Ons kamp amper weer!! Yay!!

June 7, 2010 Leave a comment

Kampe kampe kampe! Amper weer kampseisoen. Ja, die tweede helfte van die jaar is my “kampseisoen”, die tyd waarin ons op hordes jeugkampe gaan en deur saamwees…wel, net saam is en saam speel en saam bid en saam moeg word. Kan byna nie wag nie! Een van die outjies wat laas jaar begin saam kamp het, vra my nou-nou net in die gym: “Wanneer begin ons nou weer bietjie kamp?” Nou, hier is die break down:

Eerste aan die beurt is Kamp 1 van Skolliekamp 2010 by Winklespruit. Nou, ek moet erken, ek was nog nooit self op een nie, maar ek was darem al ‘n paar keer op Skoolverwisselingskamp, en dit lyk my die formaat is baie dieselfde. So ek stres nie regtig nie, ek sien nogals uit. Bybelstudieleier en Ontspanningsleier. Hmmm.

Dan, die laaste naweek van die vakansie het ons ‘n Ringsjeugkamp (of altans, ons probeer een organize). Dit gaan maar sukkel-sukkel, daar was lanklaas so iets hier gehou. Maar ons kyk maar hoe dit gaan! Nog ‘n eerste, die NG Kampterrein by Pongola. Blykbaar op die wal van die rivier, so hoe dit gaan afgaan vroeg in Julie sal ons maar moet sien!

Nie lank daarna nie is dit Chillax-kamp, ons jeugkamp wat laasjaar soos ‘n bom gewerk het. Weer by Matatane River Lodge hoop ek dat dit hierdie keer net so crazy awesome ervaring sal wees soos die vorige keer. Die begin van die jaar se kategese-afskop kamp het ‘n bietjie meer soos werk gevoel, so ons gaan seriously aandag aan daai aspek gee hierdie keer.

Net voor dit het ons ‘n dissipelskap-retraite. Tel dit as ‘n kamp? Hehe.

Kort na Chillax is daar ‘n Winterskool saam met Andrew Root en Marc de Vries en daarna nog ‘n jeugwerker konferensie (ek dink nie ek gaan die jeugwerkerkonferensie bywoon nie, want ek het al die sprekers wat dit gaan aanbied se goed nou al regtig ‘n klomp keer gehoor – niks fout met dit nie, maar ek gaan my tyd mors. Sal eerder ‘n paar kategete stuur!).

Vroeg in die vierde kwartaal het ons ons jaarlikse Belydeniskamp – eintlik die trickyste een van die lot. Want sien, die verwagting is mos dat ‘n mens op hierdie kamp alles moet fix wat jy nie vanjaar met die belydenis-kids kon regkry nie – hierdie is mos die naweek wat jy hulle moet bind om vir ewig toegewyde lidmate van die NG-kerk te word wat elke Sondag die erediens sal bywoon, elke maand hulle tiende sal gee en hard sal saamwerk in die kommissies. Mos.

Dan…vroeg in Desember het ons ons voorbereidingskamp vir ons uitreik TO Strand toe. Hier werk ons, speel ‘n bietjie en doen baie spanbou (of dis ten minste die idee).

En finally, direk na Krismis ry ons af see toe vir Stranddiens. Die kamp wat die meeste voorbereiding, beplanning, dinkwerk en kreatiwiteit kos, maar die bevredigendste is (op soveel verskillende levels dis nie eens snaaks nie.)

So…wanneer begin julle kamp?

2010 Super 14-finaal en Fort Orlando en 2010 FIFA World Cup en hoekom sport goed is vir ons…

June 1, 2010 Leave a comment

Ja, okay, hier is ek weer met my bandwagon voor jou deur, maar ek het maar net gevoel ek moet so ‘n ietsie kwytraak oor die afgelope naweek se sportgebeure. Onthou, hierdie is my eie belewenis van stuff, so don’t judge me!

Eerstens is ek natuurlik bly dat die Bulls weer met die louere weggestap het, ek is immers ‘n groot fan van die span. Vat niks weg van die Stormers nie – die eerste jaar dat Schalk Burger kaptein is en hulle kom tot in die Finals, staan die minste driee van almal af en speel ‘n barshou? Dit wil natuurlik mos gedoen wees. Kudo’s! Maar ek is netso trots op my eie span en die feit dat hulle WEER die kampioene is. Well done!

Tweedens, soos enigiemand wat daar was sou bevestig: dit was ‘n belewenis. Dalk een van die belangrikste momente in ons land se (sport)geskiedenis. Sien, dit was die Noorde teen die Suide, gekulmineer in die historiese teenpool van die apartheidsregering (man, jy weet wat ek bedoel) en dit word ‘n samevoeging soos min. Soos Roland Schoeman getweet het, die FIFA 2010 World Cup is die beste ding wat met Suid-Afrikaanse Rugby kon gebeur het. Hehe! Die wat Pres Zuma se onderhoud voor die tyd gesien het, sal saamstem dat dit beslis ‘n stap in die regte rigting was. Hopelik (en waarskynlik) sal daar in die toekoms meer wedstryde, ook op internasionale vlak, in Soweto gespeel word. Wie sou dit kon raai 15 jaar gelede?

Derdens, die hele kombers-drive: bring jou blankey en kry vir jou ‘n dop, die aflaaipunt en die biertent is langs mekaar. Haha! Bietjie funny in daai lig, maar wat van ons maak dit ‘n gereelde ding? bring na elke wedstryd ‘n blikkie kos of ‘n ekstra trui of ‘n kombers of iets saam, nie net Soweto toe nie, maar na elke sportstadion. Ek meen, die Curry Cup wag nog, dink net hoeveel behoeftiges kan gehelp word uit dit wat na die wedstryde toe gebring word? Komaan, ouens, as ons sport (en rugby!) as ‘n godsdiens sien, laat hierdie “kerk” ook ‘n slag die gemeenskap help! Dis moontlik…

Vierdens: ek moet net weer aan die geestelike sy van die Bulls raak. Dis onmiskenbaar. Maar luister mooi na hoe hulle praat – Victor Matfield, Frans Ludeke en die res van die manne ook – hulle claim nie dat God hulle laat wen het of dat die ander spanne goddeloos is nie. Hulle bring wel dank en eer aan God vir hulle talente en hoe hulle geseen word. Ons kan hulle tog nie kruisig daarvoor nie – dis die manne se beroep om te speel en hulle lewer hulle getuienis waar almal dit kan sien, so gee hulle ‘n breek. Ons verwag dit tog van ons ander gemeentelede, of hoe?

Laastens: ek verwys na ‘n vorige post wat gegaan het oor hoe ek daarmee verskil dat sport ‘n euwel is wat met wortel en tak uitgeroei moet word. Laas naweek in ag genome, sport is en bly ‘n samebindende faktor in ons land. Watter ander onmiddellike common ground het ons behalwe om ons kinders op skool saam in ‘n span te sit met persone van ander rasse en kulture? Vat dit wyer: hoeveel van die witmense wat saterdag in Soweto was, sou op enige ander tyd dit gewaag het om daar in ‘n shebeen te gaan kuier, as dit nie vir sport was nie? Ja, die konteks het dalk sekere dinge help bepaal, natuurlik, maar dalk is ‘n paar voorveronderstellings ‘n bietjie gebreek of ‘n paar paradigmas net so ‘n bietjie geskuif. Wie weet? Ek glo so.

Vat dit nog wyer: vat sport weg, en jy vat Caster Semenya weg. Jy vat Hezekiel Sepeng weg. Jy vat die Comrades-marathon weg. Jy vat die Two Oceans weg. Jy vat Natalie du Toit weg. Jy vat Roland Schoeman, Ryk Neethling, Bryan Habana, Beast Mtawarira, John Smit en Pierre Spies weg. Jy vat daardie Chanel-chick wat onlangs so goed gedoen het by die Roland Garros weg. Jy vat JP Duminy en die ander krieketspelers weg. Jy vat die FIFA 2010 World Cup weg. Jy vat ouens weg soos Franna Cillie en Louis Koen wat met die Living Ball die hele land deurkruis en mense met behulp van sportballe evangeliseer.

Ja, sport het ook sy donker kant, soos enigiets anders. Maar kom ons kyk nie die positiewe dinge mis nie, want dis nogals in your face.

Van sport en (af)gode…

April 7, 2010 3 comments

In ‘n onlangse radioprogram het prof Piet Naudé blykbaar sport as ‘n “kakiebos wat die hele vleiland inneem” beskryf, en dit dus as ‘n soort indringer-onkruid afgemaak.

‘Die gevaar van sport lê volgens prof Naudé grootliks daarin dat dit besig is om ’n alternatiewe godsdiens te word. “Tiger Woods en Joost van der Westhuizen se val was die val van gode. Die verskil tussen Joost en Jesus is vir baie mense baie klein,” het prof Naudé gesê.’, aldus die Kerkbode se artikel daaroor.

Nou die aand op die History Channel het hulle die een of ander program oor die 7 antieke wonders van die wêreld. Een aspek van die program het sport in die antieke tyd, toe die Olimpiese Spele ontstaan het, beskryf. Nou, die wat weet sal kan bevestig dat die Olimpiese Spele oorspronklik aangebied was ter ere van die gode wat op Olympus gebly het, natuurlik. Die sportfees is gehou ter ere van die gode. Mense (hoofsaaklik mans) het hulle sporttalent (en waarskynlik ‘n paar ander dinge, die Romeine en Grieke was maar ‘n bietjie crazy!) beoefen om sodoende eer aan die gode te bring, hulle te paai en dit as ‘n soort offer aan te bied.

Ek kyk in dieselfde naweek ‘n rugbywedstryd en aan die einde van die wedstryd sê die man of the match hy wil eerstens, omdat dit Paasnaweek is, vir Jesus dankie sê vir wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Om dus vir Jesus met Joost te wil vergelyk, soos wat prof Naudé van mening is baie mense doen, is belaglik. Niemand sê vir Joost dankie wanneer hulle ‘n drie gedruk het, of aan die einde van ‘n game, of dra ‘n hemp waarop daar staan ‘Joost is Koning’ nie. Shame, die arme ou!

Ek het al heelwat oor godsdiens en sport (en rugby!) geskryf, maar wil tog weer ‘n parallel of twee trek. Kan ons nie maar vandag nog weer ‘n paar sportmanne se bona fides aanvaar wanneer hulle sê dat hulle hul sport “tot eer van God” beoefen nie? Ons doen dit tog almal: bid voor die game, vra dat die Here ons sal seën en teen beserings bewaar en al daai goed. Ekself is betrokke by sulke dinge by ‘n rugbyspan. Ons leer ons kinders dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves – vanwaar dan die negatiwiteit?

Natuurlik is oorprestasie die lelike teenpool. Ouers wat nie die hoë sporte van die leer kon behaal nie, dryf ook hul kinders tot die uiterste toe en die kinders moet die ouers se drome uitleef. Steroïde en etiese sake soos rasse-kwotas en al daai goed moet tereg op die tafel gesit word en hanteer word. Maar waar ek dink prof Naudé die bal lelik misslaan, is veral in hierdie stelling:
“Sport is nie net ekologies onsensitief nie, maar sportmanne word ook gans te veel betaal. ’n Brandweerman wat bereid is om sy lewe vir iemand anders se veiligheid te waag, word R15 000 per maand betaal as hy gelukkig is. Maar as ’n man ’n bal in ’n blikkie slaan, verdien hy voor ontbyt soveel geld.”
Prof Naudé sê sport bevorder ook materialisme en luiheid. Dit maak van die liggaam die norm in die samelewing waar jou menswees gemeet word aan fisieke voorkoms.
Boonop is sport ’n lae vorm van kultuur omdat dit hoër vorms van kultuur verdring, het hy gesê. “Daar is elke dag ’n sportblad in die koerante, maar jy sien net af en toe ’n boekeblad of ’n gesprek oor byvoorbeeld argitektuur. Ons moet sport in sy voetspore stop, want dit is ’n kakiebos.”

As ‘n brandweerman te min betaal word, is dit die staat se skuld, nie die brandweerstasie waar hy werk s’n nie. Sportmanne en -vroue kan nie blameer word daarvoor dat daar ongelykheid in kompensasie plaasvind nie. Ons almal weet van gevalle of beleef self onregverdigheid in hierdie verband as gevolg van onbevoegdheid van die staat se kant. Sportlui word deur hulle unies betaal. Die unies maak geld omdat mense die unies ondersteun. As die staat die moeite werd raak om te ondersteun (lees: as almal begin om hulle belasting te betaal en dit regverdig spandeer word), kan brandweermanne en maatskaplike werkers, onder andere, dalk ook begin om te kry wat hulle toekom.

Om sport ook ‘n lae vorm van kultuur te noem en dan die afwesigheid van kultuurblaaie in koerante te wil neem as ‘n maatstaf van die prominensie wat daaraan gegee word, is volgens my ‘n weird argument. Daar is daagliks ook boeke en flieks en teater en kuns en argitektuur en restaurante wat in ons grootste Afrikaanse dagblad bespreek en geresenseer word, net soveel as wat daar sport is. Dikwels is dit ook internasionale sportgebeure wat beskryf word. Kan ons sport blameer vir sy eie bestaan?

Ja, ons gee ontsaglike groot prominensie aan sport. Die 2010 Sokker maak ons elke liewe dag bewus daarvan en ja, daar word seker nie 40 000 prostitute ingevoer wanneer die Rusiese ballet op ‘n wêreldtoer gaan nie, maar ek dink nie ons kan maatskaplike probleme soos materialisme en ‘n gebrek aan morele en etiese waardes en norme direk voor sport se deur kom lê nie.

Daar is teveel positiewe stories waar seuns en dogters, mans en vroue God op die sportveld ontmoet het, of dit nou by ‘n rugbyoefening of op ‘n netbaltoer of in die drafklub tydens die Comrades Marathon was. Baie uithou-sporte word vir mense ‘n geestelike belewenis en hulle beleef God in hulle lywe. Dalk sou Jesus ook ‘n sokkerbôl saam met die klein Joodjies van Nasaret rondgeskop het as dit toe al bestaan het, of ‘n rugbybal saam met my en jou kom rondpass het, of jou gedice het om te kyk wie is die vinnigste oor 100 meter. Hy het immers geïnkarneer om méns soos ek en jy te word.

Terwy sport so groot prominensie het, gebruik dit om Jesus in die prentjie te bring. Hy was en is nog immers die heeltyd deel daarvan.

Categories: Blogroll

Jy moet kyk, mannetjie…

April 5, 2010 2 comments

Dis dieselfde as wanneer jy 03h00 die oggend wakker gebel word, hierdie tipe sms’e: jy weet sommer daar is moeilikheid. Behalwe dalk op jou verjaarsdag bel of sms mense nie gewoonlik om te hoor hoe gaan dit daai tyd nie. Granted, die sms het eers 06h00 deurgekom, maar nogtans.

Die sms’e wat sê: “My broer en sy vriende was in ‘n motorongeluk…” Nou, regardless of iemand ernstig seergekry het en of almal okay is, dis nooit lekker nie. Want daar is altyd nuus wat ‘n mens nie wil hoor nie: Jou bakkie is afgeskryf. Jou kind is in die hospitaal. Jou vriend het seergekry.

En ek sit met ‘n beklemming in my borskas. Want dadelik word daar weer gehardloop na die “wat moet ons hieruit leer”-laai toe. Kan ons dit nie nou maar vir eens en vir altyd stopsit nie? Leer die Ou Testament teologie ons niks nie? Dinge gebeur nie altyd “sodat” nie – dinge gebeur baie meer “omdat”. Kan ons maar vir God uiteindelik verlos van Sy weird-onderwyser-modus wat ons net op extreme maniere lessies kan leer en net ‘n slag weer sien Hy is die God wat aan die kruis hang, wat sáám met ons in die ongeluk was, wat sáám met ons swaar- en seerkry en ons in ons nood wil bystaan? Dis wat ek uit Job en ‘n paar ander Psalms leer.

Dis net…partykeer is dit ons eie skuld, is dit nie? Partykeer is dit ons wat die spoedgrens oortree, wat die rooi lig skip, wat oor die stopstraat jaag, wat net daai een drink te veel drink voordat ek agter die stuurwiel inklim, wat alleen op ongoddellike tye langs donker straatjies loop. Dan blameer ons gewoonlik vir God en vra waar was Hy en hoekom het Hy niks gedoen nie, in plaas daarvan om te kyk waar was ons.

Dit laat my dink aan die een of ander show van Casper de Vries, waar hy die sin gebruik het (wat ons later in ‘n studentekonsert oorgeplagiariseer het): “Jy moet kyk, mannetjie! Jy moet @$&%# kyk!”

Want ons moet begin kyk. Ons moet begin kyk na ons tieners se drinkgewoontes (ek beskuldig niemand nie, maar as die skoen jou pas…nou ja…), ons kan dit nie net aan die dominees en jeugwerkers oorlaat om vir hulle daaroor te preek nie.

Ons moet begin kyk na hoe ons ons paaie gebruik. Face dit, die goed is in ‘n toestand en gaan baie moeiliker reggemaak word as wat dit verniel word, so hou jou oë oop! Ry versigtig!

Ons moet begin kyk na waarmee ons onsself besig hou. Ouers, ek sê nie julle moet oorbeskermd teenoor julle tieners optree nie, maar weet ten minste wat in hulle lewens aangaan! En, veral, dit wat julle in julle eie huise toelaat. Kruisig my asseblief en sê ek weet nie waarvan ek praat nie, ek het nie kinders/tieners nie, ek is nie eens getroud nie. Sure, julle het ‘n punt beet. Maar moenie sê ek het julle nie gewaarsku as jou kind overdose of swanger raak/iemand swanger maak of al daai lekker goedjies nie. Ek hoef nie al die voorbeelde te noem nie, julle ken hulle.

Tieners: seriously, ouens. Kyk na jou maats, asseblief! As ons nie mekaar gaan oppas nie, waar gaan ons opeindig? En ja, ek weet, jy is nou maar 16 of 17 of 18 of 19 en ja, jy het nou net jou license gekry en jy kan allerhande grootmens-goeters doen…maar for Pete’s sakes, as jy nie soos ‘n kind behandel wil word nie, moet dan nie soos een optree nie. Luister na mekaar as die een die ander een probeer reghelp. Onthou, jy is self die kerk, so jy gaan nie die kerk blameer en sê die kerk wou niks met jou of jou probleme te doen gehad het nie. As jy hulp kort, skree! Sms, bel, mxit, gil en spring totdat iemand aandag gee, maar moet om hemelsnaam nie alleen probeer voortkarring nie.

Ons eie Rome brand, veral na die afgelope naweek se ET/Malema-stories. Moenie dat ons gevang word met die viole styf vasgeklem onder ons kenne bo-op ons huise se dakke, veilig besig om weg te kyk nie. Vergeet die “call to arms” – ek doen ‘n oproep dat ons nugter en wakker sal raak en mekaar sal begin beskerm (veral teen sinnelose geweld) en mekaar sal oppas.

Me, me, me, I, I, I…kom ons praat bietjie oor selfsug

March 30, 2010 Leave a comment

Tieners, jong (on)volwassenes, basies, lyk my, die post-moderne mens of dalk net Generasies X en Y…almal soek net hul eie belang. ‘What’s in it for me?’ het die eerste prioriteit geword. Op die sportveld, op die verhoog, by die kerk (veral!)…dis al waaroor dit gaan! Of is dit net ek?
Ek wil 1espan speel, maar wat kry ek als van borge af? Ek wil aan die revue deelneem, maar watse cool goed gaan die skool alles vir my gee?
Alles is die heeltyd voorwaardelik. Ek sal A, maar dan moet jy B. Eers dan sal ek. Miskien. En as ek ‘n wanpersepsie oor jou het, tough noogies vir jou, ou maat. Ek hoef nie MY persepsie(s) te verander of myself dalk net deeglik van die feite vergewis voordat ek ‘n sekere houding inneem of aannames maak nie. Vir wat hoef ek dit te doen? Ek verwag dat jy dit moet doen, hoe durf jy verwag dat ek dieselfde moet doen?
Niemand se belange behalwe die eie ek s’n word gedien nie. Die groep is, wel, onbelangrik. Tensy jy in my groep is – en selfs dit is voorwaardelik. As ons verskil, raak ek apaties, ek raak negatief teenoor die groep, ek begin die groep sleg te sê en ek dreig om by ‘n ander groep aan te sluit.
Wat sou gebeur as ek dalk kyk: hoekom verskil ek van die groep? Verskil ek hoegenaamd van die groep? Wat is dit wat my regtig pla? Wat het ek al vandag gedoen om dinge vir die groep (en per implikasie vir myself ook as ek my nog deel van die groep ag) beter te maak, behalwe om te kla?
Somtyds dink ek ons oorskat mense.
En as jy dink dié post is op jou gemik – seriously, moenie so baie van jouself dink nie.

Categories: Blogroll

Aspatatjie (oftewel, Aspoestertjie, oftewel, Cinderella…)

March 22, 2010 1 comment

Aspatatjie

Ons almal ken die pragtige sprokies verhaal wat bekend staan as Cinderella of Aspoestertjie. Ek verkies om na haar te verwys as Asplastertjie (want sy plas mos in die as rond) of Aspatatjie (Liewe Heksie was ons ligjare vooruit!).

Hoekom hou ons van die verhaal? Want dit is DIE DROOM: Rags to riches, ultimate underdog stories van mense wat teen alle verwagtinge in tog bo uitgekom het, met ‘n bietjie eksterne hulp natuurlik. Liefde word gevind, die baddies kry wat hulle verdien en ons lewe almal lank en gelukkig saam. Die Einde.

Maar wat van as Aspatatjie nie so ekskuus-dat-ek-leef-die-wêreld-skuld-my-iets-pateet was nie en vir haar regte opgestaan het? As sy die spreekwoordelike as van haar nie-so-spreekwoordelike rok afgeskud het, het haar gesig gaan was het en die lewe vierkantig in die oë gekyk het, wat dan? Hoe sou die storie dan daar uitgesien het? Kom ons gaan kyk…

Die sprokie se voorgeskiedenis wat ons altyd mee te doen kry, maar self nooit beleef nie, is dat Aspatat se skynbaar welgestelde pa ná sy vrou se afsterwe trou met ‘n weduwee met twee dogters. Aspatat is ook skynbaar die enigste kind uit die eerste huwelik en die jongste in hierdie saamgestelde gesin, want die lelike stiefsusters (ons kom nou daarby) kan haar hiet en gebied en sy moet net luister.

Okay, so teen die tyd dat ons gewoonlik die verhaal betree, is Aspatatjie se pa ook, wel, as, en moet sy nou die huis deel met haar wrede, bose stiefma en haar twee lelike stiefsusters. Nou, hoekom is stiefma’s altyd boos, wreed en besitlik op die oorlede man se rykdom? Net Andersen en die Grimm-boeties sal dit weet. Ek raai nie een van dié spulletjie het ‘n goeie verhouding met hul ouers gehad nie, as gevolg van afwesigheid aan vaderskant of iets dergeliks. Freud-ouens sal weet.

En die stiefsusters, hoekom is hulle altyd lelik? Is hulle lelik met Aspatat, of is hulle onaantreklik in voorkoms? Het hulle slegte maniere, is hulle tewe of is hulle onversorg en oorgewig? Ons kry nooit finaal uitsluitsel nie, maar die meeste weergawes neig na die oorgewig, ongeskikte kant. En omdat Aspatatjie die jongste en skynbaar nog mooi van binne en van buite is, moet hulle iets doen om hulleself beter te laat voel: hulle maak haar hulle slaaf.

Nou, ons almal weet wat dit in tronkterme beteken, en hoewel dit vir onse Aspatat sekerlik soos ‘n tronk moes gevoel het in haar eie huis, was sy maar net geforseer om hard te werk. In prinsiep kan niemand ook enigiets sê teen harde werk nie, ek meen ons almal moet dit maar een of ander tyd begin doen, maar wanneer ‘n mens hard VIR FAMILIE moet begin werk sodat HULLE die voordeel daarvan kry, raak dit ‘n ander storie.

Dit laat ook die vraag ontstaan oor ha pa se welgestelde nalatenskap: Kon hulle nie iemand anders bekostig om al die crap werk te doen nie? Of is die inhalige stiefma ‘n skelm perdespeler of crack-verslaafde? Wat het met al die geld gebeur – was dit in die bank of onder die bed weggesteek? Niemand sê ons mos nooit niks nie.

Al wat ons weet is dat Aspatat die kort strooitjie getrek het wat betref huislike omstandighede. Sy het al die werk gedoen en saans tussen die as in die vuurherd geslaap.

Hold on! Vir wat? Het sy nie haar eie bed gehad nie? Het haar stiefma dit ook vir perdegeld verkwansel? Wat van haar oorspronklike kamer, haar klere en, siende dat sy ‘n jong dame is van troubare ouderdom, waar het sy haarself darem die drie-punt-bad gegee? En seriously, die stiefsusters het sekerlik nie waggestaan of op die closed circuit television haar dopgehou om te kyk dat sy elke aand in die kaggel beland nie. As die spulletjie gaan slaap het, hoekom het sy nie ten minste haarself op die bank gemaklik loop staan maak nie?

Maar ons moet maar net aanvaar sy het nie.

Eendag kom daar toe ook ‘n uitnodiging na die koning se bal (!) wat hy hou sodat die prins vir hom ‘n vrou kan kies. Hierdie storie-element het, uit ‘n post-moderne oogpunt gesien, soveel baggage dis nie eens snaaks nie: die pa organize ‘n party vir sy laaitie sodat dié vir homself ‘n vry kan kry. Dit sê nie veel van die prins se social skills nie. Ek meen, as hy so handsome is soos wat al die boeke en flieks hom uitbeeld, hoekom was hy in die eerste plek nog single? En tweedens, het hy so min van ‘n sosiale lewe dat hy nie self kan uitgaan na ‘n pub of ‘n jagtersvereniging of ‘n atletiekklub of ‘n online dating website nie? So ons kan aanneem hy is insecure. Of net pleinweg vrek lui. Of, hopelik, was hy eintlik net ‘n workaholic wat nie tyd gehad het vir ‘n significant other in sy lewe nie omdat hy te besig was om sy eie empire onder sy pa se neus op te bou. Kom ons hoop so. Of dalk was hy net pleinweg vrek lui.

Die uitnodiging daag op en die stiefma en die twee lelike stiefsusters, wat skynbaar nie van die flaws in hulle persoonlikhede en voorkoms bewus was nie, is natuurlik voor in die koor. Die stiefma wil met alle mag en krag een van hulle aan die arme, lui prins afsmeer, wat weer eens ‘n bevestiging is van haar onvermoeë om met geld te werk, of haar dobbel-verslawing. Aspatat mag natuurlik nie saam gaan nie, alhoewel alle meisies in die land genooi is. Sy tel dus nie as ‘n meisie nie. Wat noem ‘n mens diskriminasie tussen vroue onderling? Quasi-feminisme? En Aspatatjie is soos altyd die ongelukkige slagoffer. Why?

Kom ons kyk objektief hierna: sy is groot genoeg om ‘n huishouding te run. So sy het ‘n bietjie savvy. Hoekom loop sy nie net weg en begin haar eie cleaner-besigheid nie (in daai middeleeuse Europa met sy gebrekkige higiëne sou sy ‘n killing gemaak het!)? Of was haarself in die rivier en gaan op haar eie na die bal toe nie?

Want, my liewe leser, eintlik was Aspatatjie ‘n genie. En jy sal wel netnou sien hoekom.

Ons weet wat toe gebeur het: die Goeie Fee daag op en verander letterlik haar rags in riches met ‘n swaai van haar towerstaffie. Muise, pampoene en akkedisse word perde, ‘n koets en lakeie en haar verslete ou rokkie word ‘n Donatella Versace-skepping, so reg uit Italië. Haar sandaaltjies word glasskoentjies. En hierdie einste glasskoentjies behoort vir jou clue nommer een te wees dat Aspatatjie ‘n IK van 178 gehad het.

Sy daag natuurlik fashionably very late by die partytjie op (clue nommer 2), sodat sy al die aandag op haar kan kry. Natuurlik gaan die lui prins haar tussen al die ander hoopvolle sloeries raaksien, want sy staan uit in die deur. Hy lig sy ass en besluit, okay, ek dans die res van die aand met jou. Niemand sê of sy haar glasskoentjies die hele aand aangehou het of dadelik uitgetrek het nie (clue nommer 3). Ons weet net, dat toe die klok sy twaalf slae vir middernag slaan wat die einde van alle partytjies, balle, troues en koshuisdinee’s aankondig, het een van die skoentjies op die trap van die paleis agtergebly. Aspatatjie maak haarself uit die voete (of is dit uit die skoene?) en chase terug huis toe teen die spoed van wit fisantsous. Die een glasskoentjie bly op die trap agter en, in teenstelling met die koets, lakeie, perde en haar klere, VERANDER NIE TERUG NIE (clue nommer 5). Die prins, wat natuurlik te lui was om agter Aspatat aan te hardloop, kom op die skoen af en beraam ‘n slinkse plannetjie van sy eie.

In elke sprokie is daar elemente van werklikheid en elemente van die fantastiese. Baie van ons hedendaagse verhale besit ook altwee elemente. Vra enige visserman of jagter of rugbyspeler of tienerseun wat gescore het op ‘n party of wat ‘n fight gewen het. Myne is groter/beter/moeiliker/swaarder as joune, my storie beat joune, my bankbalans is vetter, ensovoorts ensovoorts. Ons dik dinge aan om dit meer woema te gee. Dit bestaan nie regtig nie en almal weet dit, maar nogtans vertel ons die storie met dit in en ons sluk dit. Want daarsonder sou dit maar eintlik vervelig gewees het. Of, juis dan, ongeloofwaardig. Want soms is feite moeiliker om te glo as fiksie.

Ek is oortuig dat die hele stukkie met die Goeie Fee ‘n fantastiese rekonstruk is en dat daar eintlik ‘n baie eenvoudige oplossing agter al hierdie dinge le.

Ek is voorts oortuig daarvan Aspatatjie het eintlik haar pa se geld onder die stiefma se neus uitgesteel.

Dís hoekom die stiefma so knaend in die geldelike knyp was en wou sorg dat IEMAND in die familie ryk trou. Dís hoekom Aspatat skoene van glas kon bekostig wat sterk genoeg is dat dit nie breek as jy met dit loop nie, maar fyn genoeg dat dit nog steeds elegant lyk. Dís hoe sy vir al haar bykomstighede kon betaal. Niemand glo tog die Goeie Fee gedeelte nie, en wie wil nou in ‘n pampoen wat deur muise getrek word na ‘n party toe ry?

Sien, Aspatatjie het geweet sy kan nie dat die stief-familie van haar slinkse bedrywighede te wete kom of iets vermoed nie. Daarom het sy die game meesterlik gespeel. Die ultimate Survivior: outwit, outplay, outlast. Sy het vroegtydig gesien sy moet haar eie belange beskerm en het agteraf te werk gegaan sodat niemand haar ooit sou kon verdink nie. Vaal ou Aspatat met die stofskoentjies was toe al die tyd ‘n woekerende klein entrepreneur van die hoogste formaat. DIS HOEKOM DIE GLASSKOENTJIE NIE TERUGVERANDER HET IN ‘N SANDAAL NIE…DIT WAS NOOIT ‘N GETOORDE SKOEN NIE!

Okay, terug na die verhaallyn: Prins Jannie die Luie sit ‘n soektog deur die hele land aan om te kyk aan wie die skoen behoort. Okay, stop gou weer: die dude het tog geweet hy het nie met enige een van die ander hoopvolle sloeries gedans nie, so hoekom sy tyd mors om even by hulle te gaan kyk of “die skoen hulle pas”? Wat van die proses van eliminasie? Dalk was hy teen daai tyd van die aand so dronk dat hy nie meer kon fokus nie (wat ook verklaar hoekom hy nie vir Aspatat kon inhardloop nie). Dalk was hy so besig op sy Blackberry dat hy nooit regtig aan haar aandag gegee het nie. Of dalk was hy net regtig vrek lui.

Soektog, soektog, soektog. En, weird, niemand in die land dra dieselfde size skoen as Aspatatta nie. Hoekom sy ook nie die volgende dag self die skoen gaan soek het by die paleis se lost and found boksie nie, is ook ‘n misterie, maar dalk het sy gedink: oh well, so ek het ‘n skoen verloor. Big deal. Ek het ‘n lekker aand gehad, ek is besig om met ‘n geldverduistering skema lekker ryk te word en gaan nog net ‘n maand hier moet uithou, dan kan ek Italië toe verkas en ‘n modehuis/cleaning service begin. En toe steek die lui prins ‘n stokkie voor haar planne, want hy besluit toe hy sal nou maar trou met die eerste beste girl vir wie “die skoen pas”. Genoeg van balle en ander ronde partytjie objekte. Ek kan nie meer nie, kopperaal! Een aand se dans is genoeg!

So kom die hele geselskap en al die karakters in die verhaal in Aspatatjie-hulle se sitkamer bymekaar vir die grand finale. Vir oulaas, kon die prins nie agterkom dat hy nie met een van die twee lelike stiefsusters gedans het nie? Jeepers…

Okay, die skoen pas nie een van die twee nie, wat in idiomatiese taal verduidelik kan word as: ‘Dit het nie een van die twee gepas om met die prins te trou nie’, wat natuurlik skreiende ironie is. Met ander woorde, sarkasme. Chuckle chuckle, ek lag in my mou. Want Aspatat het net gewag dat hulle haar moes roep. En hier lê die klimaks van haar briljante meesterplan:

Sy het nou wel al haar pa se geld ge-embezzle, maar dit was nog nie genoeg sodat sy haar droom van modehuis/cleaning service finaal op die been kon bring nie. Hence, sy het iemand met seriously baie geld nodig gehad om haar finansieel te back. Die lui prins was die ideale slagoffer, want hy sou die formaliteite tog net so gou moontlik agter die rug wou kry en dan kon sy doen wat sy wou. Who’s the biatch now??

Die skoen pas vir Aspatatjie, wat in idiomatiese taal beteken, ‘die feit dat sy as die wenner uit die situasie stap pas haar perfek en bring vir haar voordeel’. Sy en die prins trou en die stief-familie…wel, hulle bly waar hulle is. Sien, Aspatat was nooit regtig antagonisties teenoor hulle nie, sy het net agter haarself gekyk. Nobody puts baby in the corner, jy weet. So, sy kon nie minder omgee wat van hulle word nie. Niemand hoef tronk toe te gegaan het of doodgegaan het of iets nie. Sy het mos gekry wat sy wil hê.

Aan die einde HET almal lank en gelukkig saamgeleef. Die lui prins kon in vrede lui wees, Aspatatjie kon haar ideale verwesenlik en die stieffamilie…weet ons nie veel van af nie.

The moral of the story is dus: As jy bo wil uitkom, moet jy ‘n bietjie slim wees, baie geduld hê, kreatief te werk kan gaan, leer om te compromise (al is dit tydelik), en soms ander mense se luigeit of yapping verdra. Vra vir Aspatatjie.

Categories: Blogroll

Storieprente – en hoekom dit awesome is

March 18, 2010 Leave a comment

Soos dit gaan in jeugbediening word kinders van tyd tot tyd na jou toe verwys deur ouens wat hoop dat jy deur een vinnige motiverende praatjie ‘n kind se optrede totaal gaan verander en beinvloed (lees: manipuleer) sodat die betrokke kind doen wat hulle graag verwag. Nou, dit werk nie heeltemal so nie, veral nie in relational jeugbediening nie. Ek het nie outomaties die reg om aan ‘n kind oor te dra dat hy of sy nou beter gecommit moet raak, kom nou, ruk jou reg en trek op jou sokkies, net omdat ek in jaartal nader aan die kind is nie. Dit werk nie so nie. Ek moet ook daardie kind se vertroue en respek verdien. Ek moet ook eers daardie kind se storie hoor. Want stories is hiper belangrik.

Ek sien toe vanoggend ‘n kind nadat sekere onderwysers gevoel het hy sal dalk eerder na my luister as na hulle. Nou, okay, maar ek weet mos ek kan nie dadelik met die deur in die huis val nie. Ek wil ook nie. Ek wil eers die kind se storie hoor.

Ek is al vir ‘n paar jaar deur Roelf Opperman van Kameeldrif blootgestel aan ervaringsleer en storiekaarte (weer eens baie dankie oom Roelf!), klein kaartjies met verskillende prente op wat persone dan kan gebruik om iets te vertel van whatever. Die kaart word die persoon se mondstuk. Omdat ek dit as ‘n tried and trusted metode ken, besluit ek toe om dit vandag ook in te span. Ek was nogals bang dat ek gaan sukkelom iets uit die ou te kry, ek ken hom nie goed nie. Groot was my verstomming oor wat toe gebeur.

Gewoonlik laat ek die persoon of persone so 3 kaarte kies, vandag was dit oor hoe jy die lewe sien, hoe jy die toekoms sien en hoe jy omgee sien. Die ou kies toe 4 kaarte en plaas hulle in ‘n spesifieke volgorde. Toe ek begin uitvra oor die kaart wat hy aanvanklik eerste gekies het, begin hy die volgorde verduidelik. Toe ek weer sien, is hy besig om ‘n comic strip te bou van sy lewe – ‘n uitgebreide metafoor in die derde persoon.

En hy bou. En hy bou. Soms is daar stiltes, dan wonder ek of ek dit moet verbreek, maar dan gaan hy aan en bou nog aan die storie. En ons gesels oor hierdie mannetjie in die storie. En dit word ‘n amazing ervaring. Naderhand begin die ou self die lyne deurtrek na sy eie lewe toe en ‘n klomp goed vertel – nie heeltemal dieselfde nie, maar naby genoeg dat ek die paralelle kon agterkom. En ek kom agter dat daar (soos ek vermoed het) HEELWAT meer agter ‘n skynbaar ongemotiveerde optrede sit as net luigeit.

Relational jeugbediening is nooit ‘n geforseerde jeugbediening nie – dis ‘n invitational jeugbediening. Net soos wat God ons uitnooi om deel te word van die ongeskrewe storie, ons uitnooi om uit te sien na ‘n toekomsverwagting, ons uit nooi om betrokke te raak by die mense rondom ons, net so moet ons tieners/jeug uitnooi om hulle vertroue met ons te deel (en dan mag jy dit onder GEEN omstandighede skend nie), om deel te word van ons lewens – sodat hulle ons later uitnooi om deel te word van hulle s’n, op hulle terme. Klink dit asof die mag uit jou hande gevat word? Ja, dit doen, en dis goed so.

Love Never Dies…maar ons sal nog moet sien

March 10, 2010 3 comments

Die opvolg op The Phantom of The Opera (of soos party mense dit noem “Paint Never Dries”) het laas week in Londen begin en ek is een van die wat met groot verwagtinge daarna uitgesien het. Ek doen nog steeds, hoewel die reviews wat op die oomblik die internet se rondte doen, louwarm is (om dit ligtelik te stel). Ek het die plotline op Wikipedia ook gaan oplees en was nogal teleurgesteld met die verloop van gebeure.

**Spoiler-alert**

Hoekom is Gustave die Phantom se kind? Kon hy nie maar sy musiektalent by sy ma gekry het nie (en soos een reviewer tereg opgemerk het, dan moes sy omtrent 5 of 6 maande swanger gewees het teen die “Masquerade”-scene in die eerste een, en sy was beslis nie)? Hoekom is Raoul van romantiese held na weird drunken gambler toe verander? Vir dramatiese ironie of wat? En Meg as die jaloerse opkomende Prima Donna – what is up with that? En blykbaar het die Phantom nou henchmen. Hy kon in Frankryk ‘n reuse teater bo- en ondergronds eiehandig regeer, maar in Amerika het hy ewe skielik hulp nodig. Hoe nou?

Ek is ‘n onbeskaamde fan van Phantom – die oorspronklike musical, maar ook van die oorspronklike boek, wat HELEMAL anders eindig en die weggelate Persian bevat, ‘n karakter wat myns insiens regtig in die storie hoort (dis seker hoekom Monsieur Leroux hom in die eerste plek ingeskryf het, of hoe?). En die deadly whirlpool-ding wat ons nie in die musical kry nie. Ja okay, doen dit nou op ‘n stage, maar nogtans. Nou kom ALW en sy cronies met ‘n storie wat, granted, deur hulleself uitgedink is en nie ‘n amptelike vervolg op die boek se verhaal is nie. Behalwe dat al die reviewers opgewonde oor die Coney Island setting is, dink ek dalk moes die Fantoom maar in Parys gebly het. En kom nou, was Christine regtig so lief vir hom dat sy, na een nag se passie en die ensuing gebeure wragtig weer terug na hom toe sou wou gaan vir nog van dieselfde? klink soos ‘n paar vrouens in Suid-Afrika. Blykbaar hou hulle van abuse.

Hierdie is natuurlik gebaseer op wat ek op die internet lees, ek kon obviously nog glad nie die show self te siene gekry het nie. Daarom dat ons maar nog sal moet sien. Die musiek wat ek sover gehoor het, was regtig beautiful en die music video op Youtube van die Coney Island Waltz het my rillings langs die ruggraat gegee. Hierdie lyk intense, en creepy, en intensely creepy! So ek wil dit regtig nog graag sien. My soundtrack (Deluxe edition) is al laas jaar bestel, so ek wag angstig.

Categories: Blogroll

Wanneer die wiele afkom…

March 8, 2010 Leave a comment

Die afgelope tyd het dit vir my ‘n bietjie gevoel asof ek nie weet hoe en wat vorentoe nie. ‘n Mens weet nie altyd wat in die gemeente met die jeugwerk-situasie gaan gebeur of hoe jou eie drome en ideale daarmee saam gaan werk nie. En soms maak jy nog ‘n fout of twee ook en kort voor lank sit jy in tamatiestraat met jou hande vasgekroes in jou hare en wonder: WAT NOU?? Met my onlangse kuier in Pretoria is hierdie gevoelens tot op ‘n spits gedryf en het ek aan my lyf gevoel wat in my binnekant aangaan. En dit het alles begin met ‘n kar en ‘n wiel.

Ek het so ‘n maand gelede my spaarwiel by ‘n bandeplek laat vervang. Dan verwag mens mos dat die ding reg sal wees. Ek het hom ook onmiddellik nodig gekry en die ou wiel het ek net ‘n tydelike plug laat insit voor die naweek se trippie, ek sou dit die Maandag ordentlik laat regmaak. Maar vir byna ‘n week lank voordat ek Gauteng toe is, het ek ‘n vibrasie aan my kar gevoel. Ek het dit maar geignoreer en sou dit ook die Maandag laat fix. Alles op een slag, dis mos makliker so.

Wel…toe ons met die vibrerende kar in Pretoria aankom en nadat ons ‘n verkeerde afdraai gevat het en die spitsverkeer van ‘n Vrydagmiddag moes aandurf, overheat my kar bo-op ‘n R21-brug. Die Saterdag was gelukkig relatief probleemvry, tot die aand. Die mense saam met wie ek toekomstige dinge bespreek het, het so te sê alles finaal gekanseleer en ek het uit Menlyn gestap met ‘n stuk wanhoop in my hart. Toe ek daar wegry, vat ek wéér twee verkeerde afdraaie na mekaar en ek moes ver ry voordat ek omdraaiplek kon kry.

Sondag, toe ek petrol ingooi vir die terugkomslag, laat ek my bande nagaan en kom agter die druk op die linkervoorwiel is vrek hoog. Nadat al die bande gelyk gemaak is, is ons daar weg. Skaars 30km uit Pretoria bars die einste linkervoorwiel en breek ‘n stuk van my modderskerm af. Ongeluk op ongeluk, die spaarwiel met die plug in het ‘n slow-puncture…

Agt ure nadat ons uit Pretoria vertrek het, stop ek veilig in Vryheid en ek is dankbaar. Dankbaar vir al die Christen-mense wat my die naweek met my kar en sy bande gehelp het. Dankbaar dat die lekkende band dit ten minste tot by elke volgende dorp, 50km verder, kon maak. Dankbaar dat dit net van Paulpiet af donker was. Dankbaar dat ons veilig terug in die dorp aangekom het, dat daar ‘n warm stort, ‘n bord kos en ‘n bed by die huis vir my gewag het.

Ek is nie die enigste een vir wie dit gevoel het asof sy eie wiele afkom en hy niks daaraan kan doen nie. Vriend Dawid skryf in Psalm 22: “My God, my God, waarom het u my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie…” Vir hom het die wiele ook afgekom in a grand way – hy het ‘n buite-egtelike verhouding gehad, het moord gepleeg en is deur sy eie seun gejag om doodgemaak te word, om maar ‘n paar dinge te noem – so hy weet waarvan hy praat. Tog hou hy vas aan God: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van Sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes…” Hy twyfel ook. Hy struggle ook met God.

Maar hy loof God ook, hy dank God ook: “In U hande is ek veilig…op U vertrou ek…ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou…”. God was ons genadig op die pad terug van Pretoria af en op soveel ander letterlike en figuurlike paaie in my lewe. Daarom sit ek my eie pad van vooraf in Sy hande en vertrou op Hom om vir my te vat waar Hy my wil hê. Daarom sê ek ook saam met Dawid: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie…”

God het nooit ‘n reis sonder voorvalle beloof nie. Hy beloof wel dat die reis nie sonder Hóm is nie. Ek nooi jou om ook saam met Hom en ander gelowiges die reis aan te pak. Life’s a journey, not a destination…

Categories: Blogroll

Same spaghetti, different sauce…

February 24, 2010 1 comment

Snaaks hoe party goed nooit verander nie. Of verander, maar eintlik dieselfde bly. Vat nou maar die redenaarskompetisie waarby ek vandag was. Die vier deelnemende skole was dieselfde vier as toe ek op skool was en self deelgeneem het, met dieselfde tendense wat nog by elkeen na vore kom. 8 jaar later…dieselfde ding.

Ek kry vanoggend naamlyste van kinders wat “opgevolg moet word” na ‘n onlangse besoek van ‘n Vreeslike! Charismatiese! Skreeuende! prediker/evangelis. Hordes name van kids wat nou kastig ALWEER ‘n “oorgawe” gemaak het of iets, met die belofte van die een of ander paaiende “berader” dat hy of sy binnekort opgevolg sal word. Your call is very important to us. Please hold…

Ek kry netnou ‘n oproep van ‘n ouer wat met my wil gesels oor ‘n saak van moontlike seksuele misdrywe wat laasjaar in ‘n skool plaasgevind het en hoe sy kinders nou skynbaar op belaglike maniere getarget word deur onderwysers. Lyk my die stof oor sekere goed wil maar net nie gaan sak nie…

Ons gesels gisteraand in die belydenisklas oor wat ons doel op aarde is. Kort voor lank was die gesprek by die sondeval (“watse vrug was dit?” I kid you not!), was Adam en Eva die eerste of enigste mense op aarde, is God mens-lik dat ons volgens Sy beeld geskep is, hoekom is die mens in die eerste plek gemaak, hoekom is die mens nie perfek gemaak nie, beheer God alles, is die duiwel in beheer van natuurrampe (!), hoekom gebeur slegte goed (sodat jy iets kan leer of jy is besig om getoets te word…ja…) en weet God alles voor die tyd (“is jou strepie getrek?”) of nie? Legio antwoorde…ek het maar besluit om so paar bladsye uit ons McGrath handboek vir die een outjie wat die goeie vrae gevra het, af te rol en te gee vir ekstra leeswerk. Kom ons kyk wat gebeur…

Verskillende gesigte – dieselfde situasies en dieselfde probleme met dieselfde (soms oppervlakkige) antwoorde en oplossings. Sheesh…