Home > Blogroll, Ervarings, jeug, kampe, see, Stranddiens, TO Strand, Vryheid > Ons kamp amper weer!! Yay!!

Ons kamp amper weer!! Yay!!

Kampe kampe kampe! Amper weer kampseisoen. Ja, die tweede helfte van die jaar is my “kampseisoen”, die tyd waarin ons op hordes jeugkampe gaan en deur saamwees…wel, net saam is en saam speel en saam bid en saam moeg word. Kan byna nie wag nie! Een van die outjies wat laas jaar begin saam kamp het, vra my nou-nou net in die gym: “Wanneer begin ons nou weer bietjie kamp?” Nou, hier is die break down:

Eerste aan die beurt is Kamp 1 van Skolliekamp 2010 by Winklespruit. Nou, ek moet erken, ek was nog nooit self op een nie, maar ek was darem al ‘n paar keer op Skoolverwisselingskamp, en dit lyk my die formaat is baie dieselfde. So ek stres nie regtig nie, ek sien nogals uit. Bybelstudieleier en Ontspanningsleier. Hmmm.

Dan, die laaste naweek van die vakansie het ons ‘n Ringsjeugkamp (of altans, ons probeer een organize). Dit gaan maar sukkel-sukkel, daar was lanklaas so iets hier gehou. Maar ons kyk maar hoe dit gaan! Nog ‘n eerste, die NG Kampterrein by Pongola. Blykbaar op die wal van die rivier, so hoe dit gaan afgaan vroeg in Julie sal ons maar moet sien!

Nie lank daarna nie is dit Chillax-kamp, ons jeugkamp wat laasjaar soos ‘n bom gewerk het. Weer by Matatane River Lodge hoop ek dat dit hierdie keer net so crazy awesome ervaring sal wees soos die vorige keer. Die begin van die jaar se kategese-afskop kamp het ‘n bietjie meer soos werk gevoel, so ons gaan seriously aandag aan daai aspek gee hierdie keer.

Net voor dit het ons ‘n dissipelskap-retraite. Tel dit as ‘n kamp? Hehe.

Kort na Chillax is daar ‘n Winterskool saam met Andrew Root en Marc de Vries en daarna nog ‘n jeugwerker konferensie (ek dink nie ek gaan die jeugwerkerkonferensie bywoon nie, want ek het al die sprekers wat dit gaan aanbied se goed nou al regtig ‘n klomp keer gehoor – niks fout met dit nie, maar ek gaan my tyd mors. Sal eerder ‘n paar kategete stuur!).

Vroeg in die vierde kwartaal het ons ons jaarlikse Belydeniskamp – eintlik die trickyste een van die lot. Want sien, die verwagting is mos dat ‘n mens op hierdie kamp alles moet fix wat jy nie vanjaar met die belydenis-kids kon regkry nie – hierdie is mos die naweek wat jy hulle moet bind om vir ewig toegewyde lidmate van die NG-kerk te word wat elke Sondag die erediens sal bywoon, elke maand hulle tiende sal gee en hard sal saamwerk in die kommissies. Mos.

Dan…vroeg in Desember het ons ons voorbereidingskamp vir ons uitreik TO Strand toe. Hier werk ons, speel ‘n bietjie en doen baie spanbou (of dis ten minste die idee).

En finally, direk na Krismis ry ons af see toe vir Stranddiens. Die kamp wat die meeste voorbereiding, beplanning, dinkwerk en kreatiwiteit kos, maar die bevredigendste is (op soveel verskillende levels dis nie eens snaaks nie.)

So…wanneer begin julle kamp?

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a comment