Home > afrikaans, Afrikaanse stories, Blogroll, Friends, jeug, rugby, schools, skole, skryf, South African stories, stories, Suid-Afrika, vriende, youth > Rugbyskoolstorie/Heroes Vat Die Punch – deel 10

Rugbyskoolstorie/Heroes Vat Die Punch – deel 10

“Waar’s hulle?!” vra Juan die suster by ontvangs toe hy die hospitaal binnestorm met sy vriende kort op sy hakke.

“Hulle is bo, maar…”

Juan luister nie verder nie en hardloop die trappe drie-drie op. Bo in die gang hardloop hy in Leon vas, wat hom vasgryp.

“Waar’s hy?” skree-vra Juan en probeer verby Leon beur. Leon moet al sy krag inspan om vir Juan vas te hou.

“Juan…hy’s weg…” kom die woorde soos skeermeslemmetjies oor Leon se lippe. Juan syg teen die grond neer.

“Nee! NEE! Dis my skuld, ek moes nie…ag nee, dis my skuld!” skeur die woorde bitter deur sy stem en sy lyf begin te ruk soos hy huil. “As ek hom nie beskuldig het nie sou hy dalk nog…”

“Juan, sy beserings was net té erg, dis nie jou skuld nie, ou. Hy sou nooit…” probeer Leon, maar Juan val hom in die rede.

“Maar ek het gesê ek weet nie hoe hy sy beloftes gaan nakom nie! As ek hom net meer kans gegee het, sou hy dit dalk nog gemaak het! Dis alles my skuld! Ek wou nog só graag vrede gemaak het…”

Wihan, Rufus en Sibu verskyn aan die bo-punt van die trappe waar Leon met sy arms om Juan se rukkende skouers op die grond sit. Die toneel vertel vir alles wat hulle moet weet.

Juan kyk op.

“Waar is my Ma-hulle?”

Leon en Wihan help hom op en die ouens stap saam met Juan tot by die saal se deur.

“Ons mag nie ingaan nie, maar jou ma en Marli is binne,” beduie Leon sag en stoot die deur vir Juan oop.

Dit word die langste paar treë van Juan se lewe. In stadige aksie sien hy sy ma en suster wat eenkant staan en opkyk toe hulle hom sien, die masjiene wat nou soos spottende stukke blik rondom die bed staan…en Martin van Vrede se lewelose liggaam wat toegegooi onder ‘n laken op die bed lê. Juan stap nader en trek die laken van sy pa se gesig af weg. Sy oë is reeds toe en dit lyk of hy slaap.

“Was julle hier toe…” probeer hy krakerig. Marli knik en stap nader.

“Ja, ons het jou probeer bel en alles, maar jou foon was af en…”

Juan slaan sy vuiste oor sy oë en krimp ineen, maar Marli dwing hom om weer regop te kom.

“Boeta…hy het vir ons gesê hy is jammer. En…dat hy nie vir jou kwaad is nie. Dat hy eintlik só trots op jou is en dat ons vir jou moet sê…hy’s lief vir jou.”

Juan sit sy arms om sy suster se lyf en hulle hou mekaar vas.

“Regtig?” fluister hy oor haar skouer.

“Ja, regtig! Ag, Boeta, hy het so seer gehad, ‘n mens kon sien. Dis beter dat hy…dat hy weg is.”

Zelda stap nader na haar kinders toe en druk hulle teen haar vas.

“Alles gaan okay wees,” kry sy dit uit.

Miskien is sy reg, dink Juan. Miskien is sy reg.

*****

“Shit, dis bad,” breek Sibu die stilte waar hy, Rufus en Wihan saam met Leon onder in die hospitaal se wagarea sit. “You think he’s gonna play?”

“Wát?” vra Rufus, wie se gedagtes glad nie by die volgende dag se wedstryd was nie. “Jy kan dit mos nie van hom verwag nie, ou, is jy mal?”

“Ons sal reël, dan jol ons dit net later, ons is mos albei spanne hier in die dorp,” sê Leon.

“But what about the week? Are they just gonna end it?”

“Nee, Sibu, hulle sal seker net die uitspeel vir derde en vierde plek die hoofgame maak,” grom Rufus terug.

“Hey! Almal van julle! Hou net op met nonsens praat,” praat Wihan skielik hard. “Ek ken vir Juan. Hy sal speel. Hy sal die span nie in die steek laat nie en sal dit as ‘n klap in die gesig beskou as ons die game ter wille van hom uitstel, want dit sal beteken dat ons óók nie dink dat hy dit het wat dit vat nie. Nee, ek ken hom: hy sal wíl speel en ons kan nie namens hom besluit en die game uitstel nie.”

*****

Juan se vriende keer daardie aand sonder hom terug koshuis toe. By die koshuis loop Wihan, Rufus en Sibu vir Mnr. Venter en Jonathan tegemoet. Die nuus het hulle reeds bereik.

“Die wedstryd gaan voort, manne,” sê Mnr. Venter. “Maar Juan gaan nie speel nie.”

“Het Meneer met hom gepraat?” vra Wihan.

“Nee, maar hy kan nie speel in so ‘n emosionele toestand nie. Dis klaar nie goed vir die span se gees nie. As ons môre wil wen, het ons nie sy negatiewe invloed nodig nie, hoe hartseer dit ookal is. Ons kan nie hierdie kans deur ons vingers laat glip nie.”

“My bliksem!” skree Wihan en gooi sy selfoon op die vloer dat dit aan flenters spat. “Gaan alles vir Meneer en die hele donnerse dorp net oor wen, wen, wen? Wat van die spelers? Wat van ons as ‘n span? Wat van die ouens wat met hulle bloed en sweet op die veld elke wedstryd alles gee en net nóg pressure daarna kry? En hoe kan Meneer vir hom besluit of hy kan speel of nie as Meneer nie eens met hom gepráát het nie? Meneer weet mos nie hoe hy voel nie! Meneer kan mos nie net…”

“Kry jouself onder beheer!” skree Mnr. Venter en ruk vir Wihan aan sy skouers. “Ek het klaar gepraat. Ek stel voor jy gaan vat ‘n stort en kalmeer sonder om verder iets te sê waaroor jy spyt gaan wees en voordat ek besluit om jou onderkapteinskap van jou af weg te vat.”

Die ander ouens staan tjoepstil die toneel en aanskou. Wihan blaas nog soos ‘n beseerde buffelbul, maar hy bly stil.

“Jonathan, sorg dat hy rustig raak,” sê Mnr. Venter en stap met kort, driftige treë weg.

“Kom, Wihan. Chill, ou,” sê Jonathan en vat hom buitentoe. Sibu het intussen die koshuis binnegesluip, maar Rufus stap saam en hulle gaan sit by die sementtafeltjie.

Wihan is nog steeds boos.

“Wat die hel? Hoe kan Venter sommer net so besluit wat hy dink goed sal wees vir Juan?”

“Venter probeer ook maar net die beste keuse vir die span maak, Wihan. Onthou, as ons wen, is dit ons wat goed doen, maar as ons verloor, sê almal dis sy skuld. Hy is ook maar onder pressure.”

Wihan besef dat Jonathan gelyk het.

“Dis donners onregverdig,” brom hy onderlangs. “Hoekom kan ons nie net speel en dit goed doen, na die beste van ons vermoë, en dit net geniet en wen as ons die beste is nie? Hoekom moet daar altyd een of ander asshole wees wat kyk waar hy iets uit dit uit kan maak?”

“Want partykeer suck die lewe net,” sê Rufus. “Partykeer, nee, meeste van die tyd is dit die dinge wat heeltemal buite ons beheer is wat ons die ergste afpis, en dan moet iemand die punch vat. As ons ten minste net vir mekaar die shots vat, die kere wat ons dit actually kán doen, dan help dit al klaar.”

“Wow. Hy’s reg, weet jy,” stem Jonathan saam. Wihan sug gefrustreerd.

“Julle weet, partykeer dink ek die Here is verantwoordelik vir alles en dat Hy al die toutjies trek en dat dit Sy skuld is dat Juan se pa dood is. Maar ek weet tog dit is nie waar nie. Ons kan nie vir God verantwoordelik hou vir ons eie dom besluite nie en glo my, ek het hierdie Rugbyweek al ‘n hele paar gemaak. Dis goed om te weet ek kan jammer sê daaroor.”

“Is dit nie juis die punt nie?” vra Jonathan. “Dat ons juis toegelaat word om ons eie keuses te maak, ons eie foute te kan agterkom en dan dit te face wat na ons kant toe kom, maar dat ons, ten spyte van watter dom ding ons ookal aangevang het, deur Jesus se genade nog ‘n kans kry nie? En dat ons mekaar in die proses kan ondersteun nie?”

Wihan vee moegerig met sy hande oor sy gesig.

“Ek hoop so. Ek hoop genuine so.”

*****

Leon lê in die donker en staar na die dak. Die afgelope paar dae se gebeure rondom Marli en haar pa en die ongeluk het sy voete ‘n bietjie meer onder hom uitgeslaan as wat hy gedink het. Hoewel hulle nog nie amptelik saam is nie, het hulle in ‘n baie kort tydjie baie close geraak.

Hy wonder hoe hy sou opgetree het as hy in daardie posisie was? Toe hy daar saam met Juan op die grond gesit het, kon hy die ou se stukkendheid aanvoel. Om nie vir jou pa te kon groet voor hy dood is, en veral só dood is nie, moet ongelooflik sleg wees. Dit het hom aan sy ma laat dink. Waar is sy? Hy weet nie. Sy het net…gewaai. Wat aan die een kant half dieselfde ding is. Gelukkig het hy nog sy pa, so knorrig soos wat hy ookal is! Leon het hom, nadat hy van die hospitaal af teruggekom het, vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n druk gaan gee en vir hom gesê dat hy lief vir hom is. Uit die bloute het Fanie Steyn, sonder om ongemaklik te raak, dit vir hom teruggesê! In daardie opsig, weet Leon, is hy eintlik baie gelukkig. Sy pa was nooit die een wat hom gedryf het om te presteer nie – dit het hy uit sy eie uit gedoen.

Die volgende dag se game kom by hom op. Hoe gaan ek soos gewoonlik alles kan gee? Hoe gaan ek vir Juan kan tackle? Leon spring op. Hy kan nie in die wedstryd speel nie. Hy gaan nou na Juan toe gaan en dit vir hom sê en môre sal hy vir die coach laat weet.

Leon pluk sy Rugby-sweetpaktop aan en sluip by die huis uit. Die nag is al koud, maar hy draf homself warm na Juan-hulle se huis toe.

Hoewel hy ‘n oomblik huiwer, lui Leon tog die voordeurklokkie. Hy kan sien dat Juan se kamerlig nog brand en na ‘n paar dowwe voetslae gaan die deur oop.

“Leon? Hey, ou, wil jy inkom?” nooi Juan hom moeg in, maar Leon keer.

“Ek het net kom sê ek gaan nie in môre se game speel nie. Ek…ou…ek gaan net te sleg voel as ek jou moet tackle en…”

Juan val hom met ‘n handgebaar in die rede.

“Moet nou nie jouself simpel hou nie, Leon. Ek weet mos hoe dit is, man! Flip, ou, as jy nie môre alles gaan gee wanneer jy teen ons speel nie, kom skop ek persoonlik jou gat. Dis nou as ek speel. Ek hoor by Wihan en Rufus ek is gedrop vir môre se game. Venter het my nie eens self gesê nie. Maar sy moer. Ek wíl môre speel en ek gáán môre speel, selfs al moet ek die ou in my plek met ‘n bloedbesering van die veld af kry.”

Leon staar hom sprakeloos aan.

“Jy’t klaar besluit, nè?”

“Jip. So, doen my ‘n guns en probéér my môre tackle!”

Leon slaan sy arms om Juan sy lyf en druk hom teen hom vas.

“Ou, ek weet nie waar jy die krag vandaan kry nie. Maar ek is daar vir jou wanneer jou batterye pap raak, oraait?”

Juan glimlag moeg.

“Ek weet, tjomma.”

*****

Nadat Leon daar weg is, sleepvoet Juan kombuis toe om vir homself ‘n glas warm melk te gaan maak. Alles was nog net crazy van vroeër die aand af. Toe hulle uiteindelik by sy pa weg is, was daar nog net die heeltyd mense rondom hulle. Hy het nog nie kans gekry om regtig te dink oor dit wat gebeur het nie, hy moes nog net sterk bly. Sy ma was nie veel werd nie en Marli het vroeg al na haar kamer toe verdwyn. Hy kon in die hospitaal al sien sy gaan vinnig ‘n duck maak.

Juan teug aan die warm melk. Hyself het eers ‘n ander draai gaan loop voordat hulle by die hospitaal weg is. Dis half asof sy voete hom outomaties na Rozaan se kamer toe geneem het. Sy het regopper in die bed gesit toe hy daar aankom.

“Hy’s dood,” is al wat hy kon uitkry nadat hy op die houtbankie by haar bed gaan sit het.

“Ek is jammer om dit te hoor,” het Rozaan gesê en dit werklik bedoel. Juan het haar hand gevat en sy het dit nie teruggetrek nie.

“Ek gaan weg, Juan,” het dit ná ‘n rukkie amper soos ‘n fluistering uitgekom. “Ek gaan by my tannie-hulle in Bloemfontein bly. My pa-hulle wil hê ek moet wegkom van alles hierso af en ek stem saam. Hulle praat in anyway al ‘n ruk lank van trek en oor ‘n paar maande sal hulle ook soontoe kom.”

“Wanneer gaan jy?”

“Môre al.”

“So gou?”

“Ja. Dis nogal snaaks, maar dis half cool want hulle kom my met ‘n helikopter haal van Bloemfontein af.”

Juan het saggies op sy lip gebyt.

“Gaan jy fine wees?”

“Ek dink so, Juan. Ek wil my lewe hierdie keer van die begin af reg lewe en ek gaan dit nie in Bergkruin regkry nie. En, Juan…ek gaan nie kontak hou nie. Ek gaan ‘n ander selfoonnommer kry en ek gaan jou naam erase…”

“Maar hoekom?” het hy haar in die rede geval, maar sy het hom stil gemaak.

“Want dis beter so. Ek weet ons het nie net slegte tye gehad nie en ek wil jou graag onthou soos wat jy vanaand hier gaan uitstap. Dis nie dat ek vir jou kwaad is of jou wil afskryf nie, dis net…jy is deel van die hoofstuk wat ek môre oggend hier afsluit. Probeer verstaan?”

Juan het sy nat oë stil-stil met sy hande afgevee.

“Die plek gaan suck sonder jou, weet jy dit? Maar as dit is wat jy moet doen, is dit goed so. En wie weet, miskien loop ons mekaar eendag tog weer raak.”

“Ek twyfel,” het sy saggies gespot en met haar oë na haar bene beduie. Juan het ook saggies gelag en opgestaan.

“Totsiens, Rozaan. Ek hoop..ek bid regtig net die beste vir jou op die pad vorentoe.”

Sy het vir oulaas sy hand gedruk.

“Totsiens, Juan van Vrede. Mag jy die man word wat jou van sê jy is.”

*****

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a comment