Rugbyskoolstorie Deel 5

Maandag is ‘n bewolkte dag en teen die middag, toe dit tyd is vir rugbyoefening, het dit saggies begin reën. Die afkondigings oor die interkom aan die einde van die dag het egter vir die Eerstespan bevestig dat daar wel oefening sal wees en daarom sit die klomp ouens nou op die skool se hoofpawiljoen, besig om hul toks aan te trek terwyl Mnr. Venter nog nie daar is nie.
“Dink jy ons gaan lank oefen vandag?” vra Rufus vir Juan wat langs hom sit en sy veters vasmaak. Juan trek sy skouers op.
“Weet nie. Venter kan soms snaaks wees. Pla my in elk geval nie, ek’s lus om te oefen.”
Rufus sien die ietwat harde trek in Juan se oë toe hulle opstaan en solank begin losmaak. Juan het hom oor die naweek gesms en hom saamgenooi na hulle gemeente se Jeuggroep toe wat Sondagaand bymekaar gekom het. Dit was heel okay, nou nie awesome nie, maar darem. Die ou wat die jeugwerker is, is nogals cool en hy het nie die hele beter-as-ander-houding, wat hy al so dikwels by sulke groepe gekry het, opgetel nie. Almal was heavy nice en hy het ‘n hele paar kinders herken van skool en selfs twee van die meisies wat op Jacques se party was van Ewoud Heymans. Juan het hom self baie vriendelik ontvang en hom die heeltyd geselskap gehou. Vandag by die skool was Juan ‘n bietjie stiller, maar sy nors houding van die vorige week is darem heeltemal weg.
Mnr. Venter se fluitjie sny skielik skril deur die seuns se ore.
“Raait, manne! As julle gedink het ons gaan vandag rustig vat, maak julle ‘n fout! Gryp die tyres – vandag gaan ons werk dat die modder spat!”
Vinnig hardloop elke ou en kry vir homself een van die buitebande wat aan ‘n rek vasgemaak is en onder die pawiljoen lê. Die rekke word om hul skouers gesit en dan word daar sprints gehardloop, met die bande wat agterna sleep.
Die ouens gaan staan op die wegspringmerk in ‘n ry.
“Gereed? Gaan!”
Rufus, Juan en Wihan is gelyk aan die voorpunt, met Sibu wat net ‘n kort kop voor hulle is. Nog nege keer laat Mnr. Venter die manne 100 meter ver met die bande voluit hardloop en roep hulle dan bymekaar. Dit het intussen harder begin reën sodat dit nou op die ouens neersous en die gras waaroor hulle hardloop is een groot modderpappery. Die bande het ook begin water skep, wat veroorsaak het dat dit swaarder geword het met elke lopie.
“Raait!” skree Mnr. Venter. “Bring die duiksakke!”
Twee ouens met dryfsakke en twee duiksakke word in die modder opgestel. Waar Sibu staan en blaas, kan hy sy oë nie glo nie.
“Is this guy for real?” hyg hy saggies na Wihan se kant toe.
“Man, ons doen dit net,” hyg Wihan ewe moeg terug en vee die water uit sy oë uit. Juan staan en blaas soos ‘n omgekrapte bul, maar Rufus kan sien dis baie meer van vasberadenheid en opgehoopte aggressie as van moegheid. Hyself kan voel hy het hard gewerk, maar daar is nie ‘n manier wat hy nou kan laat slap lê nie.
“Gereed? Gaan!”
Op Venter se fluitjie storm Juan eerste vorentoe en dryf in die eerste dryfsak in. Hy loop die ou heeltemal uit die aarde uit en hardloop dan voort na die eerste duiksak toe. Hy slaan albei sy arms om die sak en duik dit sodat die modder in alle rigtings spat. Dan spring hy op na die tweede dryfsak, stamp die ou wat dit vashou dat hy op sy rug te lande kom en duik dan die laaste duiksak met ‘n kreet plat. Kort op sy hakke volg Wihan, dan Sibu en dan Rufus.
Vir Juan word dit meer as net ‘n tackle-oefening. Met elke ronde gaan hy harder in, duik laer en doen dit met meer geweld en aggressie as die vorige keer en elke keer as hy ná die tweede duiksak opstaan, voel hy meer verlig. Hy het nog altyd alles ingesit tydens oefeninge, maar vandag is dit anders. Vandag is sy motivering anders. Vandag is elke dryfsak en elke duiksak sy pa.
Want die vorige aand was die eerste aand wat sy pa hom met die vuis geslaan het.

*****

Toe die reën Marli se netbal-oefening kanseleer, het sy die kans aangegryp en besluit om ‘n ekstra sangoefening in te werk. Dit werk baie beter om by die skool sang te oefen as by die huis, want die skool se musiekkamers is klankdig en daar pla sy niemand nie. Sy kan die deur agter haar sluit, haar musiek aansit en haar net daaraan oorgee sonder om bekommerd te wees dat haar ma haar gaan onderbreek of kom vra om sagter te wees.
Sy vergeet heeltemal van tyd en toe sy uiteindelik by die musiekkamer uitstap, sien sy hoedat die rugbyseuns net van die veld af stap. Die reënstorm van vroeër die middag het darem uiteindelik bedaar en sy stap sommer na die hek van die sportgronde toe. Sy het haar ma gesms om haar te kom haal, maar dit kan dalk nog ‘n rukkie neem. Haar ma is nie een wat baie aktief in die middag is nie en haat dit om gesteur te word.
Marli sug terwyl sy haar selfoon in haar skoolsak gooi. Eintlik wil sy glad nie huis toe gaan nie. Die vorige aand was iets wat sy nooit weer wil beleef nie.
Sy en Juan het skaars teruggekom van Jeug af toe haar pa op hulle begin skree het. Sy kon eers nie verstaan wat aangaan nie, maar toe het sy die leë bottel Cane op die koffietafel gesien staan en alles het meteens sin gemaak. Haar ma was nêrens te sien nie, maar die hoofslaapkamerdeur was toegesluit. Haar pa het hulle uitgeskel vir als wat sleg is, vir skynheilige skuim wat by die kerk voorgee dat hulle engeltjies is. Juan het verbyster teen die yskas bly staan en niks gesê nie en net haar pa se tirade aangehoor. Hy het op haar geskree dat niemand haar in elk geval ooit sal wil hê nie en dat sy nooit iewers met haar sang sal kom nie.
Juan het dit erg gekry.
“Ja, jou stuk vrot vel, wat het jy vir jouself te sê? Jou mooi soet gaan hou by die kerk, nè? Wie dink jy probeer jy impress, hè? Die Here? Want Hy like jou ook net so min soos ek!”
Dis toe dat Juan vorentoe gestorm het, op hulle pa af. Nie dat sy presies kon agterkom wat hy wou regkry nie. Sy het gillend agter hom verby gehardloop teen die trappe op en halfpad boontoe gaan staan. Hulle pa het die koffietafel en die bottel Cane omgestamp en vir Juan deur die gesig geklap en daarna ‘n vuishou in die maag gegee, wat hom wind-uit gelaat het en hom op die mat laat krul en hyg het na asem.
“Jy’s nie meer gehok nie, drol,” was al wat haar pa gesê het voor hy slingerend by die agterdeur uit is.
Sy het eers daar op die trappe neergesak en geskok begin snik. Juan het sy asem teruggekry en kreunend teen die trappe opgesukkel. Sy wou hom help, maar hy het haar weggewys.
“Los my,” is al wat hy saggies kon uitkry. Sy kon sien dat hy baie pyn het – en nie net fisiese pyn nie.
Die volgende oggend was haar pa se kar al reeds weg toe hulle skool toe is. Sy het ‘n lift saam met ‘n vriendin gekry en die hele dag van die situasie by die huis probeer vergeet.
Maar nou lê dit soos ‘n berg voor haar, een wat sy nie weet hoe sy dit gaan uitklim nie. In haar hele lewe het dit nog nooit gebeur wat gisteraand gebeur het nie.
Marli gaan sit op die sementbankie by die hek en maak haar oë toe. Miskien is alles net ‘n slegte droom, miskien gaan sy een of ander tyd wakker word uit hierdie nagmerrie uit. Ag, Here, waarom moet hierdie dinge met ons gebeur? Ons is dan U kinders, ek en Juan probeer U dan tog dien, bid sy. Is dít dan wat ons daarvoor kry?
Sy sit nog so met haar oë toe, toe iemand skielik langs haar kom sit.
“Hey, Marli,” groet Leon Steyn moegerig. Sy maak haar oë oop en herken hom byna nie. Van kop tot tone is hy besmeer van die modder. Net sy gesig is bietjie skoon ná ‘n poging tot ‘n was by een van die krane.
“Hey, Leon,” groet sy skamerig terug. Leon is een van die main rugby-ouens in die skool, hoekom sal hy nou skielik met háár wil praat? Sy het nie eens geweet hy ken haar naam nie!
Leon vee selfbewus oor sy hare waarin daar vaalbruin modderkoeke saamgepak het.
“Wat doen jy nog so laat by die skool?” vra hy en glimlag. Sy tande is baie wit teen sy modderbruin gesig!
“Ek het sang geoefen,” antwoord sy. “Jy?”
Vir ‘n oomblik kyk Leon haar vraend aan. Kan die girl nie sien hy het rugby geoefen nie? Maar dan sien hy hoe sy agterkom dat sy ‘n baie obvious vraag gevra het en hulle altwee proes van die lag.
“Ja, ek het ‘n…’n panda gejag,” spot hy laggend. Hy sien hoe Marli verleë word en probeer haar dan troos deur sy hand op haar skouer te sit, maar dis vuil en vol modder.
“O, crap! Nou’s jou skoolklere ook vuil,” begin hy verskoning maak, maar dan begin Marli saggies te snik. Nou weet hy glad nie wat om te doen nie.
“Ek’s jammer oor jou skoolklere, ek het nie bedoel…”
Marli beduie met haar hand dat hy moet stop. Sy kry ‘n tissue van iewers uitgetoor en vee dan haar oë af.
“Dis nie dit nie. Vandag is net nie my dag nie,” kom dit snuiwend. Leon voel verlig.
“O, sorry man. Iets waarmee ek kan help?” Hy weet nie waar hierdie skielike beskermingsdrang vandaan kom nie, maar dis asof hy net graag dit wat hierdie meisie laat huil, wil uitwis.
Marli skud haar kop.
“Ek dink nie so nie! Maar dankie. Dis altyd lekker om te weet iemand wil help.”
Sonder dat sy dit beplan het, sit sy haar kop teen sy bors en gee nie eens om oor die modderbesmeerde rugbytrui nie. Leon sit sy arms om haar skouers en druk haar saggies teen hom vas.
“Toemaar, alles sal regkom,” sê hy en kyk op na die horison se kant toe.
“Hoe weet jy?” vra Marli en tel haar kop op. Leon glimlag en beduie met sy hand na waar die wolke begin ooptrek het.
“Die reënboog.”

*****

Laat die middag kom Wihan modderbesmeer en stokflou by die huis aan. Hy en Sibu het besluit om die gym ‘n skip te gee ná die strawwe oefensessie waardeur Mnr. Venter hulle gesit het. Hy is in elk geval te vuil, die gym sal hom wegjaag as hy in hierdie toestand daar aankom!
“Gaan sit jou vuil toks buitekant, dat die modder daarso droog kan word,” het sy ma hom met een kyk beveel. Wihan se ma is nie ‘n moeilike mens nie, maar vir modder het sy nie veel ruimte in haar lewe of haar huis nie. Buitekant, beslis. Wihan en sy maatjies het kleintyd al in die tuin modderdamme gebou en dan met hul besmeerde arms en bene die sitkamer binnegestorm. Die laaste keer het sy op hulle afgekom waar hulle besig was om in die sitkamer haar splinternuwe wit langhaarmat vol oulike bruin voetspoortjies te betrap. Net daar het sy ‘n buitestort laat insit langs die swembad.
“Jy spoel jou modder daar af en nie in my huis of my swembad nie,” was haar reël en die gesin het maar te goed geweet om vinnig daarby in te val.
Daarom het Wihan sy ma sommer so deur die kombuisvenster gegroet en die opdrag om sy toks buite te los daar ontvang. Hy loop om die huis en gaan sit agter op die stoeptrappie, trek sy toks uit en stap dan na die buitestort. Gelukkig het sy ma dit goed gedink om ook ‘n warmwater kraan te laat installeer!
Die warm water laat ‘n groot lekkerte oor sy lyf kom soos wat dit sy moeë spiere masseer. Hy stort sommer so met sy oefenbroekie aan en vir ‘n paar minute staan hy net doodstil, toe-oë en laat die water oor hom spoel.
Dan tref ‘n vlaag yskoue water hom van bo sodat hy van skok na sy asem hyg.
“What the fudge…”
Wihan kyk op en sien hoe Leon homself skeur van die lag.
“Jis, pel, nou het jy met die verkeerde leeu se snorbaarde gespeel!” sê hy en spring uit die stort. Leon kan sien wat Wihan se plan is en probeer terugvlug oor die muur na hul eie erf toe, maar Wihan kry hom tog aan die enkel beet en trek hom terug sodat albei agteroor op die gras langs die heining val. Dit word ‘n gestoeiery, maar Leon is sterker as Wihan en pen hom uiteindelik vas.
“Wat gaan jy nou doen?” vra hy tergend.
“Dít,” sê Wihan en met ‘n flip-beweging van sy bene skiet hy vir Leon bo-oor sy kop sodat hy binne-in die swembad beland. Proesend kom Leon terug na die oppervlak.
“Okay, okay, ons is seker quits,” gee hy laggend toe toe Wihan hom hand gee om hom uit te help. Toe Wihan hom egter wil uittrek, pluk Leon vinnig sy arm. Wihan verloor sy balans en beland ook met ‘n gespat van water binne-in die swembad. Sy oë is groot toe hy weer die rand bereik.
“My ma gaan ons vrek maak!”
“Hoekom?” wil Leon met ‘n effense frons weet. Wihan beduie na die water.
“Die modder…”
“O, shit,” kom dit verskrik van Leon. Die twee spring op en skiet dan albei oor die muur na Leon-hulle se erf toe. Leon gaan haal twee handdoeke en die ouens droog hulself tot ‘n mate af. Moeg gaan sit hulle teen die huis se muur.
“Julle ook gedril vandag?” vra Wihan moeg.
“Jip,” antwoord Leon. “Reën of te not, oefen sal ons oefen. Ek neem aan dis ook die rede dat jy soos ‘n koöperasie-outa lyk?”
“Ja,” sê Wihan. “Venter het vandag geen genade gehad nie. Die ouens kon naderhand net nie meer nie. Selfs daai nuwe ou, Rufus, was naderhand kas toe. Net Juan het gelyk asof hy nooit gaan moeg word nie. Hy het geoefen soos ‘n dier.”
“Sy sussie is nogals nice.”
Wihan frons.
“Marli?”
“Mmm. Ek het so bietjie met haar gechat na skool en stuff. Sy’t vreeslik gehuil, toe troos ek haar.”
“Wat?!” lag Wihan. “‘Toe troos ek haar’. Wat’s dit veronderstel om te beteken?”
“Net wat ek sê! Ek het haar vasgehou…en sy het haar kop op my bors gesit.”
“En toe vry jy haar?”
“Dis…my besigheid,” kom dit ontwykend van Leon, maar Wihan kan sien hoe die ou verleë word.
“Ek het dit geweet! Toe vry jy haar sommer net daar in die straat. Lekker, man.”
“Ek het haar nie sommer net daar in die straat gevry nie! Dis nie hoe dit is nie.”
Wihan trek sy wenkbroue op.
“Nou hoe is dit dan? Verduidelik bietjie?”
Leon weet hy het homself in hierdie hoek in gekry en nou sal hy maar moet praat.
“Ek dink ek like haar. Ek ken haar al lankal van sien en so en sy is moer mooi. Sy is nie soos die ander chicks in graad nege nie – sy het actually breins.”
“En mangels,” val Wihan hom in die rede. Leon klap sy tong.
“Ag, voertsek, man! Ek sê mos ons het nie gevry nie. Sy’s ‘n goeie meisie en dis nie asof ek haar net wil score en los nie.”
“Jy beter haar nie seer maak nie,” sê Wihan skielik ernstig. “Dinge by hulle huis is nie lekker nie en as jy haar gaan gebruik, gaan ek jou net móét donder.”
“Ek sê mos ek gaan nie! En haar huislike omstandighede beïnvloed my anyway indirek ook. My pa werk vir haar pa, so wanneer dié toppie ‘n moeilike dag het, haal hy dit op sy werknemers uit en dan kry ons dit by die huis ook.”
“Genuine?”
“Jip. En deesdae is hy besonder edgy en wanneer ek sê edgy, bedoel ek kind of gesuip by die werk.”
“Wat? No ways, nie Oom Martin nie. Ek weet dinge is nou nie altyd tien vier daar by hulle huis nie, maar hy is nie ‘n suiplap nie. Ek ken die oom, hulle is kerkmense en alles.”
Leon skud sy kop.
“Dis nie wat my pa sê nie. Apparently het van die skoonmakers nou die dag drie leë bottels whisky uit sy kantoorasblik gehaal. En hulle maak elke dag skoon.”
Wihan sit bekommerd terug teen die muur. Dit verklaar waarom Juan so die moer in was vandag by oefening! Hy het gesien iets pla hom, maar hy het gedink dis nog die hele steroids-storie en dat hy nog gehok is. Hy het nie besef dat dit eintlik ander probleme is nie.
“Dis bad,” sê hy na ‘n rukkie. “Ek het gesien iets bug vir Juan, maar ek het nie besef dinge by die huis…ek sal sommer vanaand daar ‘n draai gaan maak. Jy kan saam kom as jy wil.”
Leon vryf met sy hand deur sy hare.
“Thanks, ek dink ek sal. Sal lekker wees om vir Marli ook te sien.”

*****

Die musiek dreun oudergewoonte deur Rozaan se kamer.
“So, gaan jy dit nou doen of nie?”
Rozaan sug.
“Dis nie so eenvoudig nie, Lisa! Ek kan self nie glo daai Rufus is so goody-goody ‘ek-wil-nie-op-my-girl-wat-vrek-ver-is-cheat-nie’. Hy het dit so verkeerd laat klink.”
Lisa lag.
“Dit is nogal, weet jy.”
“Ag, toe! Jy was saam my van die begin af in die hele ding in. Moenie nou maak asof jy so onskuldig is nie. Anyway, dit gaan nie oor Rufus nie, dit gaan oor Juan. Ek meen, hy bly ‘n nice ou en alles, maar ek voel nog dat ek nie meer langer met hierdie verhouding wil aangaan nie. I need my space.”
“Space se gat. Dink jy nie jy sou anders gevoel het as…”
“As wat?”
“Jy weet…as Juan dinge dalk al verder gevat het nie.”
Rozaan kyk haar vriendin ietwat verbaas aan.
“Wat laat jou so dink?”
Lisa skuif nader aan die rand van die bed.
“Wel, jy wou vir Rufus agter die bosse by Jacques se huis invat.”
“Om hom te vry, dis al!”
“Yeah, right! Almal weet dat vry maar net die eerste ding is wat ‘n mens agter daardie bosse doen. Jy ook.”
Rozaan kyk skuldig weg.
“Ja, okay, miskien sou dit dinge anders gemaak het, maar nou het dit nie gebeur met Juan óf Rufus nie. En buitendien is Juan deesdae te broody na my sin.”
“Die voëltjies fluit dis omdat sy pa deesdae so dronk by die huis aankom dat hy nie op sy voete kan staan nie. Maak glo tot 4 bottels whisky ‘n dag op kantoor klaar. Alleen.”
Rozaan se mond val oop.
“Wát?”
Lisa knik.
“Dis die waarheid! Klink my Juan het eintlik nou sy girl nodig.”
Sy lê terug en sit die kussing wat sy vasgehou het agter haar kop in. Rozaan plak haarself op ‘n stoel neer.
“Well, it sucks to be him. Boo-frikkedy-hoo. Ons almal het ons probleme en ek gaan verseker nie Juan se crutch wees nie. Ek dink dis tyd dat ek hierdie verhouding beëindig voordat hy begin dink ek gaan daar wees vir hom deur sy donker, swaar dae.”

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a comment