Archive

Posts Tagged ‘Steve Hofmeyr’

Steve Hofmeyr – Die Verste Uur: beslis die lees werd!

August 7, 2011 2 comments

Okay, so ek het al ‘n vorige keer oor Steve geblog, maar hierdie is anders. Dis die eerste keer dat ek fiksie uit sy pen lees (ek het nog nie die laaste paar hoofstukke van Mense Van My Asem klaargelees nie!) en ek was aangenaam beïndruk.

Spoiler alert: die konsep is ‘n bietjie Back To The Future, ‘n bietjie Sliding Doors, ‘n bietjie The Butterfly Effect. Dis baie Steve. Dit vra die lekker ou-ou vraag van “wat as?” Ons almal het dit al gevra. Ons almal het al gewonder of ons anders sou kies as ons weer die kans kon kry. Ons almal het al gewonder wanneer die kwantum-fisici nou uiteindelik hulle gatte in rat gaan kry sodat ons kan time travel en ‘n paar dinge in die geskiedenis kan gaan verander. Dit hoef nie groot goed te wees nie: ‘n bietije harder geswot het vir ‘n toets. Net een stel sit-ups meer gedoen het. Net vyf minute vroeër gery het en betyds gekom het vir daai belangrike vergadering. Of net eerder stilgebly het toe daai simpel opmerking gemaak is. Kleinighede.

‘n Val van ‘n perd af is ook nie juis ‘n aardskuddende gebeurtenis nie, maar dit verander die verloop van die geskiedenis grootskaals. Baaaie grootskaals. Die Jakarandastad word die Akasiastad. Hamiltonstraat is nou Ignatius Ferreirastraat. Die Beeld bestaan nie, maar bands soos eMossie en Spermatosa wel. Pick ‘n Pay is weg en Kies en Keur is in. En daar is nie so iets soos Afrikaners nie, maar wel Boere. En midde-in dit alles is ‘n jong manstudent vasgevang in ‘n maalstroom van tyd, keuses en die musiek van Jean-Philippe Rameau…

Die Verste Uur was vir my nooit iets anders as wat dit is nie: goeie wetenskapfiksie en ‘n blik op hoe dinge kon wees. Dit was nie vir my ‘n weirderige sosio-kritiese kommentaar of what not nie. Granted, dit lees bietjie funny met die storielyn, die liefdesbrief en die wiki-agtige info oor Rameau en ‘n paar ander goed wat grootliks parallel op die bladsye verskyn, maar na ‘n rukkie raak ‘n mens dit gewoond. Persoonlik het ek nie regtig oor die komponis en sy miskende genialiteit geworry nie, maar ek wou meer weet oor watse keuses Jamie gaan doen of wat met hom gaan gebeur. Maar die komponis se genialiteit is obviously belangrik, anders was daar nie ‘n tydsreis nie – hoewel ons met minder info ook daardie link sou kon maak.

Waar die verloop in Hoofstuk I dalk ‘n bietjie stadigerig was, skiet dit in Hoofstuk II met ‘n tollende spoed vorentoe (of is dit agtertoe?). Nou raak dit regtig juicy en ons sien hoe noodlottig ‘n niksbeduidende afval van ‘n perd af nou eintlik kan wees. Die slim ding wat Steve in hierdie verhaal doen is om nie die karakter as homself terug te laat reis nie, maar as een van sy voorgeslagte. Dit maak dinge nogal anders, want dis nou nie meer die karakter wat ‘n ander hede manipuleer nie, maar die mense in daardie tyd self wat dinge effe anders laat uitdraai.

Maar die regte juice kom in die alternatiewe Pretoria, 2011. Dis quirky, om die minste te sê. Hier het ek gewens kon ons baie meer tyd spandeer, doodeenvoudig om te sien hoe Steve se visie oor hierdie alternatiewe hede verder sou uitpan, want dit wat hy beskryf is fassinerend. Die feit dat ek in Pretoria bly en self as student, en nou nog, baie van daardie strate bewandel en bery het, maak dit net nog meer boeiend. Ek bly wonder: wat sou gebeur het as Jamie langer daar gebly het? Hoe sou Kaas gewees het as hulle mekaar sou raakloop? Wat sou tussen hom en Juliana gebeur het? Hoe sou TUKS gelyk het? Sou Morné Steyn nog vir die Blou Bulle gespeel het? Hmmm…
Op die ou end konfronteer die boek jou met die ooglopende vraag van “wat sou jy gedoen het?” Dalk ‘n bietjie vinnig, want Jamie maak daardie keuse maar baie blitsig vir ‘n ou wat uiteindelik die kans staan om die girl van sy drome te hê (die ander nimfomaniese opsie is ‘n bietjie craaaazzzyyyy) en dan tog besluit om die geskiedenis te gaan reg skryf. ‘n Mens glo dit amper nog nie, ‘n mens wil hom langer in Alternatiewe 2011 hou. Ja, goed, op die ou end moet hy teruggaan en dinge regmaak en al daai, ons weet. Ek vra net: “wat as hy langer gebly het?”

All in all was dit ‘n goeie lees en was ek jammer dis so gou verby. Self lief vir die klassieke meesters, het ek nog nooit van Rameau gehoor nie, maar na dese sal ek beslis ‘n plan maak om van sy werke op te spoor. Dalk kry ek daardie magiese akkoorde en kan ek teruggaan as my oupagrootjie en self ‘n keuse of twee anders maak 😉 !

Dis goed. Lees dit. Die enigste vraag wat oorbly, is: Hoe op aarde (en wanneer) gaan ons die draaiboek vir die blockbuster fliek skryf?

My probleem met Steve se “Ons sal dit oorleef” – video.

May 16, 2011 2 comments

Okay, so Steve Hofmeyr se nuutste video en liedjie, Ons Sal Dit Oorleef, maak die verwagte opslae. Geen verrassings daar nie. Daar was hype en die Afriforum-Julius Malema hofsaak gaan eers Donderdag na die verkiesing voort, hoewel vandag se ruling dat die woorde “Kill The Boer” nie net haatspraak is nie, maar ook ‘n aanhitsing tot moord groot implikasies daarvoor het. En laat ek sommer nou al sê: ek is bly oor vandag se uitspraak, regtig. As ons nie mag ‘k****r’ sê nie, mag julle nie ‘Kill the Boer’ sê nie. Dit is tog in kort waarop die hele betoog neerkom, of hoe, Steve? Want eintlik is ons almal so onderling ‘n bietjie rassisties, of volksisties, of etnies-bewus, of watokal ‘n mens dit wil noem – ons like ons eie ‘groep’ meer as die ‘ander’ groep. Ek erken dit. Dit beteken nie dat, net omdat ek my eie groep verkies, ek uit my pad uit gaan gaan om dinge vir die ‘ander’ (wie hulle ookal mag wees volgens die definisie wat ‘n mens aanhang) moeilik te maak nie. Of met hulle lelik te wees nie. Dom, common witmense irriteer my net soveel soos dom, common swartmense en dom, common bruinmense en dom, common Indiërs. Maar ek kamp net so lekker saam met die skerp, slim klein Indiërtjies as saam met die skerp, slim klein swartetjies en wittetjies en bruinetjies, soos wat ek die afgelope naweek op ‘n laerskool-leiersontwikkelingskamp gedoen het. En ons kan maar vergeet dat ons gaan integreer – ons moet dit eerder vir hulle los, want hulle het dit al klaar reggekry. Almal is pelle. Hulle nuwe generasie-groep is anders as ons groep. Al klaar.

Okay, maar terug by my punt: die video. My probleem is dus nie die feit dat die liedjie bestaan nie (hoewel, en ek is jammer om dit te sê, ek dink Bok van Blerk se My Kreet is ‘n nicer song). Die woorde is duidelik ‘n direkte teenpool vir die KTB-‘strydkreet’ (hulle hou mos voor dis nie ‘n liedjie nie): dit gaan oor ‘oorleef’, eerder as ‘to kill’; dit gaan oor ‘ons’ eerder as oor ‘the Boer’ (m.a.w. ‘hulle’). Aldus Steve op sy Facebook-page: “Dis my trotste Afrikanerlied met pragtige (voormalige) tradisionele byvoeglike naamwoorde wanneer of indien Malema en die ANC die “Kill the Boer” saak wen. Hier kom Boere karma in enorme porsies.”

Groot woorde. Dis ons teenoor hulle. Hulle wat ons wil doodmaak – toemaar, ons sal dit maak. Met daai skildery van die Trekkers wat die ossewa wat dreig om by die steil Drakensberg-helling af te donder met toue vashou terwyl die verslae hulpelose vroue toekyk wat strategies in die mise-en-scene verskyn.
Dit volg met verwysings na die oormag en die engele wat staan by ons vroue en kinders wat sterf. Dan sien ons ‘n mengsel van NP van Wyk Louw, Langenhoven en Sheila Cussons – en, natuurlik, die FAK – terwyl die kamera by die boekrak verby pan.

Tot sover in die song kon dit netsowel uit ‘n musical oor die Anglo-Boereoorlog gedateer het, iets soos Ons Vir Jou. Ek dink dit sou goed gepas het daar. Maar nou met vers 3 kom die gedeelte – met die strategiese toonaard-verandering om aan te dui dat hierdie wat volg significant is – wat volgens my problematies is.

Ek lig my oë tot die berge op
Waar sal my hulp tog vandaan kan kom

Met ‘n Psalm 121-agtige aanroep om hulp en die skildery van “God ziet mij, hier vloekt men niet” in die agtergrond. Sjoe. What a statement. Volg die link
http://flanders-inside.skynetblogs.be/archive/2008/05/16/rewind-van-god-ziet-u-mij-hier-vloekt-men-niet-a-rewind-of-g.html
vir ‘n verduideliking van wat dit beteken – baie interessant en natuurlik opsetlik gekies. Saam met die leë stoel wil ‘n mens wonder of dit regtig wys na ‘n Ander Persoon wat nou moet inspring om te help.

Ag my God jou woorde lê deur my geweef
Ons sal dit oorleef…

Ek staan vandag op jou plaas ou vriend
Daar hang stof oor die stilte sovêr ek kan sien

Na ‘n vinnige flits van ‘n kierie word twee skape gesien: ‘n witte en ‘n bruine. Ek weet ek gaan nou in nitty gritties in, dalk, maar ons leer om hierdie goed raak te sien in filmskool, so ek vra die vraag: is wit en bruin dalk almal skape? Wat net blêr, sonder om regtig te dink wat hulle vir en van mekaar sê? Dalk is dit net om te wys Steve is op ‘n plaas, soortgelyk (indien nie dieselfde nie) as Eugene Terre’Blanche s’n.

“Maar die geeste van gister sal more herleef
Ons sal dit oorleef

Eugene Terre’Blanche: Dankie o God vir die vermoë, dankie o Here wat U my geleer het, en wat U vir my so gratis geskenk het, vandag gee ek alles terug, tot eer en verheerliking van U naam en die uitbouing van U koninkryk”

Terwyl Eugene Terre’Blanche se gebed opklink, natuurlik ‘n visual van die getalle afgestorwenes tydens die ABO.

So wat is my probleem? Ek weet nie of die gebede inpas nie. Nie omdat dit gebede is per se nie, maar veral Eugene Terre’Blanche s’n se woorde maak ‘n ander appeal as wat die res van die song doen:
Hy sê dankie vir die vermoë – maar ons weet nie die vermoë om te wat nie – onderskeiding dalk?
Hy sê dankie vir wat God hom geleer en geskenk het, en nou gee hy alles terug – sou ‘n mens kon verstaan dat hy alles opgee en, a la Paulus in Filippense 3, alles wat hy vroeër as bate gesien het nou as waardeloos beskou?
Tot eer en verheerliking van U naam – duidelik het die nie meer oor homself gegaan nie
en die uitbouing van U koninkryk – okay, beslis het dit nie meer oor homself gegaan nie. Ook nie oor die uitbouing van die koninkryk onder Afrikaanses, of sy volk nie. Is ek reg? Of het dit? Hy sê dit nie.

Deur dit by die song in te sluit, sonder om dit op dramaties-ironiese wyse te gebruik soos die Oupa se gebed aan die einde van PG du Plessis se Fees van die Ongenooides, is dit mos ‘n teken dat Steve met hierdie gebed saamstem.

My vraag is: as ons dan nou saamgaan met ‘God se Naam en Koninkryk’ – het Jesus nie kom leer dat dit in God se Koninkryk juis andersom werk as “oog vir ‘n oog” en “tand vir ‘n tand” nie? Want ernstig nou, wat is hierdie song anders as dit? Ja, ons vloek nie die swartmense en als nie (ek weet daai woord is gebliep, maar dit tel nie juis nie), maar soos Steve self gesê het, dis sogenaamde Boere-Karma.

Wow. Ons sluit ‘n song af met ‘n gebed dat God se wil sal geskied, net om daarna die wil in ons eie hande te neem. Dít is dramaties-ironies.

Ek het weer hoofstuk 11 van Mense van my Asem gaan lees en ek is oortuig Steve is ‘n gelowige. Nie jou mainstream of charismat of gereformeerde of watter boksie jy ookal wil kies nie, maar gelowig none the less. Inteendeel, ek dink hy is bitter ernstig oor sy geloof in God. Wat in hulle twee se persoonlike verhouding aangaan, is hulle saak en nie my besigheid nie. Maar wat my pla, is: waar kom die ding van ‘draai die ander wang’ in? Word ons nie belowe dat, deur dit te doen, maak ons ons vyande vuurrooi van skaamte nie? En ou Salomo het in Spreuke al geobserveer dat ‘n krenkende woord woede opvlam. Ook Oom Langenhoven was wys genoeg om dit raak te sien.

Ek sê nie dis reg om KTB te chant nie. Ek het dit al aan die begin gesê. Maar om in reaksie daarop ‘n song te skryf met die voorwaarde dat die bliep sal verdwyn as hulle wen net omdat dit die polities-regverdige ding sal wees om te doen…I dunno. Dit sit ongemaklik aan my.

Sê nou Julius Malema word wel skuldig bevind. Ek weet nou nie wat sy straf gaan behels nie en ek glo nie hy sal ooit sê hy is jammer nie. Maar sê nou maar net hy sê hy is jammer – gaan ons dan ‘n song skryf waarin ons sê ons vergewe hom? Want dis tog wat God van ons verwag, is dit nie? Om ons vervolgers te seën? Om ons naaste lief te hê soos onsself?

Ek dink ek is besig om weg te beweeg van ‘n godsdiens waar ek verwag dat die God wat ek aanbid my te hulp moet snel vir die geringste dingetjie, waar ek net die “victory moet claim” en als sal okay wees en al daai goedjies (die wat my ken sal anyway weet!). En ja, ek verstaan die gesprek tussen Terblanche Jordaan en Steve in daai betrokke hoofstuk van MVMA waar hulle tot die conclusion kom dat God niks van mens verwag nie want niks wat ons kan doen, gaan God se dag opkikker nie. I get that and I am fine with that, ek hou actually daarvan. Maar daar word tog ‘n manier van mense hanteer in die Bybel voorgehou wat condusive is tot vrede en tot ‘n beter samelewing. En om vuur met vuur te beveg sien ek nie daar nie.

Ek weet nie Steve, dalk verstaan ek jou heeltemal mis? Sal graag ‘n reply wil hoor. Help my dink hierso. Ek sal dit waardeer.