Rugbyskoolstorie/Heroes Vat Die Punch – deel 8

Vir die duur van die week het Bergkruin se Eerstespan in hul eie skool se koshuis ingetrek sodat hulle as span saam kan bly. Daarom sit Juan, Rufus en Wihan laat die aand buite teen die muur en hou nabetragting. Wihan is nog steeds omgekrap oor die aanmerking van die graad 9 seun.

“Dink julle ouens ek is onder-kaptein omdat my pa ryk is?” vra hy naderhand reguit. Juan lag.

“Ag, asseblief, ou. Niemand gee groter borge as my pa nie en ek het dit nie gemaak nie. Ek bedoel, wat het jou pa vir die skool geskenk – ‘n bus?”

Wihan besef dat Juan gelyk het. Hoewel dit nie op die oog af so lyk as ‘n mens na hul huis sou kyk nie, is sy ouers nogal wel-af. Hulle loop egter nooit en spog met hul geld nie en die kinders is al van kleins af geleer dat geld iets is wat verdien moet word. Sy pa sou nooit vir die skool geld gegee het net sodat hy onder-kaptein van die Eerstespan kan word nie. Maar hy wonder tog.

“Ja, okay, maar ek wonder nog hoekom het Venter my onder-kaptein gemaak. Onthou julle, hy het gesê sy redes is sy eie. Nou flippen staan almal en skinder dat my pa hom omgekoop het.”

“Maar hy het mos nie,” sê Rufus. “Ou, vat dit van my af – daar gaan altyd stories wees, veral as ‘n mens dit nogal groot maak. Mense like dit om die ouens op wie hulle jaloers is, sleg te laat lyk, selfs al beteken dit hulle moet iets uitlieg. Mense is weird goed. Skinder is vir die meeste mense soos…soos wat gym vir Leon is. Hulle kan nie daarsonder klaarkom nie. En hulle gee ook nie regtig om wie in die proses aftjop nie.”

Wihan glimlag.

“Julle is seker reg. Maar ek wonder net oor Venter.”

“Nou hoekom vra jy hom nie môre nie?” vra Juan. Wihan bly ‘n paar oomblikke stil en skud dan sy kop beslis.

“Almal se moere. Dis môre die Boot-Out. Daar sal ek vir hulle wys dat ek kán skop. En dat ek my plek in die span en my onder-kapteinskap verdien.”

In die verte hoor hulle ‘n dowwe slag.

*****

Die Laughing Hyena is tjok en blok met jong mense van die dorp, besoekende rugbyspelers en hoërskoolkinders wat ‘n kans om uit te gaan aangegryp het. Dis nie ‘n baie groot kuierplek nie, maar wel ‘n baie gewilde een en veral tydens die Rugbyweek is dit elke aand stampvol.

Rozaan het haarself al die heel aand opgeskeep met Wayne, so ‘n surfer-dude wat vir Kuswag buitesenter speel. Sy weet nie veel van hom af nie, maar sy weet sy het sy aandag en dis vir haar heeltemal genoeg. Soos wat hulle by een van die tafeltjies saam met sy spanmaats sit en kuier, is sy hande op ‘n verkenningstog van hul eie en sy laat hom begaan. Dis vir haar lekker om vir ‘n slag met ander ouens te doen te kry. Boonop hoef sy nie vir Juan of een van sy vriende te face nie.

Die afgelope tyd ná hulle uitgemaak het, het sy wel verlig gevoel, maar dit was nie net all shits and giggles nie. As sy pouses vir Juan by sy vriende gesien staan het, het sy nogal daarna verlang om net by hom te kon wees. Hy het darem ook maar killer-looks en eintlik is hy ‘n baie decent ou. Hy was immers vrek romanties aan die begin van hulle verhouding en as hy haar gesoen het, het dit vir haar elke keer gevoel asof die wêreld regtig ophou draai. Maar hier na die einde toe…sy kon net nie agterkom wat hom presies pla nie. Eintlik het sy nie regtig omgegee nie.

Nou het sy vanaand hierdie seekat opgetel en sy weet dat hy vroeër of later groter planne in sy kop gaan kry, as hy dit nie alreeds het nie. Sy wonder of sy van hom ontslae moet raak of hom net moet toelaat?

Hel, Rozaan, kom die stemmetjie van binne af. Jy oorweeg dit tog nie ernstig nie, doen jy?

Miskien, antwoord sy. Miskien is dit nie so bad nie. Wayne het sulke cute kuiltjies in sy wange en hy betaal nog die heel aand vir my drinks.

So? Is dit genoeg rede om met hom seks te hê? Cute kuiltjies en die feit dat hy vir jou drinks betaal? Gaan dit nie oor liefde nie?

Natuurlik gaan dit oor liefde, blaf Rozaan in haar gedagtes terug. Liefde maak! Ha-ha.

Okay, kom die stemmetjie. Jou keuses is jou eie. Ek wil net hê, voordat jy enige besluite finaal neem, kyk net eers na Wayne en dan maak jy net seker of hy regtig die ou is met wie jy die eerste keer in jou lewe wil seks hê.

Vir ‘n oomblik kyk sy na Wayne se profiel. Hmmm. Not bad. Maar dis asof hy vervaag en Juan se profiel vir haar duideliker word. Rozaan skud haar kop vinnig om die beelde uit haar gedagtes te kry. Juan is geskiedenis, vir wat dink sy nog aan hom?

Wayne draai na haar en soen haar in die nek.

“Alles okay, babe?” vra hy en trek haar hand nader aan sy been. Rozaan voel meteens baie ongemaklik en weet skielik dat Wayne definitief nié by haar gaan kry wat hy heel waarskynlik soek nie. Sy trek haar hand terug en maak dit dan los van syne.

“Ja, wat, dankie. Wil jy nie vir ons nog ‘n shooter gaan kry nie?” vra sy en blaas vir hom ‘n soentjie met ‘n pruilbekkie. Wayne frons effens, maar staan dan op.

“Sure. Ek’s nou weer hier.”

Rozaan sit terug in haar stoel. Vanaand gaan ‘n lang aand wees.

*****

So besig as wat die Laughing Hyena met die jonger garde is, net so wemel Hoërskool Bergkruin se Sportkiosk met afrigters, spanbestuurders, onderwysers en ander amptelike ondersteuners wat ná die wedstryd saam kuier.

Martin van Vrede staan eenkant en lag kliphard vir ‘n grap wat een van Bothaville se afrigters vertel het. Hy is blink gedrink, maar hy het nog glad nie planne om huiswaarts te keer nie. Daarvoor kuier hy heeltemal te lekker.

Teen middernag moet die Sportkiosk sluit en die mense keer drentelend terug na hul onderskeie huise, hotels en gastehuise. Martin stap slingerend saam Mnr Spies uit. Mnr Spies het ‘n baie rustiger aand agter die rug as Martin en help hom regop toe hy teen die deurkosyn steier.

“Jy gaan sekerlik nie self terugbestuur huistoe nie, Martin?” vra hy. Martin beduie met sy hand in die lug.

“Hoekom nogal nie? Ek kán…bestuur. Ek hét…karre. Karrrre. Ek het…kán self regkom.”

“Laat ek jou gaan aflaai,” bied Mnr Spies weer aan, maar Martin vererg hom.

“Los my uit, man! Probeer ek jou babysit?” kom dit ietwat moeisaam terwyl hy tot by sy BMW, wat reg by die sportgronde se hek staan, vorder. Mnr Spies probeer hom vir oulaas keer en sit sy hand op Martin s’n toe hy die motorsleutels in die deur se slot druk.

“Martin, jy’s dronk. Dis gevaarlik op die pad!”

Martin klap sy hand weg en swaai dan wild ‘n hou na Mnr Spies se gesig toe. Mnr Spies moet net koes en Martin klap sy deur hard toe.

“Ek…is dalk dronk, maar ék…kan bestuur. Ek is nie ‘n flop nie. My seun het dalk…vanaand soos ‘n stuk stront gespeel…hel, hy ís een…maar ek…is nie. Ek is nie! Ek…is ‘n sukses. Sukses!” Met die laaste woord as ‘n uitroep trek hy met skreeuende bande weg sodat die brandmerke op die teer agterbly. Mnr Spies bly verdwaas in die pad agter.

*****

“Kom ons gaan Bucks toe!” stel iemand voor. Die voorstel om te gaan dans vind algemene byval onder Wayne en sy vriende.

“Is jy lus om te gaan dans?” vra hy vir Rozaan. “Ons hoef nie lank te bly nie. Ons moes eintlik al terug gewees het daar by daai koshuis waar ons slaap, maar ons sal net insneak, dan word ons coach nie wakker nie.”

“Reg met my,” sê sy. As hulle tussen ander mense bly, is sy dalk vir die res van die aand veilig. Daar kan sy darem met ander ouens ook dans. Sy raak nou bietjie moeg vir Wayne en sy kuiltjies, hoe cute dit nou ookal is.

Wayne en Jacques Steynberg het deur die loop van die aand met mekaar begin kuier en Jacques beduie vir hom en Rozaan om sommer saam met hom in sy afslaandak-sportmotor te klim. Hulle twee en Lisa gaan sit op die agterste sitplek terwyl Skalla voor langs Jacques inklim. Hulle maak nie hul gordels vas toe Jacques met ‘n gebrul wegtrek nie.

*****

Martin sukkel om die motor te beheer. Sy hande kry dit nie lekker reg om die stuurwiel en die rathefboom gelyk te hanteer nie. Dis asof hy net nie die ratte oorgesit kan kry nie. Met ‘n gevloek buk hy met sy kop af om nader te kyk na wat daar aangaan.

Die dringende, harde toeter van die swaar beestrok laat hom verskrik opruk. Martin pluk die stuurwiel wild heen en weer, terwyl sy voet al hoe swaarder op die petrolpedaal lê. Die kar begin spin en hy verloor heeltemal beheer. Die vragmotor stop nie.

*****

Skalla lag hard en mors sy bier op Jacques se skoot uit.

“Hey, bra! Check waar jy mors!” raas Jacques en probeer met sy een hand sy skoot droog vee. Skielik gil die meisies van die agtersitplek af. Jacques kyk benoud op en vloek hard.

“Pasop!” skree Wayne. Dis te laat. Byna gelyktydig tref Jacques, Martin van Vrede en die leë beestrok mekaar. In die stil naglug kan ‘n mens die slag myle ver hoor.

*****

“Juan! Juan, word wakker!”

Juan word stadig wakker en loer deur skrefiesoë na Rufus en Jonathan.

“Mmmm? Watsit?” vra hy deur die slaap. Rufus kyk na Jonathan. Jonathan haal diep asem.

“Juan, ou, ek het vir jou slegte nuus,” begin hy. Juan sit effens meer regop en frons dan vir Jonathan.

“Watse nuus?”

Rufus gaan sit langs hom op die bed.

“Daar was ‘n moerse ongeluk in Kerkstraat. Twee karre en ‘n beeslorrie het almal mekaar getref. Juan…jou pa was in die ongeluk. En Rozaan.”

Juan is nou wawyd wakker.

“Wat? Wat het gebeur? Is hulle…?”

“Niemand weet nog presies nie,” sê Jonathan. “Ons het nou net die nuus gekry. Jou ma het vir Venter gebel. Ons weet net dis bad, Juan.”

Juan voel hoe daar ‘n ysterhand stadig maar seker om sy hart vou en begin om dit vas te druk. Sy pa én Rozaan! As hulle moet doodgaan…dit sal vir hom ongelooflik sleg wees. Al is hy en Rozaan nie meer ‘n item nie, sou hy dinge tussen hulle darem weer ten minste tot by vriendskap wou laat vorder, hulle kom tog immers ‘n lang pad saam. Wat sy pa aanbetref…hy weet nie regtig hoe hy oor sy pa voel nie, eintlik is hy nog moer kwaad vir hom, maar dit sou darem nice gewees het om met hom te kon vrede maak. Hel, dit sou nice gewees het as die ou net weer met hom sou wou praat!

“Ons moet seker hospitaal toe gaan?” vra hy nadat hy ‘n rukkie net voor hom uitgestaar het. Rufus knik.

“Ons sal saam kom, ek en Wihan. Ek gaan hom net gou wakker maak.”

“Nee, los hom,” keer Juan. “Hy moet môre goed doen in die Boot-Out, hy moenie nou oor my worry nie.”

“Goed,” sê Jonathan. “Trek gou julle sweetpakke aan, dan kry ek julle voor. Ons ry sommer met my kar.”

*****

Toe hulle by die hospitaal kom, is Juan se ma reeds daar.

“Waar is Marli?” vra hy nog voordat sy hom kan groet.

Zelda van Vrede is ‘n baie verwarde, bewerige vrou en ma om 01:30 in die oggend.

“Sy sit hier om die draai. Leon is by haar. Hy het nog by ons huis koffie gedrink toe ons die nuus gekry het.”

Juan storm by haar verby en kry vir Leon en Marli, waar Leon troostend met sy arms om haar sit. Leon kyk op en sien vir Juan en Rufus.

“Hey, ouens,” groet hy hulle en staan op. Die ouens druk mekaar vas. Juan se oë is ‘n warboel van vrae.

“Hoe…hoe erg is dit?” vra hy vir Leon.

“Rozaan-hulle was vyf mense in die kar. Sy en Lisa en so ‘n ander ou van Kuswag het saam met Jacques en Skalla in Jacques se convertible gery. Ons dink hulle was heel moontlik op pad Bucks toe. Jou pa was in die ander kar en dan was daar die beeslorrie.”

“Wat weet ons van die mense?” van Rufus dringend. Leon se stem begin effens te kraak.

“Lisa en die Kuswag-ou is op slag dood. Sy naam was Wayne. Hulle het agter in gesit, maar die beestrok was leeg en het half op sy kant bo-op die convertible geval en hulle getref. Die ander weet ons…nog nie regtig iets van nie.”

“Dis presies die donnerse tipe ding wat my pa sal aanvang. Seker lekker gesuip gewees. Bliksem!” vloek Juan.

Rufus skud sy kop stadig.

“Klink na ‘n helse gemors.”

Juan gaan sit langs Marli en druk haar teen hom vas. Sy begin van vooraf te huil. Leon beduie vir Rufus dat hulle die twee ‘n bietjie alleen moet los en hy vat hom eenkant toe.

Rufus kon die huiwering in Leon se stem hoor toe Leon van die ongeluk vertel het.

“Ou, sê my reguit: hoe erg is die ander mense?” vra hy hom tromp-op. Leon kyk eers ‘n oomblik weg en praat dan afgemete, amper asof hy elke woord versigtig weeg en mooi dink of hy dit werklik wil sê.

“Die kans dat die ander mense in die karre dit gaan maak is op hierdie stadium bitter skraal. Die lorriedrywer is fine, hy het net ‘n paar snye en kneusplekke en ‘n gekraakte rib, of so iets. Jacques was nog conscious toe die Medical Rescue op die toneel opgedaag het, maar hy was baie deurmekaar en het die heeltyd onverstaanbare goed gesê. Skalla se sitplek het met die slag heeltemal agtertoe geskuif…en Rozaan se bene vergruis. Sy was nog bewusteloos toe hulle met haar hier aangekom het, maar die dokters is op die oomblik besig om haar te stabiliseer. Hulle gaan waarskynlik albei haar bene van onder haar knieë af moet afsit.”

Jonathan het intussen by hulle kom staan en fluit saggies. Leon bly ‘n oomblik stil voordat hy verder praat. Hy vat ‘n papierkoppie en tap dan ‘n bietjie water uit ‘n waterhouer daarin. Ná ‘n paar slukke praat hy verder.

“Skalla is ook deur die lorrie getref, maar die lorrie se oop venster het so half bo-oor hom geval, so hy gaan ook oraait wees, behalwe dat hy albei sy arms op iets soos vier verskillende plekke gebreek het.”

“En Juan se pa?” vra Jonathan. Leon huiwer, haal dan diep asem, vat nog ‘n sluk water en asem dan stadig uit.

“Juan se pa is op elke moontlike masjien wat hierdie hospitaal het om hom aan die lewe te hou.”

*****

Byna twee ure later kom die dokters uiteindelik te voorskyn. Een van hulle, Dr. Grobbelaar, beduie vir die moeë groepie mense om in ‘n kleinerige vertrek in te gaan. Leon, Juan, Rufus en Marli stap in, met Zelda van Vrede wat hulle met periodieke snikke volg. Jonathan het intussen na die koshuis teruggekeer.

“Laat weet my sodra daar enige verdere nuus is,” het hy vir Leon gesê nadat hulle selfoonnommers uitgeruil het.

Dokter Grobbelaar maak die deur agter hom toe. Baie kalm en versigtig deel hy die nuus met hulle mee: Lisa en Wayne is op slag dood, terwyl Jacques, Skalla en die bestuurder van die beestrok ligte beserings opgedoen het – hoofsaaklik beenbreuke, kneusplekke en snywonde. Hulle gaan in die hospitaal bly vir observasie. Rozaan se dubbele amputasies is vir 10:00 die oggend geskeduleer. Sy sal nooit weer kan hokkie speel nie.

Martin van Vrede se toestand is kritiek, maar stabiel. Hy het nog nie sy bewussyn herwin nie en hoewel die dokters baie bekommerd oor hom is, verseker Dokter Grobbelaar hulle dat die dokters alles in hul vermoë doen en gaan doen om hom deur te haal.

Toe hy klaar gepraat het en weg is, stap Zelda en Marli ook uit. Leon, Juan en Rufus bly agter. Juan sit net agteroor met sy kop teen die muur en sy oë toe. Vir die eerste keer is dit regtig ‘n realiteit: sy pa kan doodgaan. Sy pa, wat hom so uitgeskel het vir alles wat sleg is, hulle geslaan het en stadig maar seker besig was om homself en sy besigheid weg te suip, kan actually doodgaan.

Leon staan op en strek sy bene en sy arms. Die spanning van die aand, voor en ná die ongeluk, laat hom styf voel. Dit help altyd om ‘n slag goed te strek, het hy al geleer. Dis goed om net ‘n slag vars suurstof in die longe te kry en die bloed deur jou lyf te laat sirkuleer.

Rufus lyk en is moeg. Hulle was skaars in die bed gewees toe Jonathan hom kom wakker maak het en hy het vroeër die aand ‘n woeste game gespeel. Toe was daar nog die simpel graad 9 laaitie met sy vertraagde opmerking, wat vir hom byna net soveel as vir Wihan ontstel het.

“Dink julle…wil julle bid?” vra hy terwyl hy vorentoe sit. Juan skud sy kop.

“Ek’s nie lus nie.”

Leon skuif sy stoel nader aan Rufus.

“Dis okay, tjom, jy hoef nie as jy nie wil nie. Ons sal,” sê hy. Hy begin ook dan sommer eerste bid, iets wat hy twee maande vantevore nie regtig gedink het hy sou doen nie. Rufus gaan spontaan aan toe Leon klaar is. Ook vir hom is hard-op gebed ‘n handeling waarmee hy homself nie voorheen sou assosieer nie, maar in die vroeë oggendure kom dit vir hom verrassend natuurlik.

Toe hy klaar is, kyk hy en Leon op. Juan het skynbaar aan die slaap geraak, want hy sit doodstil met sy oë toe, maar dan begin ook hy te bid.

“Ag, Here, ek is moeg en ek weet nie hoe ek moet voel nie. Ek is kwaad en deurmekaar en vaak en ek weet nie wat gaan gebeur nie. Ek wil net graag Rugbyweek speel, asseblief, Here, en ek wil net graag vrede maak…”

Juan se stem breek en rou snikke skeur deur sy lyf.

*****

Wihan en Sibu staan vir mekaar ‘n rugbybal en pass kort voor die Boot-Out, ‘n skopkompetisie tussen die skoppers van die verskillende skole. Elkeen van die 20 skole nomineer hul beste skopper om van 3 voorafbepaalde posisies af te skop. Daarna dring die beste 10 deur na die volgende ronde, dan die beste 5 en uiteindelik die finale 3.

“Is jy okay, boerseun?” vra Sibu vir Wihan. Wihan glimlag moegerig terug.

“Ja, wat, jong. Ek worry net oor Juan.”

“Flip, that’s bad, hey? Eish, I’m glad I’m not him.”

“Mmmm.”

Wihan was aanvanklik bietjie vies dat hulle hom nie wakker gemaak het om saam hospitaal toe te gaan nie, maar toe hulle teen 05:30 terug by die koshuis aangekom het, het Rufus hom vinnig ingelig oor die stand van sake en dat Juan gesê het Wihan moet eerder rus sodat hy goed kan doen met die skopkompetisie. Die res van die span is gelukkig dié dag af en daarom lê Juan en Rufus nou en slaap.

Die nuus van die ongeluk het met die spoed van witlig deur die dorp versprei. Die stories daarmee saam natuurlik ook, maar baie gou het almal geweet van die twee jongmense wat gesterf het en die ander wat nog in die hospitaal lê. Kuswag het uit die skopkompetisie uit onttrek en die span besluit nog of hulle met die week moet voortgaan.

“Het jy gehoor van Lisa se ouers?” probeer Sibu weer die gesprek aan die gang kry. Wihan skud sy kop.

“Wat van hulle?”

“Hulle gaan Jacques se pa-hulle sue vir manslaughter. Apparently that Kuswag-outjie’s parents ook.”

“Jacques-hulle gaan dun skyt,” sê Wihan. Jacques se pa is vrek ryk en geld was nog nooit ‘n probleem nie, maar hulle gaan sukkel om hierdie storie op te cover. Dis in ‘n effense ander klas as vroulief Rowena se drankprobleem.

Een van die provinsiale skeidsregters, wat hierdie week die wedstryde hanteer, kom aangestap en die seuns staan nader, sodat hulle elkeen ‘n nommer kan trek om die volgorde waarin hulle gaan skop te bepaal. Wihan trek nommer 8. Hy is tevrede – dis nie heel eerste nie en dis ook nie heel aan die einde nie. Hoe meer druk hy van homself kan afhaal, hoe beter. Hy gaan elke greintjie konsentrasie nodig hê en daarom draai hy doelbewus sy gedagtes weg van die ongeluk. Hy kan nie die ruskans wat hy gegun is, terug in Juan se gesig gooi nie. Vandag móét hy bewys dat hy sonder twyfel op meriete in die span is, dat sy skopvoet niks makeer nie en dat sy onder-kapteinskap nie deur geld aan hom toegesê is nie. Stilweg bid hy om genade, krag, rustigheid en fokus.

“Aan U alleen die eer,” sluit hy sy gebed saggies af.

Die eerste skopper stel op.

*****

Juan en Rufus keer ná ‘n paar uur se slaap terug na die hospitaal. Leon het laat weet dat hy ook oppad is, maar Marli slaap nog by een van haar vriendinne se huis.

Juan groet sy ma skrams toe sy hom sien.

“Enige nuus?” vra hy. Sy skud haar kop.

“Nog niks. Alles is nog net dieselfde met Pa soos wat dit gisteraand was. Rozaan…die dokters is op die oomblik besig met haar.”

“Kan ek by Pa ingaan?” vra Juan en hy weet nie regtig hoekom hy dit vra nie.

“Ja,” antwoord Zelda. “Maar net vir ‘n kort rukkie.”

Juan stap die hoë-sorg eenheid van die hospitaal binne en sy maag trek amper dadelik op ‘n knop. Die swaar reuk van ontsmettingsmiddel en swak pasiënte penetreer sy neusgate en laat hom wens hy was nie daar nie.

Hy sien byna nie sy pa raak tussen al die pype en masjiene wat rondom hom staan nie. Vir ‘n oomblik twyfel hy of hy by die regte bed is, maar dan besef hy dat dit nie ‘n fout kan wees nie. Hy sukkel om alles in te neem: naalde, groot pype, klein pypies, masjiene wat biep-biep-biep, suurstofmasker, hart-long masjien, dialise-masjien, drups en nog ‘n spul ander goed wat hy nie kan uitken nie.

Skielik voel dit vir Juan asof die mure hom vasdruk. Hy moet hier uitkom, nou! Hy bars by die kamer uit en word buite oor ‘n balkon naar.

Rufus en Leon, wat intussen daar aangekom het, draf nader. Leon gee vir hom ‘n glas water aan. ‘n Baie bleek Juan sluk daarvan, spoel sy mond daarmee en spoeg dit dan oor die balkon se reling uit.

“Kom ons waai,” sê hy vir hulle. “Ek kan nie nou hier wees nie.”

*****

Drie…twee…een.

Wihan tref die bal en stuur nog ‘n skop met sy regtervoet sekuur tussen die pale deur. Hy draai om en glimlag vir Sibu, wat van die kantlyn af met twee duime opwaarts sy goedkeuring wys.

“Go, white boy!” skree Sibu vir Wihan en hy lag. Hy skop vandag briljant in die Boot-Out. Hy het nog nie met één skop ongemaklik gevoel nie en elkeen was sover nog ‘n skitterpoging.

“Right, die finale drie skoppers is Jakes Smith, Ferdie van der Westhuizen en Wihan Gerber.”

Teleurgesteld draai die ander skoppers om en gaan van die veld af. Vir oulaas trek hul elkeen ‘n nommer en Wihan trek nommer 3. Nie ideaal nie, dink hy, maar ek gaan nie toelaat dat dit my nou stop nie.

Jakes Smith skop eerste. Hy is Maritzburg College XV se Heelagter en ook hul regte Eerstespan se stelskopper. Nes Wihan het hy ook nog nie ‘n skop gemis nie en hierdie een is geen uitsondering nie.

Ferdie van der Westhuizen volg ná hom. Hy kom van Bothaville en speel Losskakel. Sy eerste brouskop was tydens die vorige ronde en dit was teen ‘n baie slegte hoek. Hierdie skop klits hy egter gemaklik oor.

Wihan stel sy bal op. Hulle is niks, Wihan. Hulle bestaan nie. Hy trek los en laat die bal netjies oor die dwarslat seil.

Jakes mis ook nie sy tweede skop nie, maar met Ferdie se tweede skop skil die bal van sy voet af en trek regs van die pale verby. Hy is sigbaar kwaad vir homself en laat ‘n kreet.

Wihan besef dat die kompetisie nog enige kant toe kan gaan, ten spyte van Ferdie se mislukte poging. Daarom maak hy seker van sy treë en dwing homself om nie oorhaastig te skop nie. Sy tweede poging is ook suksesvol en Sibu moedig hom met ‘n gefluit aan.

Terwyl Jakes vir sy derde skop regmaak, kom Juan en Rufus by Sibu aan.

“Is dit die finale ronde?” vra Rufus.

“Jip,” sê Sibu.

“Hoe gaan dit hier?” wil Juan weet.

“Wihan skop soos ‘n monster, he’s awesome today,” sê Sibu trots. Dan sien hy eers vir Juan raak. “Hey buddy! Shit, man, is jy okay?”

Sibu sit sy hand op Juan se skouer en Juan knik.

“Dis vir my beter om hier te wees, thanks, Sibu. En sorry dat ek gisteraand op die veld so ‘n ass was. Mooi drie, hoor.”

Sibu maak ‘n afwysende gebaar met sy hand.

“Ag, dis niks daai nie. We were all lekker gestress, so don’t worry about it. Kom ons check vir Wihan.”

Hulle fokus hul aandag op die drie skoppers en die skeidsregter op die veld. Ferdie het sopas sy laaste skop misgeskop en vloek hard. Hy kan nie meer wen nie.

Wihan weet dat sy eie laaste skop gaan bepaal of hy tweede gaan eindig, en of hy en Jakes dalk nog ‘n skop elk gaan kry.

Hy maak seker van die bal, maak seker van sy treë…en skop die bal dan dat hy hoog trek. Dis oor! Die luide toejuiging van sy vriende laat hom na die kantlyn toe kyk en glimlag. Hy waai vir Sibu en die ander manne wat vir hom staan en hande klap. Die res van hulle span het ook intussen daar aangekom en al die ouens staan breëbors met gevoude arms en moedig hom aan.

Die skeidsregter roep vir Wihan en Jakes nader. Elkeen gaan nog een skopkans kry. As hulle daarna nog steeds gelyk is, deel hulle die kompetisie.

Hierdie keer skiet die skeidsregter ‘n muntstuk op en Wihan wen die loting. Hy besluit om Jakes eerste te laat skop.

In spanning staan Bergkruin se Eerstespan en toekyk. Wihan het ‘n ent agter Jakes gaan staan en hou die groot stelskopper fyn dop.

Jakes trek los – en die bal skuur net-net links van die linker regoppaal verby. Dis mis! Wihan besef dat hy net één kans het om die kompetisie te wen. Net focus, Wihan. Net focus.

Hy stel die bal versigtig op. Jakes het eenkant by die skeidsregter gaan staan. Wihan kan voel hoedat almal se oë op hom vasgenael is. Hierdie skop is ‘n maak of breek oomblik. Dit kan bewys dat hy sy posisie werd is.

Dit kan bewys dat hy die druk kan hanteer.

Dit kan bewys dat hy sy onder-kapteinskap deur en deur verdien…

Wihan lek vinnig oor sy lippe en skop dan die bal. Hy het hom nie presies getref soos wat hy beplan het nie en die bal trek gevaarlik na regs Vir ‘n oomblik hou die Bergkruin-manne hul asems op toe die bal wel die regter regoppaal tref. Maar die bal spat af na die dwarslat toe, hop ‘n keer of wat daarop – en hop dan aan die agterkant af!

“’n Rugbybal is nie rond nie…” is al wat Wihan geskok kan uitkry. Die ander ouens kom bly aangehardloop en wens hom geluk.

Wihan en Jonathan se oë ontmoet vinnig.

“Ek het geweet jy’s die regte ou vir die job,” sê Jonathan toe hy Wihan se blad skud. Wihan glimlag breed. Dis asof al die knope in sy stywe skouers skiet gee. Hy gee nie eens om oor die R10 000 wat hy vir sy skool gewen het met sy skopskoen nie, of die gedeelte wat hy daarvan gaan kry nie. Vir hom is dit genoeg om te kon bewys dat hy dit het wat dit vat.

*****

Nadat die ouens weer ‘n uur of wat gaan rus het, gaan Juan alleen hospitaal toe. Hy kry vir Marli in die wagkamer. Sy lyk nog baie oes, maar sy huil darem nie meer die hele tyd nie. Hy gee haar ‘n lekker stywe druk.

“Hoe voel jy, Sussie?”

“Okayerig, seker. Hulle sê Pa is nog kritiek, maar sy toestand is nog steeds stabiel. Daar het soos in absoluut niks verander van gisteraand af nie.”

“Was jy al by hom in?”

“Net vinnig, so rondom 12:00 se kant. Rozaan het netnou uit haar operasie gekom.”

“Is sy al wakker?”

“Ek dink so.”

Juan dink diep. Moet hy daar by haar ingaan? Hy is nie meer kwaad vir haar nie, in elk geval nie meer so erg nie. Op hierdie stadium voel hy net…niks. Miskien moet ek dit tog doen.

“Waar is haar kamer?”

Marli beduie vir hom en Juan stap na die privaat kamer toe. Die deur staan halfpad oop, maar die kamer is donker omdat die gordyne nog dig toegetrek is. Rozaan is wakker, maar sy lyk baie moeg en lê gestut teen ‘n paar kussings. Die lakens is vreemd plat waar haar bene moes wees.

Juan klop saggies en stoot dan die deur versigtig groter oop. Rozaan is merkbaar verbaas en ‘n bietjie geïrriteerd om hom daar te sien.

“Juan…wat soek jy hier?” kom dit flouerig.

Juan is self nie seker wat om haar te antwoord nie. Wat soek hy nou eintlik hier?

“Ek…wou sommer kom kyk hoe dit gaan,” probeer hy.

“Ek het sopas my bene verloor, dit gaan uitstekend dankie,” hap sy terug, maar haar stem breek en sy draai haar kop weg.

Juan bly ongemaklik in die deur staan.

“Ek wil net sê ek is jammer,” probeer hy weer, maar Rozaan bly wegkyk. Juan besluit om dit te laat vaar en draai dan om en loop uit.

Rozaan kan hom hoor uitstap, maar sy wil nie na sy kant toe kyk nie. Hoe het sy haarself in hierdie gemors gekry? Hoe?

Jy weet presies hoe, kom die nou al bekende stemmetjie.

Nee, asseblief. Nie vandag nie. Ek het nie krag vir jou nie, antwoord sy.

Natuurlik het jy. Dis jy wat met my praat. En ek ís jy, so moenie worry nie, ek het ook nie baie krag nie.

As ek net nie ingestem het om Bucks toe te gaan nie

As ek net nie saam met Jacques in die kar geklim het nie…

As ek net nie so baie shooters gedrink het nie…

As ek net nie die heel aand met Wayne geflirt het nie…

As ek net nie die afgelope tyd so los te kere gegaan het nie…

As ek net nie so deurmekaar geraak het met Corna-hulle nie…

As ek net nie met Juan uitgemaak het nie…

As ek net myself betyds kon leer ken en kon liefhê…

As…

As…

As…

*****

Hoërskool Ewoud Heymans speel daardie aand hul eerste wedstryd teen Hoërskool Bothaville. Leon speel ‘n hond uit ‘n bos en dit is duidelik dat die manne in die geel truie vir die Vrystaters ore aansit. Dit is egter ‘n pragtige wedstryd en beide spanne speel goeie, aanskoulike rugby.

Leon tackle soos ‘n besetene. Elke duikslag laat hom tot in sy kleintoontjie lekkerkry. Hy weet die ouens probeer hom vermy, maar hy sorg dat hy op hulle is nog voordat hulle dit besef. Hy tackle laag en sorg dat hy so lank as moontlik op die veld bly. Hulle kan in elk geval nie bekostig om in hul eerste wedstryd al ‘n geel of ‘n rooi kaart te kry nie. Daardie goed tel altyd teen ‘n mens in toernooie soos hierdie. Hoe skoner jy speel, hoe beter.

Stefan druk hul laaste drie so vyf minute voor die einde van die wedstryd en Leon weet dat hulle nou net die Vrystaters op hul plek moet hou, met ander woorde, hy moet net sy werk goed doen.

Wonder bo wonder kry Bothaville kort na die afskop ‘n skrum op Ewoud Heymans se kwartlyn en skielik is daar vir hulle die geleentheid om tog twee bonuspunte te verdien deur hul vierde drie aan te teken en sodoende met minder as sewe punte te verloor.

Die bal kom uit en beland by hul losskakel, Ferdie van der Westhuizen. Vir ‘n oomblik lyk dit asof hy gaan skop, maar dan dummy hy vir Leon en hardloop regdeur om die bal onder die pale te gaan druk.

Leon staan op en kan homself skop. Rookie mistake! Dis omdat hy sy konsentrasie vir ‘n halfsekonde laat verslap het. Flippit! Toemaar, selfs al word die drie verdoel, wen Ewoud Heymans nog steeds. Dit maak net die res van die toernooi ‘n bietjie moeiliker.

Die eindfluitjie blaas net nadat Ferdie sy eie drie verdoel het, en die manne sê vir mekaar met ‘n bladskud dankie.

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: