Punch-Vat Helde

Okay, hierdie is die heel varsste, updated weergawe van die storie wat bestaan. Lees, comment en geniet! Maar onthou net, ek het copyright…

PUNCH-VAT HELDE
deur Tiaan van Niekerk

DEEL 1

Juan van Vrede staar nikssiende na sy skoene waar hy in die skoolhoof, mnr. Spies, se kantoor sit. Mnr. Spies sit die foon terug op die mikkie en vou sy hande.
“Jou pa sal nou hier wees om jou te kom haal, Juan. Ek moet sê ek is regtig uiters teleurgesteld. Jy is werklik die laaste leerling van wie ek dit verwag het.”
Mnr. Spies rammel voort, maar Juan kyk nie op nie. Hoe kan hy begin om te verduidelik? Dit sal nie eens help nie. Onderwysers verstaan tog nooit nie. Minste van almal mnr. Spies. Die ou droë ding feature net by sportgeleenthede omdat die hoof daar móét wees. Verder weet hy niks van wat daar aangaan nie. Hoe sal hy ooit die druk kan verstaan wat daar op die skool se sportpresteerders rus? As ‘n mens vir die Eerste Rugbyspan op skrumskakel uitdraf, is jy met ‘n vingerklap openbare besit. Almal in die dorp ken jou skielik en al die kinders by die skool wil jou vriend wees. Veral as jy dit al in graad 10 regkry.
Dis net, almal se verwagtinge het vir Juan heeltemal onkant gevang. Hy het geweet hy kan onmoontlik al die valkoë wat hom dophou, teleurstel. Hy is skaars twee weke vantevore gekies vir die span wat tydens die rugbyweek gaan speel. Dit is ‘n seker teken dat jy ook vir die Eerstes gaan speel wanneer die liga begin.
Die inspuitings het na ‘n maklike oplossing gelyk…en net voor hy homself kon inspuit, vang daai stupid nerd-prefek, Henkie, hom. Dit was eintlik sy eie skuld – die skool se badkamers is seker die domste plek om so iets te doen, maar dit was net hierdie een keer. Hy het nog altyd net gewone supplements gebruik, soos al die ander ouens wat gym. Hierdie was die eerste keer dat hy iets probeer het wat hy skelm moes doen.
“Dit kan jou jou plek in die Eerstespan kos, weet jy,” dring Mnr. Spies se stem tot hom deur. Juan kyk verskrik op.
“Nee, asseblief Meneer, ek vra mooi. Dit was regtig die eerste keer, die enigste keer. Ek het nog nooit so iets gedoen nie. Asseblief, Meneer, net nie my plek in die span nie. My pa sal…” Juan dink aan sy pa. Sy pa sal dit wat vandag gebeur het nooit oorleef nie, besef Juan. Nie dít nie.
“Hy sal my nooit vergewe nie.”
Mnr. Spies loer na hom van onder sy uilagtige wenkbroue.
“Juan, ek wil hê jy moet besef hoe ‘n ernstige oortreding dit is. Dit val onder dwelmgebruik op die skoolterrein. Ek is eintlik veronderstel om jou summier te skors. Maar gelukkig ken ek jou en ek weet dat jy nog baie vir die skool en die Eerstespan kan en gaan beteken. Maar dan moet jy jouself regruk. Daarom gaan ek jou net ‘n skriftelike waarskuwing gee. Jy kan self vir jou pa vertel hoekom hy jou vroeër as gewoonlik by die skool moes kom oplaai.”

*****

Wihan Gerber is vroeg op die veld. Hy kom altyd so 20 minute voor rugbyoefening veld toe om sy skopwerk te oefen. As Eerstespan-losskakel kan hy nie bekostig om teleur te stel nie. Nie hierdie jaar nie. Dit is die eerste keer in ‘n lang tyd dat hulle skool ‘n ordentlike losskakel het. Hy besef maar alte goed dat daar meer as net sy reputasie op die spel is. Reeds in graad 7 was hy al verkies tot die provinsiale o/13 Craven Week-span en van toe af is hy geoormerk om die volgende groot losskakel van Hoërskool Bergkruin te word. Hy het elke jaar sy bes gegee, maar toe hy die vorige jaar uiteindelik vir die ope spanne begin speel, het die afrigters hom met opset nie vir die Eerstespan gekies nie.
Hoërskool Bergkruin bied jaarliks ’n rugbyweek aan waaraan by die twintig skole deelneem. Om hier vir die Eerste Rugbyspan van Hoërskool Bergkruin uit te draf, is iets waaroor elke seun in die skool droom. Dit is immers ‘n eer om jou skool te verteenwoordig. Die hele dorp drom daardie week saam en vanoor die hele land reis skole na Bergkruin toe om te kom deelneem. Al die stalletjies, besoekers en gees wat die deelnemende skole bou, maak van die week ‘n hoogtepunt in die jaar. Hier het jy die geleentheid om vir die hele dorp en vir al die talentsoekers te wys presies wat in jou steek.
Dis met die rugbyweek in sy kop dat Wihan weer aanlê en lostrek met ‘n skop wat hy redelik in die hoekie opgestel het. Dis net-net regs verby en hy draf om die bal te gaan haal.
“Hey! Wat skop jy soos ‘n paloeka?” hoor hy iemand skree. Wihan kyk om en sien sy vriend Sibusiso Mdladla wat met sy toks om sy nek by die veld aankom.
“Ag, sjarrap jy, jou houtie!” skree hy terug. Hy sien hoe Sibu krul soos hy lag. Wihan tel die bal op en draf nader.
“Ja, white boy, gee bietjie hier dat die houtie jou wys hoe,” sê Sibu toe Wihan by hom kom. Wihan hou die bal terug.
“A-a-a. Gaan was eers jou hande, ek wil nie pap op my bal hê nie.”
“Ag aseblief. Al wat jy sal sien, is ‘n sousstreep,” hap Sibu hom terug. Wihan lag.
“Nou toe, wys my, laat ek sien.”
Sibu vat die bal en gaan stel hom min of meer op dieselfde plek op van waar Wihan se vorige skop was. Hy meet sy treë af, draai dan om en hurk vooroor. Hy wikkel ewe plegtig sy tongetjie voordat hy vorentoe hardloop en die bal tref. Die bal trek laag en skuur onderdeur die dwarslat.
“Laduma!” skree Wihan. “Jy moet maar by sokker bly, pêl!” Sibu se stelskopvermoë is nie juis watwonders nie, maar hy is so sterk soos ‘n bees en so rats soos ‘n kat – die skool se beste vleuel.
Sibu gaan haal die bal en draf laggend terug na Wihan toe.
“Ja, okay. Die sokkerboys het my weggejaag. Hulle tune ek’s ‘n coconut.”
“It sucks to be you,” kom dit lakoniek van Wihan af.
Sibu gooi vir hom die bal.
“Het jy gehoor wat vandag met Juan gebeur het?”

*****

Leon Steyn gooi sy gymsak oor sy skouers en begin huistoe draf. Hierdie is elke middag se roetine: rugbyoefening ná skool, dan gym toe draf, ‘n goeie sessie insit en dan terugdraf huistoe. So maak hy seker dat hy topfiks bly vir die strawwe seisoen wat voorlê. Al die oefening het sy lyf hard en soepel gemaak en hy weet die girls vrek daaroor as hy sy hemp uittrek. Hy raak egter elke keer só ongemaklik dat hy bloedrooi begin bloos. As hulle maar net weet hoeveel ure se werk daarin gesit is! Veral vir hom. Hy was nie altyd so sterk gebou gewees nie. Toe hy jonger was, was hy eintlik nogal tingerig. Hy het maar eers op hoërskool so swaar begin gym, maar toe die gogga hom eers gebyt het, was daar geen keer aan hom nie.
Die strate waarlangs Leon draf is heerlik skaduryk. Die stokou akkerbome maak ‘n koepel bokant sy kop en keer die laatmiddaghitte weg sodat sy natgeswete lyf kan afkoel. Die seisoen wat voorlê gaan nie maklik wees nie. Hy draf vanjaar vir die tweede keer uit vir Hoërskool Ewoud Heymans se Eerstes op binnesenter. Verlede jaar het hy eintlik meer gebench as wat hy regtig wedstryde vir die Eerstespan gespeel het, maar elke keer dat hy op die veld gedraf het, het die opwinding deur sy are gebruis. Hy is mál daaroor om sy arms om ‘n aanstormende opponent se bene te slaan en hom te laat gras vreet. Al die ander skole weet van hom en is bang vir hom, daarvan is hy maar alte bewus. Nie dat hy vuil speel nie. As ‘n mens ‘n geel kaart kry, moet jy vir tien minute uitsit en dit pas hom soos ‘n gat in die kop. Daarom tackle hy so hard as wat hy kan, so skoon as wat hy kan. Dan kan ‘n mens tog die hele wedstryd speel!
Vandag is die hitte vir Leon net een te veel. Toe hy by die huis kom, gooi hy sy gymsak in sy kamer neer, trek sy hemp uit en spring sommer so met sy oefenbroekie bo-oor die muur in die erf langsaan in. Hy swem altyd daar omdat hulle nie self ‘n swembad het nie. Die koel water is lekker verfrissend en Leon kan voel hoedat die knope in sy spiere skiet gee.
Hy swem nog ‘n lengte of wat onder die water en kom dan op. Die een seun wat in dié huis woon staan op die kant en wag hom in.
“Yes, tjomma!” groet hy hom toe Leon die kant bereik.
“Yes, Wihan! Wat sê jy?”

*****

Juan slaan sy kamerdeur toe en plons dan voor sy rekenaar neer. Sy pa het hom wragtig gehok! Hy het presies gereageer soos wat Juan gedink het hy gaan. Eintlik erger. Toe hy uitvind van die inspuitings, was hy buite homself van woede.
“Is jy nou ‘n junkie, hè? Wil jy nou saam met die junkies in die strate jouself gaan loop en inspuit? Watse tipe mens is jy, Juan?! Hoe de moer het ek julle groot gemaak? Jou ondankbare klein stuk stront! Ek sal jou wys. Ek sal jou belet om enige plek heen te gaan. Nie gym toe nie, nie winkels toe nie, nêrens heen nie! Kom ons kyk hoe bou jy nou spiere, jou patetiese klein flop!”
Sy pa het by die kombuisdeur uitgestorm en hom net daar laat staan. Vir ‘n oomblik was Juan heeltemal oorbluf. Die woorde was soos vuishoue wat sy wind heeltemal uitslaan. Hy het geweet sy pa gaan dit nie ligtelik opvat nie, maar hy het nou nie heeltemal verwag om ‘n flop genoem te word nie. Hy het toe maar na sy kamer toe gestap terwyl sy pa se woorde die heeltyd in sy kop bly maal het.
“Jou ondankbare stuk stront…jou patetiese klein flop!”
Hy wens sy pa het hom eerder met ‘n sambok geslaan. Dit sou nie naastenby so seer gemaak het nie.
Sy pa…Martin van Vrede het pens en pootjies in die botter geval die dag toe hy met Selma Weyers, die tweede kind en oudste dogter van een van die rykste families op die dorp, getrou het. Martin het maar arm groot geword. Sy pa se vis en tjips besigheid in die onderdorp, naby die taxi-staanplekke, het net-net goed genoeg gedoen sodat hulle darem kon oorleef. Vandag is hy ‘n gesiene man en een van die grootste motorhandelaars op die dorp. Martin Motors, wat hy met Juan se oupa se geld begin het, doen uitstekend en sy golf-voorgee laat hom gereeld loop en spog. Maar vir Juan was sy pa was nog altyd iemand wat op ‘n afstand was. Iemand met wie hy nog nooit regtig diep dinge kon deel nie. Iemand wat ‘n reuse front vir die res van die dorp voorhou, maar tuis sy ware kleure wys.
Gelukkig is daar darem nog Rozaan. Rozaan Fourie…Die Desembervakansie by Ballito was net iets wat hy nog nooit voorheen beleef het nie! Ja, okay, hy het voorheen al kamstig met meisies uitgegaan, maar dit was net sulke gevryery agter in die skoolsaal tydens sokkies en stupid beertjie-sms’e. Met Rozaan is dit anders. Sy is nie so kinderagtig soos die ander girls nie en sy hou ook van sport, nes hy. Sy is ‘n hokkie-chick en speel vleuel vir die skool se tweede span. Sy doen blykbaar moderne danse ook, en saam met die hokkiespelery het dit gemaak dat sy lag-lag die mooiste paar bene in die skool het!
Maar die vakansie…dit was magic. Hy het nog nooit so oor ‘n girl gevoel soos hy oor haar voel nie. Elke dag besef hy net meer en meer hoe baie hy van haar hou. Van die begin van die skooljaar af is hulle al waaroor die kinders by die skool kan praat.
Juan trek sy selfoon nader. Hy wonder of sy nou op Mxit is? Gelukkig kan sy pa hom nie dit belet nie. Hopelik kom hy nie later en vat sy foon van hom af nie!
Juan sien dat die kolletjie langs Rozaan se naam nog groen wys. Hy glimlag effens. Dankie tog.
Hei, wmj? Tik hy. Hy het skaars die boodskap gestuur, toe sien hy dat Rozaan intussen offline gegaan het. Hy gooi sy foon op sy bed neer. Dit suck! Sy het hom seker nie gesien nie. Hy sal maar later weer probeer.
Sy gedagtes keer onwillekeurig terug na die gesprek in die kombuis. Sy verdomde pa! As sy pa in die eerste plek nie soveel pressure op hom gesit het nie, sou hy dit seker nooit gedoen het nie. Alles wat hy nog ooit aangepak het, het hy gedoen sodat hy sy pa kon beïndruk en sy goedkeuring kon wegdra. Daarom het hy van kleins af aan alle sportsoorte moontlik deelgeneem. Atletiek, rugby, tennis, krieket, swem. Hel, hy het selfs laasjaar by die skool se kadetorkes aangesluit!
Alles net sodat hy dalk ‘n regmerkie in sy pa se boekie kon kry. Hy wens sy pa wou net een keer, net één keer, vir hom sê dat hy raaksien wat Juan doen. Hoeveel keer nadat hulle ‘n wedstryd gewen het, het hy nie gehoop dat sy pa vir hom sou sê: “Mooi drie, my seun,” of “Jou tackling was vandag regtig goed” nie! In plaas daarvan was dit altyd iets in die lyn van “Mmm, julle mannetjies is nog maar lekker onfiks” of “Vir iemand wat nou net ‘n game rugby gespeel het, lyk jy nie regtig moeg nie. Het jy jou beste gegee?”
Vandag se kommentaar was egter vir Juan die toppunt. Na alles wat hy gedoen het, elke prestasie wat hy gekry het – elke atletiekrekord wat hy gebreek het, elke swemprestasie en elke drie wat hy gedruk het, noem maar op – is dít wat hy vir sy pa is: ‘n stuk stront, ‘n patetiese klein flop…
Hy sal hom wys. Hy sal cardio in sy kamer soveel as wat hy kan, hy sal squats doen, push-ups, sit-ups en pull-ups en touspring. Maar van nou af sal hy dit vir homself doen.
Juan skrik vir homself as hy besef wat hy voel: hy haat sy pa.

*****

Wihan sit sy tas voor hul registerklas in die B-blok neer, net toe Juan daar aangestap kom.
“Yes bra!” groet hy sy beste vriend sedert laerskooldae, al verskil hulle ‘n jaar. Juan kyk skalks op.
“Hey, ou. Wat sê jy?”
“Nee, stil man. Ons het jou gister by rugby gemis.”
Wihan is egter versigtig om die vraag te vra wat hy eintlik wil vra. Hy kan sien iets byt aan sy vriend. Dit gaan nie cool wees om hom nou te beskuldig nie, besef hy.
“Is jy okay?” vra Wihan vir Juan. Juan gaan staan ‘n oomblik skielik stil. Hy haal ‘n keer of wat stadig, diep asem.
“Kom ons gaan sit daar op die trappies. Ek gaan jou in anyway vertel en ons het nou tyd.”
Wihan is bly dat hy dit nie uit Juan hoef te trek nie.
“Sibu het allerhande goed kwytgeraak gister, soos dat jy op moerse roids…”
“Sjarrap! Wil jy stories hoor of wil jy die waarheid hoor?”
Wihan besef dat hy nou sy ore en mond in verhouding moet gebruik.
“Sorry, tjom. Ek luister.”
Juan kyk hom eers met geligte wenkbroue aan en vra hom dan:
“Laat ek net eers hoor: wat sê die rumours?
Wihan vou sy arms en rus dit op sy knieë.
“Wel, wat ek gehoor het, is dat jy gister in die badkamer deur drie prefekte gevang is. Jy het uitgepass gelê en dit was glo duidelik dat jy jouself met steroids ingespuit het. Daar was apparently naalde by jou. Van die rowwer weergawes sê ook dat hulle Tik by jou gekry het, sodat jy meer energie op die veld kan hê of so iets…”
“En jy glo dit?” vra Juan hom. Wihan skud sy kop.
“No ways, bra. Ek ken jou te goed vir dit, maar toe jy nie gister by rugby was nie, het ek nogals geworried begin raak. Dis hoekom ek jou nou self, reguit, vra.”
Juan se een mondhoek begin lig in ‘n glimlag.
“Thanks, buddy, ek waardeer dit dat jy na my toe kom. Die ander klomp is te chickenshit en ‘n skinderstorie is mos in anyway lekkerder as die waarheid.”
Wihan sit sy arm om sy vriend se skouers.
“Plesier, ou, jy ken my mos. Maar wat het nou rêrig gebeur?”

*****

Die tweede periode het pas aangebreek en Rozaan sit in die Bedryfsekonomie-klas, besig om deur haar langvrae te lees, toe die interkom skielik lewe kry.
“Juffrou Nothnagel, kan jy asseblief een van die graad 10’s afstuur kantoor toe? Hier is ‘n nuwe leerling wat hulle moet kom ontvang.”
“Goed so, Meneer!” antwoord Mevrou Nothnagel, ‘n middeljarige vrou met swart spykerhare, ietwat gedweë. Sy kyk verveeld in die klas rond.
“Rozaan, wil jy nie gou gaan nie, asseblief?” vra sy. Rozaan staan teësinnig op. Sy hou eintlik niks hiervan nie, hierdie hele nuwe-kind-ontvang-ding, en om die een of ander rede vra onnies haar altyd om dit te doen, al sedert haar laerskooldae. As dit ‘n ou is, is hulle gewoonlik sulke vaal japies wat dink hulle gaan haar in die gange score en as dit ‘n meisie is, verwag hulle om onmiddellik haar beste vriendin te wees. Sy sien nie werklik nou hiervoor kans nie.
Rozaan wens eintlik dis ‘n meisie. Vandag is nie die regte dag vir outjies wat aan die puberteit-en-puisie-kompleks ly nie. Eintlik is vandag glad nie die regte dag vir enige ou nie. Hoewel sy baie van Juan hou en hulle na die vakansie nie-amptelik as die hotste couple in die skool gesien word, is sy nie meer so seker dat sy wil voortgaan met die verhouding nie. Boonop het sy gisteraand boodskappe van Juan af gekry wat half anders was as gewoonlik. Dit het haar net nog meer deurmekaar gemaak oor hoe sy nou eintlik voel. Hy het heeltyd sulke goed gestuur soos hoeveel sy vir hom beteken, hoeveel hy haar mis, selfs dat hy haar liefhet! Dis só nie Juan nie, maar sy het besluit om hom nie nou al onraad te laat vermoed nie en het op die ou end ook vir hom ‘n sms gestuur met so gesiggie wat vir hom ‘n soentjie blaas. Sy het hom nog nie vanoggend voor skool gesien nie en ook nie in klas nie, omdat hy die eerste twee periodes Biologie het.
Sy voel half dat sy hom nie nou kan drop nie. Dalk is sy verkeerd, dalk moet sy tog maar probeer om hierdie ding te laat werk. Dis tog nie asof hy soos soveel ander ouens maak en hulle meisies met ander terte by iemand se stupid house party verneuk nie. Ja, dink sy terwyl sy afstap kantoor toe, sy gaan hierdie verhouding met Juan ‘n kans gee.
Toe sy by die kantoor instap, vervaag al haar goeie voornemens. Voor haar staan ‘n flippen sexy ou. Hy het grysbruinerige hare en die blouste blou oë wat sy in haar hele lewe gesien het. Rozaan kan sien hoe sy skoolhemp met moeite sy groot bo-arms binne hou. Hy glimlag vir haar toe sy binnekom en dis die mooiste, witste, perfekste glimlag.
Mnr Spies stel hulle aan mekaar voor.
“Rozaan, hierdie is Rufus Lambert. Hy en sy gesin het sopas van Pretoria af hiernatoe…”
Rozaan se hart slaan tamboer in haar bors en sy sukkel om op mnr. Spies se woorde te konsentreer.
“…ons is bly hy is nou deel van ons skool – Rufus sou vir Hoërskool Waterkloof se Eerstespan gespeel het as hulle nie verhuis het nie.”
Dit kan Rozaan nie in die minste skeel of hy vir Waterkloof of Affies of Monnas of vir Gatkantrand sou speel nie. Sy gee selfs nie om of hy vir Bergkruin speel nie. Al wat saak maak, is dat sy hom eerste gesien het en dat hy vir haar geglimlag het…
“Haai, ek is Rozaan,” sê sy skamerig en steek haar hand uit. Rufus vat haar hand en gee dit ‘n drukkie. Dis nie so petieterig soos wat party ouens sal doen nie en ook nie so grof soos wat ‘n mens van die rugbybrekers verwag nie. Dit voel net reg.
“Haai, Rozaan. Ek is Rufus,” sê hy en Rozaan is oortuig dat haar knieë gaan ingee. Hy het die mooiste stem! Dis so dieperig en manlik, maar nie grof en skor nie.
Sy glimlag weer dromerig terwyl sy in sy oë staar en besef dan dat hulle klas toe moet gaan.
“Kom saam, dan gaan ons klas toe,” kry sy dit skaapagtig uit. Rufus knik.
“Regso. Dankie, Meneer Spies. Ek sal vanmiddag half drie op die rugbyveld wees.”
Hy swaai sy boeksak oor sy skouer asof dit absoluut niks weeg nie. Rufus sien Rozaan kyk vol bewondering na hom en hy begin lag.
“Hier’s nog niks in behalwe ‘n paar skryfblokke en ‘n pennesakkie nie!”
Rozaan voel asof die aarde haar kan insluk. Hy het gesien hoe sy oop en bloot na hom staar! Hy stap tot reg voor haar.
“So, waar is ons klas?”

*****

Juan, Wihan en Sibu kom tydens langpouse van die snoepie se kant af na die speelgrond toe aangestap. Juan het dié dag nog nie vir Rozaan te sien gekry nie. Vroeg-vroeg het sy Bedryfsekonomie gehad terwyl hy Biologie gehad het, kortpouse was daar ‘n rugbyvergadering en daarna was hy in die Tegniese Tekeninge-klas. Toe langpouse aanbreek, het hy vir Sibu op die stoep raakgeloop en dié het eers daarop aangedring dat hy en Wihan saam hom snoepie toe stap sodat hy ‘n vleispasteitjie kon gaan koop.
Toe hulle om die draai van die gebou kom, gaan al drie doodstil staan.
“Sien julle boys wat ek sien?” vra Sibu deur sy pasteitjie se skilferkors.
“Die beste flank in skolerugby…” begin Wihan, maar Juan val hom in die rede.
“…staan by my girl en chat!”
Juan se vuiste bal outomaties langs sy sye en hy kan voel sy nek word styf, maar Sibu sit sy arm op sy skouer.
“Relax, bra. It’s probably all innocent. Ek meen, ons moet eers uitvind wat hierdie perd in ons skool doen. Met ons skoolklere aan!”
“Perd is die regte woord,” brom Juan en Wihan lag.
“Kom ons gaan hoor wat is sy storie.”
Hulle stap nader, met Sibu voor en Juan wat stuurs aan die agterkant nadertou. Rozaan en Rufus staan eenkant onder een van die jong boompies en gesels. Dit lyk asof hy haar iets vreeslik snaaks vertel, want sy staan en giggel haarself morsdood.
Juan se mond hang oop. Jeepers, wat ‘n bakvissie! dink hy en kan skielik nie glo dat hy dit van sy eie meisie dink nie.
Rozaan sien hulle aangestap kom en beduie dan in hulle rigting. Rufus kyk om.
“I don’t believe my eyes! Rufus Lambert! Wat maak jy hierso?” val Sibu met die deur in die huis. Rufus staar hom half ongemaklik aan.
“Ken ek jou…?” begin hy en steek sy hand halfhartig uit. Sibu gryp dit vas en gee hom ‘n stewige handdruk.
“Sibusiso Mdladla, regtervleuel van die Eerstespan. Ek scheme ons gaan nog baie met mekaar te doen kry.”
Rufus glimlag terug. Wihan staan nader en stamp vir Sibu uit die pad uit.
“En ek is Wihan, Eerstespan-losskakel. Ek is net bly jy jol nie my posisie nie. Ons weet almal wie jy is, jou reputasie loop jou vooruit.”
Rufus skud ook met hom blad.
Juan staan eenkant met gevoude arms teen ‘n stoeppilaar die klomp en gadeslaan. Rufus sien hom en stap nader.
“Haai. Jy is seker Juan,” sê hy vriendelik en steek sy hand uit. Juan ignoreer dit.
“Ja. En jy staan en chat met my girl,” kom dit kort-af. Rufus lag.
“Flip, sorry ou, ek kan net dink hoe dit vir jou moes gelyk het. Ek, uh…my girl is in Pretoria. So ontspan, ek het nie ‘n move op Rozaan probeer maak nie.”
Weer steek Rufus sy hand na Juan toe uit. Juan sien oor Rufus se skouer hoe sy vriende by hulself staan en proes oor sy verkeerde aannames, terwyl Rozaan blosend vir hom glimlag. Hy bloos en hy voel die rooiheid oor sy wange kruip. Dan steek hy sy hand terug uit.
“Aangename kennis,” brom hy, maar sy bui begin merkbaar lig. Nou bars Wihan en Sibu hard-op uit van die lag terwyl Juan na Rozaan toe stap en haar hand gaan vat.
“Sorry,” sê hy jammer en gee haar ‘n drukkie. Rozaan gee hom ‘n vinnige soen op die wang.
“Ek moet sê, ek voel eintlik nogal gevlei. Dit was half lekker toe jy jaloers was!” fluister sy in sy oor en Juan glimlag breed.
Intussen vra Wihan en Sibu vir Rufus verder uit.
“Wat doen jy nou in ons skool?” vra Sibu die vraag wat hulle nog die heeltyd brand om te vra. “Ek dog jy is in Waterkloof?”
“Ek was, maar toe koop my ouers ‘n prokureurspraktyk hier op die dorp en toe trek ons hiernatoe.”
“Nou maar hoekom het jy nie daar in Pretoria gebly nie? Ek meen, jou geleenthede is daar net soveel meer, is dit nie?” vra Wihan.
Rufus trek sy skouers op.
“Ag, ek weet as ek my beste gee en goed speel, sal ek eventually kom waar ek wil wees. Ek kan mos op Varsity weer in Pretoria gaan rugby speel. As ek nou op hoërskool ook goed doen, kan ek dalk Cravenweek maak en daarna inkom by Tuks se Rugby-akademie. Van daar af pak ek die pad aan Blou Bulle toe.”
“Jy laat dit so easy klink,” sê Sibu en Rufus lag.
“Ja, wel, ek doen dit maar om myself gemotiveer te hou.”
Die klok lui en die kinders beweeg traag terug klas toe vir die laaste skof van die dag.
“Kom, Rufus,” roep Rozaan hom. “Ons het nou Afrikaans.”

*****

Leon spuit die water uit sy bottel in sy mond, spoel dit rond en spoeg dit dan uit. Dit was ‘n warm, strawwe rugbyoefening en hy voel nogal uitgeput. Hy wonder of hy nie vandag die gym moet los nie? Nee wat, skud hy dit af. ‘n Paar slukke water en hy sal fine wees. Hy kan nie een dag se gym skip nie, onder geen omstandighede nie.
“Hey, wat lyk jy so ernstig?” vra sy vriend Frans en spat hom nat met water uit die kraan waarlangs hulle staan. Leon spuit hom met sy waterbottel terug.
“Ag, sommer niks. Kom jy saam gym toe?”
Frans gorrel met die water in sy mond en spoeg dit dan dat dit met ‘n sierlike boog trek.
“Okay, solank ons dit net nie te hard vat vandag nie. Ek is nogal paced.”
“Nee, man, ons vat dit lig, ek belowe!” lag Leon. Frans lig sy wenkbroue ongelowig en gee ‘n snork.
“Jou lig is ander ouens se swaar, pêl. Maar, okay, kom ons gaan. Dit gaan netnou begin besig raak.”
Hulle stap sommer van die skool se sportvelde af na die gym.
“Het jy gehoor van Jacques Steynberg se party volgende Vrydagaand?” vra Frans terwyl hulle stap. Leon ken die matriekseun van wie Frans praat eintlik net van sien.
“Jacques wat post-matriek doen?”
“Einste,” sê Frans. Leon skud sy kop.
“Huh-uh. Vertel bietjie?”
“Wel,” begin Frans, “Jacques word volgende Vrydag negentien en hy hou ’n party. Sy ouers is as usual op een of ander trippie na een of ander spa toe, maar almal weet dis net code vir dat sy ma weer in rehab is en dat sy pa daar naby by sy tannie-hulle of iets bly.”
“So?”
“So, daar gaan niks grootmense wees nie en dis ‘n open party! You know what that means, buddy!”
“I know what that means, buddy! Bergkruin-chicks!”
“Presies!” kom dit opgewonde van Frans. “En daar’s so oulike enetjie in graad 10 by hulle vir wie ek al lankal lus het om te bêre. Sy’t die hotste paar bene en sulke oulike netbal-boudjies. Mens wil sommer net jou tande so in dit inslaan…”
“Aaah, dis net af, ou!” lag Leon. “Wel, jy sal dit maar alleen moet enjoy. Ek kan nie…”
Frans val hom in die rede.
“Jy kan nie wat nie, Leon? Toestemming kry nie? Jy’s sewentien, my ou. Jou pa kan nie vir ewig op jou kop sit nie. Hel, daar is outjies wat in graad agt is wat met meer wegkom as jy.”
“Jy ken nie my pa nie.”
“Oom Fanie Steyn, groot ou, werk by daai Van Vrede-dude se pa se garage. Bit of a non-cheery disposition.”
“Non-cheery disposition? Highly bedonnerd is nader aan die waarheid.”
Frans stop vir Leon en sit sy hande op sy skouers.
“Maar hy is nie jy nie, Leon. Dis tyd dat jy dit ‘n bietjie besef.”
Leon begin weer stap.
“Ek weet dit. Ek weet dit al lankal, maar solank as wat ek nog onder sy dak bly, moet ek nog sy reëls gehoorsaam.”
“Ja, okay,” gee Frans toe, “ek besef dit. Ek sê maar net. As jy wil, kan ons vir hom tune jy kom by my slaap, ons sê ons moet aan ‘n taak werk of iets.”
Leon bars uit van die lag.
“Yeah, right, hy gaan verseker daarvoor val! Nee, sorry, tjom, lyk my ek gaan hierdie een, soos die meeste ander parties, ‘n skip moet gee. Sy baas se laaitie het blykbaar bietjie roids by die skool gespuit so nou is dinge by die werk aan die moeilike kant en daarom is hy die afgelope dag of wat especially bemoerd. Maar neem foto’s met jou selfoon se kamera, ek wil sien watse aksie was daar!”
Frans grinnik.
“Met plesier sal ek jou net lus maak.”

*****

Mnr. Venter se fluitjie blaas skril en die Eerstespan se oefengroep draf in die warm namiddagson nader en gaan sit in ‘n groep voor hom.
“Goed, kêrels, ons is klaar vir vandag,” begin die kort, stewige afrigter. Hier en daar klink daar ‘n “dankie tog!” onderlangs op. Hy besluit om dit vir eers te ignoreer en gaan voort.
“Maar dit beteken nie dat julle nié jul eie oefenprogramme hoef na te kom nie. Ek herhaal weer: as jy ná die Rugbyweek jou plek in die Eerstespan wil behou, gaan jy hom moet verdien. Moenie dink ek gaan jou kies as jy nie daar hoort nie, al is jou pa ook wié.”
Sonder dat hy dit bedoel, land sy oë op Juan toe hy die laaste woorde sê. Juan, al klaar rooi van die son en die uitputting, word nog rooier. Hy kyk af en laat sak sy kop op sy gekruisde arms wat op sy knieë rus. Man, what an asshole! dink hy. Vir wat moet die ou nou juis op my kom staan en pik?
“Rufus, dit geld vir jou ook. Ek gee nie om hoe dit by jou ou skool gewerk het nie. Hier by Hoërskool Bergkruin gaan dit nie oor wie jy is nie, maar oor hoe goed jy speel. Goed, manne, sien julle môremiddag.”
Die ander ouens staan op en slenter na die krane toe. Juan bly net waar hy is, trek sy oefentrui uit en gaan lê agteroor in die son met sy arms oor sy gesig. Van die krane se kant af kyk Wihan op en sien hom daar lê. Hy maak sy waterbottel vol, stap nader en spuit dan vir Juan ‘n volskoot op die maag. Dit laat Juan regop ruk.
“Hey, ou! Wat maak jy?” vra hy moegerig vir sy vriend. Wihan lag.
“Kom uit die son uit. Jy gaan sonsteek kry.”
“Ten minste kry hy dan ‘n steek,” laat hoor Sibu van waar hy naderstaan. Juan kan nie help om vir sy vriende te glimlag nie. Hy steek sy arms uit en hulle trek hom op.
“Kom. Gaan ons gym toe?” vra Wihan. Juan skud sy kop, vat Wihan se waterbottel en spuit dit dan op sy eie kop uit.
“Nope, ek is gehok, onthou. Ek spuit mos in anyway steroids, so vir wat sal ek wil gaan gym?” vra hy sarkasties. Wihan gryp sy waterbottel terug en forseer die laaste paar druppeltjies oor sy eie gesig uit.
“Is jy gehok van gym ook?” vra Sibu.
“Ek mag net skool toe en oefening toe. Dis al. Ek dink my pa gaan vroeg by die werk waai om te kyk of ek betyds by die huis is. Ek cardio maar daar in my kamer.”
“Dit suck nogal,” laat val Wihan. “Ek dink ons moet vir Rufus gaan wys waar’s die gym, Sibu. Blykbaar is sy biceps nog nie groot genoeg na Venter se smaak nie.”
Sibu kyk na waar Rufus eenkant naby die sportgronde se kiosk besig is om sy toks uit te trek.
“Rufus! Kom gou hier!” roep hy hom. Juan laat ‘n effense kreun uit en Wihan stamp hom met die elmboog in die ribbes.
“Gee die ou ‘n kans. Hy het mos verduidelik,” sê hy deur sy tande terwyl hy vriendelik in Rufus se rigting glimlag en vir hom beduie om nader te kom. Juan doen nie die moeite om te glimlag nie.
“Beteken nie ek hoef hom te like nie,” sis hy deur sy tande terug. Soos wat Rufus aangestap kom, stap Juan verby hom en skuur effens teen sy skouer.
“Lekker oefening,” is al wat hy mompel. Rufus kyk oor sy skouer.
“Ja…jy ook,” probeer hy. Juan ignoreer hom, sluit net sy fiets los en verdwyn dan in die straat af.
Rufus frons, maar Wihan kom staan langs hom en sit sy arms in sy sye.
“Moenie oor hom worry nie, hy sal regkom. Gaan bietjie deur ‘n rowwe patch by die huis. Hy gebruik al lankal drugs, deesdae tik ook. Shame.”
Rufus se oë rek groot.
“Genuine?”
“Is jy mal, ou! Luister, laat ek jou nou een ding leer: in hierdie dorp moet jy blêrrie versigtig wees vir wat mense jou vertel. Dis 80% van die tyd ‘n verdraaiing van die waarheid. As jy iets oor iemand hoor, kom vra jy eers vir my. Of, beter nog, jy gaan vra daardie persoon sommer self. Skinderstories bring tog net moeilikheid.”
Rufus lag senuweeagtig.
“Okay…”
“Kom,” sê Sibu. “Ons is oppad gym toe. Kom saam, dan sien jy sommer waar dit is.”

*****

Die netbal- en hokkiemeisies van Hoërskool Bergkruin het gewoonlik nie veel met mekaar uit te waai nie. Hulle kompeteer eerder dikwels om die aandag van die rugby- en hokkieseuns. Maar vanmiddag is dit anders. Hulle sit in ‘n bondel op die verste punt van die pawiljoen en kyk na die Eerstespan-oefengroep wat sopas klaargemaak het met hul oefening en nou met kaal bolywe staan en water drink.
“Oh my soul, check die nuwe ou, julle!”
Sugte van verlange gaan op.
“Kyk sy six-pack. Dis mooier as al die ander ouens s’n.”
“En sy arms is so…mánlik. Ek kan nie glo hy is nou eers in graad 10 nie.”
“Ek wens ek was daai waterbottel!”
‘n Hele paar giggels klink op tussen die meisies.
“He can suck on me like that anytime!”
“Sorry, girls, maar hy het blykbaar ‘n meisie,” sê Rozaan terwyl sy ook verlangend na Rufus staar.
“Ag, jy’s nie ernstig nie.”
“Nee, dis die waarheid. Hy het my self vertel toe ons pouse gestaan en gesels het.”
“Aah, girl! Hoe klink sy stem?”
Noudat die meisies agtergekom het dat Rozaan die eerste een was wat interaksie met die nuwe wonder bewerkstellig het, is sy die middelpunt van die aandag.
“Soos ‘n droom! En hy het sulke sterk hande en die mooiste paar oë, julle kan dit nie glo nie. Hy lyk amper soos ‘n jonger weergawe van McSteamy van Grey’s Anatomy.”
Droomverlore sug die meisies en staar Rufus aan terwyl hy saam met Sibu en Wihan van die sportgronde af wegloop.
“Wel, ek het nuus vir daai girl in Pretoria: sy het kompetisie,” verklaar Corna, die senter van die Eerste Netbalspan. Onmiddellik is die atmosfeer ‘n bietjie meer gespanne tussen die meisies.

*****

Teen die tyd dat Wihan-hulle by die gym aankom, is dit al klaar stampvol.
“Nogal crowded,” merk Rufus op.
“Dié tyd van die dag, ja,” antwoord Sibu droog. “Thanks to Venter kom ons altyd so laat eers hier uit.”
“En Sibu is te vrek lui om in die oggend te kom gym,” las Wihan aan. Sibu snork.
“Lazy? Me? Jou moer, pêl. Anders as jy moet ek vroeg opstaan om kaalvoet taxi rank toe te loop, sodat ek een kan vang skool toe.”
Weer eens lyk Rufus onkant betrap en dié keer besluit Wihan om die grappie nog verder te rek.
“Ag, Sibu, jy kan maar ophou om my op ‘n guilt trip te probeer sit oor jy swart is. Ek worry lankal nie meer nie. Ek weet in elk geval nie wat soek ‘n charcoal black soos jy in hierdie witmens-gym nie.”
Sibu sien die lagduiweljies in Wihan se oë en speel saam.
“Jy beter begin worry, white boy. Ek gaan jou en elke ander witvel in hierdie gym se baas wees eendag. Anyway…”
“Miskien moet ons oor ‘n uur of wat terugkom, ek sien julle ouens is ‘n bietjie tense,” val Rufus hulle ongemaklik in die rede. Wihan en Sibu bly skielik stil en begin dan proes van die lag.
“Sorry, ou, ons moes net. Jy’s lekker gullible!” lag Sibu.
“Ek’s jammer,” sê Wihan ook. “Jy moenie als so ernstig opvat nie, Rufus, jy sal ‘n flippen hartaanval kry. Kom, ons het net soveel reg om hier te wees as hierdie ander ouens.”
Wihan vat vir Rufus na die ontvangstoonbank toe sodat hy ‘n lidmaatskapvorm kan voltooi. Sibu soek intussen vir hulle ‘n locker waarin hulle hul gymsakke kan toesluit.
Terwyl hulle die vorm staan en invul, slaan iemand Wihan skielik met ‘n gym-handdoekie van agter af en hy kyk om. Dis Leon en Frans, wat sopas klaargemaak het met hul oefensessie.
“Hoe lyk dinge, tjomma?” groet Leon hom.
“Lekker en jy?” groet Wihan vriendelik terug. Hy en Frans skud ook blad.
“Kan ek jou maar opsit as ‘n reference, Wihan?” vra Rufus en kyk ook om. Frans se oë rek verbaas.
“Flip, ou, as ek nie van beter geweet het nie, het ek gedink jy is Rufus Lambert. Ek sweer, jy lyk presies soos hy,” sê hy. Wihan en Rufus kyk na mekaar.
“Ehh…” begin Wihan, maar Rufus steek sy hand uit.
“Rufus Lambert. Aangename kennis. Ek is nou in Hoërskool Bergkruin.”
“Okay…” antwoord Frans en skud blad. Leon gee hom ook ‘n stewige handdruk.
“Welkom in die dorp. Net jammer jy’s in die verkeerde skool!”
Rufus weet nie regtig wat om te sê nie, maar dan sit Wihan sy arm om sy skouers.
“Ignoreer daai opmerking. Jealousy makes you nasty.”
“Ja, ja, keep telling yourself that,” antwoord Leon. “Hoorie, ons is gaar, so check julle later.”
“Cheers, buddy!” groet Wihan hulle en Rufus lig ook sy hand op in ‘n groet.
Leon en Frans stap natgesweet en rooi by die gym se deur uit. Frans kyk oor sy skouer terug in ongeloof.
“Nou wat sal Rufus Lambert hier maak?” wonder hy hard-op.
“Hulle het seker maar hiernatoe getrek of iets,” antwoord Leon en gooi sy gymsak oor sy skouers.
“Ja okay, obviously. Ek bedoel, hoekom het hy nie by sy ou skool gebly nie? Hy gaan Beeld-trofeë en al daai goed mis.”
Leon glimlag tergend vir sy vriend.
“Pla dit jou? Dis vir my so mooi dat jy sy belange so op die hart dra!”
Frans klap met sy tong.
“Loop skyt man. Ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ja, whatever,” sê Leon tergend, maar raak dan ernstiger. “Ek gaan nie nou al my kop breek oor die feit dat ons aartsvyande sopas die beste flank in skolerugby bygekry het nie. Dis later se worries. Kom ons pak ‘n draffie uit.”

*****

Juan gryp papnat na die gymhanddoekie wat oor sy stoel se ruglening hang en vee sy gesig en bolyf af. Nog net touspring vir so tien minute lank, dan is hy klaar met sy oefening vir die dag. Dis moeiliker om in sy kamer te gym en net cardio daar te doen as wat hy gedink het. Tog het hy ‘n tipe oefenprogram aanmekaar geslaan wat hom darem deur sy hoktydperk sal hou. Hy sal net aanhou om die Muscle Growth supplements ook te drink in die tyd. Gelukkig het hy dit van die begin af in sy kamer gebêre.
Net toe Juan die springtou vat, klop iemand aan sy kamerdeur.
“Ek’s besig!” sê hy. Die deur gaan oop en sy suster, Marli, kom ingestap. Hulle verskil skaars elf maande, maar Juan is die oudste en Marli is nou eers in graad nege.
“Ek het vir jou water met ys in gebring,” sê sy. Die groot glas, propvol ysblokkies wat daarin rinkel, lyk aanloklik. “Ek kon hoor jy’s besig om te oefen.”
Juan glimlag vir sy suster. Toe hulle jonger was, het hulle soos kat en hond baklei, maar die laaste ruk het hulle eintlik nogal baie close geraak. Marli is nie meer heeltemal so irriterend soos sy altyd was nie en hulle kan actually oor dinge gesels. Hy weet nie of dit is oor hy ouer geword het en of dit dalk hulle altwee is wat meer volwasse geword het of wat nie. Hulle sê mos ook meisies word vinniger volwasse as seuns – dalk is dit die rede? Maak tog nie regtig saak nie. Dis lekker om nie altyd in mekaar se hare te wees nie.
“Thanks,” sê Juan en vat ‘n groot sluk van die water. Hy skommel dit ‘n keer of wat in sy mond rond en sluk dit dan af.
“Tot wanneer is jy gehok?” vra Marli en Juan trek sy skouers op.
“Ek weet nie. Jy weet hoe’s Pa. Een oomblik moerse befoeterd en die volgende lag hy so vir sy eie grappies dat mens hom ‘n myl ver kan hoor. So dit kan enige iets van ‘n week tot ‘n maand wees. Of langer, mens weet nooit.”
“Pa sal jou nooit so lank hok nie. Hy weet jy moet gym toe gaan vir Rugbyweek.”
“O ja? En wat dink jy is ek besig om te doen?”
Marli sug en gaan sit op sy bed terwyl Juan nog ‘n sluk van die yskoue water vat.
“Ek weet nie, Boeta. Pa is deesdae baie funny. Dis…ek weet nie. Hy bly al hoe langer by die werk. Vanaand was hy tot vrek laat daar. Hy’t nou eers by die huis gekom.”
Juan frons.
“Regtig?”
“Mmm, en toe ek hom ‘n soen gee, kon ek sweer iets het weird geruik.”
“Weird soos in hoe?” vra Juan.
“Weird soos in asof hy iets gedrink het. En sy hemp het uitgehang. Ek bedoel, Pa se hemp hang nooit uit nie. En nou lê hy en slaap op die bank.”
Juan sit die glas, waarvan die inhoud aansienlik gesak het, terug op die bedkassie en vat dan weer die springtou.
“As Pa hom soos ‘n suiplap wil gedra, is dit nie my besigheid nie,” verklaar hy en begin touspring.
“Ek het nie gesê hy’s ‘n suiplap nie.”
“Ek weet. Ek sê net as hy homself soos een wil gedra, moet hy maar vir hom kry. Ek worry nie.”
Marli staan van die bed af op en vat die glas.
“Wel, solank jy nie woorde in my mond lê nie. Ek gaan bad,” sê sy, stap uit en maak die kamerdeur agter haar toe. Sy is ‘n bietjie bekommerd oor Juan. Daar loop allerhande vieslike stories oor hom by haar skool rond en dit maak haar ook ongelukkig. Die kinders sê hy is ‘n druggie en dat as ‘n mens so baie steroids inspuit soos wat hy doen, ‘n mens sommer netso morsdood kan neerslaan op ‘n rugbyveld.
Marli is in Hoërskool Ewoud Heymans. Sy het self gekies om soontoe te gaan. ‘n Verskeidenheid faktore het haar keuse beïnvloed, maar hoofsaaklik wou sy nie in ‘n skool wees waar sy Juan van Vrede se sussie sou wees nie. Sy is haar eie mens en wil so behandel word. Verder is al haar laerskoolvriendinne soontoe. Ewoud Heymans se netbal is ook uitstekend en hulle bied sang as ‘n vak aan, die ander groot liefde van Marli se lewe. Om te sing is vir haar om vlerke te kry en weg te skiet van hierdie wêreld en die crap wat sy daagliks by die huis moet hanteer.
Almal dink hulle is die perfekte gesin. Haar oupa-hulle is vrek ryk, dit weet sy. Haar pa en ma is high society mense op die dorp en gaan dikwels na een of ander grand funksie toe. Hulle is ook baie betrokke by die kerk en sy en Juan gaan gereeld na die kerk se Jeug toe – een van die min dinge, saam met haar sang, wat haar sane hou. Sy is nie so seker dat Juan dit heeltemal soveel soos sy geniet of waardeer nie, want daar is nie juis van sy skoolvriende wat soontoe gaan nie. Tog, sy sukkel nooit om hom daar te kry nie, wat seker ‘n goeie teken is.
Maar die afgelope paar maande is dit asof iemand of iets ‘n los garinkie in hul gesin gekry het, daaraan getrek het en nou besig is om die hele spul uitmekaar te laat rafel. Sy weet nie wat gaan gebeur of hoe sy daardeur gaan kom nie. Al wat sy weet, is dat sy vir Juan moet bystaan in hierdie tyd. Sy by haar Bergkruin-vriendinne gehoor van die nuwe ou wat blykbaar so goed is in rugby en wat agter Juan se meisie aan is. Juan moet pasop. Alhoewel sy en Rozaan redelik oor die weg kom, vertrou sy wat Marli is haar nie baie verder as wat sy ‘n eetkamertafel kan gooi nie. As Juan nie versigtig is nie, gaan daai girl hom nog vrek seer maak.

*****

Toe die skoolklok die Vrydagmiddag lui om die naweek aan te kondig, is dit asof die skoolgebou sy asem moeg uitblaas terwyl die kinders by die terrein uitborrel.
Hoewel hy soos ‘n celebrity behandel word sedert hy by Hoërskool Bergkruin aangekom het, het Rufus nog nie regtig vriende gemaak wat hy nou juis ‘vriende’ sou noem nie. Pouses staan hy by die manne en almal wil net heeltyd oor sy rugby gesels. Nie dat daar iets fout is met rugbypraatjies nie, dis net…Hy sou graag ‘n bietjie van die aandag van homself wou afweer. In sy ou skool was hy een van baie; hier voel hy amper soos ‘n walvis in ‘n plaasdam – almal weet van hom en almal soek ‘n stukkie van sy aandag.
Daarom verbaas dit hom nie toe hy hoor hoe iemand hom roep op pad na die hoofhek toe nie. Hy is wel verbaas om te sien wie dit is.
“Hey, Rufus!” hoor hy Juan se stem. Rufus kyk om. Hulle het vier van hul ses vakke saam. Vandag was ‘n vol rooster, so hulle het mekaar dikwels gesien, maar hy het van die begin af die gevoel gekry dat Juan nie van hom hou nie. Hy weet Juan is bang dat hy vir Rozaan gaan afvry, maar hy het tog self ‘n meisie. Eintlik is hy en Juan in baie dieselfde posisie, aangesien hy self ‘n bietjie bekommerd is oor wie by sy meisie in Pretoria aanlê.
“Hey, Juan,” sê hy en wag vir Juan. Dié lyk omgekrap. Toe Juan by hom kom, maak hy keelskoon.
“Kan ons gou praat?” vra Juan saaklik.
“Ja, sure,” antwoord Rufus. Juan beduie na die bankie onder die groot akkerboom in die voortuin voor die ou skoolgebou. Rufus wonder ietwat wantrouig waaroor Juan hom wil spreek.
“Jy het seker gehoor van die open-party wat vanaand by Jacques Steynberg se huis plaasvind?” vra Juan. Rufus knik onseker.
“Ja, so soort-van…dis die ou wat sy post-matriek in die ander hoërskool doen, nè?”
“Ja. Toe hy nog in ons skool was, was sy parties die grootste en wildste van almal. Al die ouens raak gesuip en al die girls raak maklik.”
“Klink lekker,” probeer Rufus met ‘n glimlag, maar die ernstige kyk op Juan se gesig laat dadelik sy glimlag verdwyn. “Of whatever.”
“Anyway, soos ek gesê het, dis gewoonlik ‘n moerse party en dis wanneer sy ouers daar is. Vanaand gaan hulle nie eens daar wees nie, so dinge gaan waarskynlik heeltemal hand uitruk. Daarom wil ek jou ‘n guns vra.”
Rufus frons.
“Watse guns?”
Juan maak weer sy keel skoon.
“Rozaan gaan na die partytjie toe en ek wil hê jy moet ‘n ogie oor haar hou.”
“Jy bedoel ek moet op haar opcheck?” vra Rufus. “Hoekom gaan jy nie self na die partytjie toe nie?”
Juan is nie lus om die verhaal met iemand wat vir hom eintlik ‘n totale vreemdeling is, te bespreek nie. Hy praat al klaar te lank na sy sin met hierdie javel.
“Nie dat dit jou besigheid is nie, maar ek is gehok en kan daarom nie gaan nie. Ek weet jy en Rozaan kom goed oor die weg, so…ek het jou hulp nodig.”
Rufus voel nogal gevlei, maar hy vertrou nog nie heeltemal die water nie.
“Hoekom vra jy vir my en nie vir Wihan of Sibu nie?”
Juan vererg homself.
“Man, as jy dit nie wil doen nie, los dit! Ek het net gedog ek sal probeer om jou te vertrou sodat ons vriende kan wees. Ek kan sien dat dit op hierdie stadium vir die hele skool baie meer om die halsbandjie as om die hondjie gaan, maar as jy dink jy gaan in hierdie skool self regkom, moet jy asseblief voortfo…”
Rufus, wat besef dat hy die gebaar totaal en al verkeerd geïnterpreteer het, val Juan in die rede net toe dié opspring om te loop.
“Whoa, sorry, ou. Dis nie wat…ek het nie bedoel…sorry.”
Vir ‘n oomblik staar Juan hom aan met yskoue oë en gaan sit dan weer.
“Let me rephrase: ek het iemand nodig om te kyk laat my girl nie ‘n ander gomgat van Ewoud Heymans vry nie. Wihan en Sibu is so jags soos plaaskatte en gaan self te besig wees om chicks te soek dat ek hulle nie gaan vra nie. Dis vir jou ‘n geleentheid om nuwe mense te ontmoet in die complicated sosiale kringe van Bergkruin. Al wat ek vra, is dat jy af en toe met Rozaan sal gesels sodat die ouens dink dat julle twee dalk iets aan die gang het en haar dan uitlos. Ek weet mos nou van beter.”
Rufus bloos en knik dan instemmend.
“Dis reg, Juan. Sorry oor netnou. En jy’s reg, dis nie maklik om met mense te gesels as hulle net in jou rugbyprestasies vaskyk nie.”
“Tell me about it. Maar thanks, ek is klaar laat om huis toe te gaan, so ek moet waai. Gee my gou jou nommer?”
Vinnig ruil die twee seuns selfoonnommers uit en dan val Juan in die pad.
“Cheers.”
“Bye,” groet Rufus terwyl hy op die bankie agterbly. Sjoe. Hy kan net dink hoeveel hierdie gesprek van Juan moes gevat het. Hy neem homself voor om die aand sy bes te doen om nie vir Juan teleur te stel nie. Juan is ‘n baie gewilde ou in die skool en een van die top sportmanne. Toe hy die vorige dag deur die voorportaal gestap het, het hy na die sportbekers in die vertoonkas gekyk en Juan se naam op ‘n hele paar daarvan gesien. Dit sal lekker wees om hom as ‘n vriend te hê.

*****

Die eerste ding wat Rozaan in die middag doen wanneer sy by die huis kom, is om haar hi-fi aan te sit. Dis vir haar aaklig om so in stilte te moet funksioneer. Haar ouers werk albei voldag en omdat sy die enigste kind is, kan dinge baie eensaam raak as dit te stil is by die huis. Sy is ‘n meisie wat dit verkies om tussen baie mense te wees.
Daarom kan sy nie wag vir vanaand se partytjie nie. Binnekort is dit in ook Rugbyweek, wat beteken dat die dorp met troppe ouens van ander skole en plekke oorval sal word en interessante potensiaal sal oplewer.
Die mooi donkerkopmeisie gooi haar skooltas in die hoek langs haar lessenaar neer, trek haar skoene uit en maak haar skoolrok se belt los. So ja, nou kan sy begin dink. Wat gaan sy inpak vir vanaand? Sy gaan by haar vriendin Lisa aantrek en sommer daar oorslaap ook. Lisa se ouers gee net vir haar ‘n huissleutel. Hulle bly nie wakker en wag tot sy by die huis is soos haar eie ma-hulle nie.
Rozaan gaan staan besluiteloos voor haar oop kasdeure. Juan gaan nie vanaand daar kan wees nie, want hy is mos gehok. Daarom hoef sy hom nie in ag te neem terwyl sy kies wat om aan te trek nie. Hy hou nie baie daarvan as sy, na sy sin, te kort rompies aantrek nie.
Maar hel, almal sê sy het die mooiste bene in die skool en wat help dit dan as jy dit nooit wys nie? Nee, flip, vanaand gaan sy wys wat sy het. Sy het niks om oor skaam te wees nie. Nie ‘n sentimetertjie selluliet nie! Dankie, hokkie-oefeninge!
Sy wonder of Rufus vanaand daar gaan wees? Sy gee glad nie om om hom ‘n bietjie tuis te laat voel op die nuwe dorp nie! Toe hy nou die dag so kaal bolyf op die rugbyveld gestaan het, het sy gewens sy kon met haar hande oor sy klipharde maagspiere streel. Ja, goed, Juan is self flippen goed gebou, maar hy is meer die atletiese tipe. Rufus lyk meer soos ‘n tradisionele rugbyspeler.
Sy betrap haarself hoe sy planne maak om vanaand vir Rufus alleen te kry, maar onthou dan dat hy gesê het hy het ‘n meisie. Damn! Sy wonder hoe ernstig is hulle? Out of sight, out of mind. Hy sit seker en treur oor hy nie by sy girl kan wees nie. Sy sal vanaand seker maak dat sy daar is om hom te troos as die heimwee te erg raak.
En, selfs al val hy nie vanaand al vir haar planne nie – daar gaan baie ouens van Ewoud Heymans daar wees en die buurskool het self ‘n paar studs wat daar rondloop…
Sies, Rozaan! Kom die stemmetjie binne haarself. Juan het jou nog nie een keer ‘n halwe rede gegee om hom te wantrou nie en hier staan jy en planne maak oor hoe jy hom gaan verneuk.
Skuldgevoelens kruip teen haar rug op. Sy was nog nie eens by sy huis sedert hy gehok is nie en as sy sien dat hy op MXit opkom, gaan sy dadelik af. If anything is hy eintlik geregtig daarop om haar te verneuk.
Sy skud haar skouers, amper asof sy die gevoel soos water van haar rug af wil afskud. Hulle het nie met mekaar getrou nie en hoewel die begin van die verhouding vreeslik romanties was, doen dit nou niks meer vir haar nie. Dis nou nie asof Juan nie meer aantreklik is nie – hy is lag-lag een van die sexyste ouens in die skool! – maar nêrens het hulle hul “undying love” aan mekeer gesweer nie. Wat ookal vanaand gebeur, dis in elk geval verby, besluit sy. Ek sal hom net môre sê en dan moet hy maar daarmee deal.

*****

Rufus staan ongemaklik voor die groot, oop hekke aan die voorkant van Jacques Steynberg-hulle se erf. Juan het vir hom per sms verduidelik waar dit is en hy het met sy motorfiets soontoe gery. Nou sit hy hier op sy motorfiets en hy het nie ‘n clue wat om te doen nie.
Rufus vee sy sweterige handpalms aan sy broekspype af. What the hell? dink hy. Dis nie die eerste party wat hy in sy lewe bywoon nie, so hoekom voel hy so ongemaklik? Dis seker tog orals maar dieselfde: die dronk main ouens, die smooth-talkers wat net wil score en die girls wat orals rondstaan asof iemand hulle randomly soos tuinkabouters daar geplant het. Hier en daar sal ‘n meisie wees wat saam met die manne kuier, of twee wat saam-saam sletterig rondval ná ‘n shot tequila of twee. Dis ‘n reuse fake spul, maar dis eintlik ‘n speletjie en solank jy die speletjie speel, sou alles fine wees.
Probleem is, hy is nie seker waar in die speletjie hy moet speel nie. Hoewel hy seker as een van die rugbybrekers geklassifiseer kan word, is hy terselfdertyd die nuwe ou in die skool én die dorp en hy is nie baie seker hoe daardie rol vertolk moet word nie. Hulle het sy hele lewe lank op een plek gebly en hy was nog nooit een van die “nuwe” kinders in die skool nie. Die nuus dat hulle gaan trek het hom heeltemal onkant gevang. Tog het hy gehoop…maar dit het alles in rook opgegaan.
Nou het Juan hom hierdie weird guns ook gevra! Dis nie asof dit dinge makliker maak nie, want nou moet hy vir Rozaan tussen alles deur juggle. Om alles te kroon, kry hy nie antwoord by sy eie meisie se selfoon nie.
‘n Vuka Scooter stop met ‘n gepor-por-por langs hom. Die persoon haal sy valhelm af en Wihan se breë glimlag begroet hom.
“Yes, ou, hoe lyk dinge?”
Rufus is bly om iemand te sien wat hy nou al darem ‘n bietjie ken.
“Hey Wihan! Nee, goed goed. Waar’s Sibu vanaand?”
Wihan kyk vir Rufus aan asof hy mal is.
“Sibu? By hierdie party? I don’t think so. Ek en hy is tjommas, maar nie almal is só verlig nie. Veral nie Ewoud Heymans se kinders nie. Daai boertjies sal vir Sibu so vinnig laat pad vat dis nie eens snaaks nie.”
“O, okay,” trek Rufus sy skouers op.
“Nou kom ons gaan in,” sê Wihan en hy ry voor Rufus die groot erf binne. Rufus skop sy motorfiets aan die brand en volg kort op sy hakke.

*****

Juan gooi die springtou gefrustreerd in die hoek van sy kamer en val dan met sy sweterige lyf en al op sy bed neer. Hy haat dit dat hy nie by die party kan wees nie! Almal gaan daar wees – soos in álmal!
Behalwe vir sy bekommernisse oor Rozaan, is dit tyd dat hy saam met die main manne kuier as een van hulle. Hy ken die meeste van die ouens al van laerskool af en met sommige van hulle is hy al lankal redelike goeie vriende. Nou is hy egter in graad tien en Eerstespan-skrummie daarby. Hy wil nie hê die ouens moet dink hy is eintlik ‘n mama’s boy wat eerder by die huis wil bly en bolle rol as om saam met hulle te kuier nie. ‘n Mens word bitter vinnig uitgesluit. As jy nie jouself deel máák van die groep nie, gaan niemand dit doen nie, en as jy weer sien sit jy alleen. Om van die Eerstespan uitgesluit te wees terwyl jy vir hulle speel, kan ongelooflik vernederend wees. Die blote gedagte gee vir Juan koue rillings.
Dit het ‘n paar jaar vantevore met ‘n Eerstespanspeler gebeur. Die dorp het behoorlik gegons oor dié ou wat maar net nie by die span ingepas het nie. Allerhande belaglike bespiegelings het oor die arme ou rondgeloop, met die gewone simpel stories oor sy seksuele voorkeure wat natuurlik die leitou geneem het. Dit was nie lank nie, toe quit hy in elk geval die span. ‘n Verlies, want hy was op daardie stadium die skool se vinnigste kortafstand-atleet en dit alles net omdat hy nie juis saam met die main manne gekuier het nie. Juan snork. Hy sal nogal graag die regte rede daarvoor wou weet.
Juan staan op, neem die klein gymhanddoekie en vee oor sy gesig en bolyf. Hy wonder hoe lank sy pa beplan om hom gehok te hou. In die verlede het dit nog nooit langer as ‘n paar dae geduur nie, maar then again, hy is nog nooit gevang amper steroïede-inspuitings by die skool inspuit nie. Dit mag dalk sy pa se besluit ietwat kompliseer, dink Juan grimmig. Intussen doen hy drie keer ‘n dag sy cardio en hy drink sy supplements getrou. Dít volg hy presies volgens die voorskrif – na die affêre met die inspuitings het hy nie lus om ‘n bloutjie te loop met die goed wat hy actually mag gebruik nie.
Sy kamer voel skielik te warm. Juan besluit om onder die stort te gaan inspring. Die strale water op sy gespanne skouers bied welkome verligting en Juan voel hoedat sy spiere effens skiet gee. Hoekom dinge by die huis ook so tense moet wees, weet hy regtig nie. Ja, goed, hulle was nog nooit sonder probleme nie, maar dit was nog nooit iets major nie – klein goedjies, af en toe.
Deesdae…dit is net ‘n ander storie. Dis asof sy ouers opgehou het om met mekaar en met hom en Marli te praat. Sure, hulle práát nog fisies met mekaar, maar dis sulke niksseggende sinne, sulke leë woorde. As hy net kon verstaan wat aan die gang is, sou dit seker ook help. Iewers moet dinge tog weer begin beter gaan.
Juan skud sy kop. Dalk verbeel hy homself, dalk is dit sy hormone, dalk is dit puberteit. Hy móét net ontspan!
Dan besef Juan die absurditeit van sy gedagtes. Hel, al die druk van buite en hier pressure hy homself ook nog om te ontspan…Dit tref hom soos ‘n nat waslap deur die gesig. Man, dit is net crazy! Hy sal vanaand ‘n bietjie vroeër bed toe gaan, ‘n paar ontspanningstegnieke wat hy een keer in ‘n tydskrif raakgelees het probeer. Hy moet sommer ‘n slag Bybel lees ook, hy het dit heeltemal te lank laas gedoen. Hy voel ‘n bietjie skynheilig as hulle Sondagaande by die Jeug is. Die ander kinders dink sy geestelike lewe is fine, maar hy skeep dit eintlik baie af. Miskien as hy dít regruk, sal die ander dinge ook in plek val.

*****

By Jacques Steynberg se huis is die partytjie in volle swang. Skalla, een van Jacques se beste vriende, het homself as DJ aangestel. Hy sorg dat polsende musiek die soel naglug indreun met lywe wat orals op die maat daarvan dans.
Skielik storm ‘n klomp ouens van die tuinhuisie se kroeg af na ‘n groep meisies toe en gryp hulle om hulle in die swembad te gooi. Die meisies protesteer halfhartig en gillend. Met ‘n geplons en ‘n gespat van water beland ‘n hele paar van hulle in die groot swembad, die ouens inkluis. Frans, wat met die idée vorendag gekom het, gil uitgelate ‘n oorwinnigskreet vanuit die warm swembad.
Rufus aanskou die situasie met gemengde gevoelens. Hy sit eenkant op een van die patiostoele met sy hande om ‘n leë bierblik gevou. Dis nie ‘n bad partytjie nie. Die musiek is lekker, die atmosfeer is gesellig en daar was selfs ‘n reuse tafel vol allerhande snacks – en nie sommer net chips en dip nie! Dit was duidelik dat een of ander gourmet chef ‘n paar lang ure in ‘n kombuis deurgebring het. Hy kon aflei uit die ander ouens se gepratery, en deur doodeenvoudig rondom hom te kyk, dat hier báie geld in hierdie huishouding teenwoordig is.
Wihan kom na hom toe aangestap met twee biere.
“Thanks, Wihan,” sê hy en klink syne teen Wihan s’n. Wihan vat ‘n groot sluk.
“Wat sit jy so eenkant? Jy moet mingle, tjomma.”
“Ja, ja,” antwoord hy ‘n bietjie verleë. “Ek skep net ‘n bietjie vars lug. Dis flippen bedompig daar by die bar!”
Wihan lag en vat nog ‘n sluk van sy drankie.
“Feite. Gepraat van warm, hier is ‘n paar hot girls by die hierdie party.”
“Jip,” stem Rufus saam. “Dit kan jy weer sê!”
Wihan babbel voort langs hom, maar Rufus besef skielik dat hy heeltemal vergeet het om vir Rozaan dop te hou. Nou sien hy haar nêrens nie. Shit! Waar kan sy wees? O, crap, o, crap, o, crap! Juan gaan die lewe vir hom hel maak as hy vanaand opslip.
“Het jy dalk vir Rozaan gesien?” onderbreek hy vir Wihan wat besig is om die meisies te rate. Wihan trek sy mond op ‘n plooi.
“Ek dink sy was een van dié wat in die water gegooi is. Hoekom?”
“Moet haar gou iets gaan vra,” antwoord hy vaag.
Wihan maak sy bier klaar.
“Okay. Ek gaan nog ‘n bier kry. Moenie sonder my waai nie, oraait? As ons saam ry huis toe kan ons mekaar darem opcheck dat ons veilig is!”
Rufus lag.
“Dis reg.”
Met sy oë soek Rufus tussen die laggende, gillende meisies in die swembad. Dan sien hy vir Rozaan en Lisa in die water rondplas. Op die ingewing van die oomblik trek hy sy hemp uit en spring ook in. Die ouens dip die meisies en skiet hulle in die water rond. Skielik is dit die perfekte geleentheid vir hom om in te val.
Toe die meisies sien dat Rufus saam met hulle in die water is, klink die gille so hard en so deurmekaar op dat ‘n mens nie kan agterkom presies om watter rede hulle histeries raak nie. Frans kry ‘n klein rugbyballetjie van êrens af en gooi dit na hom toe.
“Toe, Meneer Waterkloof, wat sê jy: dink jy die girls kan die bal by ons kry?”
Rufus sien die uitdagende kyk in Frans se oë en weet hierdie is ‘n maak of breek punt.
“Nie as dit van my afhang nie!” sê hy dan met ‘n glimlag, gooi die bal terug vir Frans en swem dan nader. Die ander ouens sien dit raak en hulle kom almal blitsvinnig bymekaar, terwyl die meisies eenkant op hul eie groepeer.
“Okay, manne,” begin Frans en sy oë vonkel stout. “Daar is net een ding waaroor ons gou moet praat: wanneer ek skree ‘knoffel’, vergeet van die bal en duik vir ‘n girl se ass en dan byt jy dit. My broer op varsity het my vertel hulle koshuis doen dit. Hulle noem dit ook Boudbyt!”
Die ouens bars kliphard uit van die lag en die meisies kyk wantrouig in hul rigting.
“Stefan, jy gaan diep. Rufus, sorg dat jy oop bly. Die res van ons, sprei uit en moenie laat ‘n klomp girls ons name gat maak nie. Oraait?” Ondeund lag die ouens saam en neem dan stelling in. Die meisies is ook klaar gekoukus en versprei deur die swembad.
“Reg?” skree Frans en gooi dan die rugbyballetjie hoog die lug in.

*****

Dis donker en stil in die Steyn-huis, maar Leon lê wawyd wakker in sy bed. Hy wonder wat gaan by Jacques se partytjie aan? Hy sal wat wou gee om daar te wees! Frans het vroeër die aand vir hom ‘n foto of wat met sy selfoon gestuur en dit lyk regtig soos die partytjie van die jaar. Okay, die eerste prentjie was van Frans wat met ‘n uitgesteekte tong voor die bar staan, maar nogtans. Die ander prentjies het darem ‘n groter view van die party self gegee.
Leon spits sy ore om te hoor of sy pa snork. Dis tjoepstil in die huis. Vir ‘n oomblik oorweeg Leon die gedagte om uit te slip en op ‘n manier by die party uit te kom. Dis min genoeg dat ouens van die twee aartsvyand-skole saam kuier. Ja, sure, almal ken wedersyds mense in die ander skool en almal het oor en weer vriende, maar daar is min partytjies wat regtig só groot is en wat almal akkomodeer. Gewoonlik, as daar ‘n party is, hou die ouens van dieselfde skool maar bymekaar. Op die rugbyveld is daar in elk geval geen genade nie, maak nie saak hoe close buddies julle is nie. Daar gaan dit om net een ding: die groot, blink trofee waarom die twee skole elke jaar meeding. Hulle val in dieselfde liga en moet teen mekaar meeding, maar hulle is ook tradisioneel opposisieskole en daarom het die skoolhoofde dit al lankal goed gedink om hulle om ‘n trofee te laat speel.
Leon kan nie wag vir die Rugbyweek nie! Hy raak sommer opgewonde as hy net daaraan dink. Daagliks wemel die sportgronde gewoonlik van die mense – skoolkinders, familie, ondersteuners…maar veral werwers en keurders. Hy voel hoe die vlinders in sy maag meteens lewe kry. As hy vanjaar die keurders kan beïndruk…hy wil bitter graag in sy lewe Cravenweek speel.
Op laerskool het hy, hoewel hy heelwat skraler as die ander outjies van sy ouderdom was, dit tog tot op streeks-provinsiale vlak gemaak. Hy onthou nog hoe lekker dit was toe hy een van die keurders aan ‘n ander hoor sê het toe hy verby hulle stap: “Jitte, daardie mannetjie tackle darem maar ‘n hond uit ‘n bos uit! ‘n Mens kan sien hy’t hart.”
Hy het nie omgekyk nie en aangestap asof hy dit nie gehoor het nie, maar sy hele binneste het sommer so geelwarm geword van lekkerte. Wow! het hy gedink. ‘n Provinsiale keurder dink ek het hart.
Dit sou egter nie heeltemal genoeg wees om hom tot op provinsiale vlak te neem nie en sedertdien is dit een van Leon se groot drome. Die afgelope paar jare het hy homself daarop toegespits om ‘n spesialis op sy posisie te word. Hy het elke Sports Illustrated en SA Rugby waarop hy sy hande kon lê, verslind en alles oor senters, en veral binnesenters, opgeslurp en toegepas. Oor naweke sou hy een van die duiksakke by die skool leen en dan agter in hul erf, vir ure aanmekaar, sy skouers teen die sak gooi. Laag ingaan, Leon, laag ingaan. Albei skouers, leer om met albei skouers te kan tackle, sou hy oor en oor vir homself sê. Sluit jou arms om die sak.
In ‘n poging om te oefen hoe om ‘n bewegende opponent te lak, het hy die duiksak een dag aan die wasgoedpaal se een windmeularm vasgemaak. Hy het die wasgoedpaal so hard as moontlik gespin, ‘n vinnige draai gehardloop en op die sak afgestorm. Met die duikslag het hy die hele paal saam met hom geneem en besef dat die plan dalk nie so lekker gaan werk nie. Sy pa moes die oggend werk en nog voordat hy terug by die huis was, was die paal weer op sy plek. Toegegee, die een arm het ‘n bietjie meer gebuig gelyk as voorheen, maar toe Fanie Steyn die middag by die huis kom en die wasgoedpaal sien, het hy net effens gefrons, stip na die paal gekyk…en toe ‘n trekkie van ‘n glimlag op sy gesig gekry.
Al die ekstra ure wat hy ingesit het, het vrugte afgewerp en dit is een van die redes waarom hy al die vorige jaar by die Eerstes se oefengroep ingesluit was. Sy dodelike plettervatte is wyd bekend en dis vir hom lekker om te weet daar is iets waarin hy vrek goed is. Nie dat hy daarop uitgaan om die ouens onnodig af te skryf nie, maar dit bly ‘n kontaksport en ‘n tawwe een daarby en dit is tog lekker om te hoor hoe ‘n opponent sy wind met ‘n harde hikgeluid verloor.
Leon luister weer of hy sy pa kan hoor. Nog steeds is daar geen geluid nie. Vir ‘n sekonde of twee oorweeg hy dit om tóg na die partytjie toe uit te glip. Hulle sal nog nie nou al klaar wees nie, dit weet hy goed. Dan besluit hy finaal daarteen. Om daar te kom, beteken hy sal óf fiets moet ry, óf hy sal sy pa se bakkie moet steel en dit gaan beslis sy pa wakker maak. Nee, die risiko is net té groot. As hy sy pa nou gelukkig hou, kan hy dalk die volgende keer meer toegeeflik wees.

*****

“Stefan!” skree Rufus en gooi die rugbyballetjie, wat hy sopas by Corna afgeneem het, vir die ander seun. Die meisies stoei hard om besit van die balletjie, maar dis duidelik ‘n kranige spul rugbyseuns wat saam met hulle in die water is en hulle maak dit nie vir die meisies maklik nie. Hier en daar behaal die meisies wel sukses – Corna is immers Hoërskool Bergkruin se Eerste Netbalspan-senter en sy en haar eweknie van Ewoud Heymans maak vanaand ‘n goeie span.
Corna duik voor Frans verby en dis net die oomblik waarvoor hy gewag het.
“KNOFFEL!” bulder hy skielik en onmiddellik is daar chaos in die verhitte swembad soos wat die ouens duik om elkeen ‘n meisie aan die boud te hap. Dit vind met gemengde welslae plaas en dis eintlik maar net ‘n geskree en ‘n gelag en baie water wat spat. Lisa trek met ‘n elmboog los en tref vir Stefan solied op sy neus.
“Aaah!” skree die seun en hou sy bloeiende neus vas. “Son of a bitch!”
Die ander ouens lag vir hom en Wihan, wat ook kort ná die begin van die aanvanklike speletjie ingespring het, help hom uit.
Rufus sien dat Rozaan vir ‘n ietwat verbaasde, maar tog trotse, Lisa niksvermoedend gelukwens, terwyl Frans regmaak om agter haar in te duik. Hy wonder of hy dit moet keer. Dit tel seker nie as vry nie, maar…toe hy sien dat Frans onder die water ingaan, doen hy dieselfde en swem nader. Net voordat Frans op sy prooi kan toesak, stamp Rufus hom eenkant toe en maak asof dit eintlik hy was wat vir Rozaan gemik het. Die twee seuns breek saam die oppervlak van die water.
“Sorry, ou, my fout,” maak hy kamstig verskoning. Frans sluk die aas.
“Nee, no worries,” sê hy en vervolg dan fluisterend. “As ek geweet het jy wil haar vanaand score, sou ek nie vir haar gegaan het in die eerste plek nie!”
Rufus lyk ‘n oomblik uit die veld geslaan.
“Hoe nou?”
Frans sit sy arm om sy nek en trek hom na die rand van die swembad toe.
“Die ou wat dit regkry om ‘n girl se boud te byt, het eerste dibs op haar en sy is off limits vir die ander ouens vir die res van die aand. Ken jy nie die game nie?”
Rufus lag en vee met sy hand die water van sy gesig af.
“Nie hierdie weergawe nie! Pleks jy sê my?” gaan hy gemaak-ernstig voort.
“Jip,” gaan Frans voort. “Man, ek sou nie gemind het om daai gat ‘n hap te gee nie. Haar boyfriend is nie eens hier om my te stop nie. Dalk moet ek tog try om haar om die hoekie te lei.”
Dis presies wat Rufus bang was hy sou sê en daarom probeer hy Frans se aandag op iemand anders fokus.
“Wat van Corna? Sy’s nogal hot en so los soos Tastic rys.”
Frans skud sy kop.
“Nee dankie, pêl. Been there, done that, got the sifilis. Nie weer nie.”
Rufus se mond val in ongeloof oop.
“Aah! Genuine?”
Frans knik instemmend en ietwat verleë.
“Ja, so…nee, ek raak nie weer aan daai girl met ‘n tang nie. Jy kan haar maar kry as jy wil.”
Rufus keer heftig.
“Nee, dis okay, thanks. Ek het in anyway ‘n…”
Hy sny sy sin in die middel stomp-af. As hy nou vir Frans moet laat weet hy het ‘n meisie, gaan dié by hom wil weet hoekom hy vir Rozaan soek en hy is nie lus om dit nou alles te verduidelik nie.
“Ek bedoel, ek moet ‘n draai gaan loop,” probeer hy cover.
“Pee sommer in die swembad,” laat hoor Frans van hom. Rufus lag, klim dan uit en steek sy hand na Frans toe uit om hom ook uit te help.
“Dis ‘n nommer twee, pêl. Mense gaan dit sien.”
Frans kry meteens ‘n idee.
“Was daar nie sulke Lunch Bar-goed op daai tafel nie?” vra hy en hardloop dan gly-gly na die groot tafel toe met die eetgoed op.
Rozaan het ook uit die swembad geklim en staan eenkant met ‘n handdoek om haar lyf en gesels met Lisa en ‘n paar van hul ander vriendinne. Rufus kan sien hoekom Juan vir haar gegaan het: die girl is ‘n absolute babe! Haar swemklere beklemtoon elke stukkie van haar pragtige lyf en haar nat, gitswart hare wat nou in sulke slierte op haar skouers hang, is genoeg om enige ou heeltemal van sy sinne te beroof. Dan is daar natuurlik ook haar beroemde bene…
Rozaan kan uit die hoekie van haar oog sien hoedat Rufus haar aanstaar. Jeepers, ouens is darem só obvious! Dit lyk nie eens asof hy dit probeer wegsteek nie. Wel, een van die redes hoekom sy by hierdie party is, is tog om ‘n ander ou te vry en Rufus is by verre die hotste ou by die partytjie.
“Jy weet hy check jou uit, nè?” vra Lisa skelm.
“Uh-huh,” sê Rozaan.
“Jy weet hy kom hiernatoe aangestap, nè?”
“Uh-huh!”
Rozaan voel opgewonde. Dis nie asof sy iets meer by hom soek nie, maar sy gaan beslis nie nee sê as hy haar na een van die tuin se donker hoekies toe trek nie.
“Hey,” sê Rufus toe hy by hulle kom.
“Hey jouself,” groet sy vriendelik terug. Tergerig gly haar oë onverbloemd oor sy sterk lyf. Rufus sien dit. Oh boy, dink hy. Hier kom moeilikheid.
“Wil jy gou saam met my…ek gaan gou…” Rufus sukkel om die woorde uit te kry op só ‘n manier dat sy nie die idee kry wat hy dink sy het nie. Rozaan het egter lankal daardie idee en sy vat hom aan die hand.
“Kom.”
Sy lei hom na die westekant van die groot tuin, in die rigting van die tennisbaan. Daar is baie groot struike wat die sig van nuuskierige koekeloerders sal versper. Die gras is ‘n week vantevore gesny en is sag en klam onder hul kaal voete.
Toe sy seker is dat niemand hulle kan sien nie, sit Rozaan haar hande om Rufus se nek en trek hom nader.
Dit vat elke greintjie wilskrag wat hy bymekaar kon skraap, maar net voordat hulle lippe mekaar ontmoet, keer Rufus haar.
“Rozaan…”
Rozaan, wat al haar oë toegemaak het in afwagting op die soen, kyk hom tergerig met haar neutbruin oë aan.
“Wat nou, jou sexy ding?”
Rufus weet dat as daar medaljes vir dié soort ding was, het hy verseker ‘n goue gekry, want weer ‘n keer weerstaan hy die versoeking om tog maar toe te gee en die girl vuurwarm te vry.
“Dis…dis Juan,” kry hy dit uiteindelik uit.
“Wat van hom?” vra sy kort-af. Hel, dink Rufus, nou moet ek my woorde mooi kies!
“Hy…ek en hy het vanmiddag na skool ‘n bietjie gesels en goed en ek weet dit klink weird omdat ons die eerste slag toe ons mekaar ontmoet het nou nie juis gebond het nie, maar ek dink dat ons dalk pêlle kan wees. As ek nou sy meisie sou vry…dit sou dinge net opneuk.”
“So, jy kies my ou bo my?” kom Rozaan se onverwagte vraag. Rufus maak haar hande, wat nog steeds om sy nek gevou is, los en hou dit dan in sy sterkes vas.
“Dis nie dit nie, glo my. Onthou, ek het ook nog ‘n meisie. Ons sou albei nou gecheat het, besef jy dit? En ek dink nie Juan of my meisie verdien dit van ons nie. Wat dink jy?”
Rozaan sug saggies. Hy het ‘n punt beet.
“Ja…dis net…” begin sy, maar hou dan op. Sy kan nie glo sy gaan haar gevoelens met hierdie hunk deel terwyl sy hom eintlik wou vry nie, maar nou ja.
“Sien, ek en Juan het op ‘n vreeslike romantiese noot afgeskop en alles was net perfek, jy weet. Ons was dié couple toe die skool weer begin het. Almal het gesê ons pas so goed bymekaar en alles was net soos dit moet wees.”
“Nou hoekom wil jy dan op hom cheat?” vra Rufus.
“Want…ek is nie seker hoe ek oor hom voel nie. Ek dink hy is liewer vir my as ek vir hom en ek is bang sy jaloesie vernietig ons altwee,” kom dit vreeslik melodramaties.
“Wat?” lag Rufus. “Dis die grootste klomp crap wat ek nog van ‘n girl af gehoor het!”
Rozaan rol haar oë.
“Ja, okay, vergeet van die jaloesie-stukkie, maar die res is actually waar. Hy is ‘n moerse nice ou en alles, ek is net nie heeltemal seker of ek reg is om die verhouding ernstiger te neem nie.”
“Nou vir wat sê jy dit nie reguit vir hom nie? Ons ouens like dit as girls ons in hulle vertroue neem, weet jy.”
Rozaan voel skuldig.
“Jy’s seker reg.”
“Natuurlik is ek reg. Ek is ‘n ou.”
Rufus besef meteens hoe dit geklink het.
“Ek bedoel, ek is reg oor hoe ons ouens dink,” probeer hy opmaak. Rozaan tik tergend met haar naels op sy breë borskas.
“Relax! Ek is nie een van daai feministiese bitches nie. Aaah! Julle ouens kom ook met moord weg, weet jy?”
Rufus bloos en hy kan sweer sy kan in die maanlig sien hoe rooi hy word.
“So, is jy nog lus om te bly? Of gaan ons waai?”
Rozaan vee haar hare uit haar gesig uit.
“Kom ons gaan. Ek gaan net vir Lisa sê. Maar kom ons hou hande vas as ons van hier af loop, dan keer dit sommer die unwanted attention ook!”
Hierdie keer stap Rufus voor en eers toe hulle by haar vriendinne is, los hy haar hand.
“Ek kry net gou my hemp en my helmet.”
Terwyl sy ‘n opgemaakte storie vir haar opgewonde vriendinne vertel, tel Rufus sy hemp op die patio-stoel op en pluk dit oor sy kop. Hy sien vir Wihan waar hy en die ander manne by die bar staan en kuier. Wihan sien hom ook raak en kom aangestap.
“Gaan ons spore maak?” vra hy. Rufus knik.
“Jip. As jy reg is?”
Wihan sluk die laaste slukkie bier af.
“Kom ons maak ‘n kraak.”
Teen die tyd dat hulle by hul motorfietse kom, wag Rozaan en Lisa al klaar vir hulle daar. Rozaan klim agter by Rufus op en Lisa gaan sit agter Wihan. Sy slaan haar arms om Wihan se lyf en hy glimlag skielik breed.

*****

Toe Juan se selfoon uiteindelik piep, is hy nog wakker. Hy het, nadat hy ‘n hele spul ontspanningstegnieke toegepas het, begin Bybel lees – die storie van Daniël en sy vriende en dit het hom so gefassineer dat hy nie kon ophou nie.
Juan kyk op sy selfoon:

Als was fine. Jou girl is safe. Sien Maandag.

Verligting spoel deur hom en Juan glimlag. Dit moes eintlik nogal baie van Rufus gevat het om Rozaan vanaand so die heeltyd op te check. Hy skuld die ou groot!
Dan skiet ‘n ander gedagte skielik vir Juan binne. Hy moet vir Rufus ‘n bietjie saamvat Jeug toe. Dis ‘n heelwat gesonder omgewing vir Rufus om mense te ontmoet as Jacques Steynberg se partytjies en hy soek al lankal ‘n vriend wat saam met hom kan gaan. Ja, hy sal hom môre sms en sê hy moet saamkom.
Binne oomblikke is Juan vas aan die slaap.

*****

Maandag is ‘n bewolkte dag en teen die middag, toe dit tyd is vir rugbyoefening, het dit saggies begin reën. Die afkondigings oor die interkom aan die einde van die dag het egter vir die Eerstespan bevestig dat daar wel oefening sal wees. Daarom sit die klomp ouens nou op die skool se hoofpawiljoen, besig om hul toks aan te trek terwyl mnr. Venter nog op pad is. Met skaars drie weke oor voor die vakansie en die Rugbyweek, moet hulle soveel oefentyd as moontlik insit.
“Dink jy ons gaan lank oefen vandag?” vra Rufus vir Juan wat langs hom sit en sy veters vasmaak. Juan trek sy skouers op.
“Weet nie. Venter kan soms snaaks wees. Pla my in elk geval nie. Ek’s lus om te oefen.”
Rufus sien die ietwat harde trek in Juan se oë toe hulle opstaan en solank begin losmaak. Juan het hom oor die naweek gesms en saamgenooi na hulle gemeente se Jeuggroep wat Sondagaand bymekaar gekom het. Dit was heel okay. Almal was heavy nice en hy het ‘n hele paar kinders herken van skool. Daar was selfs twee Ewoud Heymans-meisies wat op Jacques se party was. Wihan was ook daar – loud en joviaal soos Rufus hom leer ken het. Juan self het hom baie vriendelik ontvang en die heeltyd geselskap gehou. Vandag by die skool was Juan ‘n bietjie stiller, maar sy nors houding van die vorige ruk was darem heeltemal weg.
Mnr. Venter se fluitjie sny skielik skril deur die seuns se ore.
“Raait, manne! As julle gedink het ons gaan vandag rustig vat, maak julle ‘n fout! Gryp die tyres – vandag gaan ons werk dat die modder spat!”
Vinnig hardloop elke ou en kry vir homself een van die buitebande wat aan ‘n rek vasgemaak is en onder die pawiljoen lê. Die rekke word om hul skouers gesit en dan word daar sprints gehardloop, met die bande wat agterna sleep.
Die ouens gaan staan op die wegspringmerk in ‘n ry.
“Gereed? Gaan!”
Sibu is net ‘n kort kop voor Rufus, Juan en Wihan, wat gelyk wenstreep toe nael. Nog nege keer laat mnr. Venter die manne 100 meter ver met die bande voluit hardloop. Dit het intussen harder begin reën sodat dit nou op die ouens neersous en die gras waaroor hulle hardloop is een groot modderpappery. Die bande het ook begin water skep, wat veroorsaak dat dit swaarder word met elke lopie.
“Raait!” skree Mnr. Venter. “Bring die duiksakke!”
Twee ouens met dryfsakke en twee duiksakke word in die modder opgestel. Waar Sibu staan en blaas, kan hy sy oë nie glo nie.
“Is this guy for real?” hyg hy saggies na Wihan se kant toe.
“Man, ons doen dit net,” hyg Wihan ewe moeg terug en vee die water uit sy oë uit. Juan staan en blaas soos ‘n omgekrapte bul, maar Rufus kan sien dis baie meer van vasberadenheid en opgehoopte aggressie as van moegheid. Hyself kan voel hy het hard gewerk, maar daar is nie ‘n manier dat hy nou kan laat slap lê nie.
“Gereed? Gaan!”
Op Venter se fluitjie storm Juan eerste vorentoe en dryf in die eerste dryfsak in. Hy loop die ou heeltemal uit die aarde uit en hardloop dan voort na die eerste duiksak toe. Hy slaan albei sy arms om die sak en duik dit sodat die modder in alle rigtings spat. Hy spring op na die tweede dryfsak, stamp die ou wat dit vashou só hard dat hy op sy rug te lande kom en duik dan die laaste duiksak met ‘n kreet plat. Kort op sy hakke volg Wihan, daarna Sibu en dan Rufus en die res van die span.
Vir Juan word dit meer as net ‘n tackle-oefening. Met elke ronde gaan hy harder in, duik laer en doen dit met meer geweld en aggressie as die vorige keer. Elke keer as hy ná die tweede duiksak opstaan, voel hy meer verlig. Hy het nog altyd alles ingesit tydens oefeninge, maar vandag is dit anders. Vandag is sy motivering anders. Vandag is elke dryfsak en elke duiksak sy pa.
Want die vorige aand was die eerste aand wat sy pa hom met die vuis geslaan het.

*****

Toe die reën Marli se netbal-oefening kanselleer, het sy die kans aangegryp om ‘n ekstra sangoefening in te werk. Dit werk baie beter om by die skool sang te oefen as by die huis, want die skool se musiekkamers is klankdig en daar pla sy niemand nie. Sy kan die deur agter haar sluit, haar musiek aansit en haar net daaraan oorgee sonder om bekommerd te wees haar ma gaan haar onderbreek of kom vra om sagter te wees.
Sy vergeet heeltemal van die tyd en toe sy uiteindelik by die musiekkamer uitstap, sien sy hoe die rugbyseuns van die veld af kom. Die reënstorm van vroeër die middag het darem uiteindelik bedaar. Sy stap na die hek van die sportgronde toe. Sy het haar ma gesms om haar te kom haal, maar dit kan dalk nog ‘n rukkie neem. Haar ma is nie baie aktief in die middae nie en haat dit eintlik om gesteur te word.
Marli sug terwyl sy haar selfoon in haar skoolsak teruggooi. Eintlik wil sy glad nie huis toe gaan nie. Die vorige aand was net…iets wat sy nooit weer wil beleef nie.
Sy en Juan het skaars teruggekom van Jeug af toe haar pa op hulle begin skree het. Sy kon eers nie verstaan wat aangaan nie, maar toe het sy die leë bottel Cane op die koffietafel gesien staan en alles het meteens sin gemaak. Haar ma was nêrens te sien nie, maar die hoofslaapkamerdeur was toegesluit. Haar pa het hulle uitgeskel vir als wat sleg is. Hy het hulle skynheilige skuim genoem wat by die kerk voorgee dat hulle engeltjies is. Hy het op haar geskree dat niemand haar in elk geval ooit sal wil hê nie en dat sy nooit iewers met haar sang sal kom nie. Juan het verbyster teen die yskas bly staan en niks gesê nie en net haar pa se tirade aangehoor.
Juan het dit erger as sy gekry.
“Ja, jou stuk vrot vel, wat het jy vir jouself te sê? Jou mooi soet gaan hou by die kerk, nè? Wie dink jy probeer jy impress, hè? Die Here? Want Hy like jou ook net so min soos ek!”
Dis toe dat Juan vorentoe gestorm het, op hulle pa af. Nie dat sy presies kon agterkom wat hy wou regkry nie. Sy het gillend agter hom verby gehardloop teen die trappe op en halfpad boontoe gaan staan. Hulle pa het die koffietafel en die bottel Cane omgestamp en vir Juan deur die gesig geklap. Daarna het hy vir Juan ‘n vuishou in die maag gegee, wat hom wind-uit gelaat het en hom op die mat laat krul en hyg het na asem.
“Jy’s nie meer gehok nie, drol,” was al wat haar pa gesê het voor hy slingerend by die agterdeur uit is.
Sy het op die trappe neergesak en geskok begin snik. Juan het sy asem teruggekry en kreunend teen die trappe opgesukkel. Sy wou hom help, maar hy het haar weggewys.
“Los my,” is al wat hy saggies kon uitkry. Sy kon sien dat hy baie pyn het – en nie net fisiese pyn nie.
Die volgende oggend was haar pa se kar al reeds weg toe hulle skool toe is. Sy het ‘n lift saam met ‘n vriendin gekry en die hele dag van die situasie by die huis probeer vergeet.
Maar nou lê dit soos ‘n berg voor haar, een wat sy nie weet hoe sy dit gaan uitklim nie. In haar hele lewe het iets soos gisteraand nog nooit gebeur nie.
Marli gaan sit op die sementbankie by die hek en maak haar oë toe. Miskien is alles net ‘n slegte droom, miskien gaan sy een of ander tyd wakker word uit hierdie nagmerrie uit. Ag, Here, waarom moet hierdie dinge met ons gebeur? Ons is dan U kinders, ek en Juan probeer U dan tog dien, bid sy. Is dít dan wat ons daarvoor kry?
Sy sit nog so met haar oë toe, toe iemand skielik langs haar kom sit.
“Hey, Marli,” groet Leon en plak dan uitgeput langs haar neer. Sy maak haar oë oop en herken hom byna nie. Van kop tot tone is hy besmeer van die modder. Net sy gesig is ‘n bietjie skoon ná ‘n waspoging by een van die krane.
“Haai, Leon,” groet sy skamerig terug. Leon is een van die main rugby-ouens in die skool. Hoekom sal hy nou skielik met háár wil praat? Sy het nie eens geweet hy ken haar naam nie!
Leon vee selfbewus oor sy hare waarin daar vaalbruin modderkoeke saamgepak het.
“Wat doen jy nog so laat by die skool?” vra hy en glimlag. Sy tande is baie wit teen sy modderbruin gesig.
“Ek het sang geoefen,” antwoord Marli. “Jy?”
Vir ‘n oomblik kyk Leon haar vraend aan. Kan die girl nie sien hy het rugby geoefen nie? Maar dan sien hy hoe sy agterkom dat sy ‘n baie obvious vraag gevra het en hulle altwee proes van die lag.
“Ja, ek het ‘n…’n panda gejag,” spot hy. Hy sien hoe Marli verleë word en probeer haar dan troos deur sy hand op haar skouer te sit, maar dis vuil en vol modder.
“O, crap! Nou’s jou skoolklere ook vuil,” begin hy verskoning maak, maar dan begin Marli saggies te snik. Nou weet hy glad nie wat om te doen nie.
“Ek’s jammer oor jou skoolklere, ek het nie bedoel…”
Marli beduie met haar hand dat hy moet stop. Sy kry ‘n tissue van iewers uitgetoor en vee dan haar oë af.
“Dis nie dit nie. Vandag is net nie my dag nie,” kom dit snuiwend. Leon voel verlig.
“O, sorry man. Iets waarmee ek kan help?” Hy weet nie waar hierdie skielike beskermingsdrang vandaan kom nie, maar dis asof hy net graag dit wat hierdie meisie laat huil, wil uitwis.
Marli skud haar kop.
“Ek dink nie so nie! Maar dankie. Dis altyd lekker om te weet iemand wil help.”
Sonder dat sy dit beplan het, sit sy haar kop teen sy bors en gee nie eens om oor die modderbesmeerde rugbytrui nie. Leon sit sy arms om haar skouers en druk haar saggies teen hom vas.
“Toemaar, alles sal regkom,” sê hy en kyk op na die horison se kant toe.
“Hoe weet jy?” vra Marli en tel haar kop op. Leon glimlag en beduie met sy hand na waar die wolke begin ooptrek het.
“Die reënboog. Reënboë beteken altyd daar is hoop.”

*****

Laat die middag kom Wihan modderbesmeer en stokflou by die huis aan. Hy en Sibu het besluit om die gym ‘n skip te gee ná die strawwe oefensessie waardeur mnr. Venter hulle gesit het. Hy is in elk geval te vuil, die gym sal hom wegjaag as hy in hierdie toestand daar aankom!
“Gaan sit jou vuil toks buitekant sodat die modder daar kan droog word,” het sy ma hom met een kyk beveel. Wihan se ma is nie ‘n moeilike mens nie, maar vir modder het sy nie veel ruimte in haar lewe of haar huis nie. Buitekant, beslis. Wihan en sy maatjies het kleintyd al in die tuin modderdamme gebou en dan met hul besmeerde arms en bene die sitkamer binnegestorm. Die laaste keer het sy op hulle afgekom waar hulle besig was om in die sitkamer haar splinternuwe wit langhaarmat vol oulike bruin voetspoortjies te betrap. Net daar het sy ‘n buitestort langs die swembad laat installeer.
“Jy spoel jou modder dáár af en nie in my huis of my swembad nie,” was haar reël en die gesin het maar te goed geweet om vinnig daarby in te val.
Daarom het Wihan sy ma sommer so deur die kombuisvenster gegroet en die opdrag om sy toks buite te los ontvang. Hy loop om die huis, gaan sit agter op die stoeptrappie, trek sy toks uit en stap dan na die buitestort. Gelukkig het sy ma dit goed gedink om ‘n warmwaterkraan te laat installeer!
Die warm water laat ‘n groot lekkerte oor sy lyf kom soos wat dit sy moeë spiere masseer. Hy stort sommer so met sy oefenbroekie aan en vir ‘n paar minute staan hy net doodstil, toe-oë en laat die water oor hom spoel.
Dan tref ‘n vlaag yskoue water hom van bo sodat hy van skok na sy asem hyg.
“What the fudge..?”
Wihan kyk op en sien hoe Leon homself skeur van die lag.
“Jis, pêl, nou het jy met die verkeerde leeu se snorbaarde gespeel!” sê hy en spring uit die stort. Leon kan sien wat Wihan se plan is en probeer terugvlug oor die muur na hul eie erf toe, maar Wihan kry hom tog aan die enkel beet en trek hom terug sodat albei agteroor op die gras langs die heining val. Dit word ‘n gestoeiery, maar Leon is sterker as Wihan en pen hom uiteindelik vas.
“Wat gaan jy nou doen?” vra hy tergend.
“Dít,” sê Wihan en met ‘n flip-beweging van sy geoefende losskakelbene skiet hy vir Leon bo-oor sy kop sodat hy binne-in die swembad beland. Proesend kom Leon terug na die oppervlak.
“Okay, okay, ons is seker quits,” gee hy laggend toe toe Wihan hom hand gee om hom uit te help. Toe Wihan hom egter wil uittrek, pluk Leon vinnig sy arm. Wihan verloor sy balans en beland met ‘n gespat van water saam met Leon in die swembad. Sy oë is groot toe hy weer die rand bereik.
“My ma gaan ons vrek maak!”
“Hoekom?” wil Leon met ‘n effense frons weet. Wihan beduie na die water.
“Die modder…”
“O, crap,” kom dit verskrik van Leon. Die twee spring op en skiet dan albei oor die muur na Leon-hulle se erf toe. Leon gaan haal twee handdoeke en die ouens droog hulleself tot ‘n mate af. Moeg gaan sit hulle teen die huis se muur.
“Is julle ook so heavy gedril vandag?” vra Wihan moeg.
“Jip,” antwoord Leon. “Reën of te not, oefen sal ons oefen. Ek neem aan dis ook die rede dat jy soos ‘n moddermannetjie lyk?”
“Ja,” sê Wihan. “Venter het vandag geen genade gehad nie. Die ouens kon naderhand net nie meer nie. Selfs daai nuwe ou, Rufus, was naderhand kas toe. Net Juan het gelyk asof hy nooit gaan moeg word nie. Hy het geoefen soos ‘n dier.”
“Sy sussie is nogals oulik.”
Wihan frons.
“Marli?”
“Mmm. Ek het so bietjie met haar gechat na skool en stuff. Sy’t vreeslik gehuil, toe troos ek haar.”
“Wat?!” lag Wihan. “‘Toe troos ek haar’. Wat’s dit veronderstel om te beteken?”
“Net wat ek sê! Ek het haar vasgehou…en sy het haar kop op my bors gesit.”
“En toe vry jy haar?”
“Dis…my besigheid,” kom dit ontwykend van Leon, maar Wihan kan sien hoe die ou verleë word.
“Ek het dit geweet! Toe vry jy haar sommer net daar in die straat. Lekker, man.”
“Ek het haar nie sommer net daar in die straat gevry nie! Dis nie hoe dit is nie.”
Wihan trek sy wenkbroue op.
“Nou hoe is dit dan? Verduidelik ‘n bietjie?”
Leon weet hy het homself in hierdie hoek gekry en nou sal hy maar moet praat.
“Ek dink ek like haar. Ek ken haar al lankal van sien en so en sy is moer mooi. Sy is nie soos die ander meisies in graad nege nie – sy het actually breins.”
“En mangels,” val Wihan hom in die rede. Leon klap sy tong.
“Ag, voertsek, man! Ek sê mos ons het nie gevry nie. Sy’s ‘n goeie meisie en dis nie asof ek haar net wil score en los nie.”
“Jy beter haar nie seer maak nie,” sê Wihan skielik ernstig. “Dinge by hulle huis is nie lekker nie en as jy haar gaan gebruik, gaan ek jou net met ’n vuis móét bykom.”
“Ek sê mos ek gaan nie! Haar huislike omstandighede beïnvloed my in anyway indirek ook. My pa werk vir haar pa, onthou, so wanneer dié toppie ‘n moeilike dag het, haal hy dit op sy werknemers uit en dan kry ons dit by die huis ook.”
“Genuine?”
“Jip. En deesdae is hy besonder edgy by die werk en wanneer ek sê edgy, bedoel ek kind of gesuip.”
“Wat? No ways, nie oom Martin nie. Ek weet dinge is nou nie altyd tien vier daar by hulle huis nie, maar ek kan nie dink dat hy ‘n suiplap is nie. Ek ken die oom, hulle is kerkmense en alles.”
Leon skud sy kop.
“Dis nie wat my pa sê nie. Apparently het van die skoonmakers nou die dag drie leë bottels whisky uit sy kantoorasblik gehaal – en hulle maak elke dag skoon.”
Wihan sit bekommerd terug teen die muur. Dit verklaar waarom Juan so omgekrap was by vandag se oefening! Hy het gesien iets pla hom, maar hy het gedink dis nog die hele steroids-storie en dat hy nog gehok is. Hy het nie besef dit is eintlik ander probleme nie.
“Dis bad,” sê hy na ‘n rukkie. “Ek het gesien iets bug vir Juan, maar ek het nie besef dinge by die huis…ek sal sommer vanaand daar ‘n draai gaan maak. Jy kan saam kom as jy wil.”
Leon vryf met sy hand deur sy hare.
“Thanks, ek dink ek sal. Sal lekker wees om vir Marli ook te sien.”

*****

Die musiek dreun oudergewoonte deur Rozaan se kamer.
“So, gaan jy dit nou doen of nie?”
Rozaan sug.
“Dis nie so eenvoudig nie, Lisa! Ek kan self nie glo Rufus is so ‘n goody-goody ‘ek-wil-nie-op-my-girl-wat-vrek-ver-is-cheat-nie’. Hy het dit so verkeerd laat klink.”
Lisa lag.
“Dit is nogal, weet jy.”
“Ag, toe! Jy was saam met my van die begin af in die hele ding in. Moenie nou maak asof jy so onskuldig is nie. Anyway, dit gaan nie oor Rufus nie, dit gaan oor Juan. Ek meen, hy bly ‘n nice ou en alles, maar ek voel nog dat ek nie meer langer met hierdie verhouding wil aangaan nie. I need my space.”
“Space se gat. Dink jy nie jy sou anders gevoel het as…”
“As wat?”
“Jy weet…as Juan dinge dalk al verder gevat het nie.”
Rozaan kyk haar vriendin ietwat verbaas aan.
“Wat laat jou so dink?”
Lisa skuif nader aan die rand van die bed.
“Wel, jy wou vir Rufus agter die bosse by Jacques se huis invat.”
“Om hom te vry, dis al!”
“Yeah, right! Almal weet dat vry maar net die eerste ding is wat ‘n mens agter daardie bosse doen. Jy ook.”
Rozaan kyk skuldig weg.
“Ja, okay, miskien sou dit dinge anders gemaak het, maar nou het dit nie met Juan óf Rufus gebeur nie. Buitendien, Juan is deesdae heeltemal te broody na my sin.”
“Die voëltjies fluit dis omdat sy pa deesdae só dronk by die huis aankom dat hy nie op sy voete kan staan nie. Maak glo tot vier bottels whisky per dag op kantoor klaar. Alleen.”
Rozaan se mond val oop.
“Wát?”
Lisa knik.
“Dis die waarheid! Klink my Juan het eintlik nou sy girl nodig.”
Sy lê terug en druk die kussing wat sy vasgehou het agter haar kop in. Rozaan plak haarself op ‘n stoel neer.
“Well, boo-frikkedy-hoo. Ons almal het ons probleme. Ek gaan verseker nie Juan se crutch wees nie. Dis tyd dat ek hierdie verhouding beëindig, voordat hy begin dink ek gaan daar wees vir hom deur sy donker, swaar dae.”

*****

Juan staan traag op toe die voordeurklokkie aanhou lui. Marli is in die bad en sy ouers is nie by die huis nie. Sy pa werk seker weer laat (of suip seker maar weer op kantoor – selfde ding) en sy ma het een of ander Dames Aktueel-groepie-ding aan. Pas hom fyn, dan is dinge by die huis darem hanteerbaar.
Hy maak die voordeur oop.
“Rufus! Hoe lykit, ou?”
“Hey Juan. Is jy besig, of kan ek inkom?”
“Sure,” beduie Juan en nooi vir Rufus binne.
“Thanks. Ek wou sommer by jou kom hoor oor daai wiskunde-huiswerk van Juffrou Bezuidenhout vir môre…ek het nie ‘n cooking clue wat daar aangaan nie! Jy kan my nie dalk help nie?”
Juan se wenkbroue lig onseker, maar hy glimlag vriendelik.
“Well, I’m flattered, maar ek sukkel net soos jy, pêl! Maar, okay, as jy jou boeke hier het, kan ons saam kyk. Dalk maak Ouma Bessie se twakpraat dan sin.”
Rufus lag. Hulle stap op na Juan se kamer toe en Juan maak ‘n bietjie plek by sy vol lessenaar.
“Sorry, dis so deurmekaar hier. Ek het nog die hele laasweek in my kamer gegym ook, so…”
Rufus maak ‘n gebaar met sy hand.
“No worries, ou! Jy moet my kamer sien. Hierdie is nie ‘n patch teen dit nie.”
Terwyl die seuns so geselsend begin om aan hul wiskunde te werk, kom Marli uit die badkamer gestap. Sy gaan staan stil in die gang toe sy die stemme uit Juan se kamer hoor. Daar was baie lanklaas iemand by Juan! Hierdie is ‘n welkome verrassing. Sy wonder wie by hom is? Vinnig gaan trek sy vars klere aan en gaan klop dan aan sy deur, net toe sy hoor hoe die twee seuns hardop lag.
“Ja?” antwoord Juan en maak die deur oop. “O, hey, Sussie. Het jy en Rufus al ontmoet?”
“Nee,” skud sy haar kop en kyk na die aantreklike vreemdeling in haar broer se kamer. “Haai, ek’s Marli.”
“Rufus Lambert, aangename kennis.”
Vir ‘n oomblik staan almal net so stil. Juan besluit om die atmosfeer te breek.
“Okay, ek’s lus vir koffie. Wil julle ook hê?”
“Sal lekker wees, dankie, Boeta,” sê Marli en draai dan om en stap na haar kamer toe. Wow! Waar het haar broer sulke hot vriende gekry? Die ander ouens van hulle groep is nie noodwendig lelik of iets nie, maar sy is eintlik al so gewoond aan hulle. Iemand nuuts, met Rufus se looks veral, is ’n lekker variasie op die tema! Skielik is Leon se gesig voor haar oë en Rufus vervaag. Ja, okay, Rufus is vrek sexy, maar toe Leon haar vandag vasgehou het…Dit het iets anders in haar wakker gemaak.
“Kom ons gaan kombuis toe,” sê Juan en die twee seuns stap al geselsend af met die trappe. Net toe hulle onder kom, lui die voordeurklokkie weer.
“Nou wie kan dit wees?” wonder Juan hard-op en gaan maak oop.
“Hey tjomma!” groet Wihan en hy en Leon stap sommer in.
“Hallo. Kom in. Maak julleself tuis,” sê Juan nadat Wihan al klaar die pad kombuis toe gevat het.
“Hey, Juan,” groet Leon.
“Yes ja,” groet hy terug en hulle skud blad. Leon en Juan was in dieselfde laerskool, maar omdat hulle in verskillende ouderdomsgroepe is en na verskillende hoërskole toe gegaan het, ken hulle mekaar nie vreeslik goed nie. Juan weet dat Leon se pa by Martin Motors werk, maar dis eintlik al wat hy regtig van hom af weet. Dít en natuurlik die feit dat hy ‘n stoomroller op die rugbyveld is.
“Rufus!” klink Wihan se stem vanuit die kombuis uit. “Wat maak jy hier?”
“Wiskunde,” lag Rufus. “Ons probeer om saam-saam deur die goed te struggle.”
“En nou maak ons koffie,” las Juan aan. “Soek julle ook?”
“Klink goed, dankie,” sê Leon en Wihan knik ook sy kop.
“Lekker man. Ons almal ken mekaar, nè?” vra hy, byna as ‘n nagedagte. Die ander ouens kyk na mekaar.
“So op ‘n manier,” kom dit van Rufus af. Juan haal die koffiebekers van die kombuisrak af.
“Hoe drink julle julle koffie?” vra hy.
“Sterk en swart, net soos Sibu,” verklaar Wihan gemaak ernstig.
“Uit ‘n beker uit,” sê Rufus.
“Met my mond,” antwoord Leon.
Juan besluit om die pittighede te ignoreer.
“So, twee suiker en melk vir almal, dan,” sê hy asof vir homself en die ouens lag.
Vir die tweede keer dié aand laat ‘n gelag in hulle huis vir Marli op die trappe stilstaan. Dit kan nie net Juan en Rufus wees nie, sy kon sweer daar was meer stemme! Fronsend stap sy af kombuis toe.
Toe sy instap, is dit asof haar hart ‘n bokspring gee. Leon!
“Haai, julle,” groet sy skamerig en maak dan asof sy iets uit die yskas uit kom haal het.
“Soek jy nog koffie, Sussie?” vra Juan. Sy voel hoe haar gesig rooi word toe hy haar ‘Sussie’ noem.
“Nee, wat, ek drink mos nie eintlik koffie nie. Ek gaan sommer net ‘n vrug vat,” sê sy, gryp haastig ‘n appel uit die yskas en verdwyn dan soos blits by die trappe op.
Juan frons.
“Rufus, het sy nie nou net daarbo heel eerste gesê sy wil koffie hê nie?”
“Jip,” bevestig Rufus. “Wat dink jy is aan die gang?”
Wihan, wat die situasie fyn dopgehou het, maak sy keel veelseggend skoon.
“Hmm, ek wonder. Weet jy dalk wat dit kan wees, Leon?” vra hy aspris en draai met gevoude arms en ‘n glimlag wat boekdele spreek na sy vriend langs hom. Leon verwens vir Wihan en selfbewus probeer hy die rooiheid van sy ore afkrap.
“Nee, hoekom sal ek iets weet?”
Wihan geniet die situasie terdeë en sit terug in sy stoel.
“Ag, ek het sommer net gewonder hoekom jou ore so rooi is.”

*****

Rozaan staan voor Juan-hulle se voordeur. Sy het vir haar ma gejok en gesê sy gaan by Lisa aan ‘n Bedryfsekonomie-taak werk. Haar ma sal enigiets glo. Eintlik het sy gekom om met Juan uit te maak. Sy sien die kombuisligte brand en hoor hoe die mense daar binne lag en gesels. Die atmosfeer klink so vrolik, so…veilig. Rozaan betrap haarself dat sy glimlag. Vanmiddag nog was sy so seker dat dit die regte ding is om te doen! Sy was so oortuig dat sy nie meer regtig iets vir Juan voel nie. Sy en Lisa het vir Corna gebel en sy het hulle met haar ma se kar gebring.
Nou staan sy voor die deur, haar handpalms sweterig…en sy voel verskriklik onseker van haar saak. Moet sy dit doen?
As jy dit doen…dit sal sy hart breek, sê die stemmetjie in haar kop.
Man, hy is ‘n sexy ou, hy sal gou weer ‘n girl kry, stil sy haar gewete.
Ja, maar hy het jou nou nodig, kom die stemmetjie weer.
Hy het baie vriende, hoor net daar hoe lag hulle, probeer sy weer.
Maar nie een van hulle is sy meisie nie, sê Stemmetjie.
Rozaan bly stil en vee dan haar hande ‘n laaste maal teen haar broekspype droog.
Ek ook nie.

*****

Die ouens het begin grappe vertel en die een na die ander staaltjie word uitgeryg, die Wiskunde lankal vergete. Juan kom agter dat hy lanklaas so ontspan het, so lekker gelag en gekuier het saam met ‘n klomp ouens. Vandat hy en Rozaan begin uitgaan het, was dinge net nie meer dieselfde tussen hom en sy vriende nie. Met dié dat dinge by die huis ook begin skeefloop het, was lag een van die dinge wat hy die afgelope tyd baie min gedoen het.
Die voordeurklokkie lui weer en hy staan laggend op.
“Ek’s nou terug,” sê hy en stap by die kombuis uit.
“Sjoe, die ark is omtrent oop vanaand,” hoor hy nog vir Wihan in die agtergrond. Toe hy die deur oopmaak, word Juan vir die derde keer die aand verras.
“Hey, bokka! Dis ‘n lekker verrassing! Kom in,” groet hy haar en wil haar ‘n soen gee, maar Rozaan skram weg.
“Wat’s dit nou?” vra Juan en sy hart begin skielik in sy keel klop.
Rozaan trek met haar vingers deur haar hare.
“Juan…ek…ek maak uit,” kry sy dit uiteindelik gesê met ‘n baie bewerige stem. Juan word asvaal.
“Nee…nee! Hoekom? Wat gaan aan? Het iets…” ’n Gedagte skiet Juan se kop binne. “Wat het by Jacques se party gebeur?”
Hy is meteens woedend. Rufus het hom dan nog ewe plegtig gesms dat alles fine is met Rozaan. Het die ou nou vir hom gelieg?
Rufus en die ander ouens kom nusskierig nadergestap. Rufus sien vir Rozaan by Juan en besef skielik wat aangaan. Oh no.
“Juan, dis nie…” begin Rozaan, maar dan kyk sy oor Juan se skouer en sien vir Rufus in die deur. Onwillekeurig kom die trane en sy kry niks verder gesê nie.
Met gevoude arms draai Juan na Rufus toe.
“Ek dog jy sê alles is fine.” Sy stem is kil en sy oë spoeg haat. Flip, hierdie ou is darem maar ‘n moerse backstabber!
Rufus besef dat hy sy woorde nou baie versigtig sal moet tel.
“Alles wás fine,” probeer hy versigtig, maar Juan skud sy kop.
“Ek wil die waarheid weet. Nóú.”
Rozaan vee met ‘n tissue oor haar oë. Sy weet skielik wat sy kan doen om haarself te red.
“Rufus het my Saterdagaand by Jacques se party eenkant toe gevat en toe het ons mekaar gesoen. Lank. Aanhoudend. Hy het vir jou gelieg, alles was nie fine nie. Dís hoekom ek met jou uitmaak.”
Sy draai na Rufus.
“O, en, Rufus: ek stel ook nie regtig in jou belang nie want jy vry moer lekker, maar die seks was crappy. Ciao.”
Rufus se mond val oop.
“Watse twak is dit? Sy lieg, tjomma…”
“Moenie vir my kom ‘tjomma’ nie!” val Juan hom in die rede, terwyl Rozaan al hoe vinniger wegstap.
“Maar sy lieg! Vra maar vir…”
Rufus besef skielik dat daar niemand is wat vir hom kan getuig nie. Toe hulle van agter die bosse uitgekom het, het dit beslis gelyk of hulle gevry het en dis die storie wat sy vir haar vriendinne vertel het. Die hele boudbyt-ding tel ook nie in sy guns nie en Wihan sal ook nie kan sê of hy die waarheid praat of nie.
“Ja?” vra Juan hom. “Vir wie moet ek vra?”
“Ek…ons…”
Vir ‘n paar oomblikke is hy sprakeloos. Hoe het dít gebackfire?
“Jy móét my net glo! Rozaan!” roep Rufus dan uit en hardloop agter haar aan. Rozaan het intussen begin hardloop na waar Corna in die straat geparkeer staan. Toe sy sien Rufus jaag haar, hardloop sy vinniger en spring by die deur wat Lisa vir haar oop hou, in.
“Ry!” gil sy en die Uno trek met skreeuende bande weg.
“Wag!” skree Rufus wat haar amper ingehaal het. Hy kan nie glo dat sy sopas daardie verskriklike leuen kwytgeraak het nie. Hy was die een wat homself met alle mag en krag daardie aand moes beheer en binne ‘n kwessie van ‘n paar sekondes het dit in elk geval in sy gesig opgeblaas. Hy kon haar maar net sowel gevry het.
Rufus draai terug na waar Juan saam met die ander seuns in die deur staan. Hy lyk briesend. Langs hom staan Wihan, met ‘n intense frons op sy voorkop. Agter hom het Leon verskyn, maar hy lyk presies so clueless as wat hy oor die hele storie is.
“Wat gaan aan?” vra Wihan versigtig.
“Daai bliksem het nie net my girl op Jacques se party gevry nie, hy het haar sommer gespyker ook! En dan het hy die flippen audacity om vir my daarna te sms dat sy veilig is!”
Die woede in Juan se stem spat by sy mond uit in klein spoegdruppeltjies. Wihan frons nog steeds.
“By Vrydagaand se party? Waar ek ook was?”
Rufus kom terug by hulle aan.
“Sy lieg! Sy lieg! Ek het haar nie gevry nie en ek het beslis nie met haar seks gehad nie. Flip, ou, jy het my dan vertrou, hoekom sou ek vir jou daaroor jok?”
Juan mik om hom te slaan, maar Wihan hou hom terug.
“Kalm, kalm. Kom ons hoor net eers sy kant…”
“Ek wil nie sy donnerse kant hoor nie!” kap Juan en hy bewe van ontsteltenis. Wihan hou hom egter aan die elmboë vas.
“Laat ons hoor. Rufus?” Wihan kyk met oë vol ongeloof en verwarring op na Rufus. Rufus het ‘n tree of wat terug gaan staan met sy hande op sy heupe. Vir ‘n paar sekondes kyk hy af en bid woordeloos, iets wat hy lanklaas uit sy eie uit gedoen het. Asseblief, Jesus, laat hulle my glo. Ek het nie ander vriende nie.
“Ek en Rozaan was wel agter die bosse in op Jacques se party,” begin hy na ‘n rukkie afgemete. “Ja, ons was alleen en ja, niemand kon ons sien nie. Die versoeking om haar te score was moer groot, dit erken ek. Maar ek het nie. Sy het haar arms om my nek gesit…en ek het haar nie gevry nie. En dit was nie omdat my eie girl ver is nie, maar omdat jy, Juan, my voor die party gevra het om haar op te pas sodat ‘n ander ou dit nie dalk doen nie. Toe Frans vir haar gemik het met die simpel Boudbyt-speletjie, het ek hom uit die pad gestamp sodat hy dit nie kon doen nie. Toe ons agter die bosse gestaan het, het ons op die ou end net gepraat en het ek vir haar gesê dat ek dit nie aan jou kan doen nie omdat ek graag met jou pêlle wil wees. Ek het vir haar gesê nie jy of my girl verdien dit dat ons op julle sou cheat nie. Sy was die een wat gesê het ons moet hande vashou as ons daar agter uitkom sodat dit die unwanted attention kan keer.”
Juan kyk hom net emosieloos aan.
“Is dit waar Wihan? Jy was mos ook daar.”
Wihan trek sy skouers versigtig op.
“Ek…weet nie. Hy het my vroeër die aand gevra of ek vir Rozaan gesien het want hy wou haar iets vra, maar ek kan nie sê nie. Soos hy sê, niemand kon hulle sien nie…” huiwerig bly hy stil.
Rufus het intussen kop onderstebo op die gras gaan sit. Sonder dat hy dit kan keer, begin die emosie in sy stem stukkie vir stukkie losbreek.
“Flip, ouens, ek weet nie hoekom glo julle my nie! Ek probeer vriende maak, maar dis hel moeilik as almal jou die heeltyd judge en uitcheck en net wag dat jy ‘n voet verkeerd sit. ‘Oe, jy kom mos van Waterkloof af’! Wil julle weet hoekom ons uit Pretoria getrek het? My ouers het nie ‘n prokureurspraktyk hier gekoop nie. Dit was die enigste ding waaroor ek vir julle gejok het. My ouers is geskei en my pa het ons amper kaal uitgetrek. My motorfiets het ek met erfgeld van my oorlede oupa gekoop, dis hoekom ek hom kon hou. Maar my ma het niks oor nie! Sy het werk gekry by die blerrie till in Checkers! Ons bly in ‘n tweeslaapkamerwoonstel en ons het die klere aan ons lywe en dit wat in ‘n tas kon kom. Dis hoekom ek nie by my ou skool aangebly het nie, want daar was nie geld nie. Ja, daar was sponsors wat my daar sou kon hou, maar hulle was vriende van my pa en met sy contacts het hy hulle almal laat onttrek. Die hele saak het so vinnig gebeur…en toe ek weer sien, is ons hier en moet ek probeer om die beste te maak van ‘n situasie waaroor ek geen beheer het nie. En die ergste was toe ek vroeër vanaand ‘n sms van my girl in Pretoria af kry wat sê dat sy en een van my beste vriende saamgeslaap het en nou ‘n item is. Ek vra jou weer: Hoekom sou ek vir jou jok, Juan?”
Rufus kyk vir Juan, wat ook gaan sit het, vas in die oë toe hy dit vra. Dan laat sak hy sy kop en begin saggies te snik. Juan is doodstil. Weerskante van hom het Wihan en Leon ook kom sit. Die nag is baie stil, behalwe vir Rufus se snuiwe wat saggies die stilte verbreek.
Juan sit stil en kyk na die groot ou voor hom wat soos ‘n klein seuntjie huil. Hel, ons het eintlik baie in gemeen, dink hy. Nie een van ons twee se pa’s wil ons regtig hê nie. Pleks hy dit al vroeër gesê het…
Leon sit sy hand op Rufus se skouer.
“Ek dink ek verstaan, tjom. My ma het ons gelos nadat sy vir die grootste deel van my lewe haarself soos ‘n hoer gedra het en my pa…is nou nie juis ‘n treat nie.”
Juan kyk geskok na Leon se kant toe. Wat? Hy ook?
“Ons het almal probleme,” hoor hy homself sê en hy skrik half toe hy sy eie stem hoor, maar dis asof hy homself nie kan keer nie. “My pa…het begin om heavy te drink…en ons te slaan…en hy vloek my, vloek my sodat die see my nie kan afwas nie…”
Dis eers toe hy die nattigheid op sy wange voel dat Juan besef hy is ook besig om te huil. Vir die eerste keer in sy lewe gee hy egter nie om nie. Hy kan voel dat hierdie klein sirkeltjie veilig is, dat dit ‘n plek is waar hy homself nie met alle mag en krag hoef te beskerm nie.
Wihan het nog die heeltyd doodstil gebly. Hy besef meteens opnuut hoe bevoorreg hy is om ‘n redelike stabiele, liefdevolle huishouding te hê waar die ma en die pa lief is vir mekaar en daar nie hierdie verskriklike probleme teenwoordig is nie. Ja, sure, niemand en geen huisgesin in die wêreld is perfek nie, maar volgens die standaarde wat tans tussen die vier van hulle heers, kom hy eintlik uit ‘n baie gelukkige gesin. Die dankbaarheid in sy hart en die gewydheid van die oomblik weerhou hom daarvan om dit ligtelik op te neem. In plaas daarvan sit hy sy hande op Rufus en Juan se skouers en trek hulle dan nader aan hom. Die ander vat mekaar ook vas, sodat hulle nou ingehaak naby mekaar sit. Spontaan begin Wihan te bid.
“Here Jesus, ons is stukkend. Ons girls los ons en jok vir ons, ons ouers verwerp ons en breek ons af en die druk om te presteer laat ons dom dinge doen. Maar, Here, U sê vir ons dat U ons las kom dra as ons dit na U toe bring. Ons bring dit vanaand na U toe, Here, al ons hartseer, ons slegte gewoontes, al die dom goed wat ons aanvang om ons ouers en die wêreld te probeer impress. Here, ons is moeg daarvoor om te voel dat ons nie goed genoeg is nie. Ons is moeg daarvoor om die heeltyd onsself te moet bewys aan ander sodat hulle ons kan aanvaar. Help ons, asseblief Jesus, want alleen kan ons nie meer nie.”
Vir ‘n paar sekondes staan hulle nog so en dan omhels Juan vir Rufus.
“Ek’s jammer, tjomma,” kry hy dit uit. “Ek moes geweet het sy is besig om te lieg.”
“Dis okay,” kry Rufus dit reg om te glimlag. “Met my girl wat my ook vanaand gelos het, het ons nogal baie dieselfde tipe crap om mee te deal.”
“Ons is hier vir julle, ouens!” lag Leon van waar hy langs Wihan gaan staan het. Die ander ouens begin ook weer te lag. Hulle vee hulle trane af en stap terug in die huis in.
Terwyl hulle in die badkamer gou hulle gesigte afspoel, onthou Juan skielik van iets.
“Ek het daai aand van die party gelê en Bybel lees. Toe lees ek van Daniël en sy drie vriende en hoe hulle getrou gebid het. Maybe moet ons dit ook meer gereeld so saam doen.”
Wihan knik sy kop.
“Klink vir my na ‘n goeie plan. Ons kan sommer in die middae as ons van oefening af kom bymekaarkom. Ons moet net hierdie clown in ag neem,” sê hy en slaan sy arm om Leon se nek. “Nie dat ek dink hy sal mind om saam met ‘n klomp Bergkruin-manne te bid nie, of hoe?”
Leon glimlag verleë.
“Nee wat, dis okay. Dink julle ek kan vir Frans saambring?”
“Dink jy hy sal wil kom?” vra Rufus. Leon trek sy skouers op.
“Ek weet nie. Ons…het nog nooit regtig oor hierdie goed gepraat nie.”
“Hy’s welkom,” verklaar Juan. “En Sibu ook, Wihan, jy moet hom net sê. Tune hom ons sal saam met hom die tokkelossie wegbid.”
Wihan lag uit sy maag uit.
“Ja! Imagine that. Ek kan hom al sien!”

*****

Toe Wihan, Leon en Rufus heelwat later daardie aand huiswaarts keer, stap Juan stadig by die trappe op na sy kamer toe. Wat ‘n aand! Hy’t dit definitief nie sien kom nie. Eers Rufus wat hier oppitch, toe die ander twee, toe Rozaan…dit was eintlik emosioneel ‘n baie uitputtende aand.
Sy ouers is nog nie by die huis nie, maar toe hy by Marli se kamer kom, sien hy dat daar nog ‘n lig brand. Die deur is op ‘n skrefie oop. Hy klop en stoot die deur dan oop. Marli lê op haar bed, opgekrul in ‘n bondeltjie en hou een van haar kussings vas, maar daar is ‘n gloed van vrede oor haar gesig. Sy glimlag toe haar broer instap. Juan glimlag terug en gaan staan teen haar laaikas.
“Like jy vir Leon?” vra hy versigtig, maar reguit. Sy knik net haar kop bevestigend.
“Dis cool,” gaan hy voort. “Ons is nou bidbuddies.”
“Ek’s bly,” sê Marli sag. “Ek’s ook bly dat Rozaan jou gelos het, want ek like haar niks nie. Maar ek is veral bly dat julle ouens mekaar kon vind en vir Jesus in julle lewens begin insluit het. Sulke ouens is enige ordentlike girl se droom.”
Juan bloos en kyk na sy kaal voete.
“Ek is ook bly. Ons het eintlik nogal baie in gemeen, so dis lekker om dit met mekaar te kan deel. Dis amper soos ‘n soort Band of Brothers.”
“Dis goed so,” antwoord Marli. Juan vou sy arms en kyk dan weer op.
“Ironies dat die leuen wat Rozaan vertel het om ons uit mekaar te dryf juis die ding was wat ons ouens aan mekaar gebind het…maar nou ja, ek is baie moeg. Lekker slaap, Sussie,” sê hy en sit dan haar kamerlig af.
“Nag, Boeta.”

*****

DEEL 2

“Go!”
Op mnr. Venter se bevel spring die seuns van hul push-up posisie op en nael op die doellyn af. Hulle is besig met hul laaste afrondingsoefening die Vrydagmiddag voor die Rugbyweek, wat na die naweek begin. Al die besoekende skole kom die Maandag deur die loop van die dag daar aan. Die eerste wedstryde word alreeds die aand gespeel. Die openingswedstryd, tussen Bergkruin en die verdedigende kampioene, Nelsdrif – ‘n span wat alombekend staan as een van die sterkste spanne in hulle tuisprovinsie – vind om 20:00 plaas.
“Go!” blaas Mnr. Venter weer sy fluitjie. Wihan en Sibu druk mekaar die heeltyd om voor te wees en Rufus en Juan blaas in hulle nekke.
Uiteindelik kondig Mnr. Venter se fluitjie skril en uitgerek die einde van die oefening aan.
“Kom sit, manne,” roep hy hulle nader. Hierdie was eintlik ‘n rustige oefening in vergelyking met die drillery waardeur hy hulle die afgelope paar weke gesit het. Die seuns versamel voor hom en gaan sit. Hulle kan sien hy het baie op die hart.
“Ek wil julle vanmiddag iets vra, manne,” begin Mnr. Venter. “Hoeveel is hierdie Rugbyweek vir julle werd? Ek vra vir elkeen van julle vanmiddag: wat is jy bereid om op te offer vir ‘n wen? Vir jou span? Vir jou skool? Vir jou dorp? Dis nou vier jaar vandat ons skool laas die trofee aan die einde van die week omhoog kon hou. Ek weet dat ons as span die potensiaal het om dit weer te kan doen, maar as ons nie elke greintjie energie wat ons het hiervoor gaan insit nie, gaan ons misluk. Ons móét met elke wedstryd ons álles gee. Die aantal drieë wat ons druk is belangrik – hoe meer, hoe beter. Die aantal strafskoppe wat ons afstaan is net so belangrik. Ek gaan nie eens praat oor geel of rooi kaarte nie – ons dissipline móét te alle tye honderd persent wees. Ek weet dat elkeen van julle dit in julle het. Soos wat julle hier sit, beskik elkeen oor die potensiaal om hierdie droom van ons te laat slaag. Maar dan moet ons saamwerk. Om my te help en om julle te help om saam te werk, het ons natuurlik ons kaptein en onderkaptein. Ek het doelbewus tot nou toe gewag om hulle aan te kondig.”
Die spanning tussen die seuns verhoog merkbaar. Hier en daar spring ‘n spiertjie teen die seuns se slape en ‘n paar harte klop skielik met groter afwagting.
“Ons kaptein is Jonathan Meyer.”
“Go figure,” fluister Sibu vir Wihan, wat net met ‘n glimlag saam die ander seuns hande klap. Jonathan is die span se haker, een van die grootste ouens in die skool en onderhoofseun van sport op die leerlingraad. Hy was kaptein van elke span waarin hy nog gespeel het. Hy speel nou al drie jaar lank vir die Eerstespan en was die afgelope twee jaar onderkaptein – een van slegs ‘n handjievol ouens wat dit in graad 10 al kon regkry. Verder was hy reeds in graad elf deel van die provinsiale Craven Week-span en daar is ‘n sterk moontlikheid dat hy vanjaar ook daar kaptein sal wees.
“Ons onderkaptein is…Wihan Gerber.”
“What? You?” lag Sibu vir ‘n verdwaasde Wihan en klop hom op die rug. “Geluk, boerseun!”
Juan glimlag ietwat verbaas. Hy is bly dis Wihan, maar soos die res van die ouens is hy ook effens onkant gevang deur hierdie besluit. Wihan is die grapmaker, die een wat tydens ‘n game iets skerps sal sê net om die atmosfeer te verlig. Niemand het hom ooit voorheen regtig as onderkaptein gesien nie!
“Ek weet julle wonder hoekom ek vir Wihan onderkaptein gemaak het en my redes is my eie. Ek het die volste vertroue dat hy julle saam met Jonathan sal kan lei en ek verwag van elkeen om hom te respekteer vir die posisie waarin hy aangestel is. Jonathan, Wihan, iets wat julle vir die span wil sê?”
Jonathan het reeds by Venter gaan staan en Wihan sluit ook by hom aan.
“Ek sien uit na die week, ouens,” kom Jonathan se diep, sterk stem. “As ons elkeen uit ons hart uit speel, gaan dit ‘n great week wees. Kom ons wen hierdie ding!” skree hy en bal sy vuis.
“Ja!” kom dit spontaan van Rufus af en die ander ouens lag saam.
Wihan staan regop en trots met sy arms voor sy bors gevou. Hy knik sy kop.
“Rufus het darem entoesiasme, maar ek soek dit saam met Jonno van julle elkeen. As ons hierdie ding sáám doen, dan gaan ons dit wen! Yes!” skree hy ook met ‘n gebalde vuis. Die ander ouens staan op en hulle haak bymekaar in. Die kapteins se passie is vir die seuns aansteeklik en hulle trek mekaar vas.
“Elkeen van ons is ‘n hero,” sê Jonathan sagter toe hulle teenaan mekaar staan. “En heroes is nie mense wat terugstaan as daar iets groots voor hulle lê nie. Kom ons pak hierdie week by die horings…en stoei hom in die grond in.”
Wihan knik instemmend.
“Let’s do this. Voor ons loop, kom ons bid net eers saam, sodat ons hierdie bul op die regte manier kan aanpak.”
Saam kniel die ouens terwyl hulle mekaar nog so vashou en Wihan bid vir die week wat voorlê, vir krag, energie en selfbeheersing en ook dat hulle gespaar sal bly van ernstige beserings.
“…sodat alles wat ons doen, op en af van die veld, tot eer van U Naam sal wees. Amen.”
Vir ‘n oomblik staan die manne stil. Dan kom Jonathan se gebiedende kapteinstem:
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“YES!”

*****

Leon Steyn draf teen ‘n stywe pas van die gym af na Wihan se huis toe. Hy was lanklaas in sy lewe so opgewonde en gelukkig. Die afgelope ruk se brothership-sessies saam die ander ouens beteken vir hom vrek baie, en hy is spyt dat Frans nog nie regtig daaraan wil byt nie. Dit het egter vir Leon iets geword waarsonder hy nie regtig wil klaarkom nie. Dis ‘n veilige ruimte waar hulle vir mekaar bid of sommer net chat oor die daaglikse dinge soos oefeninge, gymprogramme, skoolwerk en girls.
Leon is bly dat hy en Juan mekaar beter begin leer ken. Hy en Wihan is al lankal vriende nes Wihan en Juan, daarom geniet Leon dit om saam met die twee manne tyd te spandeer. Hulle vat altwee hulle rugby ernstig op en Rufus hou hulle op hulle tone by die gym. Hy is ook nogals cool. Dis lekker dat hulle as ouens saam hulle probleme kan deel. Dit maak dit makliker om dit te dra.
Boonop gesels hy en Marli al hoe meer by die skool en hy het ‘n keer of wat al by haar huis gaan koeldrank drink. Hulle was nou nog nie formeel op ‘n date of iets nie, daarvoor is hy nog te skrikkerig vir haar pa. Hy’s bang die oom skiet hom of iets, maar ten minste kuier hy en sy dikwels.
Die groot rede vir sy opgewondenheid hierdie middag is egter dat hy as onderkaptein van Ewoud Heymans se Eerstespan gekies is. Hy kan nie wag om die nuus met die ander manne te deel nie!
Leon spring sommer so met sy gymsak en al oor die muur in Wihan-hulle se erf in, waar die ander ouens al reeds vir hom wag.
“Raai wat?” vra Rufus.
“Nee, sê maar?”
“Wihan is gekies as onder-cappy!”
Leon glimlag vir sy vriend wat half verleërig opkyk.
“Wel,” sê hy en stap nader. Hy gaan staan reg voor hom en kyk hom waterpas in die oë. “Ek ook, tjomma!”
“Wat?!” kom dit verras van Wihan. “Geluk, ou!”
“Nee, ek sê geluk vir jou,” antwoord Leon.
“Nee, nee, ék sê geluk vir jóú,” sê Wihan.
“Huh-uh, ék sê…”
Die volgende oomblik stamp Juan hulle albei in die swembad in.
“Seriously,” sê hy vir Rufus, wat dubbeld vou soos wat hy lag. “Dit kan die hele middag so aanhou!”

*****

Die skoolbusse kom Maandag met tussenposes by Hoërskool Bergkruin se sportgronde aan. Die aankoms en registrasie is altyd ‘n potensiële nagmerrie, maar te danke aan jare se ondervinding, laat die Rugbyweek-komitee die reëlings heel glad verloop. Sodra die busse daar aankom, kry die seuns kans om ‘n bietjie bene te rek en sommer die rugbyveld te verken. Die afrigters en spanbestuurders beweeg na die skool se Sportkiosk langs die hoofpawiljoen, waar hulle hul spanne registreer en die ete- en verblyfreëlings uitklaar.
Terwyl party van die seuns ‘n bal rondskop of vir mekaar pass soos wat hulle die sportgronde verken, geniet die bestuur eers ‘n koue verversinkie. Martin Motors is die hoofborg van die Rugbyweek en Martin van Vrede onthaal die afrigters persoonlik in die Sportkiosk.
Teen 18:00 tree al die skole se spanne in die skoolsaal aan vir hulle eie amptelike opening en verwelkoming. Dis ‘n kleurvolle samestelling wat wissel van seuns in hulle onderskeie skole se sweetpakke tot by die meer formeles wat in hulle amptelike kleure aangetrek is. Almal se mascots word saamgedra en van ‘n afstand af beloer en die seuns meet mekaar in stilte op soos wat hulle verby mekaar stap.
Hoërskool Ewoud Heymans is die tweede laaste span om die saal binne te stap, gevolg deur Hoërskool Bergkruin. Die spanning tussen die twee aartsvyande het al vroeër die middag met Ewoud Heymans se aankoms begin opbou en daar is ‘n bruisende opgewondenheid in die saal te bespeur.
Hoërskool Ewoud Heymans se span het hulle amptelike skooldrag en kleurbaadjies aan. Elkeen van die seuns dra ‘n wit erekleure-baadjie met ‘n wit-en-goue koord op die rand, wat verskil van die mosterdgeel kleurbaadjies wat hulle andersins sou dra. Hulle lyk netjies en indrukwekkend. Leon en Victor Swart, hulle kaptein en regterflank, stap voor en gaan staan dan regop en trots. Die span val langs hulle in. Leon kyk vinnig na sy regterkant, waar Frans en Stefan ook in die ry staan. Hy het die volste vertroue in sy manne. Hulle lyk goed in hulle spierwit baadjies en hy weet dat hulle ‘n krag op die veld sal wees om mee rekening te hou.
Toe hulle almal ingestap het, gaan sit hulle gelyk. Leon weet dat die dorpgemeenskap mooi verdeel is tussen hulle skool en Bergkruin. Almal se oë sal op hulle wees. Die dorp sóék ‘n tuisspan-finaal.
Vir ‘n paar minute wag die spanne met ‘n sagte gebrom wat deur die saal suis.
Dan stap Hoërskool Bergkruin se Eerstespan in en dis duidelik dat hulle met elke treë wat hulle gee, sê: Dis óns plek dié, dis óns skool en vanjaar is dit óns beker. Jonathan Meyer se donkerblou oë vernietig sy teenstanders soos wat hy die saal instap en sy span na hulle toegewysde plek, heel voor, lei. Agter hom volg Wihan met ‘n vasberade trek op sy gesig, met Rufus, Juan en Sibu en die res van die 22-tal wat na hom kom. Die goue skoolwapens en goue koord op hulle donker, bottelgroen kleurbaadjies skitter in die laaste strale van die son wat deur die saal se vensters sypel. Hulle lyk sommer soos wenners!
Een van die dorp se predikante bring vir die ouens ‘n boodskap, waarna die seuns na die rugbystadion verdaag. Om 19:00 vind die amptelike opening van die week daar plaas en die openingswedstryd tussen Bergkruin en Nelsdrif word direk daarna gespeel.
Stadig maar seker word die twee skole se manne opgepsyche vir die wedstryd.

*****

Teen 19:00 is die hoofpawiljoen van Hoërskool Bergkuin stampvol mense wat met groot afwagting die seuns, wat reeds op die veld aangetreë het, aanskou. Die seuns is oor die lengte van die veld, met hul gesigte na die pawiljoen, in volgorde van die ouderdom van hul onderskeie skole opgestel. Dit is ‘n indrukwekkende gesig: twintig spanne, twintig skole en 440 seuns, slaggereed vir ‘n week van klipharde rugby. Die opwinding is tasbaar in die soel aandlug en die helder spreiligte verlig die hele rugbystadion.
Die formaliteite word deur mnr. Spies hanteer en Jonathan lees die Sportman se Eed voor. Daarna word elke span individueel aangekondig en ‘n paar statistieke van hulle en hulle skool word voorgehou. Elke span kry ook ‘n geleentheid om hulle skoollied te sing of ‘n kreet te doen. Dit vind plaas onder die luide toejuiging van hulle ondersteuners wat saamgekom het en die hotels en gastehuise van die dorp uit hulle nate laat bars.
Hoërskool Bergkruin kom laaste aan die beurt omdat hulle die gasheerskool is. Bewend van opgewondenheid staan Juan en Rufus langs mekaar en rondtrap, terwyl Wihan en Sibu kort-kort die sweet van hulle voorkoppe af vee.
Toe hulle die skoollied sing, klink dit soos een man. Normaalweg is hulle maar traag om dit te sing, maar op ‘n aand soos vanaand gee ‘n mens nie om of jy van die woorde hou en of die wysie vir jou simpel klink nie. Hier, nou, is dit jou trots wat op die spel is en op geen manier kan jy vir ‘n ander span terugstaan nie.
Uiteindelik verdaag al die spanne van die rugbyveld af. Bergkruin en Nelsdrif se Eerstespanne verdwyn na hul onderskeie kleedkamers om te gaan regmaak vir die groot openingswedstryd.

*****

“Thunder! Ahahahaha…Thunder!”
In die kleedkamer van Bergkruin se Eerstespan staan die ouens in stilte en rondtrap terwyl hulle AC-DC dofweg van die pawiljoen af kan hoor weergalm. Wihan is baie senuweeagtig. Hierdie is ‘n groot wedstryd vir hom. Behalwe dat hy teen alle verwagtinge in onder-kaptein geword het, dink hy aan sy skopwerk. Hy het elke middag vir ten minste ‘n uur lank alle moontlike skoppe uit alle denkbare posisies geoefen, maar tog voel hy gespanne. Hy wonder hoe voel die wind op die veld? Hy kan glad nie onthou hoe dit was toe hulle skaars 20 minute gelede daar gestaan het nie. Flip, dink hy, ek moet focus! Vanaand kan ek nie bekostig om ‘n skop te mis nie.
Die manne trek mekaar vir oulaas vas. Rufus haal diep asem. Dit voel vir hom, om die een of ander onverklaarbare rede, baie meer spesiaal om vir Bergkruin te speel as wat dit ooit was om vir sy ou skool te speel. Die afgelope paar weke was dit asof hy die spel van vooraf ontdek het. Die oorgawe waarmee die ouens die spel benader en die entoesiastiese gees wat daar onder hulle heers, is aansteeklik. Hy het al vroeër in sy lewe in die Beeld-trofee gespeel en aan die Junior Cravenweek deelgeneem…maar daar was dit amper soos ‘n werk, soos ‘n verpligting. Hier is dit vir hom regtig lekker. Sonder sy pa en dié se vriende wat permanent oor sy skouer loer, kan hy uiteindelik rugby speel omdat hy dit geniet. Hy besef egter dat die ander ouens dit nie noodwendig só ervaar nie. Daar is geweldige druk op hulle om te presteer. Bergkruin is ‘n rugbymal dorp wat nie plek vir verloorders het nie.
“Manne, vanaand is ons aand. Al wat ek wil sê, is dat elkeen sy kant moet bring. Just play it, boys. Just go for it and be your best. I expect nothing less,” sê Jonathan vir oulaas. “Wihan, kap vir ons ‘n knieg.”
Dit word die mees afgerammelde gebed wat Wihan in sy hele lewe gebid het. Sy senuwees maak hom gedaan. Iewers weet hy dat iets nie lekker is nie, maar daar is nie nou tyd om daaraan te dink nie. Nou moet hy op die game fokus!
Jonathan se diep stem bulder deur die kleedkamer, gevolg deur die hele span:
“I wanna be a first team boytjie!”
“I WANNA BE A FIRST TEAM BOYTJIE!”
“I wanna wear the first team jersey!”
“I WANNA WEAR THE FIRST TEAM JERSEY!”
“I wanna hit the first team beertjie!”
“I WANNA HIT THE FIRST TEAM BEERTJIE!”
“I wanna score a rugby try!”
“I WANNA SCORE A RUGBY TRY!”
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“YES!”
Hulle stap in volgorde by die kleedkamer uit en wag dan aan die bokant by die bek van die pawiljoen. Die skeidsregter roep die twee kapteins nader om te loot en skiet die muntstuk in die lug op. Nelsdrif wen die loting en kies om van oos na wes oor die veld te begin speel. Gelukkig is daar nie vanaand ‘n noemenswaardige wind om in ag te neem nie. Die kapteins skud blad en Nelsdrif draf eerste op die veld.
Weer kom AC-DC deur die luidsprekers gebrul en ritmies begin die toeskouers op die pawiljoen saam hulle voete te stamp.
“Thunder…”
Juan se hart slaan tamboer in sy bors.
“Thunder…”
Sibu snuif hard en knak sy nek na links en regs.
“Thunder…”
Rufus strek vir oulaas sy arms.
“Thunder…”
Wihan blaas sy asem stadig uit.
“You’ve been…Thunderstruck!”
Jonathan spring weg en lei die manne hardlopend onder luide toejuiging op die veld. By die ingang van die tonneltjie wat deur die onder-15’s gehou word, hou een van die jong outjies die Eerstespan se mascot vas. Soos wat die span verbyhardloop, slaan elkeen die beertjie teen sy harige regterpoot. Hulle neem hulle posisies onder die sterk spreiligte in. Die skeidsregter blaas sy fluitjie en Nelsdrif se losskakel begin die wedstryd.

*****

“Prrrrrrt!”
Die ouens staan sukkelend op van die losgemaal op die grond. Een van Bergkruin se spelers het die bal laat val en die soveelste strafskop van die aand word aan Nelsdrif toegeken. Die Bergkruiners val moeg terug tot agter die pale. Moedeloos staan hulle en kyk hoe Nelsdrif se heelagter die skop netjies deur die pale klits .Die al groter wordende gaping tussen Bergkruin en Nelsdrif rek met nog 3 punte. Die telling lees nou 27-6, met net vyf minute van die eerste helfte oor. Nelsdrif het al reeds drie drieë gedruk.
Juan draf traag terug na die halflyn toe. Dis nie ‘n lekker wedstryd nie. Die opponente is hard en fisies, nes hy gedink het hulle gaan wees, maar hulle eie span maak verskriklik droog. Wihan het ‘n shocker van ‘n game. Hy slaan die bal permanent aan en sy skopwerk is iets om oor te huil. Sibu het nog nie veel gedoen behalwe om te tackle nie en selfs hy laat veel te wense oor.
Nelsdrif se manne het hulle op die agtervoet betrap ná ‘n blitsvinnige drie direk na die afskop van die wedstryd en die Bergkruiners kon maar net nie daarvan herstel nie. Nie dat daar nie geleenthede was nie! As Wihan al sy skoppe oorgesit het, sou die telling 27-18 gewees het – en die wedstryd baie makliker binne hulle bereik.
Die enigste ligpunte is Rufus en Jonathan. Jonathan skrum soos ‘n dier en Rufus is orals besig om werk te soek. Ongelukkig is hulle pogings nie genoeg om die las wat die ander ouens op hulle skouers sit, alleen te dra nie.
Genadiglik blaas die skeidsregter die fluitjie skaars twee minute nadat Wihan afgeskop het en die ouens draf af na hulle kleedkamers toe.

*****

Aan die oorkant van die veld byt Marli haar onderlip vas. Sy sit saam met ‘n klomp van haar vriende en vriendinne reg op die middellyn, op die kleiner, verskuifbare pawiljoene oorkant die hoofpawiljoen. Die skoolkinders van die dorp en die jongmense wat vir die vakansie terugkom huis toe, beset gewoonlik hierdie gebied aan die suidekant van die rugbyveld. Solank die twee hoërskole nie teen mekaar speel nie, maak dit hierso nie saak tussen wie jy sit nie.
Leon, Stefan en Frans het kort ná die begin van die wedstryd by Marli-hulle gaan sit. Leon kan sien dat sy bekommerd lyk. Hyself is ietwat teleurgesteld met Bergkruin se Eerstes sover. Ja, goed, aan die een kant sal dit lekker wees as Bergkruin verloor, maar dit sal hulle eie toernooi moeiliker maak. Buitendien, dit is sy vriende wat daar speel en hy kan sien dat daar groot fout is.
“Hulle moet begin bykom,” sê Marli skielik en kyk hom met ‘n baie benoude uitdrukking in haar oë aan. “Dink jy nie ook hulle is besig om naam weg te gooi nie?”
Leon, wat agter haar sit, sit sy hande op haar skouers en trek haar teen sy bene vas.
“Ek hoop hulle regroup ‘n bietjie nou met halftyd. Maar gepraat van naam weggooi, het jy daai Corna-girl gesien? Sy en so ‘n ander clown wat lyk asof hy dertig jaar oud is het netnou daar langs die veld gelê en mekaar só bevoel dat ek gedink het iemand gaan die polisie bel en hulle aankla van public indecency.”
Marli snork.
“Gmf, ja. En Rozaan is nie ver agter nie, hoor. Sy het kort na die opening met omtrent vier Kuswag-ouens gelyk begin flirt. Sy en een van hulle het daar op die punt gaan sit. Kyk daar, hy kan ook omtrent nie sy hande van haar afhou nie.”
Leon kyk links na waar Marli beduie en sien ‘n bruingebrande ou met gebleikte hare wat met sy hande om ‘n pragtige donkerkopmeisie se lyf staan. Hy gee haar kort-kort soentjies in die nek en sy krul duidelik van die lekkerte. So, dis nou Juan se eks, dink hy. Hy het haar die aand met die uitmaak-sessie in die donkerte nie baie goed te sien gekry nie, maar vanaand onder die sterk ligte kan hy haar mooi sien. Sy’s vrek hot en het flippen mooi bene wat sy in ‘n eina-klein rompie afwys…maar sjoe, sy lyk darem net té gewillig. Só ‘n girl is elke ou se girl. Hy ril met sy skouers asof hy haar probeer afskud. Juan kan bly wees hy is van haar ontslae.
Leon kyk weer na die tonneltjie aan die oorkant van die veld. Hy wonder hoe dinge daar in Bergkruin se kleedkamer gaan.

*****

Die atmosfeer in die kleedkamer is gespanne. Die res van die span het sonder Jonathan en Wihan ingestap. Juan gaan sit gefrustreerd op ‘n bankie teen die muur. Hy weet nie wat gaan aan nie. Hy mis easy tackles en sukkel vreeslik met sy ingooie in die skrums. Nelsdrif se skrummie pla hom die heeltyd, die outjie is so knaend soos ‘n foksterriër.
Hy vat ‘n sluk water by Rufus. Dié skud net sy kop en gaan sit langs hom.
“Flip, ou,” is al wat Juan uitkry. Rufus sê net niks en gaan sit ook met sy kop teen die muur.
Buitekant die deur het Jonathan vir Wihan voorgekeer.
“Wihan, jy moet my nóú sê of jy die pressure kan vat, want as jy nie kan nie, moet ons ‘n plan maak. Ek verstaan dis ‘n groot verantwoordelikheid, maar jy kan nie toelaat dat dit jou spel beïnvloed nie. Ek weet nie waar Venter nou is nie, maar voor hy hier aankom…”
“Ek kan dit doen!” val Wihan hom skerp in die rede. “Ek kan dit doen, Jonno. Ek moet net myself agtermekaar kry.”
“Nou kry jouself dan agtermekaar. Ek gaan in. As jy inkom beter jy reg wees, anders moet jy glad nie inkom nie. Ons kan nie bekostig om vanaand te verloor nie en jy weet dit.”
Jonathan stap die kleedkamer binne. Wihan gaan staan teen die muur langs die deur en maak sy oë toe. Hy weet wat is fout. Hy het dit al voor die wedstryd geweet, maar hy het gekies om dit te ignoreer. Sy fokus was heeltemal op die verkeerde plek.
“Here Jesus, ek is jammer dat ek dit alles oor myself laat word het,” begin hy saggies te bid. “Ek weet U het hierdie span met ‘n rede aan my toevertrou en ek is so vrek bang ek skroef dit op. Asseblief, Here, maak my rustig. Help my om kalm te bly en te fokus op dit wat ek moet doen, sodat ek U Naam kan groot maak deur my spel. Help ook die ander ouens, asseblief, Here, laat ons die eer aan U gee. Ek bid dit in U Naam. Amen.”
Toe hy die kleedkamer instap, is die ander ouens net oppad uit. Jonathan sit sy hande op sy skouers.
“Jy reg?” vra hy en sy donkerblou oë kyk Wihan hoopvol aan. Wihan knik vasbeslote.
“Yes.”

*****

Tydens die tweede helfte van die wedstryd gaan dit aansienlik beter. Hoewel Sibu ná tien minute weer ‘n bal aanslaan, trek Nelsdrif se kantlynskop nie baie ver nie en die lynstaan is op Bergkruin se kwartlyn. Die ingooi is perfek en Nelsdrif maak die bal pragtig vas, sodat Bergkruin se voorspelers glad nie ‘n hand daarop kan kry nie. Rufus het egter gesien dat Nelsdrif se skrumskakel ‘n ander move uitgeroep het as wat hulle gewoonlik doen en hy hang terug, sodat hy amper in lyn is met Juan.
“Check die skrummie!” skree hy vir Juan, wat op die losgemaal gefokus het. Juan kyk na die skrumskakel en sien hoedat hy ‘n fop-aangee na die losskakel toe maak. Juan duik vorentoe en slaan sy skouer só hard en skielik in die ou se ribbes dat die bal losspat. Onmiddellik is Rufus daar en toe die bal in die lug skiet, gryp hy dit en nael vir die doellyn. ‘n Oorblufte Nelsdrif kan maar net toekyk hoedat Rufus sy onderskepdrie onder luide toejuiging netjies onder die pale gaan druk.
Die posisie van die skop laat vir Wihan ‘n sug van verligting slaak. Dis reg voor die pale, daar is die minimum wind – hy het hierdie skop al baie in sy lewe geoefen. I can do this, sê hy vir homself. Ek weet ek kan. Hy tree terug, haal ‘n slag diep asem en trek dan los met ‘n sierskop. Die bal seil oor die dwarslat en Bergkruin lyk skielik meer gemotiveerd. Die telbord skuif aan na 27-13 en die skare se gejuig laat hom baie meer op sy gemak voel.
Nelsdrif is egter nie afgeskrik deur die drie nie en speel met mening toe hulle loskakel weer afskop. Vir die grootste deel van die wedstryd word dit ‘n stryd om skrums. Bergkruin se manne veg moedig terug en hul balhantering is myle beter as tydens die eerste helfte. Wihan maak ‘n hele paar try-saving tackles en hy lyk baie meer tuis op die veld as vroeër die aand.
Met omtrent tien minute oor kry Bergkruin weer ‘n kans om punte aan te teken. Hulle bevind hulleself in ‘n lynstaan, vyf meter van Nelsdrif se doellyn, ná ‘n paar stewige dryfbewegings. Nelsdrif het ‘n vryskop gekry, maar die bal was direk uit en daarom kan Bergkruin die bal by die lynstaan ingooi.
“Vier! Nege! Sewe!” skree Jonathan voor hy die bal ingooi.
“Cancel, cancel! Ons doen ‘n Rambo!” skree Juan. Hy het gesien dat Nelsdrif se voorspelers die heeltyd eerste na die agterkant van die lynstaan beweeg, wat die steelkant so te sê onbeman laat.
Jonathan sien wat Juan raaksien en weet wat hy moet doen. Hy gooi die bal vinnig vir die voorste stut, wat dit onmiddellik vir hom terug aangee. Met Nelsdrif se voorspelers wat dit nie verwag het nie, dryf Jonathan met sy groot lyf gemaklik deur hulle en bars in die hoek oor vir Bergkruin se tweede drie.
Ook hierdie skop sit Wihan sonder moeite oor. Met die telling wat nou op 27-20 staan, voel hy sommer baie beter, maar dan hoor hy hoe Jonathan vir die skeidsregter vra:
“Hoeveel tyd is daar nog, meneer?”
Die skeidsregter kyk op sy horlosie.
“Drie minute,” antwoord hy hom. Paniek pak vir Wihan beet. Hulle gaan nooit hierdie game gewen kry nie!
Nelsdrif skop af. Dis ‘n lang skop en Sibu, wat diep staan, vang die bal skoon en merk hom. Onmiddellik skop hy die bal diep terug – reg tussen Nelsdrif se spelers in.
“Wat maak jou nou?” skree Juan kwaad vir hom. Voor Sibu kan antwoord, hoor hulle die skril geluid van die skeidsregter se fluitjie.
“Strafskop aan Bergkruin,” sê hy. Een van Nelsdrif se spelers het Sibu se skop aangeslaan – en nou het Bergkruin ‘n strafskop reg voor die pale. Wihan stap met ‘n hart wat in sy keel klop nader. As hy hierdie skop oorsit, verloor hulle darem net met 4 punte. Dis seker nie só sleg nie, siende dat Nelsdrif glad nie punte aangeteken het in die tweede helfte nie.
Die res van sy span gaan staan agter hom toe hy die bal stel en stadig terugtree.
Juan en Rufus staan met hul hande in hul sye en kyk. Juan kyk oor sy linkerskouer en sien vir Sibu, wat effens moedeloos skuins agter hulle staan.”
“Jy beter regmaak,” snou hy hom toe en draai terug na Wihan, wat net toe vorentoe hardloop en die bal tref. Dis nie ‘n goeie skop nie en die bal trek heeltemal links en slaan dan teen die linkerregoppaal vas. Dit spat terug na Bergkruin se kant toe.
Met eens, soos ‘n vetgesmeerde blits, storm Sibu van agter af, vang die bal nog voordat dit die grond tref – en duik oor die doellyn. 27-25! Die rasende skare juig opgewonde. Bergkruin se manne val mekaar om die nek. Wihan staan ietwat geskok en probeer inneem wat sopas gebeur het. Verdwaas kry hy weer die bal en stel hom vlak voor die pale op, baie naby aan dieselfde plek van waar hy hom nou net misgeskop het.
Bonus kans, dink Wihan, treë dan vorentoe en skop die bal gemaklik oor. Die skeidsregter blaas die eindfluitjie en die wedstryd eindig met die telling op 27-27.
Hoewel dit nie ideaal is nie, voel die Bergkruinmanne darem beter. Moeg stap hulle van die veld af. Die onder-15’s staan langs die veld en klap vir hulle hande terwyl hulle van die veld afkom.
Rufus stap langs Wihan, heel agter.
“Toemaar, ou, almal kry sulke games,” troos hy hom en klap hom op die skouer. Wihan glimlag skeef.
“Thanks, Rufus,” sê hy.
Hulle stap by die bek van die pawiljoen verby na die kleedkamers toe. Skielik tref ‘n leë koeldrankblikkie vir Rufus teen die kop.
“What the..?”
Hulle kyk op. Van die boonste trappie af kom ‘n verskonende handgebaar van een van die graad 9’s in hulle skool.
“Sorry, Rufus, dit was eintlik vir die poepol langs jou bedoel. Lekker mis geskop vanaand, nè, Wihan! Jy sien, dis wat gebeur as jy net onderkaptein is omdat jou pa die skool omgekoop het.”
Wihan se mond val sprakeloos oop. Hy is op die plek woedend en bal sy vuiste.
“Ek sal vir jou…” begin hy en wil sommer met die trappe opstorm, maar Rufus keer hom.
“Los dit, Wihan. Die klein snotkop weet nie waarvan hy praat nie,” probeer hy hom kalmeer en draai Wihan aan sy skouers terug sodat hulle na die kleedkamers toe kan gaan.

*****

Vir die duur van die week het Bergkruin se Eerstespan in hulle eie skool se koshuis ingetrek sodat hulle as span kan saambly. Daarom sit Juan, Rufus en Wihan laat die aand buite teen die muur en hou nabetragting. Wihan is nog steeds omgekrap oor die aanmerking van die graad 9 seun.
“Dink julle ouens ek is onderkaptein omdat my pa ryk is?” vra hy naderhand reguit. Juan lag.
“Ag, asseblief, ou. Niemand gee groter borge as my pa nie en ek het dit nie gemaak nie. Ek bedoel, wat het jou pa vir die skool geskenk – die lapa?”
Wihan besef dat Juan gelyk het. Hoewel dit nie op die oog af so lyk as ‘n mens na hulle huis sou kyk nie, is sy ouers nogal wel-af. Hulle loop egter nooit en spog met hulle geld nie en die kinders is van kleins af geleer dat geld iets is wat verdien moet word. Sy pa sou nooit vir die skool geld gegee het net sodat hy onderkaptein van die Eerstespan kan word nie! Tog…
“Ja, okay, maar ek wonder nog hoekom het Venter my onderkaptein gemaak. Onthou julle, hy het gesê sy redes is sy eie. Nou flippen staan almal en skinder dat my pa hom omgekoop het.”
“Maar hy het mos nie,” sê Rufus. “Ou, vat dit van my af – daar gaan altyd stories wees, veral as ‘n mens dit nogal groot maak. Mense like dit om die ouens op wie hulle jaloers is, sleg te laat lyk, selfs al beteken dit hulle moet iets uitlieg. Mense is weird goed. Skinder is vir die meeste mense soos…soos wat gym vir Leon is. Hulle kan nie daarsonder klaarkom nie en hulle gee ook nie regtig om wie in die proses aftjop nie.”
Wihan glimlag.
“Julle is seker reg. Ek wonder net oor Venter.”
“Nou hoekom vra jy hom nie môre nie?” vra Juan. Wihan bly ‘n paar oomblikke stil en skud dan sy kop beslis.
“Almal se moere. Dis môre die Boot-Out. Daar sal ek vir hulle wys ek kán skop en dat ek my plek in die span en my onderkapteinskap verdien.”
In die verte hoor hulle ‘n dowwe slag.

*****

Die Laughing Hyena is, soos met elke Rugbyweek, stampvol.
Rozaan het haarself al die heel aand opgeskeep met Wayne, so ‘n surfer-dude wat vir Kuswag buitesenter speel. Sy weet nie veel van hom af nie, maar sy weet sy het sy aandag en dis vir haar heeltemal genoeg. Soos wat hulle by een van die tafeltjies saam met sy spanmaats sit en kuier, is sy hande op ‘n verkenningstog van hulle eie en sy laat hom begaan. Dis vir haar lekker om vir ‘n slag met ander ouens te doen te kry. Boonop hoef sy nie vir Juan of een van sy vriende te face nie.
Die afgelope tyd ná hulle uitgemaak het, het sy wel verlig gevoel, maar dit was nie net all shits and giggles nie. Die leuen wat sy daardie aand vertel het, pla haar nog party dae, hoewel dit nie lyk asof Juan haar geglo het nie. Wanneer sy hom pouses by sy vriende gesien staan het, het sy nogal daarna verlang om net by hom te kon wees. Hy het darem maar killer-looks en eintlik is hy ‘n baie decent ou. Boonop, elke keer wanneer hy haar gesoen het, het dit regtig vir haar gevoel asof die wêreld ophou draai. Maar hier na die einde van hulle verhouding toe…sy kon net nie agterkom wat hom presies pla nie. Eintlik het sy nie regtig omgegee nie.
Nou het sy vanaand hierdie seekat opgetel en sy weet dat hy vroeër of later groter planne in sy kop gaan kry, as hy dit nie alreeds het nie. Sy wonder of sy van hom ontslae moet raak of hom net moet toelaat?
Hel, Rozaan, kom die stemmetjie van binne af. Jy oorweeg dit tog nie ernstig nie, doen jy?
Miskien, antwoord sy. Miskien is dit nie so bad nie. Wayne het sulke cute kuiltjies in sy wange en hy betaal nog die heel aand vir my drinks.
So? Is dit genoeg rede om met hom seks te hê? Cute kuiltjies en die feit dat hy vir jou drinks betaal? Gaan dit nie oor liefde nie?
Natuurlik gaan dit oor liefde, blaf Rozaan in haar gedagtes terug. Liefde maak! Ha-ha.
Okay, kom die stemmetjie. Jou keuses is jou eie. Ek wil net hê, voordat jy enige besluite finaal neem: kyk net eers na Wayne en dan maak jy net seker of hy regtig die ou is met wie jy die eerste keer in jou lewe wil seks hê.
Vir ‘n oomblik kyk sy na Wayne se profiel. Hmmm. Not bad…maar dis asof hy vervaag en Juan se profiel voor haar verskyn. Rozaan skud haar kop vinnig om die beelde uit haar gedagtes te kry. Juan is geskiedenis, vir wat dink sy nog aan hom?
Wayne draai na haar en soen haar in die nek.
“Alles okay, babe?” vra hy en trek haar hand nader aan sy been. Rozaan voel meteens baie ongemaklik en weet skielik dat Wayne definitief nié by haar gaan kry wat hy heel waarskynlik soek nie. Sy trek haar hand terug en maak dit dan los van syne.
“Ja, wat, dankie. Wil jy nie vir ons nog ‘n shooter gaan kry nie?” vra sy en blaas vir hom ‘n soentjie met ‘n pruilbekkie. Wayne frons effens, maar staan dan op.
“Sure. Ek’s nou weer hier.”
Rozaan sit terug in haar stoel. Vanaand gaan ‘n lang aand wees.

*****

So besig as wat die Laughing Hyena met die jonger garde is, net so wemel Hoërskool Bergkruin se Sportkiosk met afrigters, spanbestuurders, onderwysers en ander amptelike ondersteuners wat ná die wedstryd saam kuier.
Martin van Vrede staan eenkant en lag kliphard vir ‘n grap wat een van Bothaville se afrigters vertel het. Hy is blink gedrink, maar hy het nog glad nie planne om huiswaarts te keer nie. Daarvoor kuier hy heeltemal te lekker.
Teen middernag moet die Sportkiosk sluit en die mense keer drentelend terug na hulle onderskeie huise, hotels en gastehuise. Martin stap slingerend saam met mnr Spies uit. Mnr Spies het ‘n baie rustiger aand agter die rug as Martin en help hom regop toe hy teen die deurkosyn steier.
“Jy gaan sekerlik nie self terugbestuur huistoe nie, Martin?” vra hy. Martin beduie met sy hand in die lug.
“Hoekom nogal nie? Ek kán…bestuur. Ek hét…karre. Karrrre. Ek het…kán self regkom.”
“Laat ek jou gaan aflaai,” bied mnr Spies weer aan, maar Martin vererg hom.
“Los my uit, man! Probeer ek jou babysit?” kom dit ietwat moeisaam terwyl hy tot by sy BMW, wat reg by die sportgronde se hek staan, vorder. Mnr Spies probeer hom vir oulaas keer en sit sy hand op Martin s’n toe hy die motorsleutels in die deur se slot druk.
“Martin, jy’s dronk. Dis gevaarlik op die pad!”
Martin klap sy hand weg en swaai dan wild ‘n hou na mnr Spies se gesig toe. Mnr Spies moet net koes en Martin klap sy deur hard toe.
“Ek…is dalk dronk, maar ék…kan bestuur. Ek is nie ‘n flop nie. My seun het dalk…vanaand soos ‘n stuk stront gespeel…hel, hy ís een…maar ek…is nie. Ek is nie! Ek…is ‘n sukses. Sukses!” Met die laaste woord as ‘n uitroep trek hy met skreeuende bande weg sodat die brandmerke op die teer agterbly. Mnr Spies bly verdwaas in die pad agter.

*****

“Kom ons gaan Bucks toe!” stel iemand voor. Die voorstel om te gaan dans vind algemene byval onder Wayne en sy vriende.
“Is jy lus om te gaan dans?” vra hy vir Rozaan. “Ons hoef nie lank te bly nie. Ons moes eintlik al terug gewees het daar by daai koshuis waar ons slaap, maar ons sal net insneak, dan word ons coach nie wakker nie.”
“Reg met my,” sê sy. As hulle tussen ander mense bly, is sy dalk vir die res van die aand veilig. Daar kan sy darem met ander ouens ook dans. Sy raak nou bietjie moeg vir Wayne en sy kuiltjies, hoe cute dit nou ookal is.
Wayne en Jacques Steynberg het deur die loop van die aand met mekaar begin kuier, daarom beduie Jacques vir hom en Rozaan om sommer saam met hom in sy afslaandak-sportmotor te klim. Hulle twee en Lisa gaan sit op die agterste sitplek terwyl Skalla voor langs Jacques inklim. Hulle maak nie hulle gordels vas toe Jacques met ‘n gebrul wegtrek nie.

*****

Martin sukkel om die motor te beheer. Sy hande kry dit nie lekker reg om die stuurwiel en die rathefboom gelyk te hanteer nie. Dis asof hy net nie die ratte oorgesit kan kry nie. Met ‘n gevloek buk hy met sy kop af om nader te kyk na wat daar aangaan.
Die dringende, harde toeter van die swaar beestrok laat hom verskrik opruk. Martin pluk die stuurwiel wild heen en weer, terwyl sy voet al hoe swaarder op die petrolpedaal lê. Die kar begin spin en hy verloor heeltemal beheer. Die vragmotor stop nie.

*****

Skalla lag hard en mors sy bier op Jacques se skoot uit.
“Hey, bra! Check waar jy mors!” raas Jacques en probeer met sy een hand sy skoot droog vee. Skielik gil die meisies van die agtersitplek af. Jacques kyk benoud op en vloek hard.
“Pasop!” skree Wayne. Dis te laat. Byna gelyktydig tref Jacques, Martin van Vrede en die leë beestrok mekaar. In die stil naglug kan ‘n mens die slag myle ver hoor.

*****

“Juan! Juan, word wakker!”
Juan word stadig wakker en loer deur skrefiesoë na Rufus en Jonathan.
“Mmmm? Watsit?” vra hy deur die slaap. Rufus kyk na Jonathan. Jonathan haal diep asem.
“Juan, ou, ek het vir jou slegte nuus,” begin hy. Juan sit effens meer regop en frons dan vir Jonathan.
“Watse nuus?”
Rufus gaan sit langs hom op die bed.
“Daar was ‘n moerse ongeluk in Kerkstraat. Twee karre en ‘n beeslorrie het almal mekaar getref. Juan…jou pa was in die ongeluk. En Rozaan.”
Juan is nou wawyd wakker.
“Wat? Wat het gebeur? Is hulle…?”
“Niemand weet nog presies nie,” sê Jonathan. “Ons het nou net die nuus gekry. Jou ma het vir Venter gebel. Ons weet net dis bad, Juan.”
Juan voel hoe daar ‘n ysterhand stadig maar seker om sy hart vou en begin om dit vas te druk. Sy pa én Rozaan! As hulle moet doodgaan…dit sal vir hom ongelooflik sleg wees. Al is hy en Rozaan nie meer ‘n item nie, sou hy dinge tussen hulle darem weer ten minste tot by vriendskap wou laat vorder. Hulle kom tog immers ‘n lang pad saam.
Wat sy pa aanbetref…hy weet nie regtig hoe hy oor sy pa voel nie. Eintlik is hy nog moer kwaad vir hom, maar dit sou darem nice gewees het om met hom te kon vrede maak. Hel, dit sou nice gewees het as die ou net weer met hom wou praat!
“Ons moet seker hospitaal toe gaan?” vra hy nadat hy ‘n rukkie net voor hom uitgestaar het. Rufus knik.
“Ons sal saam kom, ek en Wihan. Ek gaan hom net gou wakker maak.”
“Nee, los hom,” keer Juan. “Hy moet môre goed doen in die Boot-Out, hy het sy rus nodig. Hy moenie nou oor my worry nie.”
“Goed,” sê Jonathan. “Trek gou julle sweetpakke aan, dan kry ek julle voor. Ons ry sommer met my kar.”

*****

Toe hulle by die hospitaal kom, is Juan se ma reeds daar.
“Waar is Marli?” vra hy nog voordat sy hom kan groet.
Selma van Vrede is ‘n baie verwarde, bewerige vrou en ma om 01:30 in die oggend.
“Sy sit hier om die draai. Leon is by haar. Hy het nog by ons huis koffie gedrink toe ons die nuus gekry het.”
Juan storm by haar verby en kry vir Leon en Marli, waar Leon troostend met sy arms om haar sit. Leon kyk op en sien vir Juan en Rufus.
“Hey, ouens,” groet hy hulle en staan op. Die ouens druk mekaar vas. Juan se oë is ‘n warboel van vrae.
“Hoe…hoe erg is dit?” vra hy vir Leon.
“Rozaan-hulle was vyf mense in die kar. Sy en Lisa en so ‘n ander ou van Kuswag het saam met Jacques en Skalla in Jacques se convertible gery. Ons dink hulle was heel moontlik op pad Bucks toe. Jou pa was in die ander kar en dan was daar die beeslorrie.”
“Wat weet ons van die mense?” van Rufus dringend. Leon se stem begin effens te kraak.
“Lisa en die Kuswag-ou is op slag dood. Sy naam was Wayne. Hulle het agter in gesit, maar die beestrok was leeg en het half op sy kant bo-op die convertible geval en hulle getref. Die ander weet ons…nog nie regtig iets van nie.”
“Dis presies die donnerse tipe ding wat my pa sal aanvang. Seker lekker gesuip gewees. Bliksem!” vloek Juan.
Rufus skud sy kop stadig.
“Klink na ‘n helse gemors.”
Juan gaan sit langs Marli en druk haar teen hom vas. Sy begin van vooraf te huil. Leon beduie vir Rufus dat hulle die twee ‘n bietjie alleen moet los en hy vat hom eenkant toe.
Rufus kon die huiwering in Leon se stem hoor toe Leon van die ongeluk vertel het.
“Ou, sê my reguit: hoe erg is die ander mense?” vra hy hom tromp-op. Leon kyk eers ‘n oomblik weg en praat dan afgemete, amper asof hy elke woord versigtig weeg en mooi dink of hy dit werklik wil sê.
“Die kans dat al die ander mense in die karre dit gaan maak is op hierdie stadium bitter skraal. Die lorriedrywer is oraait, hy het net ‘n paar snye en kneusplekke en ‘n gekraakte rib, of so iets. Jacques was nog by toe die ambulans op die toneel opgedaag het, maar hy was baie deurmekaar en het die heeltyd onverstaanbare goed gesê. Skalla se sitplek het met die slag heeltemal agtertoe geskuif…en Rozaan se bene vergruis. Sy was nog bewusteloos toe hulle met haar hier aangekom het, maar die dokters is op die oomblik besig om haar te stabiliseer. Hulle het iets gesê van albei haar bene van onder haar knieë af amputeer.”
Jonathan het intussen by hulle kom staan en fluit saggies. Leon bly ‘n oomblik stil voordat hy verder praat. Hy vat ‘n papierkoppie en tap dan ‘n bietjie water uit ‘n waterhouer daarin. Ná ‘n paar slukke praat hy verder.
“Skalla is ook deur die lorrie getref, maar die lorrie se oop venster het so half bo-oor hom geval, so hy gaan ook oraait wees, behalwe dat hy albei sy arms op iets soos vier verskillende plekke gebreek het.”
“En Juan se pa?” vra Jonathan. Leon huiwer, haal dan diep asem, vat nog ‘n sluk water en asem dan stadig uit.
“Juan se pa is op elke moontlike masjien wat hierdie hospitaal het om hom aan die lewe te hou.”

*****

Byna twee ure later kom die dokters uiteindelik te voorskyn. Een van hulle, Dokter Grobbelaar, beduie vir die moeë groepie mense om ‘n kleinerige vertrek binne te gaan. Leon, Juan, Rufus en Marli stap in, met Selma van Vrede wat hulle met periodieke snikke volg. Jonathan het intussen na die koshuis teruggekeer.
“Laat weet my sodra daar enige verdere nuus is,” het hy vir Leon gesê nadat hulle selfoonnommers uitgeruil het.
Dokter Grobbelaar maak die deur agter hom toe. Baie kalm en versigtig deel hy die nuus van Lisa en Wayne dood aan hulle mee. Jacques, Skalla en die bestuurder van die beestrok gaan in die hospitaal vir observasie aanbly. Rozaan se een been gaan gered kan word, maar die ander een moet wel geamputeer word. Sy sal nooit weer kan hokkie speel nie.
Martin van Vrede se toestand is kritiek, maar stabiel. Hy het nog nie sy bewussyn herwin nie en hoewel die dokters baie bekommerd oor hom is, verseker Dokter Grobbelaar die groepie dat die dokters alles in hulle vermoë doen om hom deur te haal.
Toe hy klaar gepraat het en weg is, stap Selma en Marli ook uit. Leon, Juan en Rufus bly agter. Juan sit net agteroor met sy kop teen die muur en sy oë toe. Vir die eerste keer is dit regtig ‘n realiteit: sy pa kan doodgaan. Sy pa, wat hom so uitgeskel het vir alles wat sleg is, hulle geslaan het en stadig maar seker besig was om homself en sy besigheid weg te suip, kan actually doodgaan.
Leon staan op en strek sy bene en sy arms. Die spanning van die aand, voor en ná die ongeluk, laat hom styf voel. Hy al geleer dat dit altyd help om ‘n slag ordentlik te strek. Dis goed om net ‘n slag vars suurstof in die longe te kry en die bloed deur jou lyf te laat sirkuleer.
Rufus lyk en is moeg. Hulle was skaars in die bed gewees toe Jonathan hom kom wakker maak het en hy het vroeër die aand ‘n woeste game gespeel. Toe was daar nog die simpel graad 9 laaitie met sy vertraagde opmerking, wat vir hom byna net soveel as vir Wihan ontstel het.
“Dink julle…wil julle bid?” vra hy terwyl hy vorentoe sit. Juan skud sy kop.
“Ek’s nie lus nie.”
Leon skuif sy stoel nader aan Rufus.
“Dis okay, tjom, jy hoef nie as jy nie wil nie. Ons sal,” sê hy. Hy begin ook sommer eerste bid, iets wat hy twee maande vantevore nie gedink het hy ooit sou doen nie. Rufus gaan spontaan aan toe Leon klaar is. Ook vir hom is hard-op gebed ‘n handeling waarmee hy homself nie voorheen sou assosieer nie, maar in die vroeë oggendure saam met sy vriende kom dit vir hom verrassend natuurlik.
Toe hy klaar is, kyk hy en Leon op. Juan het skynbaar aan die slaap geraak, want hy sit doodstil met sy oë toe, maar dan begin ook hy te bid.
“Ag, Here, ek is moeg en ek weet nie hoe ek moet voel nie. Ek is kwaad en deurmekaar en vaak en ek weet nie wat gaan gebeur nie. Ek wil net graag Rugbyweek speel, asseblief, Here, en ek wil net graag vrede maak…”
Juan se stem breek en rou snikke skeur deur sy lyf.

*****

Wihan en Sibu staan vir mekaar ‘n rugbybal en pass kort voor die Boot-Out, ‘n skopkompetisie tussen die skoppers van die verskillende skole. Elkeen van die twintig skole nomineer hulle beste stelskopper om van drie voorafbepaalde posisies af te skop. Daarna dring die beste tien deur na die volgende ronde, dan die beste vyf en uiteindelik die finale drie.
“Is jy okay, boerseun?” vra Sibu vir Wihan. Wihan glimlag moegerig terug.
“Ja, wat, jong. Ek worry net oor Juan.”
“Flip, that’s bad, hey? Eish, I’m glad I’m not him.”
“Mmmm.”
Wihan was aanvanklik ‘n bietjie vies dat hulle hom nie wakker gemaak het om saam hospitaal toe te gaan nie. Toe hulle teen 05:30 terug by die koshuis aangekom het, het Rufus hom vinnig ingelig oor die stand van sake en dat Juan gesê het Wihan moet eerder rus sodat hy goed kan doen met die skopkompetisie. Die res van die span is gelukkig dié dag af en daarom lê Juan en Rufus nou en slaap.
Die nuus van die ongeluk het met die spoed van wit lig deur die dorp versprei. Die stories daarmee saam natuurlik ook, maar baie gou het almal geweet van die twee jongmense wat gesterf het en die ander wat nog in die hospitaal lê. Kuswag het uit die skopkompetisie onttrek en die span besluit nog of hulle met die week moet voortgaan.
“Het jy gehoor van Lisa se ouers?” probeer Sibu weer die gesprek aan die gang kry. Wihan skud sy kop.
“Wat van hulle?”
“Hulle gaan Jacques se pa-hulle sue vir manslaughter. Apparently that Kuswag-outjie’s parents too.”
“Jacques-hulle gaan dun skyt,” sê Wihan. Jacques se pa is vrek ryk en geld was nog nooit ‘n probleem nie, maar hulle gaan sukkel om hierdie storie op te cover.
Een van die provinsiale skeidsregters, wat gedurende dié week die wedstryde hanteer, kom aangestap en die seuns staan nader, sodat hulle elkeen ‘n nommer kan trek om die volgorde waarin hulle gaan skop te bepaal. Wihan trek nommer 8. Hy is tevrede – dit is nie heel eerste nie en dit is ook nie heel aan die einde nie. Hoe meer druk hy van homself kan afhaal, hoe beter. Hy gaan elke greintjie konsentrasie nodig hê en daarom draai hy doelbewus sy gedagtes weg van die ongeluk. Hy kan nie die ruskans wat hy gegun is, terug in Juan se gesig gooi nie. Vandag móét hy bewys dat hy sonder twyfel op meriete in die span is, dat sy skopvoet niks makeer nie en dat sy onderkapteinskap nie deur geld aan hom toegesê is nie.
Die eerste skopper stel op.

*****

Drie…twee…een.
Wihan tref die bal en stuur nog ‘n skop met sy regtervoet sekuur tussen die pale deur. Hy draai om en glimlag vir Sibu, wat van die kantlyn af met twee duime opwaarts sy goedkeuring wys.
“Go, white boy!” skree Sibu vir Wihan en hy lag. Hy skop vandag briljant in die Boot-Out. Hy het nog nie met één skop ongemaklik gevoel nie en elkeen was sover nog ‘n skitterpoging.
“Right, die finale drie skoppers is Jakes Smith, Ferdie van der Westhuizen en Wihan Gerber.”
Teleurgesteld draai die ander skoppers om en gaan van die veld af. Vir oulaas trek hulle elkeen ‘n nommer en Wihan trek nommer 3. Nie ideaal nie, dink hy, maar ek gaan nie toelaat dat dit my nou stop nie.
Jakes Smith skop eerste. Hy is Maritzburg College XV se heelagter en ook hulle regte Eerstespan se stelskopper. Nes Wihan het hy ook nog nie ‘n skop gemis nie en hierdie een is geen uitsondering nie.
Ferdie van der Westhuizen volg ná hom. Hy kom van Bothaville en speel losskakel. Sy eerste brouskop was tydens die vorige ronde teen ‘n baie slegte hoek. Hierdie skop klits hy egter gemaklik oor.
Wihan stel sy bal op. Hulle is niks, Wihan. Hulle bestaan nie. Hy trek los en laat die bal netjies oor die dwarslat seil.
Jakes mis ook nie sy tweede skop nie, maar met Ferdie se tweede skop skil die bal van sy voet af en trek regs van die pale verby. Hy is sigbaar kwaad vir homself en laat ‘n kreet hoor.
Wihan besef dat die kompetisie nog enige kant toe kan gaan, ten spyte van Ferdie se mislukte poging. Daarom maak hy seker van sy treë en dwing homself om nie oorhaastig te skop nie. Sy tweede poging is ook suksesvol en Sibu moedig hom met ‘n gefluit aan.
Terwyl Jakes vir sy derde skop regmaak, kom Juan en Rufus by Sibu aan.
“Is dit die finale ronde?” vra Rufus.
“Jip,” sê Sibu.
“Hoe gaan dit hier?” wil Juan weet.
“Wihan skop soos ‘n monster, he’s awesome today,” sê Sibu trots. Dan sien hy eers vir Juan raak. “Hey buddy! Flip, man, is jy okay?”
Sibu sit sy hand op Juan se skouer en Juan knik.
“Dis vir my beter om hier te wees, thanks, Sibu. En sorry dat ek gisteraand op die veld so ‘n ass was. Mooi drie, hoor.”
Sibu maak ‘n afwysende gebaar met sy hand.
“Ag, dis niks daai nie. We were all lekker stressed, so don’t worry about it. Kom ons check vir Wihan.”
Hulle fokus hulle aandag op die drie skoppers en die skeidsregter op die veld. Ferdie het sopas sy laaste skop misgeskop en vloek hard. Hy kan nie meer wen nie.
Wihan weet dat sy eie laaste skop gaan bepaal of hy tweede gaan eindig, en of hy en Jakes dalk nog ‘n skop elk gaan kry.
Hy maak seker van die bal, maak seker van sy treë…en skop die bal dan dat hy hoog trek. Dis oor! Die luide toejuiging van sy vriende laat hom na die kantlyn toe kyk en glimlag. Hy waai vir Sibu en die ander manne wat vir hom staan en hande klap. Die res van hulle span het ook intussen daar aangekom en al die ouens staan breëbors met gevoude arms en moedig hom aan.
Die skeidsregter roep vir Wihan en Jakes nader. Elkeen gaan nog een skopkans kry. As hulle daarna nog steeds gelyk is, deel hulle die kompetisie.
Hierdie keer skiet die skeidsregter ‘n muntstuk op en Wihan wen die loting. Hy besluit om Jakes eerste te laat skop.
Bergkruin se Eerstespan staan in spanning en toekyk. Wihan het ‘n ent agter Jakes gaan staan en hou die groot stelskopper fyn dop.
Jakes trek los – en die bal skuur net-net links van die linker regoppaal verby. Dis mis! Wihan besef dat hy net één kans het om die kompetisie te wen. Net focus, Wihan. Net focus.
Hy stel die bal versigtig op. Jakes het eenkant by die skeidsregter gaan staan. Wihan kan voel hoedat almal se oë op hom vasgenael is. Hierdie skop is ‘n maak of breek oomblik. Dit kan bewys dat hy sy posisie werd is.
Dit kan bewys dat hy die druk kan hanteer.
Dit kan bewys dat hy sy onderkapteinskap deur en deur verdien…
Wihan lek vinnig oor sy lippe en skop dan die bal. Hy tref hom nie presies soos wat hy beplan het nie en die bal trek gevaarlik na regs. Vir ‘n oomblik hou die Bergkruin-manne hulle asems op toe die bal wel die regter regoppaal tref. Maar die bal spat af na die dwarslat toe, hop ‘n keer of wat daarop – en hop dan aan die agterkant af!
“’n Rugbybal is nie rond nie…” is al wat Wihan verlig kan uitkry. Die ander ouens kom bly aangehardloop en wens hom geluk.
Wihan en Jonathan se oë ontmoet vinnig.
“Ek het geweet jy’s die regte ou vir die job,” sê Jonathan toe hy Wihan se blad skud. Wihan glimlag breed. Dis asof al die knope in sy stywe skouers skiet gee. Hy gee nie eens om oor die R10 000 wat hy vir sy skool met sy skopskoen gewen het, of die gedeelte wat hy daarvan gaan kry nie. Vir hom is dit genoeg om te kon bewys dat hy dit het wat dit vat.

*****

Nadat die ouens weer vir ‘n uur of wat gaan rus het, gaan Juan alleen hospitaal toe. Hy kry vir Marli in die wagkamer. Sy lyk nog baie oes, maar sy huil darem nie meer die hele tyd nie. Hy gee haar ‘n lekker stywe druk.
“Hoe voel jy, Sussie?”
“Okayerig, seker. Hulle sê Pa is nog kritiek, maar sy toestand is nog steeds stabiel. Daar het soos in absoluut niks verander van gisteraand af nie.”
“Was jy al by hom in?”
“Net vinnig, so rondom 12:00 se kant. Rozaan het netnou uit haar operasie gekom.”
“Is sy al wakker?”
“Ek dink so.”
Juan dink diep. Moet hy daar by haar ingaan? Hy is nie meer kwaad vir haar nie, in elk geval nie meer so erg nie. Op hierdie stadium voel hy net…niks. Miskien moet ek dit tog doen.
“Waar is haar kamer?”
Marli beduie vir hom en Juan stap na die privaatkamer toe. Die deur staan halfpad oop, maar die kamer is donker omdat die gordyne nog dig toegetrek is. Rozaan is wakker, maar sy lyk baie moeg en lê gestut teen ‘n paar kussings. Die lakens is vreemd plat waar haar een been moet wees.
Juan klop saggies en stoot dan die deur versigtig groter oop. Rozaan is merkbaar verbaas en ‘n bietjie geïrriteerd om hom daar te sien.
“Juan…wat soek jy hier?” kom dit flouerig.
Juan is self nie seker wat om haar te antwoord nie. Wat soek hy nou eintlik hier?
“Ek…wou sommer kom kyk hoe dit gaan,” probeer hy.
“Ek het sopas my regterbeen verloor. Dit gaan uitstekend, dankie,” hap sy terug. Haar stem breek en sy draai haar kop weg.
Juan bly ongemaklik in die deur staan.
“Ek wil net sê ek is jammer,” probeer hy weer. Rozaan bly wegkyk. Juan besluit om dit te laat vaar en draai dan om en loop uit.
Rozaan kan hom hoor uitstap, maar sy wil nie na sy kant toe kyk nie. Hoe het sy haarself in hierdie gemors gekry? Hoe?
Jy weet presies hoe, kom die nou al bekende stemmetjie.
Nee, asseblief. Nie vandag nie. Ek het nie krag vir jou nie, antwoord sy.
Natuurlik het jy. Dis jy wat met my praat. En ek ís jy, so moenie worry nie, ek het ook nie baie krag nie.
As ek net nie ingestem het om Bucks toe te gaan nie
As ek net nie saam met Jacques in die kar geklim het nie…
As ek net nie so baie shooters gedrink het nie…
As ek net nie die heel aand met Wayne geflirt het nie…
As ek net nie die afgelope tyd so los te kere gegaan het nie…
As ek net nie so deurmekaar geraak het met Corna-hulle nie…
As ek net nie met Juan uitgemaak het nie…
As ek net myself betyds kon leer ken en kon leer liefhê…
As…
As…
As…

*****

Hoërskool Ewoud Heymans speel die volgende aand teen Hoërskool Bothaville. Dit is ‘n pragtige wedstryd en beide spanne speel goeie, aanskoulike rugby. Tog sit die manne in die geel truie die Vrystaters duidelik ore aan.
Leon speel ’n hond uit ’n bos en tackle soos ‘n besetene. Elke duikslag laat hom tot in sy kleintoontjie lekkerkry. Hy weet die ouens probeer hom vermy, maar hy sorg dat hy op hulle is nog voordat hulle dit besef. Hy tackle laag en maak seker dat hy so lank as moontlik op die veld bly. Hulle kan in elk geval nie bekostig om in hulle eerste wedstryd reeds ‘n geel of ‘n rooi kaart te kry nie. Daardie goed tel altyd teen ‘n mens in toernooie soos hierdie. Hoe skoner jy speel, hoe beter.
Stefan druk hulle laaste drie so vyf minute voor die einde van die wedstryd en Leon weet dat hulle nou net die Vrystaters op hulle plek moet hou – met ander woorde, hy moet net sy werk goed doen.
Wonder bo wonder kry Bothaville kort na die afskop ‘n skrum op Ewoud Heymans se kwartlyn en skielik is daar vir hulle die geleentheid om tog twee bonuspunte te verdien deur hulle vierde drie aan te teken en sodoende met minder as sewe punte te verloor.
Die bal kom uit en beland by hulle losskakel, Ferdie van der Westhuizen. Vir ‘n oomblik lyk dit asof hy gaan skop, maar dan dummy hy vir Leon en hardloop regdeur om die bal onder die pale te gaan druk.
Leon staan op en kan homself skop. Rookie mistake! Dis omdat hy sy konsentrasie vir ‘n halfsekonde laat verslap het. Flippit! Toemaar, selfs al word die drie verdoel, wen Ewoud Heymans nog steeds. Dit maak net die res van die toernooi ‘n bietjie moeiliker.
Die eindfluitjie blaas net nadat Ferdie sy eie drie verdoel het en die manne sê vir mekaar met ‘n bladskud dankie.

*****

Juan verkyk hom aan al die liggies.
“Kyk, Pappa, kyk! Kyk hoe blink hulle!”
Martin van Vrede en sy gesin stap in die besige straat en geniet al die feestelikhede wat om hulle aangaan. Die Mardi Gras in Margate lok altyd baie mense en hulle het besluit om een aand tydens hulle jaarlikse seevakansie in Desember ‘n bietjie van die karavaanpark af weg te kom en net daar te kom rondstap.
Marli lag en dans opgewonde toe iemand seepbelle om haar blaas.
“Mamma, ek soek ook!” smeek sy en pluk aan haar ma se hand. Selma lag en stop by die volgende kraampie. Sy betaal vir die botteltjie seepbelle en gee dit vir Marli aan, wat onmiddellik in haar eie seepbel-wêreld verdwyn.
“Boeta, wat wil jy hê?” vra Martin en tel vir Juan op sy nek sodat hy beter kan sien. Juan se handjie wys met sy vingertjie soekend oor alles en stop dan by ‘n klein Springbok-rugbyballetjie.
“Ek soek dit, asseblief, Pappa,” vra hy saggies in sy pa se oor. Martin glimlag breed, haal sy beursie uit en koop vir sy 5-jarige seuntjie die klein rugbyballetjie.
“Dè,” sê hy en gee dit vir Juan, wat die balletjie met blink ogies by hom vat. “Nou kan ons lekker speel. Jy hou mos van rugby, nè?”
“Ja, Pappa. Eendag gaan ek ook vir die Springbokke speel!”
Martin en Selma lag saam en hy sit sy hand om sy vrou se lyf.
“Lyk my ons gaan ‘n Springbok grootmaak,” sê sy terwyl Marli al dansende rondom hulle seepbelle blaas.
By ‘n volgende stalletjie kry Selma vir hulle elkeen ‘n sakkie spookasem. Juan vat ‘n groene en Marli ‘n gele. Hand om die lyf stap Martin van Vrede en sy gesin in die straat af. Daar volg binnekort ‘n vuurwerkvertoning op die strand.
Juan se ogies dwaal terug na die liggies in die straat. Hier op sy pa se nek voel hy so gelukkig, so veilig. Almal is lief vir mekaar, alles is lekker en die liggies is so mooi!
Rooi, geel, groen, rooi, geel, groen…

*****

Rooi, geel, groen, rooi, geel, groen…
Juan verkyk hom aan die liggies wat op die masjiene rondom sy pa se bed flikker. Die masjiene biep-biep-biep en hy verstaan nie die helfte van wat daar aangaan nie. Al wat hy weet, is dat dit sy pa aan die lewe hou. Solank hulle nog biep, is daar nog ‘n kans dat sy pa gaan wakker word, weer gaan regkom.
Dit het alles so skielik gebeur dat Juan se binneste heeltemal deurmekaar is. Moet ek sleg voel? Moet ek hartseer wees? Moet ek kwaad wees dat my pa so baie gesuip het dat hy in ‘n beestrok vasgejaag het en waarskynlik semi-verantwoordelik is vir die dood van twee kinders en Rozaan se bene?
Sy kop draai en Juan gaan sit op die houtbankie langs sy pa se bed. Dit is snaaks hoe ‘n mens baie keer wonder of dit nie beter sal wees as jou pa dood is nie. Dan sal hy jou nie heeltyd kan afkraak of slegsê nie; jou ma sal nie die heeltyd huil nie; jou sussie sal nie elke dag net met die trappe opsluip na haar kamer toe en die hele middag daar bly nie; jou vriende sal nie te bang wees om jou huis te besoek uit vrees dat jou pa hulle sal verskree nie…
Maar tog – as sy pa sou doodgaan, is hy dood. Dóód. Dan is daar nie eens meer ‘n kans om ‘n beter verhouding te probeer bou nie. Hy en sy pa het nog nooit oor dinge gesels wat saak maak nie, nog nooit ‘n man-tot-man gesprek gehad soos wat hy so graag sou wou hê nie. Sy pa was nog altyd te besig by Martin Motors en wanneer hy in die aande by die huis gekom het, het hulle dikwels iets by die skool aangehad, sodat hulle mekaar in elk geval gemis het. En die laaste tyd…Juan wil nie eens aan die afgelope paar weke dink nie.
Ek wens ek kon nog net één kans kry om dinge te probeer regmaak. Hy lyk so…weerloos, so eensaam. ‘n Mens moenie eensaam doodgaan nie.
“Asseblief, Here Jesus. Net nog een kans, asseblief. Ek wil so graag net vir hom sê…”
Biep-biep-biep.
Rooi, geel, groen…rooi, geel, groen…

*****

Wihan, Sibu en Rufus lê op hulle beddens in die koshuis. Hulle volgende wedstryd is teen Kuswag, wat besluit het om nie aan die Rugbyweek te onttrek nie, ten spyte van die moeilike tyd waardeur hulle as span gaan.
“Hoe voel julle oor môre se game?” vra Sibu.
“Ek’s orraait,” antwoord Rufus. “Hulle is nie groter as ons nie en hulle moet ‘n replacement speel in die outjie wat dood is se plek.”
“Flip, dit is so screwed-up,” kom dit van Wihan. “Ons gaan môre kapitaliseer op daai ouens se hartseer. Dis kind-of siek.”
“Dit help nie ons dink so daaraan nie, Wihan,” sê Rufus en draai op sy sy. “Ons moenie laat emosies en sulke goed in ons pad kom nie…”
“Geez, that’s harsh!” val Sibu hom in die rede, maar Rufus beduie met sy hand vir hom om stil te bly.
“Man, wag, dat ek klaar praat! Ons moenie dat dit in ons pad kom terwyl ons die wedstryd speel nie. Dis mos nie asof ons nou ewe skielik vergeet het dat hulle deur ‘n moeilike tyd gaan nie. Hel, ons het ook nie juis ‘n piekniek nie. Een van die girls in ons skool is ook oorlede, ons een speler se pa se lewe hang aan ‘n draadjie…ons word óók geraak. Ons het ons eie emosies om mee te deal.”
Wihan besef dat Rufus reg is.
“Ek hoor jou, maar ek is net bevrees hulle gaan dit nie so insien nie. Dit kan in ‘n baie fisiese game ontaard, en met fisies bedoel ek ons gaan mekaar waarskynlik op die ou end goed moer.”
“Dis nie te sê nie, boerseun,” sê Sibu.
“O ja? Vir daai ouens is dit asof óns hulle buitesenter vermoor het. Dink jy nie hulle gaan ons probeer terugkry nie?”

*****

Wihan was reg. Toe Kuswag die volgende middag 17:00 op die veld draf vir die wedstryd teen Bergkruin, is daar haat in hulle oë. Van die afskop af is dit duidelik dat hulle nie omgee of hulle die wedstryd wen of nie, solank Bergkruin in die proses ernstig beseer word. Hulle speel skelm en vuil. Sodra die skeidsregter nie kyk nie, word daar met mening getrap en gebyt. Rufus kry in een losgemaal ‘n harde elmboog in die oog sodat hy net sterretjies sien.
Ná ongeveer twintig minute se spel kry Bergkruin uiteindelik ‘n strafskop en Wihan kan drie punte vir hulle op die telbord sit. Moeg draf hy terug om sy posisie voor die afskop in te neem. Die vuil spel is besig om die manne onder te kry. Hy het lanklaas in sy lewe ‘n wedstryd gespeel waar die ander span se optrede so erg deur emosie aangevoer is. En dis asof die skeidsregter nie die gebyt, getrap en geslaan raaksien nie!
Kort voor rustyd kry Kuswag ‘n skrum binne Bergkruin se kwartgebied. Hulle skrumskakel se ingooi is nie so suiwer soos wat hy dit wou gehad het nie en Jonathan kry die bal gehaak. Bergkruin se skrum begin vorentoe stoot, sodat die bal gekanaliseer word tot by Juan. Hy pik die bal op, mik vir die kantlyn naaste aan hom en skop die bal dan ver uit, maar net nadat hy die bal uitgeskop het, word hy met ‘n stywe arm laat geloop en hy slaan agteroor. Die skeidsregter skitter in sy afwesigheid.
“Moordenaarskind,” hoor Juan hoe die Kuswag-speler hom toesnou en hy sien hoe die ou in sy rigting spoeg. Juan se hart begin wild te klop. Nou het daardie man vir moeilikheid gesoek…
Genadiglik blaas die fluitjie vir halftyd en die ouens strompel moeg van die veld af.

*****

Bergkruin se spelers sit kop onderstebo in die kleedkamer.
“Gee my gou ‘n slukkie,” vra Rufus vir Juan, wat water in sy mond en oor sy kop spuit. Juan gee die bottel vir sy vriend aan.
“Hoe voel jou nek?” vra Wihan vir Juan toe hy langs hom kom sit. Juan draai sy nek stadig heen en weer.
“Hy’s orraait. Ek sal kan speel.”
Jonathan kom ingestap en lyk self nie te waffers nie.
“Manne, staan gou nader,” gebied hy. Die spelers staan so vinnig as wat hulle lywe dit toelaat nader en vorm ‘n kringetjie. Jonathan lyk omgekrap en ietwat teleurgesteld.
“Ek het nou net met die ref gepraat,” begin hy. “Die ref sê dat hy niks sien wat Kuswag verkeerd doen nie en dat as ons nie ‘n harde game kan vat nie, kan hy niks daaraan doen nie.”
“That’s bullshit!” roep Sibu hard uit.
“I know, Sibu, but calm down. Ouens, as ons hierdie game wil wen sonder om iemand te verloor, gaan ons baie vaster as ‘n span moet saam speel. Ons gaan na mekaar moet kyk. Ons kan nie toelaat dat hulle ons ouens uithaal omdat hulle met ‘n spul aggressie sit nie. Dit wat Maandagaand gebeur het, is nie ons skuld nie. Juan, jy is nie ‘n moordenaarskind nie, hoor jy my? Jy is ‘n held, ‘n freakin’ hero! Nie een van ons kan verantwoordelikheid vat vir ons ouers of ander ouens se keuses nie. Wat ons kan doen, is om hier, nou, vir mekaar verantwoordelikheid te vat. Gaan ons dit doen?”
“YES!” kom dit soos een man van die spelers af.
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“YES!”
Hulle draf terug op die veld en daar is nuwe energie tussen die Bergkruinspelers. Juan se hart het skoon warm geword in die kleedkamer. Jonathan, hulle kaptein en een van sy eie rolmodelle, het vir hom gesê hy is ‘n held, ‘‘n freakin’ hero!’ en dit was lekker om dit te hoor! Hy het nie eens geweet Jonathan het die ‘moordenaarskind’-opmerking gehoor nie, maar hy het dit teen die wortel afgebreek. Ek is ‘n held, ek is ‘n held, ek is ‘n held…ek is nie ‘n moordenaarskind nie. Ek is Jesus se kind. Ek is ‘n freakin’ hero…
Wihan skop af, ‘n hoë hangskop. Rufus is eerste onder die bal en spring om dit te vang. Jonathan, wat kort op sy hakke is, keer dat Kuswag se een slot hom nie uit die lug uit loop nie. Rufus land veilig en is soos blits toe sy voete die grond raak. Met sy breë skouers skouer hy sy opponente uit die pad uit. Hulle klou aan sy enkels en probeer hom vasvat, maar Rufus het die doellyn geruik en nou baklei hy soos ‘n honger haai. Niks gaan hom keer om hierdie drie te druk nie! Omtrent drie ouens is op hom saamgepak, maar hy dryf voort. Jonathan en die ander voorspelers is by hom vir ondersteuning. Met byna bomenslike krag beur Rufus vorentoe tot by die doellyn en val dan oor vir ‘n welverdiende drie. Die skare is op hulle voete.
Dit wil tog voorkom asof Kuswag se aggressie en intensiteit ietwat afgeneem het, maar Wihan vertrou nie die vrede nie. Hy wag net vir die oomblik dat hulle weer ‘n vuil haas uit die hoed uit trek.
Tien minute later word sy vermoedens bevestig toe Jonathan in ‘n losskrum só erg in die gesig getrap word dat hy die veld moet verlaat. Bloed sypel uit slote bokant sy linkerwangbeen en -oogbank en hy lyk omtrent asof hy van ‘n slagveld af kom.
Dit beteken dat Wihan die kapteinskap moet oorneem.
Met die telbord wat op 10-0 staan en 15 minute se speeltyd wat oorbly, voel hy dat hy dit kan hanteer. Hy moet net sy span deur die volgende kwartier lei. Dis al wat hy moet doen.

*****

Wihan se hoop dat die wedstryd sonder enige verdere voorvalle sou klaar kom, word skaars vyf minute later gekelder toe daar ‘n losgemaal op Kuswag se 10m stippellyn ontstaan. Bergkruin het die bal gehad toe hulle ingegaan het, maar die bal kom nie uit nie.
“Bring hom, boys!” skree Juan van sy skrumskakel-posisie af. Steeds kom die bal nie uit nie.
Skielik sien hy die bal en Juan begin om dit met sy voet uit te krap. Hy kry die rugbybal uit en raap dit op om ‘n vinnige rolskop langs die regterkantste kantlyn af te skop. Net toe hy die bal wil tref, kom Kuswag se skrumskakel en stamp hom bo van sy voete af. Dit is dieselfde ou wat hom vroeër vir ‘n moordenaarskind uitgeskel het.
Juan staan vinnig op en haal sy opponent in.
“Wat is jou probleem, hè?” vra Juan hom en hy gryp die skrumskakel aan die skouer. Onverwags swaai die skrumskakel om en tref vir Juan reg op sy linkeroog met ‘n voltreffer.
Juan sien rooi en dis nie net bloed nie. Hy storm vorentoe, duik die skrumskakel plat en gaan sit bo-op hom en begin hom met sy vuiste toe te takel.
Voor jy kan sê mes, heers daar totale anargie. Toe die Kuswag-spelers sien dat hulle skrumskakel onder Juan se vuiste deurloop, storm hulle verwoed nader. Bergkruin se manne is ook nie links nie en kort voor lank is dit net arms, bene en bloed waar jy kyk.
Wihan besef dat hy iets sal moet doen, anders gaan hulle baie swaar gestraf word.
“Bergies! Staan terug!” skree hy, maar dit het nie regtig ‘n effek nie. Hy kyk verward rond. Wat moet hy doen? Hy wil nie hê hulle moet in die geveg betrokke raak nie, maar hulle kan seker ook nie niks doen nie. Flip, ek moet dit stop, dink hy. Maar hoe?
Die volgende oomblik kom Rufus verby hom gehardloop en begin Bergkruin-spelers aan hulle truie uit die geveg pluk.
“Staan terug! Staan terug, ouens!” skree Rufus terwyl hy dit doen. Wihan val in en help hom, terwyl die skeidsregter se fluitjie vervaard voortblaas. Uiteindelik kry hulle die geveg gestop. Juan se gesig lyk sleg. Hy en Kuswag se skrumskakel was heel onder in die hopie en hy kan dit voel.
“Wil jy ‘n geel kaart hê, Juan?” skree Rufus op hom terwyl hy terug staan. Juan sê eerder niks terug nie. Shit, hy moes nie so beheer verloor het nie!
Aan die ander kant…hy voel half ligter, so asof hy ontslae kon raak van alles wat op hierdie stadium binne in hom soos ‘n rollercoaster aan die spin is. Dit is seker nie die konstruktiefste manier nie, maar dit het nou klaar gebeur. Hy is net só gatvol vir alles, so gatvol om te voel soos wat hy voel.
Hy sug toe die skeidsregter hom en Kuswag se skrumskakel naderroep. Hulle word albei afgestuur met geel kaarte. Juan loop nie eens na die pale toe nie, maar stap sommer direk af en bars verby die toeskouers langs die kant van die veld deur na hulle kleedkamers toe.
Uiteindelik gaan die sirene af en die skeidsregter blaas die eindfluitjie.
Dankie tog! dink Wihan. Dit het hier na die einde se kant toe gevoel asof die wedstryd nooit gaan ophou nie.
Bergkruin vorm ‘n ry en stap nader na die Kuswag-spelers om dankie te sê, maar hulle draai hulle rûe op die Bergkruin-manne en stap weg na die oorkantste hoek van die veld toe.
“Kom ons maak kringetjie, manne,” sê Wihan en die ouens haak by mekaar in. Hulle sak op hul knieë neer en sluit hulle oë. Wihan sê dankie vir die wedstryd en vir die oorwinning wat behaal is. Hy dra verder die Kuswag-span aan die Here op en bid dat hulle getroos sal word. Hy bid ook dat hulle eie span genade sal beleef.
“Ons is jammer dat ons vanaand beheer verloor het, Here, en dat ons nie U daardeur verheerlik het nie. Gaan asseblief met almal wat vanaand beseer is en dié wat in die hospitaal is, asseblief, Here, sodat hulle U hand en troos sal ervaar. Ek bid dit in U Naam. Amen.”

*****

Nadat almal uit die kleedkamer weg is, bly mnr. Venter en Jonathan alleen by Juan agter. Jonathan het vir mnr. Venter verduidelik wat op die veld gebeur het – hoe die Kuswag-speler vir Juan uitgeskel het.
Juan sit kop onderstebo, met mnr. Venter aan sy linkerkant en sy kaptein regs van hom.
“Juan, ek wil nie hê jy moet verplig voel om te speel nie. Ek en die hele span sal honderd persent verstaan as jy eerder hospitaal toe wil gaan en by jou pa wil wees,” sê mnr Venter en sit sy een hand op Juan se skouer. Juan skud sy kop.
“Nee, Meneer. Ek wil nie daar wees nie. Ek wil hier by die span wees. Ek kan hulle nie in die steek laat nie. Nie nou nie.”
Jonathan sit ook sy hand op Juan se skouer.
“Ons sal regkom, Juan. Dis nie dat ons jou nie hier wil hê nie…”
“Ek wíl hier wees.”
Bo-oor sy kop kyk mnr. Venter en Jonathan woordeloos na mekaar.
“Nou maar goed,” sê Venter. “Jy is welkom om my te laat weet as jy van plan verander. Onthou net, ons kan nie bekostig dat iets soos vanaand weer gebeur nie. ‘n Opponent se gesig is nie die plek om jou frustrasies uit te haal nie. Ons doen dit deur hulle hard te tackle en gate deur hulle te hardloop, hulle uit te haal daar waar dit saak maak. Jonathan, ek los jou nog so ‘n bietjie by hom.”
“Reg, Meneer,” sê Jonathan en hul afrigter stap uit.
Juan vee oor sy neus, wat nou gekoek met droë bloed is en snuif hard. Jonathan trek ‘n waterbottel nader en hou dit na hom toe uit.
“Onthou jy wat ek halftyd vir jou gesê het, Juan?” vra Jonathan na ‘n rukkie.
Juan knik.
“Nou hoekom het jy dit so gou vergeet?”
Juan trek net sy skouers op. Jonathan kan sien dat hy nie baie spraaksaam gaan wees nie, maar hy praat nogtans voort.
“Helde maak nie so nie, Juan. Regte helde, wenners, is die ouens wat die punch vat. Ek sê nie jy moet toelaat dat almal oor jou loop nie. Glad nie. Maar helde verloor nie beheer oor hulleself omdat die een of ander random poepol iets oor jou kwytgeraak het wat doodgewoon nie die waarheid is nie. Dit is iets wat my broer my geleer het. Jy vat verantwoordelikheid vir jou eie optrede. As ander ouens hulleself soos kinders wil gedra, is dit hulle saak.”
Juan kyk vraend op.
“Wie was jou broer?” vra hy. Om die een of ander rede ken hy glad nie Jonathan se broers of susters nie. Hy het nie eens geweet hy het ‘n broer nie!
“Onthou jy so ‘n paar jaar gelede was daar een van die Eerstespan-ouens wat kort na Rugbyweek gequit het en toe het almal so heavy oor hom begin skinder? Gesê hy is gay, dat hy eintlik net rugby gespeel het om aan ouens te vat, sulke stront?”
Juan knik, en besef toe skielik wat Jonathan hom wil vertel.
“Was dit…jou broer?”
Jonathan knik.
“Ja, dit was my ouer broer. Ons verskil so vyf jaar. Hy het nie gequit omdat hy gay of iets was nie. Hy het gequit omdat hy homself nie op daardie stadium met die ouens kon assosieer nie. Dit was nie soos nou, wat ons so baie bid tydens oefeninge en sulke goed, nie. Dit was baie rowwer tye en hy het net gevoel sy geestelike lewe gaan te veel skade ly.”
“Flippit,” sê Juan.
“Jip. Hy het my geleer dat jy verantwoordelikheid vir jou eie keuses vat, maak nie saak wat ander mense vir jou of van jou sê, of aan jou doen nie. Op die ou end is dit jy wat besluit: gaan ek die punch kan vat, of gaan ek knak onder die druk en maar met die res van die stroom saamdryf.”
“En hy het gekies om die punch te vat,” sê Juan, half vir homself.
“Presies. Dís wat ware helde doen. Hy het geweet hy gaan dit vir homself vrek moeilik maak, maar hy het gesê dit pla hom nie, want hy weet wat die waarheid is. As ‘n mens die waarheid aan jou kant het, Juan, kan niemand jou vrede van jou af wegvat nie. Jy kan dan net kies of jy mense wil toelaat om dit van jou af weg te vat.”
Jonathan bly ‘n oomblik stil.
“My broer is einde laas jaar in Amerika in ‘n motorongeluk dood. Ek kon hom nie eens groet nie, maar ek het vrede in my hart. Hy het my iets geleer wat ek aan iemand anders kon oordra.”
Juan glimlag vir sy kaptein.
“Thanks, Jonno. G’n wonder jy was nog altyd kaptein van alles nie,” sê hy. Jonathan glimlag verleë en trek vir Juan aan sy hand op.
“Kom, laat ons koshuis toe gaan. My maag dink al my keel het toegegroei.”

*****

Later daardie aand kry Juan vir Rufus waar hy besig is om vir hom koffie in te gooi. Jonathan het die res van die span bymekaar geroep en hulle ingelig dat Juan by hulle bly. Hy en Venter met hom gepraat het en dit is nie enigeen van die ander se besigheid nie.
“Hey, tjom. Wil jy ook koffie hê?” vra Rufus.
“Thanks, dit sal lekker wees,” antwoord Juan en hou sy beker nader. Hulle loop met hulle bekers stomende koffie en gaan sit buitekant by een van die sementtafeltjies.
“Hoe gaan dit in die hospitaal?” vra Rufus. Juan blaas op sy warm koffie en proe dan versigtig daaraan.
“Dit gaan maar nog dieselfde met my pa. Ek was laat gisteraand daar, en ek kon dit net nie meer face nie. Flip, hy lyk so…nié soos my pa nie, jy weet? Al daai pype en goed freak my verskriklik uit.”
Hy proe-proe weer aan sy koffie.
“Was jy al by Rozaan?” wil Rufus weet.
“Mmm, net vinnig. Sy wou niks weet nie. Toe los ek dit maar.”
“Sal dit okay wees met jou as ek haar dalk môre gaan sien?” vra Rufus versigtig. Juan knik, maar frons.
“Hoekom vra jy my toestemming?”
Rufus trek sy skouers op.
“Ag, dis net…die hele ding met Rozaan en ons was maar nog altyd ‘n bietjie awkward. Ek wil nou nie laat dit weer ons vriendskap spoil nie. Jy kan saam kom as jy wil?”
Juan glimlag effens en skud dan sy kop liggies.
“Nee, wat, thanks, sy wil my nie sien nie. Jy’s welkom om by haar ‘n draai te gaan maak, ou. Ek en sy is mos in elk geval geskiedenis, so dit maak nie saak nie. Buitendien, ek skuld jou nog oor jy haar nie op Jacques se party gevry het nie.”
Rufus snork en lag.
“Ja, wel,” sê hy en sluk stadig aan sy koffie. “Dankie dat jy nie pyne het nie. Dit wat op die party gebeur het, is juis die rede hoekom ek haar wil gaan besoek.”

*****

Rufus kry vir Leon in die hospitaal se ingangsportaal.
“Hey, Leon, hoe lyk dinge?” groet hy.
“Yes tjom! Nee, nie te bad nie, onder omstandighede,” groet Leon terug.
“Hoe het julle game vanaand gegaan? Teen wie’t julle nou weer gespeel?”
“Aliwal-Noord. Dit was oraait, maar ons het nie ‘n bonuspunt gekry nie. Daar was darem nie sulke fights soos met julle game nie!”
Rufus grinnik.
“Jy kan bly wees. Ek het gedog daai ouens gaan mekaar doodmaak.”
Hy besef skielik dat dit nie noodwendig die beste manier was om die geveg te beskryf nie.
“Ek bedoel…”
Leon begin lag, eers saggies maar dan al hoe harder, sodat hulle naderhand buite moet gaan staan. Rufus bloos bloedrooi. Uiteindelik kry Leon sy ligte histerie onder beheer.
“Aah, man! Ag, Rufus, ons is almal so opgewen, so iets het gewag om te gebeur. Toemaar, dis gelukkig nie my pa wat daar binnekant lê nie.”
“Of jou eks-girl nie.”
Leon se oë rek effens.
“Hoe klink dit my jy is nie hier vir Juan-hulle nie?”
“Ek is nie. Ek…het by Rozaan kom kuier. En moenie worry nie, ek het vir Juan toestemming gevra. Hy sê sy wou niks van hom weet nie en ek het gedog maybe, na die hele party-episode en alles…ons het darem nog die heeltyd goed oor die weg gekom. Voor daai belaglike uitmaaksessie in elk geval.”
“Okay, as jy so sê. But it’s your funeral,” sê Leon. Hy slaan oombliklik sy hand oor sy mond.
“Jy kan bly wees ons staan buite,” merk Rufus droog op en hulle stap terug binne toe.
Leon stap aan na waar Marli buitekant haar pa se saal wag en Rufus gaan ‘n vloer op na die privaatkamer waar Rozaan lê.
Hy klop aan die half-oop deur. Rozaan lê op haar sy met haar rug na die deur en draai om. Sy is merkbaar verbaas.
“Kan ek inkom?” vra Rufus. Sy maak ‘n gebaar met haar hand.
“Sure.”
Rufus stap versigtig in, maar gaan sit nie langs haar bed nie.
“Wat wil jy hê?” vra Rozaan kort-af en moeg. Sy het nie goed geslaap nie en is in elk geval vir die grootste gedeelte van die dag bedwelm deur pynstillers.
“Rozaan…ek het net kom sê ek is jammer,” kry Rufus dit uiteindelik uit. Rozaan wil begin praat, maar hy maak haar stil.
“Ek praat nie van die ongeluk nie. Ek bedoel, ek is jammer daaroor ook, maar ek wil eintlik kom jammer sê oor die aand by Jacques se party.”
Rozaan het dit nie verwag nie.
“Ek verstaan nie?”
“Ek is jammer dat ek jou omgepraat het om reguit vir Juan te sê hoe jy voel. Dalk sou jy dan die hele uitmaak anders benader het. Dalk sou dit beter gewees het as jy hom maar net verneuk het en klaar, want toe begin jy om sy neus daarin te vryf en dit vir jouself ook nog slegter te maak. Ja, goed, ons ouens het baie close geword daarna, geestelik ook, maar jy het net agteruit gegaan en met Corna-hulle se spul begin rondhang. Miskien as dit nooit gebeur het nie, sou jy nie met daai Kuswag-ou geflirt het nie en dan sou julle nie Laughing Hyena toe gegaan het nie…”
“Stop! Stop! Stop!” huil Rozaan. “Dis nie jou skuld nie, Rufus! Dis nie jy wat moet jammer sê nie! Ek het my eie keuses gemaak, niemand het my gedwing nie. Ek het self in Jacques se kar geklim, ek het geweet hoe dronk hulle is. Ek wóú met Juan uitmaak, onthou jy? Ek wóú vry wees…maar ek was nooit vry nie. Ek het ‘n klomp goed gedoen wat ek gedink het vir my vryheid sou beteken, maar dit het my net in die een slaggat na die ander laat trap. Weet jy wie van die skoolkinders het al vir my kom kuier vandat ek hier lê? Juan en jy. My beste vriendin is dood en sy word op ‘n ander dorp veras en ek kan dit nie bywoon nie…en nie één van my sogenaamde vriende het nog kom kyk hoe dit met my gaan nie! En Juan…mens kan dit ook nie juis ‘n kuier noem nie.”
“Hy is ook jammer, weet jy.”
“Jammer oor wat?”
“Dat julle nie kon gesels nie. Of eerder, dat jy nie met hom wou praat nie.”
Rozaan bly stil. Wat is Rufus se case? Wil hy nou hê hulle moet opmaak, of wat?
“Ek wil net laastens sê ek is jammer dat jy en Juan nie meer pêlle is nie. Hy wil graag hê dat julle darem nog vriende moet wees.”
Steeds sê Rozaan niks.
“Ek…gaan nou terug koshuis toe. Juan het vanaand ‘n ou op die rugbyveld gebliksem omdat die ou hom ‘n moordenaarskind genoem het. Ek wil nog gaan kyk of hy oraait is. Ek sal weer ‘n draai kom maak,” sê Rufus en begin dan uitstap.
“Rufus…” roep Rozaan saggies net toe hy om die kosyn verdwyn. Hy steek sy kop weer by die deur in.
“Yes?”
“Sê vir Juan…dit sal lekker wees om hom weer te sien.”
Rufus glimlag sy warm glimlag vir haar en onwillekeurig dink Rozaan terug aan die heel eerste dag by die skool toe hulle mekaar ontmoet het.
“Ek maak so.”
Toe hy weg is, haal Rozaan diep asem.
Mooi so, hoor sy vir Stemmetjie. Nou kan ons uiteindelik begin om die pad van gesondword te stap.

*****

Jonathan se kar stop met ‘n harde remgeluid voor die hospitaal en Juan, Wihan en Rufus spring uit. Mnr. Venter het skaars vyf minute vantevore die nuus gekry dat Juan se pa besig is om wakker te word en na hom vra. Dit is al baie laat, ná 02:00 in die oggend, maar omdat dit die volgende dag die uitstappiedag van die week is, het Wihan en Rufus kans gesien om saam met Juan te kom.
“Wat gaan aan? Kan ons ingaan?” vra Juan sy ma wat hom met trane in haar oë omhels.
“Die dokters is heeltyd by hom, hy praat deurmekaar en…ag, Juan!” huil Selma. Juan gee sy ma ‘n drukkie om haar skouers en stap dan saam met sy twee vriende na sy pa se saal in die intensiewe sorg-eenheid.
“Ons wag hier,” sê Wihan toe hulle by die deur kom. Juan draai net om en glimlag bewerig vir hulle voordat hy ingaan.
Daar is nie minder pype of masjiene rondom sy pa se bed nie, maar vir Juan lyk sy pa skielik lewendiger as wat hy hom in ‘n lang tyd gesien het.
“Pa…?”
Martin se oë helder op toe hy sy seun sien.
“Juan…”
Sy stem is krakerig en klink oud, ten spyte van die glinster in sy oë.
“Pa…ek…”
Verder as dit kom Juan nie. Sy stem raak weg en hy stop by die bed se voetenent. Die stryd binne-in hom woed soos ‘n stormsee. Hierdie is dieselfde man wat hom nog ‘n week gelede teen ‘n yskas gegooi het. Dit is dieselfde persoon wat hom uitgeskel het vir ‘n patetiese stuk stront en gesê het dat God nie eens van hom hou nie…Nou lê hy hier, hulpeloos, pateties en…hoe móét hy voel? Wát moet hy voel?
“Pa…ek weet nie wat ek moet sê nie.”
Martin se oë gaan ‘n oomblik toe, maar dan maak hy dit weer stadig oop.
“As ek hier uitkom…gaan dinge anders wees,” kry hy dit moeisaam uit.
“Hoe?” vra Juan sag, maar dringend. “Hoe, Pa? Gaan Pa ophou drink? Gaan Pa ophou om ons te slaan? Gaan Pa my begin liefkry? Hoe gaan dinge anders wees?”
Martin se asemhaling kom swaarder en sy gesig raak strak.
“”n Mens sou dink…jy sou my…in hierdie toestand…’n kans gee…”
“Ek wil, Pa!” sê Juan en stap om die rand van die bed. “Dis net…ek weet nie hoe dinge beter gaan word nie. Pa kan dit nou belowe, maar as Pa eers weer gesond is en alles is fine…hoe weet ek dit gaan nie weer gebeur nie?”
Dit lyk asof Martin hom wil antwoord, maar skielik begin hy na sy asem snak en aaklige, hortende geluide kom uit sy borskas. Sy oë raak wyd oopgesper en Juan weet daar is groot moeilikheid.
“Help! Iemand, kry ‘n dokter!” skree Juan en druk die roepknoppie oor en oor. Binne sekondes kom dokters en verpleegsters nader gestorm. Juan staan vinnig terug. Die trane in sy oë kan hy met moeite beheer en hy stap haastig by die deur uit.
Buitekant kry hy vir Rufus en Wihan, wat duidelik kan sien dat dinge nie lekker is nie.
“Wat het gebeur?” vra Wihan. Juan sak op sy hurke en skud net sy kop heen en weer.
“Dis alles my skuld.”

*****

Waar Leon by Marli staan, sien hy vir Juan, Wihan en Rufus in die gang aangestap kom.
“Ek gaan gou na hulle toe, okay?” sê hy vir haar en sy knik.
“Is alles okay?” vra Leon toe hy by die ouens kom.
Rufus beduie vir hom dat dit beslis nie okay is nie.
“Ons gaan terug koshuis toe stap. Kom jy saam?” vra Wihan en dit is eintlik meer ‘n opdrag as wat dit ‘n versoek is. Leon verstaan en kry sy goed.
Marli bly alleen agter toe die seuns haastig wegstap. Sy is baie bekommerd oor haar pa en Juan. Nie een van die twee lyk vir haar exactly goed nie en sy ys om te dink…as haar pa nou sou doodgaan, sal Juan homself nooit vergewe nie.

*****

Toe hulle terug by die koshuis is, gaan klim Juan onmiddellik in die bed. Wihan, Rufus en Leon gaan sit buitekant.
“Wat het gebeur?” vra Leon. Rufus trek sy skouers op.
“Ons was nie saam in nie, maar toe Juan uitkom, het hy net gesê dat dit alles sy skuld is. Nugter weet hoekom.”
“Ek dink nie hy en sy pa gaan ooit eye to eye sien nie,” sê Wihan. “Ek twyfel in die eerste plek of sy pa dit gaan maak. Ek meen, selfs al doen hy, wat is die kans dat dinge ooit weer tussen hulle kan regkom?”
“Was dit ooit reg?” vra Leon. “En wat is ‘reg’? Sit ons nie almal maar met ons pa’s vas nie?”
“Dis nie dieselfde nie,” sê Rufus.
“Nou hoe is dit dan?”
“Man…dis ingewikkeld.”
“Sy pa sal hulle net weer op ‘n stadium begin slaan,” verduidelik Wihan. “Ek ken daai oom ongelukkig al lank en hy het baie mense vir ‘n lang tyd ‘n groot rat voor die oë gedraai, my ma-hulle ingesluit. Ek besef nou hy is een van daardie blink, gladde tipe ouens wat ‘n moerse masker vir die buitewêreld voorhou met sy garage en sy gholfstokke en sy blink kar en alles, maar binnekant is hy eintlik ‘n monster. Hulle verander nie. Dalk vir ‘n rukkie, maar dan is alles net weer soos dit voorheen was.”
Vir ‘n paar minute is daar stilte.
“Dit suck,” kom dit van Leon af. “Ek bedoel, ek het ook nie juis ‘n piekniek vir ‘n lewe nie, maar ten minste weet ek waarmee ek elke dag moet deal. Juan…dit verbaas my dat hy nog nie weggeloop het uit die huis nie.”
“Waarnatoe sal hy nou eintlik gaan?”
“Ek weet nie, tjomma! Ek sê maar net.”
Wihan sug.
“Maybe is dit beter as sy pa…flip, ek voel skoon skuldig om dit eens te dink.”
Rufus krap met ‘n klippie op die sementblad van die tafeltjie.
“Dalk ís dit beter. Ek hoop net Juan sal met homself kan vrede maak as dit sou gebeur.”
“Maar dis dan nie sy skuld nie.”
“Ek weet dit. Ek hoop net hy besef dit ook.”

*****

Op die Vrydag word daar nie ‘n rugbykliniek aangebied soos tydens die ander oggende in die week nie en die spanne kan doen wat hulle wil. Party skole gaan besoek wildsplase, ander spandeer die dag by die dorp se dam en sommiges besoek die nabygeleë warmwaterbronne. Bergkruin se Eerstespan het vir mnr Venter gevra of hulle vanjaar dam toe kan gaan en hy het ingestem.
Hoewel hy in ‘n tweestryd was daaroor, het Juan besluit om saam te gaan. Hy kan dit nie vat om by die hospitaal te wees nie. Hy weet ook hy moet homself dwing om dit nie vir die span moeiliker te maak nie.
Toe hulle by die koshuis vertrek, roep hy vir Wihan, Rufus en Sibu nader.
“Ons gaan vandag geniet, oraait? Ons gaan ski en tube ry en braai en op Wihan-hulle se Jetski rondspeel. Ek wil nie die heeldag soos ‘n pity case behandel word nie, asseblief.” Die ander ouens stem in, maar toe Juan sy rug draai, gee Wihan vir Rufus ‘n baie veelseggende kyk.
Dit word ‘n heerlike dag by Klipfonteindam. Hulle vang vis, ski en ry motorboot. Wihan-hulle se Jetski kry groot aftrek.
Een van die ouens se pa’s het ‘n gepekelde varkie gerook en dit op ‘n spit gebraai. Nou smul die ouens te heerlik daaraan.
Juan skakel nie heeltemal af nie, maar hy kry dit tog reg om die dag te geniet sonder om te veel aan sy pa te dink. Daar sal later weer tyd wees om te worry, besluit hy.

*****

Marli en Selma van Vrede wag by die Wimpy vir hul geroosterde toebroodjies toe Selma se selfoon skril lui. Toe sy dit antwoord, word haar gesig asvaal en sy laat val haar handsak.
“Ma? Wat gaan aan?” vra Marli benoud.
“Jou pa…die hospitaal sê ons moet nóú kom!”
“Maar…maar Juan…hulle is nog…”
“Bel hom!” gil Selma. “Ek gee nie om wat jy doen nie, kry hom net hier!”
Bewend vroetel Marli op haar selfoon se knoppies rond terwyl hulle terugjaag hospitaal toe.
“Haai dis Juan, ek kan nie nou praat nie, maar los asseblief…”
Flip, Juan! Dink Marli paniekbevange. Hoekom antwoord jy nie?
Selma sit haar noodligte aan en lê op die kar se toeter terwyl hulle deur die dorp se niksvermoedende strate jaag.

*****

Toe dit tyd word om huiswaarts te keer, roep mnr. Venter die span bymekaar.
“Ons het sopas die finale bepalings gekry. Ek wil julle gelukwens, manne: ons speel in die finaal.”
Spontaan begin die ouens hande klap en uitroep van blydskap.
“Yes!”
“Cool!”
“Ja!”
“Teen wie, Meneer?” vra Jonathan. Mnr. Venter hou die manne fyn dop terwyl hy antwoord.
“Teen Ewoud Heymans.”
Weer is daar ‘n geroesemoes onder die opgewonde seuns.
“Hoe het dit gebeur, Meneer? Hulle het dan nie ‘n bonuspunt gekry in hulle laaste game nie?” vra Rufus
“In ‘n verrassende upset het Bothaville vir Maritzburg geklop en op punteverskil het Ewoud Heymans een drie meer as Maritzburg aangeteken.”
Die seuns kom effens tot bedaring by die aanhoor van dié stukkie inligting.
“So, dis ons teen Leon-hulle,” sê Juan vir Sibu, wie se oë blink.
“Bru, ek gaan vir hulle hárd tackle!”
Wihan pomp hom in die ribbes.
“Dis nou as Leon nie vir jóú hard tackle nie!”
Sibu spoeg gemaak verontwaardig.
“Never! He will have to catch me first. Ek hardloop sy sleutelbeen vir hom kas toe.”
Die ouens klim laggend in die bus en bespreek geesdriftig die gebeure wat voorlê. Elkeen se hart begin vinniger te klop met die wete dat hulle dalk, net dálk, weer die Rugbyweek-trofee in hulle hande sal kan hou.
Juan gaan sit langs Rufus en grou vir sy selfoon in sy sak.
19 Missed Calls.
Juan se bloed stol in sy are.

*****

“Waar’s hulle?!” vra Juan vir die suster by ontvangs toe hy die hospitaal binnestorm, sy vriende kort op sy hakke.
“Hulle is bo, maar…”
Juan luister nie verder nie en hardloop die trappe drie-drie op. Bo in die gang bots hy teen Leon vas.
“Waar’s hy?” skree-vra Juan en probeer verby Leon beur. Leon moet al sy krag inspan om vir Juan vas te hou.
“Juan…hy’s weg…” kom die woorde soos skeermeslemmetjies oor Leon se lippe. Juan syg teen die grond neer.
“Nee! NEE! Dis my skuld, ek moes nie…ag nee, dis my skuld!” skeur die woorde bitter deur sy stem en sy lyf begin te ruk soos hy huil. “As ek hom nie beskuldig het nie sou hy dalk nog…”
“Juan, sy beserings was net té erg, dis nie jou skuld nie, ou. Hy sou nooit…” probeer Leon, maar Juan val hom in die rede.
“Maar ek het gesê ek weet nie hoe hy sy beloftes gaan nakom nie! As ek hom net meer kans gegee het, sou hy dit dalk nog gemaak het! Dis alles my skuld! Ek wou nog só graag vrede gemaak het…”
Wihan, Rufus en Sibu verskyn aan die bo-punt van die trappe waar Leon met sy arms om Juan se rukkende skouers op die grond sit. Die toneel vertel vir hulle alles wat hulle moet weet.
Juan kyk op.
“Waar is my ma-hulle?”
Leon en Wihan help hom op en die ouens stap saam met Juan tot by die saal se deur.
“Ons mag nie ingaan nie, maar jou ma en Marli is binne,” beduie Leon sag en stoot die deur vir Juan oop.
Dit word die langste paar treë van Juan se lewe. In stadige aksie sien hy sy ma en suster wat eenkant staan, die masjiene wat nou soos spottende stukke blik rondom die bed staan…en Martin van Vrede se lewelose liggaam, toegegooi onder ‘n laken.
Juan stap nader en trek die laken van sy pa se gesig af weg. Sy oë is reeds toe en dit lyk of hy slaap.
“Was julle hier toe…” probeer hy krakerig. Marli knik en stap nader.
“Ja, ons het jou probeer bel, maar jou foon was af en…”
Juan slaan sy vuiste oor sy oë en krimp ineen, maar Marli dwing hom om weer regop te kom.
“Boeta…hy het vir ons gesê hy is jammer. Hy het gesê…dat hy nie vir jou kwaad is nie. Dat hy eintlik só trots op jou is en dat ons vir jou moet sê…hy’s lief vir jou.”
Juan sit sy arms om sy suster se lyf en hulle hou mekaar vas.
“Regtig?” fluister hy oor haar skouer.
“Ja, regtig! Ag, Boeta, hy het so seer gehad, ‘n mens kon sien. Dis beter dat hy…dat hy weg is.”
Selma stap nader aan haar kinders en druk hulle teen haar vas.
“Alles gaan okay wees,” kry sy dit uit.
Miskien is sy reg, dink Juan. Miskien is sy reg.

*****

“Shit, dis bad,” breek Sibu die stilte waar hy, Rufus en Wihan saam met Leon onder in die hospitaal se wagarea sit. “You think he’s gonna play?”
“Wát?” vra Rufus, wie se gedagtes glad nie by die volgende dag se wedstryd was nie. “Jy kan dit mos nie van hom verwag nie, ou, is jy mal?”
“Ons sal reël, dan jol ons dit net later, ons is mos albei spanne hier op die dorp,” sê Leon.
“But what about the week? Are they just gonna end it?”
“Nee, Sibu, hulle sal seker net die uitspeel vir derde en vierde plek die hoofgame maak,” grom Rufus terug.
“Hey! Almal van julle! Hou net op met nonsens praat,” praat Wihan skielik hard. “Ek ken vir Juan. Hy sal speel. Hy sal die span nie in die steek laat nie. Hy sal dit as ‘n klap in die gesig beskou as ons die game ter wille van hom uitstel. Dit sal beteken dat ons óók nie dink dat hy die guts het wat dit vat nie. Nee, ek ken hom: hy sal wíl speel en ons kan nie namens hom besluit en die game uitstel nie.”

*****

Juan se vriende keer daardie aand sonder hom terug koshuis toe. By die koshuis loop Wihan, Rufus en Sibu vir mnr. Venter en Jonathan tegemoet. Die nuus het hulle reeds bereik.
“Die wedstryd gaan voort, manne,” sê mnr. Venter. “Sonder Juan.”
“Het Meneer met hom gepraat?” vra Wihan.
“Nee, maar hy kan nie speel in so ‘n emosionele toestand nie. Dit is klaar nie goed vir die span se gees nie. As ons môre wil wen, het ons nie sy negatiewe invloed nodig nie, hoe hartseer dit ookal is. Ons kan nie hierdie kans om te wen deur ons vingers laat glip nie.”
“Ag come on!” Wihan gooi sy selfoon op die vloer dat dit aan flenters spat. “Gaan alles vir Meneer en die hele verdomde dorp net oor wen, wen, wen? Wat van die spelers? Wat van ons as ‘n span? Wat van die ouens wat met hulle bloed en sweet op die veld met elke wedstryd álles gee en net nóg pressure daarna kry? En hoe kan Meneer vir hom besluit of hy kan speel of nie as Meneer nog nie eens met hom gepráát het nie? Meneer weet mos nie hoe hy voel nie! Meneer kan mos nie net…”
“Kry jouself onder beheer!” skree mnr. Venter en ruk vir Wihan aan sy skouers. “Ek het klaar gepraat. Ek stel voor jy gaan vat ‘n stort en kalmeer sonder om verder iets te sê waaroor jy spyt gaan wees en voordat ek besluit om jou onderkapteinskap van jou af weg te vat.”
Die ander ouens staan tjoepstil die toneel en aanskou. Wihan blaas nog soos ‘n beseerde buffelbul, maar hy bly stil.
“Jonathan, sorg dat hy rustig raak,” sê mnr. Venter en stap met kort, driftige treë weg.
“Kom, Wihan. Chill, ou,” sê Jonathan en neem hom buitentoe. Sibu het intussen die koshuis binnegesluip, maar Rufus stap saam en hulle gaan sit by die sementtafeltjie.
Wihan is nog steeds boos.
“Wat de hel? Hoe kan Venter sommer net so besluit wat hy dink goed sal wees vir Juan?”
“Venter probeer ook maar net die beste keuse vir die span maak, Wihan. Onthou, as ons wen, is dit ons wat goed doen, maar as ons verloor, sê almal dis sy skuld. Hy is ook onder druk.”
“Dit bly flippen onregverdig,” brom Wihan. “Hoekom kan ons nie net speel en dit goed doen, na die beste van ons vermoë, en dit net geniet en wen as ons die beste is nie? Hoekom moet daar altyd een of ander asshole wees wat kyk waar hy iets daaruit kan maak?”
“Want soms suck die lewe net,” sê Rufus. “Partykeer, nee, meeste van die tyd is dit die dinge wat heeltemal buite ons beheer is wat ons die ergste afpis. Dan moet iemand die punch vat. As ons ten minste net vir mekaar die shots vat, die kere wat ons dit actually kán doen, dan help dit al klaar.”
“Wow. Hy’s reg, weet jy,” stem Jonathan saam.
Wihan sug gefrustreerd.
“Julle weet, partykeer dink ek die Here is verantwoordelik vir alles en dat Hy al die toutjies trek en dat dit Sy skuld is dat Juan se pa dood is, maar ek weet tog dit is nie waar nie. Ons kan nie vir God verantwoordelik hou vir ons eie dom besluite nie en glo my, ek het hierdie Rugbyweek al ‘n hele paar gemaak. Dis goed om te weet ek kan jammer sê daaroor.”
“Is dit nie juis die punt nie?” vra Jonathan. “Dat ons juis toegelaat word om ons eie keuses te maak, ons eie foute te kan agterkom en dan dit te face wat na ons kant toe kom nie? En dat ons, ten spyte van watter dom ding ons ookal aangevang het, deur Jesus se genade nog ‘n kans kry nie? Dat ons juis mekaar in die proses kan, of eerder moet, ondersteun nie?”
Wihan vee moegerig met sy hande oor sy gesig.
“Ek hoop so. Ek hoop genuine so.”

*****

Leon lê in die donker en staar na die dak. Die afgelope paar dae se gebeure rondom Marli en haar pa en die ongeluk het sy voete ‘n bietjie meer onder hom uitgeslaan as wat hy gedink het. Hoewel hulle nog nie amptelik saam is nie, het hulle in ‘n baie kort tyd baie close geraak.
Hy wonder hoe hy sou opgetree het as hy in daardie posisie was? Toe hy daar saam met Juan op die grond gesit het, kon hy die ou se stukkendheid aanvoel. Om nie vir jou pa te kon groet voor hy dood is, en veral só dood is nie, moet ongelooflik sleg wees.
Die volgende dag se game kom by hom op. Hoe gaan ek soos gewoonlik alles kan insit? Hoe gaan ek vir Juan kan tackle? Leon spring op. Hy kan nie in die wedstryd speel nie. Hy gaan nou na Juan toe gaan en dit vir hom sê en môre sal hy vir die coach laat weet.
Leon pluk sy rugby-sweetpaktop aan. Hulle span het nie saam in ’n koshuis ingetrek nie en hy sluip by hulle huis uit. Die nag is al koud, maar hy draf homself warm na Juan-hulle se huis toe.
Hoewel hy ‘n oomblik huiwer, lui Leon tog die voordeurklokkie. Hy kan sien dat Juan se kamerlig nog brand en na ‘n paar dowwe voetslae gaan die deur oop.
“Leon? Hey, ou, wil jy inkom?” nooi Juan hom moeg in, maar Leon keer.
“Ek het net kom sê ek gaan nie in môre se game speel nie. Ek…ou…ek gaan net te sleg voel as ek jou moet tackle en…”
Juan val hom met ‘n handgebaar in die rede.
“Moet nou nie jouself simpel hou nie, Leon. Ek weet mos hoe dit is, man! Flip, ou, as jy nie môre alles gaan gee wanneer jy teen ons speel nie, kom skop ek persoonlik jou gat. Dis nou as ek speel. Ek hoor by Wihan en Rufus ek is gedrop vir môre se game. Venter het my nie eens self gesê nie. Maar sy moer. Ek wíl môre speel en ek gáán môre speel. Selfs al moet ek die ou in my plek met ‘n bloedbesering van die veld af kry.”
Leon staar hom sprakeloos aan.
“Jy’t klaar besluit, nè?”
“Jip. So, doen my ‘n guns en probéér my môre tackle!”
Leon slaan sy arms om Juan sy lyf en druk hom teen hom vas.
“Ou, ek weet nie waar jy die krag vandaan kry nie, maar ek is daar vir jou wanneer jou batterye pap raak, oraait?”
Juan glimlag moeg.
“Ek weet, tjomma.”

*****

Nadat Leon daar weg is, sleepvoet Juan kombuis toe om vir homself ‘n glas warm melk te gaan maak. Alles was net crazy van vroeër die aand af. Toe hulle uiteindelik by sy pa weg is, was daar nog die heeltyd mense rondom hulle. Hy het nog nie kans gekry om regtig te dink oor als wat gebeur het nie. Hy moes nog net sterk bly. Sy ma was nie veel werd nie en Marli het vroeg al na haar kamer toe verdwyn. Hy kon in die hospitaal al sien sy gaan haarself vinnig onttrek.
Juan teug aan die warm melk. Hyself het eers ‘n ander draai gaan loop voordat hulle by die hospitaal weg is. Dis half asof sy voete hom outomaties na Rozaan se kamer toe geneem het. Sy het regopper in die bed gesit toe hy daar aankom.
“Hy’s dood,” is al wat hy kon uitkry nadat hy op die houtbankie by haar bed gaan sit het.
“Ek is jammer om dit te hoor,” het Rozaan gesê en dit werklik bedoel. Juan het haar hand gevat en sy het dit nie teruggetrek nie.
“Ek gaan weg, Juan,” het dit ná ‘n rukkie amper soos ‘n fluistering uitgekom. “Ek gaan by my tannie-hulle in Bloemfontein bly. My pa-hulle wil hê ek moet wegkom van alles hierso en ek stem saam. Hulle praat in anyway al ‘n ruk lank van trek en oor ‘n paar maande sal hulle ook soontoe kom.”
“Wanneer gaan jy?”
“Môre al.”
Juan het was effens geskok.
“So gou?”
“Ja. Dis nogal snaaks, maar dis half cool want hulle kom my met ‘n helikopter haal van Bloemfontein af.”
Juan het saggies op sy lip gebyt.
“Gaan jy fine wees?”
“Ek dink so, Juan. Ek wil my lewe hierdie keer van die begin af reg lewe en ek gaan dit nie hier in Bergkruin regkry nie. En, Juan…ek gaan nie kontak hou nie. Ek gaan ‘n ander selfoonnommer kry en ek gaan jou naam erase…”
“Maar hoekom?” het hy haar in die rede geval, maar sy het hom stil gemaak.
“Want dis beter so. Ek weet ons het nie net slegte tye gehad nie en ek wil jou graag onthou soos wat jy vanaand hier gaan uitstap. Dis nie dat ek vir jou kwaad is of jou wil afskryf nie, dis net…jy is deel van die hoofstuk wat ek môre oggend hier afsluit. Probeer verstaan?”
Juan het sy nat oë stil-stil met sy hande afgevee.
“Die plek gaan suck sonder jou, weet jy dit? Maar, as dit is wat jy moet doen, is dit goed so. Wie weet, miskien loop ons mekaar eendag tog weer raak.”
“Ek twyfel oor die ‘loop’,” het sy saggies gespot en met haar oë na haar bene beduie. Juan het ook saggies gelag en opgestaan.
“Totsiens, Rozaan. Ek hoop…ek bid regtig net die beste vir jou op die pad vorentoe.”
Sy het vir oulaas sy hand gedruk. Juan het opgestaan en stil uitgestap.
“Totsiens, Juan van Vrede. Mag jy die man word wat jou van sê jy is,” het Rozaan saggies geprewel toe hy om die draai vedwyn.

*****

Nog nooit sedert die ontstaan van die Rugbyweek 21 jaar vantevore het dit gebeur dat Bergkruin se twee hoërskole teen mekaar in die finaal speel nie. Daarom kom die hele dorp op hierdie dag tot stilstand. Besighede maak vroeër toe, die strate is leër as gewoonlik en die parkering by Hoërskool Bergkruin is tot die laaste sentimetertjie toe stampvol. Die motors wat nie binnekant kon parkeer nie, staan in lang rye in die strate wat die skool omring en die mense stroom na die sportstadion toe. Die kosverkope skiet die hoogte in en die stalletjies moet uithaal en wys om voor te bly.
Die uitspeelwedstryd om 3e en 4e plek tussen Nelsdrif en Maritzburg College XV vind om 14:00 plaas en is vanselfsprekend ook ‘n verdere trekpleister. Die feit dat dié twee spanne hierdie wedstryd speel, laat menige rugbyondersteuner besef presies hoe hoog die standaard en hoe straf vanjaar se kompetisie was.
Hoërskool Ewoud Heymans se span sit aan die linkerkant van die hoofpawiljoen bymekaar, netjies geklee in hulle amptelike kleure. Dis duidelik dat die opkomende wedstryd aan die ouens se senuwees knaag, maar hulle bly so rustig as moontlik. Leon en Victor praat die manne kort-kort moed in.
Leon self kan voel hoedat sy maag draaie maak. Hy was glad nie dié dag by Marli nie en het haar net die oggend vroeg gesms, waarop sy nog nie sover geantwoord het nie. Hy weet sy is nog baie hartseer en deurmekaar. Daarom probeer hy dit wat tussen hulle aan die gang is, vir haar so gemaklik as moontlik hou. Hy sal daar wees vir haar wanneer sy hom ‘n kans gee om haar te ondersteun.
Intussen moet hy op die wedstryd fokus. Hy het die afgelope ruk so baie tyd saam met Wihan en die ander Bergkruin-manne spandeer, dat dit vir hom byna snaaks voel om teen hulle te speel. Hulle is vandag net opponente, Leon, herhaal hy oor en oor vir homself. Hulle verwag van jou om alles te gee en jy gaan dit doen, so eenvoudig soos dit.
Terwyl die Nelsdrif/Maritzburg College XV-wedstryd halftyd nader, staan Victor op en hy en Leon lei hulle span na hulle kleedkamers toe.

*****

Hoërskool Bergkruin se spelers staan en rondtrap in hulle kleedkamer. Behalwe vir die geluid van hulle tokse op die sementvloer, is dit doodstil. Die atmosfeer is byna elektries.
Hulle het vroeg die oggend begin met ‘n ontbyt by een van die ouens se huis en daarna was hulle so rustig as moontlik om hulle kragte te spaar vir die Groot Finaal wat om 15:30 plaasvind.
Nou is dit amper sulke tyd. Hier en daar bons ‘n speler ‘n rugbybal saggies teen die muur, ander strek nog vir oulaas en ander verbind hulleself om moontlike beserings te voorkom.
Rufus sit sy mondskerm in en byt dit deeglik vas. Hy kyk na Wihan, wat eenkant staan en sy bene strek. Juan skitter in sy afwesigheid en Rufus kan sien dat dit vir Wihan pla. Hy gaan staan langs hom.
“Alles gaan okay wees, Wihan.”
“Hy moes hier gewees het, Rufus. Hy moes nou opgedraf het.”
Rufus probeer glimlag.
“Ek weet, ek weet. Nou sal ons net sy plek vir hom moet volstaan.”
Wihan kry dit reg om te grynslag. Sibu gee ‘n harde snuif-snork en die manne maak ‘n kringetjie.

*****

Juan lê op sy bed. Hy was gisteraand nog so oortuig dat hy dit tog op ‘n manier vandag gaan regkry om te speel, maar vandag voel hy net…gedaan. Uitgeput. So asof al die energie wat hy die hele kwartaal plus hierdie week gebruik het, op een slag uit hom uitgesuig is. As hy dit nou op ‘n rugbyveld sou waag, sal hy ‘n nul op ‘n kontrak wees.
Daar is ‘n klop aan sy deur en hy draai op sy sy om te sien wie dit is. Dis Marli.
“Hey, Sussie.”
“Wat doen jy hier?”
Die vraag laat hom frons.
“Hoekom?”
“Is jy nie veronderstel om in die finaal teen ons skool te speel nie?”
Juan skud sy kop.
“Nope. Nie volgens ou Venter nie. Buitendien, ek voel useless moeg vandag, so…”
“Ag, suck it up!” val Marli hom skielik in die rede. “Boeta, ek gee nie om wat jou coach gesê het of hoe jy voel nie, jy gaan vandag speel! En ek gaan kyk. Ja, ons gesin is deur ‘n tragedie getref, dis waar, maar ek kan nie langer net so sit en mope nie. Ek het in die hospitaal al my vrede met Pa gemaak en ek gaan nie toelaat dat hy selfs ná sy dood nog steeds my lewe regeer nie. Dis mý lewe en ék vat verantwoordelikheid daarvoor. Al die mense wat die heeltyd hier is, maak my mal en ek wil in anyway gaan kyk hoe tackle Leon die rook uit julle uit.”
Juan sit nou al regop.
“Jy het vinnig oor alles gekom.”
“Wel, ek dink nie ek het nie en hierdie is heel waarskynlik denial of iets, maar ek weet ek en jy gaan nou rugby toe! Kry jou goed, ons moet draf. Die wedstryd het seker al begin.”
“Okay, okay!” gee Juan in. Hy voel nou nogal lus om te speel. “So, jy dink Leon gaan my vandag kan tackle?”
“Ek sal geld daarop sit. Baie.”

*****
“Amen.”
Bergkruin se manne staan op van die geknielde posisie waarin hulle was en Jonathan lei hulle in die gangetjie af. Ewoud Heymans se span staan al klaar gereed. Jonathan en Victor groet mekaar en daar word geloot. Bergkruin wen die loting en Jonathan besluit om van wes na oos te begin speel. Daar waai ‘n ligte windjie, maar niks wat hom bekommerd maak nie. Die twee kapteins wens mekaar sterkte toe en keer terug na hulle spanne.
Hierdie keer dreun We Will Rock You van Queen oor die pawiljoen se luidsprekers en toe die twee spanne gelyktydig op die veld ophardloop, bars daar chaos los soos wat die ondersteuners hulle toejuig. Rufus haal diep asem toe hy sy plek in neem. Hy kyk vlugtig na Wihan, wat vir hom vasberade terug glimlag. Sibu staan en spring op en af.
Die skeidsregter blaas sy fluitjie en Wihan lui die wedstryd in met ‘n hoë afskop.

*****

Stefan kry die bal vir Ewoud Heymans. Hy breek deur vir ‘n lopie van ‘n paar treë, maar Jonathan trek hom grond toe met ‘n lae tackle. Onmiddellik is spelers van beide spanne daar en die bal kom uit na Bergkruin se kant toe. Die skrumskakel in Juan se plek is nie sleg nie, maar Wihan mis sy vriend. Hulle het al in baie spanne saamgespeel en hy is nou maar een maal gewoond aan Juan se styl.
Wihan skop die bal ver langs die lyn af en Sibu sit dit vinnig agterna. Dis ‘n harde wedstryd, nes hy verwag het, en daar was nog nie veel geleentheid vir punte aanteken nie. Op die oomblik staan die telling op 3-3 Die wedstryd kan nog enige kant toe gaan.
Rufus is by Sibu net toe hy die bal vasmaak. Sibu gee die bal vir hom uit en 5 meter van die doellyn af is daar min dinge wat vir Rufus Lambert gaan keer. Met twee ouens wat aan hom vasklou, beur hy in die hoekie oor vir die eerste drie van die wedstryd.
Wihan se skop is net-net links verby, maar hulle draf terug met ‘n titseltjie van ‘n sielkundige voorsprong. Die telling is 8-3 vir Bergkruin.
Van agter die pale slaak Leon ‘n sug van verligting toe die skop mis is. As hulle nou ‘n doel aanteken, loop hulle voor. Hy kan sien Wihan is ‘n bietjie gerattle, maar Rufus is die eintlike probleem. Die mense het die waarheid gepraat toe hulle gesê het hy is die beste flank in skolerugby. Die ou is ‘n freakin’ masjien! Hy is orals, soos ‘n wintermuskiet, besig om werk te soek of om sy opponente se spelpatroon te spoil.
Ewoud Heymans skop weer af.

*****

Juan en Marli draf ligvoets teen ‘n stywe pas na die rugbystadion toe. Dis al 15:45 en Juan weet dat die spanne mekaar teen dié tyd al mooi opgemeet het. Hy kan nie glo hulle speel actually in die finaal teen Ewoud Heymans nie! Dis soos ‘n eerste Derby en behoort ‘n goeie aanduiding te wees van wat verwag kan word wanneer die ligawedstryd plaasvind. Hy kan ook nie dink dat hy dit amper gemis het nie.
“Kom!” beveel Marli en hulle draf nog vinniger.

*****

Frans stamp vir Sibu af en hardloop om hom om die drie onder die pale te gaan druk.
“Dammit!” vloek Sibu.
“Toemaar, ons maak nou reg,” help Rufus hom op. Die wedstryd raak net strawwer by die minuut. Nadat Bergkruin gedruk het, het beide spanne elk nog ‘n strafskop oorgesit. Die halftydfluitjie behoort net ná die doelskop te blaas.
Ewoud Heymans se heelagter sit die skop oor en die sirene gaan af om halftyd aan te kondig. Met die telling nou op 11-13 in Ewoud Heymans se guns stap die spanne moeg van die veld af.

*****

Juan en Marli kom by die stadion se hoofhek aan. Vir ‘n oomblik aarsel Juan om in te gaan.
“Toe toe! Waarvoor wag jy?” vra Marli.
“Ek weet nie, Sussie, ek…” kom dit twyfelend, maar Marli stoot hom in die rigting van die kleedkamers.
“Kyk na die scoreboard! Jy beter opgaan as julle nog wil wen!”

*****

“Ons kan nie soft tries bekostig nie!”
Jonathan is rasend. Mnr. Venter het hom net by die veld gekry en vir hom gesê hy los die span in sy hande, hy sal hulle ná die tyd sien. Nou moet Jonathan die manne motiveer en homself ook nog positief hou.
“Ouens, onthou wat ons aan die begin van die week gesê het: ons wíl wen. Ons wíl hierdie week vir ons vat! Ons ís die kampioene, ons ís die wenners van hierdie Rugbyweek! Besef dit net en speel dan soos ouens wat dit weet. Ek is nie bereid om dit weg te gooi na al ons harde werk nie. Flip, manne! Ons het deur soveel gekom hierdie week. Ons kan nie nou, na alles, hierdie beker deur ons vingers laat glip nie. As ons dit doen, laat ons onsself en vir Juan in die steek.”
Hy sien nie hoedat Juan agter hom ingestap kom nie.
“Toemaar, ek is hier. Wat sukkel julle so? Dis Ewoud Heymans! Daar’s nie ‘n manier dat hulle ons gaan wen nie!”
Wihan se oë rek.
“Tjomma!” roep hy opgewonde. Al die spelers bondel om Juan saam. Jonathan kan ook nie sy verbasing wegsteek nie, maar bly in beheer van die situasie.
“Welkom, Juan. Is jy reg om op te gaan?”
Juan knik.
“Jip. Honderd persent.”
Rufus se gesig straal. Sy hart klop vinniger as in enige ander wedstryd waarin hy al gespeel het. Hy weet sommer hierdie helfte gaan anders wees.
Jonathan trek die ouens vas.
“Dis nou of nooit, manne. This is what it all comes down to. Trek vas! Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“Yes!”
“Bergies…”
“YES!”

*****

Die tweede helfte skop teen ‘n tempo af wat skrik vir niks. Dis asof Bergkruin sowel as Ewoud Heymans se spelers nuwe energie gekry het. Toe die skare sien dat Juan op die veld is, gaan hulle heeltemal mal.
“Juan! Juan! Juan!” hoor hy en Juan kry ‘n vasberade trek op sy gesig. Vandag sal hy sorg dat hulle wen, al moet hy ook alleen dwarsdeur die hele Ewoud Heymans-span hardloop.
Dis ook nie lank nie, of Frans slaan die bal op hulle eie kwartlyn aan en Wihan kry ‘n relatief maklike skopkans pale toe. Hy lê aan en lek met sy tong heen en weer oor sy lippe voordat hy lostrek met ‘n sierskop.
14-13.
“Ons moet gaan score!” roep Jonathan vir Juan en hy knik vir sy kaptein. Hulle moet soveel afstand moontlik tussen hulle en Leon-hulle kry.
Leon kan sien dat daar iets anders aan sy vriende se span is. Rufus is nou éérs bedrywig. As Bergkruin nie vandag wen nie, weet hy wraggies nie.
Die afskop is hoog en Jonathan vang dit pragtig raak en begin dryf. Rufus en die res van die voorspelers is by hom, terwyl Juan net wag dat die bal uitkom.
Omtrent op Ewoud Heymans se 10m stippellyn kom die bal uiteindelik uit en Juan kry dit in die hande.
Nou, dink hy. Hy skop ‘n chip-skoppie reg bo-oor Ewoud Heymans se onverhoeds betrapte voorspelers en sit dit blitsig agterna. Hy raap die bal rakelings voor Leon se neus op. Leon duik vir sy bene, maar Juan stamp hom teen die skouer af sodat hy net gras vreet en duik onder die pale oor vir ‘n prag van ‘n drie.
Sy span en die skare is rasend van vreugde.
Leon staan half verdwaas op.
“Gedink jy gaan my vang?” vra Juan met ‘n skelm glimlag toe hy verby sy vriend terugdraf na sy eie span toe.
Leon skud net sy kop in ongeloof. Dis nie asof hy teruggehou het of iets nie! Juan moes daardie drie regtig wóú gehad het.
Wihan klits die skop gemaklik oor.
21-13.
Agter die pale roep Victor Swart sy span bymekaar.
“Moenie laat hulle ons nou ore aansit nie, manne!”
Leon luister skaars na wat sy kaptein sê. Flip, as hulle nie die beste span is nie, is dit nou maar een van daardie dinge, maar hy gaan nie toelaat dat Bergkruin sommer net so oor hulle begin hardloop nie. Juan het tog gesê dis reg dat hy alles gee. Dalk het hy nog nie álles gegee nie…
Die spel verloor geensins tempo toe Ewoud Heymans weer afskop nie. Inteendeel. Victor en Stefan betrap die Bergkruin-voorspelers onkant toe hulle die bal vang. Soos honger leeus op hulle prooi sak die Ewoud Heymans-spelers op die bal toe. Die bal kom nie uit nie en die skeidsregter ken ‘n skrum aan hulle toe.
“Crouch…touch… pause…engage!”
Die skrum val nog voordat die bal ingesit kan word. Weer maak hulle reg om te skrum, maar nog ‘n keer val die skrum plat. Die skeidsregter hardloop om en gaan staan aan die ander kant van die skrum.
“Crouch…touch… pause…engage!”
Die skrum val nogmaals en die skeidsregter ken ‘n strafskop aan Ewoud Heymans toe. Die heelagter beduie dat hy pale toe gaan skop en die Bergkruiners val terug tot onder die pale.
“Pasop vir nalatige foute, manne,” sê Jonathan vir sy span. “Fokus net op wat ons moet doen.”
Die skop is oor en die telbord skuif aan.
21-16.
Wihan skop af en Bergkruin val met mening aan. Hulle dryf en maal en hou die besit en frustreer hulle opponente grensloos. Ewoud Heymans se verdediging is egter rotsvas en Leon tackle asof sy lewe daarvan afhang.
Die minute tik verby op die stadion se horlosie en met 4 minute wat oorbly kry Bergkruin ‘n lynstaan op Ewoud Heymans se 5 meter stippellyn. Jonathan gooi die bal netjies in en Bergkruin se voorspelers beheer dit perfek. Die bal kom blitsig uit na Juan toe en hy gee dit uit na Wihan – en asof uit die niet verskyn Leon en onderskep die bal. Hy lê rieme neer vir die oorkantste doellyn, systap Bergkruin se heelagter en gaan druk die bal onder die pale.
Die ondersteuners se lawaai verdryf alle ander geluide en Bergkruin kan maar net toekyk hoedat Ewoud Heymans ná die oorskop die wedstryd so te sê beklink.
21-23.
“Laaste afskop,” kondig die skeidsregter aan toe Wihan die bal vat.
Wihan kyk vinnig oor sy skouer na sy span en dan op in die lug.
Wat ookal die telling – ons is helde.. Aan U alleen die eer.
Hy skop vir oulaas af. Die bal trek laag en ver en hy sit dit haastig agterna. Rufus is daar die oomblik toe die bal grond vat. Hy tel die bal op, gee dit uit na Juan wat kort op sy hakke was. Juan kyk oor sy regterskouer en sien hoedat Wihan nader kom. Vinnig gee hy die bal na hom toe uit. In een beweging vang Wihan die bal en tref met ‘n skepskop pale toe.
Dit voel vir Rufus asof tyd doodstil gaan staan. In stadige aksie sien hy vir Juan wat sy asem ophou en Wihan wat die bal stip agterna kyk.
Die bal trek hoog, maar sekuur, deur die middel van die pale.
Op dieselfde oomblik gaan die stadion se sirene af.
Die skeidsregter blaas die eindfluitjie.
24-23.
“Jaaa!” gil Rufus dit uit. Wihan se hart klop teen ‘n duiseligwekkende spoed.
“Dankie, dankie, dankie, dankie, dankie…” is al wat hy stamelend uitkry.
“Ons het gewen!” juig Juan en hy hardloop na sy vriende toe. Wihan het op sy knieë neergesak en die res van hulle span sluit haastig by hom aan. Toe hulle klaar dankie gesê het, spring hulle jubelend op. Die beker is hulle s’n!
‘n Teleurgestelde Ewoud Heymans-span staan afgehaal nader. Die twee spanne vorm rye en bedank mekaar vir die wedstryd. Juan trek sy trui uit en hou dit na Leon toe uit.
“Nice drie, tjom. Ek’s bly jy het alles ingesit.”
Leon trek ook sy trui uit en gee dit vir Juan.
“Dit is vir my ‘n eer,” sê hy toe hy Juan se trui vat en sy stem breek. “Baie geluk. Julle verdien dit.”
Bergkruin se span tel vir Rufus, Wihan, Jonathan en Juan op en dra hulle op hulle skouers terwyl hulle stadig die oorwinningsronde rondom die veld doen. Die skare gee hulle ‘n staande applous. Rufus kan nie ophou glimlag nie. Hy kan nie dink dat hy al ooit in sy lewe so gelukkig gevoel het nie.
Leon en die ander Ewoud Heymans-spelers stap stokflou terug na hulle kleedkamer toe. Dit was darem só amper! dink hy.
Hy voel byna nie eens die tik op sy skouer nie.
“Leon Steyn?” vra die man.
“Ja?” Leon kyk effens verbaas na die man in die netjiese pak klere wat ‘n visitekaartjie na hom toe uithou.
“Ek hoop ek sien jou by die Craven Week-proewe. Gee my ‘n lui wanneer jy ‘n kans kry,” sê die man.
Leon bekyk die kaartjie fronsend. Gysie Basson Sportpromotions. Vinnig kyk hy op om vir die man dankie te sê, maar hy het tussen die malende toeskouers verdwyn.
Leon se oë dwaal weer na die kaartjie. Dis amper beter as ‘n Rugbyweek-beker! Sy eie sportpromotor! Wow! Hy verkas haastig na die kleedkamer toe om by sy span aan te sluit, maar sy hart klop warm. Ten spyte daarvan dat hulle sopas verloor het, glimlag Leon van oor tot oor. Lyk my al my harde werk was toe tog nie verniet nie…
Aan die einde van die oorwinnigsronde bondel die Bergkruiners vir oulaas saam. Wihan hang ‘n bietjie aan die agterkant terug. Daar is nog iets wat hy vir mnr. Venter wil vra.
“Meneer, kan ons gou praat?”
Die afrigter stap gou ‘n paar treë weg van die ander saam met hom.
“Ja, Wihan?”
“Meneer, daar is iets wat ek by Meneer moet weet voor hierdie week verby is…” begin hy huiwerig.
“Wat wil jy weet, Wihan?” vra mnr. Venter.
“Ek…hoekom het Meneer my onder-kaptein vir die Rugbyweek gemaak?”
Mnr. Venter kyk hom betekenisvol aan.
“Wat is die eerste ding wat jy gedoen het nadat die eindfluitjie geblaas het, Wihan?”
“Ek het gekniel om te bid en die ander ouens het gejoin,” antwoord hy.
“Nou maar daar is jou antwoord,” sê mnr. Venter. “Ek het geweet jy sal op ‘n geestelike vlak die ouens baie beter kan saamsnoer as enigiemand anders sonder om dit geforseerd te maak. Die ouens volg jou omdat hulle soos jy wil wees, Wihan. Jonathan is ‘n uitstekende leier, maar iemand moet by hom oorneem na vanjaar. Ek het agtergekom dat die ouens by jou iets sien wat nie almal van hulle het nie.”
“Wat’s dit, Meneer?”
“Geloof, Wihan. In jouself, jou span, jou vriende en in God. Dis hoekom ek jou gekies het.”
Wihan bloos.
“Ek het nooit só daaroor gedink nie! Dankie, Meneer, vir Meneer se vertroue in my.”
Mnr. Venter glimlag, draai om en loop terug na die res van die span toe. Wihan kyk hom stip agterna. Ek het nog baie om te leer, dink hy.
Voor hy egter verder oor mnr. Venter se woorde kan wonder, duik Sibu hom van die kant af onderstebo.
“We are the champions!” bulder hy dit bly uit.
Net voordat hulle die kleedkamers binnestap, trek Rufus vir Juan aan sy skouer terug.
“Juan…ek wil net vir jou sê jy is freakin’ awesome, my vriend. Jy is my hero, buddy.”
Juan bloos.
“Thanks, Rufus. Ons sal maar vir mekaar die punches vat, nè?”
Rufus slaan sy arms om sy vriend se lyf.
“Jy weet dit!”
Kort daarna vind die prysuitdeling plaas. Rufus word aangewys as die Speler van die Wedstryd en ook Speler van die Week. Jonathan staan op toe hulle naam aangekondig word en gaan neem die Rugyweek-trofee in ontvangs. Die toejuiging wat hulle ontvang toe hy die trofee saam met sy span omhoog hou, laat hulle gesigte en harte van trots gloei.

*****

Lank ná al die foto’s geneem is, al die sjampanje-proppe geskiet is en die feesvieringe by die skool se Sportkiosk tot ‘n einde gekom het, sit Juan, Wihan, Sibu, Rufus, Leon en Marli op die wal van die sportstadion en kyk na die leë veld, wat nog steeds deur die helder spreiligte verlig word.
“Het julle gehoor?” vra Marli waar sy teen Leon se bene sit.
“Wat?”
“Ma en Rufus se ma gaan ‘n skoonheidsalon oopmaak nadat sy die garage verkoop het.”
“Genuine?” vra Juan.
“Jip. Ek het dit al vanoggend by haar gehoor. Dis seker die eerste sane ding wat sy sê of doen vandat Pa met sy…streke begin het. Sy en jou ma ken mekaar blykbaar van een of ander kursus af, Rufus.”
“Ek het dit glad nie geweet nie,” antwoord hy. “Wel, dis goed. Sy weet nogal wat sy doen in ‘n salon.”
“Speaking of which,” sê Wihan, “as my oë nie tricks op my trek nie, het sy en Leon se pa al te lekker met mekaar gekuier vanaand…”
“Ag, jy speel!” sê Leon, maar hy kyk tog hoopvol in die rigting van die Sportkiosk. Rufus lag.
“Imagine hulle kom saam en trou en alles…dan is julle familie!” glimlag Marli vir Leon, wat haar stilmaak.
“Sjoesj!” sê hy en voor hy nog daaroor dink, soen hy haar net daar.
“O, hier kom ‘n ding,” raak Wihan droogweg kwyt. Juan en Rufus bars uit van die lag.
“Ek watch julle!” waarsku Juan gemaak-ernstig.
Dit word stil tussen die groepie kinders soos wat elkeen met sy of haar eie gedagtes besig raak.
“Binnekort is dit back to reality,” breek Leon die stilte.
“Jip,” antwoord Rufus. “Alles terug na normaal, alles weer dieselfde.”
“Niks sal ooit weer dieselfde wees nie,” sê Wihan.
Juan knik.
“Daarvan kan jy seker wees.”
Hulle staan op en saam-saam stap die tieners by die sportstadion se hek uit.
Die stadion se spreiligte doof uit.

*****

DIE EINDE

*****

  1. nadinesmit
    August 16, 2008 at 8:45 pm

    Wow!!! Daar is nie regtig ander woorde daarvoor nie! Ek het nie geweet jy skryf nie… Vir wat dit werd is, jy’s excellent!! My skoon aan die huil gehad!!

    Well done!

  2. ami fouche
    December 10, 2009 at 10:02 pm

    dis ‘n fantastiese storie! waneer kom dit in boekvorm uit?

  3. February 6, 2010 at 1:33 pm

    Het die updated weergawe opgelaai, soos hy is nadat ‘n vriendin hom ge-edit het…as julle weet van ‘n uitgewer wat belangstel, comment!

  4. Nadia
    February 25, 2012 at 11:17 pm

    Dit is fantasties!!! Sal flippen awsome wees as daar so storie gemaak word. Ek dink dit sal cool wees… Die lewe is nie altyd van die beste nie… Maar somehow cope jy tog met alles en somehow is die Here tog altyd daar al wil jy moet verloor… Ek dink ek het heavy baie weer geleer uit die storie uit. Thanx bra! Jy is n held vir ander mense* God bless!!!

  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: