Home > Blogroll, Ervarings, Hoëveld, humor, Life, Mpumalanga, Oos-Transvaal, Reality, Reis, South Africa, Suid-Afrika, Travel, vriende > “Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry…”

“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry…”

September 10, 2010 Leave a comment Go to comments

Ek het vir Soon Strydom belowe dat ek op sy troue sal preek toe ons nog albei Eerstejaars was in die Republiek van Kollegetehuis. Back in the day. So, toe sy groot dag uiteindelik aanbreek, het ek my belofte gestand gedoen en die roadtrippie Delmas toe aangepak.

Nou, wat veronderstel is om ‘n vinnige 3-en-‘n-half ure trip te wees, draai toe uit in ‘n vyf-en-‘n-half ure ekspedisie. Hoe op aarde het dit gebeur?

Wel, eerstens het my eie kar, die Wit Wonder, se battery daardie dag die gees gegee, tesame met iets by die fans, want hy het verskriklik geoverheat. Daarom is ek uiteindelik, meer as ‘n uur later as wat ek beplan het, uit Vryheid weg met ons 1996 Isuzu double cab.

Die pad tot op Newcastle was uneventful, soos dit gewoonlik is. Naby Utrecht het ek oudergewoonte afgeslack want jy weet nooit of die speedcops jou daar gaan verras met hulle teenwoordigheid of nie. Die padwerke met die stop-go bordjies is ook besig om verby die T-aansluiting verby te skuif, so dit maak dat ‘n mens nie so lank hoef te wag om die gedeelde pad te gebruik nie. Tog bly dit ‘n hassle, en toe ek Volksrust nader, moes ek net gou stop om my bene te rek. My lae rug raak nogal seer as ek bestuur, daarom bly ek by die 200km/2 ure stilhou reël.

Van Volksrust af tot op Standerton was die pad ook heel skaflik, met niks snaaks wat gebeur het nie. Twintig kilo’s buite Standerton bel Soon my en vra of my probleme uitgesort is. Op daardie stadium was dit 12h15. Ek bevestig dat ek goed oppad is en baie betyds daar sal aankom. Hulle het vir my plek in ‘n gastehuis georganize, en ek sou so ‘n bietjie daar gaan ontspan en myself rustig vir die troue voorberei.

Maar dis in Standerton waar die sports sou begin. Sien, gewoonlik ry ons sommer direk van daar af Leandra toe en dan van daar af Delmas toe. Die pad tussen Leandra en Standerton het intussen egter so gesdisintegreer dat geen ordentlike bestuurder dit aan sy motor wil doen om hom- of haarself op daardie pad te begewe nie. Daarom het ek raad gekry van ‘n detour Leandra toe via Kinross. Klink maklik genoeg, doen dit nie? Ja, as jy die pad ken!

Die aanwysings wat ek gekry het (en, ek bieg, nagelaat het om op te volg) het my net verduidelik tot by die Sasol-garage op Standerton. “Dan ry jy net daar uit.” So maak ek toe – min wetende dat daardie pad my reguit Bethal toe sou neem…

Nou ry ek op hierdie pad, wonder so ‘n keer of wat of ek nie maar gou by die petrolstasie moes seker gaan maak het nie, maar skud dan die gedagte af. Nee wat, Bethal, Kinross, Secunda, Trichard…als is mos net hier bymekaar. Iewers sal ‘n bordjie wees, is mos.

Maar die bordjie kom nie…en Bethal kruip al hoe nader…dis nou te laat om terug te draai en aanwysings te gaan vra. Pleks ek het.

Naderhand is ek verby Thutuka Kragstasie. Nou moet ek begin plan maak! Toe ek ‘n bordjie sien waarop staan ‘Trichard’, maak ek net daar ‘n U-turn en draai af op die distrikspad. Nou worry ek nie meer nie, ek ry net. Hierdie grondpad gaan volgens my inner-compass meer in die rigting waar ek wil uitkom, so here goes.
Op ‘n stadium kruis ek nog ‘ngrondpad en sien drie Afrika Mama’s voor my loop. Ek stop net daar en vra deur die venster:
“Sorry, ma, hoe moet ek ry om by Trichard te kom?”
“Trichard?”
“Ja.”
“Jy slat net hierdie pad, straight, straight, straight. Moenie afdraai nie. Jy sal by hom kom.”
Troef-vraag:
“Is dit ver?”
Troef-antwoord:
“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry.”
Op dit kan jy niks terugantwoord behalwe “Dankie” nie. Daar gaan ek, straight, straight, straight.

Tot by ‘n T-aansluiting wat sy heeltemal vergeet het om te mention.

Instink laat my links draai en ek jaag op die ongelyk pad voort. Omtrent 10 minute later sien ek die pad sluit by ‘n teerdpad aan en my hart juig. Dis ‘n besonderse mooi pad vir hierdie omgewing – dalk het hulle die pad tussen Leandra en Standerton intussen reggemaak? Ek is meteens beïndruk met die Mpumalanga Padwerke. Maar ek sou gou agterkom dit is toe nie daardie pad nie – hierdie een is mooi omdat hy nie soveel verkeer hoef te dra nie! Dit is die pad Charl Cilliers toe.

Ek stop eers semi om te wag vir die trop skape wat die pad kruis – hulle het voorrang – en ry dan na die massiewe kerktoring wat jou al van ver af aanlok. Soos ek in ry, sien ek aan my regterkant ‘n gesin wat regmaak vir die Saterdagbraai. Ek ry te vinnig verby. T-aansluitng. Mmm, winkeltjie? Weer kom my aanwysings van ‘n groot swart vrou. Al die ander mense het te dronk gelyk om te help (sorry, maar regtig!).
“Hoe kom ek op Leandra?”
“Leandra?”
“Ja?”
“Mmm…jy gaan straight by hierdie pad (really?), dan gaan jy links. Maar eers na jy gekom het by Mahlababelbelbellebbeb…. (so iets).”
“Okay…dankie.”
Want ek weet mos waar is Mahlababelbelbellebbeb…. Ek weet nie eens presies waar ekself is nie, nog minder waar dit is. Maar hier gaan ons.

Magic! Genade! ‘n Bordjie sê: EVANDER. Juig! Hier moet ‘n petrolpomp wees wat my kan help.
Toe ek Evander binnery, sien ek die bordjie wat Mahlababelbelbellebbeb…. links wys. Kan jy nou meer. En by die Total-garage wys die Here We Go-aanwysingsbord dat my pad links na Leandra net verby dit loop. So, sy was reg!

Van hier af is dit maklik en naby en die pad verloop sonder enige werklike verdere insidente. Delmas lewer vinnig ‘n situasietjie op by die BP garage (ek het nie petrol ingegooi nie, net aanwysings gevra na die straatadres toe, vir die groen-bewustes onder julle!), maar tjop-tjop is ek waar ek moet wees. Nou is dit al 14h50 en die troue begin 16h00. Sharp.

‘n Paar foonoproepe en sms’ verder en ek het die sleutels vir die gastehuis, Hoffmann’s Guesthouse. Niks kan nou meer verkeerd gaan nie.

Guess again.

Toe ek by my bakkie uitklim, besef ek dat ek NOOIT my sak met my klere in ingelaai het nie…my kerkklere hang darem aan ‘n hanger, maar dis dit! Nie ‘n skeermes, tandeborsel, haarborsel, kontaklensseep, niks nie. Ook nie kerkskoene nie…

Die tannie van die gastehuis, Millie (ek weet nie wat is haar van nie, maar ek skat dis Hoffmann) maak toe ook die gewone aanbod: “Laat weet as ons met enigiets kan help!”
My versoek:
“Kan Tannie dalk vir my help met swart kerkskoene?”

Ek shower so soort-van sonder om my hare nat te maak, trek aan en sit af na die trou-venue toe.
“Jy ry net totdat jy die T-aansluiting kry.”
Niemand het gesê die T-aansluiting is 25km en drie klein dorpies verder nie…

Tien voor vier bel die bruidegom my:
“Tiaan, waar is jy??”
Nee, my vriend, ek is nou daar.

Eind goed, als goed. Die bruid was heelwat later as ek, so dit was fine. Die troue was mooi stylish, die bruidegom was emosioneel en die speeches lekker kort en die kos heerlik. Die open bar was ‘n bonus, maar ek het dit vir die ander gaste gelos, want die volgende oggend 10 voor 4 het ek met ‘n gejuig wakker geword en opgespring om terug te jaag Vryheid toe. Ek moes met die oggenddiens uithelp. Hierdie keer het ek die pad baie makliker gekry en my ligte mistykie by Standerton vinnig opgetel.

Moenie vra hoe ek gelyk, geruik of gevoel het nie, maar ek was 08h10 terug by die Klipkerk.

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: