Archive

Archive for April, 2010

Van sport en (af)gode…

April 7, 2010 3 comments

In ‘n onlangse radioprogram het prof Piet Naudé blykbaar sport as ‘n “kakiebos wat die hele vleiland inneem” beskryf, en dit dus as ‘n soort indringer-onkruid afgemaak.

‘Die gevaar van sport lê volgens prof Naudé grootliks daarin dat dit besig is om ’n alternatiewe godsdiens te word. “Tiger Woods en Joost van der Westhuizen se val was die val van gode. Die verskil tussen Joost en Jesus is vir baie mense baie klein,” het prof Naudé gesê.’, aldus die Kerkbode se artikel daaroor.

Nou die aand op die History Channel het hulle die een of ander program oor die 7 antieke wonders van die wêreld. Een aspek van die program het sport in die antieke tyd, toe die Olimpiese Spele ontstaan het, beskryf. Nou, die wat weet sal kan bevestig dat die Olimpiese Spele oorspronklik aangebied was ter ere van die gode wat op Olympus gebly het, natuurlik. Die sportfees is gehou ter ere van die gode. Mense (hoofsaaklik mans) het hulle sporttalent (en waarskynlik ‘n paar ander dinge, die Romeine en Grieke was maar ‘n bietjie crazy!) beoefen om sodoende eer aan die gode te bring, hulle te paai en dit as ‘n soort offer aan te bied.

Ek kyk in dieselfde naweek ‘n rugbywedstryd en aan die einde van die wedstryd sê die man of the match hy wil eerstens, omdat dit Paasnaweek is, vir Jesus dankie sê vir wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Om dus vir Jesus met Joost te wil vergelyk, soos wat prof Naudé van mening is baie mense doen, is belaglik. Niemand sê vir Joost dankie wanneer hulle ‘n drie gedruk het, of aan die einde van ‘n game, of dra ‘n hemp waarop daar staan ‘Joost is Koning’ nie. Shame, die arme ou!

Ek het al heelwat oor godsdiens en sport (en rugby!) geskryf, maar wil tog weer ‘n parallel of twee trek. Kan ons nie maar vandag nog weer ‘n paar sportmanne se bona fides aanvaar wanneer hulle sê dat hulle hul sport “tot eer van God” beoefen nie? Ons doen dit tog almal: bid voor die game, vra dat die Here ons sal seën en teen beserings bewaar en al daai goed. Ekself is betrokke by sulke dinge by ‘n rugbyspan. Ons leer ons kinders dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves – vanwaar dan die negatiwiteit?

Natuurlik is oorprestasie die lelike teenpool. Ouers wat nie die hoë sporte van die leer kon behaal nie, dryf ook hul kinders tot die uiterste toe en die kinders moet die ouers se drome uitleef. Steroïde en etiese sake soos rasse-kwotas en al daai goed moet tereg op die tafel gesit word en hanteer word. Maar waar ek dink prof Naudé die bal lelik misslaan, is veral in hierdie stelling:
“Sport is nie net ekologies onsensitief nie, maar sportmanne word ook gans te veel betaal. ’n Brandweerman wat bereid is om sy lewe vir iemand anders se veiligheid te waag, word R15 000 per maand betaal as hy gelukkig is. Maar as ’n man ’n bal in ’n blikkie slaan, verdien hy voor ontbyt soveel geld.”
Prof Naudé sê sport bevorder ook materialisme en luiheid. Dit maak van die liggaam die norm in die samelewing waar jou menswees gemeet word aan fisieke voorkoms.
Boonop is sport ’n lae vorm van kultuur omdat dit hoër vorms van kultuur verdring, het hy gesê. “Daar is elke dag ’n sportblad in die koerante, maar jy sien net af en toe ’n boekeblad of ’n gesprek oor byvoorbeeld argitektuur. Ons moet sport in sy voetspore stop, want dit is ’n kakiebos.”

As ‘n brandweerman te min betaal word, is dit die staat se skuld, nie die brandweerstasie waar hy werk s’n nie. Sportmanne en -vroue kan nie blameer word daarvoor dat daar ongelykheid in kompensasie plaasvind nie. Ons almal weet van gevalle of beleef self onregverdigheid in hierdie verband as gevolg van onbevoegdheid van die staat se kant. Sportlui word deur hulle unies betaal. Die unies maak geld omdat mense die unies ondersteun. As die staat die moeite werd raak om te ondersteun (lees: as almal begin om hulle belasting te betaal en dit regverdig spandeer word), kan brandweermanne en maatskaplike werkers, onder andere, dalk ook begin om te kry wat hulle toekom.

Om sport ook ‘n lae vorm van kultuur te noem en dan die afwesigheid van kultuurblaaie in koerante te wil neem as ‘n maatstaf van die prominensie wat daaraan gegee word, is volgens my ‘n weird argument. Daar is daagliks ook boeke en flieks en teater en kuns en argitektuur en restaurante wat in ons grootste Afrikaanse dagblad bespreek en geresenseer word, net soveel as wat daar sport is. Dikwels is dit ook internasionale sportgebeure wat beskryf word. Kan ons sport blameer vir sy eie bestaan?

Ja, ons gee ontsaglike groot prominensie aan sport. Die 2010 Sokker maak ons elke liewe dag bewus daarvan en ja, daar word seker nie 40 000 prostitute ingevoer wanneer die Rusiese ballet op ‘n wêreldtoer gaan nie, maar ek dink nie ons kan maatskaplike probleme soos materialisme en ‘n gebrek aan morele en etiese waardes en norme direk voor sport se deur kom lê nie.

Daar is teveel positiewe stories waar seuns en dogters, mans en vroue God op die sportveld ontmoet het, of dit nou by ‘n rugbyoefening of op ‘n netbaltoer of in die drafklub tydens die Comrades Marathon was. Baie uithou-sporte word vir mense ‘n geestelike belewenis en hulle beleef God in hulle lywe. Dalk sou Jesus ook ‘n sokkerbôl saam met die klein Joodjies van Nasaret rondgeskop het as dit toe al bestaan het, of ‘n rugbybal saam met my en jou kom rondpass het, of jou gedice het om te kyk wie is die vinnigste oor 100 meter. Hy het immers geïnkarneer om méns soos ek en jy te word.

Terwy sport so groot prominensie het, gebruik dit om Jesus in die prentjie te bring. Hy was en is nog immers die heeltyd deel daarvan.

Categories: Blogroll

Jy moet kyk, mannetjie…

April 5, 2010 2 comments

Dis dieselfde as wanneer jy 03h00 die oggend wakker gebel word, hierdie tipe sms’e: jy weet sommer daar is moeilikheid. Behalwe dalk op jou verjaarsdag bel of sms mense nie gewoonlik om te hoor hoe gaan dit daai tyd nie. Granted, die sms het eers 06h00 deurgekom, maar nogtans.

Die sms’e wat sê: “My broer en sy vriende was in ‘n motorongeluk…” Nou, regardless of iemand ernstig seergekry het en of almal okay is, dis nooit lekker nie. Want daar is altyd nuus wat ‘n mens nie wil hoor nie: Jou bakkie is afgeskryf. Jou kind is in die hospitaal. Jou vriend het seergekry.

En ek sit met ‘n beklemming in my borskas. Want dadelik word daar weer gehardloop na die “wat moet ons hieruit leer”-laai toe. Kan ons dit nie nou maar vir eens en vir altyd stopsit nie? Leer die Ou Testament teologie ons niks nie? Dinge gebeur nie altyd “sodat” nie – dinge gebeur baie meer “omdat”. Kan ons maar vir God uiteindelik verlos van Sy weird-onderwyser-modus wat ons net op extreme maniere lessies kan leer en net ‘n slag weer sien Hy is die God wat aan die kruis hang, wat sáám met ons in die ongeluk was, wat sáám met ons swaar- en seerkry en ons in ons nood wil bystaan? Dis wat ek uit Job en ‘n paar ander Psalms leer.

Dis net…partykeer is dit ons eie skuld, is dit nie? Partykeer is dit ons wat die spoedgrens oortree, wat die rooi lig skip, wat oor die stopstraat jaag, wat net daai een drink te veel drink voordat ek agter die stuurwiel inklim, wat alleen op ongoddellike tye langs donker straatjies loop. Dan blameer ons gewoonlik vir God en vra waar was Hy en hoekom het Hy niks gedoen nie, in plaas daarvan om te kyk waar was ons.

Dit laat my dink aan die een of ander show van Casper de Vries, waar hy die sin gebruik het (wat ons later in ‘n studentekonsert oorgeplagiariseer het): “Jy moet kyk, mannetjie! Jy moet @$&%# kyk!”

Want ons moet begin kyk. Ons moet begin kyk na ons tieners se drinkgewoontes (ek beskuldig niemand nie, maar as die skoen jou pas…nou ja…), ons kan dit nie net aan die dominees en jeugwerkers oorlaat om vir hulle daaroor te preek nie.

Ons moet begin kyk na hoe ons ons paaie gebruik. Face dit, die goed is in ‘n toestand en gaan baie moeiliker reggemaak word as wat dit verniel word, so hou jou oë oop! Ry versigtig!

Ons moet begin kyk na waarmee ons onsself besig hou. Ouers, ek sê nie julle moet oorbeskermd teenoor julle tieners optree nie, maar weet ten minste wat in hulle lewens aangaan! En, veral, dit wat julle in julle eie huise toelaat. Kruisig my asseblief en sê ek weet nie waarvan ek praat nie, ek het nie kinders/tieners nie, ek is nie eens getroud nie. Sure, julle het ‘n punt beet. Maar moenie sê ek het julle nie gewaarsku as jou kind overdose of swanger raak/iemand swanger maak of al daai lekker goedjies nie. Ek hoef nie al die voorbeelde te noem nie, julle ken hulle.

Tieners: seriously, ouens. Kyk na jou maats, asseblief! As ons nie mekaar gaan oppas nie, waar gaan ons opeindig? En ja, ek weet, jy is nou maar 16 of 17 of 18 of 19 en ja, jy het nou net jou license gekry en jy kan allerhande grootmens-goeters doen…maar for Pete’s sakes, as jy nie soos ‘n kind behandel wil word nie, moet dan nie soos een optree nie. Luister na mekaar as die een die ander een probeer reghelp. Onthou, jy is self die kerk, so jy gaan nie die kerk blameer en sê die kerk wou niks met jou of jou probleme te doen gehad het nie. As jy hulp kort, skree! Sms, bel, mxit, gil en spring totdat iemand aandag gee, maar moet om hemelsnaam nie alleen probeer voortkarring nie.

Ons eie Rome brand, veral na die afgelope naweek se ET/Malema-stories. Moenie dat ons gevang word met die viole styf vasgeklem onder ons kenne bo-op ons huise se dakke, veilig besig om weg te kyk nie. Vergeet die “call to arms” – ek doen ‘n oproep dat ons nugter en wakker sal raak en mekaar sal begin beskerm (veral teen sinnelose geweld) en mekaar sal oppas.