Archive

Archive for December, 2008

Movies, Magic & Meer

December 13, 2008 1 comment

So in die afwesigheid is dit wat gebeur het:
• Ek het klaargemaak by NG Wonderboom en teruggetrek Vryheid toe en bly tans by my ma-hulle terwyl ek wag om van Disney Cruise Lines te hoor wanneer ek gaan.
• Ek het so ‘n paar flieks ingewerk gekry in my laaste week of wat in Pretoria (High School Musical 3, Mr Bones 2, Discreet, Death Race, Body Of Lies, Quantum Of Solace, en die begin van Disaster Movie)
• Ek het uitgevind ek gaan weer Stranddiens toe! GLAD NIE deel van die beplanning nie, maar ek is nou nie juis hartseer of spyt dat ek saam gaan nie!
Jap. Ek kyk elke dag na my emails om te sien of Disney al vir Cruise Alternatives iets laat weet het en ek mail hulle omtrent weekliks om te hoor wat skud, net om te hoor: “We’ll let you know as soon as we know.” ‘n Bietjie frustrerend, om die minste te sê! So ek kan regtig niks vooruit beplan nie. Elke dag is ‘n verrassing, so nou volg ek maar Ds Ernest Horn se goeie raad: beplan jou vakansie asof jy hier is, en as iets gebeur dan het jy mos plan B. So nou gaan ek die eerskomende week vir drie dae see toe saam die familie en daarna (raai-raai) Pretoria toe vir Kersfees! En dan TO Strand toe vir Stranddiens…

Dis alweer sulke tyd! Kan dit byna nie glo nie, maar is om die een of ander rede meer opgewonde daaroor as laas jaar. Miskien is dit omdat ek regtig nodig voel. Hoe sê Frollo in Hunchback of Notre Dame? “Our Lord works in mysterious ways.” Ek is geestelike leier saam met Neels Klynsmith, maar dit voel meer asof ek die geestelike leier is en hy my sidekick of helpertjie of iets. Nie dat ek kla nie – inteendeel, ek kom agter dat ek heel gereed voel vir die uitdaging om vir ‘n slag alleen geestelike leier van die Stranddiens te wees. Hy het ook vir my duidelik laat verstaan hoe bly hy is ek gaan saam, sê dis gebedsverhoring (ek wonder net wie s’n?) en is vreeslik excited. Nou ja toe dan! Ek kry weer kans om ‘n prettige konsert te direct/produce terwyl ons ‘n geestelike input by die kinders maak. No pressure…

Ek is aan die een kant so bang ek maak droog – daar is ‘n klomp van die Ou Staatmakers wat nie vanjaar daar gaan wees nie. Aan die ander kant weet ek dat as ek net by die Bybel bly en nie te veel stres nie, sal alles fine wees. Die ding is net, die kinders het laas jaar ‘n heavy emosionele ervaring gehad tydens ‘n Praise & Worship waar ek ‘n boodskap gebring het en almal soek dit weer. Nou, ek kan nie sulke ervarings optoor nie, dis nie heeltemal hoe dit werk nie! Elke dominee of pastoor of jeugwerker weet dit tog. En in Prince Caspian sê Aslan dit ook: “Things never happen the same way twice.” Ek probeer hard om dit by die tieners tuis te bring, sodat hulle met ‘n oop gemoed en verwagting sal afgaan en God op nuwe maniere en in nuwe ervarings gaan soek, maar ek weet nie of dit werk nie. Daarom bid ek maar net elke dag dat God hulle dan maar op nuwe en verrassende maniere sal ontmoet en aanraak en my sal gebruik. Breekbare kleipot wat ek is…

‘n Vinnige note op die flieks wat ek gesien het:
High School Musical 3: uiteindelik iets wat Grease se plek as die toonaangewende hoërskool-musical kan inneem. Veral The Boys Are Back, wat die Greased Lightnin’ van die nuwe Millennium is. Dis hoog tyd.
Mr Bones 2: bly weg, bly weg, bly weg! Ek kan nie glo ek het uit Disaster Movie uitgestap maar deur hierdie stuk stront bly sit nie. Dis al wat dit is: stokou weergawes van flou toilethumor…en nuwe hoogte (diepte-? laagte-?) punte van toilethumor. Kom ons poef tussen twee beddens. Kom ons stamp mense wat besig is om te skyt in hulle eie stront in. Kom ons poep die hele fliek lank elke tweede toneel, sodat die kinders darem lag en dan noem ons dit gesinskomedie. Kom ons fokus op voorvaderaanbidding en “The Great One” en sangomas en sulke gemors en hou dit voor as die antwoord op ons probleme. Kom ons drink water uit die toiletbak uit. Kom ons borsel ons mond met die toiletborsel. Kom ons laat die Kreepy Krauly se pyp aan ons Klein Leontjie vassuig. Kom ons druk ‘n vibrator in ons oor of gebruik dit om mielies mee fyn te maal. Ag nee, sies, man!!!!!!!! Sies, Leon Schuster en sies vir elke Suid-Afrikaner wat nie uit senuweeagtigheid gelag het nie, maar oordat hy/sy gedink het dit is die toppunt van SA-komedie. Is ons regtig so platvloers en banaal? AG NEE, SIES, MAN!!! In ‘n land met ‘n fliekbedryf waar die goeie goed onafhanklik en met mini-budgets vervaardig word, behoort die “Great Ones” soos Leon en Anant Singh en Willie Esterhuizen (hou, hart, hou, Vaatjie Sien Sy Gat is nog oppad! Ek sidder van angs) hulleself morsdood te skaam om sulke stront vir ons op te dis. Die Suid-Afrikaanse publiek verdien MYLE beter. Die snaaksste ding (!) was die papegaai. Ek lees in die Huisgenoot Leon hoop sy acting is beter as in die vorige een. Wel, dit is nie.
Discreet: Uitstekend. Absoluut uitstekend. Dankie tog! Onafhanklike produk, trots Suid-Afrikaans, SONDER om varksig en banaal te wees tackle James Alexander en kie die tema van versoeking en seks en die samelewing se verdraaide opvattings daar rondom. Dis ‘n jammerte dat sulke flieks meestal by “Kuns”teaters vertoon word – almal behoort dit eintlik te sien. Veral hoërskoolkinders. Sterk, sterk, sterk aanbeveel!!!!! Daar behoort BAIE meer geld en tyd in sulke projekte belê te word. Dit wys watter talent daar nou eintlik in ons Suid-Afrikaners steek.
Death Race: Nogal skokkend en baie grafies met tye, maar ‘n welkome verandering op die tema. Vars einde. Goeie fliek, maar beslis nie vir die kleinspan nie.
Body Of Lies: Wat ‘n movie! Jip, Amerika is nog steeds gefikseer met Irak, maar hopelik kry Leonard DiCaprio uiteindelik die Oscar-nominasie wat hom solank al ontwyk. Ons almal weet anyway dat die Russell Crowe/Ridley Scott kombinasie ‘n wenner is, en hierdie is geen uitsondering nie. Powerful stuff en jy kan/moet jou brein gebruik.
Quantum of Solace: Die eerste James Bond-fliek wat nie op ‘n boek gegrond is nie. Uitdaging to the max! Heelwat anders as jou tipiese Bond-fliek, met ‘n bietjie meer mens agter 007. Daniel Craig wérk as Bond. Kriek-kriek uit die hoekies van sy kritici.
Disaster Movie (se begin): ag nee, wat. Dis regtig net só snaaks om te sien hoe Amy Winehouse in ‘n ou se gesig burp en hoe ‘n 25-jarige ou sy Sweet 16 vier. Ek weet nie, dalk as ek dit klaar gekyk het, sou ek gedink het dis goed. I dunno, maar ek twyfel.

Ek sien nog nie awesome goed wat op die circuit vir ons wag nie. Sal seker iewers The Day The Earth Stood Still te siene kry. Is eintlik meer opgewonde oor City Of Ember, hopelik stel dit nie teleur nie…

So, intussen wag ons. Vir Disney, vir Human en Rousseau om te laat weet of hulle my boek gaan publish of nie en vir goeie Blockbusters…maar dis dalk goed om in Adventstyd ‘n bietjie rustig te wag.

Categories: Blogroll