Archive

Archive for the ‘Reality’ Category

“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry…”

September 10, 2010 Leave a comment

Ek het vir Soon Strydom belowe dat ek op sy troue sal preek toe ons nog albei Eerstejaars was in die Republiek van Kollegetehuis. Back in the day. So, toe sy groot dag uiteindelik aanbreek, het ek my belofte gestand gedoen en die roadtrippie Delmas toe aangepak.

Nou, wat veronderstel is om ‘n vinnige 3-en-‘n-half ure trip te wees, draai toe uit in ‘n vyf-en-‘n-half ure ekspedisie. Hoe op aarde het dit gebeur?

Wel, eerstens het my eie kar, die Wit Wonder, se battery daardie dag die gees gegee, tesame met iets by die fans, want hy het verskriklik geoverheat. Daarom is ek uiteindelik, meer as ‘n uur later as wat ek beplan het, uit Vryheid weg met ons 1996 Isuzu double cab.

Die pad tot op Newcastle was uneventful, soos dit gewoonlik is. Naby Utrecht het ek oudergewoonte afgeslack want jy weet nooit of die speedcops jou daar gaan verras met hulle teenwoordigheid of nie. Die padwerke met die stop-go bordjies is ook besig om verby die T-aansluiting verby te skuif, so dit maak dat ‘n mens nie so lank hoef te wag om die gedeelde pad te gebruik nie. Tog bly dit ‘n hassle, en toe ek Volksrust nader, moes ek net gou stop om my bene te rek. My lae rug raak nogal seer as ek bestuur, daarom bly ek by die 200km/2 ure stilhou reël.

Van Volksrust af tot op Standerton was die pad ook heel skaflik, met niks snaaks wat gebeur het nie. Twintig kilo’s buite Standerton bel Soon my en vra of my probleme uitgesort is. Op daardie stadium was dit 12h15. Ek bevestig dat ek goed oppad is en baie betyds daar sal aankom. Hulle het vir my plek in ‘n gastehuis georganize, en ek sou so ‘n bietjie daar gaan ontspan en myself rustig vir die troue voorberei.

Maar dis in Standerton waar die sports sou begin. Sien, gewoonlik ry ons sommer direk van daar af Leandra toe en dan van daar af Delmas toe. Die pad tussen Leandra en Standerton het intussen egter so gesdisintegreer dat geen ordentlike bestuurder dit aan sy motor wil doen om hom- of haarself op daardie pad te begewe nie. Daarom het ek raad gekry van ‘n detour Leandra toe via Kinross. Klink maklik genoeg, doen dit nie? Ja, as jy die pad ken!

Die aanwysings wat ek gekry het (en, ek bieg, nagelaat het om op te volg) het my net verduidelik tot by die Sasol-garage op Standerton. “Dan ry jy net daar uit.” So maak ek toe – min wetende dat daardie pad my reguit Bethal toe sou neem…

Nou ry ek op hierdie pad, wonder so ‘n keer of wat of ek nie maar gou by die petrolstasie moes seker gaan maak het nie, maar skud dan die gedagte af. Nee wat, Bethal, Kinross, Secunda, Trichard…als is mos net hier bymekaar. Iewers sal ‘n bordjie wees, is mos.

Maar die bordjie kom nie…en Bethal kruip al hoe nader…dis nou te laat om terug te draai en aanwysings te gaan vra. Pleks ek het.

Naderhand is ek verby Thutuka Kragstasie. Nou moet ek begin plan maak! Toe ek ‘n bordjie sien waarop staan ‘Trichard’, maak ek net daar ‘n U-turn en draai af op die distrikspad. Nou worry ek nie meer nie, ek ry net. Hierdie grondpad gaan volgens my inner-compass meer in die rigting waar ek wil uitkom, so here goes.
Op ‘n stadium kruis ek nog ‘ngrondpad en sien drie Afrika Mama’s voor my loop. Ek stop net daar en vra deur die venster:
“Sorry, ma, hoe moet ek ry om by Trichard te kom?”
“Trichard?”
“Ja.”
“Jy slat net hierdie pad, straight, straight, straight. Moenie afdraai nie. Jy sal by hom kom.”
Troef-vraag:
“Is dit ver?”
Troef-antwoord:
“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry.”
Op dit kan jy niks terugantwoord behalwe “Dankie” nie. Daar gaan ek, straight, straight, straight.

Tot by ‘n T-aansluiting wat sy heeltemal vergeet het om te mention.

Instink laat my links draai en ek jaag op die ongelyk pad voort. Omtrent 10 minute later sien ek die pad sluit by ‘n teerdpad aan en my hart juig. Dis ‘n besonderse mooi pad vir hierdie omgewing – dalk het hulle die pad tussen Leandra en Standerton intussen reggemaak? Ek is meteens beïndruk met die Mpumalanga Padwerke. Maar ek sou gou agterkom dit is toe nie daardie pad nie – hierdie een is mooi omdat hy nie soveel verkeer hoef te dra nie! Dit is die pad Charl Cilliers toe.

Ek stop eers semi om te wag vir die trop skape wat die pad kruis – hulle het voorrang – en ry dan na die massiewe kerktoring wat jou al van ver af aanlok. Soos ek in ry, sien ek aan my regterkant ‘n gesin wat regmaak vir die Saterdagbraai. Ek ry te vinnig verby. T-aansluitng. Mmm, winkeltjie? Weer kom my aanwysings van ‘n groot swart vrou. Al die ander mense het te dronk gelyk om te help (sorry, maar regtig!).
“Hoe kom ek op Leandra?”
“Leandra?”
“Ja?”
“Mmm…jy gaan straight by hierdie pad (really?), dan gaan jy links. Maar eers na jy gekom het by Mahlababelbelbellebbeb…. (so iets).”
“Okay…dankie.”
Want ek weet mos waar is Mahlababelbelbellebbeb…. Ek weet nie eens presies waar ekself is nie, nog minder waar dit is. Maar hier gaan ons.

Magic! Genade! ‘n Bordjie sê: EVANDER. Juig! Hier moet ‘n petrolpomp wees wat my kan help.
Toe ek Evander binnery, sien ek die bordjie wat Mahlababelbelbellebbeb…. links wys. Kan jy nou meer. En by die Total-garage wys die Here We Go-aanwysingsbord dat my pad links na Leandra net verby dit loop. So, sy was reg!

Van hier af is dit maklik en naby en die pad verloop sonder enige werklike verdere insidente. Delmas lewer vinnig ‘n situasietjie op by die BP garage (ek het nie petrol ingegooi nie, net aanwysings gevra na die straatadres toe, vir die groen-bewustes onder julle!), maar tjop-tjop is ek waar ek moet wees. Nou is dit al 14h50 en die troue begin 16h00. Sharp.

‘n Paar foonoproepe en sms’ verder en ek het die sleutels vir die gastehuis, Hoffmann’s Guesthouse. Niks kan nou meer verkeerd gaan nie.

Guess again.

Toe ek by my bakkie uitklim, besef ek dat ek NOOIT my sak met my klere in ingelaai het nie…my kerkklere hang darem aan ‘n hanger, maar dis dit! Nie ‘n skeermes, tandeborsel, haarborsel, kontaklensseep, niks nie. Ook nie kerkskoene nie…

Die tannie van die gastehuis, Millie (ek weet nie wat is haar van nie, maar ek skat dis Hoffmann) maak toe ook die gewone aanbod: “Laat weet as ons met enigiets kan help!”
My versoek:
“Kan Tannie dalk vir my help met swart kerkskoene?”

Ek shower so soort-van sonder om my hare nat te maak, trek aan en sit af na die trou-venue toe.
“Jy ry net totdat jy die T-aansluiting kry.”
Niemand het gesê die T-aansluiting is 25km en drie klein dorpies verder nie…

Tien voor vier bel die bruidegom my:
“Tiaan, waar is jy??”
Nee, my vriend, ek is nou daar.

Eind goed, als goed. Die bruid was heelwat later as ek, so dit was fine. Die troue was mooi stylish, die bruidegom was emosioneel en die speeches lekker kort en die kos heerlik. Die open bar was ‘n bonus, maar ek het dit vir die ander gaste gelos, want die volgende oggend 10 voor 4 het ek met ‘n gejuig wakker geword en opgespring om terug te jaag Vryheid toe. Ek moes met die oggenddiens uithelp. Hierdie keer het ek die pad baie makliker gekry en my ligte mistykie by Standerton vinnig opgetel.

Moenie vra hoe ek gelyk, geruik of gevoel het nie, maar ek was 08h10 terug by die Klipkerk.

Jy moet kyk, mannetjie…

April 5, 2010 2 comments

Dis dieselfde as wanneer jy 03h00 die oggend wakker gebel word, hierdie tipe sms’e: jy weet sommer daar is moeilikheid. Behalwe dalk op jou verjaarsdag bel of sms mense nie gewoonlik om te hoor hoe gaan dit daai tyd nie. Granted, die sms het eers 06h00 deurgekom, maar nogtans.

Die sms’e wat sê: “My broer en sy vriende was in ‘n motorongeluk…” Nou, regardless of iemand ernstig seergekry het en of almal okay is, dis nooit lekker nie. Want daar is altyd nuus wat ‘n mens nie wil hoor nie: Jou bakkie is afgeskryf. Jou kind is in die hospitaal. Jou vriend het seergekry.

En ek sit met ‘n beklemming in my borskas. Want dadelik word daar weer gehardloop na die “wat moet ons hieruit leer”-laai toe. Kan ons dit nie nou maar vir eens en vir altyd stopsit nie? Leer die Ou Testament teologie ons niks nie? Dinge gebeur nie altyd “sodat” nie – dinge gebeur baie meer “omdat”. Kan ons maar vir God uiteindelik verlos van Sy weird-onderwyser-modus wat ons net op extreme maniere lessies kan leer en net ‘n slag weer sien Hy is die God wat aan die kruis hang, wat sáám met ons in die ongeluk was, wat sáám met ons swaar- en seerkry en ons in ons nood wil bystaan? Dis wat ek uit Job en ‘n paar ander Psalms leer.

Dis net…partykeer is dit ons eie skuld, is dit nie? Partykeer is dit ons wat die spoedgrens oortree, wat die rooi lig skip, wat oor die stopstraat jaag, wat net daai een drink te veel drink voordat ek agter die stuurwiel inklim, wat alleen op ongoddellike tye langs donker straatjies loop. Dan blameer ons gewoonlik vir God en vra waar was Hy en hoekom het Hy niks gedoen nie, in plaas daarvan om te kyk waar was ons.

Dit laat my dink aan die een of ander show van Casper de Vries, waar hy die sin gebruik het (wat ons later in ‘n studentekonsert oorgeplagiariseer het): “Jy moet kyk, mannetjie! Jy moet @$&%# kyk!”

Want ons moet begin kyk. Ons moet begin kyk na ons tieners se drinkgewoontes (ek beskuldig niemand nie, maar as die skoen jou pas…nou ja…), ons kan dit nie net aan die dominees en jeugwerkers oorlaat om vir hulle daaroor te preek nie.

Ons moet begin kyk na hoe ons ons paaie gebruik. Face dit, die goed is in ‘n toestand en gaan baie moeiliker reggemaak word as wat dit verniel word, so hou jou oë oop! Ry versigtig!

Ons moet begin kyk na waarmee ons onsself besig hou. Ouers, ek sê nie julle moet oorbeskermd teenoor julle tieners optree nie, maar weet ten minste wat in hulle lewens aangaan! En, veral, dit wat julle in julle eie huise toelaat. Kruisig my asseblief en sê ek weet nie waarvan ek praat nie, ek het nie kinders/tieners nie, ek is nie eens getroud nie. Sure, julle het ‘n punt beet. Maar moenie sê ek het julle nie gewaarsku as jou kind overdose of swanger raak/iemand swanger maak of al daai lekker goedjies nie. Ek hoef nie al die voorbeelde te noem nie, julle ken hulle.

Tieners: seriously, ouens. Kyk na jou maats, asseblief! As ons nie mekaar gaan oppas nie, waar gaan ons opeindig? En ja, ek weet, jy is nou maar 16 of 17 of 18 of 19 en ja, jy het nou net jou license gekry en jy kan allerhande grootmens-goeters doen…maar for Pete’s sakes, as jy nie soos ‘n kind behandel wil word nie, moet dan nie soos een optree nie. Luister na mekaar as die een die ander een probeer reghelp. Onthou, jy is self die kerk, so jy gaan nie die kerk blameer en sê die kerk wou niks met jou of jou probleme te doen gehad het nie. As jy hulp kort, skree! Sms, bel, mxit, gil en spring totdat iemand aandag gee, maar moet om hemelsnaam nie alleen probeer voortkarring nie.

Ons eie Rome brand, veral na die afgelope naweek se ET/Malema-stories. Moenie dat ons gevang word met die viole styf vasgeklem onder ons kenne bo-op ons huise se dakke, veilig besig om weg te kyk nie. Vergeet die “call to arms” – ek doen ‘n oproep dat ons nugter en wakker sal raak en mekaar sal begin beskerm (veral teen sinnelose geweld) en mekaar sal oppas.

Same spaghetti, different sauce…

February 24, 2010 1 comment

Snaaks hoe party goed nooit verander nie. Of verander, maar eintlik dieselfde bly. Vat nou maar die redenaarskompetisie waarby ek vandag was. Die vier deelnemende skole was dieselfde vier as toe ek op skool was en self deelgeneem het, met dieselfde tendense wat nog by elkeen na vore kom. 8 jaar later…dieselfde ding.

Ek kry vanoggend naamlyste van kinders wat “opgevolg moet word” na ‘n onlangse besoek van ‘n Vreeslike! Charismatiese! Skreeuende! prediker/evangelis. Hordes name van kids wat nou kastig ALWEER ‘n “oorgawe” gemaak het of iets, met die belofte van die een of ander paaiende “berader” dat hy of sy binnekort opgevolg sal word. Your call is very important to us. Please hold…

Ek kry netnou ‘n oproep van ‘n ouer wat met my wil gesels oor ‘n saak van moontlike seksuele misdrywe wat laasjaar in ‘n skool plaasgevind het en hoe sy kinders nou skynbaar op belaglike maniere getarget word deur onderwysers. Lyk my die stof oor sekere goed wil maar net nie gaan sak nie…

Ons gesels gisteraand in die belydenisklas oor wat ons doel op aarde is. Kort voor lank was die gesprek by die sondeval (“watse vrug was dit?” I kid you not!), was Adam en Eva die eerste of enigste mense op aarde, is God mens-lik dat ons volgens Sy beeld geskep is, hoekom is die mens in die eerste plek gemaak, hoekom is die mens nie perfek gemaak nie, beheer God alles, is die duiwel in beheer van natuurrampe (!), hoekom gebeur slegte goed (sodat jy iets kan leer of jy is besig om getoets te word…ja…) en weet God alles voor die tyd (“is jou strepie getrek?”) of nie? Legio antwoorde…ek het maar besluit om so paar bladsye uit ons McGrath handboek vir die een outjie wat die goeie vrae gevra het, af te rol en te gee vir ekstra leeswerk. Kom ons kyk wat gebeur…

Verskillende gesigte – dieselfde situasies en dieselfde probleme met dieselfde (soms oppervlakkige) antwoorde en oplossings. Sheesh…

Place-sharing in die gym

September 23, 2009 2 comments

Dis nou die 3e week dat ek saam met een van die tieners in ons gemeente gaan gym het. Crazy, want hy gym al vir soos 2 jaar en ek nie, so jy kan jou net voorstel hoe ek die eerste paar dae gevoel het! Maar ek het die gymfooie betaal en die Weider Amino 6000’s gekoop en myself nou gecommit, so hier gaan ek elke middag om 14h40 en speel tussen die ysters rond. Onder die wakende oog en met behulp van my vriend, natuurlik.
Vandag kon ons nie op dieselfde tyd gaan nie as gevolg van various redes. En vir my is ‘n gym maar altyd bietjie van ‘n intimiderende plek om alleen aan te durf. ja, ja, whatever dot com.

So toe ek daar aankom, sien ek een van die ander outjies wat ek nou al so deur die loop van die tyd leer ken (lees: groet) het. Almal groet gewoonlik almal in die gym, jy sien dieselfde mense elke middag en leer gou-gou ‘n paar nuwe name en gesigte ken – die ander hoofrede hoekom ek nou besluit het om daar uit te hang.

Vandag toe begin ek en die ou te gesels. hy was vanoggend in die saalopening wat ek by sy skool waargeneem het en hy het vir my kom se dat dit vir hom nice was (ek is bly dit was nice, ek sal blyer wees as hy dit onthou en actually iets daaromtrent doen! 😉 ). Ek het eers 2 dae gelede uitgevind wat sy naam is. Hier begin ons chat en sonder om geforseerd te wees, deel ons iets van ons geloof met mekaar. Hy het vanoggend saam met my gebid nadat ek vir hom opsies gegee het oor hoe hy homself kan gedra die vakansie, en hy het my vanmiddag gewys hoe om twee liggaamsoefeninge te doen. Ons deel mekaar se plek sonder dat die een dit op die ander een afdwing.

Nie maklik nie, maar moontlik. Dis goed wat tyd vat. Jeugwerk is ‘n langtermyn investment, jy kan maak wat jy wil. Jy gaan nie vinnig ‘n kindjie bekeer met ‘n mooi Hillsongs-liedjie en nou dink hy of sy is gered en “alles is mooi, almal is gelukkig, almal is gehoorsaam aan die Here” nie. Jy gaan ure moet insit en nie afgesit word as jy nie onmiddellik hierdie massiewe resultate sien nie (soos in die gym, haha). Maar as jy bereid is om dit kans te gee en die reg verdien om ‘n tiener se plek te deel, word dit ‘n ervaring wat beide jou en die tiener se lewe verryk.

Categories: jeug, kerk, Reality, Relationships, youth

Programlose Tienerkampe – try dit, ek dare jou!

September 9, 2009 2 comments

Ek en Cobus en ‘n paar ander het laas jaar begin eksperimenteer met kampe sonder ‘n vaste leier en programme. Okay, die leierlose-ding is seker nie heeltemal so feasable nie, maar die programlose-ding wel. Gaan lees op sy blog oor 20something en Open Space vir al daai details.

Vroeg vanjaar wou ek, soos dit ‘n goeie jeugwerker betaam, ‘n avontuurkamp vir die tieners in ons gemeente hou. Ons datums het geclash met die rugbyweek en die ding het deur die mat geval. Dit sou seker ‘n goeie kamp gewees het, met al die verpligte aktiwiteite oos abseil en laetoubane en al die goed wat ons ken. Ek het nie pyne met dit nie, ek like dit! Maar die ding het net nie op daardie stadium, in April, uitgewerk nie.

So toe ons nou weer begin praat in die rigting van ‘n kamp, het die tieners my baie duidelik laat verstaan dat ons nie te veel aktiwiteite moet inwerk nie. Ek is in elk geval al lankal op die Ervaringsleer-band wagon, so ek het in anyway nie lesings in my kop gehad oor die 15 Goeie Geestelike Grondbeginsels of die Eskatologiese verstaan van Openbaring 11-18 met die wegraping as fokus nie. Wie is nou lus om op ‘n perfekte Saterdagoggend na ‘n boring lesing te luister as jy in ‘n rivier kan gaan swem?!

So tref ons toe ons reelings en so is Chillax-kamp gebore (waar jy kan “Chill” en “relax”). Die doel van die kamp: ontspan, rus, kuier, speel! Die reels van die kamp: alles is opsioneel – van opstaantyd tot deelname tot etes tot stort (alhoewel die meeste die laaste een as ‘n ongeskrewe verpligting hanteer het, gelukkig!). Al wat vooraf vas op die program was, was die Vrydagaand se lanternbekruip – wat ook opsioneel was.

En dis presies wat gebeur het! Ons het Vrydagmiddag by Matatane River Lodge aangekom, Wykie Swanepoel-hulle se pragtige plek en byna onmiddellik afgesuiker rivier toe. Asemrowend! Ja, dit het nog nie baie gereen nie, so die rivier was nie vol nie, maar die kranse en die bosveld en die water het dit prentjiemooi gemaak. En ons het dadelik begin speel! Wat ‘n plesier, wat ‘n voorreg om saam met sulke mooi jong lewenslustige tieners te kan jol en mekaar te kan duik en in die water te kere te gaan!

Ons is teen sononder terug kampterrein toe. Geen vaste etenstyd nie, het ons ons deur ons mae laat lei na die bakke pasta wat ons die middag in Vryheid reeds gemaak het. Heerlik.

Die jonger latte het self die vuur aangesteek en die plek reggemaak vir ure se kuier rondom die gloeiende kole. Almal was gesettle, gemaklik en jy kon vir ‘n slag vergeet van skool, jou ouers, druk van jou vriende, druk om te presteer, verantwoordelikhede…net wegkom.

Later het ek sekerlik een van die snaaksste lanternbekruipe in my lewe gesien. As mense dink dat hulle minder sigbaar gaan wees op ‘n volmaanaand deur hulle klere uit te trek en in hul onderbroeke op die lantern te pounce, moet jy weet: hier kom groot sports! Bitterlik snaaks!

Later is daar Mafia gespeel en musiek geluister en gekuier en gelag en National Geographic-tipe foto’s geneem van paddas wat besig is om te paar (op ‘n kerkkamp! My magtag!). Ek weet nie hoe laat ons gaan slaap het nie.

Saterdag het ons opgestaan soos die Gees en ons lywe ons gelei het. Daar is gebrunch en na die Springbokke se toets gekyk en dit het veroorsaak dat ons natuurlik eers moes gaan kalmeer deur by die rivier en die foefieslide uit te kom – al was die pad na die foefieslide ‘n bietjie bundu-bashing.

Die aand het ons gebraai, elkeen sy eie braaipakkie, en ons het gekuier en gelag en musiek geluister en ‘n reuse handjietennis toernooi met ‘n huge sagte bal gehad.

En ons het WEER gaan lanternbekruip – ander spanne, ander spot…net soveel sports! Daar was mense wat deur die rivier se vlak water geleopard crawl het en ‘n ander ou wat besluit het om vir die res ‘n trench te bou, daarteen besluit het en homself toe daarin begrawe het sodat net sy kop uitsteek en hy die ander kan skrikmaak!

Nog rondes mafia is gespeel, baie potte skaak en eventually het almal in hul chalets uitgekom en in die bed neergeval. Ons het 4 per chalet geslaap en dit het wonderlik gewerk.

Sondagoggend moes ons egter vroeg opstaan om betyds terug in Vryheid te wees om ‘n mimiek in die erediens te doen, maar dit was al drawbac. Ons sou dalk volgende keer eerder later terug gecruise het dorp toe, dan kon ons rustiger opstaan en klaarmaak.

Wat is die punt van hierdie kampe? Om kinders te vermaak? Nee, want dit het hulle sommer self gedoen. Om geestelike waarhede oor te dra? Wel, sonder lesings – na die eerste lanternbekruip het ek hom baie ligweg gereview. Die kinders het self by die ding uitgekom dat, net soos lanternbekruip, kan jy nie kerkwees alleen doen nie. Awesome. Is die doel om verhoudings te bou? Beslis, ja! Daar was 2 ouens saam wat nie regtig deel was van ons jeuggroep voor die tyd nie, maar wat van die kinders van skool af geken het, en dit was great om hulle te sien inskakel. Ook met van die tieners wie se ander vriende ‘n bietjie meer aan die scruff kant is. Dis goed om vir hulle die opsie te kan gee dat ‘n mens jouself kan geniet sonder sigarette, drank en dagga.

Daar was twee couples op die kamp en hulle het gewys hoe gesonde Christentiener couples kan optree. Ek was nie een keer regtig bang dat hulle iewers in ‘n chalet die lakens gaan deurmekaar maak nie. Nie omdat hulle kamtig engeltjies is nie, maar omdat ek weet dis nie die soort verhoudings wat hulle het met mekaar of met my nie.

Kan programlose kerkkampe, waar ‘n mens nie een keer Bybellees nie en net bid voordat jy eet, werk? Ek dink so. Ek kon die naweek in die naam van my gemeente ‘n ruimte skep waar tieners kon ontspan en wegkom en rus en fellowship geniet, sonder om “kerkerig” of dweperig te wees.

En dit is awesome.

Bono, U2 en Psalms

August 21, 2009 2 comments

Ek kom hierdie afgelope week weer af op ‘n boek wat so twee jaar gelede soort-van my lewe gered het. Dit is One Step Closer – Christian Scharen. In die boek bespreek Prof Scharen U2 se verbintenis met Christelike temas en hulle/Bono se gebruik van die Bybel. Blykbaar is Bono ‘n fan van The Message – Eugene Peterson se Bybelvertaling.
Nou ek gaan nie nou ‘n boekanalise gee nie, gaan Google die goed as jy wil. Maar dit het my weer na die manne van Dublin se musiek laat luister en ek het net weer besef dis blêrrie awesome. God gebruik hulle regtig op ‘n anderster manier om met soekendes en wonderendes en ekstra-kerklikes (ek leen die term by Peterson) en twyfelendes te praat.
Ek preek Sondag uit Psalm 34 en wil U2 se Magnificent in die diens gebruik. Dit is immers ‘n loflied soos min ander. Gaan kyk op YouTube na die musiekvideo (ek is te lui om nou links in te sit!) en gaan lees die besprekings op @U2.com .
Sal later weer meer volledig oor my belewenis in hierdie verband skryf…

Kots in ‘n tuimeldroeër

August 12, 2009 4 comments

Okay, hierdie post gaan nie oor kots of tuimeldroeërs nie.
Ek wonder maar net ‘n bietjie. Sien, ek wonder oor hoe accepting ons eintlik is. Ek sit byvoorbeeld met ‘n probleem en ek kan niemand daarvan vertel nie – dis te sensitief. “Dominees” is nie veronderstel om sulke tipe probleme te hê nie, ons is immers die morele steunpilaar waarop sowel die jeug as die ouer garde moet staatmaak. So dit maak dit ‘n bietjie moeilik. My shrink is in Pretoria en ek is in 400km daarvandaan, so ek kan haar nie vertel nie. Ek kan nie my ouers vertel nie, want dit sal net te erg wees. Ek kan nie my kollegas vertel nie (alhoewel ek behoort te kan, maar ek wil eintlik nie want ek kan nie nog geskende verhoudings hanteer nie). My beste vriende is in Pretoria en weer eens is die geografie teen my. En selfs vir hulle sal ek dit moeilik vind om te vertel. Ek weet dis nie ‘n judgmental klomp nie (ek glo nie so nie. Ek hoop nie so nie.). Maar ek is net té versigtig. Net té bang hulle verstaan nie. Of sien my anders as wat hulle my altyd gesien het.
So dis nogal moeilik.
Intussen moet ek face up, suit up en show up vir die daaglikse eise van “die bediening” – niks fout daarmee nie, ek noem dit net – sonder dat my eie persoonlike issue uitgesort word.
Dalk lug ek bloot ‘n gevoel wat baie ander met my deel.
I dunno.

Categories: Life, Reality Tags: , ,

Retief Burger/LUIDKEELS en VERTIKAAL in Vryheid…Blou Bul Rugby…en Rassisme

May 30, 2009 14 comments

‘n Paar kort topics wat ek gou wil aanraak, net om hier en daar goeters rond te stir.

DISCLAIMER: hierdie entry is nie vir sensitiewe lesers nie.
Dis vandag die Super 14-finaal op Loftus Versfeld in Pretoria, ‘n uiters Blou Pretoria en ek wens ek was daar, maar in plaas daarvan het ons ‘n big screen in die kerksaal waarop ons die wedstryd gaan wys. Dit kombineer ons met ‘n bring-en-braai en VERTIKAAL se optrede ná die tyd. Maandagaand was Retief Burger-hulle hier gewees en dit was awesome. Daar is net ‘n klein sakie met ‘n skool wat kinders gehou het om vir ‘n mode-parade/big brag-ding te oefen en veroorsaak het dat hulle nie kon kom nie, al het hulle saam met ons baie daarna uitgesien. Maar ons sal daardie kinders saamvat wanneer ons Pretoria toe road trip vir die Luidkeels 3 cd-opname!

En, nog ‘n ding: julle kan maar sê alle Blou Bulle is tappit, maar elkeen van die driedrukkers laas naweek het met ‘n gebaar die eer aan God gegee vir hul talente en dit openlik op TV gewys. Daarom sal ek die span aanhou ondersteun, al boe die ander mense op die pawiljoen ook hoe.

Die rassisme-ding kom al van laas week af. Vir die wat nie weet nie, dis alive and kicking (and swearing). Ek het net maar weer beleef hoe verskillend mense gekondisioneer word, afhangende van die omstandighede waarin hulle is. Hoërskool Richardsbaai is een van 3 Afrikaanse hoërskole in KwaZulu Natal en tydens ‘n sportgeleentheid teen Hoërskool Vryheid (‘n parallel-mediumskool) het ons (VHS) daar by hulle gaan speel. Gedurende die dag sit ek saam met party van die kinders agter die een veld se rugbypale en kyk na ‘n wedstryd, met ‘n paar volwasse dames wat agter ons gesit het, op ‘n walletjie, so hulle was effens hoër as ons en hulle het op ‘n bankie gesit. Daar kom toe van die hokkie-ouens daar by ons aan en ons gesels toe oor hoe hulle wedstryd was. By ons het een van die swart spelers, Mpilo, gesit. Mpilo, ‘n gewilde leerling in graad 11, is in die Afrikaanse medium en het ‘n baie goeie verhouding met die wit inders – hulle is vriende en die wit kinders aanvaar hom ook so. Dis een van die voordele van ‘n dubbel- of parallelmediumskool: hulle leer kinders hoe om in die nuwe Suid-Afrika te kan funksioneer en goed te kan funksioneer ook!

In elk geval, die hokkie-ouens staan toe half voor die dames, wat mooi aangetrek is en eintlik heel ordentlik lyk) en een van hulle vra toe of die seuns sal skuif sodat hulle kan sien, wat die seuns toe doen.
Mpilo kyk toe heel onskuldig net om, om te sien wie daar sit.
“Wat kyk jy?” vra die een vrou ongeskik.
“Ek kyk vir jou,” kom Mpilo, wat nie op sy bek geval is nie, se antwoord.
Driftig spring die vrou op en storm nader.
“Gaan kyk vir jouself, jou fokken swart nerf. Jy is net ‘n fokken werfetter…”
“Jy is een, Tannie!” kom dit van Mpilo.
“Ag jy is fokol werd, jou fokken swart nerf…”
(gesprek verkort)
“Moenie so met my vriend praat nie, assebief!” probeer een van die wit seuns tussenbeide tree. As Mpilo se gesig wit van woede kon word, het dit.
“Kom ons loop net, ouens,” kry ek met moeite die ouens daar weg, Mpilo asvaal en duidelik diep seergemaak. Ons stap verby die kiosk na die pawiljoen toe, waar die ander “swart nerwe” van ons skool sit, om by hulle aan te sluit. Ek kry net gou eers vir Mpilo ‘n koeldrank om hom te kalmeer.
“Toemaar, Mpilo, daai vrou weet nie waarvan sy praat nie, hoor jy? Sy het nie ‘n idee waarvan sy praat nie,” probeer die een wit ou hom troos, maar dis duidelik dat Mpilo se gedagtes hom anders oortuig.

Julle kan sê wat julle wil, maar dis wat gebeur het. Eina. Terwyl die wit kinders, Afrikaanses en Engelses, in die een skool hulle bes probeer om dit te “maak werk” (amper soos daai girl gesê het aan die einde van Remember The Titans), gee party ander mense doodeenvoudig glad nie om nie. Terwyl die een spul by die omstandighede in Suid-Afrika aanpas en werk daarvan maak, trek die ander terug en haat nogsteeds “die fokken kaffers”…

Wat my laat wonder: aan watter kant van die draad staan jy?

Swaarkaliber Springhaasjag en Reverse Mentoring

May 18, 2009 Leave a comment

So twee naweke gelede het ek saam met twee van my jeug-vriende (hulle is my vriende, eintlik meer soos broers, maar hulle is in ons jeug) springhase gaan jag. Nie jaag nie, jag. Dit was laat een Saterdagaand, na al die Super 14 wedstryde gespeel was en dit was die hele dag reënerig en winderig. Toe ons uiteindelik die aand uitgegaan het, was dit bitter koud.

Gelukkig help dit om so twee windbreakers bo-oor mekaar aan te trek, veral as jy in ‘n rhino ry. Die goed het mos nie vensters of niks nie, so die koel naglug het ysig op ons gesigte gespeel.

Nou hoekom swaarkaliber? Want ons het met ‘n 30.06 gaan jag. Okay, vir party mense is daar seker niks snaaks daaraan nie, maar ek is gewoond om sulke lawwe goed met iets soos ‘n .22 of hoogstens 243 die hiernamaals in te blaas. Dis nou wanneer hulle nie sommer geskop of teen ‘n bakkie se wiel geslaan word nie (die DBV gaan my seker kom toesluit hiervoor..!).

Maar okay, ek maak nie die reëls nie, so hier is ons die koue, donker nag in met die geweer, ‘n pak patrone, ‘n klein spotlight en twee sterker skietlampe, op soek na klein, harige, langoor ongediertes wat raaplande en ander gesaaides verniel.

Behalwe dat ons op die ou end net twee hase kon plattrek (albei pensskote), was dit eintlik ‘n opwindende, lekker aand. Dit was ook ‘n aand waar reverse-mentoring weer eens vir my so duidelik soos nog iets geword het. Hoewel ek weet hoe om met ‘n geweer te werk en nie nervous rondom die goed is nie, het ek eintlik lanklaas gejag, veral in die aand (en my sig is dan op sy slegste). Dit was duidelik hoe die rolle omgeruil het tussen my en my vriend op wie se plaas ons was. Al is ek gewoonlik die ‘jeugwerker’/’mentor’, was hy die een wat die shots geroep het, wat bestuur het, wat die leiding in die situasie geneem het.

En dit was vir my goed. Want dit is sy terrein, is dit nie? En is die hele mentor-ding, soos ek dit verstaan, nie juis ‘n plek waar ons albei by mekaar kan leer, eerder as wat ons net in ‘n leermeester-leerjong situasie staan nie? Mentoring is tog ‘n verhouding waar die “mentor” die “mentee” sekere skills leer, maar ook bereid is om deur die “mentee” sekere skills geleer te word in ‘n area waar die “mentor” nie oor die nodige kennis beskik nie.

Dis lekker om dit saam met jongmense te kan doen. Dis opwindend. Try dit, ek dare jou.

Die soeke na die historiese Hansie

September 29, 2008 2 comments

Gisteraand het ek die langverwagte HANSIE gaan kyk. Inspirerend, indrukwekkend, briljant vervaardig en well-acted was dit lag-lag een van die beste flieks wat ek nog vanjaar gesien het. Dalk omdat ek Suid-Afrikaans is. Dalk omdat ek sy biografie deur Garth King gelees het. Dalk omdat dit so reguit, sonder om doekies om te draai, wys hoe versoekings jou skelm aanlok, stadigies meesleur en jou op die ou end só toespin in ‘n spinneweb van leuens en geheime dat jy naderhand nie meer weet watter kant toe om te draai nie en hoe jou versoeking absoluut niks vir jou voel nie. Dit begin net met: “Maar jy doen niks verkeerd nie!” “Niemand sal seerkry nie!” “Wie gaan jy nou eintlik benadeel? Jy verskaf net inligting…” En dan, wanneer jy aan die einde van jouself gekom het, wys die fliek hoe en dat ‘n mens daaruit kan kom en wat die pad vorentoe is.

Gelukkig is dit ‘n ware verhaal oor ‘n werklike held in Suid-Afrika en die pad wat hy gestap het (en nie ‘n ou wat eers ná die fliek oor sy lewe beroemd geword het nie). Daarom is die credibility bo verdenking. ‘n Mens kan ook nie alles moontlik oor Hansie se lewe in ‘n twee-uur fliek inprop nie. Vir ‘n omvattende leeswerk, kry die boek wat, nes die fliek, deur Global Creative Studios vervaardig is en deur Hansie se familie ondersteun word, en lees dit. Jy gaan huil.

Die fliek self is in terme van produksiegehalte absoluut op internasionale standaard. Hoe hulle van daai video-footage ge-edit het, wil ek baie graag uitvind. Die krieket-tonele is almal 100% realisties en opwindend. Die klankbaan is goed en gepas en kom nie oordramaties en forserend voor nie. Die kamerawerk is deurgaans spot-on. Net een klein dingetjie: daar is ‘n bietjie te veel slow-motion toneeltjies in. Goed, ek weet dit is om effek te skep, maar daar is ook so iets soos overkill.

Frank Rautenbach se acting aan die begin van die fliek het vir my ietwat eendimensioneel oorgekom, veral met Hansie se getuienis in die Rhema-kerk, maar soos wat die fliek ontwikkel het, kon ‘n mens sien hoe Frank werklik homself in Hansie ingrawe en as’t ware deel word van hom. Dit was by die toneel waar hy in ‘n hotel se sitkamer met Ali Bacher praat en vir hom sê dat hy krieket wil los, dat ek gewonder het waar Hansie ophou en Frank begin en andersom – hence die post se titel! Want iewers agter die uitbeelding op die skerm is daar die regte mens met sy emosies en belewenisse wat deur al hierdie storms moes gaan. Ek verwys weer na die boek. Gaan lees dit!

Teen die einde van die King-kommissie en daarna was Frank se uitbeelding genuine goed. Dalk het hy dit aspris só gedoen om die ontwikkeling by Hansie aan te dui. As dit die geval was, wel, excellent. As dit nie die geval was nie…kom ons hoop maar eerder dit was die geval. Sarah Thompson wat vir Bertha speel, doen deurgaans goeie werk, veral wanneer Hansie op die ou einde álles aan haar bekendmaak en later by die begrafnis. Net ietsie wat funny, maar darem nie steurend was nie, was wanneer Hansie en Bertha alleen in tonele was. Ons almal in Suid-Afrika weet tog hulle was albei Afrikaans, so wanneer hulle dan Engels met mekaar praat, was dit ‘n bietjie weird (Sarah se aksent het natuurlik nie hiervoor gehelp nie!). Maar, soos ek gesê het, dit pla nie juis nie. Sommer net ‘n kantaantekening. Ek het vir Eric Nobbs as Ewie Cronjé geniet en sou graag meer van Sybill Coetzee as Hansie se ma wou sien, maar helaas is dit ‘n fliek en nie ‘n mini-reeks nie, so sy het beperkte tyd gehad.

Oor die algemeen is ek werklik beïndruk met HANSIE. Die akteurs, vervaardigers, almal – dit is ‘n goeie stuk werk waarop Suid-Afrikaners met reg baie trots kan wees. Ek het so kwaad geraak vir die manier hoe die media hom afgemaak het as hierdie sleg hond, nadat hulle aanvanklik byna die grond waarop hy geloop het, aanbid het. En hartseer. Die tonele by Grey Kollege laat die hoendervleis soos pitswere op jou arms uitslaan so mooi en hartseer is dit. Ook later wanneer Peter Pollock Die verhaal van die verlore seun vertel en dit ‘n metafoor vir Hansie (en so baie van ons) se lewe word.

‘n Mens wonder of die vervaardigers van die begin af die internasionale mark in gedagte gehad het. Ek sou met groot trots hierdie fliek aan die res van die wêreld vertoon (behalwe dalk in Indië!). Dit bring sy boodskap van versoekings en vergifnis oor sonder om pragmaties te wees of so in-your-face evangeliserend soos Faith Like Potatoes. Hier kan jy self jou mind opmaak en ek dink baie meer mense gaan hulleself, of ten minste ‘n deel van hulleself, in Hansie se storie herken as in Angus Buchan s’n.

Dis ‘n goeie fliek. Ek hoop dit maak baie geld en ek hoop dit is Suid-Afrika se inskrywing vir buitelandse rolprent vir die Oscars. Ek hoop dit maak genoeg geld sodat Global Creative Studios nog sulke flieks kan maak en dat dit beleggers se beursies sal oopmaak sodat ek ook eendag in hierdie genre kan volg. Ek hoop veral dat hierdie huldeblyk vir die Cronjé-familie vertroostend sal wees. Ek wil hulle ook bedank vir die pragtige foto’s en footage aan die einde van die fliek – dit het amper soos skending van ander mense se privaatheid gevoel, maar ek wil dankie sê dat hulle bereid was om dit te deel.

Laastens hoop ek dat hierdie fliek vir baie mense sal kan wys dat versoekings jou soos ‘n maalkolk kan meesleur, maar dat die waarheid jou vrymaak en dat daar vergifnis en ‘n pad vorentoe is.

http://www.hansiecronje.com