Home > Blogroll > Van sport en (af)gode…

Van sport en (af)gode…

In ‘n onlangse radioprogram het prof Piet Naudé blykbaar sport as ‘n “kakiebos wat die hele vleiland inneem” beskryf, en dit dus as ‘n soort indringer-onkruid afgemaak.

‘Die gevaar van sport lê volgens prof Naudé grootliks daarin dat dit besig is om ’n alternatiewe godsdiens te word. “Tiger Woods en Joost van der Westhuizen se val was die val van gode. Die verskil tussen Joost en Jesus is vir baie mense baie klein,” het prof Naudé gesê.’, aldus die Kerkbode se artikel daaroor.

Nou die aand op die History Channel het hulle die een of ander program oor die 7 antieke wonders van die wêreld. Een aspek van die program het sport in die antieke tyd, toe die Olimpiese Spele ontstaan het, beskryf. Nou, die wat weet sal kan bevestig dat die Olimpiese Spele oorspronklik aangebied was ter ere van die gode wat op Olympus gebly het, natuurlik. Die sportfees is gehou ter ere van die gode. Mense (hoofsaaklik mans) het hulle sporttalent (en waarskynlik ‘n paar ander dinge, die Romeine en Grieke was maar ‘n bietjie crazy!) beoefen om sodoende eer aan die gode te bring, hulle te paai en dit as ‘n soort offer aan te bied.

Ek kyk in dieselfde naweek ‘n rugbywedstryd en aan die einde van die wedstryd sê die man of the match hy wil eerstens, omdat dit Paasnaweek is, vir Jesus dankie sê vir wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Om dus vir Jesus met Joost te wil vergelyk, soos wat prof Naudé van mening is baie mense doen, is belaglik. Niemand sê vir Joost dankie wanneer hulle ‘n drie gedruk het, of aan die einde van ‘n game, of dra ‘n hemp waarop daar staan ‘Joost is Koning’ nie. Shame, die arme ou!

Ek het al heelwat oor godsdiens en sport (en rugby!) geskryf, maar wil tog weer ‘n parallel of twee trek. Kan ons nie maar vandag nog weer ‘n paar sportmanne se bona fides aanvaar wanneer hulle sê dat hulle hul sport “tot eer van God” beoefen nie? Ons doen dit tog almal: bid voor die game, vra dat die Here ons sal seën en teen beserings bewaar en al daai goed. Ekself is betrokke by sulke dinge by ‘n rugbyspan. Ons leer ons kinders dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves – vanwaar dan die negatiwiteit?

Natuurlik is oorprestasie die lelike teenpool. Ouers wat nie die hoë sporte van die leer kon behaal nie, dryf ook hul kinders tot die uiterste toe en die kinders moet die ouers se drome uitleef. Steroïde en etiese sake soos rasse-kwotas en al daai goed moet tereg op die tafel gesit word en hanteer word. Maar waar ek dink prof Naudé die bal lelik misslaan, is veral in hierdie stelling:
“Sport is nie net ekologies onsensitief nie, maar sportmanne word ook gans te veel betaal. ’n Brandweerman wat bereid is om sy lewe vir iemand anders se veiligheid te waag, word R15 000 per maand betaal as hy gelukkig is. Maar as ’n man ’n bal in ’n blikkie slaan, verdien hy voor ontbyt soveel geld.”
Prof Naudé sê sport bevorder ook materialisme en luiheid. Dit maak van die liggaam die norm in die samelewing waar jou menswees gemeet word aan fisieke voorkoms.
Boonop is sport ’n lae vorm van kultuur omdat dit hoër vorms van kultuur verdring, het hy gesê. “Daar is elke dag ’n sportblad in die koerante, maar jy sien net af en toe ’n boekeblad of ’n gesprek oor byvoorbeeld argitektuur. Ons moet sport in sy voetspore stop, want dit is ’n kakiebos.”

As ‘n brandweerman te min betaal word, is dit die staat se skuld, nie die brandweerstasie waar hy werk s’n nie. Sportmanne en -vroue kan nie blameer word daarvoor dat daar ongelykheid in kompensasie plaasvind nie. Ons almal weet van gevalle of beleef self onregverdigheid in hierdie verband as gevolg van onbevoegdheid van die staat se kant. Sportlui word deur hulle unies betaal. Die unies maak geld omdat mense die unies ondersteun. As die staat die moeite werd raak om te ondersteun (lees: as almal begin om hulle belasting te betaal en dit regverdig spandeer word), kan brandweermanne en maatskaplike werkers, onder andere, dalk ook begin om te kry wat hulle toekom.

Om sport ook ‘n lae vorm van kultuur te noem en dan die afwesigheid van kultuurblaaie in koerante te wil neem as ‘n maatstaf van die prominensie wat daaraan gegee word, is volgens my ‘n weird argument. Daar is daagliks ook boeke en flieks en teater en kuns en argitektuur en restaurante wat in ons grootste Afrikaanse dagblad bespreek en geresenseer word, net soveel as wat daar sport is. Dikwels is dit ook internasionale sportgebeure wat beskryf word. Kan ons sport blameer vir sy eie bestaan?

Ja, ons gee ontsaglike groot prominensie aan sport. Die 2010 Sokker maak ons elke liewe dag bewus daarvan en ja, daar word seker nie 40 000 prostitute ingevoer wanneer die Rusiese ballet op ‘n wêreldtoer gaan nie, maar ek dink nie ons kan maatskaplike probleme soos materialisme en ‘n gebrek aan morele en etiese waardes en norme direk voor sport se deur kom lê nie.

Daar is teveel positiewe stories waar seuns en dogters, mans en vroue God op die sportveld ontmoet het, of dit nou by ‘n rugbyoefening of op ‘n netbaltoer of in die drafklub tydens die Comrades Marathon was. Baie uithou-sporte word vir mense ‘n geestelike belewenis en hulle beleef God in hulle lywe. Dalk sou Jesus ook ‘n sokkerbôl saam met die klein Joodjies van Nasaret rondgeskop het as dit toe al bestaan het, of ‘n rugbybal saam met my en jou kom rondpass het, of jou gedice het om te kyk wie is die vinnigste oor 100 meter. Hy het immers geïnkarneer om méns soos ek en jy te word.

Terwy sport so groot prominensie het, gebruik dit om Jesus in die prentjie te bring. Hy was en is nog immers die heeltyd deel daarvan.

Categories: Blogroll
  1. April 7, 2010 at 11:28 pm

    Die bietjie wat ek al met Piet Naudé te doen gehad het maak my uiters versigtig om hom op ‘n tweedehandse artikel aan te vat. Dis is sad realiteit dat “god” reduseer word tot die “Jesus” van rugby-spelers se T-shirts, of die skietgebedjie voor webstryde. Maar is Joost en Tiger dan anders as hierdie god? As ons praat van “gode” (meervoud) dan het ons oombliklik ‘n ander idee van “god” as die monoteïstiese, allesomvattende ideaal uit die Joods-Christelike tradisie. Gode praat van verskillende magte, groter as mense, wat hierdie lewe reël. En ek wonder of Naudé nie dalk ‘n punt het nie.

    Populariteit wys tog nie heen na moraliteit nie doen dit? So net omdat mense die unies ondersteun, en die unies belaglike bedrae aan hul sterre spandeer, dui dit nie op enige stuk etiek nie. Politiek het tog ‘n groter prominensie, jou argument is nie veel anders as ‘n meerderheid van Amerikaners wat vir Bush gestem het omdat hy Jesus in die prentjie ingebring het deur politiek nie. David Bosch het mooi geskryf:

    “In a sense … there is already very much religion and believing in Western society. What we do not need, then, is to introduce more religion. The issue is not to talk more about God in a culture that has become irreligious, but how to express, ethically, the coming of God’s reign, how to help people respond to the real questions of their context, how to break with the paradigm according to which religion has to do only with the private sphere”

    Bloot omdat sport baie na Jesus verwys en oor God praat is nie ‘n rede om dit te sanksioneer teologies nie. Ons moet andersom werk, en eers vra waarheen dit is wat ons geloof ons eties lei, en of dit wat die sportsterre mee besig is ons hierheen vat. Die blote herhaling van “die naam” is nie genoeg nie.

  2. April 8, 2010 at 3:40 pm

    Bang jy verstaan my verkeerd tjom. Ek het dit nie teen Piet Naudé nie, obviously, ek dink net nie mens kan voor die voet die babatjie en die badwater saam met mekaar uitgooi nie. Wees ook versigtig, ons moet onderskeid maak tussen sport as sodanig (bedoelende ‘n liggaamlike tydverdryf of ontspanning) en sport-“helde” soos Joost en Tiger (bedoelende, die ikone wat die media van hulle gemaak het). Daar is tog ‘n duidelike onderskeid te tref, is daar nie?

    Maar anyway, onthou hierdie is net my eie mening oor die goeters, ek is nie kwaad vir iemand nie, ek dink net dit is ‘n bietjie eensydig. Is dit nie?

  3. April 8, 2010 at 9:32 pm

    ek dink ook nie Naudé het dit teen sport as sodanig nie, en sal waarskynlik met jou saamstem dat ons nie die baba met die badwater moet uitgooi nie. Ek is bang jy verstaan hom dalk verkeerd, en dit n.a.v ‘n Kerkbode artikeltjie.

    Ek kon ongelukkig nie die hele program volg daai oggend nie, net die laaste stuk. Naudé neem definitief ‘n ongewilde standpunt in, maar ek dink sy goed is nogals gegrond, en ek dink dis ‘n kritiese stem wat ons baie ernstig moet opneem.

  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: