Rugbyskoolstorie/Heroes Vat Die Punch – deel 9

Juan verkyk hom aan al die liggies.

“Kyk, Pappa, kyk! Kyk hoe blink hulle!”

Martin van Vrede en sy gesin stap in die besige straat en geniet al die feestelikhede wat om hulle aangaan. Die Mardi Gras in Margate lok altyd baie mense en hulle het besluit om een aand tydens hul jaarlikse seevakansie in Desember ‘n bietjie van die karavaanpark af weg te kom en net daar te kom rondstap.

Marli lag en dans opgewonde toe iemand seepbelle om haar blaas.

“Mamma, ek soek ook!” smeek sy en pluk aan haar ma se hand. Zelda lag en stop by die volgende kraampie. Sy betaal vir die botteltjie seepbelle en gee dit vir Marli aan, wat onmiddellik in haar eie seepbel-wêreld verdwyn.

“Boeta, wat wil jy hê?” vra Martin en tel vir Juan op sy nek sodat hy beter kan sien. Juan se handjie wys met sy vingertjie soekend oor alles en stop dan by ‘n klein Springbok rugbyballetjie.

“Ek soek dit, asseblief, Pappa,” vra hy saggies in sy pa se oor. Martin glimlag breed, haal sy beursie uit en koop vir sy 5-jarige seuntjie die klein rugbyballetjie.

“Dè,” sê hy en gee dit vir Juan, wat die balletjie met blink ogies by hom vat. “Nou kan ons lekker speel. Jy hou mos van rugby, nè?”

“Ja, Pappa. Eendag gaan ek ook vir die Springbokke speel!”

Martin en Zelda lag saam en hy sit sy hand om sy vrou se lyf.

“Lyk my ons gaan ‘n Springbok grootmaak,” sê sy terwyl Marli al dansende rondom hulle seepbelle blaas.

By ‘n volgende stalletjie kry Zelda vir hulle elkeen ‘n sakkie spookasem. Juan vat ‘n groene en Marli ‘n gele. Hand om die lyf stap Martin van Vrede en sy gesin in die straat af. Daar volg binnekort ‘n vuurwerkvertoning op die strand.

Juan se ogies dwaal terug na die liggies in die straat. Hier op sy pa se nek voel hy so gelukkig, so veilig. Almal is lief vir mekaar, alles is lekker en die liggies is so mooi!

Rooi, geel, groen, rooi, geel, groen…

*****

Rooi, geel, groen, rooi, geel, groen…

Juan verkyk hom aan die liggies wat op die masjiene rondom sy pa se bed flikker. Die masjiene biep-biep-biep en hy verstaan nie die helfte van wat daar aangaan nie. Al wat hy weet is dat dit sy pa aan die lewe hou. Solank hulle nog biep, is daar nog ‘n kans dat sy pa gaan wakker word, weer gaan regkom.

Dit het alles so skielik gebeur en Juan se binneste is heeltemal deurmekaar. Moet ek sleg voel? Moet ek hartseer wees? Moet ek kwaad wees dat my pa so baie gesuip het dat hy in ‘n beestrok vasgejaag het en waarskynlik semi-verantwoordelik is vir die dood van twee kinders en Rozaan se bene?

Sy kop draai en Juan gaan sit op die houtbankie langs sy pa se bed. Dis snaaks hoe ‘n mens baie keer wonder of dit nie beter sal wees as jou pa dood is nie. Dan sal hy nie jou heeltyd kan afkraak of slegsê nie; jou ma sal nie die heeltyd huil nie; jou sussie sal nie elke dag net die trappe opsluip na haar kamer toe en die hele middag daar bly nie; jou vriende sal nie te bang wees om jou huis te besoek in die vrees dat jou pa hulle sal verskree nie…

Maar tog – as sy pa sou doodgaan, is hy dood. Dóód. Dan is daar nie eens meer ‘n kans om ‘n beter verhouding te probeer bou nie. Hy en sy pa het nog nooit oor dinge gesels wat saak maak nie, nog nooit ‘n man-tot-man gesprek gehad soos wat hy so graag sou wou hê nie. Sy pa was nog altyd te besig by Martin Motors en wanneer hy in die aande by die huis gekom het, het hulle dikwels iets by die skool aangehad, sodat hulle mekaar in elk geval gemis het. En die laaste tyd…Juan wil nie eens aan die afgelope paar weke dink nie.

Ek wens ek kon nog net één kans kry om dinge te probeer regmaak. Hy lyk so…weerloos, so eensaam. ‘n Mens moenie eensaam doodgaan nie.

“Asseblief, Here Jesus. Net nog een kans, asseblief. Ek wil so graag net vir hom sê…”

Biep-biep-biep.

Rooi, geel, groen…rooi, geel, groen…

*****

Wihan, Sibu en Rufus lê op hul beddens in die koshuis. Hulle volgende wedstryd is teen Kuswag, wat besluit het om nie aan die Rugbyweek te onttrek nie, ten spyte van die moeilike tyd waardeur hulle as span gaan.

“Hoe voel julle oor môre se game?” vra Sibu.

“Ek’s orraait,” antwoord Rufus. “Hulle is nie groter as ons nie en hulle moet ‘n replacement speel in die outjie wat dood is se plek.”

“Flip, dit is so screwed up,” kom dit van Wihan. “Ons gaan môre kapitaliseer op daai ouens se misery. Dis kind-of siek.”

“Dit help nie ons dink so daaraan nie, Wihan,” sê Rufus en draai op sy sy. “Ons moenie laat emosies en sulke goed in ons pad kom nie…”

“Geez, that’s harsh!” val Sibu hom in die rede, maar Rufus beduie met sy hand vir hom om stil te bly.

“Man, wag dat ek klaar praat! Ons moenie dat dit in ons pad kom terwyl ons die wedstryd speel nie. Dis mos nie asof ons nou conveniently vergeet het dat hulle deur ‘n heavy tyd gaan nie. Hel, ons het ook nie juis ‘n piekniek nie. Een van die girls in ons skool is ook oorlede, ons een speler se pa se lewe hang aan ‘n draadjie…ons word óók geraak. Ons het ons eie emosies om mee te deal.”

Wihan besef dat Rufus reg is.

“Ek hoor jou. Maar ek is net bevrees hulle gaan dit nie so insien nie. Dit kan in ‘n baie fisiese game ontaard, en met fisies bedoel ek ons gaan mekaar waarskynlik op die ou end goed moer.”

“Dis nie te sê nie, boerseun,” sê Sibu.

“O ja? Vir daai ouens is dit asof óns hulle buitesenter vermoor het. Dink jy nie hulle gaan revenge wil hê nie?”

*****

Wihan was reg. Toe Kuswag die volgende middag 17:00 op die veld draf vir die wedstryd teen Bergkruin, is daar haat in hulle oë. Van die afskop af is dit duidelik dat hulle nie omgee of hulle die wedstryd wen of nie, solank Bergkruin in die proses ernstig beseer word. Maar hulle speel skelm en vuil: sodra die skeidsregter nie kyk nie, word daar met mening getrap en gebyt. Rufus kry in een losgemaal ‘n harde elmboog in die oog sodat hy net sterretjies sien.

Ná ongeveer twintig minute se spel kry Bergkruin uteindelik ‘n strafskop en Wihan kan 3 punte vir hulle op die telbord sit. Moeg draf hy terug om sy posisie voor die afskop in te neem. Die vuil spel is besig om die manne onder te kry. Hy het lanklaas in sy lewe ‘n wedstryd gespeel waar die ander span se optrede so erg deur emosie aangevoer is. En dis asof die skeidsregter nie die gebyt en gekrap en geslaan raaksien nie!

Kort voor rustyd kry Kuswag ‘n skrum binne Bergkruin se kwartgebied. Hulle skrumskakel se ingooi is nie so suiwer soos hy dit wou gehad het nie en Jonathan kry die bal gehaak. Bergkruin se skrum begin vorentoe stoot, sodat die bal gekanaliseer word tot by Juan. Hy kry die bal, mik vir die kantlyn naaste aan hom en skop die bal dan ver uit. Maar net nadat hy die bal geskop het, word hy met ‘n stywe arm laat geloop en hy slaan agteroor. Die skeidsregter skitter in sy afwesigheid.

“Moordenaarskind,” hoor Juan hoe ‘n Kuswag-speler hom toesnou en hy sien hoe die ou in sy rigting spoeg. Juan se hart begin wild te klop. Nou het daardie man vir moeilikheid gesoek…

Genadiglik blaas die fluitjie vir halftyd en die ouens strompel moeg van die veld af.

*****

Bergkruin se spelers sit kop onderstebo in die kleedkamer.

“Gee my gou ‘n slukkie,” vra Rufus vir Juan, wat water in sy mond en oor sy kop spuit. Juan gee die bottel vir sy vriend aan.

“Hoe voel jou nek?” vra Wihan vir Juan toe hy langs hom kom sit. Juan draai sy nek stadig heen en weer.

“Hy’s orraait. Ek sal kan speel.”

Jonathan kom ingestap en hy lyk self nie te waffers nie.

“Manne, staan gou nader,” gebied hy. Die spelers staan so vinnig as wat hulle lywe dit toelaat nader en vorm ‘n kringetjie. Jonathan lyk omgekrap en ietwat teleurgesteld.

“Ek het nou net met die ref gepraat,” begin hy. “Die ref sê dat hy niks sien wat Kuswag verkeerd doen nie en dat as ons nie ‘n harde game kan vat nie, kan hy niks daaraan doen nie.”

“That’s bullshit!” roep Sibu hard uit.

“I know, Sibu, but calm down. Ouens, as ons hierdie game wil wen sonder om iemand te verloor, gaan ons baie vaster as ‘n span moet saam speel. Ons gaan na mekaar moet kyk. Ons kan nie toelaat dat hulle ons ouens uithaal omdat hulle met ‘n spul aggressie sit nie. Dis nie ons skuld wat Maandagaand gebeur het nie. Juan, jy is nie ‘n moordenaarskind nie, hoor jy my? Jy is ‘n hero, ‘n freakin’ hero. Nie een van ons kan verantwoordelikheid vat vir ander ouens se keuses nie. Wat ons kan doen, is om hier, nou, vir mekaar verantwoordelikheid te vat. Gaan ons dit doen?”

“YES!” kom dit soos een man van die spelers af.

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“YES!”

Hulle draf terug op die veld en daar is nuwe energie tussen die Bergkruinspelers te bespeur. Juan se hart het skoon warm geword in die kleedkamer. Jonathan, hul kaptein en een van sy eie rolmodelle, het vir hom gesê hy is ‘n hero, ‘‘n freakin’ hero!’ en dit was lekker om dit te hoor! Hy het nie eens geweet Jonathan het die ‘moordenaarskind’-opmerking gehoor nie, maar hy het dit teen die wortel afgebreek. Ek is ‘n hero, ek is ‘n hero, ek is ‘n hero…ek is nie ‘n moordenaarskind nie. Ek is Jesus se kind. Ek is ‘n hero…

Wihan skop af, ‘n hoë hangskop. Rufus is eerste onder die bal en spring om dit te vang. Jonathan, wat kort op sy hakke is, keer dat Kuswag se een slot hom nie uit die lug uit loop nie. Rufus land veilig en is soos blits toe sy voete die grond raak. Met sy breë skouers skouer hy sy opponente uit die pad uit. Hulle klou aan sy enkels en probeer hom vasvat, maar Rufus het die doellyn geruik en nou baklei hy soos ‘n honger haai. Niks gaan hom keer om hierdie drie te druk nie! Omtrent drie ouens is op hom saamgepak, maar hy dryf voort. Jonathan en die ander voorspelers is by hom vir ondersteuning. Met byna bomenslike krag beur Rufus voort tot by die doellyn en val dan oor vir ‘n welverdiende drie. Die skare is op hul voete.

Dit wil tog voorkom asof Kuswag se aggressie en intensiteit ietwat afgeneem het, maar Wihan vertrou nie die vrede nie. Hy wag net vir die oomblik dat hulle weer ‘n vuil haas uit die hoed uit trek.

Tien minute later word sy vermoedens bevestig toe Jonathan in ‘n losskrum só erg in die gesig getrap word dat hy die veld moet verlaat. Bloed sypel uit slote bokant sy linkerwangbeen en -oogbank en hy lyk omtrent asof hy van ‘n slagveld af kom.

Dit beteken dat Wihan die kapteinskap moet oorneem.

Met die telbord wat op 10-0 staan en 15 minute se speeltyd wat oorbly, voel hy dat hy dit kan hanteer. Met die Here aan my kant loop ek ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur, skiet dit skielik deur sy gedagtes en hy glimlag. Selfs hierdie bende sal hy stormloop sonder om bang te wees. Hy moet net sy span deur die volgende kwartier lei. Dis al wat hy moet doen.

*****

Wihan se hoop dat die wedstryd sonder enige verdere voorvalle sou klaar kom word skaars vyf minute later gekelder toe daar ‘n losgemaal op Kuswag se 10m stippellyn ontstaan. Bergkruin het die bal gehad toe hulle ingegaan het, maar die bal kom nie uit nie.

“Bring hom, boys!” skree Juan van sy skrumskakel-posisie af. Steeds kom die bal nie uit nie. Skielik sien hy die bal en Juan begin om die bal met sy voet uit te krap. Hy kry die rugbybal uit en tel dit op om ‘n grubber langs die regterkantste kantlyn af te skop. Net toe hy wil skop, kom Kuswag se skrumskakel en stamp hom bo van sy voete af. Dis dieselfde ou wat hom vroeër as ‘n moordenaarskind uitgeskel het.

Juan staan vinnig op en haal sy opponent in.

“Wat is jou probleem, hè?” vra Juan hom terwyl hy die skrumskakel aan die skouer gryp. Onverwags swaai die skrummie om en tref Juan reg op sy linkeroog met ‘n voltreffer. Juan sien rooi, en dis nie net bloed nie. Hy storm vorentoe, duik die skrumskakel plat en gaan sit bo-op hom en begin hom met sy vuiste toe te takel.

Voor jy kan sê mes, heers daar totale anargie. Toe die Kuswag-spelers sien dat hul skrumskakel onder Juan se vuiste deurloop, storm hulle verwoed nader. Bergkruin se manne is ook nie links nie en kort voor lank is dit net arms, bene en bloed waar jy kyk.

Wihan besef dat hy iets sal moet doen, anders gaan hulle baie swaar gestraf word.

“Bergies! Staan terug!” skree hy, maar dit het nie regtig ‘n effek nie. Hy kyk verward rond. Wat moet hy doen? Hy wil nie hê hulle moet in die geveg betrokke raak nie, maar hulle kan seker ook nie niks doen nie. Flip, ek moet dit stop, dink hy. Maar hoe?

Die volgende oomblik kom Rufus verby hom gehardloop en begin Bergkruin-spelers aan hul truie uit die geveg uit pluk.

“Staan terug! Staan terug, ouens!” skree Rufus terwyl hy dit doen. Wihan val in en help hom, terwyl die skeidsregter se fluitjie vervaard voortblaas. Uiteindelik kry hulle die geveg gestop. Juan se gesig lyk sleg. Hy en Kuswag se skrumskakel was heel onder in die hopie en hy kan dit voel.

“Wil jy ‘n geel kaart hê, Juan?” skree Rufus op hom terwyl hy terug staan. Hy sê eerder niks terug nie. Shit, hy moes nie so beheer verloor het nie! Maar aan die ander kant…hy voel half ligter, so asof hy ontslae kon raak van alles wat op hierdie stadium binne in hom soos ‘n rollercoaster aan die spin is. Dit is seker nie die konstruktiefste manier nie, maar dit het nou klaar gebeur. Hy is net só gatvol vir alles, so gatvol om te voel soos wat hy voel.

Hy sug toe die skeidsregter hom en Kuswag se skrumskakel naderroep. Hulle word albei afgestuur met geel kaarte. Juan loop nie eens na die pale toe nie, maar stap sommer direk af en bars verby die toeskouers langs die kant van die veld deur na hul kleedkamers toe.

Uiteindelik gaan die sirene af en die skeidsregter blaas die eindfluitjie. Dankie tog! dink Wihan. Dit het hier na die einde se kant toe gevoel asof die wedstryd nooit gaan ophou nie.

Bergkruin vorm ‘n ry en stap nader na die Kuswag-spelers om dankie te sê, maar hulle draai hul rûe op die Bergkruin-manne en stap weg na die oorkantste hoek van die veld toe.

“Kom ons maak kringetjie, manne,” sê Wihan en die ouens haak by mekaar in. Hulle sak op hul knieë neer en sluit hul oë. Wihan sê dankie vir die wedstryd en vir die oorwinning wat behaal is. Hy dra verder die Kuswag-span aan die Here op en bid dat hulle getroos sal word. Hy bid ook dat hul eie span genade sal beleef.

“Ons is jammer dat ons vanaand beheer verloor het, Here, en dat ons nie U daardeur verheerlik het nie. Gaan asseblief met almal wat vanaand beseer is en dié wat in die hospitaal is, asseblief, Here, sodat hulle U hand en troos sal ervaar. Ek bid dit in U Naam. Amen.”

*****

Nadat almal uit die kleedkamer weg is, bly Mnr Venter en Jonathan alleen by Juan agter. Jonathan het vir Mnr Venter verduidelik wat op die veld gebeur het en hom vertel hoe die Kuswag-speler vir Juan uitgeskel het.

Juan sit kop onderstebo, met Mnr Venter aan sy linkerkant en sy kaptein regs van hom.

“Juan, ek wil nie hê jy moet verplig voel om te speel nie. Ek en die hele span sal honderd persent verstaan as jy eerder hospitaal toe wil gaan en by jou pa wil wees,” sê Mnr Venter en sit sy een hand op Juan se skouer. Juan skud sy kop.

“Nee, meneer. Ek wil nie daar wees nie. Ek wil hier by die span wees. Ek kan hulle nie in die steek laat nie. Nie nou nie.”

Jonathan sit ook sy hand op Juan se skouer.

“Ons sal regkom, Juan. Dis nie dat ons jou nie hier wil hê nie…”

“Ek wíl hier wees.”

Bo-oor sy kop kyk Mnr. Venter en Jonathan woordeloos na mekaar.

“Nou maar goed,” sê Venter. “Jy is welkom om my te laat weet as jy van plan verander. Maar ons kan nie bekostig dat iets soos vanaand weer gebeur nie. ‘n Opponent se gesig is nie die plek om jou frustrasies uit te haal nie. Ons doen dit deur hulle hard te tackle en gate deur hulle te hardloop, hulle uit te haal daar waar dit saak maak. Jonno, ek los jou nog so ‘n bietjie by hom.”

“Reg, meneer,” sê Jonathan en hul afrigter stap uit.

Juan vee oor sy neus, wat nou vol gekoekte droë bloed is en snuif hard. Jonathan trek ‘n waterbottel nader en hou dit na Juan toe uit.

“Onthou jy wat het ek vir jou halftyd gesê, Juan?” vra Jonathan na ‘n rukkie. Juan knik. “Nou hoekom het jy dit so gou vergeet?”

Juan trek net sy skouers op. Jonathan kan sien dat hy nie baie spraaksaam gaan wees nie, maar hy praat nogtans voort.

“Heroes maak nie so nie, Juan. Regte heroes, wenners, is die ouens wat die punch vat. Ek sê nie almal moet oor jou loop nie, glad nie, maar heroes verloor nie beheer oor hulself omdat die een of ander random poepol iets oor jou wil kwytraak wat doodgewoon nie die waarheid is nie. Dis iets wat my broer my geleer het. Jy vat verantwoordelikheid vir jou eie optrede. As ander ouens hulleself soos kinders wil gedra, is dit hulle saak.”

Juan kyk vraend op.

“Wie was jou broer?” vra hy. Om die een of ander rede ken hy glad nie Jonathan se broers of susters nie. Hy het nie eens geweet hy het broers of susters nie!

“Onthou jy so ‘n paar jaar gelede was daar een van die Eerstespan-ouens wat net so na Rugbyweek gequit het en toe het almal so heavy oor hom begin skinder? Gesê hy is gay, dat hy eintlik net rugby gespeel het om aan ouens te vat, sulke stront?”

Juan knik, en besef toe skielik wat Jonathan hom wil vertel.

“Was dit…jou broer?”

Jonathan knik.

“Ja, dit was my ouer broer. Ons verskil so ses jaar. Hy het nie gequit omdat hy gay was of iets nie. Hy het gequit omdat hy homself nie op daardie stadium met die ouens kon assosieer nie. Dit was nie soos nou, wat ons so baie bid tydens oefeninge en sulke goed, nie. Dit was baie rowwer tye en hy het net gevoel sy geestelike lewe gaan te veel skade ly.”

“Flippit,” sê Juan.

“Jip. Hy het my geleer dat jy verantwoordelikheid vir jou eie keuses vat, maak nie saak wat ander mense vir jou of van jou sê of aan jou doen nie. Op die ou end is dit jy wat besluit: gaan ek die punch kan vat, of gaan ek knak onder die pressure en maar met die res van die stroom conform.”

“En hy het gekies om die punch te vat,” sê Juan, half vir homself.

“Presies. Dís wat heroes doen. Hy het geweet hy gaan dit vir homself vrek moeilik maak, maar hy het gesê dit pla hom nie want hy weet wat die waarheid is. As ‘n mens die waarheid aan jou kant het, Juan, kan niemand jou vrede van jou af wegvat nie. Jy kan dan net kies of jy mense wil toelaat om dit van jou af weg te vat.”

Jonathan bly ‘n oomblik stil.

“My broer is einde laas jaar in Amerika in ‘n motorongeluk dood. Ek kon hom nie eens groet nie, maar ek het vrede in my hart. My broer het my iets geleer wat ek nogal bly is ek aan iemand anders kan oordra.”

Juan glimlag vir sy kaptein.

“Thanks, Jonno. G’n wonder jy was nog altyd kaptein van alles nie,” sê hy. Jonathan glimlag verleë, staan dan op en trek vir Juan aan sy hand op.

“Kom, laat ons koshuis toe gaan. My maag dink al my keel het toegegroei.”

*****

Later daardie aand kry Juan vir Rufus waar hy besig is om vir hom koffie by ‘n urn in te gooi. Jonathan het die res van die span bymekaar geroep en vir hulle ingelig dat Juan by hulle bly, dat hy en Venter met hom gepraat het en dat dit nie enigeen van die ander se besigheid is nie.

“Hey, tjom. Wil jy ook koffie hê?” vra Rufus.

“Thanks, dit sal lekker wees,” antwoord Juan hom en hou sy beker nader. Hulle loop met hul bekers stomende koffie en gaan sit buitekant by een van die sementtafeltjies.

“Hoe gaan dit in die hospitaal?” vra Rufus. Juan blaas op sy warm koffie en proe dan versigtig daaraan.

“Dit gaan maar nog dieselfde met my pa. Ek was gisteraand laat daar, en ek kon dit net nie meer face nie. Flip, hy lyk so…nié soos my pa nie, jy weet? Al daai pype en goed freak my verskriklik uit.”

Hy proe-proe weer aan sy koffie.

“Was jy al by Rozaan?” wil Rufus weet.

“Mmm, net vinnig. Sy wou niks weet nie. Toe los ek dit maar.”

“Sal dit okay wees met jou as ek haar dalk môre gaan besoek?” vra Rufus versigtig. Juan knik, maar frons.

“Hoekom vra jy my toestemming?”

Rufus trek sy skouers op.

“Ag, dis net…die hele ding met Rozaan en ons was maar nog altyd ‘n bietjie awkward. Ek wil nou nie laat dit weer ons vriendskap spoil nie. Jy kan saam kom as jy wil?”

Juan glimlag effens en skud dan sy kop liggies.

“Nee, wat, thanks, sy wil my nie sien nie. Jy’s welkom om by haar ‘n draai te gaan maak, ou. Ek en sy is mos in anyway history, so dit maak nie saak nie. Buitendien, ek skuld jou nog oor jy haar nie gescore het op Jacques se party nie.”

Rufus snork en lag.

“Ja, wel,” sê hy en sluk stadig aan sy koffie. “Dankie dat jy nie pyne het nie. Dit wat op die party gebeur het, is juis die rede hoekom ek haar wil gaan besoek.”

*****

Rufus kry vir Leon in die hospitaal se ingangsportaal.

“Hey, Leon, hoe lyk dinge?” groet hy hom.

“Yes tjom! Nee, nie te bad nie, onder omstandighede,” groet Leon terug.

“Hoe het julle game vanaand gegaan? Teen wie’t julle nou weer gespeel?”

“Aliwal-Noord, dit was oraait, maar ons het nie ‘n bonuspunt gekry nie. Daar was darem nie sulke fights soos met julle game nie!”

Rufus grinnik.

“Jy kan bly wees. Ek het gedog daai ouens gaan mekaar doodmaak.”

Hy besef skielik dat dit nie noodwendig die beste manier was om die geveg te beskryf nie.

“Ek bedoel…”

Leon begin lag, eers saggies maar dan al hoe harder, sodat hulle naderhand buite moet gaan staan. Rufus bloos bloedrooi. Uiteindelik kry Leon sy ligte histerie onder beheer.

“Talk about a Freudian slip! Aag, Rufus, ons is almal so opgewen, so iets het gewag om te gebeur. Toemaar, dis gelukkig nie my pa wat daar binnekant lê nie.”

“Of jou eks-girl nie.”

Leon se oë rek effens.

“Hoe klink dit my jy is nie hier vir Juan-hulle nie?”

“Ek is nie. Ek…het by Rozaan kom kuier. En moenie worry nie, ek het vir Juan toestemming gevra. Hy sê sy wou niks van hom weet nie en ek het gedog maybe, na die hele party-episode en alles…ons het darem nog die heeltyd goed oor die weg gekom. Voor daai belaglike uitmaaksessie in elk geval.”

“Okay, as jy so sê. But it’s your funeral,” sê Leon. Hy slaan oombliklik sy hand oor sy mond.

“Jy kan bly wees ons staan buite,” merk Rufus droog op en hulle stap terug binne toe.

Leon stap aan na waar Marli buitekant haar pa se saal wag en Rufus gaan ‘n vloer op na die privaatkamer waar Rozaan lê.

Hy klop aan die half-oop deur. Rozaan lê op haar sy met haar rug na die deur en draai om. Haar gesig spreek boekdele.

“Kan ek inkom?” vra Rufus. Sy maak ‘n gebaar met haar hand.

“Sure.”

Rufus stap versigtig in, maar gaan sit nie langs haar bed nie.

“Wat wil jy hê?” vra Rozaan kort-af, maar moeg. Sy het nie goed geslaap nie en is in elk geval die grootste gedeelte van die dag bedwelm deur pynstillers.

“Rozaan…ek het net kom sê ek is jammer,” kry Rufus dit uiteindelik uit. Rozaan wil begin praat, maar hy maak haar stil. “Ek praat nie van die ongeluk nie. Ek bedoel, ek is jammer daaroor ook, maar ek wil eintlik kom jammer sê oor die aand by Jacques se party.”

Rozaan het dit nie verwag nie.

“Ek verstaan nie?”

“Ek is jammer dat ek jou omgepraat het om reguit vir Juan te sê hoe jy voel. Dalk sou jy dan die hele uitmaak anders benader het. Dalk sou dit beter gewees het as jy hom maar net verneuk het en klaar. Want toe begin jy om sy neus in dit te vryf en dit vir jouself ook nog slegter te maak. Ja, goed, ons ouens het vir mekaar geestelike broers geword, maar jy het net agteruit gegaan en met Corna-hulle se spul begin rondhang. Miskien as dit nooit gebeur het nie, sou jy nie met daai Kuswag-ou geflirt het nie en dan sou julle nie Laughing Hyena toe gegaan het nie…”

“Stop! Stop! Stop!” huil Rozaan. “Dis nie jou skuld nie, Rufus! Dis nie jy wat moet jammer sê nie! Ek het my eie keuses gemaak, niemand het my gedwing nie. Ek het self in Jacques se kar geklim, ek het geweet hoe dronk hulle is. Ek wóú met Juan uitmaak, onthou jy? Ek wóú vry wees…maar ek was nooit vry nie. Ek het ‘n klomp goed gedoen wat ek gedink het vir my vryheid sou beteken, maar dit het my net in die een slaggat na die ander gelei. Weet jy wie van die skoolkinders het al vir my kom kuier vandat ek hier lê? Juan en jy. My beste vriendin is dood en sy word op ‘n ander dorp veras en ek kan dit nie bywoon nie…en nie één van my sogenaamde vriende het nog kom kyk hoe dit met my gaan nie! En Juan…mens kan dit ook nie juis ‘n kuier noem nie.”

“Hy is ook jammer, weet jy.”

“Jammer oor wat?”

“Dat julle nie kon gesels nie, of eerder dat jy nie met hom wou praat nie.”

Rozaan bly stil. Wat is Rufus se case? Wil hy nou hê hulle moet opmaak of wat?

“Ek wil net laastens sê ek is jammer dat jy en Juan nie meer pêlle is nie. Hy wil graag hê dat julle darem nog vriende moet wees, weet jy.”

Steeds sê Rozaan niks.

“Ek…gaan nou terug koshuis toe. Juan het vanaand ‘n ou op die rugbyveld gebliksem omdat die ou hom ‘n moordenaarskind genoem het. Ek wil nog gaan kyk of hy oraait is. Ek sal weer ‘n draai kom maak,” sê Rufus en begin dan uitstap.

“Rufus…” roep Rozaan saggies net toe hy om die kosyn verdwyn. Hy steek sy kop weer by die deur in.

“Yes?”

“Sê vir Juan…dit sal lekker wees om hom weer te sien.”

Rufus glimlag sy warm glimlag vir haar, en onwillekeurig dink Rozaan terug aan die heel eerste dag by die skool toe hulle mekaar ontmoet het.

“Ek maak so.”

Toe hy weg is, haal Rozaan diep asem.

Mooi so, hoor sy vir Stemmetjie. Nou kan ons uiteindelik begin om die pad van gesondword te stap.

*****

Martin van Vrede weet dat hy besig is om te loop, maar hy weet glad nie waar hy is nie. Hy kan niks om hom sien of voel nie – net die swaar, donker newels wat soos ‘n warm mistigheid oor hom spoel. Dit voel asof iets hom vashou, amper soos toue of so iets, maar ook nie heeltemal nie. Hy weet net hy wil wegkom, loskom van al hierdie dinge wat hom terughou! Hy wil anders wees as wat hy is. Hy voel eensaam.

“Hallo!” roep hy uit, maar hy hoor nie eens eggo’s nie. Dis asof die klank hier reg langs hom afbreek. Waar ís hy? Hy wil huistoe gaan! Die verlange na sy vrou en kinders oorweldig hom skielik en hy weet hy huil, maar hy voel geen trane nie. Ek soek vir Zelda! Ek soek vir Juan en vir Marli! Ek wil vir hulle sê ek is jammer oor die afgelope paar maande. Ek is jammer dat ek so dronk was. Ek is jammer dat ek hulle geslaan het. Ek is jammer dat ek my eie drome deur hul lewens probeer leef het. Ek wil vir Juan sê ek is jammer dat ek hom ‘n stuk stront, ‘n patetiese flop genoem het. Ek kon net my eie mislukkings raaksien en het dit op hulle geprojekteer…Ek is jammer…Ek is jammer…Ek is jammer…

Skielik kom Martin agter dat dinge anders voel. Verbeel hy hom of is die newels skielik gryser?

*****

Jonathan se kar stop met ‘n harde remgeluid voor die hospitaal en Juan, Wihan en Rufus spring uit. Mnr. Venter het skaars vyf minute vantevore die nuus gekry dat Juan se pa besig is om wakker te word en na hom vra. Dit is al baie laat, ná 02:00 in die oggend, maar omdat dit die volgende dag die uitstappiedag van die week is, het Wihan en Rufus kans gesien om saam met Juan te kom.

“Wat gaan aan? Kan ons ingaan?” vra Juan sy ma wat hom met trane in haar oë omhels.

“Die dokters is heeltyd by, hy praat deurmekaar en…ag, Juan!” huil Zelda. Juan gee sy ma ‘n drukkie om haar skouers en stap dan saam sy twee vriende na sy pa se saal in die intensiewe sorg-eenheid.

“Ons wag hier,” sê Wihan toe hulle by die deur kom. Juan draai net om en glimlag ‘n bewerige glmlag vir hulle voordat hy ingaan.

Daar is nie minder pype of masjiene rondom sy pa se bed nie, maar vir Juan lyk sy pa skielik meer lewendig as wat hy hom in ‘n lang tyd gesien het.

“Pa…?”

Martin se oë helder op toe hy sy seun sien.

“Juan…”

Sy stem is krakerig en klink oud, ten spyte van die glinster in sy oë.

“Pa…ek…”

Verder as dit kom Juan nie. Sy stem raak weg en hy stop by die bed se voetenent. Die stryd binne-in hom woed soos ‘n stormsee. Hierdie is dieselfde man wat hom nog ‘n week gelede teen ‘n yskas gegooi het. Dis dieselfde persoon wat hom uitgeskel het vir ‘n patetiese stuk stront en gesê het dat God nie eens van hom hou nie…Nou lê hy hier, hulpeloos, pateties en…hoe móét hy voel? Wát moet hy voel?

“Pa…ek weet nie wat ek moet sê nie.”

Martin se oë gaan ‘n oomblik toe, maar dan maak hy dit weer stadig oop.

“As ek hier uitkom…gaan dinge anders wees,” kry hy dit moeisaam uit.

“Hoe?” vra Juan sag, maar dringend. “Hoe, Pa? Gaan Pa ophou drink? Gaan Pa ophou om ons te slaan? Gaan Pa my begin liefkry? Hoe gaan dinge anders wees?”

Martin se asemhaling kom swaarder en sy gesig raak strak.

“”n Mens sou dink…jy sou my…in hierdie toestand…’n kans gee…”

“Ek wil, Pa!” sê Juan en stap om die rand van die bed. “Dis net…ek weet nie hoe dinge beter gaan word nie. Pa kan dit nou belowe, maar as Pa eers weer gesond is en alles is fine…hoe weet ek dit gaan nie weer gebeur nie?”

Dit lyk asof Martin hom wil antwoord, maar skielik begin hy na sy asem snak en aaklige, hortende geluide kom uit sy borskas. Sy oë raak wyd oopgesper en Juan weet daar is groot moeilikheid.

“Help! Iemand, kry ‘n dokter!” skree Juan en druk die roepknoppie oor en oor. Binne sekondes kom dokters en verpleegsters nader gestorm. Juan staan vinnig terug. Die trane in sy oë kan hy met moeite beheer en hy stap haastig by die deur uit.

Buitekant kry hy vir Rufus en Wihan, wat duidelik kan sien dat dinge nie lekker is nie.

“Wat het gebeur?” vra Wihan. Juan sak op sy hurke en skud net sy kop heen en weer.

“Ek het alles opgefok.”

*****

Waar Leon by Marli staan, sien hy hoedat Juan, Wihan en Rufus in die gang afgestap kom.

“Ek gaan gou na hulle toe, okay?” sê hy vir haar en sy knik. Leon loop hulle tegemoet.

“Is alles okay?” vra hy en Rufus beduie vir hom dat dit beslis nie okay is nie.

“Ons gaan terug koshuis toe stap. Kom jy saam?” vra Wihan en dit is eintlik meer ‘n opdrag as wat dit ‘n versoek is. Leon verstaan en kry sy goed.

Marli bly alleen agter toe die seuns haastig wegstap. Sy is baie bekommerd oor haar pa en Juan. Nie een van die twee lyk vir haar exactly goed nie en sy ys om te dink…as haar pa nou sou doodgaan, sal Juan homself nooit vergewe nie.

*****

Toe hulle terug by die koshuis is, gaan klim Juan onmiddellik in die bed. Wihan, Rufus en Leon gaan sit buitekant.

“Wat het gebeur?” vra Leon. Rufus trek sy skouers op.

“Ons was nie saam in nie, maar toe Juan utkom het hy net gesê dat, wel, dat hy alles opgemors het. Kom ons sê maar net dit.”

“Sy taalgebruik was ‘n bietjie krasser,” sê Wihan. “Ek dink nie hy en sy pa gaan ooit eye to eye sien nie. Ek twyfel in die eerste plek of sy pa dit gaan maak en selfs al doen hy, wat is die kans dat dinge ooit weer tussen hulle kan regkom?”

“Was dit ooit reg?” vra Leon. “En wat is ‘reg’? Sit ons nie almal maar met ons pa’s vas nie?”

“Dis nie dieselfde nie,” sê Rufus.

“Nou hoe is dit dan?”

“Man…dis ingewikkeld.”

“Sy pa sal hulle net weer op ‘n stadium begin donder,” verduidelik Wihan. “Ek ken daai oom al lank en hy het baie mense vir ‘n lang tyd ‘n groot rat voor die oë gedraai. Hy is een van daardie blink, gladde tipe ouens wat ‘n moerse masker vir die buitewêreld voor hou met sy garage en sy golfstokke en sy blink kar en alles, maar binnekant is hy eintlik ‘n monster. Hulle verander nie. Dalk vir ‘n rukkie, maar dan is alles maar net weer soos dit voorheen was.”

Vir ‘n paar minute is daar stilte.

“Dit suck,” kom dit van Leon af. “Ek bedoel, ek het ook nie juis ‘n piekniek vir ‘n lewe nie, maar ten minste weet ek wat ek elke dag mee deal. Juan…dit verbaas my dat hy nog nie weggeloop het uit die huis nie.”

“Waarnatoe sal hy nou eintlik gaan?”

“Ek weet nie, tjomma! Ek sê maar net.”

Wihan sug.

“Maybe is dit beter as sy pa…flip, ek voel skoon skuldig om dit eens te dink.”

Rufus krap met ‘n klippie op die sementblad van die tafeltjie.

“Dalk ís dit beter. Ek hoop net Juan sal met homself kan vrede maak as dit sou gebeur.”

“Maar dis dan nie sy skuld nie.”

“Ek weet dit. Ek hoop net hy besef dit ook.”

*****

Die Vrydag van die week word daar nie ‘n rugbykliniek aangebied soos met die ander oggende nie en het die spanne af om te doen wat hulle wil. Party skole gaan besoek wildsplase, ander spandeer die dag by die dorp se damme en sommiges besoek die nabygeleë warmwaterbronne. Bergkruin se Eerstespan het vir Mnr. Venter gevra of hulle vanjaar eerder dam toe kan gaan, aangesien hulle elke jaar die bronne besoek en hy het ingestem.

Hoewel hy in ‘n tweestryd was daaroor, het Juan besluit om saam te gaan. Hy kan dit nie vat om by die hospitaal te wees nie en hy weet hy moet homself dwing om dit nie vir die span moeiliker te maak nie.

Toe hulle by die koshuis vertrek, roep hy vir Wihan, Rufus en Sibu nader.

“Ons gaan vandag geniet, oraait? Ons gaan ski en tube ry en braai en op Wihan-hulle se Jetski rondspeel. Ek wil nie die heeldag soos ‘n pity case behandel word nie, asseblief.” Die ander ouens stem in.

Dit word ‘n heerlike dag by Klipfonteindam. Daar word visgevang, geski, motorboot gery en Wihan-hulle se Jetski kry groot aftrek. Die ouens word twee-twee op binnebande agter die motorboot aangetrek en terselfdertyd as wat die boot hulle probeer afgooi, probeer hulle mekaar ook afgooi.

Wihan oortuig naderhand vir Rufus dat hy hom met die Jetski op ‘n tube moet trek. Rufus maak sy reddingsbaadjie nog ‘n bietjie stywer vas. Sibu, wat maar lugtig is vir die water, lyk bekommerd.

“Bru? Are you sure what you’re doing? Wihan is crazy vandag!”

Rufus pluk vir oulaas aan sy baadjie.

“Whoo-hoo! Kom, jou pissie!” hoor hulle vir Wihan skree.

“Sê vir my ma ek is lief vir haar,” sê Rufus grootoog en gaan lê op die tube in die water. Sibu en Juan staan geamuseerd aan die kant van die dam en kyk. Wihan pluk hom rond, jaag met hom oor die golfies sodat dit vir Rufus soos spoedhobbels voel en swaai hom in die rondte. Dit voel vir Rufus asof sy arms uit hulle potjies uit gaan skeur, maar hy klou soos ‘n neet. Hier word hy vandag nie afgegooi nie! Nie deur ‘n ou op ‘n Jetski nie!

Maar Wihan is netso ‘n bittereinder en hy maak die Jetski net groter oop. Naderhand lê Rufus nie eens meer op die tube nie, maar hy klou nog verbete aan die handvatsels vas. Einde ten laaste kan hy dit net nie meer vashou nie en hy laat los. Soos ‘n stuk vrot vel tol hy oor die water. Wihan ry nader en sleep hom dan stadig uit.

Sibu en Juan staan op die wal en hande klap.

“Nice! Well done, Rufus!” roep Sibu uit toe hulle naderkom. Juan se oë rek egter toe hy vir Rufus van naby sien. Hy is vol rooi kolle en merke wat binnekort blou gaan wees.

“Flip, ou, jy lyk soos ‘n mishandelde kind! Vra my, ek sal weet!”

Vir ‘n oomblik kyk die ouens ‘n bietjie ongemaklik na mekaar, maar begin dan te lag.

“Okay,” sê Rufus en maak sy reddingsbaadjie met hande wat nog steeds effens van skok bewe, los.

“Sorry, man, ek het seker ‘n bietjie carried away geraak,” kom Wihan se flouerige verskoning. “Kom ons gaan kry kos.”

Een van die ouens se pa’s het ‘n varkie gepekel en gerook en dit op ‘n spit vir die manne gebraai en hulle smul heerlik daaraan.

Juan skakel nie heeltemal af nie, maar hy kry dit tog reg om die dag te geniet sonder om te veel aan sy pa te dink. Daar sal later weer tyd wees om te worry, het hy besluit.

*****

Marli en Zelda van Vrede wag by die Wimpy vir hul geroosterde toebroodjies toe Zelda se selfoon skielik hard lui. Haar gesig word asvaal en sy laat val haar handsak.

“Ma? Wat gaan aan?” skree Marli.

“Jou pa…die hospitaal sê ons moet nóú kom!”

“Maar…maar Juan…hulle is nog…”

“Bel hom!” gil Zelda. “Ek gee nie om wat jy doen nie, kry hom net hier!”

Bewend vroetel Marli op haar selfoon se knoppies rond terwyl hulle terugjaag hospitaal toe.

“You have reached the voice mail box for the number 082…”

Flip, Juan! Dink Marli paniekbevange. Hoekom antwoord jy nie?

Zelda sit haar noodligte aan en lê op die kar se toeter terwyl hulle deur die dorp se niksvermoedende strate jaag.

*****

Toe dit tyd word om huiswaarts te keer, roep Mnr. Venter die span bymekaar.

“Ons het sopas die finale bepalings gekry. Ek wil julle geluk wens, manne: ons speel in die finaal.”

Spontaan begin die ouens hande klap en skree van blydskap.

“Yes!”

“Cool!”

“Ja!”

“Teen wie, Meneer?” vra Jonathan. Mnr. Venter hou die manne fyn dop terwyl hy antwoord.

“Teen Ewoud Heymans.”

Weer is daar ‘n geroesemoes onder die opgewonde seuns.

“Hoe het dit gebeur, Meneer? Hulle het dan nie ‘n bonuspunt gekry in hulle laaste game nie?” vra Rufus

“In ‘n verrassende upset het Bothaville vir Maritzburg geklop en op punteverskil het Ewoud Heymans een drie meer as hulle aangeteken.”

Die seuns kom effens tot bedaring by die aanhoor van dié stukkie inligting.

“So, dis ons teen Leon-hulle,” sê Juan vir Sibu, wie se oë blink.

“Bru, ek gaan vir hulle hárd tackle!”

Wihan pomp hom in die ribbes.

“Dis nou as Leon nie vir jóú hard tackle nie!”

Sibu spoeg gemaak verontwaardig.

“Never! He will have to catch me first. Ek hardloop sy sleutelbeen vir hom moer toe.”

Die ouens klim laggend in die bus en bespreek geesdriftig die gebeure wat voorlê. Elkeen se hart begin vinniger te klop met die wete dat hulle dalk, net dálk, weer die Rugbyweek-trofeë in hul hande sal kan hou.

Juan gaan sit langs Rufus en grou vir sy selfoon in sy sak.

19 Missed Calls.

Juan se bloed stol in sy are.

*****

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: