Archive

Archive for February, 2010

Same spaghetti, different sauce…

February 24, 2010 1 comment

Snaaks hoe party goed nooit verander nie. Of verander, maar eintlik dieselfde bly. Vat nou maar die redenaarskompetisie waarby ek vandag was. Die vier deelnemende skole was dieselfde vier as toe ek op skool was en self deelgeneem het, met dieselfde tendense wat nog by elkeen na vore kom. 8 jaar later…dieselfde ding.

Ek kry vanoggend naamlyste van kinders wat “opgevolg moet word” na ‘n onlangse besoek van ‘n Vreeslike! Charismatiese! Skreeuende! prediker/evangelis. Hordes name van kids wat nou kastig ALWEER ‘n “oorgawe” gemaak het of iets, met die belofte van die een of ander paaiende “berader” dat hy of sy binnekort opgevolg sal word. Your call is very important to us. Please hold…

Ek kry netnou ‘n oproep van ‘n ouer wat met my wil gesels oor ‘n saak van moontlike seksuele misdrywe wat laasjaar in ‘n skool plaasgevind het en hoe sy kinders nou skynbaar op belaglike maniere getarget word deur onderwysers. Lyk my die stof oor sekere goed wil maar net nie gaan sak nie…

Ons gesels gisteraand in die belydenisklas oor wat ons doel op aarde is. Kort voor lank was die gesprek by die sondeval (“watse vrug was dit?” I kid you not!), was Adam en Eva die eerste of enigste mense op aarde, is God mens-lik dat ons volgens Sy beeld geskep is, hoekom is die mens in die eerste plek gemaak, hoekom is die mens nie perfek gemaak nie, beheer God alles, is die duiwel in beheer van natuurrampe (!), hoekom gebeur slegte goed (sodat jy iets kan leer of jy is besig om getoets te word…ja…) en weet God alles voor die tyd (“is jou strepie getrek?”) of nie? Legio antwoorde…ek het maar besluit om so paar bladsye uit ons McGrath handboek vir die een outjie wat die goeie vrae gevra het, af te rol en te gee vir ekstra leeswerk. Kom ons kyk wat gebeur…

Verskillende gesigte – dieselfde situasies en dieselfde probleme met dieselfde (soms oppervlakkige) antwoorde en oplossings. Sheesh…

2010 sover…

February 17, 2010 5 comments

Okay, nuwe jaar, nuwe dinge…of nou nie heeltemal NUWE dinge soseer as wat dit ‘n change is van die OU dinge nie, maar darem ‘n nuwe klemverskuiwing.

WAT?

Hehe! Laat ek verduidelik: ek is nog steeds in Jeugbediening in ‘n lekker NG gemeente op ‘n Noord-Natalse plattelandse dorp waar ek met 3 skole se tieners (van ‘n verskeidenheid ouderdomme, rasse, taalgroepe, geslagte en ekonomiese aard) te doen het. Wat vanjaar ‘n bietjie anders is, is dat ek myself by Ope Rugby betrokke gekry het (I have my ways and means!) en sover is dit nogals ‘n uitdaging. Totale nuwe soort-van groep (hoewel daar baie van die ouens is wat my reeds ken, en party wat my baie goed ken) wie se vertroue jy moet wen en al daai goed.

Dit gaan nie vir jou weird wees as jy my nie ken nie, ek meen, wat is daar nou aan rugbyafrigting? Haha, baie, laat ek jou vertel (en jy moet half weet dat daar tussen my en die een afrigter ‘n redelike stukkie persoonlike geskiedenis is). My swaer het gelukkig vinnig se hulp aangebied, hy is nogals ‘n expert. Laat ek net duidelik maak: ek rig nog nie regtig af nie. Ek het die coaches sover gekry dat ons voor oefeninge ‘n kort inspirational stukkie doen en bid. Ek het dit oor die boeg gegooi van “ons doen dit anyway voor wedstryde, kan ons dit nie maar voor oefeninge ook doen nie?” en toe die een coach kom met ja, hy challenge die ouens om CSV toe te gaan (whatever!), was my backlash ja maar kan ons nie maar die evangelie na hulle toe bring nie? 😉 ! So dis hoe dit gebeur het. Nou neem ek roll-call ook. Dis nou nie moerse verantwoordelikheid nie, maar hey, enigiets om tussen die mense rond te beweeg op grondvlak.

Dit gaan nog goed by die gym, hoewel ek op die oomblik sonder ‘n partner is omdat Wiam nie tydens die rugbyseisoen by gym gaan uitkom met skool en alles saam nie. So ek gaan partykeer op snaakse tye in die dag! Maar dit gaan nog goed. Ook daar kry ek kort-kort met nuwe mense te doen wat die lewe heel interessant maak.

Maar die hoogtepunt vir my, sover, op ‘n persoonlike vlak was Ds Pieter Badenhorst van Moreletapark se besoek aan ons gemeente die afgelope week om ‘n Toewydingsweek te kom hou, met die tema hoop en vergifnis. Sy preke was goed, regtig goed, maar die hoogtepunt kom uit ‘n gesprek wat ons twee gehad het Donderdagoggend. ons het net gesels en ek het gedeel oor my droom vir ‘n fliekbediening en dramas en al daai (as jy nie weet nie, lees ouer entries van my blog). Hy was so opgewonde daaroor! Eventually is hy hier weg met ‘n copy van STIL, die JOB-produksie wat ek en Annelie en Sunette in 2008 gedoen het. Die enigste ekstra copy wat ek gehad het, maar nou ja! Hehe. Anyway, hy wil my oplink met Jacques Gombault-hulle, wat ook blykbaar sulke goed doen. Nou, ek weet so ‘n klein bietjie daarvan af DAT hulle met sulke goed besig is, maar WAT hulle presies doen is ek nie seker nie. Dit sal cool wees om met iemand opgelink te word wat in die industry is en al klaar contacts het (“contacts” beteken hierso “mense wat toegang het tot filmtoerusting en skills oor hoe om so iets aan te pak en wat weet waar om geld daarvoor te kry”.)

So dit was net vir my bevestiging dat ek iewerster op die regte pad is. Die Jeugbediening-goeters op die oomblik sien ek as ‘n leerskool, waar ek laasjaar op die verhoog met hulle te doene kon kry en vanjaar op die sportveld. Ek leer hoe vandag se tieners op grondvlak leef, hoe hulle dink, waaroor hulle droom en waaroor hulle gal braak. Nou wat het ek al geleer? Wel, the more things change, the more they stay the same, vir een. Aan die ander kant…dis ‘n tegnologiese galaxy weg van waar ek was 10 jaar gelede. Die meeste wat ons toe op ‘n selfoon kon doen, was Snake speel en Please Call Me’s stuur. Nou…die Internet is letterlik aan jou vingerpunte. Voor- en nadele…

Daarom, my raad is: moenie gaan vir die gimmick nie. Hulle kan baie beter kry binne sekondes as wat jy op ‘n slide show kan gooi. Gaan vir die verhoudings. Ja, dit vat langer en verg meer tyd en loop ‘n groter risiko tot seerkry, maar dis soveel keer meer die moeite werd. Tieners soek genuineness, hulle weet waar om entertainment te kry. Jy gaan hulle waarskynlik nooit regtig van die rook-drank-vloek-ding af wegkry nie, so hou op om jou tyd met dit te mors. Wys hulle eerder hoe lyk iemand wat compassion het met die mense rondom hom, wat (om Ds Pieter se term te gebruik) bereid is om iemand anders raak te leef. Wys hulle hoe lyk iemand wat kan om vergifnis vra, no strings attached, en dit ook kan uitdeel, no strings attached. Wys hulle hoe lyk iemand wat sy walk walk en sy talk talk (en vir homself kan lag as hy sy naam per ongeluk met ‘n plank slaan!). Wys hulle hoe lyk iemand wat kans sien vir almal, maak nie saak hoe scruff hulle is nie.
Gaan kyk maar, Jesus het dieselfde gedoen…