Archive

Posts Tagged ‘Verligting/Aufklärung’

Deon Maas se satanisme-artikel

November 13, 2007 25 comments

Ek wou aanvanklik nie my energie op Deon Maas spandeer nie want ek het regtig beter dinge om met my tyd te doen, maar nou ja, by public demand, hier is dit nou:

Hy begin sy artikel (“Die Deon Maas Blad: 666 is net ‘n syfer”, Rapport, 4 November 2007) met ‘n verwysing na ‘n arrestasie in Pretoria-Noord op ‘n vrou wat klaarblyklik by satanisme betrokke is en vertel dan op pittige wyse hoe dit gebeur het en verwys na die satanistiese artikels waarop die polisie beslag gelê het: bloedbesmeerde Bybels, menshare, swart kerse, swart klere en en en.

Nou gaan hy voort om homself en sy gebruik van kerse en swart klere te verduidelik, asof almal nog in die denkraamwerk vasgevang is dat die kleur swart alles omvat wat boos is.

Hy noem dan dat satanisme ‘n godsdiens is en dat “ons Grondwet bepaal dat almal die vryheid het om die godsdiens van hul keuse te beoefen”. Fair enough, dankie tog vir godsdiensvryheid, maar dis wat jy doen terwyl jy jou godsdiens beoefen en of dit teen die wet is wat saak maak. Dieremishandeling, verkragting en seksuele mishandeling van minderjariges, moord en dwelmmisbruik is wel sake wat teen die wet is en wat jou met die gereg gaan laat bots. Sy afsluiting van die paragraaf is ok funny: “Satanisme maak steeds ‘n beter lamppaal-plakaat as Moslems, selfs al blaas hulle minder goed op en rig meer skade aan hulself aan as diegene rondom hulle.” Okay, dis waar – totdat jy betrokke raak. Die skade wat dan aan jou aangerig word, is onbeskryflik. By the way, die tannie van langsaan soek ook nog haar kat, Sokkies.

Maas verduidelik verder, baie oppervlakkig, hoekom hy nie ‘n groot aanhanger van “georganiseerde godsdiens” is nie, omdat “massa-opsweping” klaarblyklik nie sy ding is nie. Okay. Moet dan net nie kerk toe gaan nie – godsdiens bestaan immers nie NET uit bymekaarkomste nie. Maas weet dit skynbaar nie.

Hy sê ook hoekom hy nie aan satanisme deelneem nie – die dinge wat hulle doen is vir hom te veel moeite. (Go figure, hy is te lui om in die dag godsdiens te beoefen, vir wat sal hy dit in die nag doen?).

Dis al argument wat hy aanvoer téén dit. Hy maak dan ook die stelling dat satan nie noodwendig boosheid verteenwoordig nie en net maar ‘n ander filosofie is, waar jy net tot ‘n ander god bid. Wat ook debatteerbaar is.

Nou probeer hy, op ‘n baie ondeurdagte wyse, die argument aanvoer wat hy aan die einde van sy rubriek opsom (dat mens na ander moet luister en hul idees respekteer) deur na ‘n paar van die sogenaamde nege “gebooie” van satanisme te kyk.

En hier lê my groot probleem met Maas se artikel. Dit is darem die onwetenskaplikste, mees naïewe manier van ‘n onderwerp hanteer wat ek in ‘n laaaaaaang tyd gesien het! Maas is veronderstel om ‘n intelligente mens te wees, wat “ander se idees respekteer sonder om noodwendig daarmee saam te stem”. Nou hanteer hy ‘n paar idees wat skynbaar in satanisme gepropageer word (maar wat ook nou nie juis missing is in enige ander godsdiens nie, for that matter) asof dit hul oorsprong in die satanisme gehad het en dat ons eintlik vir hulle daarvoor moet dankie sê. Ek wonder of Maas weet van die Verligting, die modernisme en die post-modernisme – hulle het darem maar ‘n BAIE groot invloed gehad op hierdie sogenaamde 9 gebooie wat aan ons voorgehou word!

Maar goed, veronderstel ons gee hom die voordeel van die twyfel. Kom ons kyk na die dinge wat hy uitlig:
1. Dwaasheid: “kyk na die storie agter die storie, moenie alles met ‘n paplepel opeet nie”. Juis! Dit wil nie vir my voorkom of hy dit met satanisme gedoen het of met enige van die godsdienste/kerkinstansies (wat hy geensins onderskei nie!) wat hy later kap nie. Daar is beslis net op die oppervlak na dinge gekyk. Die storie agter die storie by satanisme is nogals grim, om dit lig te stel.
2. Pretensie: “moenie voorgee dat jy iets is wat jy nie is nie”. Goed en wel. Maar dis beslis nie ‘n idee wat Anton laVey of sy volgelinge uitgedink het nie. Dis ietsie uit die post-modernisme.
3. Solipsisme: “doen aan ander wat hulle aan jou gaan doen”. Dog eat dog world, huh? Die probleem lê egter dat Maas aanvaar dat “enige ander geloof” se siening is “draai die ander wang”. Die EINTLIKE Goue Reël wat deur alle godsdienste loop en in die algemene logika ook ‘n redelike sterk inslag gevind het, is: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.” Dit is dan dus die teenpool vir sy beskrywing van solipsisme. Maas verreken dit egter glad nie en val terug op iets wat hy een keer iewers gehoor het. Die “draai die ander wang”-gesprek in die Bybel het in die volksmond vreeslik vervlak en ons predikante en pastore sal ernstig moeite moet maak daarmee om vir mense te verduidelik wat dit werklik beteken. Dit het met baie meer as wangdraai te make. Ek het nie nou plek vir die eksegese nie, maar ons is mos nou al almal mooi groot genoeg om dit eintlik al te geweet het.
4. Selfbedrog: “moenie jouself aan jou eie neus rondlei nie”. Weer eens ‘n geleende begrip uit die modernisme, nie iets authentic satanisties nie.
5. Kudde-onderwerping: “moenie toelaat dat ander mense jou dwing om goed te doen wat jy nie wil doen nie”. Hallo logika! En hallo die Pastorale Briewe in die Nuwe Testament. Dit gaan keer op keer oor mense wat verlei word en aan ander se vals raad en leer toegee of daardeur deurmekaar gemaak word, waarteen die Bybel dan ‘n redelike sterk saak aanvoer, albeit met ‘n Christelike oogmerk, maar nogtans – dis nie asof die satanisme kopiereg op die idee (of enige van die bogenoemde) het nie. Maas sê ook “dit moedig vrye denke aan en ondersteun die strewe na opinies wat gebaseer is op kennis wat jy self inwin”. Hier het hy eintlik die Verligting, die Aufklärung, ontdek – nie satanisme nie.

En nou doen hy nog ‘n simpel ding: hy voer sy eie argument net halfpad. Het hy uit column-space uitgehardloop? Het die ander artikel op die blad oor die toekoms en Chinese te veel plek gevat, of wat? Want nou sê hy: “Ek is seker teen die tyd verstaan jy die punt wat ek wil maak”. Nee, Deon, ek verstaan nié. Wat IS die punt wat jy wil maak nou eintlik? Want sover klink dit net vir my na argumente hoekom satanisme in vandag se tydsgees hoort. Niks nuwe nuus nie, boet, alles geleende idees.

Hiervandaan toon Maas op ‘n uitstekende wyse dat hy glad nie die verskil tussen gelowe, godsdienste en kerkverbande verstaan nie. Ook val hy hier die foute wat hierdie gelowe/godsdienste/kerkverbande maak aan, in plaas daarvan om na húlle belydenisskrifte te kyk – die “reëls” van hierdie gelowe/godsdienste/kerkverbande. Hy probeer hier die appels van die satanisme met die peersap (nie eens die pere nie!) van die ander genoemde gelowe/godsdienste/kerkverbande te vergelyk en natuurlik duik hy in die hek.

Die Rooms Katolieke is wel teen die gebruik van kondome in ‘n era van VIGS, maar hulle is ook teen voorhuwelikse en onverantwoordelike seks.
Die Anglikane se eenheid mag dalk wel bedreig word, maar die feit dat hulle homoseksuele predikers aanvaar, is ‘n HUGE stap. Dit sê iets van die manier hoe hulle bereid is om met randfigure in die samelewing om te gaan. Meer as wat die satanisme kan sê – wanneer laas het jy ‘n satanistiese koeksisterverkoping of pannekoekstalletjie gesien ten bate van die hulpbehoewendes in Mamelodi of Danville? Ek vra net.

Al wat hy oor “ons eie susterkerke” (waarvan hy nie deel is nie) sê, is dat hulle sukkel om hulle voete in ‘n nuwe bedeling te vind. Okay, wie sukkel nié om hul voete in ‘n nuwe bedeling te vind nie? Ek wonder verder of Maas enige benul het van die kerkherenigingsproses in die familie van NG Kerke wat op die oomblik aan die gang is (vergeet net eers van die probleme, die feit is dat die proses loop). Dit getuig van ‘n grootse, verantwoordelike roepingsbewustheid en ‘n doelbewuste poging om wel hul “voete in ‘n nuwe bedeling te vind.” Die Hervormde Kerk se afgelope Kerkvergadering het ook weer eens bewys dat hulle ernstig is met ekumene. As jy nie weet wat die woord beteken nie, gaan soek dit op.

Party van die Apostole (sic) weier om swart mense in die kerk te aanvaar.” Wie is die “Apostole”, Deon? Is die sogenaamde Ou Apostel-kerk? Is die die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS)? Want, uhm, die swart gemeentes is al jarrre gelede by die AGS ingelyf. Of jy nou by die AGS in Mamelodi of by die AGS in Hatfield of Sunnyside is, jy is by ‘n AGS kerk. Daar is hulle die NG Kerkfamilie een voor en dien wel as inspirasie.

Hier hou Maas op en vergeet gerieflikheidshalwe van die Grieks-Ortodokse kerk (die 3e stroom in die Christelike Kerk, naas die Rooms-Katolieke en Protestantisme) of selfs die Church of Jesus Christ of Latter-day Saints (die Mormone). Hoekom kap hy nie hulle nie? Ek meen, daar is sekerlik ook iets wat hulle verkeerd doen. Of hoe, Deon? Sense the sarcasm…

Die algemene opmerkings wat hy maak rondom die “Christelike kerke” is eweneens slegs oppervlakkige observasies. Die stelling dat die “duiwel die kerk in besigheid hou” laat mens net ‘n mens se kop skud. Ai ai ai. Die kerk is in “besigheid” omdat daar MENSE is, nie omdat daar ‘n duiwel of demone of ‘n Kersvader is nie. Mense en hul lief en leed hou die kerk in “besigheid”. In fact, as dit nie vir Christendom was nie, het satanisme nie regtig bestaansreg gehad nie. (Dis dus eintlik die kerk wat die duiwel in besigheid hou…)

Sure, tieners is hardkoppig en woed heerlik voort in die storm-en-drang fase van hul lewens, maar ek moet nog die tiener ontmoet wat by satanisme ‘n draai gemaak het, daar uit is en teruggekeer het na die Christelike geloof toe en sê dat dit lekkerder was toe hy/sy ‘n satanis was. Gaan kyk na die tieners wat wél ingeskakel is by een of ander vorm van kerkjeugaksie. Hulle bots ook met hul ouers, maar hulle het ‘n ander uitlaatklep. En natuurlik is satanisme nie die enigste ander “aantreklike opsie” (hoe de hel, excuse the pun, is dit anyway aantreklik?) as jy nie meer sondagskool toe wil gaan nie. Maas behoort dit te weet.

Christelike kerke pas nie hulle “reëls” aan “in ‘n samelewing wat vorentoe beweeg” om hul lede te behou nie. Hulle pas wel hul maniere van doen aan en beweeg sáám met die samelewing vorentoe. Ja, kerke sukkel om jongmense te behou, maar daardie jongmense wat die kerk verlaat, kom wel een of ander tyd weer terug. Gaan kyk maar net wat gebeur met jong mense wat oorsee gaan werk, byvoorbeeld Londen. Hulle stroom na die kerke toe.

En as kerke belasting moes betaal het, sou hulle dalk meer werkbare planne gemaak het om hul persele te behou en as hulle dit dan tog sou verloor, sou hulle in skoolsale bymekaar kon kom – kerkwees gaan tog mos nie oor die byeenkoms op die Sondag nie (hoewel daar ongelukkig nog heeltemal te veel mense is wat so dink). Dalk sou kerke dan juis oorleef.

Propageer sy “rubriek” satanisme? Ek stem saam: nee, dit doen nie. As dít propaganda is, is dit in die eerste plek bitter swak propaganda. Dis wel ‘n swak nagevorsde, idiotiese stuk aandagsoekery en Maas kry presies reg wat hy wil hê: hy vergryp hom aan mense se godsdiens (iets waaraan hy in elk geval nie deel het nie) en gooi die vrye sê, wat hy homself oor alles en almal toegeëien het, rond en bont daaroor. Hy kry publisiteit en aandag en dis eintlik al waaroor hy omgee.

Ek voorspel dat Deon Maas dieselfde paadjie as South Park gaan loop: dit skok aanvanklik vreeslik, en gaan daarop uit om dit te doen, en niks of niemand word ontsien nie – maar later steur niemand hulle gewoon meer daaraan nie. Dit bly skokkend, dit hou aan om uit te tart, maar dit phase niemand meer regtig nie.

Hy claim dat “as ons wil hê ander mense moet ons punt insien en ons idees respekteer, moet ons hul punt insien en hul idees respekteer. Om iemand anders se idee te verstaan, beteken nie dat jy daarmee hoef saam te stem nie. Dit beteken dat jy luister na wat hulle sê en dan kan saamstem dat julle nie saamstem nie. Dit beteken dat jy leer wat in ander mense se koppe aangaan en hulle dieselfde vryhede toelaat wat jy verwag dat hulle aan jou moet gee.”

Nou ja, Deon, hoekom practise jy dan nie wat jy preach nie? Jy het halfhartig gekyk na ‘n paar idees wat volgens die strekking van die artikel (net) in satanisme voorkom en dan sommer so ligweg dit wat jy as die teenpool sien, op ‘n onwetenskaplike wyse gekritiseer. Die vryhede wat jy verwag die kerke of wieookal jou moet gee, gun jy hulle duidelik self nie. Of dalk doen jy, maar dis tog al te lekker om langs die kant te staan en vingers na almal rondom jou te wys asof hulle geen invloed op jou of jou wêreld het nie.

Op Maas se uiters verwronge, argaïese wêreldbeeld gaan ek nie nou eens ingaan nie. Ek vind dit wel uiters vreemd dat ‘n agnostic soos hy in die bestaan van die duiwel glo…
Verder hanteer hy gelowe/godsdienste/kerkverbande uiters naïef. Ek sal graag wil weet wanneer laas hy nou regtig ‘n kerk besoek het om uit te vind wat daar aangaan.

Ek self is nie aldag mal oor kerkpolitiek nie, inteendeel dit frustreer die hel (pun intended!) uit my uit. Maar ek is wel lief vir die kerk en die Christendom. Om op my vroeëre argument voort te borduur: wanneer laas het jy ‘n satanistiese kerkbasaar gesien waar die opbrengs ten bate van die werk van die gemeente gaan? Of ‘n liefdadigheidsprojek wat deur TUKS-studente aangepak word met satanisme as die hoof dryfveer? Of wie het al gehoor van die Satanistiese Maatskaplike Raad/Diens, wat na armes en weeskinders omsien en mense se sosiale probleme hanteer? Nie ek nie…

Dis dieselfde “georganiseerde” kerke wat wél hierdie dinge doen, Deon. Dít is die dinge wat vreedsame naasbestaan bevorder. “How do you change the world? One Act of Random Kindness (ARK) at a time…” Ek sien die satanisme het daai een onder die duim. Raait…

Nou’s ek moeg. Ek gaan nie weer my tyd en energie op hierdie stront mors nie. O, ja, laaste ding: hy is wel reg dat 666 net ‘n syfer is. Dis Keiser Nero s’n.