Home > Blogroll > Wanneer die wiele afkom…

Wanneer die wiele afkom…

Die afgelope tyd het dit vir my ‘n bietjie gevoel asof ek nie weet hoe en wat vorentoe nie. ‘n Mens weet nie altyd wat in die gemeente met die jeugwerk-situasie gaan gebeur of hoe jou eie drome en ideale daarmee saam gaan werk nie. En soms maak jy nog ‘n fout of twee ook en kort voor lank sit jy in tamatiestraat met jou hande vasgekroes in jou hare en wonder: WAT NOU?? Met my onlangse kuier in Pretoria is hierdie gevoelens tot op ‘n spits gedryf en het ek aan my lyf gevoel wat in my binnekant aangaan. En dit het alles begin met ‘n kar en ‘n wiel.

Ek het so ‘n maand gelede my spaarwiel by ‘n bandeplek laat vervang. Dan verwag mens mos dat die ding reg sal wees. Ek het hom ook onmiddellik nodig gekry en die ou wiel het ek net ‘n tydelike plug laat insit voor die naweek se trippie, ek sou dit die Maandag ordentlik laat regmaak. Maar vir byna ‘n week lank voordat ek Gauteng toe is, het ek ‘n vibrasie aan my kar gevoel. Ek het dit maar geignoreer en sou dit ook die Maandag laat fix. Alles op een slag, dis mos makliker so.

Wel…toe ons met die vibrerende kar in Pretoria aankom en nadat ons ‘n verkeerde afdraai gevat het en die spitsverkeer van ‘n Vrydagmiddag moes aandurf, overheat my kar bo-op ‘n R21-brug. Die Saterdag was gelukkig relatief probleemvry, tot die aand. Die mense saam met wie ek toekomstige dinge bespreek het, het so te sê alles finaal gekanseleer en ek het uit Menlyn gestap met ‘n stuk wanhoop in my hart. Toe ek daar wegry, vat ek wéér twee verkeerde afdraaie na mekaar en ek moes ver ry voordat ek omdraaiplek kon kry.

Sondag, toe ek petrol ingooi vir die terugkomslag, laat ek my bande nagaan en kom agter die druk op die linkervoorwiel is vrek hoog. Nadat al die bande gelyk gemaak is, is ons daar weg. Skaars 30km uit Pretoria bars die einste linkervoorwiel en breek ‘n stuk van my modderskerm af. Ongeluk op ongeluk, die spaarwiel met die plug in het ‘n slow-puncture…

Agt ure nadat ons uit Pretoria vertrek het, stop ek veilig in Vryheid en ek is dankbaar. Dankbaar vir al die Christen-mense wat my die naweek met my kar en sy bande gehelp het. Dankbaar dat die lekkende band dit ten minste tot by elke volgende dorp, 50km verder, kon maak. Dankbaar dat dit net van Paulpiet af donker was. Dankbaar dat ons veilig terug in die dorp aangekom het, dat daar ‘n warm stort, ‘n bord kos en ‘n bed by die huis vir my gewag het.

Ek is nie die enigste een vir wie dit gevoel het asof sy eie wiele afkom en hy niks daaraan kan doen nie. Vriend Dawid skryf in Psalm 22: “My God, my God, waarom het u my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie…” Vir hom het die wiele ook afgekom in a grand way – hy het ‘n buite-egtelike verhouding gehad, het moord gepleeg en is deur sy eie seun gejag om doodgemaak te word, om maar ‘n paar dinge te noem – so hy weet waarvan hy praat. Tog hou hy vas aan God: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van Sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes…” Hy twyfel ook. Hy struggle ook met God.

Maar hy loof God ook, hy dank God ook: “In U hande is ek veilig…op U vertrou ek…ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou…”. God was ons genadig op die pad terug van Pretoria af en op soveel ander letterlike en figuurlike paaie in my lewe. Daarom sit ek my eie pad van vooraf in Sy hande en vertrou op Hom om vir my te vat waar Hy my wil hê. Daarom sê ek ook saam met Dawid: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie…”

God het nooit ‘n reis sonder voorvalle beloof nie. Hy beloof wel dat die reis nie sonder Hóm is nie. Ek nooi jou om ook saam met Hom en ander gelowiges die reis aan te pak. Life’s a journey, not a destination…

Categories: Blogroll
  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a comment