Archive

Posts Tagged ‘honger man’

Hoe red ons mense?

November 17, 2007 Leave a comment

Hoe red ons mense?

Ons gee vir hulle kos.

To ek in my eerste jaar betrokke was by die steel van ‘n Flight Centre-mannetjie en ek my tannie moes gaan vra om vir my geld te leen om my skuld af te betaal (lang storie, sal dit nog een of ander tyd post) was die eerste ding wat sy gedoen het (nadat sy my goed uitgetrap het) om vir my kos te gee.

Operasie Honger/Operation Hunger is ‘n saak wat die moeite werd is om te ondersteun. Ek soek meer inligting oor hulle.

Meals on Wheels en sopkombuise doen wonderlike werk onder mense wat minder bevoorreg is. Die verskillende Maatskaplike Dienste van SA is onvervangbaar om die minste te sê. Oor Kersfees, kan my ma en die CMD in KZN nie voorbly met die voorsiening van kospakkies aan hul kliënte en ander behoeftige mense nie.

Wat doen meeste van ons wanneer ons hartseer is? Ons eet. Enigiets.

In die evangelie van Johannes, nadat Petrus vir Jesus drie maal verloën het voor Sy kruisiging, sien ons die dissipels weer aan die heel einde van die evangelie besig om te doen wat hulle, op daardie stadium, die beste gedoen het: visvang. Maar hulle het gesukkel en die heel nag niks gevang nie en toe Jesus hulle sê om die nette aan die anderkant uit te gooi, vang hulle ‘n kleinhuisie vol vis.

Toe hulle terugkom op die strand, raai wat? Ironie in die proses om gemaak te word: daar kry hulle vir Jesus by ‘n vuur met ‘n vis wat reeds daarop braai…Nadat hulle geëet het, vra Jesus vir Petrus drie keer of hy Hom liefhet, herstel hom as apostel – en daardie man het op die ou end die hoeksteen van die kerk hier op aarde geword.

Kos is ‘n kritiese bestanddeel van verlossing/redding. Jy kan evangeliseer tot jy blou in die gesig is aan ‘n honger man, maar hy sal nie ‘n woord hoor totdat jy nie iets in sy maag gesit het nie. Ek weet ons kan nie geld gee vir elke bedelaar in die strate van Pretoria nie (ons sal almal bankrot raak!), maar wat van ons koop af en toe ‘n brood en gee stukke daarvan uit? Ons kan dit doen…