Archive

Posts Tagged ‘krieket’

Die soeke na die historiese Hansie

September 29, 2008 2 comments

Gisteraand het ek die langverwagte HANSIE gaan kyk. Inspirerend, indrukwekkend, briljant vervaardig en well-acted was dit lag-lag een van die beste flieks wat ek nog vanjaar gesien het. Dalk omdat ek Suid-Afrikaans is. Dalk omdat ek sy biografie deur Garth King gelees het. Dalk omdat dit so reguit, sonder om doekies om te draai, wys hoe versoekings jou skelm aanlok, stadigies meesleur en jou op die ou end só toespin in ‘n spinneweb van leuens en geheime dat jy naderhand nie meer weet watter kant toe om te draai nie en hoe jou versoeking absoluut niks vir jou voel nie. Dit begin net met: “Maar jy doen niks verkeerd nie!” “Niemand sal seerkry nie!” “Wie gaan jy nou eintlik benadeel? Jy verskaf net inligting…” En dan, wanneer jy aan die einde van jouself gekom het, wys die fliek hoe en dat ‘n mens daaruit kan kom en wat die pad vorentoe is.

Gelukkig is dit ‘n ware verhaal oor ‘n werklike held in Suid-Afrika en die pad wat hy gestap het (en nie ‘n ou wat eers ná die fliek oor sy lewe beroemd geword het nie). Daarom is die credibility bo verdenking. ‘n Mens kan ook nie alles moontlik oor Hansie se lewe in ‘n twee-uur fliek inprop nie. Vir ‘n omvattende leeswerk, kry die boek wat, nes die fliek, deur Global Creative Studios vervaardig is en deur Hansie se familie ondersteun word, en lees dit. Jy gaan huil.

Die fliek self is in terme van produksiegehalte absoluut op internasionale standaard. Hoe hulle van daai video-footage ge-edit het, wil ek baie graag uitvind. Die krieket-tonele is almal 100% realisties en opwindend. Die klankbaan is goed en gepas en kom nie oordramaties en forserend voor nie. Die kamerawerk is deurgaans spot-on. Net een klein dingetjie: daar is ‘n bietjie te veel slow-motion toneeltjies in. Goed, ek weet dit is om effek te skep, maar daar is ook so iets soos overkill.

Frank Rautenbach se acting aan die begin van die fliek het vir my ietwat eendimensioneel oorgekom, veral met Hansie se getuienis in die Rhema-kerk, maar soos wat die fliek ontwikkel het, kon ‘n mens sien hoe Frank werklik homself in Hansie ingrawe en as’t ware deel word van hom. Dit was by die toneel waar hy in ‘n hotel se sitkamer met Ali Bacher praat en vir hom sê dat hy krieket wil los, dat ek gewonder het waar Hansie ophou en Frank begin en andersom – hence die post se titel! Want iewers agter die uitbeelding op die skerm is daar die regte mens met sy emosies en belewenisse wat deur al hierdie storms moes gaan. Ek verwys weer na die boek. Gaan lees dit!

Teen die einde van die King-kommissie en daarna was Frank se uitbeelding genuine goed. Dalk het hy dit aspris só gedoen om die ontwikkeling by Hansie aan te dui. As dit die geval was, wel, excellent. As dit nie die geval was nie…kom ons hoop maar eerder dit was die geval. Sarah Thompson wat vir Bertha speel, doen deurgaans goeie werk, veral wanneer Hansie op die ou einde álles aan haar bekendmaak en later by die begrafnis. Net ietsie wat funny, maar darem nie steurend was nie, was wanneer Hansie en Bertha alleen in tonele was. Ons almal in Suid-Afrika weet tog hulle was albei Afrikaans, so wanneer hulle dan Engels met mekaar praat, was dit ‘n bietjie weird (Sarah se aksent het natuurlik nie hiervoor gehelp nie!). Maar, soos ek gesê het, dit pla nie juis nie. Sommer net ‘n kantaantekening. Ek het vir Eric Nobbs as Ewie Cronjé geniet en sou graag meer van Sybill Coetzee as Hansie se ma wou sien, maar helaas is dit ‘n fliek en nie ‘n mini-reeks nie, so sy het beperkte tyd gehad.

Oor die algemeen is ek werklik beïndruk met HANSIE. Die akteurs, vervaardigers, almal – dit is ‘n goeie stuk werk waarop Suid-Afrikaners met reg baie trots kan wees. Ek het so kwaad geraak vir die manier hoe die media hom afgemaak het as hierdie sleg hond, nadat hulle aanvanklik byna die grond waarop hy geloop het, aanbid het. En hartseer. Die tonele by Grey Kollege laat die hoendervleis soos pitswere op jou arms uitslaan so mooi en hartseer is dit. Ook later wanneer Peter Pollock Die verhaal van die verlore seun vertel en dit ‘n metafoor vir Hansie (en so baie van ons) se lewe word.

‘n Mens wonder of die vervaardigers van die begin af die internasionale mark in gedagte gehad het. Ek sou met groot trots hierdie fliek aan die res van die wêreld vertoon (behalwe dalk in Indië!). Dit bring sy boodskap van versoekings en vergifnis oor sonder om pragmaties te wees of so in-your-face evangeliserend soos Faith Like Potatoes. Hier kan jy self jou mind opmaak en ek dink baie meer mense gaan hulleself, of ten minste ‘n deel van hulleself, in Hansie se storie herken as in Angus Buchan s’n.

Dis ‘n goeie fliek. Ek hoop dit maak baie geld en ek hoop dit is Suid-Afrika se inskrywing vir buitelandse rolprent vir die Oscars. Ek hoop dit maak genoeg geld sodat Global Creative Studios nog sulke flieks kan maak en dat dit beleggers se beursies sal oopmaak sodat ek ook eendag in hierdie genre kan volg. Ek hoop veral dat hierdie huldeblyk vir die Cronjé-familie vertroostend sal wees. Ek wil hulle ook bedank vir die pragtige foto’s en footage aan die einde van die fliek – dit het amper soos skending van ander mense se privaatheid gevoel, maar ek wil dankie sê dat hulle bereid was om dit te deel.

Laastens hoop ek dat hierdie fliek vir baie mense sal kan wys dat versoekings jou soos ‘n maalkolk kan meesleur, maar dat die waarheid jou vrymaak en dat daar vergifnis en ‘n pad vorentoe is.

http://www.hansiecronje.com