Kots in ‘n tuimeldroeër
Okay, hierdie post gaan nie oor kots of tuimeldroeërs nie.
Ek wonder maar net ‘n bietjie. Sien, ek wonder oor hoe accepting ons eintlik is. Ek sit byvoorbeeld met ‘n probleem en ek kan niemand daarvan vertel nie – dis te sensitief. “Dominees” is nie veronderstel om sulke tipe probleme te hê nie, ons is immers die morele steunpilaar waarop sowel die jeug as die ouer garde moet staatmaak. So dit maak dit ‘n bietjie moeilik. My shrink is in Pretoria en ek is in 400km daarvandaan, so ek kan haar nie vertel nie. Ek kan nie my ouers vertel nie, want dit sal net te erg wees. Ek kan nie my kollegas vertel nie (alhoewel ek behoort te kan, maar ek wil eintlik nie want ek kan nie nog geskende verhoudings hanteer nie). My beste vriende is in Pretoria en weer eens is die geografie teen my. En selfs vir hulle sal ek dit moeilik vind om te vertel. Ek weet dis nie ‘n judgmental klomp nie (ek glo nie so nie. Ek hoop nie so nie.). Maar ek is net té versigtig. Net té bang hulle verstaan nie. Of sien my anders as wat hulle my altyd gesien het.
So dis nogal moeilik.
Intussen moet ek face up, suit up en show up vir die daaglikse eise van “die bediening” – niks fout daarmee nie, ek noem dit net – sonder dat my eie persoonlike issue uitgesort word.
Dalk lug ek bloot ‘n gevoel wat baie ander met my deel.
I dunno.
“Nee, Tannie, dis verby…”: Ter nagedagtenis aan ‘n Oupa
Ons was laas Vrydag by my Oupa se roudiens. My ma se pa. My pa se pa is dood voor my geboorte en ek dra sy name. Hierdie oupa was die een wat ek geken het, wat my dinge geleer het, wat my verstom en verbaas en vermaak het.
Dit was ‘n koue, nat dag in Aliwal. Min van die familie kon daar wees. Ek het nie gedink ek sal so aangedaan raak nie, maar ek het byna die hele dag lank my oë uit my kop uit gehuil. Sien, ek het die (twyfelagtige) voorreg gehad om almal wat ver is se laaste huldeblyke voor te lees. Dit was seker die moeilikste drie bladsye wat ek in my lewe moes lees. Voor die tyd kon ek skaars na my oupa se foto kyk waar dit op n tafeltjie gestaan het langs twee kerse.
Dankie tog ons het nie die foto-powerpoint met You Raise Me Up-ding gedoen nie, want regtig waar! Dit was eenvoudig, stemmig, met Piet Smit wat die Magaliesburgse Aandlied van ‘n cd af sing – ‘n persoonlike request van my oupa voor sy dood. Die dominee het my oupa geken en kon dus lekker persoonlik praat – bietjie langerig, maar dis iets wat ek nogtans ontsettend waardeer het. Hy het nie sommer net ‘n ou begrafnisprekie uitgepluk en so nie. Sou hom in my emosionele toestand waarskynlik na die tyd gemoer het as dit die geval was.
Ek vra op ‘n stadium vir my ouma of sy by was in sy laaste minute. Sy vertel dat sy so 4h die middag my oupa, wat in die siekeboeg van die ouetehuis waar hulle bly, versorg is, gaan groet het. Net so voor 6pm het die suster haar laat roep. Toe sy daar kom, was sy oë nog oop en sy het by hom gaan sit.
“Maar hy lewe nog. Kyk, hy lewe nog!” het sy vir die dokter gesê.
Waarop hy geantwoord het: “Nee, Tannie, dis verby…”
En toe was dit verby.
Dis verby. Dis verby. Twee woorde wat sóveel beteken. Jou lewe van by die 53 jaar saam met hierdie mens vir wie jy lief was en jou lewe mee gedeel het, is verby. Daar gaan nie verdere memories wees nie.
Jou tyd hier by ons is verstreke. Jou saamwees by hierdie groep mense het tot ‘n einde gekom.
En? Maak dus memories. Goeies. Want daarvan het ons van my oupa baaaaaaaiiiieee. Hy was ‘n besondere mens.
Ons gaan Oupa baie mis!
In Memoriam: Daniël Johannes Coetzee 1936 – 2009
Recent Comments