Ek is bang November 9, 2009
Posted by tiaan in Blogroll.add a comment
So, ek skryf hier omdat ek weet bitter min mense lees my blog, so ek worry net eenvoudig nie.
Ek is bang. Okay. Skytbang. Vir die toekoms, vir die naweek se onderhoud by Kempton Hoogland, vir … ek is bang dat vryheid my nie gaan kan betaal nie en dat ek MOET skuif. Ek is bang ek hou actually van die Kempton gemeente (alhoewel dit op hierdie stadium eintlik net oor die byvoordele sal gaan – mens moet mos “iewers in die game kom”…yeah right).
Ek is bang ek neuk op met die Stranddiensspan en dit wat ons aan die einde van die jaar by TO wil regkry. Ek is bang ek moet vir die kids almal koebaai sê op ons laaste dag daar.
Ek is bang ek moet alles van vooraf gaan doen. Ek weet nie hoe en waar ek nou weer van vooraf nuwe vriende gaan maak nie, nuwe tiners gaan leer ken nie, ‘n nuwe bediening gaan begin nie.
“Seriously, Tiaan, vir watter werk het jy nou al ooit aansoek gedoen en dit nie gekry nie?”
I dunno. Ek is bang ek trou nooit nie. Ek is bang mense dink eendag ek is ‘n perv soos wat party mense van party single mansonderwysers dink. Ek is bang ek maak nie ‘n impak nie.
Ek is bang ek word ‘n boemelaar. Of gaan eensaam dood.
Ek is ONTSETTEND bang vir eensaamheid.
Ag whatever…
Voorspankamp en bekeringstories (oftewel, 30 Seconds terwyl dit katte en honde sous op TO Strand) October 1, 2009
Posted by tiaan in Ervarings, Stranddiens, TO Strand, Vryheid, jeug, kampe, kerk, redding, vriende, youth.Tags: Eddie Fourie, 30 Seconds, Leisure Bay Villas, Jan Kriel, Jan Bekker, Lizahn Botha, Jan-Paul Olivier, Karlie Nieuwenhuizen, Wiam Labuschagne, Ferdinand van Niekerk, Tiaan van Niekerk
add a comment
‘n Paar van ons was van Sondag tot Woensdag (gister) as ‘n tipe van “voorspan” op T.O. Strand waartydens ons ‘n bietjie met Oom Eddie Fourie en sy vrou Estelle (die oord se bestuurders) gesels het oor wat waarskynlik ons 12de stranddiens in 10 jaar sal wees aan die einde van Desember vanjaar. Hulle was vriendelik genoeg om ons verblyf te verskaf – baie dankie daarvoor! Ons moes net self ons kos, brandstof en sakgeld hanteer.
Ons was 8 persone, my en Oom Ferdinand ingesluit. Dit was bietjie van ‘n cock-fest, met net twee girls wat saam was. Verder was dit net manne! En nee, ons het nie net gebraai nie – maar daar is die hele tyd met rugbyballe gespeel.
Die weer wou nie regtig saamwerk in terme van sonskyn nie, soos dit met die grootste deel van die land gegaan het die afgelope paar dae, maar dit het ons nie laat onderkry nie. Nadat ons Sondagaand High School Musical 3 gekyk het (dit was op M-Net, okay), was die ander braaf genoeg om vir my en Jan Kriel met 30 Seconds aan te vat. Shame. Ons het hulle omtrent gewaste! Ons het amper vir Wiam, Karlie en Jan-Paul gelap! Jan Bekker en Lizahn het beter gevaar, maar ons het nog steeds hulle gatte geskop.
Maandagoggend het ons manne aan die gesels geraak oor die geldigheid van die historisiteit van die Bybel en watse verskil dit maak of dinge nou werklik gebeur het soos wat dit daar staan en of dit nie het nie. Bitter interessante gesprek. Die ouens was nogals lekker oopkop en ek en Oom Ferdinand kon hulle met ‘n paar idees stretch – Noag, Jona, die 3-verdieping wereldbeeld. Hoewel ek kon agterkom hulle weet eintlik nogals min, het ek ook gesien mens kan die geleentheid gebruik om hulle dan iets te leer. Dalk is dit goed dat ons kategesesisteem so afgewater geraak het. Nou weet ons kinders niks en nou kan ons hulle goeie goed leer. Hehehe!
Later het ons darem dit in die water gewaag, maar dit was aan die bitter koue kant. Interessant was dat Jan Kriel pers verkleur in die koue water en oranje vlekkies op sy kneukels kry. Hmmm.
Die middag se kant het ons met Oom Eddie-hulle gekonfereer en so ‘n bietjie gesels oor die aandprogramme en hoe ‘n mens dit nog meer gesinsvriendelik kan maak as wat dit reeds is. Daar was ‘n paar goeie idees wat ek en Jan Bekker nogal lus is om uit te toets. Maar dit gaan beslis meer voorbereiding vat as gewoonlik.
Die aand het ons gaan fliek. Niemand kon UP gaan kyk nie, want dit was uitverkoop (die volgende dag ook! Twee shows na mekaar!). Teen die einde van die aand het ons in Panarotti’s beland waar ons brood en Balsamiese asyn uitprobeer het. Party het daarvan gehou, ander nie…
Later die aand was dit weer tyd om te wys wie is bobaas in 30 Seconds. Ons het die spanne ordentlik geskommel en hierdie keer was daar vier spanne: Ek & Wiam, Jan Bekker & Jan-Paul, Jan Kriel & Karlie, en Lizahn & Oom Ferdinand. Die speelveld was baie gelyker hierdie keer, maar ek en Wiam het deurgedruk en op die ou einde met iets soos 7 blokkies geseevier. Ek like dit niks om in daardie game te verloor nie…ek is ‘n klein bietjie trots op my algemene kennis. Waar ek op name of plekke of goeters afkom wat ek nie ken nie, gaan Google ek dit. Hoe anders gaan jy uitvind wie of wat dit is?
Dinsdag was weer rustig en met die oggend se reen wat ons binnemuurs gehou het, het ek en Oom Ferdinand die groep bymekaar gekry en begin gesels oor die “geestelike” sy van die hele uitreik – die tema van “Back 2 Basics” en die teks uit 1 Korintiers 5 wat daartoe aanleiding gegee het. Die gesprek het gevloei in die rigting van: “Maar hoe lei ek iemand tot bekering? Hoe deel ek my geloof met iemand wat my daaroor uitvra? Hoe lyk my eie bekeringstorie – moet dit hierdie heavy special effects-besigheid wees, of kan ek maar my gewone verhaal vertel?”
En toe kom die awesomeste goed los:
“Daar was ‘n oom wat op gekniel het om te bid en ek het geweet ek is te trots om dit te kan doen. Daardie aand het die verskil gekom.”
“Ek was by ‘n Bybelskool gewees een vakansie…”
“My jeugwerker en ‘n vriendin het saam met my gebid…”
“My ma het my vertel ek kan self kies of ek Jesus wil volg of nie…”
“Ek het altyd daai ‘gevoel’ gesoek wat mens veronderstel is om te kry as jy ‘jou hartjie vir Jesus gegee het’, maar dit het nooit gebeur nie – maar baie later het ek saam met goeie vriende gesels oor die seer in ons lewe. Ons het saam gebid en tydens daardie opvolgende stranddiens het die verskil regtig gekom…”
“My ma het van kleins af saam met my gebid en een aand toe ek 6 jaar oud was, my tot oorgawe aan Christus gelei…”
“Een keer het die Kinderkerk-tannie gevra wie is onseker. Ek was 7, heel voor in die ry en het my handjie opgesteek. Toe ek omkyk, sien ek dat ek die enigste een is! Sy het my pa, wat ‘n sendingdominee is, gebel en daardie aand het ek sekerheid gekry…”
“Een aand tydens die Jeug-Tot-Jeug-beweging op ‘n koue pawiljoen in Pietersburg het Oom Malan Nel gepreek en later daardie aand het ‘n gewone ou saam met my en my groep vriende kom bid…” (10 punte vir die een wat reg raai wie s’n die een was!
)
Awesome “dun plek” – Leisure Bay Villa 28, 29 September 2009.
Weer ‘n bietjie swem, weer ‘n bietjie touchies, weer ‘n bietjie siel skoonmaak op die rotse naby die kruis.
Ek is mal oor daardie plek. Ek connect met God daar.
Randoms van die paar dae:
* Jan Kriel se “K” is eintlik ‘n “silent K”, so jy spreek dit uit “Jan Riel”
* So Afrikaans soos “Pavement”
* Ek sien iets met my kleine kleine ogie wat met ‘n X begin…X-road!
* Mens kan Cheese Puffs eet as dit in iemand anders se mond was (euww!!)
* Daar is nie genoeg dans-movies wat op DSTV gewys het aan die einde van September nie.
* Vaseline is nie ‘n lubricant nie
* Die spices op die slapchips by die restaurant brand, maar die tamatiesous smaak soos koljander
* Pampers is Katkos
* Jan Kriel weet nie watse diere “miaau” nie
* Die Uniegebou is die basis van die Suid-Afrikaanse Weermag
* Apies sal enigiets doen vir aandag
* Niemand se vingers is invincible nie, maar Jan Kriel s’n is soos spykers (maar nou weet hy hoe voel ‘n long)
* Karlie behoort aan Wiam, nie andersom nie
* Jy mag nie onder 18 wees en in die smoking section by die Wimpy by Southcoast mall sit nie, selfs al rook jy nie – die polisie sal verbyry en jou daar sien
* Die pasta was lekker, maar dit was nie baie moeilik om te maak nie
Ek weet. Ek werk saam met awesome mense. Hoekom moet ek waai?
Place-sharing in die gym September 23, 2009
Posted by tiaan in Reality, Relationships, jeug, kerk, youth.2 comments
Dis nou die 3e week dat ek saam met een van die tieners in ons gemeente gaan gym het. Crazy, want hy gym al vir soos 2 jaar en ek nie, so jy kan jou net voorstel hoe ek die eerste paar dae gevoel het! Maar ek het die gymfooie betaal en die Weider Amino 6000’s gekoop en myself nou gecommit, so hier gaan ek elke middag om 14h40 en speel tussen die ysters rond. Onder die wakende oog en met behulp van my vriend, natuurlik.
Vandag kon ons nie op dieselfde tyd gaan nie as gevolg van various redes. En vir my is ‘n gym maar altyd bietjie van ‘n intimiderende plek om alleen aan te durf. ja, ja, whatever dot com.
So toe ek daar aankom, sien ek een van die ander outjies wat ek nou al so deur die loop van die tyd leer ken (lees: groet) het. Almal groet gewoonlik almal in die gym, jy sien dieselfde mense elke middag en leer gou-gou ‘n paar nuwe name en gesigte ken – die ander hoofrede hoekom ek nou besluit het om daar uit te hang.
Vandag toe begin ek en die ou te gesels. hy was vanoggend in die saalopening wat ek by sy skool waargeneem het en hy het vir my kom se dat dit vir hom nice was (ek is bly dit was nice, ek sal blyer wees as hy dit onthou en actually iets daaromtrent doen!
). Ek het eers 2 dae gelede uitgevind wat sy naam is. Hier begin ons chat en sonder om geforseerd te wees, deel ons iets van ons geloof met mekaar. Hy het vanoggend saam met my gebid nadat ek vir hom opsies gegee het oor hoe hy homself kan gedra die vakansie, en hy het my vanmiddag gewys hoe om twee liggaamsoefeninge te doen. Ons deel mekaar se plek sonder dat die een dit op die ander een afdwing.
Nie maklik nie, maar moontlik. Dis goed wat tyd vat. Jeugwerk is ‘n langtermyn investment, jy kan maak wat jy wil. Jy gaan nie vinnig ‘n kindjie bekeer met ‘n mooi Hillsongs-liedjie en nou dink hy of sy is gered en “alles is mooi, almal is gelukkig, almal is gehoorsaam aan die Here” nie. Jy gaan ure moet insit en nie afgesit word as jy nie onmiddellik hierdie massiewe resultate sien nie (soos in die gym, haha). Maar as jy bereid is om dit kans te gee en die reg verdien om ‘n tiener se plek te deel, word dit ‘n ervaring wat beide jou en die tiener se lewe verryk.
Kyk hoe lekker gee ons voor… September 14, 2009
Posted by tiaan in Blogroll.2 comments
Die ding met ope dae is dat dit ‘n baie “Bo blink, onder stink”-ding is, is dit nie? Ek meen, ons hou vir hierdie aspirant inskrywers voor dat hierdie plek uitstekend is, met die heel beste van alles waaraan jy kan dink – van onderwysers, tot sportgeriewe, tot speelgrondsituasies, tot vriende. HIER gaan jy geluk vind, belowe ons jou. Kyk net na al hierdie ander gelukkige kinders. Hulle bereik die hoogste sport(e) op watter terrein ookal. Al 800 kinders is super gelukkig.
Maar niemand vertel van die groeperings op die skoolgrond nie. Niemand vertel van die ongelukkige kind wat agter die badkamerdeur wegkruip omdat niemand met haar wil praat nie. Niemand vertel van die ou wat sy meisie swanger gemaak het en nou oor naweke moet werk sodat hulle kan doeke koop nie.
Niemand vertel van die outjie wat in aliens glo, wicca beoefen en om die hoekie staan met ‘n skerp liniaal sodat, as jy met hom moeilikheid soek, hy jou kan “get” nie.
Niemand vertel van die groepsdruk, die sosiale outcasting, die stryd om jouself te vind en hoe dit soms ‘n baie eensame reis kan wees nie. Niemand vertel van die donker aande in ‘n koshuiskamer met iemand wat dit vir jou regtig nag kan maak wat daar rondsluip nie.
Kry vir jou ‘n aansoekvorm in die voorportaal. Ons kan nie wag om jou volgende jaar hier te sien nie!
Kots in ‘n tuimeldroeër August 12, 2009
Posted by tiaan in Life, Reality.Tags: issues, probleme, wegsteek
4 comments
Okay, hierdie post gaan nie oor kots of tuimeldroeërs nie.
Ek wonder maar net ‘n bietjie. Sien, ek wonder oor hoe accepting ons eintlik is. Ek sit byvoorbeeld met ‘n probleem en ek kan niemand daarvan vertel nie – dis te sensitief. “Dominees” is nie veronderstel om sulke tipe probleme te hê nie, ons is immers die morele steunpilaar waarop sowel die jeug as die ouer garde moet staatmaak. So dit maak dit ‘n bietjie moeilik. My shrink is in Pretoria en ek is in 400km daarvandaan, so ek kan haar nie vertel nie. Ek kan nie my ouers vertel nie, want dit sal net te erg wees. Ek kan nie my kollegas vertel nie (alhoewel ek behoort te kan, maar ek wil eintlik nie want ek kan nie nog geskende verhoudings hanteer nie). My beste vriende is in Pretoria en weer eens is die geografie teen my. En selfs vir hulle sal ek dit moeilik vind om te vertel. Ek weet dis nie ‘n judgmental klomp nie (ek glo nie so nie. Ek hoop nie so nie.). Maar ek is net té versigtig. Net té bang hulle verstaan nie. Of sien my anders as wat hulle my altyd gesien het.
So dis nogal moeilik.
Intussen moet ek face up, suit up en show up vir die daaglikse eise van “die bediening” – niks fout daarmee nie, ek noem dit net – sonder dat my eie persoonlike issue uitgesort word.
Dalk lug ek bloot ‘n gevoel wat baie ander met my deel.
I dunno.
“Nee, Tannie, dis verby…”: Ter nagedagtenis aan ‘n Oupa August 6, 2009
Posted by tiaan in Blogroll.add a comment
Ons was laas Vrydag by my Oupa se roudiens. My ma se pa. My pa se pa is dood voor my geboorte en ek dra sy name. Hierdie oupa was die een wat ek geken het, wat my dinge geleer het, wat my verstom en verbaas en vermaak het.
Dit was ‘n koue, nat dag in Aliwal. Min van die familie kon daar wees. Ek het nie gedink ek sal so aangedaan raak nie, maar ek het byna die hele dag lank my oë uit my kop uit gehuil. Sien, ek het die (twyfelagtige) voorreg gehad om almal wat ver is se laaste huldeblyke voor te lees. Dit was seker die moeilikste drie bladsye wat ek in my lewe moes lees. Voor die tyd kon ek skaars na my oupa se foto kyk waar dit op n tafeltjie gestaan het langs twee kerse.
Dankie tog ons het nie die foto-powerpoint met You Raise Me Up-ding gedoen nie, want regtig waar! Dit was eenvoudig, stemmig, met Piet Smit wat die Magaliesburgse Aandlied van ‘n cd af sing – ‘n persoonlike request van my oupa voor sy dood. Die dominee het my oupa geken en kon dus lekker persoonlik praat – bietjie langerig, maar dis iets wat ek nogtans ontsettend waardeer het. Hy het nie sommer net ‘n ou begrafnisprekie uitgepluk en so nie. Sou hom in my emosionele toestand waarskynlik na die tyd gemoer het as dit die geval was.
Ek vra op ‘n stadium vir my ouma of sy by was in sy laaste minute. Sy vertel dat sy so 4h die middag my oupa, wat in die siekeboeg van die ouetehuis waar hulle bly, versorg is, gaan groet het. Net so voor 6pm het die suster haar laat roep. Toe sy daar kom, was sy oë nog oop en sy het by hom gaan sit.
“Maar hy lewe nog. Kyk, hy lewe nog!” het sy vir die dokter gesê.
Waarop hy geantwoord het: “Nee, Tannie, dis verby…”
En toe was dit verby.
Dis verby. Dis verby. Twee woorde wat sóveel beteken. Jou lewe van by die 53 jaar saam met hierdie mens vir wie jy lief was en jou lewe mee gedeel het, is verby. Daar gaan nie verdere memories wees nie.
Jou tyd hier by ons is verstreke. Jou saamwees by hierdie groep mense het tot ‘n einde gekom.
En? Maak dus memories. Goeies. Want daarvan het ons van my oupa baaaaaaaiiiieee. Hy was ‘n besondere mens.
Ons gaan Oupa baie mis!
In Memoriam: Daniël Johannes Coetzee 1936 – 2009
Luidkeels 3 Oorgegee Road Trip en Marcus Borg se “Jesus” July 27, 2009
Posted by tiaan in Ervarings, Friends, Jesus, Life, Reis, Relationships, Suid-Afrika, Vryheid, books, godsdiens, jeug, kerk, music, musiek, religion, vriende, youth.Tags: Andrew Root, Luidkeels Hersien, Luidkeels Oorgegee, Marcus Borg, place-sharing, retief burger, Road Trip-experience
add a comment
Okay, die titel mag dalk suggest dat die twee in hierdie post iets met mekaar uit te waai het, maar dit het nie regtig nie, behalwe dat ek die Borg-boek tydens dieselfde naweek gekoop het. Dit sal dalk later meer met mekaar te doen hê!
Ons het die afgelope naweek van 26 Julie 2009 met ‘n spul tieners hier van Vryheid af Pretoria toe geroad trip vir Retief Burger en Luidkeels se derde cd/dvd-opname, getiteld Oorgegee, te NG Moreleta Park. Wat ‘n ervaring! Behalwe vir die opname, wat uitstekend was, was dit vir my ook ‘n voorreg om saam met hierdie tieners dit te kon deel. Nie almal is op dieselfde plek geestelik nie, onviously, maar dit was vir almal iets besonders. Of so glo ek, te oordeel aan die terugvoer en stories na die tyd. Veral van die een outjie wat in die week vir my gesê het hy het nog nie heeltemal honderd persent geloofsekerheid (om nou maar die taal wat ons praat te gebruik) nie.
Die musiek was van hoogstaande gehalte, soos ek verwag het. En ou Retief beïndruk my al hoe meer. So ‘n paar jaar gelede het ons na hom geluister toe hy by ‘n predikante-winterskool so ‘n sessie oor kerkmusiek gedoen het en hy het ‘n paar goed oor die Fakulteit in Pretoria kwytgeraak wat ons op daardie stadium (midde-in die Jurie Le Roux-Dirk Human-Julian Muller-saga) glad nie goed opgeneem het nie. Dit het my ‘n bietjie skepties teenoor die man gelaat, laat ek nou maar bieg. Maar vandat ek twee jaar gelede by Luidkeels Hersien se opname was, het ek ‘n ander deuntjie begin sing (pun intended!). Toe hulle in Mei vanjaar hier in Vryheid opgetree het, het hulle my regtig oortuig van hulle integriteit en die afgelope Saterdag kon ek dus gelukkig sonder enige ugly vooroordeel geniet.
Daar was ‘n paar van die tieners wat op die laaste moes kop uittrek, of wat lankal iets anders aangehad het maar graag wou saam gaan, of wat op die end besluit het: ag, ek is nie lus nie, en later baie spyt was.
Vir my het dit egter oor meer as net die opname gegaan. Dit was die hele Road Trip-experience, want daar was mense saam wat nie eintlik in ons gemeente is nie en ander wat nie gewoonlik by ander jeug-aktiwiteite kan wees nie. Dit was lekker en spesiaal om in ‘n koue nag terug te ry Natal toe van Gauteng af en met 17-jarige seuns gesprekke te kon voer oor hoe ons ons Christenskap verstaan en watter impak die Bybel in ons lewens kan maak en doen. En om sommer net musiek te luister en grappies te vertel. En om, in die woorde van Andrew Root, sommer net “place” te “share”. Dit was cool.
Oor Marcus Borg se boek sal ek later seker in meer detail ‘n klomp goed kwytraak, maar vir eers net dit: ek het nog nie voorheen van hierdie boek gehoor nie, so ek is nie deur die titel beïnvloed nie. Okay, dis ‘n leuen, want die titel is Jesus en, wel, Jesus het my al baie beïnvloed, haha, maar ek is meer getrek deur die outeur. Ek het nog net The Heart Of Christianity deur Borg gelees, so twee jaar gelede. Dit was besonders, kom ons stel dit so. Ek het ‘n gevoel hierdie gaan ook wees. Hy pak die verskillende maniere oor hoe ons die Jesus-storie vertel netjies uit en maak ‘n mens bewus van waar jy so half en half staan, of nie staan nie, en waar jy overlap en goed. Ek sal graag dit wat hy sê, of die manier hoe hy dit beskryf aan ons tieners wil oordra. Ons taal waarmee ons oor Jesus en ons eie geloofslewe praat is só arm dat dit net goed kan wees. Want baie is al lankal oppad saam met Jesus, maar dink hulle moet nog ‘n sekere woordformule uiter om dit offisieel te maak of iets.
Ons Christene is eintlik maar ‘n weird spul. Ek meen, waar ry jy op een dag byna 900km heen en weer net om saam met iemand te sing oor Iemand wat jou lewe verander?