lus is om uit te toets. Maar dit gaan beslis meer voorbereiding vat as gewoonlik.

Die aand het ons gaan fliek. Niemand kon UP gaan kyk nie, want dit was uitverkoop (die volgende dag ook! Twee shows na mekaar!). Teen die einde van die aand het ons in Panarotti’s beland waar ons brood en Balsamiese asyn uitprobeer het. Party het daarvan gehou, ander nie…

Later die aand was dit weer tyd om te wys wie is bobaas in 30 Seconds. Ons het die spanne ordentlik geskommel en hierdie keer was daar vier spanne: Ek & Wiam, Jan Bekker & Jan-Paul, Jan Kriel & Karlie, en Lizahn & Oom Ferdinand. Die speelveld was baie gelyker hierdie keer, maar ek en Wiam het deurgedruk en op die ou einde met iets soos 7 blokkies geseevier. Ek like dit niks om in daardie game te verloor nie…ek is ‘n klein bietjie trots op my algemene kennis. Waar ek op name of plekke of goeters afkom wat ek nie ken nie, gaan Google ek dit. Hoe anders gaan jy uitvind wie of wat dit is?

Dinsdag was weer rustig en met die oggend se reen wat ons binnemuurs gehou het, het ek en Oom Ferdinand die groep bymekaar gekry en begin gesels oor die “geestelike” sy van die hele uitreik – die tema van “Back 2 Basics” en die teks uit 1 Korintiers 5 wat daartoe aanleiding gegee het. Die gesprek het gevloei in die rigting van: “Maar hoe lei ek iemand tot bekering? Hoe deel ek my geloof met iemand wat my daaroor uitvra? Hoe lyk my eie bekeringstorie – moet dit hierdie heavy special effects-besigheid wees, of kan ek maar my gewone verhaal vertel?”

En toe kom die awesomeste goed los:
“Daar was ‘n oom wat op gekniel het om te bid en ek het geweet ek is te trots om dit te kan doen. Daardie aand het die verskil gekom.”
“Ek was by ‘n Bybelskool gewees een vakansie…”
“My jeugwerker en ‘n vriendin het saam met my gebid…”
“My ma het my vertel ek kan self kies of ek Jesus wil volg of nie…”
“Ek het altyd daai ‘gevoel’ gesoek wat mens veronderstel is om te kry as jy ‘jou hartjie vir Jesus gegee het’, maar dit het nooit gebeur nie – maar baie later het ek saam met goeie vriende gesels oor die seer in ons lewe. Ons het saam gebid en tydens daardie opvolgende stranddiens het die verskil regtig gekom…”
“My ma het van kleins af saam met my gebid en een aand toe ek 6 jaar oud was, my tot oorgawe aan Christus gelei…”
“Een keer het die Kinderkerk-tannie gevra wie is onseker. Ek was 7, heel voor in die ry en het my handjie opgesteek. Toe ek omkyk, sien ek dat ek die enigste een is! Sy het my pa, wat ‘n sendingdominee is, gebel en daardie aand het ek sekerheid gekry…”
“Een aand tydens die Jeug-Tot-Jeug-beweging op ‘n koue pawiljoen in Pietersburg het Oom Malan Nel gepreek en later daardie aand het ‘n gewone ou saam met my en my groep vriende kom bid…” (10 punte vir die een wat reg raai wie s’n die een was! 😉 )

Awesome “dun plek” – Leisure Bay Villa 28, 29 September 2009.

Weer ‘n bietjie swem, weer ‘n bietjie touchies, weer ‘n bietjie siel skoonmaak op die rotse naby die kruis.
Ek is mal oor daardie plek. Ek connect met God daar.

Randoms van die paar dae:
* Jan Kriel se “K” is eintlik ‘n “silent K”, so jy spreek dit uit “Jan Riel”
* So Afrikaans soos “Pavement”
* Ek sien iets met my kleine kleine ogie wat met ‘n X begin…X-road!
* Mens kan Cheese Puffs eet as dit in iemand anders se mond was (euww!!)
* Daar is nie genoeg dans-movies wat op DSTV gewys het aan die einde van September nie.
* Vaseline is nie ‘n lubricant nie
* Die spices op die slapchips by die restaurant brand, maar die tamatiesous smaak soos koljander
* Pampers is Katkos
* Jan Kriel weet nie watse diere “miaau” nie
* Die Uniegebou is die basis van die Suid-Afrikaanse Weermag
* Apies sal enigiets doen vir aandag
* Niemand se vingers is invincible nie, maar Jan Kriel s’n is soos spykers (maar nou weet hy hoe voel ‘n long)
* Karlie behoort aan Wiam, nie andersom nie
* Jy mag nie onder 18 wees en in die smoking section by die Wimpy by Southcoast mall sit nie, selfs al rook jy nie – die polisie sal verbyry en jou daar sien
* Die pasta was lekker, maar dit was nie baie moeilik om te maak nie

Ek weet. Ek werk saam met awesome mense. Hoekom moet ek waai?

TO Stranddiens # 10 : Dis Overall ‘n Fees Om ‘n Christen te Wees!

January 6, 2008 Leave a comment

So ons is terug van Stranddiens af. Wat ‘n heerlike ervaring! Oe, dit klink so formeel…

Dit het gerock! Dit was awesome, excellent en flippen cool.

Vandat ons in die kar geklim het by die parkeerterrein van die kerk totdat ons vanmiddag (Sondagmiddag 6 Januarie 2008) so half drie se kant terug was, het ek dit geniet. Ja, natuurlik, om te sê elke liewe dingetjie het glad en sonder probleme verloop, is bloot nie realisties nie, maar dit was vir my regtig een van die heel lekkerste stranddienste. Dit was beslis die stranddiens waarop ek die heel meeste gelag het!

Om ‘n vinnige oorsig oor die week te gee, gaan ‘n mission wees, so ek gaan nou maar vertel soos dit in my kop opkom.

Elke dag se program het dieselfde verloop:
06:30 voogde op die strand
07:00 span op die strand vir bewuswording
08:00 ontbyt
08:45 Bidbuddies
09:00 regmaak vir strandspele
10:00 strandspele (aksiekrieket/touch rugby/sandkasteelkompetisie en strandgames/survivor)
12:30 middagete
13:30 regmaak vir poppekas
14:00 poppekas
14:45 konsertoefening
16:00 aftyd
17:00 Huisbesoek (soms)
18:00 aandete
19:00 bestuurspanvergadering (soms)
20:00 aandprogram (saalspeletjies/talentaand/konsert/praise & worship/youth bash/sokkies/koffiekroeg)
22:00 dagevaluering
23:00 slaaptyd

Die Sondag was daar ‘n erediens in plaas van strandspele en geen poppekas nie en op Oujaar was daar ‘n middernagdiens (wat yours truly moes lei sonder dat ek vooraf daarvan gesê is!).

Dis moeilik om alles te vertel, daar het so baie dinge gebeur. Besoek gerus die NG Vryheid TO Stranddienste group op facebook, dit gaan binnekort baie foto’s en nuwe goed op hê.

Waarby ek wil uitkom, was die ervarings wat ons gehad het.

Die sports en games was lekker, soos altyd en die poppekas was snaaks, soos altyd. Hano en Andreas was weer Wolf en Zebra (die 2 stoutetjies), maar hulle het meer gereëld die nuwe outjies kans gegee om hul plek te begin inneem. Wiam was die een dag die tandarts, Dr Naas, en het ‘n skreeusnaakse debuut-vertoning gelewer. Nogals ‘n natural.

Konsertoefening was maar bedrywig, maar nie so hectic soos wat dit al in die verlede was nie. Ek dink dit het baie te doen gehad met Marnie se aanslag. Sy wou ‘n gemaklike, uit-die-hart-uit konsert gehad het en ek dink ons het daarin geslaag. Ons het ‘n Trip Down Memory Lane gehad en al ons lekkerste mimieke gedoen: Testify To Love, Varkieliedjie, Don”t Stop Me Now, Everyday, In Die Hemel Is Die Heer, Dive, Walk On Water en dan die nuutste toevoeging, Jubeljaar (Louis Brittz-geel cd weergawe). Jubeljaar het net op die regte plek gekom. Ons wopu dit al lankal gedoen het, maar dit was net nooit reg nie – tot vanjaar toe. Soveel pret met een liedjie is moeilik om te hê, maar dit was net vrek lekker! Kudos aan Louis Brittz en al die ander ouens (Avalon, Prophet, Steven Curtis Chapman, Queen) wie se liedjies ons oor soveel jare kon bymekaarmaak en gebruik om deur danse die evangelie daardeur te verkondig. Dankie, dankie, dankie!

Die Praise & Worship-aand was ook awesome. Hierso sê ons onder andere ook dankie aan Michael W. Smith en Retief Burger vir sy bydraes tot gospel wat ons help om lekker te sing en die Here in Afrikaans te loof sonder dat dit klink soos iets uit ‘n kinderkrans-cd opname. Ek en Nelmarie Mahne het ons getuienisse gelewer tussen die liedjies deur en na die tyd was daar koffiekroeg, waar daar baie jongmense was. Daar was regtig meer jongmense as wat gewoonlik by ons praise & worships was en wat daarna vir ons kom vertel het van dinge in hul lewens. Dit was so ‘n lekker warm gevoel, soos wat ek maar altyd het na ‘n geslaagde TO p&w.

Niks kon my egter voorberei vir wat nog sou volg nie.

New years het gekom en gegaan en ek het twee dae voor die tyd gehoor het moet die diens lei en die preek doen. Gelukkig het ek al lankal aan ‘n idee vir ‘n preek rondom die verlore seun se agtergeblewe broer begin dink, maar my eksegese was regtig beperk tot die Nuwe Vertaling en die Heilige Gees se leiding. Gelukkig verwag niemand om ‘n uur lank in ‘n oujaarsdiens te sit nie, so dit kon maar kort wees!

Maar dit was vir my ‘n voorreg om so iets te doen op ‘n plek waar ek eintlik “groot” geword het en wat crucial was in my geestelike vorming. Die random dronk ou wat op die strand vir ons die Onse Vader kom try opsê het vyf minute voor die countdown en die girl wat die outjie wat kamstig besig was om dood te bloei se ma-hulle kom soek het 30 sekondes voor die countdown, was…’n bysaak. Die vuurwerke was mooi (die wat nie op die sand ontplof het nie).

Dit was egter nie die ervaring waarna ek wil verwys nie.

Die dag na ons heerlike feeskonsert was dit karavaan-ruildag in die oord, die 2e Januarie. Dit het beteken dat die meeste van die mense weg is en ons nog net ‘n klomp mense van die chalets en die villas en hier en daar ‘n karavaan gehad het. Die aand het ons ‘n Youth Bash gehou – wat eintlik maar net ‘n anderster tipe praise en worship sou wees. Nedine wou twee video-clips van Planetshakers speel: een vir ‘n intro en een net nadat ek die boodskappie sou lewer by ons “altar-call”-tipe (her)commitment-deel van die aand (julle weet waarvan ek praat!). Toe ons wou begin, wou die dvd nie deur die media players wat ons gebruik het, reg speel nie. So ons besluit toe om maar net aan te gaan met die res van die liedjies.

Ons p&w’s werk gewoonlik so dat ons die woorde in Powerpoint slides op ‘n skerm gooi met ‘n mooi agtergrond en dan werk ons met mp3’s en die program loop sonder aankondiging. Ons begin met ‘n paar lekker op en wakker “Praise” songs en gaan dan oor in rustiger “Worship”songs (ek weet mens onderskei nie eintlik tussen die twee soorte nie, maar dis bloot ter verduideliking). Ek (of die dominee wat saam is, maar gewoonlik ek) lewer dan ‘n kort boodskappie en dan sluit ons af met nog ‘n paar songs, waarvan die laaste een Friends van Michael W. Smith is.

Hierdie een was nie juis verskillend nie, maar ons het die saal ‘n bietjie anderster ge-setup. In die middel van die vloer het ons met papier ‘n kruis gepak en randomly rondom dit kerse in onderstebo polistireen-glase gesit. Die idee was dan om een aan te steek en dan, wanneer jy gereed was om ‘n (her)commitment te maak, dan het jy jou kers gaan aansteek en op die kruis gepak.
Ek het weer met die tema van die verlore seun gewerk, ‘n tema wat regdeur die stranddiens geloop het, van die voorkamp af al. Die ding waarop ons gefokus het die hele tyd was dat jy BY die Fees kan wees, sonder om DEEL van die Fees te wees – of jy nou die jonger of die ouer broer was.

En hier het ek toe, deur die genade van die Heilige Gees, onthou om die storie na albei geslagte toe te verleng – iets wat ek by my proffies op TUKS geleer het. Ek het begin deur vir die mense te sê ek wil vir hulle ‘n storie vertel wat hulle dalk al baie goed ken: die storie van die pa met twee seuns. Of die pa met die twee dogters. Of die pa met die twee kinders…

Ek is só bly dat dit gebeur het, want later was dít die sleutel wat gehelp het dat elkeen wat daar was die verhaal sy of haar eie kon maak.

Die dvd wou toe weer nie speel nie en Nedine speel toe net die liedjie, Saviour King, terwyl die kerse aan die brand gesteek word.
En toe, soos wat die kerse een vir een aangesteek word, het die kinders begin huil. Spanlede, oordkinders, groot en klein, almal was so aangdaan en oorweldig deur die teenwoordigheid van God wat op daardie oomblik so tasbaar geword het, dat dít die ervaring geword het wat ek só gehoop het ek weer op TO sou kon beleef. Al die spanlede het mekaar begin vashou en druk; vriende wat vir die eerste keer saam daar was, soos Wiam en Jan, kon ‘n dun oomblik saam God ervaar en ‘n splinternuwe vlak van vriendskap betreë. Marnie kon vir die eerste keer in ‘n lang tyd eerlik begin wees oor hul situasie by die huis rondom haar sussie wat in die afgelope jaar geskei is. Andreas kon beleef hoedat ander mense by hóm hul kerse kom aansteek. So kan ek aangaan…Ons het almal net by die kruis gaan sit en vir die kerse gekyk, terwyl die musiek net aangehou speel het. Ek het maar net gesorg dat daar die heeltyd musiek is wat in die agtergrond speel (dankie aan Retief en die Luidkeels Hersien-cd, by wie se opname ek was – special stuff).

God was getrou. God het Sy beloftes gehou. Die trane het gerol en God het harte aangeraak.
Wat ‘n aand! Dit is die tipe aand wat jy net op TO Strand kan beleef in die teenwoordigheid van God. As jy al ooit daar was, sal jy weet wat ek bedoel. Andersins hoop ek van harte dat jy al so ‘n nabye ervaring van God saam jou vriende kon beleef of dat jy dit nog sal beleef in hierdie lewe…

Die aand daarna was dit vir die girls nodig om bietjie alleen in hul kamer tyd te spandeer (ons los dit net daar) en toe het ons ouens ook kans gehad om alleen te kon gesels. Wanneer ons in die aande saam afgesluit het, het ek Bybelgedeeltes uit Dawid se lewe hanteer. Dié aand lees ek toe die deel waar Dawid aan Mefiboset, Jonathan se seun, genade bewys en ons chat toe sommer so oor vriendskap en hoe jy jou Christenvriende nodig het, veral by die skool wanneer ‘n mens teruggaan en jy nie meer elke dag in hierdie Stranddiens-tipe opset funksioneer nie. Hoe ons Christus vir mekaar moet wees en hoe ons ware identiteit nie lê in die aktiwiteite waaraan ons deelneem nie, maar in die feit dat ons seuns, manne, van God is.

Die gesprek het ook sy draai by masturbasie en seks gemaak en ek en Hano kon reguit met die hoërskoolouens daaroor gesels. Vir ‘n paar van hulle weet ek dat dit die eerste keer was wat hulle in ‘n geselskap was waar ouens nie iets vuils daarvan gemaak het nie, maar juis kon praat oor hoe mooi dit bedoel is om te wees. Dit was vir my net so ‘n dun oomblik as die vorige aand: die geleentheid om vir jonger outjies te kon wys dat ‘n Christen se lewe regtig lekker is; dat ons nie skaam is oor dinge nie, maar dat ons die lewe in al sy fasette anders (moet) benader as die wêreld rondom ons. Dit was ‘n reuse voorreg om dit wat ek al geleer het, akademies sowel as non-akademies, oor te kon dra aan die jonger ouens.

Hiccups met die spanbestuur, wat net soos in heeltemal afwesig was ten spyt, was dit ‘n Stranddiens wat ek altyd in my hart sal dra, veral ook omdat ek nie seker is of ek (hoe graag ek ookal wil) wel aan die einde van die jaar by die span sal kan aansluit nie.
NG Vryheid Moedergemeente se stranddienste het ‘n manier om hul temas uit te leef en hierdie een was nie anders nie:

Dis Overall ‘n Fees Om ‘n Christen Te Wees!

Geseende Kersfees!

December 26, 2007 Leave a comment

Geseende Christusfees vir julle almal. Soos Prof Jurie le Roux vir my gesms het: “Mag die jaar vorentoe opwindend wees omdat hierdie dag so betekenisryk is.”
Okay, ek weet dit is ‘n dag laat, maar seriously, gister was Kersdag.
Dit was baie snaaks toe ons kerk toe was vroeg die oggend. Natuurlik was dit tjok ‘n blok met almal se families wat die banke vol gesit het. So roep Ds Ferdinand toe ook die kinders vorentoe om vir hulle ‘n storie te vertel (wat ‘n paar mense na die tyd gedink het sou genoeg gewees het vir die hele preek, maar anyway). En daar is toe ‘n bekkige dogtertjie wat besluit het dat haar storie bietjie ineteressanter is as die een wat hy probeer vertel het. In die gees van die oggend en omdat sy nogal cute was, laat hy haar toe toe om ‘n mic te vat en te sing. Daar trek sy los met “Daar’s Vissies In Die Water”! Almal het spontaan hande geklpa, maar dit het haar net aangespoor en Oom Ferdi moes sy storie ken om te sorg dat sy nie oorneem nie. Maar dit was mooi en eintlik baie Christmassey.
Ons het Sondag 3 babatjies ook gedoop en al die ander kinders van die gesinne (en party se neefs en niggies) het ook vorentoe gegaan om te kyk. Pragtig! Bietjie messy business (Cobus sal weet waarvan ek praat!) en babatjies in dooprokke (gelukkig was hulle almal dogtertjies! 😉 ) en dit was beautiful.
Hierdie is die laaste post van my kant af vir die jaar. Ons ry more TO Strand toe en dan sal ek eers rondom die 8ste Januarie terug wees.
Voorspoedige Nuwejaar vir elkeen!

TO Stranddiens #03: MAGIC…7-14 Januarie 2001

December 19, 2007 Leave a comment

Vir hierdie inskripsie het ek afgekom op my oorspronklike dagboek-inskrywing (ja, ek het my hele hoërskoolloopbaan ‘n dagboek gehou!) direk na afloop van die betrokke stranddiens. Daarom plaas ek dit onveranderd. Net ‘n verduideliking of twee vooraf: die naam “Maruis” is nie verkeerd gespel nie, daardie ou het sy naam so gespel met die “u” voor die “i”. Ook het ek nie aan die teologiese insigte of sulke goed geraak nie. Hier is my account van NG Vryheid Moedergemeente se 3e stranddiens by TO Strand dan, onveranderd:

15 Januarie 2001

Die jaar het afgeskop op ‘n wonderlike, ongelooflike, fantastiese, asemrowende manier wat ‘n mens nie kan beskryf nie. Dit het alles te doen met TO, God, Maruis en Magic. Maar daaroor sal ek later skryf. Van nou af gaan ek elke dag skryf wat die Here vir my vandag gesê het.

Vandag se boodskap is Efesiërs 1:3-14: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al dieseëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het HY…ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees…Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe…Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het…Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. Die Heilige Gees is die waarborg dat…God…almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons Sy grootheid prys.”

Hoekom ek sê TO was net eenvoudig Magic, is omdat God dit in ‘n wonderwerk verander het. Ons het Saterdag, 6 Januarie, spanbou gehad op Oom Tommie-hulle se rivier. Toe, die aand by die saal, nooi Oom Ferdinand vir Herman Jordaan om saam te gaan! Nou kyk, almal in Vryheid weet Herman is die grootste psycho en freak binne ‘n radius van 100km, en toe hy daar aankom, vra Sonél vir my: “Wat gaan ons nóú maak?” Want die kanse is groot dat hy ‘n Mariet-tipe kan trek en dan is ons span in sy moer in. Maar, “our Lord works in mysterious ways,” en op die ou end sou God vir Herman gebruik om by Maruis uit te kom.

Ons ry toe Sondag na kerk. In die kerk het ons ‘n mimiek op ‘n Louis Brittz-liedjie, “Gaan na jou buurt,” gedoen en so het God ons TO toe gestuur.
Toe ons by TO stop, toe staan ons daar rond. Sonél, soos wat sy nou maar is, sien toe hierdie groep seuns raak en gaan praat met hulle. Dit sou Maruis, Kobus (Koos), Ruan, Johan, Charl en Corné wees, maar toe sy my aan hulle bekendstel, kon ek onmiddellik nie eens een naam onthou nie. Sondagaand het ons lekker geslaap, maar die muskiete het ons (elke ander aand ook) omtrent weggedra.

Maandagoggend 5-uur het ek en Ferdinand gaan draf, en ek het net skielik bewus geword van die Here se almag en hoedat Hy my seën. Ons het elke oggend 6:30 bewuswording op die strand gehad, en God se goedheid was net by ons. Die Bybelstudie het gegaan oor hoedat God in my en ek in Hom is. Ons het sandkasteelkompetisie gehad en ons span het (wonder bo wonder) gewen. Poppekas was orraait, maar ons het ‘n bietjie vinnig gepraat. Konsertoefening het ook heel goed afgeloop. Die aand het ons speletjies gehad, en dit was baie lekker. Toe het ons al (weer) vir Maruis ontmoet, en ons het gesien, soos wat Shalom dit gestel het, hoedat hulle skree vir hulp.

Dinsdag was die beste dag ooit. Ek, Marnie en Liani het gaan drag en toe is ons weer strand toe. Elke oggend was die see net ongelooflik mooi. Bewuswording was weer baie spesiaal. Bybelstudie het gegaan oor dat my liefde vir God my enigste dryfveer moet wees. Sonél het toe alreeds baie tyd saam met Maruis deurgebring, en Herman ook. Ons het touch-rugby op die strand gespeel en dit was nogals lekker, al het my span laaste gekom. Poppekas het gerule. Dit was ‘n hit deur en deur. Konsertoefening het netso goed afgegaan – ons het die hele “Ek Leef” in ‘n halfuur se tyd geleer!

Die aand met ete het dit begin reën, en ons maak toe reg vir Praise en Worship vir as dit sou reën. Ons bid toe dat die Here se wil sal geskied, en net toe ons klaar gebid het, het die reën opgehou en het ons ‘n volmaakte reënboog gesien. Dit was vir my die teken van God se grootheid. Ons het toe die beplande strandmars gehou en daarna koffiekroeg bo by die huisies. Daardie aand het Koos sy hart vir die Here gegee en die maansverduistering het plaasgevind.

Later die aand, na ek en Koos ‘n ruk gesels het, het hy buite by Jorita gestaan waar sy met Ruan en Johan gesels het. Sonél kom toe aangestap en ek kon sien iets is heavy fout met haar. Sy gryp my toe aan die arm en ons het onder by die trappies gesit en oor Maruis gepraat. Sy het gesê sy kon nie meer nie, sy weet nie meer watter kant toe met Maruis nie. Sy het als probeer en dat hy so kwaad is hy kan moord pleeg. Ek sê toe vir haar ons moet bid vir ‘n wonderwerk en glo dat een gaan gebeur. Hano en Wilna kom sit ook toe daar en ons besluit toe om almal van die span wat nog wakker is bymekaar te kry en ons bid toe vir Maruis. Dit was ‘n ongelooflike amazing ervaring om te sien hoe elkeen hierdie ou wat ons eintlik glad nie ken nie, aan God opdra en Hom vertrou vir ‘n wonderwerk in Maruis se lewe.

Maruis kon daai aand nie slaap nie. Drie-uur die oggend het hy alleen op die rotse gesit. Sonél het kort-kort wakker geword en dan vir Maruis gebid.

Woensdag kon ons duidelik ‘n verskil in Maruis se lewe sien. Hy was baie rustiger en kalmer gewees.
Woensdagoggend is ek alleen strand toe, vroeg die oggend en ek kry toe vir Oom Ferdinand en Tannie Annatjie daar. Ek vertel hulle toe van die gebede vir Maruis en watse impak dit op ons almal gehad het. Bewuswording was weer eens soos jou vitamiene vir die dag. Bybelstudie het gegaan oor dat jy baie met God moet praat deur die dag. Ons het ‘n see-jol vir gesinne gehad op die strand en dit was baie lekker. Maruis het ook daar aangekom en saam gespeel. Koos-hulle was vir die dag weg, ek dink Margate toe.

Poppekas was ook weer ‘n treffer en die kinders het hulleself geskeur vir Hano en Morné. Dié middag het ons die hele “Testify to love” en ‘n groot deel van “I vow to thee” geleer, weer eens in ‘n rekordtyd. Die aand was dit sokkie en dit was baie lekker.

Donderdag het dit vir my gevoel of alles ‘n totale flop gaan wees en dit het gevoel asof die span uitrafel. Bewuswording was ons op die rotse aan die regterkant van die stand gesit en alhoewel dit spesiaal was, was Shalom en Landie laat gewees. Bybelstudie het gegaan oor dat jy onder jou geloof moet vuurmaak, en glo my, dáái dag was ‘n grootskaalse toets vir ons geloof en vertroue op God. Vir volleyball kon ons byna nie ‘n net in die hande kry nie en ons het ‘n halfuur laat begin. Die vorige dag het oom Deon en oom Jan die mic se extension gebruik om die een luidspreker reg te maak, en toe sit ons by Poppekas sonder ‘n mic.

Ek het ook voor die tyd gesien hoedat Koos en Maruis buitekant die saal tafeltennis speel. Toe hulle weg is, sien ek dat iemand bo-oor die advertensie-bord gekrap het en by die tye geskryf het: “Rook, eet slaap en drink.” Dit het my ongelooflik seergemaak en ek was woedend gewees. Nie soseer vir Maruis-hulle nie (wie anders kon dit gedoen het?) maar vir die duiwel wat ons dag met die hoogtepunt, die Konsert & Kruistog, omver probeer gooi. Ek het toe my wit hemp wat ek aangehad het, uitgetrek en die bord daarmee skoongemaak. Daarna was die hemp so opgemors dat dit die nuwe Loser-hemp geword het (die oue is in die asblik gegooi vir aroma en nie weer gevind nie). Alhoewel die poppekas-boodskap van moenie rommel strooi nie goed deurgekom het, was dit frustrerend en moeilik sonder die mikrofoon.

Konsertoefening het eintlik goed gegaan, maar die heeldag en heeltyd het Herman probeer oorvat en alles wat tannie Annatjie gesê het, herhaal. Hy het my grensloos geïrriteer en toe ek na die tyd vir hom sê dat ek en Marnie in beheer is en dat hy vir ons moet luister al is hy ouer as ons, het hy homself gestrip en gesê ek sal nie so met hom praat nie. Ek ruik toe sy asem en sê vir hom ek kan hom ruik, wat hy toe woedend ontken. Ek sê toe ek hoop sy gewete pla hom, as hy ooit so iets het. Ek wou regtig nie met hom baklei nie, maar dit het gebeur. Ek wou graag voor die aand met hom vrede maak, maar het toe nie daarby uitgekom nie. Voor ete het ek oor die foon met Werner gesels, en Jorita ook. Ek het hom vreeslik gemis op die stranddiens.

Toe ons by die konsert uitkom, is daar skielik nie genoeg kerse vir almal nie. Marnie bid toe vir ons voor die tyd dat God dit net sal seën tot Sy eer. Ons het begin met “Ek Leef” en dit het gelyk of Maruis ons uitlag. Ek sou later uitvind hy het vir Herman gelag wat die heeltyd ‘n step agter ons was. “Ek sing en lag en dans” was orraait, maar Odie het ‘n bietjie geval by “Ek Leef”, so ek was redelik opgetens. Daarna was dit die skreeusnaakse “Gaan na jou buurt”, wat okay gegaan het.

Toe het ons “Testify to Love” gedoen en afgesluit met “I Vow to Thee”. Daarna het ons almal in die paadjie na die strand toe gestaan met ons kerse en die pad vir die mense verlig. Almal is na die rotse toe waar ‘n kruis gestaan het wat Rukus en Landie met foelie oorgetrek het. Teen die rotse op het ons weer ‘n brandwag gestaan. Die view af na onder toe was ongelooflik mooi. Oom Ferdinand het ‘n boodskap gelewer en daarna is ons na die volleyball baan waar die kampvuur gebrand het. Ek en een van die twins (Elru en Ruduan Pieterse) het by die ingang gestaan en vir die mense verlig.

By die kampvuur gekom, kry ek vinnig vir Maruis, en hy sê toe vir my dat daar party van ons kinders is wat hom afsit. Ek sê toe vir hom hy moenie dat die kinders van die span in sy pad staan nie. Daai aand het ek, Hano en Rukus vir Koos en Ruan gebid. Almal wat ‘n recommitment wou maak of vir die eerste keer hul harte aan die Here gegee het, het hulle name op die kruis wat ons saamgevat het geskryf. Toe ek saam met Koos en Ruan in die saal instap verby Maruis en Sonél, vra hy kwaad vir hulle: “Trek julle ook nou ‘blind’?” En Koos het hom geantwoord: “Dis ook orraait!”

Ons is toe boontoe om koffie te drink. Net voor evaluering kry Oom Ferdinand my en sê dat Herman-hulle vir hom gesê het Maruis is na die rotse toe en dat hy hom gaan soek. Sonél was iewers waar sy die heeltyd gebid het. Ek en Landie het bid-buddies gehad en ons het saam gehuil oor verlore ouens soos Maruis en dat ons ook graag iemand so na God toe wil lei. Evert het toe ook daar kom sit en huil. Toe ons opstaan en teruggaan na die eetplek toe, sien ons vir Hano…met Maruis by hom!!! Nou kyk, wat presies gebeur het, weet ek nie, maar Maruis het toe sy hart vir God gegee!!! Ons was só bly toe hy, Koos en Ruan daar wegstap en ons weet hulle is gered. As ons, wat maar aardse mense is, só verskriklik bly is oor een siel wat gered is, hoe bly moet die engele in die hemel dan nie wees nie? Ek sweer hulle het geparty.

Koos en Ruan het toe weer later daar aangekom, want hulle sou 6-uur die volgende oggend ry. Koos het byna die helfte van die sak toffies saam met hom daar weg Pretoria toe. Hulle het ons 6-uur Vrydagoggend kom groet.

Vrydag was ongelooflik lekker. Bewuswording op die rotse was ‘n belewenis. Soos wat die flitse die vorige aand op die kruis geskyn het, het die son op die kruis geskyn en hom verlig. Bybelstudie het gegaan oor dat ek my daarin moet verlustig om God se wil te doen. Skattejag was lekker, maar kort. Daarna het ons in die swembad geswem. By die pooltafels het Jorita vir Maruis met Schweppes gegooi en ek en hy het haar toe in die swembad laat beland. Sy het hom toe weer teruggekry deur sonblok binne-in sy plakkies te smeer. Elke keer as hy wou rook, het hy chappies gekou.

Poppekas was orraait, maar ons was weer eens sonder ‘n mic. Die middag is ons Port Edward toe en daar het ons superttube gery – flippen lekker! Die aand het ons Praise en Worship gehad. Dit was ‘n baie aandoenlike belewenis. Toe ons die Hosanna-medley gesing het en by die deel was van “Nuwe Jerusalem” toe besef ek dat die Here ook die werk wat Hy deur ons in Maruis se lewe begin het, sal voleindig. Teen die einde van die aand, toe ons vir die soveelste keer “Friends” van Michael W. Smith sing, het almal gehuil. Die spanfoto gaan vreeslik baie rooi oë op hê!

Toe is ons saam met Maruis strand toe en ‘n paar van sy “vriende” (puh-leeze, hulle is sulke regte rook/drink-losers) was ook daar. Dan vra hy vir hulle om nie naby hom te rook nie en as hulle rook, staan hy op en loop weg. Toe hy in die paadjie sit en ‘n ander meisie langs hom begin rook, sê hy: “Iemand, bring net vir my ‘n Bybel of doen iets, want ek wil rook!” Toe sê ons vir hom Psalm 23 op en toe’s dit weer beter

Ek, Evert, Deon en Herman het buitekant geslaap Vrydagaand, of eerder probeer slaap, want Morné het so met daai meisies gekuier en hulle het so gerook dat dit ‘n wonder is dat ons enigsins slaap ingekry het. En om alles te kroon byt ‘n muskiet my toe op my bo-lip.

Saterdag is ons toe Shelly Centre en Uvongo toe. Ons het vir Maruis daar gekry en hy het saam met ons gaan fliek. Herman, met wie ek Donderdagaand vrede gemaak het, het in die fliek begin koud kry en aan die slaap geraak. Na ‘n rukkie word hy wakker en sê weer dat hy koud kry. Toe sê ek vir hom om badkamer toe te gaan. Ná die fliek vertel hy dat toe hy in die badkamer kom, wonder hy: ‘Wat maak ek hier? Ek moet gaan fliek!’ Ek het gedink dit sou dalk warmer wees daar. Die aand het ons tot 11:00 toe gesokkie. Ek, Odie, Marnie en Elmi het probeer om te deurnag. Ek het 03:25 aan die slaap geraak, maar 03:40 toe maak Odie my wakker om vir Maruis te groet. Hulle het 04:00 die pad terug Pretoria toe gevat. Ek het toe gaan bad en in die bad aan die slaap geraak.

Sondagoggend het ons vir ‘n laaste keer evaluering gehad. Shalom sê toe: “Toe ons die eerste keer na ‘n tema gesoek het, was al die voorstelle so bymekaar geskryf, maar MAGIC het alleen gestaan. Toe sien Yolandie dit en sê: ‘Magic! Mag Almal Groei In Christus.’ En Hano het verkeerd gehoor en dit het “MAGIEGH” geword.”

Dit was soort-van die seël op alles. Dit was die beste week ever. Ons het gegaan om ander te help om in Christus te groei en op die ou end het onsself die meeste gegroei. God het ons geseën met al die seëninge moontlik. Hy het Sy almag bewys deur die oneindigheid van die see, die goue son op die water, die ontelbare sandkorrels, die maansverduistering, die reënboog in die lug, die sterre en die natuur. Sy liefde is bewys in Maruis se lewe en Sy genade deur die wonderwerke wat hy laat gebeur het.

Daar het nog ander goeters ook op die stranddiens gebeur. Soos die alewige Claudia wat van sonop tot middernag by ons geboer het en op Ferdinand verlief was. En Rukus wat verlief is op Landie, maar Landie wat nie van hom hou nie. En dat die poppekas se olifant ‘n graad in gras het. Gras wat? Grasgroen! En dat ons elke dag vrek lekker kos gekry het by oom Deon en tannie Sharon Harris. En dat die swembad vir die grootste deel van die week so ‘n piepiegroen was – AIDS op sy eie. En dat “Sky” van Sonique tot vervelens toe deur ons ore gedreun het, te danke aan Hano en Rukus. En dat ek, Ewald en Evert ‘n engelse oom gehelp het om sy karavaan op te slaan (hy het nie ‘n cooking clue gehad hoe nie). En dat Herman eintlik ‘n flippen snaakse ou is. En dat “Friends” op die ou end ons temalied geword het.

Teen 15:45 Sondagmiddag was ons terug in Vryheid. Met Jesus se krag in ons, reg vir die nuwe jaar.

    Stranddiensspan 7-14 Januarie 2001:

Tiaan van Niekerk
Adriaan ‘Odie’ Odendaal
Hano du Plessis
Rukus Erasmus
Ewald Hanekom
Evert Erasmus
Ferdinand van Niekerk
Johan Pollard
Deon Harris
Morné van der Merwe
Herman Jordaan

Marnie van Niekerk
Sonél de Bruin
Jorita Lourens
Landie Fourie
Mariette Hanekom
Wilna van der Westhuizen
Liani Lourens
Lizahn Lourens
Marita Kok
Yolandie Jansen
Shalom Harris

Mag Almal Groei In Christus
May All Grow In Christ

TO Stranddiens #02: Junie/Julie 2000: JESUS IS DIE ROTS IN DIE STORM

December 13, 2007 2 comments

Stranddiens #02: Junie/Julie 2000: JESUS IS DIE ROTS IN DIE STORM

DISCLAIMER: Ek het besluit om die betrokke Dominee se naam uit die post te verwyder omdat ek nie die ervaring wil verander nie, maar ook nie sy huidige bediening wil beskadig nie.

Hierdie 2de stranddiens het hemelsbreed verskil van die vorige een, hoewel klomp van dieselfde mense weer saam was en ons eintlik presies dieselfde goed gedoen het.

Eerstens het Ds X en sy gesin saamgegaan, in plaas van Ds Ferdinand en Tannie Annatjie. Ds X het is daardie jaar van N af Vryheid toe beroep en omdat hy die jonger dominee was, is daar sommer goedgedink om hom die jeugdominee te maak – ‘n faux pas wat duisende gemeentes doen! Net omdat ‘n ou jonger is, beteken nie hy is goed met die jeug nie. Hierdie was ‘n sprekende voorbeeld.

Tweedens het ons ‘n ander kosma gehad: Tannie Marlene M (Tannie Henriëtte se man is oorlede kort ná die eerste stranddiens en lang storie, maar sy sou toe in die stranddienstyd met sy beste vriend, wie se vrou ook oorlede is, trou). Haar kinders was toe deel van Creare en het daar gedans en poppekas opleiding gekry en sulke goed.
Dit was die twee groot dorings in ons vlees daardie stranddiens.

Ek kan ook nie lekker onthou hoekom presies ons dié tyd van die jaar gegaan het nie. Iemand anders het weer kop uitgetrek en toe moes ons instaan en omdat ons die eerste keer ‘n redelike indruk gemaak het, het die oord se bestuur kans gesien om ons ‘n wekie in die Julie-vakansie te gee.

Die chaos het al voor die tyd begin. Toe ek en Marnie ons weer kom kry, vind ons uit dat Oom X besluit het dat Tannie Marlene se kinders die narre by die poppekas is en dat hulle sommer die storie hanteer. Natuurlik was ons up in arms daaroor, want hy was mos nie die vorige keer daar nie, so hoe sou hy nou weet wat aangaan en hoe ons die goed doen? Ons het toe met hom gaan praat nadat dit rugbaar geword het dat ons ongelukkig is met wat hy gedoen het. Toe al het ek besef dit gaan ‘n tawwe tyd wees. Eventually het ons toe tot die vergelyk gekom dat die Creare-narre die boodskap-narre sou wees (of so iets) en die ander narre sou met die kinders speel. Weird, ek weet, en dit was hoofsaaklik kommunikasieprobleme wat al die gemors veroorsaak het.

Die span was ook aansienlik groter as die eerste keer, want ‘n uitreik verkoop mos homself en as kinders hoor dat ‘n ding lekker was, dan is hulle geneig om dit ‘n try te gee. So daar was, behalwe vir Tannie Marlene se kinders (sy het 4 dogters gehad plus aanhangsels wat in hulle jeugband-ding was), was daar ‘n klomp nuwe mense by gewees. Dit was onder andere die eerste keer dat Hano du Plessis saam was.

Elke Stranddiens het ons ‘n konsert wat meestal bestaan uit gospel-liedjies waarop ons dan mimieke uitgewerk het. Later sou die temas varieer en meer inpas by die oorhoofse stranddiens-tema van die betrokke jaar, maar hier was dit nog in die beginfase van die goed, so ons het dit met sulke reëltjies dialoog aan mekaar geweef. Ek en Marnie het basies die hele konsert op Comradesdag uitgewerk – dit was nogal tappend om moves vir al die liedjies wat ons wou gebruik uit te dink! Maar ons het dit gedoen…

So is ons toe op die ou end af see toe. Selfs die dag toe ons gery het, was nie sonder hiccups nie. Daar was skielik nie genoeg vervoer gereël nie. Werner was op die punt om sy goed te vat en eerder huistoe te gaan, toe ons darem nog ‘n kar gekry het: Rukus Erasmus-hulle s’n. Ons cruise toe oor Ladysmith met die N3 saam af see toe. Dit sou okay gewees het, as ons nie elke twee ure vir ‘n uur lank gestop het nie! Ons het op die ou end 23:00 daar aangekom.

Goed, nou was ons darem by die oord en dinge kon begin gebeur. Maar helaas…Oom X het ons in die oggend 06:00 kom wakker maak deur met die megafoon uit te roep: “Word wakker, word wakker, die dag word al swakker!”
Groot fout! Want onthou, Junie/Julie is dit middel van die winter, daarom is dit nog stikdonker 06:00 die oggend! En om met so ‘n simpel rympie wakker gemaak te word, is elke tiener se gat se deksel. Komaan, wees kreatief!

Maar dit was die status quo, irriterend soos dit was. Bybelstudies in die oggend was ‘n disaster, want Oom X het een of ander reeks of iets gedoen oor die wederkoms – en vir twee ure op ‘n slag lank aangehou! Die kinders was só verveeld en so vaak dat ons menigmale onsself moes wakker knyp.

Strandspele was darem okay, wanneer ons eventually daar uitgekom het. Ons kon darem self die sandkasteelkompetisie en touchies en sulke goed hanteer sonder dat ons teruggehou word. Poppekas was ook darem onder beheer-ish. Ons moes met die boodskap-narre deal, maar dit het ook net 1 dag gehou en toe’s dit van die baan. Hulle het dit sommer self geskrap…

Gewoonlik ná poppekas, so teen 14:30 die middag, het ons konsert geoefen. Dit was nogal ‘n challenge, want nie net moes ons al die mimieke vir al die 30 kinders wat daar was leer nie, ons moes ook heeltyd die kritiek van die Creare-kinders absorbeer en iets daarmee maak. Challenging! Ek en Marnie was onderskeidelik maar in standerd 8 en standerd 9 en om die kinders se aandag te hou was dikwels ‘n saak van onmoontlikheid. Ons het besluit om vir Oom X en Tannie Marlene die dialoog te gee, sodat hulle ook deel van die konsert kon wees. Maar moenie dink hulle sou help by oefeninge nie! Hy sou op die verhoog staan en kitaar speel en Tannie Marlene sou sommer glad nie eens daar wees nie. So, ons moes teen dit ook probeer werk.

Die kos was die ander groot probleem. Daar was nooit genoeg nie. Die eerste oggend al het drie van ons ouens nie kos gekry nie. Die een bak roereier (al wat sy voorgesit het) was op en dit was nou maar so. O, ja, haar kinders het ander kos as ons gekry. Apart, in die kombuis.

Dit het so geraak dat ek, Werner, Jorita en Marnie elke oggend by die restaurant gaan toasted sandwiches koop het. Jorita het op ‘n stadium haar ma gebel en gevra dat sy vir haar moes geld inbetaal sodat sy kon eet! Hoe crazy is dit.

Tog, die hele situasie rondom Oom X en Tannie Marlene het ook vir sy snaakse oomblikke gesorg. Rukus-hulle het die een aand Oom X se selfoon, wat ook as sy wekker gedien het, in die hande gekry en die wekker gestel vir 01:00 die oggend. Onthou ek het gesê 06:00 is dit nog donker…so toe hy daar aankom met die megafoon en sy rympie – net nadat ons in die bed geklim het – het hy nie besef dat dit nié 06:00 is nie! Toe ons nie wil reageer nie, het hy aangehou: “Kom julle! Dis opstaantyd!” Met ‘n megafoon wat klink asof dit deur die hele vakansieoord weergalm. Dis toe dat Tannie Marlene, wat saam die girls in die bungalow geslaap het, vir hom skree: “X! Dis eenuur! Gaan slaap!”

Daar was ook ‘n vrek lang toutrektou, wat ons toe nooit vir toutrek gebruik het nie. In plaas daarvan het ‘n paar van ons (ek, Louis, Albertha, Werner, Wihan, Rukus, Marnie) die een aand die tou gevat en Oom X-hulle binne-in sy huisie toegebind. Ons het die tou rondom die handvatsel gedraai en oor die balke van die stoepdakkie gegooi en reg rondom die huisie gevat en hom toegebind.
So kon ons toe een oggend in rus en vrede opstaan en self afgaan strand toe vir bewuswording, terwyl Oom X by sy deur gestaan en klop het dat ons vir hom moet oopmaak. Ek en Rukus het toe maar gegaan en die tou weer los gaan maak. Eish.

Die meeste van julle ken die spook-ding wat dikwels op kampe gebeur? Jy kry iemand om by te spook en iemand spook weer by jou. Jy kan daardie persoon ‘n opdraggie gee om uit te voer, maar die eintlike idee is dat jy hom/haar moet bederf. Dit word natuurlik ook gewoonlik transgender uitgevoer en moet anoniem bly tot die laaste dag.
So kry Oom X die een dag ‘n pak rou boontjies van sy spook (yeah right!) af. Toe ons die middag by ete kom, sien ons dat daar net so ‘n stainless steel bak op die tafel lê met die droë boontjies in. Ja, sê Oom X, ons budget is klaar (met ten minste 4 dae om te gaan) en dit is al wat daar is om te eet. Ons almal het geweet (eintlik maar gehoop) dat hy ‘n trick op ons trek, maar hy was heel ernstig. Marnie bid toe vir die boontjies en vra dat die Here dit maar moet seën! Tannie Marlene bring toe gelukkig ander kos daar aan, maar Oom X sê toe so ‘n stukkie van dat ons nie iets moet suur maak wat andersins lekker kon gewees het nie. Hmm.

Dit was die eerste stranddiens waar ons ‘n talentaand gehad het – groot opwinding! Ek en Jorita was die hosts en die deelname was goed. Selfs uit die span uit het ons so ‘n musiek-spoof van Rooikappie opgevoer en ek en Sonèl het op die ou end gewen met ‘n klavier-viool duet van Meatloaf se “I Will Do Anything For Love (But I Won’t Do That)”. Ja, ek weet – ons was nie suppose om in die running te wees nie, of hoe? Dis tog vir die oord se mense. Anyway…My stem het so ‘n dag of wat vantevore begin wegraak en daardie aand was dit belaglik snaaks om ‘n talentaand te host met ‘n rasperstem wat Macy Grey my sou beny. Ons het als probeer om dit te fix – daar was selfs ‘n tannie tussen die vakansiegangers wat my so ‘n mengsel van heuning en koeksoda ingegee het. Dit het nie gewerk nie.
Daar was ook een van die deelnemers, so ‘n weirderige, maer outjie met blonde hare wat gesê het hy is tweeslagtig. I know. Sy rendition van Amazing Grace was nogal snaaks, maar dis bietjie “you had to be there”.

Poppekas het aanvanklik met rukke en stote gegaan (die stories nou), maar die een dag het Hano en Werner daar ingespring en dit vrek snaaks gemaak. Van toe af was Hano die Wolf in Poppekas, uit en gedaan!

Die konsert het baie goed afgegaan. Ons het goed gedoen van Willie Joubert, Don Francisco, Leon Ferreira, David Meece en ons het afgesluit met Laurika Rauch se Hot Gates. Daarna het ons ‘n kampvuur gehad met mense wat getuienisse gelewer het. Vir die mense wat die oord ken, dit was daar waar die ou volleyball-baan was, langs die swembad.

Die laaste aand het ‘n klomp van ons gedeurnag. Ook dit het sy porsie controversy gehad! Omdat ons nooit regtig koeldrank gekry het by etes nie, was ons toe ook dors en ons breek toe by die Putt-Putt-baan se huisie in en vat van die blikkies koeldrank wat daar was (relax, Marnie het later met oom Jan reggemaak!). Daarna het ons met die bospaadjie van die boonste swembad af deurgestap na Ilala Cabanas toe en so met ‘n wye draai met die teerpad langs teruggestap oord toe. Toe ons so teen 02:00 die oggend se kant terug was by die saal, sien ons ‘n broodlorrie daar staan. Ek dink dit was Blue Ribbon? Anyway, ons vra hulle toe of hulle nie ‘n spaar brood het nie en toe gee hulle vir ons een! Dit was die lekkerste vars, warm brood wat ek nog 02:00 die oggend geëet het…

Louis, Albertha, Annalene en Mariëtte het op die strand geslaap en ek, Marnie, Friedel, Odie en Werner het daar ook ‘n draai gemaak. Ons het amper aan die slaap geraak, maar ons was vasbeslote om wakker te bly en waai toe weer.

Nou, vir die volgende deel om snaaks te wees, moet jy weet hoe TO Strand se ablusieblokke uitgelê is. Daar is die groot een by die onderste karavane, die A-blok, en een by die boonste karavane, die B-blok. Dis ook die een wat ons gebruik, want dis die naaste aan die studente se bungalows. Die A-blok s’n is bietjie fancier as die B-blok s’n. As ‘n mens by die deur van die B-blok se badkamers instap, draai jy regs na die manne se kant toe en links na die dames. Die mans het net een bad, terwyl die dames drie het: twee aan die regterkant en een links. (As dit andersom is – onthou die laaste keer wat ek daarin was, was 7 jaar gelede!)
Nou, toe ons van die strand af kom, besluit ons om te gaan bad. Marnie en Friedel is na die A-blok badkamers toe, terwyl ek, Werner en Odie die kans aangegryp het en in die dames-badkamer gaan bad het. Dit was 04:00 die oggend, so die kans dat daar girls in sou wees, was absoluut minimaal.

Nie minimaal genoeg nie, sou ons egter uitvind: ons was elkeen net in ons cubicle in die bad, die water pas klaar ingetap, toe ons die deur hoor oopgaan en Mariëtte se skril stemmetjie wat die warm badkamerlug sny:
“Nou wie sou dié tyd van die oggend wou kom bad?”

Vandat ons elkeen ons cubicle se deur agter ons toegemaak het, het daar ‘n paar dinge gebeur waarvan ons glad nie bewus was nie en ook geensins mee rekening gehou het nie. Eerstens het Shalom kom wasgoed was of uitspoel of iets – ek dink daar was ‘n tuimeldroër in die badkamer – of watookal, maar sy het ingekom sonder dat ons geweet het.
Die strandslapers het ook begin natdou en koud kry en Mariëtte en Albertha het toe ook die idee gekry om te kom bad (damn idea-pool!).

Ons drie ouens skrik toe natuurlik ons blase vol borrels toe ons besef wat aangaan.
Nee, sê Shalom, sy weet nie wie dit is nie, maar die deure was al toe toe sy daar ingekom het.
Albertha, reguit mens wat sy is, besluit toe om te vra: “Wie’s hier binne?”
Nie een van ons ouens het ‘n woord gesê nie. Net sulke benoude roer geluide in die water gemaak.
Weer het sy gevra: “Is hier ooit iemand hier binne?”
Werner laat toe so ‘n falsetto-tipe “Ja!”-gilletjie uit. Ek het glad nie geweet wat om te doen nie. Ek bedoel, hoeveel keer in jou lewe kom jy in só ‘n situasie? En hoe berei jy voor daarvoor? Ehh…
Nogmaals het Albertha gevra: “Kan u vir ons ‘n aanduiding gee van hoe lank u nog gaan wees?”
Weer die benoude watergeluide.
Dis toe dat sy vir Mariëtte sê: “Ek gaan nou hier oor kyk om te sien wie dit is!”
Dit was die trigger wat ons ouens nodig gehad het. Odie het met sy nat bas en al by die venster uitgestorm, terwyl Werner soos ‘n wafferse kaelnaeler by die linkerkantste bad uitgevlieg het.
“Odie! Werner!” is al wat Shalom geamuseerd-geskok kon uitkry. Ek het die diversion gebruik om vinnig ‘n handdoek om myself te kry, af te droog en my klere aan te trek. Die girls was ietwat dronkgeslaan en kon glad nie verstaan wat sopas daar gebeur het nie. My stem was nog maar lekker hees, en ek dog toe ek sal die nuus breek:
“Dis so funny!”
Albertha het my herken: “Tiaan!”
Ek het toe ewe ordentlik uitgekom en tussen die lagbuie deur die storie vertel van wat van ons kant af daar gebeur het.
Kyk, between a rock and a hard place…

Ons het weer lekker mense ontmoet daardie stranddiens. Een ou, Desmond, was ‘n studentevriend van Marnie-hulle wat later leier was van RAU se TO 1 span. Hy het ons vermaak deur “When You Say Nothing At All” op snaakse maniere te sing en van sy shakertjie te praat as sy “goppichichie”. Probeer dit vinnig sê, ek dare jou.

Die terugtog was weer uitmergelend lank gewees en ons wou nog Tannie Henriëtte se troue maak – wishful thinking, maar ons was darem betyds vir die koek en tee in die saal na die tyd!

Ná hierdie disasterous poging het ons sterk daarin getwyfel of die oord ons ooit weer sou vra om te kom dienswerk doen. Wat wel tot die res van die gemeente begin deurdring het, is dat Oom X dalk nié by die tieners van die gemeente betrokke moet wees nie. Inteendeel, ons het geweier om hom daar te hê.

Laat dit vir almal ‘n les wees: as jy met tieners wil werk moet jy hulle taal kan praat, maar nie te hard probeer om cool te wees nie;
jy moet op hulle vlak werk, maar hulle nie soos idiots behandel nie;
jy moet hulle vertrou om die werk te doen, maar jy moet enige tyd kan ingryp wanneer die druk vir hulle teveel raak en hulle jou hulp nodig het;
jy moet saam hulle deelneem aan hul aktiwiteite, maar jy mag nooit oorneem wanneer hulle in beheer is nie;
jy moet orals sigbaar wees, maar jy mag nie hulle shine steel nie;
jy moet jouself in die posisie stel om sáám met hulle te wees en nooit van bo-af jouself op hulle af te forseer asof jy die baas is en al die antwoorde het nie.
Wat is daai een definisie van evangelisasie? “Evangelizing is one beggar showing another beggar where to get bread.”
Dis maar jou beste default posisie om in te wees.

Stranddiens #01: 1-9 Januarie 2000

December 10, 2007 Leave a comment

Stranddiens #01: 1-9 Januarie 2000

Ons eerste stranddiens na TO Strand toe het eintlik baie toevallig gebeur en was veronderstel om net ‘n eenmalige gebeurtenis te wees. Sien, RAU (toe nog RAU!) het altyd twee vol spanne gestuur gedurende die Desember-vakansie: een span wat vir twee weke gegaan het tot net ná Kersfees en dan ‘n tweede span wat dan so van die 26e tot 7 Januarie daar sou bly. Die mense wat die oord ken, weet ook daar is blokruilings van vakansiegangers wat in en uit beweeg.

Dié betrokke jaar kon RAU se 2e span net tot Nuwejaar bly – ek weet nie hoekom nie – en hulle het dus iemand nodig gehad om die gaping te vul. Die onderbestuurder van TO Strand op daardie stadium was Jan Erasmus – ons een predikant by NG Vryheid Moedergemeente, Ferdinand van Niekerk, se swaer. So, hy bel toe ons gemeente en hoor of ons nie lus is om ‘n span te stuur nie – sommer maar net, kyk wat ons kan doen, jy weet, niks heavy nie. Oom Ferdinand en sy gesin was ook ou bekendes aan die oord en aan dit wat die stranddiensspanne daar gedoen het en hy stem toe in.

Die Jeug by Vryheid Moedergemeente was in daardie tyd nie baie groot nie, maar dinge het tog begin optel. Die probleem was egter om mense so laat in die vakansie te kry wat nog nie ander planne gehad het nie en dus kans sou sien om op ‘n stranddiens te gaan (nie dat ons regtig geweet het wat dit beteken nie – ons het nie eens geweet waar die plek is nie!). Maar op die ou end was ons 19 mense altesaam: span, geestelike leiers en kosma en haar dogter ingesluit! Die amazingste van dit was dat ons dit alles bymekaar gekry het in ‘n week. Op die ou end het ‘n groot gedeelte van die span bestaan uit kinders wat in ons selgroep van daardie tyd was.

Natuurlik moes ons T-shirts kry, en dom genoeg besluit ons op wit, met sulke cheap print op. Okay, die print was nie heeltemal ons skuld nie – die printing plek het nie met die design gedoen wat ons in gedagte gehad het nie, maar ons gaan toe nou met hierdie dun see-through wit hempies en die slagspreuk (beleef die awesome alliterasie): “Bly Aan Die Brand Op Die Strand”. Ja, ek weet.

En so, op die eerste dag van die nuwe millennium, sit ons toe in ‘n konvooi bakkies en karre af TO Strand toe…

Die eerste dag of wat was dit reënerig en ons het dit gebruik om onsself te oriënteer en die plek te verken. Ons kon darem OordBybelstudie en Poppekas hou, want dit was in die saal en speletjies in die aand ook. Later, toe die weer beter was, het ons touch rugby en sandkasteelkompetisie en sulke goed in die oggend op die strand gehad. In die middag het ons met die kinders in die swembad gespeel.

Die lekker ding van daardie kamp was dat daar GEEN reëls was nie. Niks. Daar was nie inkomtye en sulke goed nie. Jy het gaan shower wanneer jy ‘n kans gekry het en jy het gaan slaap wanneer jy wou, solank jy die volgende oggend vir bewuswording op die strand was. So, sommer die eerste aand al na ons afgesluit het, is so vier van ons af strand toe. Ek het in daardie tyd my oog gehad op ‘n girl met die naam Sonèl de Bruin, en wat is dan nou meer romanties vir ‘n 16-jarige as ‘n maanlignag op die strand? Hmm…

Ja. Daar sou egter niks van kom nie, want ek en Sonèl het net so gaan sit, toe hoor ons ‘n vreeslike geskree en lawaai. Dit is toe 3 ouens (2 van hulle sou ons later jare dikwels weer daar raakloop) wat so standerd 9, matriek se kant was, ‘n jaar of twee ouer as ons – Bertie, Etienne en Willem. Hulle hardloop daar op die strand rond met plastiekstoele wat hulle by die gamesroom gevat het en sulke lawwe goed. En omdat ons aangesê is om almal te groet en na die vakansiegangers uit te reik, het ons met hulle pelle gemaak en saam met hulle soos mal goed rondgehardloop. Eenuur die oggend op TO se strand. Dit was die eerste mense met wie ek vriende geword het op TO Strand (my score was natuurlik heeltemal daarmee heen!).

Dit sou van die lekkerste paar dae van my lewe word. Nie net omdat ek lief is vir die see oor die algemeen nie (TO het die lekkerste swemstrand waarvan ek weet), maar ook omdat dit die tipe ding was wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie en dit nou kon doen saam met vriende en mense wat vir my omgee. Onthou, ek was nie baie gewild rondom standerd 7, standerd 8 se kant nie en vir ‘n tiener is die soeke na aanvaarding en standvastigheid dan redelik huge, so hierdie was presies wat ek nodig gehad het.

Daar was ‘n paar skreeusnaakse tye ook gewees. Een van die kere wat ons huisbesoek gedoen het, het ontaard in ‘n stryery tussen die spanlede by ‘n gesin vakansiegangers se karavaan oor watter hoërskool in Vryheid die beste is. Die vakansieromanses het ook nie agterweë gebly nie en gou-gou was daar ‘n couple of twee in die span en buite die span-ish.

Sonja Herholdt het ook ‘n konsert daar gehad. Oom Ferdinand-hulle het ons so half-en-half verplig om die aand die konsert by te woon – sy seun, Ferdinand Jr (of Boeta, soos almal hom genoem het) moes haar spotlight vir haar doen. Dit was net so voor Reconstructing Alice, so dit was die laaste dae van die ou Sonja – net om julle ‘n idee te gee. Ons sit toe die middag ná Poppekas buite die saal terwyl hulle opstel en Anelda, Sonèl se sussie, sê toe: “Ek weet nie hoe ek vanaand gaan wakker bly en na hierdie boring show gaan kyk nie.” Met Sonja wat reg agter haar uitkom en vra:
“Wie is boring?”

En dan was daar Mariet. Net gou ‘n nota: ons stranddienste is gewoonlik gekenmerk deur een of ander persoon wat eintlik half die odd one out is, maar ook saam is, en so aan…dié persoon verskaf kleur en geur, selfs al staan hulle ietwat uit en dié girl was hierdie slag die Odd One Out. Sy het byvoorbeeld T-shirts gedra met heavy Draai-Of-Braai slagspreuke op, wat die kinders half afgesit het. Sy het ook een keer in die groep gesê dat as jy tydens Praise en Worship nie bedoel wat jy sing nie, gaan die demone in jou inkom…

En sy’t gerook. Nou, ek is lankal verby die ding van rook-drink-vloek is die Onheilige Drie-Eenheid, maar in daardie tyd was ek nie en nie een van die ander kinders ook nie. So, toe ons dit uitvind, besluit ons om dit te exploit. Ek, Werner, Landie en Marlene kry toe haar pakkie sigarette in die hande, breek die filters af en los vir haar ‘n nota: “Uitgevang!”

Okay. Ons was 16. Tieners is evil en irrasioneel en dis hoe hulle dinge dikwels hanteer. So sit ons toe ook die een aand almal agter die bungalows waar die ouens en meisies geslaap het (ja, aparte bungalows!) en gesels. Sommer so random, die hele groep van ons. En dit raak toe nogal loud en Mariet, wat vroeër die dag vir haarself ‘n kierie gekoop het by die verkopers by die ingang na die strand, kom toe uit.
“Kan julle asseblief sagter, daar is mense wat probeer slaap!” het sy uitgebars. Okay, dis seker waar, maar dit was ook maar half elf – nog nie regtig só laat nie.
“Ag, Mariet, ons mag nog gesels,” het Anelda teruggekap. Mariet draai toe brom-brom om en gaan terug na haar bed toe. Natuurlik begin ons toe almal haar bespreek en oor haar lag. Odie vat toe ‘n lemoen en gooi dit kliphard teen die agterste muur van die girls se bungalow – presies waar Mariet se bed is!

Toe was sy woedend. Sy het uitgekom (met haar kierie) en vir ons kom sê:
“Julle behoort ander mense te respekteer as hulle wil slaap!”
Waarop Anelda antwoord: “Ag, Mariet, kyk jy na jou rookprobleem en dan sal ons na ons probleme kyk.”
“Dis damn moeilik om op te hou,” het Mariet kwaad gesê.
“Ja, wel, dis damn moeilik om nie te lag nie,” het Anelda geantwoord. In ‘n stofwolk van woede storm Mariet toe daar weg (met haar kierie) na die telefoonhokkies onder by die saal toe (ons het toe nog nie almal selfone gehad nie): “EK GAAN NOU MY OUERS BEL!”
Dis toe darem later uitgesorteer. Mariet was nooit weer saam Stranddiens toe nie. Sy is vroeër vanjaar getroud en ek hoop sy het ‘n gelukkige huwelik.

Louis en Malan, twee van die ouens op die span het ook die een aand besluit om die girls bietjie bang te maak. Hulle sê toe vir Marnie, Oom Ferdinand se dogter, dat hulle dit gaan doen – net sodat iemand aan die binnekant darem weet. Hulle klim toe die een aand laat met besems bo-op die girls se bungalow se dak. Nou, die bungalows was toe nog sulke houthutte met asbesdakke – vrek warm en bietjie onprakties vir ‘n seekamp, maar wat kan mens nou doen.

Malan en Louis begin toe met die besems op die dakke vee. Die geluid aan die binnekant van die bungalow was baie scarier as wat enigeen kon dink. Met een sprong was Landie bo-op Marnie se bed en sy probeer toe net die verskrikte girls kalm hou. Albertha sê toe dat hulle doodstil moet bly en bid (Marnie, in die meantime, sukkel so om haar pose te hou, dat sy dit amper nie meer kan regkry nie). Toe die meisies doodstil is, skree Albertha meteens: “WYK SATAN!”

Die laaste aand van die Stranddiens het ons ‘n sokkie gehad. Na die tyd het ons die kosma, Tannie Henriëtte Wasserman, se dogter, Carien, by die huisie waar hulle gebly het, gaan aflaai. Omdat die spanleier, Etienne Nel, die enigste ou was wat ‘n lisensie gehad het, was hy die enigste een wat toegelaat is om ‘n voertuig te bestuur – so ‘n kleinerige double-cab bakkie (ek kan nie eens die maak onthou nie) met ‘n canopy op. Niemand is toe lus om terug te stap bungalows toe nie (dis nie regtig so ver nie, maar come on, ons kon op die bakkie ry, so yeah!) en ons bondel toe die meeste van ons in die bakkietjie in. Oorvol. Werner en Danie van der Merwe het agterop gestaan en ek het in die canopy se linkervenstertjie gesit.

TO Strand is ‘n vakansieoord met baie terasse en walle. Dis nogal tricky om daar te bestuur, veral waar die pad ‘n eenrigting is of met ‘n karavaan. Jy moet op ‘n sekere manier ry. So, nadat ons vir Carien gaan aflaai het, moes ons in die een paadjie in reverse en dan vorentoe ry om by die bungalows uit te kom. Toe ons vorentoe gaan, misjudge Etienne die nabyheid van die wal…en ry met die bakkie skuins teen die wal op sodat die bakkie begin kantel.

Gelukkig het ek op daardie stadium binne-in die canopy ingeklim en Werner het voorin gaan sit, maar Danie het bo-op die canopy se dak gaan lê. Toe die bakkie begin kantel en basies op sy twee linkerwiele ry, pluk Etienne die stuurwiel om die bakkie reg in die pad te kry. Almal het gegil en die grond was so naby aan die venstertjie dat ek die nattigheid daarvan kon ruik. Die bakkie het ‘n keer of wat lelik gehop, maar gelukkig kry Etienne toe weer beheer oor die voertuig en ons kom toe veilig by die bungalows aan – twintig meter verder!

Almal was geskok, maar okay, behalwe…Danie, wat bo-op die bakkie gelê het! Met die gehoppery het hy heeltemal van die bakkie afgehop en in die pad beland. Teen die tyd dat ons besef hy is missing in action, kom twee van die vakansiegangers met hom daar aan. Sy knieë was oop en daar was stukkies grond en klippies in sy vleis in. Die oom wat hom daar aangebring het, het ons lelik uitgetrap:
“Julle noem julleself Christene en dan bestuur julle só!”

Daar het ek besef hoe maklik ‘n mens ‘n hele week se goeie werk in ‘n baie kort rukkie kan opmors. Daai les sou vir alle kampe waarop ek in die toekoms sou gaan geld.

Tipies aan ons Afrikaners hanteer ons mos naturlik krisisse deur te joke daaroor, en dis toe dat Louis en Malan begin sing:

“Daar’s ‘n bakkie, toe-toe-doe-roe-doe
Daar’s ‘n bakkie, toe-toe-doe-roe-doe
Daar’s ‘n bakkie, toe-toe-doe-roe-doe
‘n Bakkie wat op twee wiele kan ry!”

Maar, end goed, als goed. Die Stranddiens was ‘n sukses en ons het ‘n fees van ‘n tyd gehad. Ons het toe nog nie geweet dat ons enigsins weer sou gaan nie, maar in ons harte het ons dit tog maar gehoop.

En niemand sou kon raai wat nog vir ons sou voorlê op TO Strand nie…

‘n Terugkeer na TO: die Stranddiens-comeback

December 9, 2007 2 comments

Okay, ek weet ek het al voorheen geskryf oor Comebacks en sulke dinge en julle weet ek love die underdog, die ouens wat terugkom en weer probeer, al daai manne – julle weet wie ek bedoel. Ek is ‘n fan!

Ek maak hierdie Desember ‘n comeback tot die Stranddiensspan van NG Vryheid Moedergemeente wat jaarliks dienswerk gaan doen op TO Strand by Leisure Bay, noord van Port Edward aan die Natalse Suidkus. Hierdie is ons gemeente se 10de stranddiens sedert 1 Januarie 2000 en daarom is ons tema ook Feesjaar – ons doen die hele Comrades-groen nommer-ding en alles. Dis awesome.

Ek was by al die vorige stranddienste betrokke, behalwe verlede jaar s’n (nr 9), nadat die vorige een (nr 8 ) ietwat awry verloop het vir my persoonlik. Okay, goed, ek was nie op die beste plek in my lewe daardie jaar gewees nie en die afwesigheid van laas jaar s’n het my goed gedoen. Ons (ek, Cobus en my broer) het wel gaan kuier vir so 2 dae, sommer net om vir Cobus te wys hoe ons dinge doen en so, maar dit het my laat besluit om dit tog te oorweeg om wel vanjaar weer te gaan.

En hoe verder dit in die jaar gevorder het, hoe meer het ek geweet: ek gaan weer vanjaar TO Strand toe. Daai plek het net iets, iets wat ek nie eens gaan probeer beskryf nie. Ek het altyd vir my vriendin Shalom gesê ek dink as God ooit ‘n vakansieplek sou kies, sou dit TO Strand wees. ‘n Mens beleef God daar maar net soos op geen ander plek in Suid-Afrika nie.

Ek het toe die organiseerder, Hano du Plessis, laat weet ek wil saam gaan as ‘n gewone voog (ek was al voorheen iets soos Onder-Geestelike Leier). Ek en Hano kom ook al ‘n lang pad, was saam op skool (hy was ‘n jaar voor my) en saam op Stranddiens van die 2de een af.

Ek is so bly ek gaan weer.

Ons het verlede naweek ons spanbou/voorbereidingskamp gehad op Oom Pieta en Tannie Marie Fourie se plaas tussen Utrecht en Vryheid. Hulle het ‘n kampterrein wat nogal ideaal geskik is vir kleiner groepe (30-40 mense) en wat ons gemeente baie dikwels gebruik. Daar is ‘n saal en slaap/ablusiegeriewe en ‘n braai lapa. Daar is ook ‘n lekker dam, perde en ‘n heerlike berg om uit te klim – die ideale plek vir spanbougeleenthede.

Ek was so aangenaam verras deur die span tieners wat saamgaan! Die meeste van hulle was nog in die laerskool toe ek klaargemaak het met skool en daarom is dit soos om ‘n splinternuwe span te leer ken en deel van hulle te word. ‘n Paar van die kinders was op nr 8 gewees en ‘n klomp het ek laas jaar geleer ken op die voorbereidingskamp en toe ons daar gaan kuier het, so nou was dit regtig ‘n voorreg om weer met die tieners te doene kon kry en te sien hoe hulle groei in hul geloof en die pad wat hulle gaan stap saam hulle aan te pak.

Ons is omtrent 10, 11 voogde wat elk so 2 of 3 kinders in ‘n voogdegroepie het na wie ons omsien. Wanneer ons onder by TO aan die aktiwiteite deelneem, team die groepe 2-2 op en trek dan van die oord se mense in om saam deel te neem. Maar wanneer dit by Bybelstudies en sulke tye kom, is dit net jy en jou voogdekinders.

Ek het 3 voogdekinders en ken net die seun, en eintlik net omdat ek en sy broers vriende is (hy is die jongste enetjie). Die twee girls ken ek nie, maar my ouers ken hulle en hul ouers goed (‘n Mens raak vinnig uit voeling met jou tuisdorp as jy vir 5 jaar lank basies net tydens vakansies daar is!). Vinnig-vinnig het ek genoeg inligting opgetel om agter te kom ons sit met ‘n geskeide gesin en ‘n gesin met gesinsgeweld. Eish…en dis net hierdie twee kinders! Elkeen dra maar sy pakkie seer saam en my gebed is dat hierdie Stranddiens vir hulle genesing sal bring (hoewel dit waarskynlik nie hul probleme gaan kan oplos nie). As ek net ‘n instrument kan wees on hulle te help om God se teenwoordigheid en nabyheid opnuut te beleef, sal dit awesome wees. Die een girl se broer, wat maar 11 maande jonger as sy is, gaan ook saam. Dis altyd lekker om die jong outjies te sien en die geloofspad wat hulle loop. Dis vir my amper intenser as die girls s’n (tot ‘n mate, ek probeer nie veralgemeen nie!!!).

Ná die kamp het ons ‘n 24uur gebedsmarathon in die kerk gehad, die Le Bid (afgelei van Le Mans af, ja!). Ek het laasjaar ook geskryf oor iets rondom gebed wat gebeur het voor verlede jaar se Le Bid wat, dank Vader, nie weer vanjaar gebeur het nie! kyk by ‘Die Feesmaal (I)’.

Dit is nou al die 6e jaar wat ons dit doen: al die kinders word in skofte ingedeel om diens te doen (daar is kerse wat vervang moet word en hulle moet ‘n ogie hou dat die kerk nie afbrand nie – dis ‘n NG Kerk so daar is BAIE hout!) en om te bid. Daar word 15 “stasies” in die kerkgebou geplaas wat op mekaar volg en waar ‘n mens kan bid vir spesifieke dinge wat op papiere geskryf word en dan daar opgeplak word. Daar is 3 papiere: een met behoeftes vir die Stranddiens, een met behoeftes vir die dorp Vryheid/die land, en een waarop jy jou eie persoonlike behoeftes kan skryf soos jy voel. In die kerk word daar net hier en daar ligte aangesit – dit word maar meestal deur die kerse verlig – en sagte musiek, soos daai dolfyngeluide of waterklanke-tipe goed, word gespeel. Die idee is dan dat jy so 2 minute of so by elke gebedstasie spandeer en vir die sake op die papiere bid. Dit raak gewoonlik langer as 2 minute! Die onderwerpe wissel van wysheid rondom besluite, veiligheid op die pad en die regte weer tot die samehorigheid en gehoorsaamheid van die span en hul fisiese en geestelike gesondheid. Die laaste stasie wat so ewe op die preekstoel geposisioneer is, word ingerig as die stasie waar jy kniel en jouself hercommitt tot die span en net spesiaal tyd saam met God spandeer.

Dit is ‘n ongelooflike ervaring, ook om te sien hoedat hierdie jong kinders deurnag wakker bly (in die kerksaal natuurlik, waar daar fliek gekyk en mafia gespeel word!) om te kom bid, en ook om te sien wat dit aan hulle doen en hoe getrou hulle in dit is. Omdat die skofte so ver uitmekaar is, kan jy ‘n goeie slapie inkry tussen jou shifts as jy te moeg is.

Die moederskamer word ook ingerig as die “Stranddiens-kamer” waar ons al die vorige Stranddienste se T-shirts uitstal, met foto’s en al die name van die mense wat saamgaan. Dit word ‘n tipe “shrine” waar jy enige tyd kan gaan bid en na die musiek luister wat daar speel – dit verskil van die groot kerk s’n, dis gewoonlik ‘n praise en worship soort mix: Michael W., Louis, Retief…daai ouens. Daar het die voogde van ons wat die aand daar was vir elke kind afsonderlik gebid. Dit was nou vir jou ‘n challenge! Nie die bid gedeelte nie, maar om wakker te bly, want daai moederskamertjie raak maar bedompig en as ‘n mens só laat in die aand in ‘n plek bid wat bietjie suurstog-uitgeput is, raak dit ‘n challenge om wakker te bly!

Daar het ons ook gesien dat die Here ‘n spesifieke pad met die kinders stap en party kinders (lees: ouens) in besonder. Dis lekker om die nuwe generasie te sien groei in Christus. Ek kan nie wag om te sien wat alles op Stranddiens gaan gebeur nie!

Ek sal later bietjie van die vorige Stranddienste vertel. Dit is seker die single most important belewenisse in my lewe wat die meeste impak op my gehad het. Ek wens almal kon sulke goed beleef terwyl hulle op hoërskool was en daarna.