Rugbyskoolstorie/Heroes Vat Die Punch – Finale

*****

Sedert die begin van die Rugbyweek, so ongeveer 18 jaar vantevore, het dit nog nooit gebeur dat Bergkruin se twee hoërskole teen mekaar in die finaal speel nie. Die hele dorp kom tot stilstand. Besighede maak vroeër toe, die strate is leëer as gewoonlik en die parkering by Hoërskool Bergkruin is tot die laaste sentimetertjie toe stampvol. Die motors staan in lang rye geparkeer in die strate wat die skool omring en die mense stroom na die sportstadion toe. Die kosverkope skiet die hoogte in en die stalletjies moet uithaal en wys om voor te bly.

Die wedstryd om die uitspeel vir 3e en 4e plek vind plaas om 14:00 tussen Nelsdrif en Maritzburg College XV en is vanselfsprekend ook ‘n verdere trekpleister. Die feit dat dié twee spanne hierdie wedstryd speel, laat menige rugbyondersteuner besef presies hoe hoog die standaard en hoe straf vanjaar se kompetisie was.

Hoërskool Ewoud Heymans se span sit aan die linkerkant van die hoofpawiljoen bymekaar, netjies geklee in hul amptelike kleure. Dis duidelik dat die opkomende wedstryd aan die ouens se senuwees knaag, maar hulle bly so rustig as moontlik. Leon en Victor praat die manne kort-kort moed in.

Leon self kan voel hoedat sy maag draaie maak. Hy was glad nie dié dag by Marli nie en het haar net vanoggend vroeg gesms, waarop sy nog nie sover geantwoord het nie. Hy weet sy is nog baie hartseer en deurmekaar en daarom probeer hy dit wat tussen hulle aan die gang is, vir haar so gemaklik as moontlik hou. Hy sal daar wees vir haar wanneer sy hom ‘n kans gee om haar te ondersteun.

Intussen moet hy op die wedstryd fokus. Hy het die afgelope ruk so baie tyd saam met Wihan en die ander Bergkruin-manne spandeer, dat dit vir hom byna snaaks voel om teen hulle te speel. Hulle is vandag net opponente, Leon, herhaal hy oor en oor vir homself. Hulle verwag van jou om alles te gee en jy gaan dit doen, so eenvoudig soos dit.

Terwyl die Nelsdrif/Maritzburg College XV wedstryd sy einde nader, staan Victor op en hy en Leon lei hul span na hul kleedkamers toe.

*****

Hoërskool Bergkruin se spelers staan en rondtrap in hul kleedkamer. Behalwe vir die geluid van tokse op die sementvloer, is dit doodstil. Hulle het vroeg die oggend begin met ‘n ontbyt by een van die ouens se huis en daarna was hulle so rustig as moontlik om hul kragte te spaar vir die Groot Finaal wat om 15:30 plaasvind.

Nou is dit amper sulke tyd. Hier en daar gooi een van die spelers ‘n rugbybal saggies teen die muur, ander strek nog vir oulaas en ander strap hulself om moontlike beserings te voorkom.

Rufus sit sy mondskerm in en byt dit deeglik vas. Hy kyk na Wihan, wat eenkant staan en sy bene strek. Juan skitter in sy afwesigheid en Rufus kan sien dat dit vir Wihan pla. Hy gaan staan langs hom.

“Alles gaan okay wees, Wihan.”

“Hy moes hier gewees het, Rufus. Hy moes nou opgedraf het.”

Rufus probeer glimlag.

“Ek weet, ek weet. Nou sal ons net sy plek vir hom moet volstaan.”

“Vir hom die punch vat,” sê Wihan en kry dit reg om te grynslag. Sibu gee ‘n harde snuif-snork en die manne maak kringetjie.

*****

Juan lê op sy bed. Hy was gisteraand nog so oortuig dat hy dit tog op ‘n manier vandag gaan regkry om te speel, maar vandag voel hy net…gedaan. Uitgeput. So asof al die energie wat hy die hele kwartaal plus hierdie week gebruik het, op een slag ut hom uitgesuig is. As hy dit nou op ‘n rugbyveld sou waag, sal hy ‘n nul op ‘n kontrak wees.

Daar is ‘n klop aan sy deur en hy draai op sy sy om te sien wie dit is. Dis Marli.

“Hey, Sussie.”

“Wat doen jy hier?”

Die vraag laat hom frons.

“Hoekom?”

“Is jy nie veronderstel om in die final teen ons te speel nie?”

Juan skud sy kop.

“Nope. Nie volgens ou Venter nie. Buitendien, ek voel useless moeg vandag, so…”

“Ag, suck it up!” val Marli hom skielik in die rede. “Boeta, ek gee nie om wat jou coach gesê het of hoe jy voel nie, jy gaan speel vandag! En ek gaan kyk. Ja, ons gesin is deur tragedie getref, dis waar, maar ek kan nie langer net so sit en mope nie. Ek het in die hospitaal al my vrede met Pa gemaak en ek gaan nie toelaat dat hy selfs ná sy dood nog steeds my lewe regeer nie. Al die mense wat die heeltyd hier is, maak my ook mal en ek wil in anyway gaan kyk hoe tackle Leon die rook uit julle uit.”

Juan sit nou al regop.

“Jy het vinnig oor alles gekom.”

“Wel, ek dink nie ek het nie en hierdie is heel waarskynlik denial of iets, maar ek weet ek en jy gaan nou rugby toe! Kry jou goed, ons moet draf. Die wedstryd het seker al begin.”

“Okay, okay!” gee Juan in. Hy voel nou nogal lus om te speel. “So, jy dink Leon gaan my vandag kan tackle?”

“Ek sal geld daarop sit. Baie.”

*****

“Amen.”

Bergkruin se manne staan op van die geknielde posisie waarin hulle was en Jonathan lei hulle in die gangetjie af. Ewoud Heymans se span staan al klaar gereed. Jonathan en Victor groet mekaar en daar word geloot. Bergkruin wen die loting en Jonathan besluit om van wes na oos te begin speel. Daar waai ‘n ligte windjie, maar niks wat hom bekommerd maak nie. Die twee kapteins wens mekaar sterkte toe en keer terug na hul spanne.

Oudergewoonte dreun Thunderstruck oor die pawiljoen se luidsprekers en toe die twee spanne gelyktydig op die veld ophardloop, bars daar chaos los soos wat die ondersteuners hulle toejuig. Rufus haal diep asem toe hy sy plek in neem. Hy kyk vlugtig na Wihan, wat vir hom vasberade terug glimlag. Sibu staan en spring op en af.

Die skeidsregter blaas sy fluitjie en Wihan lui die wedstryd in met ‘n hoë afskop.

*****

Juan en Marli draf ligvoets teen ‘n stywe pas na die rugbystadion toe. Dis al 15:45 en Juan weet dat die spanne mekaar al mooi opgemeet het. Hy kan nie glo hulle speel actually in die final teen hul aartsvyande nie! Dis soos ‘n eerste Derby en behoort ‘n goeie aanduiding te wees van wat verwag kan word wanneer die ligawedstryd plaasvind. Hy kan ook nie dink dat hy dit amper gemis het nie.

“Kom!” beveel Marli en hulle draf nog vinniger.

*****

Stefan kry die bal en breek deur vir ‘n lopie van ‘n paar treë, maar word grond toe getrek deur ‘n lae tackle deur Jonathan. Onmiddellik is spelers van beide spanne daar en die bal kom uit na Bergkruin se kant toe. Die skrumskakel in Juan se plek is nie sleg nie, maar Wihan mis sy vriend. Hulle het al in baie spanne saamgespeel en hy is baie gewoond aan Juan se styl.

Wihan skop die bal ver langs die lyn af en Sibu sit dit blitsig agterna. Dis ‘n harde wedstryd, nes hy verwag het, en daar was nog nie veel geleentheid vir punte aanteken nie. Op die oomblik staan die telling op 3-3 Die wedstryd kan nog enige kant toe gaan.

Rufus is by Sibu net toe hy die bal vasmaak. Sibu gee die bal vir hom uit en 5 meter van die doellyn af is daar min dinge wat vir Rufus Lambert gaan keer. Met twee ouens wat aan hom vasklou, beur hy in die hoekie oor vir die eerste drie van die wedstryd.

Wihan se skop is net-net links verby, maar hulle draf terug met ‘n titseltjie van ‘n sielkundige voorsprong. Die telling is 8-3 vir Bergkruin.

Van agter die pale slaak Leon ‘n sug van verligting toe die skop mis is. As hulle nou ‘n doel aanteken, loop hulle voor. Hy kan sien Wihan is ‘n bietjie gerattle, maar Rufus skep vir hom ‘n probleem. Die mense het die waarheid gepraat toe hulle gesê het hy is die beste flank in skolerugby – hulle noem hom die volgende Schalk Burger, en Leon begin verstaan hoekom. Die ou is ‘n freakin’ masjien! Hy is orals, soos ‘n wintermuskiet, besig om werk te soek of om sy opponente se spelpatroon te spoil.

Ewoud Heymans skop weer af.

*****

Juan gaan staan geïrriteerd toe die motor langs hulle stilhou.

“Sorry, man, kan julle dalk vir ons beduie waar is Hoërskool Bergkruin?”

Toe Juan sien wie die insittendes is, rek sy oë so groot soos pierings.

“Bryan…Wynand…Pierre…Derick! Jislaaik, dis regtig julle!”

Die Blou Bul-spelers in die motor lag.

“Kan julle ons soontoe vat?” vra Bryan Habana weer.

“Sure!” sê Juan vinnig en hy en Marli klim agter in en skuif in langs Pierre Spies en Derick Hougaard.

“Wow! Maar wat maak julle hier?” Juan se kop draai nog steeds.

“Ek en Pierre het in hierdie selfde Rugbyweek gespeel toe ons nog op skool was en omdat dit ons afnaweek was, het ons gedink ons skiet vinnig deur vir die final. Ons weet meer van julle skool as wat julle dink,” sê Wynand Olivier.

“Ons kan net nie onthou waar dit is nie,” sê Pierre Spies.

“Wow…” is al wat Juan nog steeds kan uitkry.

*****

Frans stamp vir Sibu af en hardloop om hom om die drie onder die pale te gaan druk.

“Damnit!” vloek Sibu.

“Toemaar, ons maak nou reg,” help Rufus hom op. Die wedstryd raak net strawwer by die minuut. Nadat Bergkruin gedruk het, het beide spanne elk nog ‘n strafskop oorgesit. Die halftydfluitjie behoort net ná die doelskop te blaas.

Rufus is reg. Ewoud Heymans se heelagter sit die skop oor en die sirene gaan af om halftyd aan te kondig. Met die telling nou op 11-13 in Ewoud Heymans se guns stap die spanne moeg van die veld af.

*****

“Hier’s ons,” kondig Juan aan en wonder bo wonder kry hulle ‘n parkeerplek skaars 5 meter van die rugbystadion se hoofhek af. Hulle klim uit en sien hoedat die manne afstap vir halftyd.

“Kom ons vind gou uit wat is die telling.”

Toe Juan die telling sien, sak sy moed in sy skoene.

“Ag, flip,” kom dit saggies oor sy lippe.

“Julle kan dit nog maak,” sê Derick Hougaard vir hom.

“Ek weet,” sê Juan. “Dis net…ek weet die ouens is baie tense en dis ons arch rivals, so hulle is nog meer gestres. Dis die eerste keer in vier jaar dat ons die kans het om die beker te vat.”

‘n Gedagte tref hom skielik.

“Kan julle ouens gou saam met my kom?” vra hy.

*****

“Ons kan nie soft tries bekostig nie!”

Jonathan is rasend. Mnr. Venter het hom net by die veld gekry en vir hom gesê hy los die span in sy hande en dat hy hulle ná die tyd sal sien. Nou moet hy die manne motiveer en homself nog ook positief hou.

“Ouens, onthou wat ons aan die begin van die week gesê het: ons wíl wen. Ons wíl hierdie week vir ons vat! Ons is die kampioene, ons is die wenners van hierdie Rugbyweek! Besef dit net, en speel dan soos ouens wat dit weet. Ek is nie bereid om dit weg te gooi na al ons harde werk nie. Flip, manne! Ons het deur soveel gekom hierdie week. Ons kan nie nou, na alles, hierdie beker deur ons vingers laat glip nie.”

Hy sien nie die Blou Bulle en Juan agter hom inkom nie.

“Elkeen van ons is ‘n Bryan Habana, ‘n Pierre Spies, ‘n Wynand Olivier, ‘n Derick Hougaard. Besef dit, manne, en speel dan so.”

“Okay…so wat doen ons dan hier?” kom dit van Pierre se kant af. Die Bergkruin-spelers se oë rek.

“What the…” val Wihan se mond oop.

“Dis Juan en die Blou Bulle!” sê Rufus verbaas.

Die ouens spring vinnig op hul voete om hul helde te groet en met hulle blad te skud.

“Manne, geniet julle dit darem?” vra Habana. Die ondefinieerbare antwoord is vir hom ‘n teken dat dit nie die geval is nie.

“Vergeet van almal wat vir julle kyk,” sê Wynand. “Ons was ook hier waar julle nou is. Dis nie nodig om te dink aan al die mense op die pawiljoen nie. Julle speel tog nie vir hulle eer nie, of hoe?”

“Wie het vir julle die talente gegee om te speel?” vra Pierre. “Al wat saak maak, is dat julle tot eer van Jesus speel. Dan is julle ware Kampioene, maak nie saak wat die telling sê nie.”

“Regte heroes,” las Derick aan. Juan en Jonathan se oë ontmoet mekaar en Jonathan knik.

“Juan, jy’s in. Wihan, vat vir ons die knieg. Sal julle ouens saam met ons bid?”

Die Blou Bul-spelers val by die kringetjie in. Nadat Wihan gebid het, sê hy:

“Onthou, ons doen dit vir Jesus.” Jonathan knik.

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“Yes!”

“Bergies…”

“YES!”

*****

Die tweede helfte skop teen ‘n tempo af wat skrik vir niks. Dis asof Bergkruin sowel as Ewoud Heymans se spelers nuwe energie gekry het. Toe die skare sien dat Juan op die veld is, gaan hulle heeltemal mal.

“Juan! Juan! Juan!” hoor hy en Juan kry ‘n vasberade trek op sy gesig. Vandag sal hy sorg dat hulle wen, al moet hy ook alleen dwarsdeur die hele Ewoud Heymans-span hardloop.

Dis ook nie lank nie, of Frans slaan die bal aan op hul eie kwartlyn en Wihan kry ‘n realtief maklike skopkans pale toe. Hy lê aan en, nes Derick, lek hy met sy tongetjie heen en weer voordat hy lostrek met ‘n sierskop.

14-13.

“Ons moet gaan score!” roep Jonathan vir Juan, en hy knik vir sy kaptein. Hulle moet soveel afstand moontlik tussen hulle en Leon-hulle kry.

Leon kan sien dat daar iets anders aan sy vriende se span is. Rufus is nou éérs bedrywig. Leon kyk vinnig kant toe en sien dan die Blou Bul-spelers daar staan. Okay, nou maak dit sense, dink hy met ‘n glimlag. As Bergkruin nie vandag wen nie, weet hy wraggies nie.

Die afskop is hoog en Jonathan vang dit pragtig raak en begin dryf. Rufus en die res van die voorspelers is by hom, terwyl Juan net wag dat die bal uitkom.

Omtrent op Ewoud Heymans se 10m stippellyn kom die bal uiteindelik uit en Juan kry dit in die hande.

Nou, dink hy. Hy skop ‘n chip-skoppie reg bo-oor Ewoud Heymans se onverhoeds betrapte voorspelers en sit dit teen die spoed van wit lig agterna. Hy raap die bal rakelings voor Leon se neus op. Leon duik vir sy bene, maar Juan stamp hom teen die skouer af sodat hy net grond vreet en duik onder die pale oor vir ‘n prag van ‘n drie.

Sy span en die skare is rasend van vreugde.

Leon staan half verdwaas op.

“Gedink jy gaan my vang?” vra Juan met ‘n skelm glimlag toe hy verby sy vriend terugdraf na sy eie span toe.

Leon skud net sy kop in ongeloof. Dis nie asof hy teruggehou het of iets nie! Juan moes daardie drie regtig wóú gehad het.

Wihan klits die skop gemaklik oor.

21-13.

Agter die pale roep Victor Swart sy span bymekaar.

“Moenie laat hulle ons nou ore aansit nie, manne!”

Leon luister skaars na wat sy kaptein sê. Flip, as hulle nie die beste span is nie, is dit nou maar een van daardie dinge, maar hy gaan nie toelaat dat Bergkruin sommer net so oor hulle begin hardloop nie. Juan het tog gesê dis reg dat hy alles gee. Dalk het hy nog nie álles gegee nie…

Die spel verloor geensins tempo toe Ewoud Heymans weer afskop nie. Inteendeel. Victor en Stefan betrap die Bergkruin-voorspelers onkant toe hulle die bal vang. Soos honger leeus op hul prooi sak die Ewoud Heymans-spelers op die bal toe. Die bal kom nie uit nie en die skeidsregter ken ‘n skrum aan hulle toe.

“Crouch…touch… pause…engage!”

Die skrum val nog voordat die bal ingesit kan word. Weer maak hulle reg om te skrum, maar weer eens val die skrum plat. Die skeidsregter hradloop om en gaan staan aan die ander kant van die skrum.

“Crouch…touch… pause…engage!”

Die skrum val nogmaals en die skeidsregter ken ‘n strafskop aan Ewoud Heymans toe. Die heelagter beduie dat hy pale toe gaan skop en die Bergkruiners val terug tot onder die pale.

“Pasop vir nalatige foute, manne,” sê Jonathan vir sy span. “Fokus net op wat ons moet doen.”

Die skop is oor en die telbord skuif aan.

21-16.

Wihan skop af en Bergkruin val met mening aan. Hulle dryf en maal en hou die besit en frustreer hul opponente grensloos. Ewoud Heymans se verdediging is egter rotsvas en Leon tackle asof sy lewe daarvan afhang.

Die minute tik verby op die stadion se horlosie en met 4 minute wat oorbly kry Bergkruin ‘n skrum op Ewoud Heymans se 5 meter stippellyn. Juan gooi die bal netjies in en Jonathan haak dit perfek. Hulle kanaliseer die bal vinnig na die agtsteman se voete toe en Juan tel dit op en gee uit na Wihan – en asof uit die niet verskyn Leon en onderskep die bal. Hy lê rieme neer vir die oorkantste doellyn, systap Bergkruin se heelagter en gaan druk die bal onder die pale. Die ondersteuners se lawaai verdryf alle ander geluide en Bergkruin kan maar net toekyk hoedat Ewoud Heymans na die oorskop die wedstryd so te sê beklink.

21-22.

“Laaste afskop,” kondig die skeidsregter aan toe Wihan die bal vat. Hy kyk na sy span, na die Blou Bulle langs die kant en op in die lug.

Watookal die telling – ons is heroes. Aan U alleen die eer.

Hy skop vir oulaas af. Die bal trek laag en ver en sit dit haastig agterna. Rufus is daar die oomblik toe die bal grond vat. Hy tel die bal op, gee dit uit na Juan wat kort op sy hakke was. Juan kyk oor sy regterskouer en sien hoedat Wihan nader kom. Vinnig gee hy die bal na hom toe uit. Asof in een beweging vang Wihan die bal en tref met ‘n skepskop pale toe. Die bal trek hoog, maar sekuur, deur die middel van die pale op dieselfde oomblik dat die sirene afgaan. Die skeidsregter blaas die eindfluitjie.

24-22.

“Jaaa!” gil Rufus dit uit. Wihan se hart klop nog teen ‘n duiseligwekkende spoed.

“Dankie, dankie, dankie, dankie, dankie..” is al wat hy fluisterend uitkry.

“Ons het gewen!” juig Ruan en hy hardloop na sy vriende toe. Wihan het op sy knieê neergesak en die res van hulle span sluit haastig by hom aan. Toe hulle klaar dankie gesê het, spring hulle jubelend op. Die beker is hulle s’n!

‘n Teleurgestelde Ewoud Heymans-span staan afgehaal nader. Die twee spanne vorm rye en bedank mekaar vir die wedstryd. Juan trek sy trui uit en hou dit na Leon toe uit.

“Nice drie, tjom. Ek’s bly jy het alles ingesit.”

Leon trek ook sy trui uit en gee dit vir Juan.

“Dit is vir my ‘n eer,” sê hy toe hy Juan se trui vat en sy stem breek. “Baie geluk. Julle verdien dit.”

Bergkruin se span tel vir Rufus, Wihan, Jonathan en Juan op en dra hulle op hul skouers terwyl hulle stadig hul oorwinningsronde rondom die veld doen. Die skare gee hulle ‘n staande applous. Rufus kan nie ophou glimlag nie. Hy kan nie dink dat hy al ooit in sy lewe so gelukkig gevoel het nie.

Kort daarna vind die prysuitdeling plaas. Rufus word aangewys as die Speler van die Wedstryd en ook Speler van die Week. Jonathan staan op toe hulle naam aangekondig word en gaan neem die Rugyweek-trofeë in ontvangs. Die toejuiging wat hulle ontvang toe hy die trofeë saam met sy span omhoog hou, laat hul gesigte en harte van trots gloei.

“Op die heroes!” roep Wihan uit en die res van die span jubel saam.

*****

Lank ná al die foto’s geneem is en die Blou Bulle weg is en al die sjampanje-proppe geskiet is en die feesvieringe by die skool se Sportkiosk tot ‘n einde gekom het, sit Juan, Wihan, Rufus, Leon en Marli op die wal van die sportstadion en kyk na die leë veld, wat nog steeds verlig word deur die helder spreiligte.

“Het julle gehoor?” vra Marli waar sy teen Leon se bene sit.

“Wat?”

“Ma en Rufus se ma gaan ‘n Skoonheidsalon oopmaak nadat sy die garage verkoop het.”
”Genuine?” vra Juan.

“Jip. Ek het dit al vanoggend by haar gehoor. Dis seker die eerste sane ding wat sy sê of doen vandat Pa met sy…streke begin het. Sy en jou ma ken mekaar blykbaar van een of ander kursus af, Rufus.”

“I had no idea,” antwoord hy. “Wel, dis goed. Sy weet nogal wat sy doen in ‘n salon.”

“Speaking of which,” sê Wihan. “As my oë nie tricks op my trek nie, het sy en Leon se pa al te lekker met mekaar gekuier vanaand…”

“Ag, jy speel!” sê Leon, maar hy kyk tog hoopvol in die rigting van die Sportkiosk. Rufus lag.

“Imagine hulle kom saam en trou en alles…dan is julle familie!” glimlag Marli vir Leon, wat haar stilmaak.

“Sjoesj!” sê hy en voor hy nog daaroor dink, soen hy haar net daar.

“O, hier kom ‘n ding,” raak Wihan droogweg kwyt en Juan en Rufus bars uit van die lag.

Dit word weer stil tussen die groepie kinders soos wat elkeen met sy of haar eie gedagtes besig raak.

“Binnekort is it weer back to reality,” breek Leon die stilte.

“Jip,” antwoord Rufus. “Alles weer terug na normaal, alles weer dieselfde.”

“Niks sal ooit weer dieselfde wees nie,” sê Wihan.

Juan knik en beaam dit.

“Dit kan jy weer sê.”

Hulle staan op en saam-saam stap die tieners by die sportstadion se hek uit.

Die stadion se spreiligte doof uit.

*****

DIE EINDE

*****

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: