Rugbyskoolstorie Deel 6

Juan staan traag op toe die voordeurklokkie aanhou lui. Marli is in die bad en sy ouers is nie by die huis nie. Sy pa werk seker weer laat (of suip seker maar weer op kantoor, selfde ding) en sy ma het een of ander Dames Aktueel-kerkgroepie-ding aan. Pas hom fyn, dan is dinge by die huis darem hanteerbaar.
Hy maak die voordeur oop.
“Hey, Rufus. Hoe lykit?”
“Hey Juan. Is jy besig, of kan ek inkom?”
“Sure,” beduie Juan en nooi vir Rufus binne.
“Thanks. Ek wou sommer by jou kom hoor oor daai wiskunde-huiswerk van Juffrou Bezuidenhout vir môre…ek het nie ‘n cooking clue wat daar aangaan nie! Jy kan my nie dalk help nie?”
Juan se wenkbroue lig onseker, maar hy glimlag vriendelik.
“Well, I’m flattered, maar ek sukkel net soos jy, pêl! Maar, okay, as jy jou boeke hier het kan ons saam kyk. Dalk maak Ouma Bessie se twakpraat dan sin.”
Rufus lag. Hulle stap op na Juan se kamer toe en Juan maak dan bietjie plek by sy vol lessenaar.
“Sorry, dis bietjie deurmekaar hier. Ek het nog die hele laasweek in my kamer gegym ook, so…”
Rufus maak ‘n gebaar met sy hand.
“No worries, ou! Jy moet my kamer sien. Hierdie is nie ‘n patch teen dit nie.”
Terwyl die seuns so geselsend begin om aan hul wiskunde te werk, kom Marli uit die badkamer gestap. Sy gaan staan stil in die gang toe sy die stemme uit Juan se kamer hoor. Daar was baie lanklaas iemand by Juan! Hierdie is ‘n welkome verrassing. Sy wonder wie is by hom? Vinnig gaan trek sy vars klere aan en gaan klop dan aan sy deur, net toe sy hoor hoedat die twee seuns hardop lag.
“Ja?” antwoord Juan en maak die deur oop. “O, hey sus. Het jy en Rufus al ontmoet?”
“Nee,” skud sy haar kop en kyk na die aantreklike vreemdeling in haar broer se kamer. “Haai, ek’s Marli.”
“Rufus Lambert, aangename kennis.”
Vir ‘n oomblik staan almal netso stil. Juan besluit om die atmosfeer te breek.
“Okay, ek’s lus vir koffie. Wil julle ook hê?”
“Sal lekker wees, dankie, boeta,” sê Marli en draai dan om en stap na haar kamer toe. Wow! Waar het haar broer sulke hot vriende gekry? Die ander ouens van hulle groep is nie noodwendig lelik of iets nie, maar sy is eintlik al so gewoond aan hulle dat iemand nuuts, met Rufus se looks veral, heelwat uitstaan! Skielik is Leon se gesig voor haar oë en Rufus vervaag. Ja, okay, Rufus is vrek sexy, maar toe Leon haar vandag so vasgehou het…Dit het iets anders in haar wakker gemaak.
“Kom ons gaan kombuis toe,” sê Juan en die twee seuns stap al geselsend af met die trappe. Net toe hulle onder kom, lui die voorderuklokkie weer.
“Nou wie kan dit wees?” wonder Juan hard-op en gaan maak oop.
“Hey tjomma!” groet Wihan en hy en Leon stap sommer in.
“Hallo. Kom in. Maak julleself tuis,” sê Juan nadat Wihan al klaar die pad kombuis toe gevat het.
“Hey,” groet Leon vir Juan.
“Yes yes,” groet hy terug en hulle skud blad. Leon en Juan was in dieselfde laerskool, maar omdat hulle in verskillende ouderdomsgroepe is en na verskillende hoërskole gegaan het, ken hulle mekaar nie vreeslik goed nie. Juan weet dat Leon se pa by Martin Motors werk, maar dis al wat hy regtig van hom af weet. Dit en natuurlik die feit dat hy ‘n stoomroller op die rugbyveld is.
“Rufus!” roep Wihan vanuit die kombuis uit. “Wat maak jy hier?”
“Wiskunde,” lag Rufus. “Ons probeer maar saam-saam so deur die goed struggle.”
“En nou maak ons koffie,” las Juan aan. “Soek julle ook?”
“Klink goed, dankie,” sê Leon en Wihan knik ook sy kop.
“Lekker man. Ons almal ken mekaar, nè?” vra hy, byna as ‘n nagedagte. Die ander ouens kyk na mekaar.
“So op ‘n manier,” kom dit van Rufus af. Juan haal die koffie bekers van die kombuisrak af en sit dit op die tafel.
“Hoe drink julle julle koffie?” vra hy.
“Sterk en swart, nes my girls,” verklaar Wihan gemaak ernstig.
“Uit ‘n beker uit,” sê Rufus.
“Met my mond,” antwoord Leon.
Juan besluit om die pittighede te ignoreer.
“So, twee suiker en melk vir almal, dan,” sê hy asof vir homself en die ouens lag.
Vir die tweede keer dié aand laat ‘n gelag in hulle huis vir Marli op die trappe stilstaan. Dit kan nie net Juan en Rufus wees nie, sy kon sweer daar was nog stemme! Fronsend stap sy af kombuis toe.
Toe sy instap, is dit asof haar hart ‘n bokspring gee. Leon!
“Haai, julle,” groet sy skamerig en maak dan asof sy iets uit die yskas uit kom haal het.
“Soek jy nog koffie, sussie?” vra Juan. Sy voel hoe haar gesig rooi word toe hy haar ‘sussie’ noem.
“Nee, wat, ek drink nie eintlik koffie nie. Ek gaan sommer net ‘n vrug vat,” sê sy, gryp haastig ‘n appel uit die yskas en verdwyn dan soos blits by die trappe op.
Juan frons.
“Rufus, het sy nie nou net daarbo heel eerste gesê sy wil koffie hê nie?”
“Jip,” bevestig Rufus. “Wat dink jy is aan die gang?”
Wihan, wat die situasie fyn dopgehou het, maak sy keel veelseggend skoon.
“Hmm, ek wonder. Weet jy dalk wat dit kan wees, Leon?” vra hy aspris en draai dan met gevoude arms en ‘n glimlag wat boekdele spreek na sy vriend langs hom. Nou is dit Leon se beurt om te bloos. Hy verwens vir Wihan en selfbewus probeer hy die rooigeit van sy ore afkrap.
“Nee, hoekom sal ek iets weet?”
Wihan geniet die situasie terdeë en sit terug in sy stoel.
“Ag, sommer net gewonder hoekom jou ore so rooi is.”

*****

Rozaan staan voor Juan-hulle se voordeur. Sy het vir haar ma gejok en gesê sy gaan by Lisa aan ‘n Bedryfsekonomie-taak werk. Haar ma sal enigiets glo. Eintlik het sy gekom om met Juan uit te maak. Sy kan die kombuisligte sien brand en hoor hoedat die mense daar binne lag en gesels. Die atmosfeer klink so vrolik, so…veilig. Rozaan betrap haarself dat sy glimlag. Vanmiddag nog was sy so seker dat dit die regte ding is om te doen, sy was so oortuig dat sy nie meer regtig iets vir Juan voel nie.
Nou staan sy voor die deur, haar handpalms sweterig…en sy voel verskriklik onseker van haar saak. Moet sy dit doen?
As jy dit doen…dit sal sy hart breek, sê die stemmetjie in haar kop.
Man, hy is ‘n sexy ou, hy sal gou weer ‘n girl kry, stil sy haar gewete.
Ja, maar hy het jou nou nodig, kom die stemmetjie weer.
Hy het baie vriende, hoor net daar hoe lag hulle, probeer sy weer.
Maar nie een van hulle is sy meisie nie, sê Stemmetjie.
Rozaan bly stil en vee dan haar hande ‘n laaste maal teen haar broekspype droog.
Ek ook nie.

*****

Die ouens het begin grappe vertel en die een na die ander staaltjie word uitgeryg. Juan kom agter dat hy lanklaas so ontspan het, so lekker gelag en gekuier het saam ‘n klomp ouens. Vandat hy en Rozaan begin uitgaan het, was dinge net nie meer dieselfde tussen hom en sy vriende nie en met dié dat dinge by die huis ook begin skeefloop het, was lag een van die dinge wat hy baie min gedoen het die afgelope tyd.
Die voordeurklokkie lui weer en hy staan laggend op.
“Ek’s nou terug,” sê hy en stap ny die kombuis uit.
“Sjoe, die ark is omtrent oop vanaand,” hoor hy nog vir Wihan in die agtergrond. Toe hy die deur oopmaak, glimlag hy weer.
“Hey, bokkie! Dis ‘n verrassing! Kom in,” groet hy haar en wil haar ‘n soen gee, maar Rozaan skram weg.
“Wat’s dit nou?” vra Juan en sy hart begin skielik in sy keel klop.
Rozaan trek met haar vingers deur haar hare.
“Juan…ek…ek maak uit,” kry sy dit uiteindelik gesê met ‘n baie bewerige stem. Juan word asvaal.
“Nee…nee! Hoekom? Wat gaan aan? Het iets gebeur? Rufus!” roep hy, meteens woedend. Rufus het hom dan nog ewe plegtig gesms dat alles fine is met Rozaan. Het die ou nou vir hom gelieg?
“Yes, ou?” kom Rufus nadergestap. Hy sien vir Rozaan en besef skielik wat aangaan. Oh no.
“Juan, dis nie…” begin Rozaan, maar dan kom die trane en kan sy niks verder uitkry nie.
Met gevoude arms draai Juan na Rufus toe.
“Ek dog jy sê alles is fine.” Sy stem is kil en sy oë spoeg haat. Flip, hierdie ou is darem maar ‘n moerse backstabber!
Rufus besef dat hy sy woorde nou baie versigtig sal moet tel.
“Als wás fine,” probeer hy versigtig, maar Juan skud sy kop.
“Ek wil die waarheid weet. Nóú.”
Rozaan vee met ‘n tissue oor haar oë. Sy weet skielik wat sy gaan doen.
“Rufus het my Saterdagaand by Jacques se party eenkant toe gevat en toe het ons mekaar gesoen. Lank. Aanhoudend. Hy het vir jou gelieg, als was nie fine nie. En dis hoekom ek met jou uitmaak. O, en, Rufus, ek stel ook nie regtig in jou belang nie, want jy vry moer lekker, maar die seks was crappy. Ciao.”
Rufus se mond val oop.
“Watse twak is dit? Sy lieg, tjomma…”
“Moenie vir my kom ‘tjomma’ nie!” val Juan hom in die rede, terwyl Rozaan al hoe vinniger wegstap.
“Maar sy lieg! Vra maar vir…” dan besef Rufus dat daar niemand is wat vir hom kan getuig nie. Toe hulle van agter die bosse uitgekom het, het dit beslis gelyk of hulle gevry het en dis die storie wat sy vir haar vriendinne vertel het. Die hele boudbyt-ding tel ook nie in sy guns nie en Wihan sal ook nie kan sê of hy die waarheid praat of nie.
“Ja?” vra Juan hom. “Vir wie moet ek vra?”
“Ek…ons…” Vir ‘n paar oomblikke is hy sprakeloos. Hoe het dít gebackfire? “Jy móét my net glo! Rozaan!” roep Rufus dan uit en hardloop agter haar aan. Rozaan het intussen begin hardloop na waar Corna met haar ma se kar in die straat geparkeer staan. Toe sy sien Rufus jaag haar, hardloop sy vinniger en spring by die deur wat Corna vir haar oop hou in.
“Ry!” gil sy en die Uno trek met skreeuende bande weg.
“Wag!” skree Rufus wat haar amper ingehaal het. Hy kan nie glo dat sy sopas daardie verskriklike leuen kwytgeraak het nie. Hy is die een wat homself met alle mag en krag moes beheer daardie aand en binne ‘n kwessie van ‘n paar sekondes het dit in elk geval in sy gesig opgeblaas.
Rufus draai terug na waar Juan saam die ander seuns in die deur staan. Hy lyk briesend. Langs hom staan Wihan, met ‘n intense frons op sy voorkop. Agter hom het Leon verskyn en hy lyk presies so clueless as wat hy oor die hele storie is.
“Wat gaan aan?” vra Wihan versigtig.
“Hierdie bliksem het nie net my girl op Jacques se party gevry nie, hy het sommer haar virgin gevat ook! En dan het hy die flippen audacity om vir my daarna te sms dat sy veilig is!”
Die woede in Juan se stem spat by sy mond uit in klein spoegdruppeltjies. Wihan frons nog steeds.
“By Saterdagaand se party? Waar ek ook was?”
Rufus kom terug by hulle aan.
“Sy lieg! Sy lieg! Ek het haar nie gevry nie en ek het beslis nie met haar seks gehad nie. Flip, ou, jy het my dan vertrou, hoekom sou ek vir jou daaroor jok?”
Juan wil vir hom mik, maar Wihan hou hom terug.
“Kalm, kalm. Kom ons hoor net eers sy kant…”
“Ek wil nie sy donnerse kant hoor nie!” kap Juan en hy bewe van ontsteltenis. Wihan hou hom egter aan die elmboë vas.
“Laat ons hoor. Rufus?” Wihan kyk met oë vol ongeloof en verwarring op na Rufus. Rufus het ‘n treë of wat terug gaan staan met sy hande op sy heupe. Vir ‘n paar sekondes kyk hy af en bid woordeloos, iets wat hy lanklaas uit sy eie uit gedoen het. Asseblief, Jesus, laat hulle my glo. Ek het nie ander vriende nie.
“Ek en Rozaan was wel agter die bosse in op Jacques se party,” begin hy na ‘n rukkie afgemete. “Ja, ons was alleen en ja, niemand kon ons sien nie. Die versoeking om haar te score was moer groot, dit erken ek. Maar ek het nie. Sy het haar arms om my nek gesit…en ek het haar nie gevry nie. En dit was nie omdat my eie girl ver is nie, maar omdat jy, Juan, my voor die party gevra het om haar op te pas sodat ‘n ander ou dit nie dalk doen nie. Toe Frans vir haar gemik het by Boudbyt, het ek hom uit die pad gestamp sodat hy dit nie kon doen nie. Toe ons agter die bosse gestaan het, het ons op die ou end net gepraat en het ek vir haar gesê dat ek nie kan nie omdat ek graag met jou pelle wou wees. Ek het vir haar gesê nie jy of my girl verdien dit dat ons op julle sou cheat nie. Sy was die een wat gesê het ons moet hande vashou as ons daar agter uitkom sodat dit die unwanted attention kan keer.”
Juan kyk hom net emosieloos aan.
“Is dit waar Wihan? Jy was mos ook daar.”
Wihan trek sy skouers versigtig op.
“Ek…weet nie. Hy het my vroeër die aand gevra of ek vir Rozaan gesien het want hy wou haar iets vra, maar ek kan nie sê nie. Soos hy sê, niemand kon hulle sien nie…” huiwerig bly hy stil.
Rufus het intussen kop onderstebo op die gras gaan sit. Sonder dat hy dit kan keer, begin die emosie in sy stem stukkie vir stukkie losbreek.
“Flip, ouens, ek weet nie hoekom glo julle my nie! Ek probeer vriende maak, maar dis donners moeilik as almal jou die heeltyd judge en uitcheck en net wag dat jy ‘n voet verkeerd sit. ‘Oe, jy kom mos van Waterkloof af’! Wil julle weet hoekom ons uit Pretoria getrek het? My ouers het nie ‘n prokureurspraktyk hier gekoop nie. Dit was die enigste ding waaroor ek vir julle gejok het. My ouers is geskei en my pa het ons amper kaal uitgetrek. My motorfiets het ek met erfgeld van my oorlede oupa gekoop, dis hoekom ek hom kon hou. Maar my ma het niks oor nie! Sy het werk gekry by die blerrie till in Checkers! Ons bly in ‘n tweeslaapkamerwoonstel en ons het die klere aan ons lywe en dit wat in ‘n tas kon kom. Dis hoekom ek nie by my ou skool aangebly het nie, want daar was nie geld nie. Ja, daar was sponsors wat my daar sou kon hou, maar hulle was vriende van my pa en met sy contacts het hy hulle almal laat onttrek. Die hele saak het so vinnig gebeur…En toe ek weer sien, is ons hier en moet ek probeer om die beste te maak van ‘n situasie waaroor ek geen beheer het nie. Ek vra weer: hoekom sou ek vir jou jok, Juan?”
Rufus kyk vir Juan, wat ook gaan sit het, vas in die oë toe hy dit vra. Dan laat sak hy sy kop en begin saggies te snik. Juan is doodstil. Weerskante van hom het Wihan en Leon ook kom sit, sodat die vier ouens nou in ‘n vierkant sit. Die nag is baie stil, behalwe vir Rufus se snikke wat saggies die stilte verbreek.
Juan sit stil en kyk na die groot ou voor hom wat soos ‘n klein seuntjie huil. Hel, ons het eintlik baie in gemeen, dink hy. Nie een van ons se pa’s wil ons regtig hê nie. Pleks hy dit al vroeër gesê het…
Leon sit sy hand op Rufus se skouer.
“Ek dink ek verstaan, tjom. My ma het ons gelos nadat sy vir die grootste deel van my lewe haarself soos ‘n hoer gedra het en my pa…is nou nie juis ‘n treat nie.”
Juan kyk geskok na Leon se kant toe. Wat? Hy ook?
“Ons het almal probleme,” hoor hy homself sê en hy skrik half toe hy sy eie stem hoor. Dis egter asof hy homself nie kan keer nie. “My pa…het begin om heavy te drink…en ons te slaan…en hy vloek my, vloek my sodat die see my nie kan afwas nie…” Dis eers toe hy die nattigheid op sy wange voel dat hy besef dat hy ook besig is om te huil. Vir die eerste keer in sy lewe gee hy nie om nie. Hy kan voel dat hierdie klein sirkeltjie veilig is, ‘n plek is waar hy nie homself met alle mag en krag hoef te beskerm nie.
Wihan het nog die heeltyd doodstil gebly. Hy besef meteens opnuut hoe bevoorreg hy is om ‘n redelike stabiele, liefdevolle huishouding te hê waar die ma en die pa lief is vir mekaar en daar nie hierdie verskriklike probleme teenwoordig is nie. Ja, sure, niemand en geen huisgesin in die wêreld is perfek nie, maar volgens die standaarde wat tussen die vier van hulle tans heers, kom hy eintlik uit ‘n baie gelukkige gesin. Die dankbaarheid in sy hart en die gewydheid van die oomblik weerhou hom daarvan om dit ligtelik op te neem. In plaas daarvan sit hy sy hande op Rufus en Juan se skouers en trek hulle dan nader aan hom. Die ander vat mekaar ook vas, sodat hulle nou ingehaak naby mekaar sit. Spontaan begin Wihan te bid.
“Here Jesus, ons is stukkend. Ons girls los ons en jok vir ons, ons ouers verwerp ons en breek ons af en die druk om te presteer laat ons dom dinge doen. Maar, Here, U sê vir ons dat U ons las kom dra as ons dit na U toe bring. Ons bring dit vanaand na U toe, Here, al ons hartseer, ons slegte gewoontes, al die dom dinge wat ons doen om ons ouers en die wêreld te probeer impress. Here, ons is moeg daarvoor om te voel dat ons nie goed genoeg is nie. Ons is moeg daarvoor om die heeltyd onsself te moet bewys aan ander sodat hulle ons kan aanvaar. Help ons, asseblief, Here, want alleen kan ons nie meer nie.”
Vir ‘n paar sekondes staan hulle nog so en dan omhels Juan vir Rufus.
“Ek’s jammer, tjomma,” kry hy dit uit. “Ek moes geweet het sy is besig om te lieg.”
“Dis okay,” kry Rufus dit reg om te glimlag. “Ek dink in elk geval my girl gaan my ook een of ander tyd los.”
“Dan sal ons daar wees vir jou!” lag Leon van waar hy langs Wihan gaan staan het. Die ander ouens begin ook weer te lag. Hulle vee hulle trane af en stap terug in die huis in.
Toe hulle in die badkamer gou hul gesigte afspoel, kry Juan skielik ‘n idee.
“Ek het daai aand van die party gelê en Bybel lees. Toe lees ek van Daniël en sy drie vriende en hoe hulle getrou gebid het. Maybe moet ons dit ook meer gereëld so saam doen.”
Wihan knik sy kop.
“Klink vir my na ‘n goeie plan. Ons kan sommer in die middae as ons van oefening af kom bymekaarkom. Ons moet net hierdie clown in ag neem,” sê hy en slaan sy arm om Leon se nek. “Nie dat ek dink hy sal mind om saam met ‘n klomp Bergkruin-manne te bid nie, of hoe?”
Leon glimlag verleë.
“Nee wat, dis okay. Dink julle ek kan vir Frans saambring?”
“Dink jy hy sal wil kom?” vra Rufus. Leon trek sy skouers op.
“Ek weet nie. Ons…het nog nooit regtig oor hierdie goed gepraat nie.”
“Hy’s welkom,” verklaar Juan. “En Sibu ook, Wihan, jy moet hom net sê. Tune hom ons sal saam met hom die tokkelossie wegbid.”
Wihan lag uit sy maag uit.
“Ja! Imagine that. Ek kan hom al sien!”

*****

Toe die ouens heelwat later daardie aand huiswaarts keer, stap Juan stadig by die trappe op na sy kamer toe. Wat ‘n aand! Hierdie het hy definitief nie sien kom nie. Eers Rufus wat hier oppitch, toe die ander twee, toe Rozaan…dit was eintlik emosioneel ‘n baie uitputtende aand vir hom.
Sy ouers is nog nie by die huis nie, maar toe hy by Marli se kamer kom, sien hy dat daar nog ‘n lig brand. Die deur is op ‘n skrefie oop. Hy klop en stoot die deur dan oop. Marli lê op haar bed, opgekrul in ‘n bondeltjie en hou een van haar kussings vas, maar daar is ‘n gloed van vrede oor haar gesig. Sy glimlag toe haar broer instap. Juan glimlag terug en gaan staan teen haar laaikas.
“Like jy vir Leon?” vra hy versigtig, maar reguit. Sy knik net haar kop bevestigend.
“Dis cool,” gaan hy voort. “Ons is nou bidbuddies.”
“Ek’s bly,” sê Marli sag. “Ek’s ook bly dat Rozaan jou gelos het, want ek like haar nie. Maar ek is veral bly dat julle ouens mekaar kon vind en vir Jesus in julle lewens begin insluit het. Sulke ouens is enige ordentlike girl se droom.”
Juan bloos en kyk na sy kaal voete.
“Ek is ook bly. Ons het eintlik nogal baie in gemeen, so dis lekker om dit met ander ouens te kan deel. Dis amper soos ‘n soort Band of Brothers.”
“Dis goed so,” antwoord Marli. Juan vou sy arms en kyk dan weer op.
“Ironies dat die leuen wat Rozaan vertel het om ons uit mekaar te dryf juis die ding was wat ons ouens aan mekaar gebind het…maar nou ja, ek is baie moeg. Lekker slaap, sussie,” sê hy en sit dan haar kamerlig af.
“Nag, boeta.”

  1. February 19, 2008 at 9:27 am

    Wat van jy los die hele ding vir ons in ‘n PDF iewers as jy klaar is, sal graag die storie in die gemak van my bed as ‘n geheel eerder lees.

  2. bernard
    February 24, 2008 at 11:39 am

    Hi

    is hierdie die grand finale? Wanneer gaan die storie aan?

    Bernard

  3. February 25, 2008 at 12:59 pm

    Geduld, my liewe Bernard…vra jou broer Cobus, ek het die hele een vir hom ge-mail. Natuurlik is dit nie die grand finale nie – hallo, die rugbyweek moet dan nog plaasvind.

  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: