Bou Die Koninkryk/Build The Kingdom Beach Outreach 27 December 2011 – 6 January 2012 at T.O. Strand – information and banking details

November 29, 2011 Leave a comment

Dutch Reformed Church
Vryheid Klipkerk

P.O.Box 35 Vryheid 3100
Tel 034– 982-2862
Fax 034-9832687
E-mail admin@vryheidklipkerk.co.za

November 2011
To whom it may concern

Sponsorship for outreach

From 27 December 2011 – 6 January 2012 the Youth Group from the Dutch Reformed Church Vryheid (“Klipkerk”) will be going on an outreach to T.O. Strand Beach Resort at the KwaZulu Natal South Coast. During this outreach the teenagers will minister to other teenagers, young people and families by presenting fun and spiritual activities and engaging the holiday goers in a positive and spiritually uplifting way.

An outreach like this requires much organization and preparation. The team consists of roughly 30 people that needs to be transported all the way to the South Coast and back and who must eat three times a day. We hereby take the opportunity to ask whether it will be possible for you/your company to assist us through means of a sponsorship. Your help will be highly appreciated.

Warm regards

______________________

Jacolien Fourie
Dutch Reformed Church Vryheid
083 670 2600

Bank details:
Stranddiens
ABSA Vryheid
Acc no. 9133129338
Ref: Name

Categories: Blogroll

Ja ja ja…en dit wat nog kom…

November 14, 2011 Leave a comment

Okay, ek weet ek het Augustus laas geblog, lyk my. Hierdie is net om te laat weet ek is nog hier, ek het nog nie die blog toegemaak nie. Het wel die afgelope tyd ‘n paar dinge gehad om oor te dink.
Verwag maar in die toekoms nog steeds ‘n paar fliek posts. En verseker nog (meer) rugby/Blou Bulle posts. Dalk meer en meer gereeld as voorheen – daar is ‘n vooruitsig oor beter toegang tot Loftuskaartjies in die nuwe jaar wat wag, so dit kan net opwindend raak!
En dan oorweeg ek dit om oor ‘n ander, meer sensitiewe tema te begin blog. Maar voordat ek die aap uit die mou laat, sal ek eers nog goed gaan oorweeg of en wat ek daaroor sal skryf. So, wees maar solank nuuskierig!

Categories: Life, movies, rugby

Steve Hofmeyr – Die Verste Uur: beslis die lees werd!

August 7, 2011 Leave a comment

Okay, so ek het al ‘n vorige keer oor Steve geblog, maar hierdie is anders. Dis die eerste keer dat ek fiksie uit sy pen lees (ek het nog nie die laaste paar hoofstukke van Mense Van My Asem klaargelees nie!) en ek was aangenaam beïndruk.

Spoiler alert: die konsep is ‘n bietjie Back To The Future, ‘n bietjie Sliding Doors, ‘n bietjie The Butterfly Effect. Dis baie Steve. Dit vra die lekker ou-ou vraag van “wat as?” Ons almal het dit al gevra. Ons almal het al gewonder of ons anders sou kies as ons weer die kans kon kry. Ons almal het al gewonder wanneer die kwantum-fisici nou uiteindelik hulle gatte in rat gaan kry sodat ons kan time travel en ‘n paar dinge in die geskiedenis kan gaan verander. Dit hoef nie groot goed te wees nie: ‘n bietije harder geswot het vir ‘n toets. Net een stel sit-ups meer gedoen het. Net vyf minute vroeër gery het en betyds gekom het vir daai belangrike vergadering. Of net eerder stilgebly het toe daai simpel opmerking gemaak is. Kleinighede.

‘n Val van ‘n perd af is ook nie juis ‘n aardskuddende gebeurtenis nie, maar dit verander die verloop van die geskiedenis grootskaals. Baaaie grootskaals. Die Jakarandastad word die Akasiastad. Hamiltonstraat is nou Ignatius Ferreirastraat. Die Beeld bestaan nie, maar bands soos eMossie en Spermatosa wel. Pick ‘n Pay is weg en Kies en Keur is in. En daar is nie so iets soos Afrikaners nie, maar wel Boere. En midde-in dit alles is ‘n jong manstudent vasgevang in ‘n maalstroom van tyd, keuses en die musiek van Jean-Philippe Rameau…

Die Verste Uur was vir my nooit iets anders as wat dit is nie: goeie wetenskapfiksie en ‘n blik op hoe dinge kon wees. Dit was nie vir my ‘n weirderige sosio-kritiese kommentaar of what not nie. Granted, dit lees bietjie funny met die storielyn, die liefdesbrief en die wiki-agtige info oor Rameau en ‘n paar ander goed wat grootliks parallel op die bladsye verskyn, maar na ‘n rukkie raak ‘n mens dit gewoond. Persoonlik het ek nie regtig oor die komponis en sy miskende genialiteit geworry nie, maar ek wou meer weet oor watse keuses Jamie gaan doen of wat met hom gaan gebeur. Maar die komponis se genialiteit is obviously belangrik, anders was daar nie ‘n tydsreis nie – hoewel ons met minder info ook daardie link sou kon maak.

Waar die verloop in Hoofstuk I dalk ‘n bietjie stadigerig was, skiet dit in Hoofstuk II met ‘n tollende spoed vorentoe (of is dit agtertoe?). Nou raak dit regtig juicy en ons sien hoe noodlottig ‘n niksbeduidende afval van ‘n perd af nou eintlik kan wees. Die slim ding wat Steve in hierdie verhaal doen is om nie die karakter as homself terug te laat reis nie, maar as een van sy voorgeslagte. Dit maak dinge nogal anders, want dis nou nie meer die karakter wat ‘n ander hede manipuleer nie, maar die mense in daardie tyd self wat dinge effe anders laat uitdraai.

Maar die regte juice kom in die alternatiewe Pretoria, 2011. Dis quirky, om die minste te sê. Hier het ek gewens kon ons baie meer tyd spandeer, doodeenvoudig om te sien hoe Steve se visie oor hierdie alternatiewe hede verder sou uitpan, want dit wat hy beskryf is fassinerend. Die feit dat ek in Pretoria bly en self as student, en nou nog, baie van daardie strate bewandel en bery het, maak dit net nog meer boeiend. Ek bly wonder: wat sou gebeur het as Jamie langer daar gebly het? Hoe sou Kaas gewees het as hulle mekaar sou raakloop? Wat sou tussen hom en Juliana gebeur het? Hoe sou TUKS gelyk het? Sou Morné Steyn nog vir die Blou Bulle gespeel het? Hmmm…
Op die ou end konfronteer die boek jou met die ooglopende vraag van “wat sou jy gedoen het?” Dalk ‘n bietjie vinnig, want Jamie maak daardie keuse maar baie blitsig vir ‘n ou wat uiteindelik die kans staan om die girl van sy drome te hê (die ander nimfomaniese opsie is ‘n bietjie craaaazzzyyyy) en dan tog besluit om die geskiedenis te gaan reg skryf. ‘n Mens glo dit amper nog nie, ‘n mens wil hom langer in Alternatiewe 2011 hou. Ja, goed, op die ou end moet hy teruggaan en dinge regmaak en al daai, ons weet. Ek vra net: “wat as hy langer gebly het?”

All in all was dit ‘n goeie lees en was ek jammer dis so gou verby. Self lief vir die klassieke meesters, het ek nog nooit van Rameau gehoor nie, maar na dese sal ek beslis ‘n plan maak om van sy werke op te spoor. Dalk kry ek daardie magiese akkoorde en kan ek teruggaan as my oupagrootjie en self ‘n keuse of twee anders maak ;-) !

Dis goed. Lees dit. Die enigste vraag wat oorbly, is: Hoe op aarde (en wanneer) gaan ons die draaiboek vir die blockbuster fliek skryf?

My probleem met Steve se “Ons sal dit oorleef” – video.

May 16, 2011 1 comment

Okay, so Steve Hofmeyr se nuutste video en liedjie, Ons Sal Dit Oorleef, maak die verwagte opslae. Geen verrassings daar nie. Daar was hype en die Afriforum-Julius Malema hofsaak gaan eers Donderdag na die verkiesing voort, hoewel vandag se ruling dat die woorde “Kill The Boer” nie net haatspraak is nie, maar ook ‘n aanhitsing tot moord groot implikasies daarvoor het. En laat ek sommer nou al sê: ek is bly oor vandag se uitspraak, regtig. As ons nie mag ‘k****r’ sê nie, mag julle nie ‘Kill the Boer’ sê nie. Dit is tog in kort waarop die hele betoog neerkom, of hoe, Steve? Want eintlik is ons almal so onderling ‘n bietjie rassisties, of volksisties, of etnies-bewus, of watokal ‘n mens dit wil noem – ons like ons eie ‘groep’ meer as die ‘ander’ groep. Ek erken dit. Dit beteken nie dat, net omdat ek my eie groep verkies, ek uit my pad uit gaan gaan om dinge vir die ‘ander’ (wie hulle ookal mag wees volgens die definisie wat ‘n mens aanhang) moeilik te maak nie. Of met hulle lelik te wees nie. Dom, common witmense irriteer my net soveel soos dom, common swartmense en dom, common bruinmense en dom, common Indiërs. Maar ek kamp net so lekker saam met die skerp, slim klein Indiërtjies as saam met die skerp, slim klein swartetjies en wittetjies en bruinetjies, soos wat ek die afgelope naweek op ‘n laerskool-leiersontwikkelingskamp gedoen het. En ons kan maar vergeet dat ons gaan integreer – ons moet dit eerder vir hulle los, want hulle het dit al klaar reggekry. Almal is pelle. Hulle nuwe generasie-groep is anders as ons groep. Al klaar.

Okay, maar terug by my punt: die video. My probleem is dus nie die feit dat die liedjie bestaan nie (hoewel, en ek is jammer om dit te sê, ek dink Bok van Blerk se My Kreet is ‘n nicer song). Die woorde is duidelik ‘n direkte teenpool vir die KTB-’strydkreet’ (hulle hou mos voor dis nie ‘n liedjie nie): dit gaan oor ‘oorleef’, eerder as ‘to kill’; dit gaan oor ‘ons’ eerder as oor ‘the Boer’ (m.a.w. ‘hulle’). Aldus Steve op sy Facebook-page: “Dis my trotste Afrikanerlied met pragtige (voormalige) tradisionele byvoeglike naamwoorde wanneer of indien Malema en die ANC die “Kill the Boer” saak wen. Hier kom Boere karma in enorme porsies.”

Groot woorde. Dis ons teenoor hulle. Hulle wat ons wil doodmaak – toemaar, ons sal dit maak. Met daai skildery van die Trekkers wat die ossewa wat dreig om by die steil Drakensberg-helling af te donder met toue vashou terwyl die verslae hulpelose vroue toekyk wat strategies in die mise-en-scene verskyn.
Dit volg met verwysings na die oormag en die engele wat staan by ons vroue en kinders wat sterf. Dan sien ons ‘n mengsel van NP van Wyk Louw, Langenhoven en Sheila Cussons – en, natuurlik, die FAK – terwyl die kamera by die boekrak verby pan.

Tot sover in die song kon dit netsowel uit ‘n musical oor die Anglo-Boereoorlog gedateer het, iets soos Ons Vir Jou. Ek dink dit sou goed gepas het daar. Maar nou met vers 3 kom die gedeelte – met die strategiese toonaard-verandering om aan te dui dat hierdie wat volg significant is – wat volgens my problematies is.

Ek lig my oë tot die berge op
Waar sal my hulp tog vandaan kan kom

Met ‘n Psalm 121-agtige aanroep om hulp en die skildery van “God ziet mij, hier vloekt men niet” in die agtergrond. Sjoe. What a statement. Volg die link
http://flanders-inside.skynetblogs.be/archive/2008/05/16/rewind-van-god-ziet-u-mij-hier-vloekt-men-niet-a-rewind-of-g.html
vir ‘n verduideliking van wat dit beteken – baie interessant en natuurlik opsetlik gekies. Saam met die leë stoel wil ‘n mens wonder of dit regtig wys na ‘n Ander Persoon wat nou moet inspring om te help.

Ag my God jou woorde lê deur my geweef
Ons sal dit oorleef…

Ek staan vandag op jou plaas ou vriend
Daar hang stof oor die stilte sovêr ek kan sien

Na ‘n vinnige flits van ‘n kierie word twee skape gesien: ‘n witte en ‘n bruine. Ek weet ek gaan nou in nitty gritties in, dalk, maar ons leer om hierdie goed raak te sien in filmskool, so ek vra die vraag: is wit en bruin dalk almal skape? Wat net blêr, sonder om regtig te dink wat hulle vir en van mekaar sê? Dalk is dit net om te wys Steve is op ‘n plaas, soortgelyk (indien nie dieselfde nie) as Eugene Terre’Blanche s’n.

“Maar die geeste van gister sal more herleef
Ons sal dit oorleef

Eugene Terre’Blanche: Dankie o God vir die vermoë, dankie o Here wat U my geleer het, en wat U vir my so gratis geskenk het, vandag gee ek alles terug, tot eer en verheerliking van U naam en die uitbouing van U koninkryk”

Terwyl Eugene Terre’Blanche se gebed opklink, natuurlik ‘n visual van die getalle afgestorwenes tydens die ABO.

So wat is my probleem? Ek weet nie of die gebede inpas nie. Nie omdat dit gebede is per se nie, maar veral Eugene Terre’Blanche s’n se woorde maak ‘n ander appeal as wat die res van die song doen:
Hy sê dankie vir die vermoë – maar ons weet nie die vermoë om te wat nie – onderskeiding dalk?
Hy sê dankie vir wat God hom geleer en geskenk het, en nou gee hy alles terug – sou ‘n mens kon verstaan dat hy alles opgee en, a la Paulus in Filippense 3, alles wat hy vroeër as bate gesien het nou as waardeloos beskou?
Tot eer en verheerliking van U naam – duidelik het die nie meer oor homself gegaan nie
en die uitbouing van U koninkryk – okay, beslis het dit nie meer oor homself gegaan nie. Ook nie oor die uitbouing van die koninkryk onder Afrikaanses, of sy volk nie. Is ek reg? Of het dit? Hy sê dit nie.

Deur dit by die song in te sluit, sonder om dit op dramaties-ironiese wyse te gebruik soos die Oupa se gebed aan die einde van PG du Plessis se Fees van die Ongenooides, is dit mos ‘n teken dat Steve met hierdie gebed saamstem.

My vraag is: as ons dan nou saamgaan met ‘God se Naam en Koninkryk’ – het Jesus nie kom leer dat dit in God se Koninkryk juis andersom werk as “oog vir ‘n oog” en “tand vir ‘n tand” nie? Want ernstig nou, wat is hierdie song anders as dit? Ja, ons vloek nie die swartmense en als nie (ek weet daai woord is gebliep, maar dit tel nie juis nie), maar soos Steve self gesê het, dis sogenaamde Boere-Karma.

Wow. Ons sluit ‘n song af met ‘n gebed dat God se wil sal geskied, net om daarna die wil in ons eie hande te neem. Dít is dramaties-ironies.

Ek het weer hoofstuk 11 van Mense van my Asem gaan lees en ek is oortuig Steve is ‘n gelowige. Nie jou mainstream of charismat of gereformeerde of watter boksie jy ookal wil kies nie, maar gelowig none the less. Inteendeel, ek dink hy is bitter ernstig oor sy geloof in God. Wat in hulle twee se persoonlike verhouding aangaan, is hulle saak en nie my besigheid nie. Maar wat my pla, is: waar kom die ding van ‘draai die ander wang’ in? Word ons nie belowe dat, deur dit te doen, maak ons ons vyande vuurrooi van skaamte nie? En ou Salomo het in Spreuke al geobserveer dat ‘n krenkende woord woede opvlam. Ook Oom Langenhoven was wys genoeg om dit raak te sien.

Ek sê nie dis reg om KTB te chant nie. Ek het dit al aan die begin gesê. Maar om in reaksie daarop ‘n song te skryf met die voorwaarde dat die bliep sal verdwyn as hulle wen net omdat dit die polities-regverdige ding sal wees om te doen…I dunno. Dit sit ongemaklik aan my.

Sê nou Julius Malema word wel skuldig bevind. Ek weet nou nie wat sy straf gaan behels nie en ek glo nie hy sal ooit sê hy is jammer nie. Maar sê nou maar net hy sê hy is jammer – gaan ons dan ‘n song skryf waarin ons sê ons vergewe hom? Want dis tog wat God van ons verwag, is dit nie? Om ons vervolgers te seën? Om ons naaste lief te hê soos onsself?

Ek dink ek is besig om weg te beweeg van ‘n godsdiens waar ek verwag dat die God wat ek aanbid my te hulp moet snel vir die geringste dingetjie, waar ek net die “victory moet claim” en als sal okay wees en al daai goedjies (die wat my ken sal anyway weet!). En ja, ek verstaan die gesprek tussen Terblanche Jordaan en Steve in daai betrokke hoofstuk van MVMA waar hulle tot die conclusion kom dat God niks van mens verwag nie want niks wat ons kan doen, gaan God se dag opkikker nie. I get that and I am fine with that, ek hou actually daarvan. Maar daar word tog ‘n manier van mense hanteer in die Bybel voorgehou wat condusive is tot vrede en tot ‘n beter samelewing. En om vuur met vuur te beveg sien ek nie daar nie.

Ek weet nie Steve, dalk verstaan ek jou heeltemal mis? Sal graag ‘n reply wil hoor. Help my dink hierso. Ek sal dit waardeer.

Kom klap saam hande – klein duimpies vir revue’s op die platteland!

October 19, 2010 Leave a comment

Daar’s iets rondom die platteland wat ek LOVE en wat ek regtig volgende jaar gaan mis as ek nie meer hier is nie: pretensieloosheid. Vanaand is dit net weer bevestig deur die Revue genaamd “Flieke En Musieke” wat Hoërskool Pionier opgevoer het. En dit was goed!

Nou, neem in ag dat vanaand die eerste aandshow was en dat die gehoor grotendeels bestaan het uit die res van die skoolkinders wat hulleself te goed ag om deel van die revue te wees. In daai lig was dit regtig meer as well done. Ek gaan kyk sommer weer, net om te sien wat doen hulle met ‘n ander, meer responsive, gehoor. Onthou, jou optreders trek hulle energie uit die energie wat die gehoor afgee. Dit werk maar net so. En vanaand se gehoor left them wanting.

Moenie dat die naam van die produksie jou om die bos lei nie – dis meer ‘n konglomerasie van lekker liedjies en eintlik net ‘n relatief goeie verskoning om tieners te kry om te sing en te dans, as wat dit noodwendig “fliek”-musiek is. Dit gesê: die kostuums was kleurvol en vrolik en het byna* orals gepas by die spesifieke liedjie waarop gedans is. Die dansers is lekker energiek, afgerig deur die bekwame hand van Janette Henning van Stepping Out Dance Academy in Vryheid. Toe-tapping stuff, goeie oorspronklike bewegings en veral Thriller was genuine goed. Die klank was helder en duidelik en die beligting het die acts gekomplementeer. Spesiale melding moet gemaak word van Theo, CW en veral Wimpie van Stokmannetjie Productions vir die bypassende “beeldmateriaal” wat deurgaans aan die kant van die verhoog gesien kan word.

Hier en daar was daar tog iets wat gekrap het, maar ek verwys terug na die tweede paragraaf van hierdie skrywe: senuwees + peer audience = ‘n haakplekkie of twee. Ek dink my grootste kritiek is gemik op die sangers, so sien dit in die lig soos ek reeds genoem het. Met tye het hulle (en veral die seuns was skuldig hieraan) aan die note gehang en dit maak dat jou hoë note nie so lekker suiwer is soos wat jy hulle wil hê nie. Stut, bulle! Suig jou Nigroids vir jou stem voor die tyd en warm lekker op, vergeet van die gehoor, trek styf jou maag, maak oop jou mond en sing daai liedjie! Wanneer dit wel deurgekom het, dink ek het die outjies selfs hulleself verras. It was good! Die meeste van die meisies het pragtig gesing.

Die gebruik van ‘n aankondig(st)er was vir my ‘n bietjie vreemd, veral omdat die videoskerm aan die kant van die verhoog in elk geval as ‘n tipe van ‘n prompter gefunksioneer het. Maar gelukkig is Lieneke pragtig en hanteer sy dit met tonne grasie.

Twee goed moet alle onderwysers en revueskrywers in Suid-Afrika egter van kennis neem, en nou is ek ernstig:
(1) Special Star in sy oorspronklike vorm is te lank. Dis hoekom daar programme soos Audacity en Nero Wave Editor is, om die liedjie mee te sny. Mango Groove herhaal hopeloos te veel en ons almal weet dit. Gelukkig het die energieke kids ons aandag gehou.
(2) Vergeet van Greased Lightnin’ (en groot asseblief, as jy op hierdie liedjie aandring, spel dit dan ten minste net reg met die nodige ‘d’!) as die token “manne”-liedjie. High School Musical 3 het ‘n awesome nommer opgelewer wat net so goed, indien nie beter nie, vir hoërskoolseuns kan werk: The Boys Are Back. Ek ken ‘n prys toe aan die eerste hoërskool wat dit gebruik in plaas van Jong Travolta en die res van die T-Birds se karliedjie.

Alles in ag genome was ek spyt dit was so gou verby. Dit het vir my gelyk of die kinders dit baie geniet het, ten spyte van die senuwees. Die tempo het nooit laat slaplê nie en selfs met die stage prop changes het die program seepglad verloop. Ons tieners lyk mooi op die verhoog en, thank goodness, daar is geen onderwysers wat cameo’s maak nie (ek het al op ‘n ander plek daaroor geblog). Altyd jammer dat so min van die “manne” dit cool genoeg ag om deel te neem, maar die seuns en meisies wat wel deel was van hierdie revue kan hulle self gerus op die skouer klop. Met meer as genoeg hoogtepunte is dit regtig ‘n aand uit wat die moeite werd is. Kudo’s!

*byna: die girl wat ‘n halwe Rafiki en ‘n halwe moderne danser gechannel het met “Circle of Life” het my deurmekaar gehad oor waar sy inpas, en die “A whole new world” sequence moet ernstig weer oor gedink word. Maar dalk was dié sangers net meer nervous as al die ander.

Categories: Blogroll

“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry…”

September 10, 2010 Leave a comment

Ek het vir Soon Strydom belowe dat ek op sy troue sal preek toe ons nog albei Eerstejaars was in die Republiek van Kollegetehuis. Back in the day. So, toe sy groot dag uiteindelik aanbreek, het ek my belofte gestand gedoen en die roadtrippie Delmas toe aangepak.

Nou, wat veronderstel is om ‘n vinnige 3-en-’n-half ure trip te wees, draai toe uit in ‘n vyf-en-’n-half ure ekspedisie. Hoe op aarde het dit gebeur?

Wel, eerstens het my eie kar, die Wit Wonder, se battery daardie dag die gees gegee, tesame met iets by die fans, want hy het verskriklik geoverheat. Daarom is ek uiteindelik, meer as ‘n uur later as wat ek beplan het, uit Vryheid weg met ons 1996 Isuzu double cab.

Die pad tot op Newcastle was uneventful, soos dit gewoonlik is. Naby Utrecht het ek oudergewoonte afgeslack want jy weet nooit of die speedcops jou daar gaan verras met hulle teenwoordigheid of nie. Die padwerke met die stop-go bordjies is ook besig om verby die T-aansluiting verby te skuif, so dit maak dat ‘n mens nie so lank hoef te wag om die gedeelde pad te gebruik nie. Tog bly dit ‘n hassle, en toe ek Volksrust nader, moes ek net gou stop om my bene te rek. My lae rug raak nogal seer as ek bestuur, daarom bly ek by die 200km/2 ure stilhou reël.

Van Volksrust af tot op Standerton was die pad ook heel skaflik, met niks snaaks wat gebeur het nie. Twintig kilo’s buite Standerton bel Soon my en vra of my probleme uitgesort is. Op daardie stadium was dit 12h15. Ek bevestig dat ek goed oppad is en baie betyds daar sal aankom. Hulle het vir my plek in ‘n gastehuis georganize, en ek sou so ‘n bietjie daar gaan ontspan en myself rustig vir die troue voorberei.

Maar dis in Standerton waar die sports sou begin. Sien, gewoonlik ry ons sommer direk van daar af Leandra toe en dan van daar af Delmas toe. Die pad tussen Leandra en Standerton het intussen egter so gesdisintegreer dat geen ordentlike bestuurder dit aan sy motor wil doen om hom- of haarself op daardie pad te begewe nie. Daarom het ek raad gekry van ‘n detour Leandra toe via Kinross. Klink maklik genoeg, doen dit nie? Ja, as jy die pad ken!

Die aanwysings wat ek gekry het (en, ek bieg, nagelaat het om op te volg) het my net verduidelik tot by die Sasol-garage op Standerton. “Dan ry jy net daar uit.” So maak ek toe – min wetende dat daardie pad my reguit Bethal toe sou neem…

Nou ry ek op hierdie pad, wonder so ‘n keer of wat of ek nie maar gou by die petrolstasie moes seker gaan maak het nie, maar skud dan die gedagte af. Nee wat, Bethal, Kinross, Secunda, Trichard…als is mos net hier bymekaar. Iewers sal ‘n bordjie wees, is mos.

Maar die bordjie kom nie…en Bethal kruip al hoe nader…dis nou te laat om terug te draai en aanwysings te gaan vra. Pleks ek het.

Naderhand is ek verby Thutuka Kragstasie. Nou moet ek begin plan maak! Toe ek ‘n bordjie sien waarop staan ‘Trichard’, maak ek net daar ‘n U-turn en draai af op die distrikspad. Nou worry ek nie meer nie, ek ry net. Hierdie grondpad gaan volgens my inner-compass meer in die rigting waar ek wil uitkom, so here goes.
Op ‘n stadium kruis ek nog ‘ngrondpad en sien drie Afrika Mama’s voor my loop. Ek stop net daar en vra deur die venster:
“Sorry, ma, hoe moet ek ry om by Trichard te kom?”
“Trichard?”
“Ja.”
“Jy slat net hierdie pad, straight, straight, straight. Moenie afdraai nie. Jy sal by hom kom.”
Troef-vraag:
“Is dit ver?”
Troef-antwoord:
“Dis nie kwaai ver nie, maar jy gaan nog bietjie moet ry.”
Op dit kan jy niks terugantwoord behalwe “Dankie” nie. Daar gaan ek, straight, straight, straight.

Tot by ‘n T-aansluiting wat sy heeltemal vergeet het om te mention.

Instink laat my links draai en ek jaag op die ongelyk pad voort. Omtrent 10 minute later sien ek die pad sluit by ‘n teerdpad aan en my hart juig. Dis ‘n besonderse mooi pad vir hierdie omgewing – dalk het hulle die pad tussen Leandra en Standerton intussen reggemaak? Ek is meteens beïndruk met die Mpumalanga Padwerke. Maar ek sou gou agterkom dit is toe nie daardie pad nie – hierdie een is mooi omdat hy nie soveel verkeer hoef te dra nie! Dit is die pad Charl Cilliers toe.

Ek stop eers semi om te wag vir die trop skape wat die pad kruis – hulle het voorrang – en ry dan na die massiewe kerktoring wat jou al van ver af aanlok. Soos ek in ry, sien ek aan my regterkant ‘n gesin wat regmaak vir die Saterdagbraai. Ek ry te vinnig verby. T-aansluitng. Mmm, winkeltjie? Weer kom my aanwysings van ‘n groot swart vrou. Al die ander mense het te dronk gelyk om te help (sorry, maar regtig!).
“Hoe kom ek op Leandra?”
“Leandra?”
“Ja?”
“Mmm…jy gaan straight by hierdie pad (really?), dan gaan jy links. Maar eers na jy gekom het by Mahlababelbelbellebbeb…. (so iets).”
“Okay…dankie.”
Want ek weet mos waar is Mahlababelbelbellebbeb…. Ek weet nie eens presies waar ekself is nie, nog minder waar dit is. Maar hier gaan ons.

Magic! Genade! ‘n Bordjie sê: EVANDER. Juig! Hier moet ‘n petrolpomp wees wat my kan help.
Toe ek Evander binnery, sien ek die bordjie wat Mahlababelbelbellebbeb…. links wys. Kan jy nou meer. En by die Total-garage wys die Here We Go-aanwysingsbord dat my pad links na Leandra net verby dit loop. So, sy was reg!

Van hier af is dit maklik en naby en die pad verloop sonder enige werklike verdere insidente. Delmas lewer vinnig ‘n situasietjie op by die BP garage (ek het nie petrol ingegooi nie, net aanwysings gevra na die straatadres toe, vir die groen-bewustes onder julle!), maar tjop-tjop is ek waar ek moet wees. Nou is dit al 14h50 en die troue begin 16h00. Sharp.

‘n Paar foonoproepe en sms’ verder en ek het die sleutels vir die gastehuis, Hoffmann’s Guesthouse. Niks kan nou meer verkeerd gaan nie.

Guess again.

Toe ek by my bakkie uitklim, besef ek dat ek NOOIT my sak met my klere in ingelaai het nie…my kerkklere hang darem aan ‘n hanger, maar dis dit! Nie ‘n skeermes, tandeborsel, haarborsel, kontaklensseep, niks nie. Ook nie kerkskoene nie…

Die tannie van die gastehuis, Millie (ek weet nie wat is haar van nie, maar ek skat dis Hoffmann) maak toe ook die gewone aanbod: “Laat weet as ons met enigiets kan help!”
My versoek:
“Kan Tannie dalk vir my help met swart kerkskoene?”

Ek shower so soort-van sonder om my hare nat te maak, trek aan en sit af na die trou-venue toe.
“Jy ry net totdat jy die T-aansluiting kry.”
Niemand het gesê die T-aansluiting is 25km en drie klein dorpies verder nie…

Tien voor vier bel die bruidegom my:
“Tiaan, waar is jy??”
Nee, my vriend, ek is nou daar.

Eind goed, als goed. Die bruid was heelwat later as ek, so dit was fine. Die troue was mooi stylish, die bruidegom was emosioneel en die speeches lekker kort en die kos heerlik. Die open bar was ‘n bonus, maar ek het dit vir die ander gaste gelos, want die volgende oggend 10 voor 4 het ek met ‘n gejuig wakker geword en opgespring om terug te jaag Vryheid toe. Ek moes met die oggenddiens uithelp. Hierdie keer het ek die pad baie makliker gekry en my ligte mistykie by Standerton vinnig opgetel.

Moenie vra hoe ek gelyk, geruik of gevoel het nie, maar ek was 08h10 terug by die Klipkerk.

Jesus as ‘n ‘demigod’…

August 2, 2010 Leave a comment

DISCLAIMER: Hierdie is nie ‘n lasterlike, ketterse poging om Jesus se Godheid in twyfel te trek nie. Dit is bloot ‘n paar penstrepe en gedagtes wat by my losgekom het nadat ek twee movies gekyk het. So, moenie my stenig nie! ;-)

So, ek kyk die naweek Percy Jackson and the Lightning Thief met die outjie wat soos Zac Efron lyk

en Clash of the Titans met die dude van Avatar


en ‘n paar gedagtes kom by my op, in terme van ons eie godsdiensbeskouing:

Percy/Perseus was die seun van ‘n god (Zeus of Poseidon, die flieks kan nie besluit nie maar Wikipedia stem saam dis eintlik Zeus) by ‘n menslike vrou en weet nie van sy eie oorsprong nie. Dan gebeur daar iets katastrofies en net hy kan die mensdom red van uitwissing. In PJLT gaan hy Hades toe om sy ma te red (weet nie hoe hy gedink het dit sou help om die weerligstraal te retreive nie, daai plan was bietjie flawed); in COTT moet hy Medusa se kop gaan afkap om die Kraken te versteen. PJLT was lekker ligte vermaak, of soos Percy dit self aan die begin stel: “High School without the Musical”. COTT het ander ondertone gehad.

COTT maak die stelling dat die gode se onsterflikheid aan die lewe gehou word deur die mense se gebede. Nou is die mense egter gatvol daarvoor en die gode moet ‘n nuwe manier kry om hulle te oortuig dat dit goed is om tot hulle te bid, en Hades oortuig dan die res van sy godefamilie dat hulle die mensdom moet laat swaarkry. Natuurlik is hy eintlik skelm, want hy teer op mense se vrees en pyn, so hy word net sterker. Dit doen hy sodat hy die godedom kan oorheers. Onthou, hy is aan die begin van alles deur Zeus getrick om vir ewig en altyd oor die onderwereld te heers, so hy is nou nogals moeg daarvoor en ‘n ewigheid is ‘n lang tyd om ‘n plannetjie uit te dink. Ook nie ‘n baie goeie een nie, maar okay, geweld is die oudste roete wat gevolg kan word, so hier gaan hy dan.

So, ons het liefde en gebede aan die een kant en vrees en pyn aan die ander kant. Die liefde en gebede sowel as die vrees en pyn is noodsaaklik om die deities se bestaan te verseker. So, die deities se voortbestaan is eintlik in die hande van die mens, en nie andersom nie. So half-en-half. Die gode kan hulle seker uitwis, maar dan is daar niemand om hulle met gebede aan die gang te hou nie. So nou moet die gode die mensdom om die bos lei om dit aan te hou doen. Hou ons soms self so ‘n godsbeskouing voor?

Terug by die demigod-gedagte: twee van ons evangelies vertel dat Jesus gebore is uit ‘n menslike vrou. So, hy is ook ‘n half-god, half-mens wat op ‘n stadium in sy lewe begin optree teen dit wat verkeerd is in die wereld waar hy bly. [Let op my gebruik van kleinletters. Ek verwys jou terug na die disclaimer.]

In PJLT aanvaar Percy dit vinnig en gemaklik en moet net ‘n bietjie met ‘n swaard oefen en tjop-tjop is hy ‘n kampioen. In COTT gebeur dit bietjie moeiliker, en hoewel hierdie dude eintlik ‘n visserman is, kan hy ook swashbuckle nog voor jy kan se mes. Okay.

Jesus begin rondom 30 se kant ook optree, hoewel ons lees van ‘n geval uit sy kinderdae tussen die Joodse geleerdes. Dit wil nie juis reluctant voorkom nie en sy optrede is nie gemotiveer om iets te doen ter wille van die gode of ter wille van homself nie – dis juis gefokus op die behoeftes van die mense van sy tyd. Ek dink dis ‘n belangrike klemverskil.

Jesus het ook “ter helle neergedaal” – volgens party om vir al die mense daar te gaan preek, volgens ander verwys dit na die ekstreme mate van lyding/eensaamheid/godverlatenheid wat hy beleef het. Percy/Perseus moet Hades (die hel/doderyk) toe gaan om sy ma gaan red of Medusa se kop gaan afkap om die Kraken te oorwin en die mense te red. Mens kan natuurlik nie in haar ogies kyk nie, dan verander jy in ‘n klip. Selfs nadat sy kop verloor het. Dit het my nogals laat dink aan Moses wat vra of hy vir God kan sien, en God wat dan antwoord: “Niemand kan My sien en bly leef nie.” Hoewel ek nou nie Medusa met God gelyk wil stel hier nie, maar julle get what I’m saying.

Die ding met mitologie en ons eie godsdiens-oorspronggeskiedenis is dat daar soveel elemente is wat lyk of dit ooreenstem. Ek gaan nie ingaan op die hele verduideliking daaragter nie, ek het te lanklaas in daai veld gewerk, dis ander ouens se area van expertise. Maar ek dink tog ons “mitologie” maak ‘n paar teenstellings, juis om (ook vir die eerste-eeuse mense) te wys dat ons godsdiens ANDERS is as dit wat hulle beleef. Ons God gee keuses. Ons God is nie afhanklik van ons gebede om voort te bestaan nie. Ons God het nie ‘n deal met die duiwel of iemand aangegaan om ons te trick tot aanbidding nie. Ons redder, Jesus, was nie half-god, half-mens nie, maar ten volle God en ten volle mens. Ons kan “in God se oe kyk” – “to love another person is to see the face of God” (Les Miserables, musical). Ons God is sterker as al die ‘ander’, en tog so swak dat Jesus fisies doodgaan. Die God wat ons aanbid is, in die woorde van Karl Barth, regtig Heeltemal Anders…

Categories: Blogroll

Ons kamp amper weer!! Yay!!

June 7, 2010 Leave a comment

Kampe kampe kampe! Amper weer kampseisoen. Ja, die tweede helfte van die jaar is my “kampseisoen”, die tyd waarin ons op hordes jeugkampe gaan en deur saamwees…wel, net saam is en saam speel en saam bid en saam moeg word. Kan byna nie wag nie! Een van die outjies wat laas jaar begin saam kamp het, vra my nou-nou net in die gym: “Wanneer begin ons nou weer bietjie kamp?” Nou, hier is die break down:

Eerste aan die beurt is Kamp 1 van Skolliekamp 2010 by Winklespruit. Nou, ek moet erken, ek was nog nooit self op een nie, maar ek was darem al ‘n paar keer op Skoolverwisselingskamp, en dit lyk my die formaat is baie dieselfde. So ek stres nie regtig nie, ek sien nogals uit. Bybelstudieleier en Ontspanningsleier. Hmmm.

Dan, die laaste naweek van die vakansie het ons ‘n Ringsjeugkamp (of altans, ons probeer een organize). Dit gaan maar sukkel-sukkel, daar was lanklaas so iets hier gehou. Maar ons kyk maar hoe dit gaan! Nog ‘n eerste, die NG Kampterrein by Pongola. Blykbaar op die wal van die rivier, so hoe dit gaan afgaan vroeg in Julie sal ons maar moet sien!

Nie lank daarna nie is dit Chillax-kamp, ons jeugkamp wat laasjaar soos ‘n bom gewerk het. Weer by Matatane River Lodge hoop ek dat dit hierdie keer net so crazy awesome ervaring sal wees soos die vorige keer. Die begin van die jaar se kategese-afskop kamp het ‘n bietjie meer soos werk gevoel, so ons gaan seriously aandag aan daai aspek gee hierdie keer.

Net voor dit het ons ‘n dissipelskap-retraite. Tel dit as ‘n kamp? Hehe.

Kort na Chillax is daar ‘n Winterskool saam met Andrew Root en Marc de Vries en daarna nog ‘n jeugwerker konferensie (ek dink nie ek gaan die jeugwerkerkonferensie bywoon nie, want ek het al die sprekers wat dit gaan aanbied se goed nou al regtig ‘n klomp keer gehoor – niks fout met dit nie, maar ek gaan my tyd mors. Sal eerder ‘n paar kategete stuur!).

Vroeg in die vierde kwartaal het ons ons jaarlikse Belydeniskamp – eintlik die trickyste een van die lot. Want sien, die verwagting is mos dat ‘n mens op hierdie kamp alles moet fix wat jy nie vanjaar met die belydenis-kids kon regkry nie – hierdie is mos die naweek wat jy hulle moet bind om vir ewig toegewyde lidmate van die NG-kerk te word wat elke Sondag die erediens sal bywoon, elke maand hulle tiende sal gee en hard sal saamwerk in die kommissies. Mos.

Dan…vroeg in Desember het ons ons voorbereidingskamp vir ons uitreik TO Strand toe. Hier werk ons, speel ‘n bietjie en doen baie spanbou (of dis ten minste die idee).

En finally, direk na Krismis ry ons af see toe vir Stranddiens. Die kamp wat die meeste voorbereiding, beplanning, dinkwerk en kreatiwiteit kos, maar die bevredigendste is (op soveel verskillende levels dis nie eens snaaks nie.)

So…wanneer begin julle kamp?

2010 Super 14-finaal en Fort Orlando en 2010 FIFA World Cup en hoekom sport goed is vir ons…

June 1, 2010 Leave a comment

Ja, okay, hier is ek weer met my bandwagon voor jou deur, maar ek het maar net gevoel ek moet so ‘n ietsie kwytraak oor die afgelope naweek se sportgebeure. Onthou, hierdie is my eie belewenis van stuff, so don’t judge me!

Eerstens is ek natuurlik bly dat die Bulls weer met die louere weggestap het, ek is immers ‘n groot fan van die span. Vat niks weg van die Stormers nie – die eerste jaar dat Schalk Burger kaptein is en hulle kom tot in die Finals, staan die minste driee van almal af en speel ‘n barshou? Dit wil natuurlik mos gedoen wees. Kudo’s! Maar ek is netso trots op my eie span en die feit dat hulle WEER die kampioene is. Well done!

Tweedens, soos enigiemand wat daar was sou bevestig: dit was ‘n belewenis. Dalk een van die belangrikste momente in ons land se (sport)geskiedenis. Sien, dit was die Noorde teen die Suide, gekulmineer in die historiese teenpool van die apartheidsregering (man, jy weet wat ek bedoel) en dit word ‘n samevoeging soos min. Soos Roland Schoeman getweet het, die FIFA 2010 World Cup is die beste ding wat met Suid-Afrikaanse Rugby kon gebeur het. Hehe! Die wat Pres Zuma se onderhoud voor die tyd gesien het, sal saamstem dat dit beslis ‘n stap in die regte rigting was. Hopelik (en waarskynlik) sal daar in die toekoms meer wedstryde, ook op internasionale vlak, in Soweto gespeel word. Wie sou dit kon raai 15 jaar gelede?

Derdens, die hele kombers-drive: bring jou blankey en kry vir jou ‘n dop, die aflaaipunt en die biertent is langs mekaar. Haha! Bietjie funny in daai lig, maar wat van ons maak dit ‘n gereelde ding? bring na elke wedstryd ‘n blikkie kos of ‘n ekstra trui of ‘n kombers of iets saam, nie net Soweto toe nie, maar na elke sportstadion. Ek meen, die Curry Cup wag nog, dink net hoeveel behoeftiges kan gehelp word uit dit wat na die wedstryde toe gebring word? Komaan, ouens, as ons sport (en rugby!) as ‘n godsdiens sien, laat hierdie “kerk” ook ‘n slag die gemeenskap help! Dis moontlik…

Vierdens: ek moet net weer aan die geestelike sy van die Bulls raak. Dis onmiskenbaar. Maar luister mooi na hoe hulle praat – Victor Matfield, Frans Ludeke en die res van die manne ook – hulle claim nie dat God hulle laat wen het of dat die ander spanne goddeloos is nie. Hulle bring wel dank en eer aan God vir hulle talente en hoe hulle geseen word. Ons kan hulle tog nie kruisig daarvoor nie – dis die manne se beroep om te speel en hulle lewer hulle getuienis waar almal dit kan sien, so gee hulle ‘n breek. Ons verwag dit tog van ons ander gemeentelede, of hoe?

Laastens: ek verwys na ‘n vorige post wat gegaan het oor hoe ek daarmee verskil dat sport ‘n euwel is wat met wortel en tak uitgeroei moet word. Laas naweek in ag genome, sport is en bly ‘n samebindende faktor in ons land. Watter ander onmiddellike common ground het ons behalwe om ons kinders op skool saam in ‘n span te sit met persone van ander rasse en kulture? Vat dit wyer: hoeveel van die witmense wat saterdag in Soweto was, sou op enige ander tyd dit gewaag het om daar in ‘n shebeen te gaan kuier, as dit nie vir sport was nie? Ja, die konteks het dalk sekere dinge help bepaal, natuurlik, maar dalk is ‘n paar voorveronderstellings ‘n bietjie gebreek of ‘n paar paradigmas net so ‘n bietjie geskuif. Wie weet? Ek glo so.

Vat dit nog wyer: vat sport weg, en jy vat Caster Semenya weg. Jy vat Hezekiel Sepeng weg. Jy vat die Comrades-marathon weg. Jy vat die Two Oceans weg. Jy vat Natalie du Toit weg. Jy vat Roland Schoeman, Ryk Neethling, Bryan Habana, Beast Mtawarira, John Smit en Pierre Spies weg. Jy vat daardie Chanel-chick wat onlangs so goed gedoen het by die Roland Garros weg. Jy vat JP Duminy en die ander krieketspelers weg. Jy vat die FIFA 2010 World Cup weg. Jy vat ouens weg soos Franna Cillie en Louis Koen wat met die Living Ball die hele land deurkruis en mense met behulp van sportballe evangeliseer.

Ja, sport het ook sy donker kant, soos enigiets anders. Maar kom ons kyk nie die positiewe dinge mis nie, want dis nogals in your face.

Van sport en (af)gode…

April 7, 2010 3 comments

In ‘n onlangse radioprogram het prof Piet Naudé blykbaar sport as ‘n “kakiebos wat die hele vleiland inneem” beskryf, en dit dus as ‘n soort indringer-onkruid afgemaak.

‘Die gevaar van sport lê volgens prof Naudé grootliks daarin dat dit besig is om ’n alternatiewe godsdiens te word. “Tiger Woods en Joost van der Westhuizen se val was die val van gode. Die verskil tussen Joost en Jesus is vir baie mense baie klein,” het prof Naudé gesê.’, aldus die Kerkbode se artikel daaroor.

Nou die aand op die History Channel het hulle die een of ander program oor die 7 antieke wonders van die wêreld. Een aspek van die program het sport in die antieke tyd, toe die Olimpiese Spele ontstaan het, beskryf. Nou, die wat weet sal kan bevestig dat die Olimpiese Spele oorspronklik aangebied was ter ere van die gode wat op Olympus gebly het, natuurlik. Die sportfees is gehou ter ere van die gode. Mense (hoofsaaklik mans) het hulle sporttalent (en waarskynlik ‘n paar ander dinge, die Romeine en Grieke was maar ‘n bietjie crazy!) beoefen om sodoende eer aan die gode te bring, hulle te paai en dit as ‘n soort offer aan te bied.

Ek kyk in dieselfde naweek ‘n rugbywedstryd en aan die einde van die wedstryd sê die man of the match hy wil eerstens, omdat dit Paasnaweek is, vir Jesus dankie sê vir wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Om dus vir Jesus met Joost te wil vergelyk, soos wat prof Naudé van mening is baie mense doen, is belaglik. Niemand sê vir Joost dankie wanneer hulle ‘n drie gedruk het, of aan die einde van ‘n game, of dra ‘n hemp waarop daar staan ‘Joost is Koning’ nie. Shame, die arme ou!

Ek het al heelwat oor godsdiens en sport (en rugby!) geskryf, maar wil tog weer ‘n parallel of twee trek. Kan ons nie maar vandag nog weer ‘n paar sportmanne se bona fides aanvaar wanneer hulle sê dat hulle hul sport “tot eer van God” beoefen nie? Ons doen dit tog almal: bid voor die game, vra dat die Here ons sal seën en teen beserings bewaar en al daai goed. Ekself is betrokke by sulke dinge by ‘n rugbyspan. Ons leer ons kinders dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves – vanwaar dan die negatiwiteit?

Natuurlik is oorprestasie die lelike teenpool. Ouers wat nie die hoë sporte van die leer kon behaal nie, dryf ook hul kinders tot die uiterste toe en die kinders moet die ouers se drome uitleef. Steroïde en etiese sake soos rasse-kwotas en al daai goed moet tereg op die tafel gesit word en hanteer word. Maar waar ek dink prof Naudé die bal lelik misslaan, is veral in hierdie stelling:
“Sport is nie net ekologies onsensitief nie, maar sportmanne word ook gans te veel betaal. ’n Brandweerman wat bereid is om sy lewe vir iemand anders se veiligheid te waag, word R15 000 per maand betaal as hy gelukkig is. Maar as ’n man ’n bal in ’n blikkie slaan, verdien hy voor ontbyt soveel geld.”
Prof Naudé sê sport bevorder ook materialisme en luiheid. Dit maak van die liggaam die norm in die samelewing waar jou menswees gemeet word aan fisieke voorkoms.
Boonop is sport ’n lae vorm van kultuur omdat dit hoër vorms van kultuur verdring, het hy gesê. “Daar is elke dag ’n sportblad in die koerante, maar jy sien net af en toe ’n boekeblad of ’n gesprek oor byvoorbeeld argitektuur. Ons moet sport in sy voetspore stop, want dit is ’n kakiebos.”

As ‘n brandweerman te min betaal word, is dit die staat se skuld, nie die brandweerstasie waar hy werk s’n nie. Sportmanne en -vroue kan nie blameer word daarvoor dat daar ongelykheid in kompensasie plaasvind nie. Ons almal weet van gevalle of beleef self onregverdigheid in hierdie verband as gevolg van onbevoegdheid van die staat se kant. Sportlui word deur hulle unies betaal. Die unies maak geld omdat mense die unies ondersteun. As die staat die moeite werd raak om te ondersteun (lees: as almal begin om hulle belasting te betaal en dit regverdig spandeer word), kan brandweermanne en maatskaplike werkers, onder andere, dalk ook begin om te kry wat hulle toekom.

Om sport ook ‘n lae vorm van kultuur te noem en dan die afwesigheid van kultuurblaaie in koerante te wil neem as ‘n maatstaf van die prominensie wat daaraan gegee word, is volgens my ‘n weird argument. Daar is daagliks ook boeke en flieks en teater en kuns en argitektuur en restaurante wat in ons grootste Afrikaanse dagblad bespreek en geresenseer word, net soveel as wat daar sport is. Dikwels is dit ook internasionale sportgebeure wat beskryf word. Kan ons sport blameer vir sy eie bestaan?

Ja, ons gee ontsaglike groot prominensie aan sport. Die 2010 Sokker maak ons elke liewe dag bewus daarvan en ja, daar word seker nie 40 000 prostitute ingevoer wanneer die Rusiese ballet op ‘n wêreldtoer gaan nie, maar ek dink nie ons kan maatskaplike probleme soos materialisme en ‘n gebrek aan morele en etiese waardes en norme direk voor sport se deur kom lê nie.

Daar is teveel positiewe stories waar seuns en dogters, mans en vroue God op die sportveld ontmoet het, of dit nou by ‘n rugbyoefening of op ‘n netbaltoer of in die drafklub tydens die Comrades Marathon was. Baie uithou-sporte word vir mense ‘n geestelike belewenis en hulle beleef God in hulle lywe. Dalk sou Jesus ook ‘n sokkerbôl saam met die klein Joodjies van Nasaret rondgeskop het as dit toe al bestaan het, of ‘n rugbybal saam met my en jou kom rondpass het, of jou gedice het om te kyk wie is die vinnigste oor 100 meter. Hy het immers geïnkarneer om méns soos ek en jy te word.

Terwy sport so groot prominensie het, gebruik dit om Jesus in die prentjie te bring. Hy was en is nog immers die heeltyd deel daarvan.

Categories: Blogroll
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.