Rugbyskoolstorie/Heroes Vat Die Punch – deel 7

    DEEL 2

“Go!”

Mnr. Venter se bevel laat die seuns vanaf hul push-up posisie opspring en op die doellyn afnael. Hulle is besig met hul laaste afrondingsoefening voor die Rugbyweek, wat die volgende dag begin. Al die besoekende skole kom die Dinsdag deur die loop van die dag daar aan en die eerste wedstryde word alreeds die aand gespeel. Die openingswedstryd, tussen Bergkruin en die verdedigende kampioene, Nelsdrif – ‘n span wat alombekend staan as een van die sterkste spanne in hul tuisprovinsie – vind om 20:00 plaas.

“Go!” blaas Mnr. Venter weer sy fluitjie. Wihan en Sibu druk mekaar die heeltyd om voor te wees, met Rufus en Juan wat in hul nekke blaas.

Uiteindelik kondig Mnr. Venter se fluitjie met ‘n skril, uitgerekte fluit die einde van die oefening aan.

“Kom sit, manne,” roep hy hulle nader. Hierdie was eintlik ‘n rustige oefening in vergelyking met die drilling waardeur hy hulle die afgelope paar weke gesit het. Die seuns versamel voor hom en hy beduie rustig vir hulle om te sit. Die seuns kan sien hy het iets op die hart.

“Ek wil julle vanmiddag iets vra, manne,” begin hy. “Hoeveel is hierdie Rugbyweek vir julle werd? Ek vra vir elkeen van julle vanmiddag: wat is jy bereid om op te offer vir ‘n wen? Vir jou span? Vir jou skool? Vir jou dorp? Dis nou vier jaar vandat ons skool laas die trofeë aan die einde van die week omhoog kon hou. Ek weet dat ons as span die potensiaal het om dit weer te kan doen, maar as ons nie elke greintjie energie wat ons het hiervoor gaan insit nie, gaan ons misluk. Ons móét met elke wedstryd ons álles gee. Die aantal drieë wat ons druk is belangrik – hoe meer, hoe beter. Die aantal strafskoppe wat ons afstaan netso. Ek gaan nie eens praat oor geel of rooi kaarte nie – ons dissipline móét te alle tye honderd persent wees. Ek weet dat elkeen van julle dit in julle het. Soos wat julle hier sit, beskik elkeen oor die potensiaal om hierdie droom van ons te laat slaag. Maar dan moet ons saamwerk. Om my te help en om julle te help om saam te werk, het ons natuurlik ons kaptein en onderkaptein en ek het doelbewus tot nou toe gewag om hulle aan te kondig.”

Die spanning tussen die seuns verhoog merkbaar. Hier en daar spring ‘n spiertjie teen die seuns se slape en ‘n paar harte klop skielik met groter afwagting.

“Ons kaptein vir Rugbyweek 2008 is Jonathan Meyer.”

“Go figure,” fluister Sibu vir Wihan, wat net met ‘n glimlag saam die ander seuns hande klap. Jonathan is die span se haker, een van die grootste ouens in die skool en onderhoofseun van sport op die leerlingraad. Hy was kaptein van elke span waarin hy nog gespeel het. Hy speel nou al drie jaar lank vir die Eerstespan en was die afgelope twee jaar onderkaptein, dus een van slegs ‘n handjievol ouens wat dit al in graad 10 kon regkry. Verder was hy reeds in graad elf deel van die provinsiale Craven Week-span en daar is ‘n sterk moontlikheid dat hy vanjaar ook daar kaptein sal wees.

“En onderkaptein…is Wihan Gerber.”

“What? You?” lag Sibu vir ‘n verdwaasde Wihan en klop hom op die rug. “Geluk, boerseun!”

Juan glimlag ietwat verbaas. Hy is bly dis Wihan, maar soos die res van die ouens is hy ook effens onkant gevang deur hierdie besluit. Wihan is die joker, die grapmaker, die een wat tydens ‘n game iets skerps sal sê net om die atmosfeer te verlig. Niemand het hom ooit voorheen regtig as onderkaptein gesien nie!

“Ek weet julle wonder hoekom ek vir Wihan onderkaptein gemaak het en my redes is my eie. Ek het die volste vertroue dat hy julle sal kan lei saam met Jonathan en ek verwag van elkeen om hom te respekteer vir die posisie waarin hy aangestel is. Jonathan, Wihan, iets wat julle vir die span wil sê?”

Jonathan het reeds by Venter gaan staan en Wihan sluit ook by hom aan.

“Ek sien uit na die week, ouens,” kom Jonathan se diep, sterk stem. “As ons elkeen uit ons hart uit speel, gaan dit ‘n great week wees. Kom ons wen hierdie ding!” skree hy en bal sy vuis.

“Ja!” kom dit spontaan van Rufus af en die ander ouens lag saam.

Wihan staan regop en trots met sy arms voor sy bors gevou en knik sy kop.

“Rufus het darem entoesiasme, maar ek soek dit saam Jonno van julle elkeen. As ons hierdie ding sáám doen, dan gaan ons dit wen! Yes!” skree hy ook met ‘n gebalde vuis. Die ander ouens staan op en hulle haak bymekaar in. Die entoesiasme van hulle kapteins is vir die seuns aansteeklik en hulle trek mekaar vas.

“Elkeen van ons is ‘n hero,” sê Jonathan sagter toe hulle so teenaan mekaar staan. “En heroes is nie mense wat terugstaan as daar iets groots voor hulle lê nie. Kom ons pak hierdie Rugbyweek by die horings…en stoei hom in die grond in.”

Wihan knik instemmend.

“Let’s do this. Voor ons loop, kom ons bid net eers saam, sodat ons hierdie bul op die regte manier kan aanpak.”

Saam kniel die ouens terwyl hulle mekaar nog so vashou en Wihan bid vir die week wat voorlê, vir krag, energie en selfbeheersing en ook dat hulle gespaar sal bly van ernstige beserings.

“…en laat alles wat ons doen, op en af van die veld, tot eer van U Naam wees. Amen.”

Vir ‘n oomblik staan die manne stil. Dan kom Jonathan se gebiedende kapteinstem:

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“YES!”

*****

Leon Steyn draf teen ‘n stywe pas van die gym af na Wihan se huis toe. Hy was lanklaas in sy lewe so opgewonde en gelukkig. Die afgelope ruk se brothership-sessies saam die ander ouens beteken vir hom vrek baie, en hy is spyt dat Frans nog nie regtig daaraan wil byt nie. Dit het egter vir Leon iets geword waarsonder hy nie regtig meer wil klaarkom nie. Dis ‘n veilige ruimte waar hulle vir mekaar bid of sommer net chat oor die daaglikse dinge soos oefeninge, gymprogramme, skoolwerk en girls. In die laaste afdeling is Juan nog redelik stillerig. Hy en Rozaan vermy mekaar blykbaar soos die pes en Leon dink dis ‘n goeie ding. Daardie girltjie se groot probleem is haar vriendinne en hy hoor hoe sy deesdae saam met daai Corna-chick ook uithang, en almal weet Corna is so los soos Tastic rys. Haar reputasie is shocking en as Rozaan haarself willens en wetens daarby wil laat insleep, is hy bly dat Juan van haar ontslae is.

Dis vir hom lekker dat hulle mekaar beter begin leer ken, hy en Juan. Hy en Wihan is al lankal vriende en Wihan en Juan ook, daarom geniet Leon dit om saam die twee manne tyd te spandeer. Hulle vat ook altwee hulle rugby ernstig op en Rufus hou hulle op hul tone by die gym. Die ou is ook nogals cool. Dis lekker dat hulle as ouens saam hulle probleme kan deel, dit maak dit makliker om dit te dra!

Boonop gesels hy en Marli al hoe meer by die skool en hy het ‘n keer of wat al by haar huis gaan koeldrank drink. Hulle was nou nog nie formeel op ‘n date of iets nie, daarvoor is hy nog te skrikkerig vir haar pa. Hy’s bang die oom skiet hom of iets, maar ten minste kuier hy en sy nogal dikwels, wat baie nice is.

Die groot rede vir sy opgewondenheid hierdie middag is egter die feit dat hy as onderkaptein van Ewoud Heymans se Eerstes gekies is. Hy kan nie wag om die nuus met die ander manne te deel nie!

Leon spring sommer so met sy gymsak en al oor die muur in Wihan-hulle se erf in, waar die ander ouens al reeds vir hom wag.

“Raai wat?” vra Rufus.

“Nee, sê maar?”

“Wihan is gekies as onder-cappy!”

Leon glimlag vir sy vriend wat half verleërig opkyk.

“Wel,” sê hy en stap nader. Hy gaan staan reg voor hom en kyk hom waterpas in die oë. “Ek ook, tjomma!”

“Wat?!” kom dit verras van Wihan. “Geluk, ou!”

“Nee, ek sê geluk vir jou,” antwoord Leon.

“Nee, nee, ék sê geluk vir jóú,” sê Wihan.

“Huh-uh, ék sê…”

Die volgende oomblik stamp Juan hulle albei in die swembad in.

“Seriously,” sê hy vir Rufus, wat dubbeld vou soos wat hy lag. “Dit kan die hele middag so aanhou!”

*****

Die skoolbusse kom die volgende middag met tussenposes by Hoërskool Bergkruin se sportgronde aan. Die aankoms en registrasie is altyd ‘n potensiële nagmerrie, maar te danke aan jare se ondervinding, laat die Rugbyweek-komitee die reëlings heel glad verloop. Sodra die busse gestop het, klim die seuns af om ‘n bietjie hul bene te rek en sommer net om die rugbyveld te verken, terwyl die afrigters en spanbestuurders na die skool se Sportkiosk langs die hoofpawiljoen beweeg, waar hulle hul spanne registreer en die ete- en verblyfreëlings uitklaar. Terwyl party van die skole se seuns ‘n bal rondskop of vir mekaar pass soos wat hulle die gronde verken, geniet die bestuur natuurlik eers ‘n koue verversinkie, met komplimente van Martin van Vrede, wat hulle daar in die Sportkiosk onthaal. Martin Motors is die hoofborg van die Rugbyweek.

Teen 18:00 treë al die skole se spanne in die skoolsaal aan vir hul eie amptelike opening en verwelkoming. Dis ‘n kleurvolle samestelling wat wissel van seuns in hul onderskeie skole se sweetpakke tot by die meer formeles wat in hul amptelike kleure aangetrek is. Almal se mascots word saamgedra en van ‘n afstand beloer en die seuns meet mekaar in stilte op soos wat hulle verby mekaar stap.

Hoërskool Ewoud Heymans is die tweede laaste span om in die saal in te stap, gevolg deur Hoërskool Bergkruin. Die spanning tussen die twee aartsvyande het al vroeër die middag met Ewoud Heymans se aankoms begin opbou en daar is ‘n bruisende opgewondenheid in die saal te bespeur.

Hoërskool Ewoud Heymans se span het hul amptelike skooldrag en kleurbaadjies aan. Elkeen van die seuns dra ‘n wit erekleure-baadjie met ‘n wit-en-goue koord op die rand, wat verskil van die mosterdgeel kleurbaadjies wat hulle andersins sou dra. Hulle lyk netjies en indrukwekkend. Leon en hul kaptein en regterflank, Victor Swart, stap voor en gaan staan dan regop en trots met hul span wat langs hulle inval. Leon kyk vinnig na sy regterkant, waar Frans en Stefan ook in die ry staan. Hy het die volste vertroue in sy manne. Hulle lyk goed in hul spierwit baadjies en hy weet dat hulle ‘n krag op die veld sal wees om mee rekening te hou. Toe hulle almal ingestap het, gaan sit hulle gelyk. Leon besef dat die dorpgemeenskap mooi verdeel is tussen hulle skool en Bergkruin, en dit beteken dat almal se oë op hulle sal wees. Die dorp sóék ‘n tuisspan-finaal.

Vir ‘n paar minute wag die spanne en daar suis ‘n sagte gebrom deur die saal.

Dan stap Hoërskool Bergkruin se Eerstespan in en dis duidelik dat hulle met elke treë wat hulle gee, wil sê: Dis óns plek dié, dis óns skool…en vanjaar is dit óns beker. Jonathan Meyer se donkerblou oë kyk sy teenstanders stukkend soos wat hy die saal instap en sy span na hul geallokeerde plek, heel voor, toe lei. Agter hom volg Wihan met ‘n vasberade trek op sy gesig en die res van die 22-tal, met Rufus, Juan en Sibu wat na hom kom. Die goue skoolwapens en goue koord op hulle donker, bottelgroen kleurbaadjies skitter in die laaste strale van die son wat deur die saal se vensters sypel. Hulle lyk sommer soos wenners!

Nadat een van die predikante van die dorp vir die ouens ‘n boodskap gebring en die week geopen het, verdaag die seuns na die rugbystadion. Om 19:00 vind die amptelike opening van die week daar plaas en die openingswedstryd tussen Bergkruin en Nelsdrif word direk daarna gespeel. Die twee skole se manne word stadig maar seker opgepsyche vir die wedstryd.

*****

Martin van Vrede staan op die stoep van die Sportkiosk met ‘n brandewyn in die hand en wag, saam met die ander lede van die reëlingskomitee en borge, op die aantrede van die deelnemende spanne op die skool se hoofveld. Hy geniet elke jaar die Rugbyweek. Dis ‘n uitstekende geleentheid om kontakte op te bou en besigheid te versterk. Die rugby wat gespeel word is vir hom ‘n bysaak.

Vanjaar moet Juan hom net nie teleur stel nie. Hy weet nie meer wat in sy seun se lewe aangaan nie, maar dis nie sy skuld nie. Goed, hy het seker die afgelope paar weke te hard gekuier en skelm by die kantoor gedrink, maar dit was net om hom deur die dag te help. Niks ernstigs nie. Hy kan sy drank hanteer. Dit is net swakkelinge wat verslaaf raak aan verdowingsmiddels en dit dan as ‘n verskoning vir hul probleme aanwend. Swakkelinge…soos sy seun. Hy kan nou nog nie glo dat Juan so ver sou gaan om steroïde te gebruik nie! Hy is bly hy het hom getugtig daaroor. Dit was weliswaar nie op ‘n konvensionele manier nie en die koffietafel moes daarna vervang word, maar dit was nodig. Dit help nie om ‘n seun van Juan se ouderdom te hok nie. Hulle moet op ‘n ander manier gestraf word. Hy sal weer sy vuiste gebruik as dit moet.

Maar nou ja, sê hy vir homself. Kom ons kyk eers wat vang die mannetjie hierdie week aan. Dalk verras hy my tog.

*****

Teen 19:00 is die hoofpawiljoen van Hoërskool Bergkuin stampvol mense wat met groot afwagting die seuns, wat reeds op die veld aangetreë het, aanskou. Hulle is opgestel oor die lengte van die veld, met hul gesigte na die pawiljoen, in volgorde van die ouderdom van hul onderskeie skole. Dis ‘n indrukwekkende gesig: twintig spanne, twintig skole en 440 seuns, slaggereed vir ‘n week van klipharde rugby. Die opwinding is tasbaar in die soel aandlug en die helder spreiligte verlig die hele rugbystadion.

Die formaliteite word deur Mnr. Spies hanteer, gevolg deur die burgermeester se jaarlikse verpligte bydrae, waarna kaptein Jonathan Meyer die Sportman se Eed voorlees. Dan word elke span individueel aangekondig en ‘n paar statistieke van hulle en hul skool word voorgehou. Elke span kry ook ‘n geleentheid om hul skoollied te sing. Dit vind plaas onder die luide toejuiging van hul ondersteuners wat saamgekom het en die hotels en gastehuise van die dorp uit hul nate laat bars.

Hoërskool Bergkruin kom laaste aan die beurt omdat hulle die gasheerskool is. Bewend van opgewondenheid staan Juan en Rufus langs mekaar en rondtrap, terwyl Wihan en Sibu kort-kort die sweet van hul voorkoppe moet afvee.

Toe hulle die skoollied sing, klink dit soos een man. Normaalweg is hulle maar traag om dit te sing, maar op ‘n aand soos vanaand gee ‘n mens nie om of jy van die woorde hou en of die wysie vir jou simpel klink nie. Hier, nou, is dit jou trots wat op die spel is en op geen manier kan jy vir ‘n ander span terugstaan nie.

Uiteindelik verdaag al die spanne van die rugbyveld af en verdwyn Bergkruin en Nelsdrif se Eerstespanne na hul onderskeie kleedkamers toe om te gaan reg maak vir die groot openingswedstryd.

*****

“Thunder! Ahahahaha…Thunder!”

In die kleedkamer van Bergkruin se Eerstespan staan die ouens in stilte en rondtrap terwyl hulle die klanke van AC-DC van die pawiljoen af oor die veld kan hoor weergalm. Wihan is baie senuweeagtig. Hierdie is ‘n groot wedstryd vir hom. Behalwe vir die feit dat hy, teen alle verwagtinge in, onder-kaptein geword het, is daar sy skopwerk waaraan hy dink. Hy het elke middag vir ten minste ‘n uur lank alle moontlike skoppe uit alle denkbare posisies uit geoefen, en tog voel hy gespanne. Hy wonder hoe voel die wind op die veld? Hy kan glad nie onthou hoe dit was toe hulle skaars 20 minute gelede daar gestaan het nie. Flip, dink hy, ek moet focus! Vanaand kan ek nie bekostig om ‘n skop te mis nie.

Die manne trek mekaar vir oulaas vas. Rufus haal diep asem. Dit voel vir hom, om die een of ander onverklaarbare rede, baie meer spesiaal om vir Bergkruin te speel as wat dit ooit was om vir sy ou skool te speel. Die afgelope paar weke was dit asof hy die spel van vooraf ontdek het. Die oorgawe waarmee die ouens die spel benader en die entoesiastiese gees wat daar onder hulle heers, is aansteeklik. Hy het al vroeër in sy lewe in die Beeld-trofeë gespeel en aan die Junior Cravenweek deelgeneem…maar daar was dit amper soos ‘n werk, soos ‘n verpligting. Hier is dit vir hom regtig lekker. Sonder sy pa en dié se vriende wat konstant oor sy skouer loer, kan hy uiteindelik rugby speel omdat hy dit geniet. Hy besef egter dat die ander ouens dit nie noodwendig só ervaar nie en dat daar geweldige druk op hulle is om te presteer. Bergkruin is ‘n rugbymal dorp en daar is nie plek vir verloorders nie.

“Manne, vanaand is ons aand. Al wat ek wil sê, is dat elkeen sy kant moet bring. Just play it, boys. Just go for it and be your best. I expect nothing less,” sê Jonathan vir oulaas. “Wihan, kap vir ons ‘n knieg.”

Dit word die mees afgerammelde gebed wat Wihan in sy hele lewe gebid het. Sy senuwees maak hom gedaan. Iewers weet hy dat iets nie lekker is nie, maar daar is nie nou tyd om daaraan te dink nie. Nou moet hy op die game fokus!

Jonathan se diep stem bulder deur die kleedkamer, gevolg deur die hele span:

“I wanna be a first team boytjie!”

“I WANNA BE A FIRST TEMA BOYTJIE!”

“I wanna wear the first team jersey!”

“I WANNA WEAR THE FIRST TEAM JERSEY!”

“I wanna hit the first team beertjie!”

“I WANNA HIT THE FIRST TEAM BEERTJIE!”

“I wanna score a rugby try!”

“I WANNA SCORE A RUGBY TRY!”

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“YES!”

Hulle stap in volgorde by die kleedkamer uit en wag dan aan die bokant van die bek van die pawiljoen. Die skeidsregter roep die twee kapteins nader om te loot en skiet dan die muntstuk in die lug op. Nelsdrif wen die loting en kies om van oos na wes oor die veld te begin speel. Gelukkig is daar nie ‘n noemenswaardige wind dié aand om in ag te neem nie. Die kapteins skud blad en dan draf Nelsdrif eerste op die veld uit.

Weer kom AC-DC deur die luidsprekers gebrul en ritmies begin die toeskouers op die pawiljoen saam hul voete te stamp.

“Thunder…”

Juan se hart slaan tamboer in sy bors.

“Thunder…”

Sibu snuif hard en knak dan sy nek na links en regs.

“Thunder…”

Rufus strek vir oulaas sy arms.

“Thunder…”

Wihan blaas sy asem stadig uit. Die hele dorp se oë rus op hulle.

“You’ve been…Thunderstruck!”

Jonathan spring weg en lei die manne hardlopend onder luide toejuiging op die veld. By die ingang van die tonneltjie wat deur die onder-15’s gehou word, hou een van die jonger outjies die Eerstespan se mascot vas, ‘n oranje steekhaar-beer, aangetrek in ‘n Eerstespantrui en -rugbybroekie. Soos wat die span verbyhardloop, slaan elkeen die beertjie teen sy harige regterpoot. Hulle neem hul posisies in onder die sterk spreiligte. Die skeidsregter blaas sy fluitjie en Nelsdrif se losskakel begin die wedstryd.

*****

“Prrrrrrt!”

Die ouens staan sukkelend op van die losgemaal op die grond. Een van Bergkruin se spelers het die bal laat val en die soveelste strafskop vir die aand word aan Nelsdrif toegeken. Die Bergkruiners val moeg terug tot agter die pale. Moedeloos staan hulle en kyk hoedat Nelsdrif se heelagter, wat hul skopwerk behartig, die skop netjies deur die pale klits en die al groter wordende gaping tussen Bergkruin en Nelsdrif met nog 3 punte laat rek. Die telling lees nou 27-6. Daar is nog net vyf minute van die eerste helfte oor en Nelsdrif het al reeds drie drieë gedruk.

Juan draf traag terug na die halflyn toe. Dis nie ‘n lekker wedstryd nie. Die opponente is hard en fisies, nes hy gedink het hulle gaan wees, maar hulle eie span maak verskriklik droog. Wihan het ‘n shocker van ‘n game. Hy slaan die bal permanent aan en sy skopwerk is om van te huil. Sibu het nog nie veel gedoen behalwe om te tackle nie en selfs hy laat veel te wense oor. Nelsdrif se manne het hulle op die agtervoet betrap ná ‘n blitsvinnige drie direk na die afskop van die wedstryd en die Bergkruiners kon nog maar net nie daarvan herstel nie. Nie dat daar nie geleenthede was nie! As Wihan al sy skoppe oorgesit het, sou die telling 27-18 gewees het – en die wedstryd baie makliker binne hul bereik.

Die enigste ligpunte is Rufus en Jonathan. Jonathan skrum soos ‘n dier en Rufus is orals besig om werk te soek. Ongelukkig is hul pogings nie genoeg om die las wat die ander ouens op hul skouers sit, alleen te dra nie.

Genadiglik blaas die skeidsregter die fluitjie skaars twee minute nadat Wihan afgeskop het en die ouens draf af na hul kleedkamers toe.

*****

Aan die oorkant van die veld byt Marli haar onderlip vas. Sy sit saam met ‘n klomp van haar vriende en vriendinne, reg op die middellyn, op die kleiner, verwyderbare pawiljoene oorkant die hoofpawiljoen. Die skoolkinders van die dorp en die jongmense wat vir die vakansie terugkom huis toe, beset gewoonlik hierdie gebied aan die suidekant van die rugbyveld. Solank die twee hoërskole nie teen mekaar speel nie, maak dit hierso nie saak tussen wie jy sit nie.

Leon, Stefan en Frans het kort ná die begin van die wedstryd by Marli-hulle gaan sit. Leon kan sien dat sy bekommerd lyk. Hyself is ietwat teleurgesteld met Bergkruin se Eerstes sover. Ja, goed, aan die een kant sal dit lekker wees as Bergkruin verloor, maar dit sal hul eie toernooi moeiliker maak. Buitendien, dit is sy vriende wat daar speel en hy kan sien dat daar groot fout is.

“Hulle moet begin bykom,” sê Marli skielik en kyk hom met ‘n baie benoude uitdrukking in haar oë aan. “Dink jy nie ook hulle is besig om naam weg te gooi nie?”

Leon, wat agter haar sit, sit sy hande op haar skouers en trek haar teen sy bene vas.

“Ek hoop hulle regroup ‘n bietjie nou met halftyd. Maar, gepraat van naam weggooi, het jy daai Corna-girl gesien? Sy en so ‘n ander clown wat lyk of hy 30 is het netnou daar langs die veld gelê en mekaar só bevoel dat ek gedink het iemand gaan die polisie bel en hulle aankla van public indecency.”

Marli snork.

“Gmf, ja. En Rozaan is nie ver agter nie, hoor. Sy het kort na die opening met omtrent vier Kuswag-ouens gelyk begin flirt. Sy en een van hulle het daar op die punt gaan sit. Kyk daar, hy kan ook omtrent nie sy hande van haar af hou nie.”

Leon kyk links na waar Marli beduie en sien dan ‘n bruingebrande ou met gebleikte hare wat met sy hande om ‘n pragtige donkerkopmeisie se lyf staan en haar kort-kort soentjies in die nek gee, terwyl sy duidelik krul van die lekkerte. So, dis nou Juan se eks, dink hy. Hy het haar die aand met die uitmaak-sessie in die donkerte nie baie goed te sien gekry nie, maar vanaand onder die sterk ligte kan hy haar mooi sien. Sy’s vrek hot en het flippen mooi bene…maar sjoe, sy lyk darem maar baie gewillig. Té gewillig. Só ‘n girl is elke ou se girl. Hy ril met sy skouers asof hy haar probeer afskud. Juan kan bly wees hy is van haar ontslae.

Leon kyk na die tonneltjie aan die oorkant van die veld. Hy wonder hoe dinge daar in Bergkruin se kleedkamer gaan.

*****

Die atmosfeer in die kleedkamer is gespanne. Die res van die span het sonder Jonathan en Wihan ingestap. Juan gaan sit gefrustreerd op ‘n bankie teen die muur. Hy weet nie wat gaan aan nie. Hy mis easy tackles en sukkel vreeslik met sy ingooie in die skrums. Nelsdrif se skrummie pla hom die heeltyd en die outjie is so knaend soos ‘n foksterriër.

Hy vat ‘n sluk water by Rufus. Dié skud net sy kop en gaan sit langs hom.

“Flip, ou,” is al wat Juan uitkry. Rufus sê net niks en gaan sit ook met sy kop teen die muur.

Buitekant die deur het Jonathan vir Wihan voorgekeer.

“Wihan, jy moet my nóú sê of jy die pressure kan vat. Want as jy nie kan nie, moet ons ‘n plan maak. Ek verstaan dis ‘n groot verantwoordelikheid, maar jy kan nie laat dit jou spel beïnvloed nie. Ek weet nie waar Venter nou is nie, maar voor hy hier aankom…”

“Ek kan dit doen!” val Wihan hom skerp in die rede. “Ek kan dit doen, Jonno. Ek moet net myself agtermekaar kry.”

“Nou kry jouself dan agtermekaar. Ek gaan in. As jy inkom beter jy reg wees, anders moet jy glad nie inkom nie. Ons kan nie bekostig om vanaand te verloor nie en jy weet dit.”

Jonathan stap die kleedkamer binne. Wihan gaan staan teen die muur langs die deur en maak sy oë toe. Hy weet wat is fout. Hy het dit al voor die wedstryd geweet, maar hy het gekies om dit te ignoreer. Sy fokus was heeltemal op die verkeerde plek.

“Here Jesus, ek is jammer dat ek dit alles oor myself laat word het,” begin hy saggies te bid. “Ek weet U het hierdie span met ‘n rede aan my toevertrou en ek is so vrek bang ek skroef dit op. Asseblief, Here, maak my rustig. Help my om kalm te bly en te fokus op dit wat ek moet doen, sodat ek U Naam kan groot maak deur my spel. Help ook die ander ouens, asseblief, Here, laat ons die eer aan U gee. Ek bid dit in U Naam. Amen.”

Toe hy die kleedkamer instap, is die ander ouens net oppad uit. Jonathan sit sy hande op sy skouers.

“Jy reg?” vra hy en sy donkerblou oë kyk Wihan hoopvol aan. Wihan knik vasbeslote.

“Yes.”

*****

Tydens die tweede helfte van die wedstryd gaan dit aansienlik beter met Bergkruin se span. Hoewel Sibu ná tien minute weer ‘n bal aanslaan, trek Nelsdrif se skop na die kantlyn toe nie baie ver nie en die lynstaan is op Bergkruin se kwartlyn. Die ingooi is perfek en Nelsdrif maak die bal pragtig vas, sodat Bergkruin se voorspelers glad nie ‘n hand daarop kan kry nie. Rufus het egter gesien dat Nelsdrif se skrumskakel ‘n ander move uitgeroep het as wat hulle gewoonlik doen en hy hang terug, sodat hy amper in lyn is met Juan.

“Check die skrummie!” skree hy vir Juan, wat op die losgemaal gefokus het. Juan kyk na die skrumskakel en sien hoedat hy ‘n fop-aangee na die losskakel toe maak. Juan duik vorentoe en slaan sy skouer só hard en skielik in die ou se ribbes dat die bal losspat. Onmiddellik is Rufus daar en toe die bal in die lug skiet, gryp hy dit en nael vir die doellyn. ‘n Oorblufte Nelsdrif kan maar net toekyk hoedat Rufus sy onderskepdrie netjies onder die pale gaan druk.

Die posisie van die skop laat vir Wihan ‘n sug van verligting slaak. Dis reg voor die pale, daar is die minimum wind – hy het hierdie skop al baie in sy lewe geoefen. I can do this, sê hy vir homself. Ek weet ek kan. Hy tree terug, haal ‘n slag diep asem en trek dan los met ‘n sierskop. Die bal seil oor die dwarslat en Bergkruin lyk skielik meer gemotiveerd. Die telbord skuif aan na 27-13 en die skare se gejuig laat hom baie meer op sy gemak voel.

Nelsdrif is egter nie afgeskrik deur die drie nie en speel met mening toe hulle loskkakel weer afskop. Vir die grootste deel van die wedstryd word dit ‘n stryd om skrums. Bergkruin se manne veg moedig terug en hul balhantering is myle beter as in die eerste helfte. Wihan maak ‘n hele paar try-saving tackles en hy lyk baie meer tuis op die veld as vroeër die aand.

Met omtrent tien minute oor kry Bergkruin weer ‘n kans om punte aan te teken. Hulle bevind hulself in ‘n lynstaan, vyf meter van Nelsdrif se doellyn, ná ‘n paar stewige dryfbewegings. Nelsdrif het ‘n vryskop gekry, maar die bal was direk uit en daarom kan Bergkruin die bal by die lynstaan ingooi.

“Vier! Nege! Sewe!” skree Jonathan voor hy die bal ingooi.

“Cancel, cancel! Ons doen ‘n Rambo!” skree Juan. Hy het gesien dat Nelsdrif se voorspelers die heeltyd eerste na die agterkant van die lynstaan beweeg, wat die voorkant, naaste aan die kantlyn so te sê onbeman laat.

Jonathan sien wat Juan raaksien en weet wat hy moet doen. Hy gooi die bal vinnig vir die voorste stut, wat dit onmiddellik vir hom terug aangee. Met Nelsdrif se voorspelers wat dit nie verwag het nie, dryf Jonathan met sy groot lyf gemaklik deur hulle en bars in die hoek oor vir Bergkruin se tweede drie.

Ook hierdie skop sit Wihan sonder moeite oor. Met die telling wat nou op 27-20 staan, voel hy sommer baie beter, maar dan hoor hy hoe Jonathan vir die skeidsregter vra:

“Hoeveel tyd is daar nog, meneer?”

Die skeidsregter kyk op sy horlosie.

“Drie minute,” antwoord hy hom. Paniek pak vir Wihan beet. Hulle gaan nooit hierdie game gewen kry nie!

Nelsdrif skop af. Dis ‘n lang skop en Sibu, wat diep staan, vang die bal skoon en merk hom. Onmiddellik skop hy die bal diep terug – reg tussen Nelsdrif se spelers in.

“Wat maak jou nou?” skree Juan kwaad vir hom. Voor Sibu kan antwoord, hoor hulle die skril geluid van die skeidsregter se fluitjie.

“Strafskop aan Bergkruin,” sê hy. Een van Nelsdrif se spelers het Sibu se skop aangeslaan – en nou het Bergkruin ‘n strafskop reg voor die pale. Wihan stap met ‘n hart wat in sy keel klop nader. As hy hierdie skop oorsit, verloor hulle darem net met 4 punte. Dis seker nie só sleg nie, siende dat Nelsdrif glad nie punte aangeteken het in die tweede helfte nie.

Die res van sy span gaan staan agter hom toe hy die bal stel en stadig terugtree.

Juan en Rufus staan met hul hande in hul sye en kyk. Juan kyk oor sy linkerskouer en sien vir Sibu, wat effens moedeloos skuins agter hulle staan.”

“Jy beter regmaak,” snou hy hom toe en draai terug na Wihan, wat net toe vorentoe hardloop en die bal tref. Dis nie ‘n goeie skop nie en die bal trek heeltemal links en slaan dan teen die linkerregoppaal vas. Dit spat terug na Bergkruin se kant toe.

Met eens, soos ‘n vetgesmeerde blits, storm Sibu van agter af, vang die bal nog voordat dit die grond tref – en duik oor die doellyn. 27-25! Die skare is rasend en juig opgewonde. Bergkruin se manne val mekaar om die nek. Wihan staan ietwat geskok en probeer inneem wat sopas gebeur het. Verdwaas kry hy weer die bal en stel hom vlak voor die pale op, baie naby aan dieselfde plek van waar hy hom nou net misgeskop het. Bonus kans, dink hy, treë dan vorentoe en skop die bal gemaklik oor. Die skeidsregter blaas die eindfluitjie en die wedstryd eindig met die telling op 27-27.

Hoewel dit nie ideaal is nie, voel die Bergkruinmanne darem beter. Moeg stap hulle van die veld af. Die onder-15’s staan langs die veld en klap vir hulle hande terwyl hulle van die veld afkom.

Rufus stap langs Wihan, heel agter.

“Toemaar, ou, almal kry sulke games,” troos hy hom en klap hom op die skouer. Wihan glimlag skeef.

“Thanks, Rufus,” sê hy.

Hulle stap by die bek van die pawiljoen verby na die kleedkamers toe. Skielik tref ‘n leë koeldrankblikkie vir Rufus teen die kop.

“What the..?”

Hulle kyk op. Van die boonste trappie af kom ‘n verskonende handgebaar van een van die graad 9’s in hulle skool.

“Sorry, Rufus, dit was eintlik vir die poepol langs jou bedoel. Lekker mis geskop vanaand, nè, Wihan! Jy sien, dis wat gebeur as jy net onder-kaptein is omdat jou pa die skool omgekoop het.”

Wihan se mond val sprakeloos oop. Hy is op die plek woedend en bal sy vuiste.

“Ek sal vir jou…” begin hy en wil sommer met die trappe opstorm, maar Rufus keer hom.

“Los dit, Wihan. Die klein snotkop weet nie waarvan hy praat nie,” probeer hy hom kalmeer en draai Wihan aan sy skouers terug sodat hulle na die kleedkamers toe kan gaan.

*****

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a comment