Archive

Posts Tagged ‘strandspele’

TO Stranddiens #03: MAGIC…7-14 Januarie 2001

December 19, 2007 Leave a comment

Vir hierdie inskripsie het ek afgekom op my oorspronklike dagboek-inskrywing (ja, ek het my hele hoërskoolloopbaan ‘n dagboek gehou!) direk na afloop van die betrokke stranddiens. Daarom plaas ek dit onveranderd. Net ‘n verduideliking of twee vooraf: die naam “Maruis” is nie verkeerd gespel nie, daardie ou het sy naam so gespel met die “u” voor die “i”. Ook het ek nie aan die teologiese insigte of sulke goed geraak nie. Hier is my account van NG Vryheid Moedergemeente se 3e stranddiens by TO Strand dan, onveranderd:

15 Januarie 2001

Die jaar het afgeskop op ‘n wonderlike, ongelooflike, fantastiese, asemrowende manier wat ‘n mens nie kan beskryf nie. Dit het alles te doen met TO, God, Maruis en Magic. Maar daaroor sal ek later skryf. Van nou af gaan ek elke dag skryf wat die Here vir my vandag gesê het.

Vandag se boodskap is Efesiërs 1:3-14: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al dieseëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het HY…ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees…Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe…Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het…Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. Die Heilige Gees is die waarborg dat…God…almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons Sy grootheid prys.”

Hoekom ek sê TO was net eenvoudig Magic, is omdat God dit in ‘n wonderwerk verander het. Ons het Saterdag, 6 Januarie, spanbou gehad op Oom Tommie-hulle se rivier. Toe, die aand by die saal, nooi Oom Ferdinand vir Herman Jordaan om saam te gaan! Nou kyk, almal in Vryheid weet Herman is die grootste psycho en freak binne ‘n radius van 100km, en toe hy daar aankom, vra Sonél vir my: “Wat gaan ons nóú maak?” Want die kanse is groot dat hy ‘n Mariet-tipe kan trek en dan is ons span in sy moer in. Maar, “our Lord works in mysterious ways,” en op die ou end sou God vir Herman gebruik om by Maruis uit te kom.

Ons ry toe Sondag na kerk. In die kerk het ons ‘n mimiek op ‘n Louis Brittz-liedjie, “Gaan na jou buurt,” gedoen en so het God ons TO toe gestuur.
Toe ons by TO stop, toe staan ons daar rond. Sonél, soos wat sy nou maar is, sien toe hierdie groep seuns raak en gaan praat met hulle. Dit sou Maruis, Kobus (Koos), Ruan, Johan, Charl en Corné wees, maar toe sy my aan hulle bekendstel, kon ek onmiddellik nie eens een naam onthou nie. Sondagaand het ons lekker geslaap, maar die muskiete het ons (elke ander aand ook) omtrent weggedra.

Maandagoggend 5-uur het ek en Ferdinand gaan draf, en ek het net skielik bewus geword van die Here se almag en hoedat Hy my seën. Ons het elke oggend 6:30 bewuswording op die strand gehad, en God se goedheid was net by ons. Die Bybelstudie het gegaan oor hoedat God in my en ek in Hom is. Ons het sandkasteelkompetisie gehad en ons span het (wonder bo wonder) gewen. Poppekas was orraait, maar ons het ‘n bietjie vinnig gepraat. Konsertoefening het ook heel goed afgeloop. Die aand het ons speletjies gehad, en dit was baie lekker. Toe het ons al (weer) vir Maruis ontmoet, en ons het gesien, soos wat Shalom dit gestel het, hoedat hulle skree vir hulp.

Dinsdag was die beste dag ooit. Ek, Marnie en Liani het gaan drag en toe is ons weer strand toe. Elke oggend was die see net ongelooflik mooi. Bewuswording was weer baie spesiaal. Bybelstudie het gegaan oor dat my liefde vir God my enigste dryfveer moet wees. Sonél het toe alreeds baie tyd saam met Maruis deurgebring, en Herman ook. Ons het touch-rugby op die strand gespeel en dit was nogals lekker, al het my span laaste gekom. Poppekas het gerule. Dit was ‘n hit deur en deur. Konsertoefening het netso goed afgegaan – ons het die hele “Ek Leef” in ‘n halfuur se tyd geleer!

Die aand met ete het dit begin reën, en ons maak toe reg vir Praise en Worship vir as dit sou reën. Ons bid toe dat die Here se wil sal geskied, en net toe ons klaar gebid het, het die reën opgehou en het ons ‘n volmaakte reënboog gesien. Dit was vir my die teken van God se grootheid. Ons het toe die beplande strandmars gehou en daarna koffiekroeg bo by die huisies. Daardie aand het Koos sy hart vir die Here gegee en die maansverduistering het plaasgevind.

Later die aand, na ek en Koos ‘n ruk gesels het, het hy buite by Jorita gestaan waar sy met Ruan en Johan gesels het. Sonél kom toe aangestap en ek kon sien iets is heavy fout met haar. Sy gryp my toe aan die arm en ons het onder by die trappies gesit en oor Maruis gepraat. Sy het gesê sy kon nie meer nie, sy weet nie meer watter kant toe met Maruis nie. Sy het als probeer en dat hy so kwaad is hy kan moord pleeg. Ek sê toe vir haar ons moet bid vir ‘n wonderwerk en glo dat een gaan gebeur. Hano en Wilna kom sit ook toe daar en ons besluit toe om almal van die span wat nog wakker is bymekaar te kry en ons bid toe vir Maruis. Dit was ‘n ongelooflike amazing ervaring om te sien hoe elkeen hierdie ou wat ons eintlik glad nie ken nie, aan God opdra en Hom vertrou vir ‘n wonderwerk in Maruis se lewe.

Maruis kon daai aand nie slaap nie. Drie-uur die oggend het hy alleen op die rotse gesit. Sonél het kort-kort wakker geword en dan vir Maruis gebid.

Woensdag kon ons duidelik ‘n verskil in Maruis se lewe sien. Hy was baie rustiger en kalmer gewees.
Woensdagoggend is ek alleen strand toe, vroeg die oggend en ek kry toe vir Oom Ferdinand en Tannie Annatjie daar. Ek vertel hulle toe van die gebede vir Maruis en watse impak dit op ons almal gehad het. Bewuswording was weer eens soos jou vitamiene vir die dag. Bybelstudie het gegaan oor dat jy baie met God moet praat deur die dag. Ons het ‘n see-jol vir gesinne gehad op die strand en dit was baie lekker. Maruis het ook daar aangekom en saam gespeel. Koos-hulle was vir die dag weg, ek dink Margate toe.

Poppekas was ook weer ‘n treffer en die kinders het hulleself geskeur vir Hano en Morné. Dié middag het ons die hele “Testify to love” en ‘n groot deel van “I vow to thee” geleer, weer eens in ‘n rekordtyd. Die aand was dit sokkie en dit was baie lekker.

Donderdag het dit vir my gevoel of alles ‘n totale flop gaan wees en dit het gevoel asof die span uitrafel. Bewuswording was ons op die rotse aan die regterkant van die stand gesit en alhoewel dit spesiaal was, was Shalom en Landie laat gewees. Bybelstudie het gegaan oor dat jy onder jou geloof moet vuurmaak, en glo my, dáái dag was ‘n grootskaalse toets vir ons geloof en vertroue op God. Vir volleyball kon ons byna nie ‘n net in die hande kry nie en ons het ‘n halfuur laat begin. Die vorige dag het oom Deon en oom Jan die mic se extension gebruik om die een luidspreker reg te maak, en toe sit ons by Poppekas sonder ‘n mic.

Ek het ook voor die tyd gesien hoedat Koos en Maruis buitekant die saal tafeltennis speel. Toe hulle weg is, sien ek dat iemand bo-oor die advertensie-bord gekrap het en by die tye geskryf het: “Rook, eet slaap en drink.” Dit het my ongelooflik seergemaak en ek was woedend gewees. Nie soseer vir Maruis-hulle nie (wie anders kon dit gedoen het?) maar vir die duiwel wat ons dag met die hoogtepunt, die Konsert & Kruistog, omver probeer gooi. Ek het toe my wit hemp wat ek aangehad het, uitgetrek en die bord daarmee skoongemaak. Daarna was die hemp so opgemors dat dit die nuwe Loser-hemp geword het (die oue is in die asblik gegooi vir aroma en nie weer gevind nie). Alhoewel die poppekas-boodskap van moenie rommel strooi nie goed deurgekom het, was dit frustrerend en moeilik sonder die mikrofoon.

Konsertoefening het eintlik goed gegaan, maar die heeldag en heeltyd het Herman probeer oorvat en alles wat tannie Annatjie gesê het, herhaal. Hy het my grensloos geïrriteer en toe ek na die tyd vir hom sê dat ek en Marnie in beheer is en dat hy vir ons moet luister al is hy ouer as ons, het hy homself gestrip en gesê ek sal nie so met hom praat nie. Ek ruik toe sy asem en sê vir hom ek kan hom ruik, wat hy toe woedend ontken. Ek sê toe ek hoop sy gewete pla hom, as hy ooit so iets het. Ek wou regtig nie met hom baklei nie, maar dit het gebeur. Ek wou graag voor die aand met hom vrede maak, maar het toe nie daarby uitgekom nie. Voor ete het ek oor die foon met Werner gesels, en Jorita ook. Ek het hom vreeslik gemis op die stranddiens.

Toe ons by die konsert uitkom, is daar skielik nie genoeg kerse vir almal nie. Marnie bid toe vir ons voor die tyd dat God dit net sal seën tot Sy eer. Ons het begin met “Ek Leef” en dit het gelyk of Maruis ons uitlag. Ek sou later uitvind hy het vir Herman gelag wat die heeltyd ‘n step agter ons was. “Ek sing en lag en dans” was orraait, maar Odie het ‘n bietjie geval by “Ek Leef”, so ek was redelik opgetens. Daarna was dit die skreeusnaakse “Gaan na jou buurt”, wat okay gegaan het.

Toe het ons “Testify to Love” gedoen en afgesluit met “I Vow to Thee”. Daarna het ons almal in die paadjie na die strand toe gestaan met ons kerse en die pad vir die mense verlig. Almal is na die rotse toe waar ‘n kruis gestaan het wat Rukus en Landie met foelie oorgetrek het. Teen die rotse op het ons weer ‘n brandwag gestaan. Die view af na onder toe was ongelooflik mooi. Oom Ferdinand het ‘n boodskap gelewer en daarna is ons na die volleyball baan waar die kampvuur gebrand het. Ek en een van die twins (Elru en Ruduan Pieterse) het by die ingang gestaan en vir die mense verlig.

By die kampvuur gekom, kry ek vinnig vir Maruis, en hy sê toe vir my dat daar party van ons kinders is wat hom afsit. Ek sê toe vir hom hy moenie dat die kinders van die span in sy pad staan nie. Daai aand het ek, Hano en Rukus vir Koos en Ruan gebid. Almal wat ‘n recommitment wou maak of vir die eerste keer hul harte aan die Here gegee het, het hulle name op die kruis wat ons saamgevat het geskryf. Toe ek saam met Koos en Ruan in die saal instap verby Maruis en Sonél, vra hy kwaad vir hulle: “Trek julle ook nou ‘blind’?” En Koos het hom geantwoord: “Dis ook orraait!”

Ons is toe boontoe om koffie te drink. Net voor evaluering kry Oom Ferdinand my en sê dat Herman-hulle vir hom gesê het Maruis is na die rotse toe en dat hy hom gaan soek. Sonél was iewers waar sy die heeltyd gebid het. Ek en Landie het bid-buddies gehad en ons het saam gehuil oor verlore ouens soos Maruis en dat ons ook graag iemand so na God toe wil lei. Evert het toe ook daar kom sit en huil. Toe ons opstaan en teruggaan na die eetplek toe, sien ons vir Hano…met Maruis by hom!!! Nou kyk, wat presies gebeur het, weet ek nie, maar Maruis het toe sy hart vir God gegee!!! Ons was só bly toe hy, Koos en Ruan daar wegstap en ons weet hulle is gered. As ons, wat maar aardse mense is, só verskriklik bly is oor een siel wat gered is, hoe bly moet die engele in die hemel dan nie wees nie? Ek sweer hulle het geparty.

Koos en Ruan het toe weer later daar aangekom, want hulle sou 6-uur die volgende oggend ry. Koos het byna die helfte van die sak toffies saam met hom daar weg Pretoria toe. Hulle het ons 6-uur Vrydagoggend kom groet.

Vrydag was ongelooflik lekker. Bewuswording op die rotse was ‘n belewenis. Soos wat die flitse die vorige aand op die kruis geskyn het, het die son op die kruis geskyn en hom verlig. Bybelstudie het gegaan oor dat ek my daarin moet verlustig om God se wil te doen. Skattejag was lekker, maar kort. Daarna het ons in die swembad geswem. By die pooltafels het Jorita vir Maruis met Schweppes gegooi en ek en hy het haar toe in die swembad laat beland. Sy het hom toe weer teruggekry deur sonblok binne-in sy plakkies te smeer. Elke keer as hy wou rook, het hy chappies gekou.

Poppekas was orraait, maar ons was weer eens sonder ‘n mic. Die middag is ons Port Edward toe en daar het ons superttube gery – flippen lekker! Die aand het ons Praise en Worship gehad. Dit was ‘n baie aandoenlike belewenis. Toe ons die Hosanna-medley gesing het en by die deel was van “Nuwe Jerusalem” toe besef ek dat die Here ook die werk wat Hy deur ons in Maruis se lewe begin het, sal voleindig. Teen die einde van die aand, toe ons vir die soveelste keer “Friends” van Michael W. Smith sing, het almal gehuil. Die spanfoto gaan vreeslik baie rooi oë op hê!

Toe is ons saam met Maruis strand toe en ‘n paar van sy “vriende” (puh-leeze, hulle is sulke regte rook/drink-losers) was ook daar. Dan vra hy vir hulle om nie naby hom te rook nie en as hulle rook, staan hy op en loop weg. Toe hy in die paadjie sit en ‘n ander meisie langs hom begin rook, sê hy: “Iemand, bring net vir my ‘n Bybel of doen iets, want ek wil rook!” Toe sê ons vir hom Psalm 23 op en toe’s dit weer beter

Ek, Evert, Deon en Herman het buitekant geslaap Vrydagaand, of eerder probeer slaap, want Morné het so met daai meisies gekuier en hulle het so gerook dat dit ‘n wonder is dat ons enigsins slaap ingekry het. En om alles te kroon byt ‘n muskiet my toe op my bo-lip.

Saterdag is ons toe Shelly Centre en Uvongo toe. Ons het vir Maruis daar gekry en hy het saam met ons gaan fliek. Herman, met wie ek Donderdagaand vrede gemaak het, het in die fliek begin koud kry en aan die slaap geraak. Na ‘n rukkie word hy wakker en sê weer dat hy koud kry. Toe sê ek vir hom om badkamer toe te gaan. Ná die fliek vertel hy dat toe hy in die badkamer kom, wonder hy: ‘Wat maak ek hier? Ek moet gaan fliek!’ Ek het gedink dit sou dalk warmer wees daar. Die aand het ons tot 11:00 toe gesokkie. Ek, Odie, Marnie en Elmi het probeer om te deurnag. Ek het 03:25 aan die slaap geraak, maar 03:40 toe maak Odie my wakker om vir Maruis te groet. Hulle het 04:00 die pad terug Pretoria toe gevat. Ek het toe gaan bad en in die bad aan die slaap geraak.

Sondagoggend het ons vir ‘n laaste keer evaluering gehad. Shalom sê toe: “Toe ons die eerste keer na ‘n tema gesoek het, was al die voorstelle so bymekaar geskryf, maar MAGIC het alleen gestaan. Toe sien Yolandie dit en sê: ‘Magic! Mag Almal Groei In Christus.’ En Hano het verkeerd gehoor en dit het “MAGIEGH” geword.”

Dit was soort-van die seël op alles. Dit was die beste week ever. Ons het gegaan om ander te help om in Christus te groei en op die ou end het onsself die meeste gegroei. God het ons geseën met al die seëninge moontlik. Hy het Sy almag bewys deur die oneindigheid van die see, die goue son op die water, die ontelbare sandkorrels, die maansverduistering, die reënboog in die lug, die sterre en die natuur. Sy liefde is bewys in Maruis se lewe en Sy genade deur die wonderwerke wat hy laat gebeur het.

Daar het nog ander goeters ook op die stranddiens gebeur. Soos die alewige Claudia wat van sonop tot middernag by ons geboer het en op Ferdinand verlief was. En Rukus wat verlief is op Landie, maar Landie wat nie van hom hou nie. En dat die poppekas se olifant ‘n graad in gras het. Gras wat? Grasgroen! En dat ons elke dag vrek lekker kos gekry het by oom Deon en tannie Sharon Harris. En dat die swembad vir die grootste deel van die week so ‘n piepiegroen was – AIDS op sy eie. En dat “Sky” van Sonique tot vervelens toe deur ons ore gedreun het, te danke aan Hano en Rukus. En dat ek, Ewald en Evert ‘n engelse oom gehelp het om sy karavaan op te slaan (hy het nie ‘n cooking clue gehad hoe nie). En dat Herman eintlik ‘n flippen snaakse ou is. En dat “Friends” op die ou end ons temalied geword het.

Teen 15:45 Sondagmiddag was ons terug in Vryheid. Met Jesus se krag in ons, reg vir die nuwe jaar.

    Stranddiensspan 7-14 Januarie 2001:

Tiaan van Niekerk
Adriaan ‘Odie’ Odendaal
Hano du Plessis
Rukus Erasmus
Ewald Hanekom
Evert Erasmus
Ferdinand van Niekerk
Johan Pollard
Deon Harris
Morné van der Merwe
Herman Jordaan

Marnie van Niekerk
Sonél de Bruin
Jorita Lourens
Landie Fourie
Mariette Hanekom
Wilna van der Westhuizen
Liani Lourens
Lizahn Lourens
Marita Kok
Yolandie Jansen
Shalom Harris

Mag Almal Groei In Christus
May All Grow In Christ