Home > afrikaans, Afrikaanse stories, Friends, godsdiens, humor, jeug, rugby, skole, sports, Suid-Afrika, vriende, youth > Rugbyskoolstorie Deel 4: Die Party

Rugbyskoolstorie Deel 4: Die Party

Okay, die waarheid is ek is amper klaar met die finale ding, so omdat niemand comment nie het ek maar net aangegaan. Ek post vandag 2 dele.

Juan gooi die springtou gefrustreerd in die hoek van sy kamer en val dan met sy sweterige lyf en al op sy bed neer. Hy haat dit om nie by die party te kan wees nie! Almal gaan daar wees – soos in álmal! Behalwe vir sy bekommernisse oor Rozaan, is dit tyd dat hy saam met die main manne kuier as een van hulle. Hy ken die meeste van hulle al van laerskool af en met sommige van hulle is hy al lankal redelike goeie vriende, maar nou is hy in ‘n spesifieke posisie as Eerstespan-skrummie en hy wil nie hê die ouens moet dink hy is eintlik ‘n softie wat eerder by die huis wil bly en bolle rol as om saam hulle te kuier nie. ‘n Mens word bitter vinnig uitgesluit. As jy nie jouself deel máák van die groep nie, gaan niemand dit doen nie, en as jy weer sien sit jy alleen. En om uitgesluit te wees van die Eerstespan terwyl jy vir hulle speel, is nie net ‘n gedagte wat vir Juan koue rillings gee nie, maar ook iets wat ongelooflik vernederend kan wees.
Dit het ‘n paar jaar vantevore met ‘n ou gebeur en die dorp het behoorlik gegons oor die outjie wat maar net nie by die span ingepas het nie. Allerhande belaglike bespiegelings het oor die arme ou rondgeloop, natuurlik die gewone ou simpel stories oor sy seksuele voorkeure wat die leitou geneem het. Dit was nie lank nie, toe quit hy in elk geval die span. ‘n Verlies, want hy was op daardie stadium die skool se vinnigste atleet oor 100m, 200m en 400m. Juan snork. Dit alles net omdat hy nie juis saam die main manne gekuier het nie. Hy sal nogal graag die regte rede daarvoor wou weet.
Juan staan op, neem die klein gymhanddoekie en vee oor sy gesig en bolyf. Hy wonder hoe lank sy pa beplan om hom gehok te hou. In die verlede het dit nog nooit langer as ‘n paar dae geduur nie, maar then again, hy het nog nooit steroïede-inspuitings by die skool ingespuit en is daarvoor gevang nie. Dit mag dalk sy pa se besluit ietwat kompliseer, dink Juan grimmig. Intussen doen hy drie keer ‘n dag sy cardio en hy drink sy supplements getrou. Dít volg hy presies volgens die voorskrif – na die affêre met die inspuitings het hy nie lus om ‘n bloutjie met dit wat hy actually mag gebruik ook te loop nie.
Sy kamer voel skielik te warm en Juan besluit om onder die stort te gaan inspring. Die strale water wat op sy gespanne skouers spuit, bied welkome verligting en Juan kan voel hoedat sy spiere effens skiet gee. Hoekom dinge by die huis ook so tense moet wees, weet hy regtig nie. Ja, goed, hulle was nog nooit sonder probleme nie, maar dit was nog nooit iets major nie – klein goedjies, af en toe. Maar deesdae…dis ‘n ander storie. Dis asof sy ouers opgehou het om met mekaar en met hulle te praat. Ja, goed, hulle práát nog fisies met mekaar, maar dis sulke niksseggende sinne, sulke leë woorde. As hy net kon verstaan wat aan die gang is, sou dit seker ook help. Iewers moet dinge tog weer begin beter gaan.
Juan skud sy kop. Dalk verbeel hy homself, dalk is dit sy hormone, dalk is dit puberteit. Hy móét net ontspan!
Dan besef Juan die absurditeit van sy gedagtes. Hel, al die druk van buite en hier pressure hy homself ook nog om te ontspan…dit tref hom soos ‘n nat vis deur die gesig. Man, dit is net crazy! Hy sal vanaand ‘n bietjie vroeër bed toe gaan, ‘n paar ontspanningstegnieke wat hy een keer in ‘n tydskrif raakgelees het probeer. Hy moet sommer ‘n slag Bybel lees ook, hy het heeltemal te lank laas. Hy voel ‘n bietjie soos ‘n hypocrite as hulle Sondagaande by die Jeug is. Die ander kinders dink sy geestelike lewe is fine, maar hy skeep dit eintlik heavy af. Miskien as hy dit regkry, sal die ander dinge ook in plek val.

*****

By Jacques Steynberg se huis is die partytjie in volle swang. Musiek dreun raserig die soel naglug in en orals is daar lywe wat op die maat daarvan dans. Skielik kom ‘n klomp van die ouens van die tuinhuisie se kroeg af na ‘n groep meisies toe aangestorm en gryp hulle om hulle in die swembad te gooi. Gillend protesteer die meisies halfhartig en met ‘n geplons en ‘n gespat van water beland ‘n hele paar van hulle in die groot swembad, die ouens inkluis. Frans, wie se idee dit was, gil uitgelate ‘n oorwinnigskreet vanuit die warm swembad.
Van waar hy eenkant op een van die patiostoele sit met sy hande om ‘n bier gevou, aanskou Rufus die situasie met gemengde gevoelens. Dis nie ‘n bad party nie. Die musiek is lekker, die atmosfeer is gesellig en daar was selfs ‘n reuse tafel vol allerhande snacks op – en nie sommer net chips en dip nie! Dit was duidelik dat een of ander gourmet chef ‘n paar lang ure in ‘n kombuis deurgebring het. Hy kon aflei uit die ander ouens se gepratery, en deur doodeenvoudig rondom hom te kyk, dat hier báie geld in hierdie huishouding teenwoordig is.
Wihan kom na hom toe aangestap met ‘n bier vir hul elk.
“Thanks, Wihan,” sê hy en klink syne teen Wihan s’n. Wihan vat ‘n groot sluk van sy bier.
“Wat sit jy so eenkant? Jy moet mingle, tjomma.”
“Ja, ja,” antwoord hy bietjie verleë. “Ek skep net ‘n bietjie vars lug. Dis flippen bedompig daar by die bar!”
Wihan lag en vat nog ‘n sluk van sy drankie.
“You got that right. Gepraat van warm, hier is ‘n paar hot girls by die hierdie party.”
“Jip,” stem Rufus saam. “Dit kan jy weer sê!”
Wihan babbel voort langs hom, maar Rufus besef skielik dat hy heeltemal vergeet het om vir Rozaan dop te hou, en nou kry hy haar nêrens te sien nie. Shit! Waar kan sy wees? O, crap, o, crap, o, crap! Juan gaan die lewe vir hom hel maak as hy vanaand opslip.
“Jy dalk vir Rozaan gesien?” onderbreek hy Wihan wat besig is om die meisies te rate. Wihan trek sy mond op ‘n plooi.
“Ek dink sy was een van dié wat in die water gegooi is. Hoekom?”
“Moet haar gou iets gaan vra,” antwoord hy vaag.
Wihan maak sy bier klaar.
“Okay. Ek gaan gou nog ‘n bier kry. Moenie sonder my waai nie, oraait? As ons saam ry huis toe kan ons mekaar darem opcheck dat ons veilig is!”
Rufus lag.
“No sweat.”
Met sy oë soek Rufus tussen die laggende, gillende meisies in die swembad en sien dan vir Rozaan waar sy en Lisa in die water rondplas. Op die ingewing van die oomblik trek hy sy hemp uit en spring ook in. Die ouens is besig om die meisies te dip en in die water rond te skiet en skielik is dit die perekte geleentheid vir hom om te join.
Toe die meisies sien dat Rufus saam met hulle in die water is, klink die gille so hard en so deurmekaar op dat ‘n mens nie kan agterkom presies om watter rede hulle histeries raak nie. Frans kry ‘n kleinerige plastiek-rugbybal van êrens af en gooi dit na hom toe.
“Toe, meneer Waterkloof, wat sê jy: dink jy die girls kan die bal by ons kry?”
Rufus sien die uitdagende kyk in Frans se oë en weet hierdie is ‘n maak of breek punt.
“Nie as dit van my afhang nie!” sê hy dan met ‘n glimlag, gooi die bal terug vir Frans en swem dan nader. Die ander ouens sien dit raak en hulle kom almal blitsvinnig bymekaar, terwyl die meisies eenkant op hul eie groepeer.
“Okay, manne,” begin Frans en sy oë vonkel stout. “Daar is net een ding waaroor ons gou moet praat: wanneer ek skree ‘knoffel’, vergeet van die bal en duik vir ‘n girl se ass. Boudbyt!”
Die ouens bars kliphard uit van die lag en die meisies kyk wantrouig in hul rigting.
“Stefan, jy gaan diep. Rufus, sorg dat jy oop bly. Die res van ons, sprei uit en moenie laat ‘n klomp girls ons name gat maak nie. Oraait?” Ondeund lag die ouens saam en neem dan stelling in. Die meisies is ook klaar gekoukus en versprei deur die swembad.
“Reg?” skree Frans en gooi dan die rugbyballetjie hoog die lug in.

*****

Dis donker en stil in die Steyn-huis, maar Leon lê wawyd wakker in sy bed. Hy wonder wat gaan by Jacques se partytjie aan? Man, hy sal wat wou gee om daar te wees! Frans het vroeër die aand vir hom ‘n foto of wat ge-mms en dit lyk regtig soos die partytjie van die jaar. Okay, die eerste prentjie was van Frans wat met ‘n uitgesteekte tong voor die bar staan, maar nogtans. Die ander prentjie het darem ‘n groter view van die party self gegee.
Leon spits sy ore om te hoor of sy pa snork. Dis tjoepstil in die huis. Vir ‘n oomblik oorweeg Leon die gedagte om uit te glip en op ‘n manier by die party uit te kom. Dis min genoeg dat ouens van die twee aartsvyand-skole saam kuier. Ja, sure, almal ken wedersyds iemand in die ander skool en almal het oor en weer vriende, maar daar is min partytjies wat regtig só groot is en wat almal akkomodeer. Gewoonlik, as daar ‘n party is, hou die ouens van dieselfde skool maar bymekaar. Op die rugbyveld is daar in elk geval geen genade nie, maak nie saak hoe close buddies julle is nie. Daar gaan dit om net een ding: die groot, blink trofeë waarom die twee skole elke jaar meeding. Hulle val in dieselfde liga en moet teen mekaar meeding, maar hulle is ook tradisioneel opposisieskole en daarom het die skoolhoofde dit al lankal goed gedink om hulle om ‘n trofeë te laat speel.
Leon kan nie wag vir die Derby-dag nie! Hy raak sommer opgewonde as hy net daaraan dink. Van vroeg af al wemel die sportgronde gewoonlik van die mense – skoolkinders, familie, ondersteuners, werwers en keurders. Hy voel hoe die vlinders in sy maag met eens lewe kry. As hy vanjaar die keurders kan beïndruk…hy wil bitter graag in sy lewe Cravenweek speel. Op laerskool het hy, hoewel hy heelwat skraler was as die ander outjies van sy ouderdom, dit tog gemaak tot op streeks-provinsiale vlak. Hy onthou nog hoe lekker dit vir hom was toe hy een van die keurders aan ‘n ander hoor sê het toe hy verby hulle stap: “Jitte, daardie mannetjie tackle darem maar ‘n hond uit ‘n bos uit! ‘n Mens kan sien hy’t hart.”
Hy het nie omgekyk nie en aangestap asof hy dit nie gehoor het nie, maar sy hele binneste het sommer so geelwarm geword van lekkerte. Wow! het hy gedink. ‘n Provinsiale keurder dink ek het hart.
Dit sou egter nie heeltemal genoeg wees om hom tot op provinsiale vlak te neem nie en sedertdien is dit een van Leon se groot drome. Die afgelope paar jare het hy homself daarop toegespits om ‘n spesialis op sy posisie te word. Hy het elke Sports Illustrated en SA Rugby waarop hy sy hande kon lê, verslind en alles oor senters, en veral binnesenters, ingedrink en toegepas. Oor naweke sou hy een van die duiksakke by die skool leen en dan agter in hul erf, vir ure aanmekaar, sy skouers teen die sak gooi. Laag ingaan, Leon, laag ingaan. Albei skouers, leer om met albei skouers te kan tackle.
In ‘n poging om te oefen hoe om ‘n bewegende opponent te lak, het hy die duiksak een dag aan die wasgoedpaal se een windmeularm vasgemaak. Hy het die wasgoedpaal so hard as moontlik gespin, ‘n vinnige draai gehardloop en op die sak afgestorm. Met die duikslag het hy die hele paal saam hom geneem en besef dat die plan dalk nie so lekker gaan werk nie. Sy pa moes die oggend werk en nog voordat hy terug by die huis was, was die paal weer op sy plek. Toegegee, die een arm het bietjie meer gebuig gelyk as voorheen, maar toe Fanie Steyn die middag by die huis kom en die wasgoedpaal sien, het hy net effens gefrons, stip na die paal gekyk…en toe ‘n trekkie van ‘n glimlag op sy gesig gekry.
Al die ekstra ure wat hy ingesit het, het vrugte afgewerp en dit is een van die redes hoekom hy al die vorige jaar by die Eerstes se oefengroep ingesluit was. Sy dodelike plettervatte is wyd bekend en dis vir hom wat Leon is, lekker om te weet daar is iets waarin hy vrek goed is. Nie dat hy noodwendig daarop uitgaan om die ouens onnodig af te skryf nie, maar dit bly ‘n kontaksport en ‘n tawwe een daarby! En dit is tog lekker om te hoor hoe ‘n opponent sy wind met ‘n harde hikgeluid verloor.
Leon luister weer of hy sy pa kan hoor. Nog steeds is daar geen geluid nie. Vir ‘n sekonde of twee oorweeg hy dit om tóg na die partytjie toe uit te glip. Hulle sal nog nie nou al klaar wees nie, dit weet hy goed. Dan besluit hy finaal daarteen. Om daar te kom, beteken hy sal óf fiets moet ry, óf hy sal sy pa se bakkie moet steel en dit gaan beslis sy pa wakker maak. Nee, die risiko is net té groot. As hy sy pa nou gelukkig hou, kan hy dalk die volgende keer meer toegeeflik wees.

*****

“Stefan!” skree Rufus en gooi die rugbyballetjie, wat hy sopas by Corna afgeneem het, vir die ander seun. Die meisies stoei hard om besit vir die balletjie, maar dis duidelik ‘n spul kranige rugbyseuns wat saam hulle in die water is en hulle maak dit nie vir die meisies maklik nie. Hier en daar behaal hulle wel sukses – Corna is immers Hoërskool Bergkruin se Eerste Netbalspan-senter en sy en haar eweknie van Ewoud Heymans maak vanaand ‘n goeie span.
Corna duik voor Frans verby en dis net die oomblik waarvoor hy gewag het.
“KNOFFEL!” bulder hy skielik en onmiddellik is daar chaos in die verhitte swembad soos wat die ouens duik om elkeen ‘n meisie aan die boud te hap. Dit vind met gemengde welslae plaas en dis eintlik maar net ‘n geskree en ‘n gelag en baie water wat gespat word. Lisa trek selfs met ‘n elmboog los en tref vir Stefan solied op sy neus.
“Aaah!” skree die seun en hou sy bloeiende neus vas. “Son of a bitch!”
Die ander ouens lag vir hom en Wihan, wat ook kort ná die begin van die aanvanklike speletjie ingespring het, help hom uit.
Rufus sien hoedat Rozaan vir ‘n ietwat verbaasde, maar tog trotse, Lisa niksvermoedend gelukwens, terwyl Frans regmaak om agter haar in te duik. Hy wonder of hy dit moet keer. Dit tel seker nie as vry nie, maar…Toe hy sien dat Frans onder die water ingaan, doen hy dieselfde en swem nader. Net voordat Frans op sy prooi kan toesak, stamp Rufus hom eenkant toe en maak asof dit eintlik hy was wat vir Rozaan gemik het. Die twee seuns breek saam die oppervlak van die water.
“Sorry, ou, my fout,” maak hy kamstig verskoning. Frans sluk die aas.
“Nee, no worries,” sê hy en vervolg dan fluisterend. “As ek geweet het jy wil haar vanaand score, sou ek nie vir haar gegaan het in die eerste plek nie!”
Rufus lyk ‘n oomblik uit die veld geslaan.
“Hoe nou?”
Frans sit sy arm om sy nek en trek hom na die rand van die swembad toe.
“Die ou wat dit regkry om ‘n girl se boud te byt, het eerste dibs op haar en sy is off limits vir die ander ouens vir die res van die aand. Ken jy nie die game nie?”
Rufus lag en vee met sy hand die water van sy gesig af.
“Nie daardie version nie! Pleks jy sê my?” gaan hy gemaak-ernstig voort.
“Jip,” gaan Frans voort. “Man, ek sou nie gemind het om daai gat ‘n hap te gee nie. Haar boyfriend is nie eens hier om my te stop nie. Dalk moet ek tog try om haar om die hoekie te lei.”
Dis presies wat Rufus bang was hy sou sê en probeer dan Frans se aandag op iemand anders fokus.
“Wat van Corna? Sy’s nogal hot en losserig.”
Frans skud sy kop.
“Nee dankie, pêl. Been there, done that, got the sifilis. Nie weer nie.”
Rufus se mond val in ongeloof oop.
“Genuine?”
Frans knik instemmend en ietwat verleë.
“Ja, so…nee, ek raak nie weer aan daai girl met ‘n tang nie. Jy kan haar maar kry as jy wil.”
Rufus keer heftig.
“Nee, dis okay, thanks. Ek het in anyway ‘n…”
Hy sny sy sin in die middel stomp-af. As hy nou vir Frans moet laat weet hy het ‘n meisie, gaan dié by hom wil weet hoekom hy vir Rozaan soek en hy is nie lus om dit nou alles te verduidelik nie.
“Ek bedoel, ek moet ‘n draai gaan loop,” probeer hy cover.
“Pee sommer in die swembad,” laat hoor Frans van hom. Rufus lag, klim dan uit en steek sy hand na Frans toe uit om hom ook uit te help.
“Dis ‘n nommer twee, pêl. Mense gaan dit sien.”
Frans kry meteens ‘n idee.
“Was daar nie sulke Lunch Bar-goed op daai tafel nie?” vra hy en hardloop dan gly-gly na die groot tafel toe met die eetgoed op.
Rozaan het ook uit die swembad geklim en staan eenkant met ‘n handdoek om haar lyf en gesels met Lisa en ‘n paar van hul ander vriendinne. Rufus kan sien hoekom Juan vir haar gegaan het: die girl is ‘n absolute babe! Haar swemklere beklemtoon elke stukkie van haar pragtige lyf en haar nat, gitswart hare wat nou in sulke slierte op haar skouers hang, is genoeg om enige ou heeltemal van sy sinne te beroof.
Rozaan kan uit die hoekie van haar oog sien hoedat Rufus haar aanstaar. Jeepers, ouens is darem so obvious! Dit lyk nie eens asof hy dit probeer wegsteek nie. Wel, een van die redes hoekom sy by hierdie party is, is tog om ‘n ander ou te vry en Rufus is by verre die hotste ou by die partytjie.
“Jy weet hy check jou uit, nè?” vra Lisa skelm.
“Uh-huh,” sê Rozaan.
“Jy weet hy kom hiernatoe aangestap, nè?”
“Uh-huh!”
Rozaan voel opgewonde. Dis nie asof sy iets meer by hom soek nie, maar sy gaan beslis nie nee sê as hy haar na een van die tuin se donker hoekies toe trek nie.
“Hey,” sê Rufus toe hy by hulle kom.
“Hey jouself,” groet sy vriendelik terug. Tergerig gly haar oë onverbloemd oor sy sterk lyf. Rufus sien dit. Oh boy, dink hy. Hier kom moeilikheid.
“Wil jy gou saam met my…ek gaan gou…” Rufus sukkel om die woorde uit te kry op só ‘n manier dat sy nie die idee kry wat hy dink sy het nie. Rozaan het egter lankal daardie idee en sy vat hom net aan die hand.
“Kom.”
Sy lei hom na die westekant van die groot tuin, in die rigting van die tennisbaan, waar daar baie groot struike is wat die sig van nuuskierige koekeloerders sal versper. Die gras is ‘n week vantevore gesny en is sag en klam onder hul kaal voete.
Toe sy seker is dat niemand hulle kan sien nie, sit Rozaan haar hande om Rufus se nek en trek hom nader.
Dit vat elke greintjie wilskrag wat hy bymekaar kon skraap, maar net voordat hulle lippe mekaar ontmoet, keer Rufus haar.
“Rozaan…”
Rozaan, wat al haar oë toegemaak het in afwagting op die soen, kyk hom tergerig aan met haar neutbruin oë.
“Wat nou, jou sexy ding?”
Rufus weet dat as daar medaljes vir dié soort ding was, het hy verseker ‘n goue gekry, want weer ‘n keer weerstaan hy die versoeking om tog maar toe te gee en die girl vuurwarm te vry.
“Dis…dis Juan,” kry hy dit uiteindelik uit.
“Wat van hom?” vra sy kort-af. Hel, dink Rufus, nou moet ek my woorde mooi kies!
“Hy…ek en hy het vanmiddag na skool bietjie gechat en goed en ek weet dit klink weird omdat ons die eerste slag toe ons mekaar ontmoet het nou nie juis gebond het nie, maar ek dink dat ons dalk pêlle kan wees. As ek nou sy girl sou score…dit sou dinge net opneuk.”
“So, jy kies my ou bo my?” kom Rozaan se onverwagte vraag. Rufus maak haar hande, wat nog steeds om sy nek gevou is, los en hou dit dan in sy sterkes vas.
“Dis nie dit nie, glo my. Onthou, ek het ook nog ‘n meisie. Ons sou albei nou gecheat het, besef jy dit? En ek dink nie dat Juan of my girl dit van ons af verdien nie. Wat dink jy?”
Rozaan sug saggies. Hy het ‘n punt beet.
“Ja…dis net…” begin sy, maar ou dan op. Sy kan nie glo sy gaan haar gevoelens met hierdie hunk deel terwyl sy hom eintlik wou vry nie, maar nou ja.
“Sien, ek en Juan het op ‘n vreeslike romantiese noot afgeskop en alles was net perfek, jy weet. Ons was dié couple toe die skool weer begin het. Almal het gesê ons pas so goed bymekaar en alles was net soos dit moet wees.”
“Nou hoekom wil jy dan op hom cheat?” vra Rufus.
“Want…ek is nie seker hoe ek oor hom voel nie. Ek dink hy is liewer vir my as ek vir hom en ek is bang sy jaloesie vernietig ons altwee,” kom dit vreeslik melodramaties.
“Wat?” lag Rufus. “Dis die grootste klomp crap wat ek nog van ‘n girl af gehoor het!”
Rozaan rol haar oë.
“Ja, okay, vergeet van die jaloesie-stukkie, maar die res is actually waar. Hy is ‘n moerse nice ou en alles, ek is net nie heeltemal seker of ek reg is om die verhouding ernstiger te neem nie.”
“Nou vir wat sê jy dit nie reguit vir hom nie? Ons ouens like dit as girls ons in hulle vertroue neem, weet jy.”
Rozaan voel skuldig.
“Jy’s seker reg.”
“Natuurlik is ek reg. Ek is ‘n ou.”
Rufus besef meteens hoe dit geklink het.
“Ek bedoel, ek is reg oor hoe ons ouens dink,” probeer hy opmaak. Rozaan proes toe sy sy ongemak sien.
“Relax! Ek is nie een van daai feministiese bitches nie. Aaah! Julle ouens kom ook met moord weg, weet jy?”
Rufus bloos en hy kan sweer sy kan in die maanlig sien hoe rooi hy word.
“So, is jy nog lus om te bly? Of gaan ons waai?”
Rozaan vee haar hare uit haar gesig uit.
“Kom ons gaan. Ek gaan net vir Lisa sê. Maar kom ons hou hande vas as ons van hier af loop, dan keer dit sommer die unwanted attention ook!”
Hierdie keer stap Rufus voor en eers toe hulle by haar vriendinne is, los hy haar hand.
“Ek kry net gou my hemp en my helmet.”
Terwyl sy ‘n opgemaakte storie vir haar opgewonde vriendinne vertel, tel Rufus sy hemp, wat nog al die tyd op die patio-stoel gelê het, op en pluk dit oor sy kop. Hy sien vir Wihan, waar hy en die ander manne by die bar staan en kuier. Wihan sien hom ook raak en kom aangestap.
“Gaan ons spore maak?” vra hy. Rufus knik.
“Jip. As jy reg is?”
Wihan sluk die laaste slukkie bier af.
“Let’s go.”
Teen die tyd dat hulle by hul motorfietse kom, wag Rozaan en Lisa al klaar vir hulle daar. Rozaan klim agter by Rufus op en Lisa gaan sit agter Wihan. Sy slaan haar arms om Wihan se lyf en hy glimlag skielik breed.

*****

Toe Juan se selfoon uiteindelik piep, is hy nog wakker. Hy het, nadat hy ‘n hele spul ontspanningstegnieke toegepas het, begin Bybel lees, die storie van Daniël, en dit het hom so gefascinate dat hy nie kon ophou nie.
Juan kyk op sy selfoon:

Als was fine. Jou girl is safe. Sien Maandag.

Verligting spoel deur hom en Juan glimlag. Dit moes eintlik nogal baie van Rufus gevat het om Rozaan vanaand so die heeltyd op te check. Hy skuld die ou groot!
Dan skiet ‘n ander gedagte skielik vir Juan binne. Hy moet vir Rufus bietjie saamvat Jeug toe. Dis ‘n heelwat gesonder omgewing as Jacques Steynberg se parties en hy soek al lankal ‘n vriend om saam hom te gaan. Ja, hy sal hom môre sms en sê hy moet saamkom.
Binne oomblikke is Juan vas aan die slaap.

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: