Archive

Posts Tagged ‘gebed’

‘n Terugkeer na TO: die Stranddiens-comeback

December 9, 2007 2 comments

Okay, ek weet ek het al voorheen geskryf oor Comebacks en sulke dinge en julle weet ek love die underdog, die ouens wat terugkom en weer probeer, al daai manne – julle weet wie ek bedoel. Ek is ‘n fan!

Ek maak hierdie Desember ‘n comeback tot die Stranddiensspan van NG Vryheid Moedergemeente wat jaarliks dienswerk gaan doen op TO Strand by Leisure Bay, noord van Port Edward aan die Natalse Suidkus. Hierdie is ons gemeente se 10de stranddiens sedert 1 Januarie 2000 en daarom is ons tema ook Feesjaar – ons doen die hele Comrades-groen nommer-ding en alles. Dis awesome.

Ek was by al die vorige stranddienste betrokke, behalwe verlede jaar s’n (nr 9), nadat die vorige een (nr 8 ) ietwat awry verloop het vir my persoonlik. Okay, goed, ek was nie op die beste plek in my lewe daardie jaar gewees nie en die afwesigheid van laas jaar s’n het my goed gedoen. Ons (ek, Cobus en my broer) het wel gaan kuier vir so 2 dae, sommer net om vir Cobus te wys hoe ons dinge doen en so, maar dit het my laat besluit om dit tog te oorweeg om wel vanjaar weer te gaan.

En hoe verder dit in die jaar gevorder het, hoe meer het ek geweet: ek gaan weer vanjaar TO Strand toe. Daai plek het net iets, iets wat ek nie eens gaan probeer beskryf nie. Ek het altyd vir my vriendin Shalom gesê ek dink as God ooit ‘n vakansieplek sou kies, sou dit TO Strand wees. ‘n Mens beleef God daar maar net soos op geen ander plek in Suid-Afrika nie.

Ek het toe die organiseerder, Hano du Plessis, laat weet ek wil saam gaan as ‘n gewone voog (ek was al voorheen iets soos Onder-Geestelike Leier). Ek en Hano kom ook al ‘n lang pad, was saam op skool (hy was ‘n jaar voor my) en saam op Stranddiens van die 2de een af.

Ek is so bly ek gaan weer.

Ons het verlede naweek ons spanbou/voorbereidingskamp gehad op Oom Pieta en Tannie Marie Fourie se plaas tussen Utrecht en Vryheid. Hulle het ‘n kampterrein wat nogal ideaal geskik is vir kleiner groepe (30-40 mense) en wat ons gemeente baie dikwels gebruik. Daar is ‘n saal en slaap/ablusiegeriewe en ‘n braai lapa. Daar is ook ‘n lekker dam, perde en ‘n heerlike berg om uit te klim – die ideale plek vir spanbougeleenthede.

Ek was so aangenaam verras deur die span tieners wat saamgaan! Die meeste van hulle was nog in die laerskool toe ek klaargemaak het met skool en daarom is dit soos om ‘n splinternuwe span te leer ken en deel van hulle te word. ‘n Paar van die kinders was op nr 8 gewees en ‘n klomp het ek laas jaar geleer ken op die voorbereidingskamp en toe ons daar gaan kuier het, so nou was dit regtig ‘n voorreg om weer met die tieners te doene kon kry en te sien hoe hulle groei in hul geloof en die pad wat hulle gaan stap saam hulle aan te pak.

Ons is omtrent 10, 11 voogde wat elk so 2 of 3 kinders in ‘n voogdegroepie het na wie ons omsien. Wanneer ons onder by TO aan die aktiwiteite deelneem, team die groepe 2-2 op en trek dan van die oord se mense in om saam deel te neem. Maar wanneer dit by Bybelstudies en sulke tye kom, is dit net jy en jou voogdekinders.

Ek het 3 voogdekinders en ken net die seun, en eintlik net omdat ek en sy broers vriende is (hy is die jongste enetjie). Die twee girls ken ek nie, maar my ouers ken hulle en hul ouers goed (‘n Mens raak vinnig uit voeling met jou tuisdorp as jy vir 5 jaar lank basies net tydens vakansies daar is!). Vinnig-vinnig het ek genoeg inligting opgetel om agter te kom ons sit met ‘n geskeide gesin en ‘n gesin met gesinsgeweld. Eish…en dis net hierdie twee kinders! Elkeen dra maar sy pakkie seer saam en my gebed is dat hierdie Stranddiens vir hulle genesing sal bring (hoewel dit waarskynlik nie hul probleme gaan kan oplos nie). As ek net ‘n instrument kan wees on hulle te help om God se teenwoordigheid en nabyheid opnuut te beleef, sal dit awesome wees. Die een girl se broer, wat maar 11 maande jonger as sy is, gaan ook saam. Dis altyd lekker om die jong outjies te sien en die geloofspad wat hulle loop. Dis vir my amper intenser as die girls s’n (tot ‘n mate, ek probeer nie veralgemeen nie!!!).

Ná die kamp het ons ‘n 24uur gebedsmarathon in die kerk gehad, die Le Bid (afgelei van Le Mans af, ja!). Ek het laasjaar ook geskryf oor iets rondom gebed wat gebeur het voor verlede jaar se Le Bid wat, dank Vader, nie weer vanjaar gebeur het nie! kyk by ‘Die Feesmaal (I)’.

Dit is nou al die 6e jaar wat ons dit doen: al die kinders word in skofte ingedeel om diens te doen (daar is kerse wat vervang moet word en hulle moet ‘n ogie hou dat die kerk nie afbrand nie – dis ‘n NG Kerk so daar is BAIE hout!) en om te bid. Daar word 15 “stasies” in die kerkgebou geplaas wat op mekaar volg en waar ‘n mens kan bid vir spesifieke dinge wat op papiere geskryf word en dan daar opgeplak word. Daar is 3 papiere: een met behoeftes vir die Stranddiens, een met behoeftes vir die dorp Vryheid/die land, en een waarop jy jou eie persoonlike behoeftes kan skryf soos jy voel. In die kerk word daar net hier en daar ligte aangesit – dit word maar meestal deur die kerse verlig – en sagte musiek, soos daai dolfyngeluide of waterklanke-tipe goed, word gespeel. Die idee is dan dat jy so 2 minute of so by elke gebedstasie spandeer en vir die sake op die papiere bid. Dit raak gewoonlik langer as 2 minute! Die onderwerpe wissel van wysheid rondom besluite, veiligheid op die pad en die regte weer tot die samehorigheid en gehoorsaamheid van die span en hul fisiese en geestelike gesondheid. Die laaste stasie wat so ewe op die preekstoel geposisioneer is, word ingerig as die stasie waar jy kniel en jouself hercommitt tot die span en net spesiaal tyd saam met God spandeer.

Dit is ‘n ongelooflike ervaring, ook om te sien hoedat hierdie jong kinders deurnag wakker bly (in die kerksaal natuurlik, waar daar fliek gekyk en mafia gespeel word!) om te kom bid, en ook om te sien wat dit aan hulle doen en hoe getrou hulle in dit is. Omdat die skofte so ver uitmekaar is, kan jy ‘n goeie slapie inkry tussen jou shifts as jy te moeg is.

Die moederskamer word ook ingerig as die “Stranddiens-kamer” waar ons al die vorige Stranddienste se T-shirts uitstal, met foto’s en al die name van die mense wat saamgaan. Dit word ‘n tipe “shrine” waar jy enige tyd kan gaan bid en na die musiek luister wat daar speel – dit verskil van die groot kerk s’n, dis gewoonlik ‘n praise en worship soort mix: Michael W., Louis, Retief…daai ouens. Daar het die voogde van ons wat die aand daar was vir elke kind afsonderlik gebid. Dit was nou vir jou ‘n challenge! Nie die bid gedeelte nie, maar om wakker te bly, want daai moederskamertjie raak maar bedompig en as ‘n mens só laat in die aand in ‘n plek bid wat bietjie suurstog-uitgeput is, raak dit ‘n challenge om wakker te bly!

Daar het ons ook gesien dat die Here ‘n spesifieke pad met die kinders stap en party kinders (lees: ouens) in besonder. Dis lekker om die nuwe generasie te sien groei in Christus. Ek kan nie wag om te sien wat alles op Stranddiens gaan gebeur nie!

Ek sal later bietjie van die vorige Stranddienste vertel. Dit is seker die single most important belewenisse in my lewe wat die meeste impak op my gehad het. Ek wens almal kon sulke goed beleef terwyl hulle op hoërskool was en daarna.