Archive

Archive for the ‘Reis’ Category

“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry…”

September 10, 2010 Leave a comment

Ek het vir Soon Strydom belowe dat ek op sy troue sal preek toe ons nog albei Eerstejaars was in die Republiek van Kollegetehuis. Back in the day. So, toe sy groot dag uiteindelik aanbreek, het ek my belofte gestand gedoen en die roadtrippie Delmas toe aangepak.

Nou, wat veronderstel is om ‘n vinnige 3-en-‘n-half ure trip te wees, draai toe uit in ‘n vyf-en-‘n-half ure ekspedisie. Hoe op aarde het dit gebeur?

Wel, eerstens het my eie kar, die Wit Wonder, se battery daardie dag die gees gegee, tesame met iets by die fans, want hy het verskriklik geoverheat. Daarom is ek uiteindelik, meer as ‘n uur later as wat ek beplan het, uit Vryheid weg met ons 1996 Isuzu double cab.

Die pad tot op Newcastle was uneventful, soos dit gewoonlik is. Naby Utrecht het ek oudergewoonte afgeslack want jy weet nooit of die speedcops jou daar gaan verras met hulle teenwoordigheid of nie. Die padwerke met die stop-go bordjies is ook besig om verby die T-aansluiting verby te skuif, so dit maak dat ‘n mens nie so lank hoef te wag om die gedeelde pad te gebruik nie. Tog bly dit ‘n hassle, en toe ek Volksrust nader, moes ek net gou stop om my bene te rek. My lae rug raak nogal seer as ek bestuur, daarom bly ek by die 200km/2 ure stilhou reël.

Van Volksrust af tot op Standerton was die pad ook heel skaflik, met niks snaaks wat gebeur het nie. Twintig kilo’s buite Standerton bel Soon my en vra of my probleme uitgesort is. Op daardie stadium was dit 12h15. Ek bevestig dat ek goed oppad is en baie betyds daar sal aankom. Hulle het vir my plek in ‘n gastehuis georganize, en ek sou so ‘n bietjie daar gaan ontspan en myself rustig vir die troue voorberei.

Maar dis in Standerton waar die sports sou begin. Sien, gewoonlik ry ons sommer direk van daar af Leandra toe en dan van daar af Delmas toe. Die pad tussen Leandra en Standerton het intussen egter so gesdisintegreer dat geen ordentlike bestuurder dit aan sy motor wil doen om hom- of haarself op daardie pad te begewe nie. Daarom het ek raad gekry van ‘n detour Leandra toe via Kinross. Klink maklik genoeg, doen dit nie? Ja, as jy die pad ken!

Die aanwysings wat ek gekry het (en, ek bieg, nagelaat het om op te volg) het my net verduidelik tot by die Sasol-garage op Standerton. “Dan ry jy net daar uit.” So maak ek toe – min wetende dat daardie pad my reguit Bethal toe sou neem…

Nou ry ek op hierdie pad, wonder so ‘n keer of wat of ek nie maar gou by die petrolstasie moes seker gaan maak het nie, maar skud dan die gedagte af. Nee wat, Bethal, Kinross, Secunda, Trichard…als is mos net hier bymekaar. Iewers sal ‘n bordjie wees, is mos.

Maar die bordjie kom nie…en Bethal kruip al hoe nader…dis nou te laat om terug te draai en aanwysings te gaan vra. Pleks ek het.

Naderhand is ek verby Thutuka Kragstasie. Nou moet ek begin plan maak! Toe ek ‘n bordjie sien waarop staan ‘Trichard’, maak ek net daar ‘n U-turn en draai af op die distrikspad. Nou worry ek nie meer nie, ek ry net. Hierdie grondpad gaan volgens my inner-compass meer in die rigting waar ek wil uitkom, so here goes.
Op ‘n stadium kruis ek nog ‘ngrondpad en sien drie Afrika Mama’s voor my loop. Ek stop net daar en vra deur die venster:
“Sorry, ma, hoe moet ek ry om by Trichard te kom?”
“Trichard?”
“Ja.”
“Jy slat net hierdie pad, straight, straight, straight. Moenie afdraai nie. Jy sal by hom kom.”
Troef-vraag:
“Is dit ver?”
Troef-antwoord:
“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry.”
Op dit kan jy niks terugantwoord behalwe “Dankie” nie. Daar gaan ek, straight, straight, straight.

Tot by ‘n T-aansluiting wat sy heeltemal vergeet het om te mention.

Instink laat my links draai en ek jaag op die ongelyk pad voort. Omtrent 10 minute later sien ek die pad sluit by ‘n teerdpad aan en my hart juig. Dis ‘n besonderse mooi pad vir hierdie omgewing – dalk het hulle die pad tussen Leandra en Standerton intussen reggemaak? Ek is meteens beïndruk met die Mpumalanga Padwerke. Maar ek sou gou agterkom dit is toe nie daardie pad nie – hierdie een is mooi omdat hy nie soveel verkeer hoef te dra nie! Dit is die pad Charl Cilliers toe.

Ek stop eers semi om te wag vir die trop skape wat die pad kruis – hulle het voorrang – en ry dan na die massiewe kerktoring wat jou al van ver af aanlok. Soos ek in ry, sien ek aan my regterkant ‘n gesin wat regmaak vir die Saterdagbraai. Ek ry te vinnig verby. T-aansluitng. Mmm, winkeltjie? Weer kom my aanwysings van ‘n groot swart vrou. Al die ander mense het te dronk gelyk om te help (sorry, maar regtig!).
“Hoe kom ek op Leandra?”
“Leandra?”
“Ja?”
“Mmm…jy gaan straight by hierdie pad (really?), dan gaan jy links. Maar eers na jy gekom het by Mahlababelbelbellebbeb…. (so iets).”
“Okay…dankie.”
Want ek weet mos waar is Mahlababelbelbellebbeb…. Ek weet nie eens presies waar ekself is nie, nog minder waar dit is. Maar hier gaan ons.

Magic! Genade! ‘n Bordjie sê: EVANDER. Juig! Hier moet ‘n petrolpomp wees wat my kan help.
Toe ek Evander binnery, sien ek die bordjie wat Mahlababelbelbellebbeb…. links wys. Kan jy nou meer. En by die Total-garage wys die Here We Go-aanwysingsbord dat my pad links na Leandra net verby dit loop. So, sy was reg!

Van hier af is dit maklik en naby en die pad verloop sonder enige werklike verdere insidente. Delmas lewer vinnig ‘n situasietjie op by die BP garage (ek het nie petrol ingegooi nie, net aanwysings gevra na die straatadres toe, vir die groen-bewustes onder julle!), maar tjop-tjop is ek waar ek moet wees. Nou is dit al 14h50 en die troue begin 16h00. Sharp.

‘n Paar foonoproepe en sms’ verder en ek het die sleutels vir die gastehuis, Hoffmann’s Guesthouse. Niks kan nou meer verkeerd gaan nie.

Guess again.

Toe ek by my bakkie uitklim, besef ek dat ek NOOIT my sak met my klere in ingelaai het nie…my kerkklere hang darem aan ‘n hanger, maar dis dit! Nie ‘n skeermes, tandeborsel, haarborsel, kontaklensseep, niks nie. Ook nie kerkskoene nie…

Die tannie van die gastehuis, Millie (ek weet nie wat is haar van nie, maar ek skat dis Hoffmann) maak toe ook die gewone aanbod: “Laat weet as ons met enigiets kan help!”
My versoek:
“Kan Tannie dalk vir my help met swart kerkskoene?”

Ek shower so soort-van sonder om my hare nat te maak, trek aan en sit af na die trou-venue toe.
“Jy ry net totdat jy die T-aansluiting kry.”
Niemand het gesê die T-aansluiting is 25km en drie klein dorpies verder nie…

Tien voor vier bel die bruidegom my:
“Tiaan, waar is jy??”
Nee, my vriend, ek is nou daar.

Eind goed, als goed. Die bruid was heelwat later as ek, so dit was fine. Die troue was mooi stylish, die bruidegom was emosioneel en die speeches lekker kort en die kos heerlik. Die open bar was ‘n bonus, maar ek het dit vir die ander gaste gelos, want die volgende oggend 10 voor 4 het ek met ‘n gejuig wakker geword en opgespring om terug te jaag Vryheid toe. Ek moes met die oggenddiens uithelp. Hierdie keer het ek die pad baie makliker gekry en my ligte mistykie by Standerton vinnig opgetel.

Moenie vra hoe ek gelyk, geruik of gevoel het nie, maar ek was 08h10 terug by die Klipkerk.

Luidkeels 3 Oorgegee Road Trip en Marcus Borg se “Jesus”

July 27, 2009 Leave a comment

Okay, die titel mag dalk suggest dat die twee in hierdie post iets met mekaar uit te waai het, maar dit het nie regtig nie, behalwe dat ek die Borg-boek tydens dieselfde naweek gekoop het. Dit sal dalk later meer met mekaar te doen hê!

Ons het die afgelope naweek van 26 Julie 2009 met ‘n spul tieners hier van Vryheid af Pretoria toe geroad trip vir Retief Burger en Luidkeels se derde cd/dvd-opname, getiteld Oorgegee, te NG Moreleta Park. Wat ‘n ervaring! Behalwe vir die opname, wat uitstekend was, was dit vir my ook ‘n voorreg om saam met hierdie tieners dit te kon deel. Nie almal is op dieselfde plek geestelik nie, onviously, maar dit was vir almal iets besonders. Of so glo ek, te oordeel aan die terugvoer en stories na die tyd. Veral van die een outjie wat in die week vir my gesê het hy het nog nie heeltemal honderd persent geloofsekerheid (om nou maar die taal wat ons praat te gebruik) nie.

Die musiek was van hoogstaande gehalte, soos ek verwag het. En ou Retief beïndruk my al hoe meer. So ‘n paar jaar gelede het ons na hom geluister toe hy by ‘n predikante-winterskool so ‘n sessie oor kerkmusiek gedoen het en hy het ‘n paar goed oor die Fakulteit in Pretoria kwytgeraak wat ons op daardie stadium (midde-in die Jurie Le Roux-Dirk Human-Julian Muller-saga) glad nie goed opgeneem het nie. Dit het my ‘n bietjie skepties teenoor die man gelaat, laat ek nou maar bieg. Maar vandat ek twee jaar gelede by Luidkeels Hersien se opname was, het ek ‘n ander deuntjie begin sing (pun intended!). Toe hulle in Mei vanjaar hier in Vryheid opgetree het, het hulle my regtig oortuig van hulle integriteit en die afgelope Saterdag kon ek dus gelukkig sonder enige ugly vooroordeel geniet.

Daar was ‘n paar van die tieners wat op die laaste moes kop uittrek, of wat lankal iets anders aangehad het maar graag wou saam gaan, of wat op die end besluit het: ag, ek is nie lus nie, en later baie spyt was.

Vir my het dit egter oor meer as net die opname gegaan. Dit was die hele Road Trip-experience, want daar was mense saam wat nie eintlik in ons gemeente is nie en ander wat nie gewoonlik by ander jeug-aktiwiteite kan wees nie. Dit was lekker en spesiaal om in ‘n koue nag terug te ry Natal toe van Gauteng af en met 17-jarige seuns gesprekke te kon voer oor hoe ons ons Christenskap verstaan en watter impak die Bybel in ons lewens kan maak en doen. En om sommer net musiek te luister en grappies te vertel. En om, in die woorde van Andrew Root, sommer net “place” te “share”. Dit was cool.

Oor Marcus Borg se boek sal ek later seker in meer detail ‘n klomp goed kwytraak, maar vir eers net dit: ek het nog nie voorheen van hierdie boek gehoor nie, so ek is nie deur die titel beïnvloed nie. Okay, dis ‘n leuen, want die titel is Jesus en, wel, Jesus het my al baie beïnvloed, haha, maar ek is meer getrek deur die outeur. Ek het nog net The Heart Of Christianity deur Borg gelees, so twee jaar gelede. Dit was besonders, kom ons stel dit so. Ek het ‘n gevoel hierdie gaan ook wees. Hy pak die verskillende maniere oor hoe ons die Jesus-storie vertel netjies uit en maak ‘n mens bewus van waar jy so half en half staan, of nie staan nie, en waar jy overlap en goed. Ek sal graag dit wat hy sê, of die manier hoe hy dit beskryf aan ons tieners wil oordra. Ons taal waarmee ons oor Jesus en ons eie geloofslewe praat is só arm dat dit net goed kan wees. Want baie is al lankal oppad saam met Jesus, maar dink hulle moet nog ‘n sekere woordformule uiter om dit offisieel te maak of iets.

Ons Christene is eintlik maar ‘n weird spul. Ek meen, waar ry jy op een dag byna 900km heen en weer net om saam met iemand te sing oor Iemand wat jou lewe verander?

McBruce en Jakkie se troue

September 8, 2008 Leave a comment

Een van die spesiaalste dinge wat ek gedoen het onlangs was om op my oudste vriend se troue te preek. Ek en McBruce en Andy Annandale (die twee boeties verskil net ‘n jaar,maar was in dieselfde graad op skool) kom al van 1991 af saam. So toe McBruce my vra om op sy troue te preek, moes ek net ja sê. Jammer Maartje dat ek jou gedrop het vir Jonk Live! Dit was nie my skuld dit was op dieselfde datum nie.

Anyway, so toe is ek twee naweke in ‘n ry Rietkuil toe, eers vir die bachelors en toe vir die actual troue. Die bachelors het ontaard in ‘n groot party, want die vrouens het van die kitchen tea af direk soontoe gekom en saam gekuier.

Die troue self was eintlik heel goed. Wat ook spesiaal was,was die feit dat dit die kerk is waarin my ouers getrou het en waarin al drie ons kinders gedoop is. Daar het gelukkig niks regtig verkeerd geloop nie, waaroor ek nogals bly is. En waaroor ek genip het, want teen 20 minute voor die troue was daar nog nie ‘n orrelis of ‘n versiering van ‘n dag oud in daai kerk nie…en ek en die dominee wat die bevestiging gedoen het (onthou, ek kan nog net op troues preek) het mekaar skaars 30 minute voor dit vir die eerste keer gesien.

Maar eind goed, als goed. Al was die bruid ‘n bietjie pregnant en al het sy die ring aan die bruidegom se verkeerde hand probeer sit, en al het die een biker-oom wat by die troue was my in die voorportaal van die skoolsaal waar die onthaal gehou was, gekry, diep met my gepraat(did I mention he is a spitter??? Handdoek, asseblief!) en die mense kort-kort gevra, haai, drink die dominee dan? En al het ons eers ná 01:00 die oggend uit die saal uitgegaan en al het ek vroeër die middag in die ergste stofstorm ooit op ons ou plaas rally gery…was dit ‘n pretty lekker troue.

Mozzeltof!

TO Stranddiens #02: Junie/Julie 2000: JESUS IS DIE ROTS IN DIE STORM

December 13, 2007 2 comments

Stranddiens #02: Junie/Julie 2000: JESUS IS DIE ROTS IN DIE STORM

DISCLAIMER: Ek het besluit om die betrokke Dominee se naam uit die post te verwyder omdat ek nie die ervaring wil verander nie, maar ook nie sy huidige bediening wil beskadig nie.

Hierdie 2de stranddiens het hemelsbreed verskil van die vorige een, hoewel klomp van dieselfde mense weer saam was en ons eintlik presies dieselfde goed gedoen het.

Eerstens het Ds X en sy gesin saamgegaan, in plaas van Ds Ferdinand en Tannie Annatjie. Ds X het is daardie jaar van N af Vryheid toe beroep en omdat hy die jonger dominee was, is daar sommer goedgedink om hom die jeugdominee te maak – ‘n faux pas wat duisende gemeentes doen! Net omdat ‘n ou jonger is, beteken nie hy is goed met die jeug nie. Hierdie was ‘n sprekende voorbeeld.

Tweedens het ons ‘n ander kosma gehad: Tannie Marlene M (Tannie Henriëtte se man is oorlede kort ná die eerste stranddiens en lang storie, maar sy sou toe in die stranddienstyd met sy beste vriend, wie se vrou ook oorlede is, trou). Haar kinders was toe deel van Creare en het daar gedans en poppekas opleiding gekry en sulke goed.
Dit was die twee groot dorings in ons vlees daardie stranddiens.

Ek kan ook nie lekker onthou hoekom presies ons dié tyd van die jaar gegaan het nie. Iemand anders het weer kop uitgetrek en toe moes ons instaan en omdat ons die eerste keer ‘n redelike indruk gemaak het, het die oord se bestuur kans gesien om ons ‘n wekie in die Julie-vakansie te gee.

Die chaos het al voor die tyd begin. Toe ek en Marnie ons weer kom kry, vind ons uit dat Oom X besluit het dat Tannie Marlene se kinders die narre by die poppekas is en dat hulle sommer die storie hanteer. Natuurlik was ons up in arms daaroor, want hy was mos nie die vorige keer daar nie, so hoe sou hy nou weet wat aangaan en hoe ons die goed doen? Ons het toe met hom gaan praat nadat dit rugbaar geword het dat ons ongelukkig is met wat hy gedoen het. Toe al het ek besef dit gaan ‘n tawwe tyd wees. Eventually het ons toe tot die vergelyk gekom dat die Creare-narre die boodskap-narre sou wees (of so iets) en die ander narre sou met die kinders speel. Weird, ek weet, en dit was hoofsaaklik kommunikasieprobleme wat al die gemors veroorsaak het.

Die span was ook aansienlik groter as die eerste keer, want ‘n uitreik verkoop mos homself en as kinders hoor dat ‘n ding lekker was, dan is hulle geneig om dit ‘n try te gee. So daar was, behalwe vir Tannie Marlene se kinders (sy het 4 dogters gehad plus aanhangsels wat in hulle jeugband-ding was), was daar ‘n klomp nuwe mense by gewees. Dit was onder andere die eerste keer dat Hano du Plessis saam was.

Elke Stranddiens het ons ‘n konsert wat meestal bestaan uit gospel-liedjies waarop ons dan mimieke uitgewerk het. Later sou die temas varieer en meer inpas by die oorhoofse stranddiens-tema van die betrokke jaar, maar hier was dit nog in die beginfase van die goed, so ons het dit met sulke reëltjies dialoog aan mekaar geweef. Ek en Marnie het basies die hele konsert op Comradesdag uitgewerk – dit was nogal tappend om moves vir al die liedjies wat ons wou gebruik uit te dink! Maar ons het dit gedoen…

So is ons toe op die ou end af see toe. Selfs die dag toe ons gery het, was nie sonder hiccups nie. Daar was skielik nie genoeg vervoer gereël nie. Werner was op die punt om sy goed te vat en eerder huistoe te gaan, toe ons darem nog ‘n kar gekry het: Rukus Erasmus-hulle s’n. Ons cruise toe oor Ladysmith met die N3 saam af see toe. Dit sou okay gewees het, as ons nie elke twee ure vir ‘n uur lank gestop het nie! Ons het op die ou end 23:00 daar aangekom.

Goed, nou was ons darem by die oord en dinge kon begin gebeur. Maar helaas…Oom X het ons in die oggend 06:00 kom wakker maak deur met die megafoon uit te roep: “Word wakker, word wakker, die dag word al swakker!”
Groot fout! Want onthou, Junie/Julie is dit middel van die winter, daarom is dit nog stikdonker 06:00 die oggend! En om met so ‘n simpel rympie wakker gemaak te word, is elke tiener se gat se deksel. Komaan, wees kreatief!

Maar dit was die status quo, irriterend soos dit was. Bybelstudies in die oggend was ‘n disaster, want Oom X het een of ander reeks of iets gedoen oor die wederkoms – en vir twee ure op ‘n slag lank aangehou! Die kinders was só verveeld en so vaak dat ons menigmale onsself moes wakker knyp.

Strandspele was darem okay, wanneer ons eventually daar uitgekom het. Ons kon darem self die sandkasteelkompetisie en touchies en sulke goed hanteer sonder dat ons teruggehou word. Poppekas was ook darem onder beheer-ish. Ons moes met die boodskap-narre deal, maar dit het ook net 1 dag gehou en toe’s dit van die baan. Hulle het dit sommer self geskrap…

Gewoonlik ná poppekas, so teen 14:30 die middag, het ons konsert geoefen. Dit was nogal ‘n challenge, want nie net moes ons al die mimieke vir al die 30 kinders wat daar was leer nie, ons moes ook heeltyd die kritiek van die Creare-kinders absorbeer en iets daarmee maak. Challenging! Ek en Marnie was onderskeidelik maar in standerd 8 en standerd 9 en om die kinders se aandag te hou was dikwels ‘n saak van onmoontlikheid. Ons het besluit om vir Oom X en Tannie Marlene die dialoog te gee, sodat hulle ook deel van die konsert kon wees. Maar moenie dink hulle sou help by oefeninge nie! Hy sou op die verhoog staan en kitaar speel en Tannie Marlene sou sommer glad nie eens daar wees nie. So, ons moes teen dit ook probeer werk.

Die kos was die ander groot probleem. Daar was nooit genoeg nie. Die eerste oggend al het drie van ons ouens nie kos gekry nie. Die een bak roereier (al wat sy voorgesit het) was op en dit was nou maar so. O, ja, haar kinders het ander kos as ons gekry. Apart, in die kombuis.

Dit het so geraak dat ek, Werner, Jorita en Marnie elke oggend by die restaurant gaan toasted sandwiches koop het. Jorita het op ‘n stadium haar ma gebel en gevra dat sy vir haar moes geld inbetaal sodat sy kon eet! Hoe crazy is dit.

Tog, die hele situasie rondom Oom X en Tannie Marlene het ook vir sy snaakse oomblikke gesorg. Rukus-hulle het die een aand Oom X se selfoon, wat ook as sy wekker gedien het, in die hande gekry en die wekker gestel vir 01:00 die oggend. Onthou ek het gesê 06:00 is dit nog donker…so toe hy daar aankom met die megafoon en sy rympie – net nadat ons in die bed geklim het – het hy nie besef dat dit nié 06:00 is nie! Toe ons nie wil reageer nie, het hy aangehou: “Kom julle! Dis opstaantyd!” Met ‘n megafoon wat klink asof dit deur die hele vakansieoord weergalm. Dis toe dat Tannie Marlene, wat saam die girls in die bungalow geslaap het, vir hom skree: “X! Dis eenuur! Gaan slaap!”

Daar was ook ‘n vrek lang toutrektou, wat ons toe nooit vir toutrek gebruik het nie. In plaas daarvan het ‘n paar van ons (ek, Louis, Albertha, Werner, Wihan, Rukus, Marnie) die een aand die tou gevat en Oom X-hulle binne-in sy huisie toegebind. Ons het die tou rondom die handvatsel gedraai en oor die balke van die stoepdakkie gegooi en reg rondom die huisie gevat en hom toegebind.
So kon ons toe een oggend in rus en vrede opstaan en self afgaan strand toe vir bewuswording, terwyl Oom X by sy deur gestaan en klop het dat ons vir hom moet oopmaak. Ek en Rukus het toe maar gegaan en die tou weer los gaan maak. Eish.

Die meeste van julle ken die spook-ding wat dikwels op kampe gebeur? Jy kry iemand om by te spook en iemand spook weer by jou. Jy kan daardie persoon ‘n opdraggie gee om uit te voer, maar die eintlike idee is dat jy hom/haar moet bederf. Dit word natuurlik ook gewoonlik transgender uitgevoer en moet anoniem bly tot die laaste dag.
So kry Oom X die een dag ‘n pak rou boontjies van sy spook (yeah right!) af. Toe ons die middag by ete kom, sien ons dat daar net so ‘n stainless steel bak op die tafel lê met die droë boontjies in. Ja, sê Oom X, ons budget is klaar (met ten minste 4 dae om te gaan) en dit is al wat daar is om te eet. Ons almal het geweet (eintlik maar gehoop) dat hy ‘n trick op ons trek, maar hy was heel ernstig. Marnie bid toe vir die boontjies en vra dat die Here dit maar moet seën! Tannie Marlene bring toe gelukkig ander kos daar aan, maar Oom X sê toe so ‘n stukkie van dat ons nie iets moet suur maak wat andersins lekker kon gewees het nie. Hmm.

Dit was die eerste stranddiens waar ons ‘n talentaand gehad het – groot opwinding! Ek en Jorita was die hosts en die deelname was goed. Selfs uit die span uit het ons so ‘n musiek-spoof van Rooikappie opgevoer en ek en Sonèl het op die ou end gewen met ‘n klavier-viool duet van Meatloaf se “I Will Do Anything For Love (But I Won’t Do That)”. Ja, ek weet – ons was nie suppose om in die running te wees nie, of hoe? Dis tog vir die oord se mense. Anyway…My stem het so ‘n dag of wat vantevore begin wegraak en daardie aand was dit belaglik snaaks om ‘n talentaand te host met ‘n rasperstem wat Macy Grey my sou beny. Ons het als probeer om dit te fix – daar was selfs ‘n tannie tussen die vakansiegangers wat my so ‘n mengsel van heuning en koeksoda ingegee het. Dit het nie gewerk nie.
Daar was ook een van die deelnemers, so ‘n weirderige, maer outjie met blonde hare wat gesê het hy is tweeslagtig. I know. Sy rendition van Amazing Grace was nogal snaaks, maar dis bietjie “you had to be there”.

Poppekas het aanvanklik met rukke en stote gegaan (die stories nou), maar die een dag het Hano en Werner daar ingespring en dit vrek snaaks gemaak. Van toe af was Hano die Wolf in Poppekas, uit en gedaan!

Die konsert het baie goed afgegaan. Ons het goed gedoen van Willie Joubert, Don Francisco, Leon Ferreira, David Meece en ons het afgesluit met Laurika Rauch se Hot Gates. Daarna het ons ‘n kampvuur gehad met mense wat getuienisse gelewer het. Vir die mense wat die oord ken, dit was daar waar die ou volleyball-baan was, langs die swembad.

Die laaste aand het ‘n klomp van ons gedeurnag. Ook dit het sy porsie controversy gehad! Omdat ons nooit regtig koeldrank gekry het by etes nie, was ons toe ook dors en ons breek toe by die Putt-Putt-baan se huisie in en vat van die blikkies koeldrank wat daar was (relax, Marnie het later met oom Jan reggemaak!). Daarna het ons met die bospaadjie van die boonste swembad af deurgestap na Ilala Cabanas toe en so met ‘n wye draai met die teerpad langs teruggestap oord toe. Toe ons so teen 02:00 die oggend se kant terug was by die saal, sien ons ‘n broodlorrie daar staan. Ek dink dit was Blue Ribbon? Anyway, ons vra hulle toe of hulle nie ‘n spaar brood het nie en toe gee hulle vir ons een! Dit was die lekkerste vars, warm brood wat ek nog 02:00 die oggend geëet het…

Louis, Albertha, Annalene en Mariëtte het op die strand geslaap en ek, Marnie, Friedel, Odie en Werner het daar ook ‘n draai gemaak. Ons het amper aan die slaap geraak, maar ons was vasbeslote om wakker te bly en waai toe weer.

Nou, vir die volgende deel om snaaks te wees, moet jy weet hoe TO Strand se ablusieblokke uitgelê is. Daar is die groot een by die onderste karavane, die A-blok, en een by die boonste karavane, die B-blok. Dis ook die een wat ons gebruik, want dis die naaste aan die studente se bungalows. Die A-blok s’n is bietjie fancier as die B-blok s’n. As ‘n mens by die deur van die B-blok se badkamers instap, draai jy regs na die manne se kant toe en links na die dames. Die mans het net een bad, terwyl die dames drie het: twee aan die regterkant en een links. (As dit andersom is – onthou die laaste keer wat ek daarin was, was 7 jaar gelede!)
Nou, toe ons van die strand af kom, besluit ons om te gaan bad. Marnie en Friedel is na die A-blok badkamers toe, terwyl ek, Werner en Odie die kans aangegryp het en in die dames-badkamer gaan bad het. Dit was 04:00 die oggend, so die kans dat daar girls in sou wees, was absoluut minimaal.

Nie minimaal genoeg nie, sou ons egter uitvind: ons was elkeen net in ons cubicle in die bad, die water pas klaar ingetap, toe ons die deur hoor oopgaan en Mariëtte se skril stemmetjie wat die warm badkamerlug sny:
“Nou wie sou dié tyd van die oggend wou kom bad?”

Vandat ons elkeen ons cubicle se deur agter ons toegemaak het, het daar ‘n paar dinge gebeur waarvan ons glad nie bewus was nie en ook geensins mee rekening gehou het nie. Eerstens het Shalom kom wasgoed was of uitspoel of iets – ek dink daar was ‘n tuimeldroër in die badkamer – of watookal, maar sy het ingekom sonder dat ons geweet het.
Die strandslapers het ook begin natdou en koud kry en Mariëtte en Albertha het toe ook die idee gekry om te kom bad (damn idea-pool!).

Ons drie ouens skrik toe natuurlik ons blase vol borrels toe ons besef wat aangaan.
Nee, sê Shalom, sy weet nie wie dit is nie, maar die deure was al toe toe sy daar ingekom het.
Albertha, reguit mens wat sy is, besluit toe om te vra: “Wie’s hier binne?”
Nie een van ons ouens het ‘n woord gesê nie. Net sulke benoude roer geluide in die water gemaak.
Weer het sy gevra: “Is hier ooit iemand hier binne?”
Werner laat toe so ‘n falsetto-tipe “Ja!”-gilletjie uit. Ek het glad nie geweet wat om te doen nie. Ek bedoel, hoeveel keer in jou lewe kom jy in só ‘n situasie? En hoe berei jy voor daarvoor? Ehh…
Nogmaals het Albertha gevra: “Kan u vir ons ‘n aanduiding gee van hoe lank u nog gaan wees?”
Weer die benoude watergeluide.
Dis toe dat sy vir Mariëtte sê: “Ek gaan nou hier oor kyk om te sien wie dit is!”
Dit was die trigger wat ons ouens nodig gehad het. Odie het met sy nat bas en al by die venster uitgestorm, terwyl Werner soos ‘n wafferse kaelnaeler by die linkerkantste bad uitgevlieg het.
“Odie! Werner!” is al wat Shalom geamuseerd-geskok kon uitkry. Ek het die diversion gebruik om vinnig ‘n handdoek om myself te kry, af te droog en my klere aan te trek. Die girls was ietwat dronkgeslaan en kon glad nie verstaan wat sopas daar gebeur het nie. My stem was nog maar lekker hees, en ek dog toe ek sal die nuus breek:
“Dis so funny!”
Albertha het my herken: “Tiaan!”
Ek het toe ewe ordentlik uitgekom en tussen die lagbuie deur die storie vertel van wat van ons kant af daar gebeur het.
Kyk, between a rock and a hard place…

Ons het weer lekker mense ontmoet daardie stranddiens. Een ou, Desmond, was ‘n studentevriend van Marnie-hulle wat later leier was van RAU se TO 1 span. Hy het ons vermaak deur “When You Say Nothing At All” op snaakse maniere te sing en van sy shakertjie te praat as sy “goppichichie”. Probeer dit vinnig sê, ek dare jou.

Die terugtog was weer uitmergelend lank gewees en ons wou nog Tannie Henriëtte se troue maak – wishful thinking, maar ons was darem betyds vir die koek en tee in die saal na die tyd!

Ná hierdie disasterous poging het ons sterk daarin getwyfel of die oord ons ooit weer sou vra om te kom dienswerk doen. Wat wel tot die res van die gemeente begin deurdring het, is dat Oom X dalk nié by die tieners van die gemeente betrokke moet wees nie. Inteendeel, ons het geweier om hom daar te hê.

Laat dit vir almal ‘n les wees: as jy met tieners wil werk moet jy hulle taal kan praat, maar nie te hard probeer om cool te wees nie;
jy moet op hulle vlak werk, maar hulle nie soos idiots behandel nie;
jy moet hulle vertrou om die werk te doen, maar jy moet enige tyd kan ingryp wanneer die druk vir hulle teveel raak en hulle jou hulp nodig het;
jy moet saam hulle deelneem aan hul aktiwiteite, maar jy mag nooit oorneem wanneer hulle in beheer is nie;
jy moet orals sigbaar wees, maar jy mag nie hulle shine steel nie;
jy moet jouself in die posisie stel om sáám met hulle te wees en nooit van bo-af jouself op hulle af te forseer asof jy die baas is en al die antwoorde het nie.
Wat is daai een definisie van evangelisasie? “Evangelizing is one beggar showing another beggar where to get bread.”
Dis maar jou beste default posisie om in te wees.

Lesse uit die Long Tom Pas

December 9, 2007 Leave a comment

Hallo almal. Ek is op vakansie, daarom gaan die blogs kom en gaan, maar ek belowe ek sal my bes try om so gereëld moontlik te skryf.

Ek het so twee weke gelede by my neef en sy vrou in Hazyview gaan kuier en nie die N4 soontoe gery nie. In plaas daarvan het ek deur die klein dorpies van Mpumalanga gecruise. Ek het wortels daar – my ouma is van die Botha’s van die Bothasberg by Laersdrif en ek dink daar is nou nog verlangse familie wat in die Stoffberg omgewing bly. My pa se neef en sy gesin het ook op Lydenburg gewoon voor sy dood ‘n paar jaar gelede.

Dis ‘n mooi wêreld, anderster wêreld. Mens moet op die hoëveld gebore wees om dit werklik te kan waardeer, anders gaan jy dit baie vinnig aansien as net ‘n stuk droë aarde. Dit lyk eintlik vervelig en dis vrek ver van alles af, maar dit het ‘n sekere bekoring. Al die plekkies is ook tussen 50 en 60 km van mekaar af.

Van Roossenekal af Lydenburg toe is dit ook nie meer so vaal nie, en word die landskap meer bergagtig. Tussen Lydenburg en Sabie is daar natuurlik die berugte Long Tom Pas, wat sy naam kry van die Long Tom-kanon wat jy op die pas teëkom (ek sal nog uitvind wat die hele storie rondom dit is).

Toe ek die pas slaan, tref ek verskriklike digte mis. Nou, ek het geweet dat dit shaky gaan wees en was voorbereid, maar ek het beslis nie dit verwag nie! Die mis was so dik dat ek nie meer as 7, 8 meter voor my uit kon sien nie. Ek het my ligte so helder as moontlik gemaak en teen tussen 40 en 50 km per uur oor die pas gecruise. Agter my was daar net een voertuig, ‘n wit bakkie. Ek kon byna nie die lyne op die pad sien nie, so swak was die sig. Nou weet ek dat dit vrek steil is langs die kante af en as mens eers daar af is, is daar nie stopkans nie! So ek probeer toe met alle mag en krag so na aan die geel streep ry as moontlik, want mens kan ook nie te veel na die middel toe ry nie – die mis is so dik dat ‘n mens 90% van die tyd nie die aankomende voertuie kon sien voordat dit te laat sou wees nie. So, voel-voel ry ek toe die bergpas uit. Op ‘n stadium het ‘n bordjie verbygegaan wat die hoogste punt op die pas aandui: meer as 2100 km bo seespieël! Uiteindelik het die pad weer begin daal en kon ‘n mens onder die digte mis uitry en weer normaal begin sien. Daar was wragtig ‘n mamparra wat in daardie digte mis by ons verbygekom het!
Crazyyy…

Dis amper soos die lewe, of hoe? Soms bevind ons onsself op onbekende paaie en dan moet ons dit maar versigtig hanteer. Dit sal ook nie help om te gaan stilstaan net omdat ons nie die pad ken nie, maar ons moet dit net stadig maar seker aanvat. Sit jou ligte aan, ry stadig en bly so ver as moontlik tussen die lyne, met ander woorde: speel volgens die reëls. As jy nie die reëls volg nie, land jy dalk iewers op waar jy nie regtig wou gewees het nie. Dit help ook om die mense te volg wat al reeds daardie pad gery het en dit ken. Hulle sal jou nie aspris in die (letterlike!) afgrond in lei nie!

So, dis ‘n paar lesse uit die Long Tom Pas.