Rugbyskoolstorie (3e deel…)

Hier is die volgende deel solank. Daar is nog gelukkig een deel wat ek reeds voor Kersfees geskryf het, sal hom in die volgende paar dae post, maar ek trek hierdie week op Pretoria toe so moenie oorhaastig wees nie. Lees bietjie solank al drie dele saam en comment asseblief op die karakters, storielyn, moontlike temas, ens.

Leon Steyn-hulle se huis is wat jy sou beskryf as “bedees”. Dis ‘n redelike kleinerige drieslaapkamer-huis in ‘n ietwat verwaarloosde deel van ‘n middelklas woonbuurt op die dorp. Tog is die erf netjies, die gras is altyd kort gesny (een van Leon se pligte) en die tuin, hoewel nie uitspattig nie, is goed versorg. Tuinmaak is een van die dinge wat Leon by sy ma geërf het.
Aandete in die Steyn-huishouding is ‘n gesinsaktiwiteit. Daar word van jou verwag om teen sesuur die aand by die huis te wees en onder geen omstandighede mis jy die ete nie. Dit is nie noodwendig ‘n groot ete nie; meer dikwels as nie is die kos eintlik aan die min kant. Vir Fanie Steyn is dit egter nie ‘n verskoning om nie die ete by te woon nie.
Vanaand se maaltyd bestaan uit snye brood en warm baked beans. Leon kom sit aan op sy plek aan sy pa se regterkant. Die atmosfeer is nie besonders gesellig nie, maar dis normaal vir hulle gesin. Veral die laaste tyd verkies Leon in elk geval eerder ‘n stil aandete as die geskree en gegil wat hulle die afgelope paar maande moes verduur. Hel, afgelope paar jaar! Elke aandete was ‘n bron van spanning want niemand het geweet of hulle die ete gaan deursit sonder dat iemand in trane of met ‘n gevloek van die tafel af opstaan nie. Leon het homself so min as moontlik, wat baie meer was as wat hy graag sou wou hê, deel gemaak van die bekgevegte wat om die tafel gewoed het. Hy is die een wat sy jonger boetie en sussie, ‘n tweeling, ná die tyd in hul kamer moes gaan troos. Dikwels het hy ook in die nag wakker geword met ‘n klein lyfie wat soekend styf teenaan sy rug inkruip.
Toe Leon nog klein was, lank voor die geboorte van die tweeling, het sy ouers nog baie gelag en dikwels vriende gehad wat kom kuier het. Dan het die grootmense tot laat in die nag gekuier. Soms het hulle baie hard begin lawaai en dit het Leon wakker gemaak. Hy sou dan stilletjies in die gang afsluip en gaan loer hoekom hulle so baie lag. Hy het gesien hoe sy ma partykeer ander ooms soen of op hulle skote sit, terwyl sy pa op die groot ronde rottangstoel gelê het saam met ‘n ander tannie.
Later van tyd het die mense al hoe minder kom kuier, nadat Leon een aand sy pa en ma vreeslik hoor baklei het.
“Hoe kón jy?” het sy pa se stem vanuit die hoofslaapkamer gedreun. “Met hóm, van alle mense?”
“Ag, Fanie, wat is tog die verskil? Een man, nog ‘n man, wat maak dit nou eintlik saak? Ons is almal grootmense, ons weet almal wat die implikasies is!”
“Dis nie die punt nie, bitch! Jy kon vir hom nee gesê het! Jy weet hoe ek oor die man voel. Sou dit nou so erg gewees het?”
“Ag, shut-up, jou dik gat! Ten minste het hy nie ‘n maag soos ‘n pap meelsak en…”
Leon het sy kop onder sy kussing ingedruk en die res van hulle geveg uitgedoof. Hy het heeltyd saggies gebid, sodat sy ma-hulle hom nie moes hoor nie, dat Liewe Jesus hom asseblief tog moes kom haal want hy wou nie langer daar bly nie.
Maar Liewe Jesus het hom nooit kom haal nie en dit was maar eintlik net die begin en kort na daardie aand het sy pa by Martin Motors begin werk.
Daarna was daar kort-kort stories wat by die skool rondgeloop het van sy ma wat by ‘n funksie met ‘n ander man sou flirt, en daar was die snaakse sms’e wat sy ma gekry het van nommers wat nie name bygehad het nie. Hy het eendag, baie verveeld, deur sy ma se boodskappe gelees en kon nie verstaan wie al die soentjies en drukkies stuur nie. Hy het gedink sy pa het ‘n nuwe nommer gekry, maar toe hy sy ma daarna uitvra, het sy die foon by hom gegryp en hom verbied om dit ooit weer te doen.
Leon was een keer siek in die bed met mangelontsteking en toe het daar ‘n loodgieter na hulle huis toe gekom. Hy het geweet dit was ‘n loodgieter, want die ou het sy wrench in die gang voor sy ma-hulle se slaapkamer vergeet. Leon was oppad badkamer toe toe hy dit daar sien lê het en gesien het die kamerdeur is toe. Hy het die wrench gevat en orals buite waar daar pype was, na die loodgieter gesoek, maar hy kon hom nêrens kry nie. Hy het ook gewonder hoekom die wrench, wat net so groot soos sy pa s’n is, so lig was – amper asof dit nie ‘n regte wrench was nie. Hy het besluit om die wrench eerder in sy kamer weg te steek as om sy pa daarvan te vertel.
Hoe ouer Leon geword het, hoe beter het hy besef wat aangaan. Tog het hy niks gedoen om dit te keer nie. Sy ma was skielik, na jare as sekretaresse by ‘n prokureursfirma, ‘n huisvrou en Leon het in die stilligheid geweet hoekom. Hy het dit egter geïgnoreer en eintlik homself probeer oortuig dat dit nie gebeur nie. Toe dit nie werk nie, het hy probeer om homself wys te maak dat, as hy nie weet van al die mans nie omdat dit gewoonlik maar in skooltyd gebeur, dit hom nie regtig sou affekteer nie.
Toe, in graad 7, het dinge tussen sy pa en sy ma skielik beter geword. Hulle het die een dag ná kerk teruggekom by die huis en sy ouers is reguit na hul slaapkamer toe. Hy het by die deur gaan staan en afluister en hy kon hoor hoedat sy ma bitterlik huil en hoedat sy pa haar troos. Hulle het na ‘n lang ruk die deur oopgemaak en hom daar gevang met sy skuldige gesiggie. Sy ma het hom net teen haar vasgedruk, ‘n soentjie op sy kop gegee en die tafel vir middagete gaan dek.
Vir ‘n tyd lank het sy weer begin werk en Leon was bly, want nou het hy geweet al die dinge was uiteindelik verby en hy was verlig die dit nie meer vir hom nodig was om met hierdie verskriklike geheim saam te leef nie.
‘n Paar weke later het hulle gehoor sy ma is swanger en toe hulle uitvind dat dit ‘n tweeling is, het sy ma weer besluit om op te hou werk. Aanvanklik was Leon nie bekommerd nie, maar eendag het hy siek geword by die skool en vroeg gaan uitteken om huis toe te gaan. Hy was nog ver van die huis af in die straat toe hy die bakkie herken het wat voor hul huis gestaan het. Dit was die loodgieter s’n…
Van toe af was dit een lang nagmerrie. Daar was gevegte en geskreeuery en sy pa wat dikwels met bande wat spin van die huis af wegjaag, Hy het geweet sy pa sou terugkom – hy het altyd. Leon was die een wat tuis met twee huilende babatjies opgeskeep moes sit. Sy ma was nie in staat om na hulle te kyk nie. Wanneer sy en sy pa so baklei het, het sy haarself in die hoofslaapkamer toegesluit en soms eers die volgende middag daar uitgekom. Dan moes hy maar na die twee kleintjies kyk. Hy het hulle gebad, doeke omgeruil en kos gegee. Almal stry met hom, maar hy weet Leandré se eerste woord was “Ouboet”.
Dit was ook nadat hy die kamma-loodgieter se bakkie voor hul huis gesien staan het, dat hy by die gym aangesluit het. Hy het net daar voor hul huis in sy spore omgedraai en na die gym toe gestap, nog met sy skoolklere en skooltas en alles aan. Die siek gevoel het van ‘n hoofpyn na ‘n maagpyn toe verander, maar dit was nie een wat met medisyne reggemaak sou kon word nie. Hy het by die gym aangekom, self sy lidmaatskapvorm ingevul en die volgende dag met sy spaargeld sy eerste fooie betaal.

Leon sit só ingedagte en eet aan sy boontjies en brood dat hy amper nie agterkom dat sy pa sy stoel agteruit skuif en opstaan nie.
“Julle ma het gebel. Sy sê sy kom nie weer terug nie.”
Leon hou op kou en kyk op na sy pa. Fanie Steyn het sy stoel by die tafel ingestoot en met sy arms op sy heupe by die venster gestaan en uit kyk. Leon wil hom nie verbeel nie, maar daar is ‘n sweempie van ‘n glimlag op sy pa se gesig. Vir die eerste keer in jare lyk die man verlig.
“Dis goed om te weet,” sê Leon en kou verder.

*****

Toe die skoolklok die volgende middag lui om die naweek aan te kondig, is dit asof die gebou ‘n sug van verligting slaak terwyl die kinders by alle uitgange van die terrein uitborrel.
Hoewel hy soos ‘n celebrity behandel is sedert hy by die skool aangekom het, het Rufus nog nie regtig vriende gemaak wat hy nou juis ‘vriende’ sou noem nie. Pouses staan hy by die manne en almal wil net heeltyd rugby gesels. Nie dat daar iets fout is daarmee nie, dis net…hy sou graag bietjie van die aandag van homself af wou reflekteer. In sy ou skool was hy een van baie; hier is hy amper soos ‘n walvis in ‘n plaasdam: almal weet van hom.
Daarom het dit hom nie verbaas toe hy hoor hoedat iemand hom roep oppad na die skool se hoofhek toe nie. Wat hom wel verbaas het, is wie dit was.
“Hey, Rufus!” hoor hy Juan se stem. Rufus kyk om. Hulle het vier van hul ses vakke saam en vandag was ‘n vol rooster, so hulle het mekaar dikwels gesien, maar hy het van die begin af die gevoel gekry dat Juan nie van hom hou nie. Hy weet Juan is bang dat hy vir Rozaan gaan afvry, maar hy het self ‘n meisie. Eintlik is hy en Juan in baie dieselfde posisie, aangesien hy self bietjie bekommerd is oor wie by sy meisie in Pretoria aanlê.
“Hey, Juan,” sê hy en wag vir Juan. Dié lyk omgekrap. Toe Juan by hom kom, maak hy keelskoon.
“Kan ons gou praat?” vra Juan saaklik.
“Ja, sure,” antwoord Rufus. Juan beduie na die bankie onder die groot akkerboom wat in die voortuin van die ou skoolgebou staan. Hulle gaan sit en Rufus wonder ietwat wantrouig waaroor Juan hom wil spreek.
“Jy het seker gehoor van die open-party wat vanaand by Jacques Steynberg se huis plaasvind?” vra Juan. Rufus knik onseker.
“Ja, so soort-van…dis die ou wat sy post-matriek in die ander hoërskool doen, nè?”
“Ja. Toe hy nog in ons skool was, was sy parties die grootste en wildste van almal. Al die ouens raak gesuip en al die girls raak maklik.”
“Klink lekker,” probeer Rufus met ‘n glimlag, maar die ernstige kyk op Juan se gesig laat dadelik sy glimlag verdwyn. “Sorry.”
“Anyway, soos ek gesê het, dis gewoonlik ‘n moerse party en dis wanneer sy ouers daar is. Vanaand gaan hulle nie daar wees nie, so dinge beloof om heeltemal hand-uit te ruk. Daarom wil ek jou ‘n guns vra.”
Rufus frons.
“Watse guns?”
Juan maak weer sy keel skoon.
“Rozaan gaan na die party toe gaan en ek wil hê jy moet ‘n ogie oor haar hou. Jy weet, net bietjie opcheck.”
“Jy bedoel ek moet op haar spy?” vra Rufus. “Hoekom gaan jy nie self na die party toe nie?”
Juan is nie lus om daardie verhaal met iemand wat eintlik ‘n totale vreemdeling is, te bespreek nie.
“Nie dat dit jou besigheid is nie, maar ek is gehok en sal dit daarom nie kan maak nie. Maar ek weet jy en Rozaan kom goed oor die weg so…ek het jou hulp nodig.”
Rufus voel nogal gevlei, maar hy vertrou nog nie heeltemal die water nie.
“Hoekom vra jy vir my en nie vir Wihan of Sibu nie?”
Juan vererg homself.
“Man, as jy dit nie wil doen nie, los dit! Ek het net gedog ek sal probeer om jou te vertrou sodat ons vriende kan wees, want ek kan sien dat dit op hierdie stadium vir die hele skool baie meer om die halsbandjie as om die hondjie gaan, maar as jy dink jy gaan in hierdie skool self regkom, moet jy asseblief voortfo…”
Rufus, wat besef dat hy die gebaar totaal en al verkeerd geïnterpreteer het, val Juan in die rede net toe dié opspring om te loop.
“Whoa, sorry, ou. Dis nie wat…ek het nie bedoel…jammer.”
Vir ‘n oomblik staar Juan hom aan met yskoue oë en gaan sit dan weer.
“Let me rephrase: ek het iemand nodig om te kyk laat my girl nie ‘n ander gomgat van Ewoud Heymans vry nie. Wihan en Sibu is so jags soos plaaskatte en daarom gaan hulle self te besig wees om chicks te soek dat ek hulle nie gaan vra nie. Dis vir jou ‘n geleentheid om nuwe mense te ontmoet en die sosiale kringe van Bergkruin te betreë. Al wat ek vra is dat jy af en toe met Rozaan sal gesels sodat die ouens dalk dink julle twee het iets aan en haar dan uitlos. Ek weet mos nou van beter.”
Rufus bloos en knik dan instemmend.
“Dis reg, Juan. Sorry oor netnou. En jy’s reg, dis nie maklik om met mense te gesels as hulle net in jou rugbyprestasies vaskyk nie.”
“Tell me about it. Maar thanx, ek is klaar laat om huis toe te gaan, so ek moet waai. Het jy my nommer?”
Vinnig ruil die twee seuns selfoonnommers uit en dan val Juan in die pad.
“Cheers.”
“Bye,” groet Rufus terwyl hy op die bankie agterbly. Hy kan net dink hoeveel hierdie gesprek van Juan moes gevat het. Hy neem homself voor om die aand sy bes te doen om nie vir Juan teleur te stel nie. Juan is self ‘n baie gewilde ou in die skool en een van die top sportmanne. Toe hy die vorige dag in die voorportaal gewag het, het hy na die sportbekers in die vertoonkas gekyk en Juan se naam op ‘n hele paar daarvan gesien. Dit sal lekker wees om hom as vriend te hê.

*****

Wanneer Rozaan in die middag by die huis kom, is die eerste ding wat sy doen, nog voordat sy haar skoolklere uittrek, om haar hi-fi aan te sit. Dis vir haar aaklig om so in stilte te moet funksioneer. Haar ouers werk albei voldag en omdat sy die enigste kind is, kan dinge baie eensaam raak as dit te stil is by die huis. Sy is ‘n meisie wat dit verkies om tussen baie mense te wees, met klomp mense op ‘n slag te mingle. Daarom kan sy nie wag vir vanaand se party nie. Dis die laaste groot party voor die vakansie en dan is dit in elk geval rugbyweek, wat beteken dat die dorp troppe ouens van ander skole en plekke in kry.
Hierdie middag is geen uitsondering nie en toe sy in haar kamer instap, sit die donkerkop haar hi-fi op relatief hoë desibels aan. Sy gooi haar skooltas in die hoek langs haar lessenaar neer en trek dan haar skoene uit en maak haar skoolrok se belt los. So ja, nou kan sy begin dink. Wat gaan sy inpak vir vanaand? Sy gaan by Lisa aantrek en sommer daar oorslaap ook. Lisa se ouers gee net vir haar ‘n huissleutel, hulle bly nie wakker en wag tot sy by die huis is soos Rozaan se ma-hulle nie.
Rozaan gaan staan besluiteloos voor haar oop kasdeure. Juan gaan nie vanaand daar kan wees nie, want hy is mos gehok, so sy hoef nie hom in ag te neem as sy moet kies wat om aan te trek nie. Hy hou nie baie daarvan as sy, na sy sin, te kort rompies aantrek nie, maar hel, wat help dit ‘n mens het die mooiste bene in die skool, volgens haar gay-vriende, en jy wys dit nooit? Nee, flip, vanaand gaan sy wys wat sy het. Sy het niks om oor skaam te wees nie. Nie ‘n sentimetertjie selluliet nie! Dankie, hokkie oefeninge!
Sy wonder of Rufus vanaand daar gaan wees? Dit sal dalk ‘n goeie ding wees vir hom, sodat hy ‘n slag die ander kinders in die dorp ook kan ontmoet. Sy gee glad nie om om hom ‘n bietjie tuis te laat voel nie! Toe hy die vorige dag so kaal bolyf op die rugbyveld gestaan het, het sy gewens sy kon met haar hande oor sy klipharde maagspiere streel. Ja, goed, Juan is self flippen goed gebou, maar hy is meer atleties terwyl Rufus duidelik meer soos ‘n tradisionele rugbyspeler gebou is.
Sy betrap haarself hoe sy planne maak om vanaand vir Rufus alleen te kry, maar onthou dan dat hy gesê het hy het ‘n meisie. Damn! Sy wonder hoe ernstig is hulle? Out of sight, out of mind. Hy sit seker en treur oor hy nie by sy girl kan wees nie en sy sal vanaand seker maak dat sy daar is om hom te troos as die heimwee te erg raak.
En, selfs al val hy nie vanaand al vir haar planne nie – daar gaan baie ouens van Ewoud Heymans daar wees en daar is self ‘n paar studs wat daar rondloop…
Sies, Rozaan! Raas sy met haarself. Juan het haar nog nie een keer ‘n halwe rede gegee om hom te wantrou nie en hier staan sy en planne maak oor hoe sy hom gaan verneuk. Skuldgevoelens kruip teen haar rug op. Sy was nog nie eens by sy huis sedert hy gehok is nie en as sy sien dat hy op Mxit opkom, gaan sy af. If anything is hy eintlik geregtig daarop om haar te verneuk.
Sy skud haar skouers, amper asof sy die gevoel soos water van haar rug af wil afskud. Hulle het nie met mekaar getrou nie en hoewel die begin van die verhouding vreeslik romanties was, doen dit nou niks meer vir haar nie. Dis nie asof Juan nie meer vir haar aantreklik is nie – hel, hy is een van die sexyste ouens in die skool! – maar nêrens het hulle hul “undying love” aan mekeer gesweer nie. Wat ookal vanaand gebeur, dis in elk geval verby, besluit sy. Ek sal hom net môre sê en dan moet hy nou maar daarmee deal.

*****

Toe Jacques Steynberg Sr. 15 jaar vantevore die huis in die rykmansbuurt op die bult gekoop het, het hy net twee doelwitte voor oë gehad: om dit die mooiste huis op die dorp te maak en om dit die mooiste huis op die dorp te maak. Niks sou in sy pad staan om te sorg dat hy absoluut in die grootste weelde leef nie. Hy het selfs vyf jaar later die erf langsaan gekoop en die twee huise met bouwerk en die twee erwe met tuine verbind. Daar was ‘n tennisbaan en ‘n 25 meter swembad om mee te begin. Daarby het hy ‘n groot, moderne braai-lapa gevoeg en ‘n tuinhuis met ‘n jacuzzi waarin 10 mense met gemak kan lê en borrel.
Die tuinhuis bevat ‘n ten volle toegeruste kroeg met genoeg drank om al die inwoners van die 25 huise in die straat vir ‘n week lank komaties te hou. Dit het ook ‘n stoep met trappies wat in die swembad uitloop. Oral langs die swembad is daar lang, slap patio-stoele en groot sambrele wat skaduwee voorsien op die warm dae. Die swembad self is verhit sodat dit die hele jaar lank met gemak gebruik kan word.
Die massiewe tuin wat die twee gesamentlike erwe gebied het, het konstante versorging vereis en daarvoor is daar twee permanente tuiniers aangestel. Die tuin het van weë sy besonderse uitleg en al die rare, ingevoerde plante wat met moeite daar ingebring is, oor die jare verskeie pryse gewen. Dit was Rowena Steynberg se trots. Die tuinhuisie se kroeg was haar ondergang.
Haar drinkgewoontes het gou-gou tot probleme gely, maar dit is doodstil gehou en vir jare het net die gesin daarvan geweet. Rowena is verskeie kere na uitdroogsentra geneem, net om ná ‘n tyd van aanvanklike vordering weer terug te gly in haar ou patroon in. Tog het hulle daarin geslaag om die nuus net in hul huishouding te hou, totdat een van die tuiniers een aand in ‘n kroeg sy mond verbygepraat het. Soos ‘n veldbrand het die nuus deur die dorp geblits en kort voor lank het almal van die skandaal geweet.
Jacques Steynberg Sr. het hierdie verloop van gebeure, soos al die ander dinge in sy lewe, koel en kalm hanteer. Hy het die gesin om die groot mahoniehout-tafel bymekaar geroep en vir hulle verduidelik dat dit niks aan enige van hulle doen nie en dat niks met hulle gaan gebeur nie. Hy het in elk geval van genoeg vuil wasgoed van ander mense geweet, getuienis daarby ingesluit, om enigeen wat sou durf waag om hul naam in die publiek te beswadder, heeltemal te vernietig.
Daarom het die dorp se geskinder nooit meer as dit word nie. Niemand het geweet of dit werklik waar was en of dit maar net ‘n dronk tuinier was wat ‘n storie opgemaak het nie. Niemand kon ook regtig onthou of die tuinier sy werk by die Steynbergs voor of na die stories begin het, verloor het nie…
Die Steynbergs het aangegaan asof niks gebeur het nie en Jacques Jr. het ook probeer maak asof die nuus hom nie pla nie, hoewel dit in werklikheid tog het. Baie mense dink dat die feit dat hy sy matriekjaar oordoen, grootliks daaraan toe te skryf is dat hy die jaar vantevore baie meer partytjie gehou, vir die skool se span geswem het en meisies in sy sportmotor onthaal het. Dit is waar – maar, alhoewel hy dit nooit aan enigiemand sal erken nie, het Jacques met slaaploosheid en leerprobleme gesukkel.
Tipies soos sy pa het hy besluit dat dit hom nie sal kniehalter nie en het hy aan die begin van die jaar ‘n tweede keer vir matriek ingeskryf – hierdie keer by Hoërskool Ewoud Heymans. Vriende was nie vir hom ‘n probleem nie – hy het al lankal met baie van die mense in sy aanvanklike opposisieskool vriende gemaak, want ‘n mens weet nooit. “It’s not what you know, it’s who you know,” sê sy pa altyd.
Die enigste ding wat ‘n moontlike klein haakplekkie vir hom sou wees, was toelating tot ‘n ander skool as waarin hy aanvanklik matriek geskryf het. ‘n Klein tjekkie met sy pa se handtekening op, uitgemaak aan die skool (en ‘n tweede een, uitgemaak aan die skoolhoof), het vinnig-vinnig daardie probleem opgelos.
Teen die tyd dat die kinders laat die middag by hul huis begin opdaag, het Jacques en Skalla, een van sy beste vriende sedert laerskool, hulself reeds stewig tuisgemaak agter die tuinhuisie se kroegtoonbank. Skalla, wat homself as DJ aangestel het, sorg dat polsende musiek vinnig-vinnig vir ‘n partytjiestemming sorg.
Jacques vat nog ‘n groot sluk van sy brandewyn. Vanaand gaan hy heeltemal ontspan en as daar ‘n meisie-vleisie na sy kant toe gaan naderstaan, gaan hy beslis nie nee sê nie.

*****

Rufus staan ongemaklik voor die groot, oop hekke aan die voorkant van Jacques-hulle se erf. Juan het vir hom per sms verduidelik waar dit is en hy het met sy motorfiets soontoe gery. Nou sit hy hier op sy motorfiets en hy het nie ‘n clue wat om te doen nie. Rufus vee sy sweterige handpalms aan sy broekspype af. What the hell? dink hy. Dis nie die eerste party waar hy in sy lewe al was nie, so hoekom voel hy so ongemaklik? Dis seker tog orals maar dieselfde, met die dronk main ouens, die smooth-talkers wat net wil score en die girls wat orals rondstaan asof iemand hulle randomly daar geplaas het. Hier en daar sal daar ‘n girl wees wat saam die manne kuier, of twee wat saam-saam sletterig rondval ná ‘n shot tequila of twee. Dis ‘n reuse fake spul, maar dis eintlik ‘n speletjie en solank jy by die status quo sou hou, sou alles fine wees. Hoe sê daardie liedjie in High School Musical nou weer? “Stick to the status quo!” Probleem is, hy is nie seker by watter deel van die status quo hy moet stick nie, want hoewel hy seker as een van die rugbybrekers geklassifiseer kan word, is hy terselfdertyd die nuwe ou in die skool en die dorp en hy is nie baie seker hoe daardie rol vertolk moet word nie. Hulle het sy hele lewe lank op een plek gebly en hy het homself nog nooit as een van die “nuwe” kinders in die skool gesien nie. Toe hy die nuus dat hulle gaan trek gekry het, was hy heeltemal onkant gevang. Tog het hy gehoop…maar dit het alles in rook opgegaan.
En nou het Juan hom nog daardie weird guns ook gevra! Dis nie asof dit dinge makliker maak nie, want nou moet hy die girl ook nog juggle tussen alles deur. Om alles te kroon, kry hy nie antwoord by sy eie meisie se selfoon nie…
Voor hy egter te diep kan begin dink, stop ‘n Vuka Scooter langs hom. Die persoon haal sy valhelm af en Wihan se breë glimlag begroet hom.
“Yes, ou, hoe lyk dinge?”
Rufus is bly om iemand te sien wat hy nou al darem ‘n bietjie ken.
“Hey! Nee, goed goed. Waar’s Sibu vanaand?”
Wihan kyk vir Rufus aan asof hy mal is.
“Sibu? By hierdie party? I don’t think so. Ek en hy is tjommas, maar nie almal is só verlig nie.”
“O, okay,” trek Rufus sy skouers op.
“Nou kom ons gaan in,” sê Wihan en hy ry voor Rufus die groot erf binne. Rufus skop sy motorfiets aan die brand en volg kort op sy hakke.

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: