Archive

Archive for June, 2010

Ons kamp amper weer!! Yay!!

June 7, 2010 Leave a comment

Kampe kampe kampe! Amper weer kampseisoen. Ja, die tweede helfte van die jaar is my “kampseisoen”, die tyd waarin ons op hordes jeugkampe gaan en deur saamwees…wel, net saam is en saam speel en saam bid en saam moeg word. Kan byna nie wag nie! Een van die outjies wat laas jaar begin saam kamp het, vra my nou-nou net in die gym: “Wanneer begin ons nou weer bietjie kamp?” Nou, hier is die break down:

Eerste aan die beurt is Kamp 1 van Skolliekamp 2010 by Winklespruit. Nou, ek moet erken, ek was nog nooit self op een nie, maar ek was darem al ‘n paar keer op Skoolverwisselingskamp, en dit lyk my die formaat is baie dieselfde. So ek stres nie regtig nie, ek sien nogals uit. Bybelstudieleier en Ontspanningsleier. Hmmm.

Dan, die laaste naweek van die vakansie het ons ‘n Ringsjeugkamp (of altans, ons probeer een organize). Dit gaan maar sukkel-sukkel, daar was lanklaas so iets hier gehou. Maar ons kyk maar hoe dit gaan! Nog ‘n eerste, die NG Kampterrein by Pongola. Blykbaar op die wal van die rivier, so hoe dit gaan afgaan vroeg in Julie sal ons maar moet sien!

Nie lank daarna nie is dit Chillax-kamp, ons jeugkamp wat laasjaar soos ‘n bom gewerk het. Weer by Matatane River Lodge hoop ek dat dit hierdie keer net so crazy awesome ervaring sal wees soos die vorige keer. Die begin van die jaar se kategese-afskop kamp het ‘n bietjie meer soos werk gevoel, so ons gaan seriously aandag aan daai aspek gee hierdie keer.

Net voor dit het ons ‘n dissipelskap-retraite. Tel dit as ‘n kamp? Hehe.

Kort na Chillax is daar ‘n Winterskool saam met Andrew Root en Marc de Vries en daarna nog ‘n jeugwerker konferensie (ek dink nie ek gaan die jeugwerkerkonferensie bywoon nie, want ek het al die sprekers wat dit gaan aanbied se goed nou al regtig ‘n klomp keer gehoor – niks fout met dit nie, maar ek gaan my tyd mors. Sal eerder ‘n paar kategete stuur!).

Vroeg in die vierde kwartaal het ons ons jaarlikse Belydeniskamp – eintlik die trickyste een van die lot. Want sien, die verwagting is mos dat ‘n mens op hierdie kamp alles moet fix wat jy nie vanjaar met die belydenis-kids kon regkry nie – hierdie is mos die naweek wat jy hulle moet bind om vir ewig toegewyde lidmate van die NG-kerk te word wat elke Sondag die erediens sal bywoon, elke maand hulle tiende sal gee en hard sal saamwerk in die kommissies. Mos.

Dan…vroeg in Desember het ons ons voorbereidingskamp vir ons uitreik TO Strand toe. Hier werk ons, speel ‘n bietjie en doen baie spanbou (of dis ten minste die idee).

En finally, direk na Krismis ry ons af see toe vir Stranddiens. Die kamp wat die meeste voorbereiding, beplanning, dinkwerk en kreatiwiteit kos, maar die bevredigendste is (op soveel verskillende levels dis nie eens snaaks nie.)

So…wanneer begin julle kamp?

2010 Super 14-finaal en Fort Orlando en 2010 FIFA World Cup en hoekom sport goed is vir ons…

June 1, 2010 Leave a comment

Ja, okay, hier is ek weer met my bandwagon voor jou deur, maar ek het maar net gevoel ek moet so ‘n ietsie kwytraak oor die afgelope naweek se sportgebeure. Onthou, hierdie is my eie belewenis van stuff, so don’t judge me!

Eerstens is ek natuurlik bly dat die Bulls weer met die louere weggestap het, ek is immers ‘n groot fan van die span. Vat niks weg van die Stormers nie – die eerste jaar dat Schalk Burger kaptein is en hulle kom tot in die Finals, staan die minste driee van almal af en speel ‘n barshou? Dit wil natuurlik mos gedoen wees. Kudo’s! Maar ek is netso trots op my eie span en die feit dat hulle WEER die kampioene is. Well done!

Tweedens, soos enigiemand wat daar was sou bevestig: dit was ‘n belewenis. Dalk een van die belangrikste momente in ons land se (sport)geskiedenis. Sien, dit was die Noorde teen die Suide, gekulmineer in die historiese teenpool van die apartheidsregering (man, jy weet wat ek bedoel) en dit word ‘n samevoeging soos min. Soos Roland Schoeman getweet het, die FIFA 2010 World Cup is die beste ding wat met Suid-Afrikaanse Rugby kon gebeur het. Hehe! Die wat Pres Zuma se onderhoud voor die tyd gesien het, sal saamstem dat dit beslis ‘n stap in die regte rigting was. Hopelik (en waarskynlik) sal daar in die toekoms meer wedstryde, ook op internasionale vlak, in Soweto gespeel word. Wie sou dit kon raai 15 jaar gelede?

Derdens, die hele kombers-drive: bring jou blankey en kry vir jou ‘n dop, die aflaaipunt en die biertent is langs mekaar. Haha! Bietjie funny in daai lig, maar wat van ons maak dit ‘n gereelde ding? bring na elke wedstryd ‘n blikkie kos of ‘n ekstra trui of ‘n kombers of iets saam, nie net Soweto toe nie, maar na elke sportstadion. Ek meen, die Curry Cup wag nog, dink net hoeveel behoeftiges kan gehelp word uit dit wat na die wedstryde toe gebring word? Komaan, ouens, as ons sport (en rugby!) as ‘n godsdiens sien, laat hierdie “kerk” ook ‘n slag die gemeenskap help! Dis moontlik…

Vierdens: ek moet net weer aan die geestelike sy van die Bulls raak. Dis onmiskenbaar. Maar luister mooi na hoe hulle praat – Victor Matfield, Frans Ludeke en die res van die manne ook – hulle claim nie dat God hulle laat wen het of dat die ander spanne goddeloos is nie. Hulle bring wel dank en eer aan God vir hulle talente en hoe hulle geseen word. Ons kan hulle tog nie kruisig daarvoor nie – dis die manne se beroep om te speel en hulle lewer hulle getuienis waar almal dit kan sien, so gee hulle ‘n breek. Ons verwag dit tog van ons ander gemeentelede, of hoe?

Laastens: ek verwys na ‘n vorige post wat gegaan het oor hoe ek daarmee verskil dat sport ‘n euwel is wat met wortel en tak uitgeroei moet word. Laas naweek in ag genome, sport is en bly ‘n samebindende faktor in ons land. Watter ander onmiddellike common ground het ons behalwe om ons kinders op skool saam in ‘n span te sit met persone van ander rasse en kulture? Vat dit wyer: hoeveel van die witmense wat saterdag in Soweto was, sou op enige ander tyd dit gewaag het om daar in ‘n shebeen te gaan kuier, as dit nie vir sport was nie? Ja, die konteks het dalk sekere dinge help bepaal, natuurlik, maar dalk is ‘n paar voorveronderstellings ‘n bietjie gebreek of ‘n paar paradigmas net so ‘n bietjie geskuif. Wie weet? Ek glo so.

Vat dit nog wyer: vat sport weg, en jy vat Caster Semenya weg. Jy vat Hezekiel Sepeng weg. Jy vat die Comrades-marathon weg. Jy vat die Two Oceans weg. Jy vat Natalie du Toit weg. Jy vat Roland Schoeman, Ryk Neethling, Bryan Habana, Beast Mtawarira, John Smit en Pierre Spies weg. Jy vat daardie Chanel-chick wat onlangs so goed gedoen het by die Roland Garros weg. Jy vat JP Duminy en die ander krieketspelers weg. Jy vat die FIFA 2010 World Cup weg. Jy vat ouens weg soos Franna Cillie en Louis Koen wat met die Living Ball die hele land deurkruis en mense met behulp van sportballe evangeliseer.

Ja, sport het ook sy donker kant, soos enigiets anders. Maar kom ons kyk nie die positiewe dinge mis nie, want dis nogals in your face.