Stranddiens #01: 1-9 Januarie 2000

Stranddiens #01: 1-9 Januarie 2000

Ons eerste stranddiens na TO Strand toe het eintlik baie toevallig gebeur en was veronderstel om net ‘n eenmalige gebeurtenis te wees. Sien, RAU (toe nog RAU!) het altyd twee vol spanne gestuur gedurende die Desember-vakansie: een span wat vir twee weke gegaan het tot net ná Kersfees en dan ‘n tweede span wat dan so van die 26e tot 7 Januarie daar sou bly. Die mense wat die oord ken, weet ook daar is blokruilings van vakansiegangers wat in en uit beweeg.

Dié betrokke jaar kon RAU se 2e span net tot Nuwejaar bly – ek weet nie hoekom nie – en hulle het dus iemand nodig gehad om die gaping te vul. Die onderbestuurder van TO Strand op daardie stadium was Jan Erasmus – ons een predikant by NG Vryheid Moedergemeente, Ferdinand van Niekerk, se swaer. So, hy bel toe ons gemeente en hoor of ons nie lus is om ‘n span te stuur nie – sommer maar net, kyk wat ons kan doen, jy weet, niks heavy nie. Oom Ferdinand en sy gesin was ook ou bekendes aan die oord en aan dit wat die stranddiensspanne daar gedoen het en hy stem toe in.

Die Jeug by Vryheid Moedergemeente was in daardie tyd nie baie groot nie, maar dinge het tog begin optel. Die probleem was egter om mense so laat in die vakansie te kry wat nog nie ander planne gehad het nie en dus kans sou sien om op ‘n stranddiens te gaan (nie dat ons regtig geweet het wat dit beteken nie – ons het nie eens geweet waar die plek is nie!). Maar op die ou end was ons 19 mense altesaam: span, geestelike leiers en kosma en haar dogter ingesluit! Die amazingste van dit was dat ons dit alles bymekaar gekry het in ‘n week. Op die ou end het ‘n groot gedeelte van die span bestaan uit kinders wat in ons selgroep van daardie tyd was.

Natuurlik moes ons T-shirts kry, en dom genoeg besluit ons op wit, met sulke cheap print op. Okay, die print was nie heeltemal ons skuld nie – die printing plek het nie met die design gedoen wat ons in gedagte gehad het nie, maar ons gaan toe nou met hierdie dun see-through wit hempies en die slagspreuk (beleef die awesome alliterasie): “Bly Aan Die Brand Op Die Strand”. Ja, ek weet.

En so, op die eerste dag van die nuwe millennium, sit ons toe in ‘n konvooi bakkies en karre af TO Strand toe…

Die eerste dag of wat was dit reënerig en ons het dit gebruik om onsself te oriënteer en die plek te verken. Ons kon darem OordBybelstudie en Poppekas hou, want dit was in die saal en speletjies in die aand ook. Later, toe die weer beter was, het ons touch rugby en sandkasteelkompetisie en sulke goed in die oggend op die strand gehad. In die middag het ons met die kinders in die swembad gespeel.

Die lekker ding van daardie kamp was dat daar GEEN reëls was nie. Niks. Daar was nie inkomtye en sulke goed nie. Jy het gaan shower wanneer jy ‘n kans gekry het en jy het gaan slaap wanneer jy wou, solank jy die volgende oggend vir bewuswording op die strand was. So, sommer die eerste aand al na ons afgesluit het, is so vier van ons af strand toe. Ek het in daardie tyd my oog gehad op ‘n girl met die naam Sonèl de Bruin, en wat is dan nou meer romanties vir ‘n 16-jarige as ‘n maanlignag op die strand? Hmm…

Ja. Daar sou egter niks van kom nie, want ek en Sonèl het net so gaan sit, toe hoor ons ‘n vreeslike geskree en lawaai. Dit is toe 3 ouens (2 van hulle sou ons later jare dikwels weer daar raakloop) wat so standerd 9, matriek se kant was, ‘n jaar of twee ouer as ons – Bertie, Etienne en Willem. Hulle hardloop daar op die strand rond met plastiekstoele wat hulle by die gamesroom gevat het en sulke lawwe goed. En omdat ons aangesê is om almal te groet en na die vakansiegangers uit te reik, het ons met hulle pelle gemaak en saam met hulle soos mal goed rondgehardloop. Eenuur die oggend op TO se strand. Dit was die eerste mense met wie ek vriende geword het op TO Strand (my score was natuurlik heeltemal daarmee heen!).

Dit sou van die lekkerste paar dae van my lewe word. Nie net omdat ek lief is vir die see oor die algemeen nie (TO het die lekkerste swemstrand waarvan ek weet), maar ook omdat dit die tipe ding was wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie en dit nou kon doen saam met vriende en mense wat vir my omgee. Onthou, ek was nie baie gewild rondom standerd 7, standerd 8 se kant nie en vir ‘n tiener is die soeke na aanvaarding en standvastigheid dan redelik huge, so hierdie was presies wat ek nodig gehad het.

Daar was ‘n paar skreeusnaakse tye ook gewees. Een van die kere wat ons huisbesoek gedoen het, het ontaard in ‘n stryery tussen die spanlede by ‘n gesin vakansiegangers se karavaan oor watter hoërskool in Vryheid die beste is. Die vakansieromanses het ook nie agterweë gebly nie en gou-gou was daar ‘n couple of twee in die span en buite die span-ish.

Sonja Herholdt het ook ‘n konsert daar gehad. Oom Ferdinand-hulle het ons so half-en-half verplig om die aand die konsert by te woon – sy seun, Ferdinand Jr (of Boeta, soos almal hom genoem het) moes haar spotlight vir haar doen. Dit was net so voor Reconstructing Alice, so dit was die laaste dae van die ou Sonja – net om julle ‘n idee te gee. Ons sit toe die middag ná Poppekas buite die saal terwyl hulle opstel en Anelda, Sonèl se sussie, sê toe: “Ek weet nie hoe ek vanaand gaan wakker bly en na hierdie boring show gaan kyk nie.” Met Sonja wat reg agter haar uitkom en vra:
“Wie is boring?”

En dan was daar Mariet. Net gou ‘n nota: ons stranddienste is gewoonlik gekenmerk deur een of ander persoon wat eintlik half die odd one out is, maar ook saam is, en so aan…dié persoon verskaf kleur en geur, selfs al staan hulle ietwat uit en dié girl was hierdie slag die Odd One Out. Sy het byvoorbeeld T-shirts gedra met heavy Draai-Of-Braai slagspreuke op, wat die kinders half afgesit het. Sy het ook een keer in die groep gesê dat as jy tydens Praise en Worship nie bedoel wat jy sing nie, gaan die demone in jou inkom…

En sy’t gerook. Nou, ek is lankal verby die ding van rook-drink-vloek is die Onheilige Drie-Eenheid, maar in daardie tyd was ek nie en nie een van die ander kinders ook nie. So, toe ons dit uitvind, besluit ons om dit te exploit. Ek, Werner, Landie en Marlene kry toe haar pakkie sigarette in die hande, breek die filters af en los vir haar ‘n nota: “Uitgevang!”

Okay. Ons was 16. Tieners is evil en irrasioneel en dis hoe hulle dinge dikwels hanteer. So sit ons toe ook die een aand almal agter die bungalows waar die ouens en meisies geslaap het (ja, aparte bungalows!) en gesels. Sommer so random, die hele groep van ons. En dit raak toe nogal loud en Mariet, wat vroeër die dag vir haarself ‘n kierie gekoop het by die verkopers by die ingang na die strand, kom toe uit.
“Kan julle asseblief sagter, daar is mense wat probeer slaap!” het sy uitgebars. Okay, dis seker waar, maar dit was ook maar half elf – nog nie regtig só laat nie.
“Ag, Mariet, ons mag nog gesels,” het Anelda teruggekap. Mariet draai toe brom-brom om en gaan terug na haar bed toe. Natuurlik begin ons toe almal haar bespreek en oor haar lag. Odie vat toe ‘n lemoen en gooi dit kliphard teen die agterste muur van die girls se bungalow – presies waar Mariet se bed is!

Toe was sy woedend. Sy het uitgekom (met haar kierie) en vir ons kom sê:
“Julle behoort ander mense te respekteer as hulle wil slaap!”
Waarop Anelda antwoord: “Ag, Mariet, kyk jy na jou rookprobleem en dan sal ons na ons probleme kyk.”
“Dis damn moeilik om op te hou,” het Mariet kwaad gesê.
“Ja, wel, dis damn moeilik om nie te lag nie,” het Anelda geantwoord. In ‘n stofwolk van woede storm Mariet toe daar weg (met haar kierie) na die telefoonhokkies onder by die saal toe (ons het toe nog nie almal selfone gehad nie): “EK GAAN NOU MY OUERS BEL!”
Dis toe darem later uitgesorteer. Mariet was nooit weer saam Stranddiens toe nie. Sy is vroeër vanjaar getroud en ek hoop sy het ‘n gelukkige huwelik.

Louis en Malan, twee van die ouens op die span het ook die een aand besluit om die girls bietjie bang te maak. Hulle sê toe vir Marnie, Oom Ferdinand se dogter, dat hulle dit gaan doen – net sodat iemand aan die binnekant darem weet. Hulle klim toe die een aand laat met besems bo-op die girls se bungalow se dak. Nou, die bungalows was toe nog sulke houthutte met asbesdakke – vrek warm en bietjie onprakties vir ‘n seekamp, maar wat kan mens nou doen.

Malan en Louis begin toe met die besems op die dakke vee. Die geluid aan die binnekant van die bungalow was baie scarier as wat enigeen kon dink. Met een sprong was Landie bo-op Marnie se bed en sy probeer toe net die verskrikte girls kalm hou. Albertha sê toe dat hulle doodstil moet bly en bid (Marnie, in die meantime, sukkel so om haar pose te hou, dat sy dit amper nie meer kan regkry nie). Toe die meisies doodstil is, skree Albertha meteens: “WYK SATAN!”

Die laaste aand van die Stranddiens het ons ‘n sokkie gehad. Na die tyd het ons die kosma, Tannie Henriëtte Wasserman, se dogter, Carien, by die huisie waar hulle gebly het, gaan aflaai. Omdat die spanleier, Etienne Nel, die enigste ou was wat ‘n lisensie gehad het, was hy die enigste een wat toegelaat is om ‘n voertuig te bestuur – so ‘n kleinerige double-cab bakkie (ek kan nie eens die maak onthou nie) met ‘n canopy op. Niemand is toe lus om terug te stap bungalows toe nie (dis nie regtig so ver nie, maar come on, ons kon op die bakkie ry, so yeah!) en ons bondel toe die meeste van ons in die bakkietjie in. Oorvol. Werner en Danie van der Merwe het agterop gestaan en ek het in die canopy se linkervenstertjie gesit.

TO Strand is ‘n vakansieoord met baie terasse en walle. Dis nogal tricky om daar te bestuur, veral waar die pad ‘n eenrigting is of met ‘n karavaan. Jy moet op ‘n sekere manier ry. So, nadat ons vir Carien gaan aflaai het, moes ons in die een paadjie in reverse en dan vorentoe ry om by die bungalows uit te kom. Toe ons vorentoe gaan, misjudge Etienne die nabyheid van die wal…en ry met die bakkie skuins teen die wal op sodat die bakkie begin kantel.

Gelukkig het ek op daardie stadium binne-in die canopy ingeklim en Werner het voorin gaan sit, maar Danie het bo-op die canopy se dak gaan lê. Toe die bakkie begin kantel en basies op sy twee linkerwiele ry, pluk Etienne die stuurwiel om die bakkie reg in die pad te kry. Almal het gegil en die grond was so naby aan die venstertjie dat ek die nattigheid daarvan kon ruik. Die bakkie het ‘n keer of wat lelik gehop, maar gelukkig kry Etienne toe weer beheer oor die voertuig en ons kom toe veilig by die bungalows aan – twintig meter verder!

Almal was geskok, maar okay, behalwe…Danie, wat bo-op die bakkie gelê het! Met die gehoppery het hy heeltemal van die bakkie afgehop en in die pad beland. Teen die tyd dat ons besef hy is missing in action, kom twee van die vakansiegangers met hom daar aan. Sy knieë was oop en daar was stukkies grond en klippies in sy vleis in. Die oom wat hom daar aangebring het, het ons lelik uitgetrap:
“Julle noem julleself Christene en dan bestuur julle só!”

Daar het ek besef hoe maklik ‘n mens ‘n hele week se goeie werk in ‘n baie kort rukkie kan opmors. Daai les sou vir alle kampe waarop ek in die toekoms sou gaan geld.

Tipies aan ons Afrikaners hanteer ons mos naturlik krisisse deur te joke daaroor, en dis toe dat Louis en Malan begin sing:

“Daar’s ‘n bakkie, toe-toe-doe-roe-doe
Daar’s ‘n bakkie, toe-toe-doe-roe-doe
Daar’s ‘n bakkie, toe-toe-doe-roe-doe
‘n Bakkie wat op twee wiele kan ry!”

Maar, end goed, als goed. Die Stranddiens was ‘n sukses en ons het ‘n fees van ‘n tyd gehad. Ons het toe nog nie geweet dat ons enigsins weer sou gaan nie, maar in ons harte het ons dit tog maar gehoop.

En niemand sou kon raai wat nog vir ons sou voorlê op TO Strand nie…

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: