TO Stranddiens # 10 : Dis Overall ‘n Fees Om ‘n Christen te Wees!

So ons is terug van Stranddiens af. Wat ‘n heerlike ervaring! Oe, dit klink so formeel…

Dit het gerock! Dit was awesome, excellent en flippen cool.

Vandat ons in die kar geklim het by die parkeerterrein van die kerk totdat ons vanmiddag (Sondagmiddag 6 Januarie 2008) so half drie se kant terug was, het ek dit geniet. Ja, natuurlik, om te sê elke liewe dingetjie het glad en sonder probleme verloop, is bloot nie realisties nie, maar dit was vir my regtig een van die heel lekkerste stranddienste. Dit was beslis die stranddiens waarop ek die heel meeste gelag het!

Om ‘n vinnige oorsig oor die week te gee, gaan ‘n mission wees, so ek gaan nou maar vertel soos dit in my kop opkom.

Elke dag se program het dieselfde verloop:
06:30 voogde op die strand
07:00 span op die strand vir bewuswording
08:00 ontbyt
08:45 Bidbuddies
09:00 regmaak vir strandspele
10:00 strandspele (aksiekrieket/touch rugby/sandkasteelkompetisie en strandgames/survivor)
12:30 middagete
13:30 regmaak vir poppekas
14:00 poppekas
14:45 konsertoefening
16:00 aftyd
17:00 Huisbesoek (soms)
18:00 aandete
19:00 bestuurspanvergadering (soms)
20:00 aandprogram (saalspeletjies/talentaand/konsert/praise & worship/youth bash/sokkies/koffiekroeg)
22:00 dagevaluering
23:00 slaaptyd

Die Sondag was daar ‘n erediens in plaas van strandspele en geen poppekas nie en op Oujaar was daar ‘n middernagdiens (wat yours truly moes lei sonder dat ek vooraf daarvan gesê is!).

Dis moeilik om alles te vertel, daar het so baie dinge gebeur. Besoek gerus die NG Vryheid TO Stranddienste group op facebook, dit gaan binnekort baie foto’s en nuwe goed op hê.

Waarby ek wil uitkom, was die ervarings wat ons gehad het.

Die sports en games was lekker, soos altyd en die poppekas was snaaks, soos altyd. Hano en Andreas was weer Wolf en Zebra (die 2 stoutetjies), maar hulle het meer gereëld die nuwe outjies kans gegee om hul plek te begin inneem. Wiam was die een dag die tandarts, Dr Naas, en het ‘n skreeusnaakse debuut-vertoning gelewer. Nogals ‘n natural.

Konsertoefening was maar bedrywig, maar nie so hectic soos wat dit al in die verlede was nie. Ek dink dit het baie te doen gehad met Marnie se aanslag. Sy wou ‘n gemaklike, uit-die-hart-uit konsert gehad het en ek dink ons het daarin geslaag. Ons het ‘n Trip Down Memory Lane gehad en al ons lekkerste mimieke gedoen: Testify To Love, Varkieliedjie, Don”t Stop Me Now, Everyday, In Die Hemel Is Die Heer, Dive, Walk On Water en dan die nuutste toevoeging, Jubeljaar (Louis Brittz-geel cd weergawe). Jubeljaar het net op die regte plek gekom. Ons wopu dit al lankal gedoen het, maar dit was net nooit reg nie – tot vanjaar toe. Soveel pret met een liedjie is moeilik om te hê, maar dit was net vrek lekker! Kudos aan Louis Brittz en al die ander ouens (Avalon, Prophet, Steven Curtis Chapman, Queen) wie se liedjies ons oor soveel jare kon bymekaarmaak en gebruik om deur danse die evangelie daardeur te verkondig. Dankie, dankie, dankie!

Die Praise & Worship-aand was ook awesome. Hierso sê ons onder andere ook dankie aan Michael W. Smith en Retief Burger vir sy bydraes tot gospel wat ons help om lekker te sing en die Here in Afrikaans te loof sonder dat dit klink soos iets uit ‘n kinderkrans-cd opname. Ek en Nelmarie Mahne het ons getuienisse gelewer tussen die liedjies deur en na die tyd was daar koffiekroeg, waar daar baie jongmense was. Daar was regtig meer jongmense as wat gewoonlik by ons praise & worships was en wat daarna vir ons kom vertel het van dinge in hul lewens. Dit was so ‘n lekker warm gevoel, soos wat ek maar altyd het na ‘n geslaagde TO p&w.

Niks kon my egter voorberei vir wat nog sou volg nie.

New years het gekom en gegaan en ek het twee dae voor die tyd gehoor het moet die diens lei en die preek doen. Gelukkig het ek al lankal aan ‘n idee vir ‘n preek rondom die verlore seun se agtergeblewe broer begin dink, maar my eksegese was regtig beperk tot die Nuwe Vertaling en die Heilige Gees se leiding. Gelukkig verwag niemand om ‘n uur lank in ‘n oujaarsdiens te sit nie, so dit kon maar kort wees!

Maar dit was vir my ‘n voorreg om so iets te doen op ‘n plek waar ek eintlik “groot” geword het en wat crucial was in my geestelike vorming. Die random dronk ou wat op die strand vir ons die Onse Vader kom try opsê het vyf minute voor die countdown en die girl wat die outjie wat kamstig besig was om dood te bloei se ma-hulle kom soek het 30 sekondes voor die countdown, was…’n bysaak. Die vuurwerke was mooi (die wat nie op die sand ontplof het nie).

Dit was egter nie die ervaring waarna ek wil verwys nie.

Die dag na ons heerlike feeskonsert was dit karavaan-ruildag in die oord, die 2e Januarie. Dit het beteken dat die meeste van die mense weg is en ons nog net ‘n klomp mense van die chalets en die villas en hier en daar ‘n karavaan gehad het. Die aand het ons ‘n Youth Bash gehou – wat eintlik maar net ‘n anderster tipe praise en worship sou wees. Nedine wou twee video-clips van Planetshakers speel: een vir ‘n intro en een net nadat ek die boodskappie sou lewer by ons “altar-call”-tipe (her)commitment-deel van die aand (julle weet waarvan ek praat!). Toe ons wou begin, wou die dvd nie deur die media players wat ons gebruik het, reg speel nie. So ons besluit toe om maar net aan te gaan met die res van die liedjies.

Ons p&w’s werk gewoonlik so dat ons die woorde in Powerpoint slides op ‘n skerm gooi met ‘n mooi agtergrond en dan werk ons met mp3’s en die program loop sonder aankondiging. Ons begin met ‘n paar lekker op en wakker “Praise” songs en gaan dan oor in rustiger “Worship”songs (ek weet mens onderskei nie eintlik tussen die twee soorte nie, maar dis bloot ter verduideliking). Ek (of die dominee wat saam is, maar gewoonlik ek) lewer dan ‘n kort boodskappie en dan sluit ons af met nog ‘n paar songs, waarvan die laaste een Friends van Michael W. Smith is.

Hierdie een was nie juis verskillend nie, maar ons het die saal ‘n bietjie anderster ge-setup. In die middel van die vloer het ons met papier ‘n kruis gepak en randomly rondom dit kerse in onderstebo polistireen-glase gesit. Die idee was dan om een aan te steek en dan, wanneer jy gereed was om ‘n (her)commitment te maak, dan het jy jou kers gaan aansteek en op die kruis gepak.
Ek het weer met die tema van die verlore seun gewerk, ‘n tema wat regdeur die stranddiens geloop het, van die voorkamp af al. Die ding waarop ons gefokus het die hele tyd was dat jy BY die Fees kan wees, sonder om DEEL van die Fees te wees – of jy nou die jonger of die ouer broer was.

En hier het ek toe, deur die genade van die Heilige Gees, onthou om die storie na albei geslagte toe te verleng – iets wat ek by my proffies op TUKS geleer het. Ek het begin deur vir die mense te sê ek wil vir hulle ‘n storie vertel wat hulle dalk al baie goed ken: die storie van die pa met twee seuns. Of die pa met die twee dogters. Of die pa met die twee kinders…

Ek is só bly dat dit gebeur het, want later was dít die sleutel wat gehelp het dat elkeen wat daar was die verhaal sy of haar eie kon maak.

Die dvd wou toe weer nie speel nie en Nedine speel toe net die liedjie, Saviour King, terwyl die kerse aan die brand gesteek word.
En toe, soos wat die kerse een vir een aangesteek word, het die kinders begin huil. Spanlede, oordkinders, groot en klein, almal was so aangdaan en oorweldig deur die teenwoordigheid van God wat op daardie oomblik so tasbaar geword het, dat dít die ervaring geword het wat ek só gehoop het ek weer op TO sou kon beleef. Al die spanlede het mekaar begin vashou en druk; vriende wat vir die eerste keer saam daar was, soos Wiam en Jan, kon ‘n dun oomblik saam God ervaar en ‘n splinternuwe vlak van vriendskap betreë. Marnie kon vir die eerste keer in ‘n lang tyd eerlik begin wees oor hul situasie by die huis rondom haar sussie wat in die afgelope jaar geskei is. Andreas kon beleef hoedat ander mense by hóm hul kerse kom aansteek. So kan ek aangaan…Ons het almal net by die kruis gaan sit en vir die kerse gekyk, terwyl die musiek net aangehou speel het. Ek het maar net gesorg dat daar die heeltyd musiek is wat in die agtergrond speel (dankie aan Retief en die Luidkeels Hersien-cd, by wie se opname ek was – special stuff).

God was getrou. God het Sy beloftes gehou. Die trane het gerol en God het harte aangeraak.
Wat ‘n aand! Dit is die tipe aand wat jy net op TO Strand kan beleef in die teenwoordigheid van God. As jy al ooit daar was, sal jy weet wat ek bedoel. Andersins hoop ek van harte dat jy al so ‘n nabye ervaring van God saam jou vriende kon beleef of dat jy dit nog sal beleef in hierdie lewe…

Die aand daarna was dit vir die girls nodig om bietjie alleen in hul kamer tyd te spandeer (ons los dit net daar) en toe het ons ouens ook kans gehad om alleen te kon gesels. Wanneer ons in die aande saam afgesluit het, het ek Bybelgedeeltes uit Dawid se lewe hanteer. Dié aand lees ek toe die deel waar Dawid aan Mefiboset, Jonathan se seun, genade bewys en ons chat toe sommer so oor vriendskap en hoe jy jou Christenvriende nodig het, veral by die skool wanneer ‘n mens teruggaan en jy nie meer elke dag in hierdie Stranddiens-tipe opset funksioneer nie. Hoe ons Christus vir mekaar moet wees en hoe ons ware identiteit nie lê in die aktiwiteite waaraan ons deelneem nie, maar in die feit dat ons seuns, manne, van God is.

Die gesprek het ook sy draai by masturbasie en seks gemaak en ek en Hano kon reguit met die hoërskoolouens daaroor gesels. Vir ‘n paar van hulle weet ek dat dit die eerste keer was wat hulle in ‘n geselskap was waar ouens nie iets vuils daarvan gemaak het nie, maar juis kon praat oor hoe mooi dit bedoel is om te wees. Dit was vir my net so ‘n dun oomblik as die vorige aand: die geleentheid om vir jonger outjies te kon wys dat ‘n Christen se lewe regtig lekker is; dat ons nie skaam is oor dinge nie, maar dat ons die lewe in al sy fasette anders (moet) benader as die wêreld rondom ons. Dit was ‘n reuse voorreg om dit wat ek al geleer het, akademies sowel as non-akademies, oor te kon dra aan die jonger ouens.

Hiccups met die spanbestuur, wat net soos in heeltemal afwesig was ten spyt, was dit ‘n Stranddiens wat ek altyd in my hart sal dra, veral ook omdat ek nie seker is of ek (hoe graag ek ookal wil) wel aan die einde van die jaar by die span sal kan aansluit nie.
NG Vryheid Moedergemeente se stranddienste het ‘n manier om hul temas uit te leef en hierdie een was nie anders nie:

Dis Overall ‘n Fees Om ‘n Christen Te Wees!

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: