Archive

Posts Tagged ‘David Bosch’

Stranddiensreëlings en die Inkululeko VIGS-weeshuis

December 13, 2007 1 comment

Die reëlings vir hierdie jaar se stranddiens verloop sover met gemengde welslae. Die kinders is opgecharge en entoesiasties en wens die volgende twee weke om! Ek het vandag vir die ouens wat in die dorp is die mimiek wat ons op Prophet se Varkieliedjie uitgewerk het (al aan die einde van 2001!) geleer en hulle het dit binne 20 minute reggekry. Goeie werk! Toe wil hulle sommer al die mimieke wat ons sover ken, deurgaan. Dis eintlik awesome om sulke jong latte te sien sulke goed uit hul eie doen. Ek weet die meeste ouens wat saam my op hoërskool was, sou gedink het dis super gay! (No offense teenoor enigiemand…) Maar dis vrek cool om die outjies so opgewonde te sien oor iets soos ‘n stranddiens. Ja, natuurlik daar is meer as een aspek om oor opgewonde te wees. Moenie vir een oomblik dink dis sulke piëtistiese, stroopsoet, engelagtige mama’s boytjies nie! Hulle is maar ‘n klomp rakkers. Daar word nou al reeds gepraat oor watter girls weer vanjaar by TO gaan wees en al die kattekwaad wat aangevang gaan word, word al klaar beplan. Hallo, dis normale tienerseuns tussen 14 en 18 jaar oud!

Iets wat gister op ons pad gekom het, is die Vigs-weeshuis op die dorp, Inkululeko Babies Home. Dié weeshuis bestaan al ‘n hele paar jaar en huisves babas en klein (swart) kindertjies wat deur Vigs geraak is op een of manier, so hulle is nie almal noodwendig HIV positief nie. Die weeshuis het egter ‘n groot tekort aan hande wat kan help oor die Kerstyd en hulle vra toe of ons nie kans sien om hulle te kom help in skofte nie. Toe deel ons die kinders drie-drie in om elke dag shifts te gaan werk van so 4 ure lank. Dan werk jy nou nie elke dag nie, maar ons almal het so 3 beurte of so gekry tot volgende Woensdag toe. Die kinders was eers heavy reluctant toe hulle hoor hulle gaan dalk babas se doeke moet omruil (iets waarvoor ekself maar skrikkerig is!), maar dit blyk toe dat ons eintlik net met die peuters moet speel. Die weeshuis is nie baie groot nie, maar hulle het agter geraak met die skoonmaak van die plek en die was van goed soos handdoeke en lakens en matte en sulke stuff terwyl hulle na die babas en kids moes omsien. Nou gaan ons uithelp deur met die kinders te speel en hulle besig te hou. Ek was vanoggend daar saam twee meisies en een van die ouens. Ons het saam die kids op die klimraam gespeel en vir hulle ‘n swembadjie getap en baie van hulle op die swaaie “gemaak” en saam met hulle ingekleur. Teen 11:00 het hulle ‘n middagslapie gevang, waartydens ons ook ‘n ruskansie gekry het. Daarna was dit tyd vir middagete. Dis gewoonlik maar broodjies en melk, ‘n ligte middagete omdat hul aandete wat teen 17:00 is nogal groot is. Ons het selfs gehelp om vir hulle ‘n toffie-poeding te maak! Ek en Jopie het ook gesien dat die klimraam bietjie regmaak nodig het – net ‘n spyker of twee hier en daar, so ons gaan dit een of ander tyd vaskap.

Hoewel dit nie na veel klink nie, is dit tog belangrik. Wat awesome is, is dat dit vroeg al by die kinders die ding tuisbring dat sending/uitreik/omgee nie net daar ver is nie, maar by die huis begin. Maak ‘n verskil waar jy is, met dit wat jy kan doen – hoe klink dit my David Bosch sou hiervan gehou het? Ek doen. Dis die praktiese van Christenskap. Die Bybel sê tog immers vir ons dat die vas wat God soek, die omsien na weeskinders en weduwees is – mense wat nie hulleself kan help nie. En ons het nie gesukkel om die kinders in te deel nie – vandag het hulle met hul vriende daar aangekom…

Om te doop of om twee keer te doop: is that the question??

November 19, 2007 7 comments

Ek sit onlangs in ‘n geselskap saam met een van my vriende se ouers, sommer so in ‘n koffiewinkel sit ons almal en kuier. Die oom noem toe dat die graad 11’s in hul NG gemeente die betrokke Sondagoggend belydenis van geloof afgelê het en dat daar twee van die meisies is wat eers gedoop is voordat hulle dit gedoen het, omdat hulle nie gedoop was as babas nie. Hy spreek toe die wens uit dat hy hoop hulle besef wat die doop vir hulle beteken, so voor die aflê van hul belydenis, want dit het vir hom soveel beteken toe hy homself laat herdoop het…

Ek gaan netnou terugkom hiernatoe. Ek wil net eers noem dat, soos die geselskap aangegaan het, hy vreeslik baie gepraat het oor sy werk en die aard daarvan en hoe dom die swart boys by die werk is en hoe daar eintlik nie ‘n toekoms vir jong wit mense in Suid-Afrika is nie, want “Mbeki en die hele ANC sal nie rus voordat daar nie meer een enkele witmens in die land oor is nie.”

Sjoe. Vir iemand wat sy godsdiens so ernstig opneem dat hy homself laat herdoop het, is dit glad nie ‘n rassistiese uitkyk op die land en sy situasie nie, of hoe?

Ek wil eerstens oor die doop-ding praat. Die doop is nie iets wat JY doen nie, dis iets wat GOD aan jou/met jou doen. Ek het tydens die gesprek besef hoe belangrik is die sakramente nou eintlik vir my, en dan ook die regte toepassing daarvan. Jy kan dit nie sommer manipuleer sodat jy nou die een of ander monumentale geestelike ervaring kan hê nie. Komende van my is dit seker nogal funny, want ek is seker een van die grootste voorstanders van die saak dat jou Godsdiens ‘n belewenis moet wees, ‘n interaksie, ‘n ervaring. En ja, dit geld vir die sakramente ook – die nagmaal is by uitstek vir my ‘n geestelike belewenis en die doop ook. Maar dit is nie ‘n tool wat jy gebruik om die een of ander gevoel te veroorsaak nie!!!

Ek val terug op die default-gereformeerde posisie oor die doop (hallo, ek is ‘n Calvinis, hoe dan anders?). Ek haal aan uit drie bronne:
1. So Glo Ons: ‘n Eietydse Geloofsverantwoording van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1998, Algemene Sinode van die NG Kerk)
2. Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 34)
3. Heidelbergse Kategismus (Sondag 26-27)
(Ja, ek weet julle het gedink ek weet nie wat daarin aangaan nie! Vang ek julle nou vir ‘n sucker…)

So Glo Ons sê: “Die doop is ‘n teken van God se genadeverbond, waardeur Hy sy beloftes aan die gelowiges en hulle kinders bevestig. Dit is nie ‘n teken van die méns se gehoorsaamheid of geloofsbeslissing nie, maar van die genade van God aan ‘n mens. In die Ou-Testamentiese bedeling was die besnydenis die teken van die genadeverbond. In die Nuwe Testamentiese bedeling is die doop die teken van presies dieselfde genadeverbond.
Dit geld vir mense wat op ‘n volwasse leeftyd tot bekering kom en dan gedoop word sowel as kinders van gelowiges wat so gou moontlik na hulle geboorte gedoop word. Hulle word deur die doop in die kerk van die Here opgeneem. Die doop verkondig die afwassing van ons sondes deur die bloed van Christus en roep ons telkens op om dié waarheid in die geloof te aanvaar.
Die doop word net eenmaal aan iemand bedien. Dit geskied in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, en word met water deur ‘n bevoegde ampsdraer van die Christelike kerk bedien.”

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 34, sê (bietjie meer hectic): “Ons glo en bely dat Jesus Christus wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed te stort ‘n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat ‘n mens tot versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis, wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die skarament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra…Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie.

Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie…”

Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 26-27, vra in Vraag 70:Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees? Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a) Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.”
Gaan lees asseblief die ander vrae wat daarop betrekking het!

So, eenvoudig soos dit: dis nie ons keuse nie, maar God s’n wat Hy uit genade aan ons doen. Dit maak dit nie minder van ‘n belewenis nie, allermins, maar dis ‘n belewenis wat eens en vir altyd geld. Jy kan jouself dus net laat “herdoop” as dit nie met water was nie, of dit was nie ‘n bevoegde ampsdraer van die Christelike kerk nie, of dit was nie in die Naam van die Vader, Seun en Gees nie (vgl. So Glo Ons).

Om dit eenvoudig te verduidelik: wanneer jy gebore is, word jy by Binnelandse Sake geregistreer. Jy, as baba, doen dit beslis nie self nie – dit word vir jou gedoen. Maar wanneer jy 16 is, doen jy self aansoek vir jou ID-boekie. Dit doen jy self. Jy gaan herregistreer ook nie as jy aansoek doen vir jou ID nie. Jy is mos reeds geregistreer!
Die doop word ook vir jou gedoen, terwyl jy self op die ou end belydenis aflegging doen van jou geloof.

Goed en wel, jy hoef nie met my saam te stem nie, dis jou keuse en dis fine. Maar dan moet dit vir jou iets begin beteken. Moenie vir my kom vertel jy is weer gedoop en jou lewe het presies dieselfde gebly as voorheen nie! As jou uitkyke op die lewe, jou houding teenoor jou wit-naaste, jou bruin-naaste, jou swart-naaste en teenoor jou natuur-naaste nie radikaal verander (lees: verbeter!) word daardeur nie, kon jy netsowel in ‘n modderplassie gespring het. Selfde effek – boggerôl. Jy word net vuil.

In A Walk To Remember sê die hoofrol outjie dat sy verhouding met die chick wat aan leukemie gesterf het, sy lewe verander het (hy was ‘n rowwe jack asshole, en later word hy nou natuurlik ‘n good guy). Ons verhouding met Jesus moet op dieselfde wyse ons lewe verander. Ons kan nie sê dat ons deur al hierdie awesome belewenisse gegaan het en dan onge-phase in die buitewêreld aangaan asof niks verander het nie. David Bosch skryf nogal baie oor die ding dat ons godsdiens net so ‘n klein private storietjie geword het en dit die rede is hoekom dit geen impak in die buitewêreld het nie. As Christen is my en jou taak hoofsaaklik om te getuig van Jesus deur die lewe van die mense rondom ons te verbeter. Vra jouself die vraag af as dinge by die werk of die huis of waarookal crap is: wat dra ek by om dit te versleg? Wat dra ek by om dit te verbeter?

As ons vir God vra om ons te verander, moet ons bereid wees om die verandering te kan vat. Dit laat my dink aan ‘n ou sê-ding: Be careful what you wish for – you might just get it! En dan moet jy bereid wees om die pad met al sy konsekwensies te stap.