Rugbyskoolstorie (vervolg…)

Hier is die volgende deel van die storie. Ek het al verder geskryf, maar as julle nie gaan comment nie, gaan ek niks verander nie. Geniet dit!

Juan, Wihan en Sibu kom tydens langpouse van die snoepie se kant af na die speelgrond toe aangestap. Juan het die dag nog nie vir Rozaan te sien gekry nie. Vroeg-vroeg het sy Bedryfs gehad terwyl hy Biologie gehad het, kortpouse was daar ‘n rugbyvergadering en daarna was hy in die Tegniese Tekeninge-klas. Toe langpouse aanbreek, het hy vir Sibu op die stoep raakgeloop en dié het eers daarop aangedring dat hy en Wihan saam hom snoepie toe moes stap sodat hy ‘n vleispasteitjie kon gaan koop.
Toe hulle om die draai van die gebou kom, gaan al drie doodstil staan.
“Sien julle boys wat ek sien?” vra Sibu deur sy pasteitjie se skliferkors.
“Die beste flank in skolerugby…” begin Wihan, maar Juan val hom in die rede.
“…En hy staan by my girl en chat!”
Juan se vuiste bal outomaties langs sy sye en hy kan voel hoe sy nek styf word, maar Sibu sit sy arm op sy skouer.
“Relax, bra. Dis probably heel onskuldig. Ek meen, ons moet eers uitvind wat hierdie perd in ons skool doen. Met ons skoolklere aan!”
“Perd is die regte woord,” brom Juan en Wihan lag.
“Sibu het ‘n punt beet. Kom ons gaan hoor wat is sy storie.”
Hulle stap nader, Sibu voor en Juan wat stuurs aan die agterkant nadertou. Rozaan en Rufus staan eenkant onder een van die jong boompies en gesels. Dit lyk asof hy haar iets vreeslik snaaks vertel, want sy staan en giggel haarself morsdood. Juan se mond hang oop. Jeepers, wat ‘n bakvissie! dink hy en skrik vir sy eie gedagtes.
“I don’t believe my eyes! Rufus Lambert? Wat maak jy hierso?” val Sibu met die deur in die huis. Rufus staar hom half ongemaklik aan.
“Ken ek jou…?” begin hy en steek sy hand halfhartig uit. Sibu gryp dit vas en gee hom ‘n stewige handdruk.
“Sibusiso Mdladla, regtervleuel van die Eerstespan. Ek scheme ons gaan nog baie met mekaar te doen kry.”
Rufus glimlag terug. Wihan staan nader en stamp vir Sibu uit die pad uit.
“En ek is Wihan, losskakel van die Eerstes. Ek is net bly jy jol nie my posisie nie. Ons weet almal wie jy is, jou reputasie loop jou vooruit.”
Rufus skud ook met hom blad, maar Juan staan eenkant met gevoude arms teen ‘n stoeppilaar die klomp en gadeslaan. Rufus sien hom egter en stap nader.
“Haai. Jy is seker Juan,” sê hy vriendelik en steek sy hand uit, maar Juan ignoreer dit.
“Ja. En jy staan en chat met my girl,” kom dit kort-af. Rufus lag.
“Flip, sorry ou, ek kan net dink hoe dit vir jou moes gelyk het. Ek, uh…my girl is in Pretoria, ek het nie ‘n move op Rozaan probeer maak nie.”
Weer steek Rufus sy hand na Juan toe uit. Juan sien oor Rufus se skouer hoe sy vriende by hulself staan en proes oor sy verkeerde aannames, terwyl Rozaan blosend vir hom glimlag. Hy kan voel hoedat sy wange begin rooi word soos hy bloos en steek dan sy hand terug uit.
“Aangename kennis,” brom hy, maar sy bui begin merkbaar lig. Nou bars Wihan en Sibu hard-op uit van die lag terwyl Juan na Rozaan toe stap en haar hand gaan vat.
“Sorry,” sê hy jammer en gee haar ‘n drukkie. Rozaan gee hom ‘n vinnige soen op die wang.
“Ek moet sê, ek voel eintlik nogal gevlei. Dit was half lekker toe jy jaloers was!” fluister sy in sy oor en Juan glimlag breed.
Intussen vra Wihan en Sibu vir Rufus verder uit.
“Wat doen jy nou in ons skool?” vra Sibu die vraag wat hulle nog die heeltyd brand. “Ek dog jy is in Waterkloof?”
“Ek was, maar toe koop my ouers ‘n prokureurspraktyk hier op die dorp en toe trek ons hiernatoe.”
“Nou maar hoekom het jy nie daar in Pretoria gebly nie? Ek meen, jou geleenthede is net soveel meer, is dit nie?” vra Wihan.
Rufus trek sy skouers op.
“Ag, ek weet as ek my beste gee en goed speel, sal ek eventually kom waar ek wil wees. Ek kan mos op varsity weer in Pretoria gaan rugby speel. As ek nou op hoërskool ook goed doen, kan ek dalk Cravenweek maak en daarna inkom by Tuks se Rugby-akademie. Van daar af pak ek die pad aan Blou Bulle toe.”
“Jy laat dit so easy klink,” sê Sibu en Rufus lag.
“Ja, wel, ek doen dit maar om myself gemotiveer te hou.”
Net toe lui die klok en die kinders beweeg traag van die speelgronde af terug klas toe vir die laaste skof van die dag.
“Kom, Rufus,” roep Rozaan hom. “Ons het nou Afrikaans.”

*****

Leon spuit die water uit sy bottel in sy mond, skommel dit rond en spoeg dit dan uit. Dit was ‘n warm, strawwe rugbyoefening en hy voel nogal uitgeput. Hy wonder of hy nie vandag die gym moet los nie? Nee wat, skud hy dit af, ‘n paar slukke water en hy sal fine wees. Hy kan nie een dag se gym skip nie, onder geen omstandighede nie.
“Hey, wat lyk jy so ernstig?” vra sy vriend Frans en spat hom nat met water uit die kraan waarlangs hulle staan. Leon spuit hom met sy waterbottel terug.
“Ag, sommer niks. Kom jy saam gym toe?”
Frans gorrel met die water in sy mond en spoeg dit dan dat dit met ‘n sierlike boog trek.
“Okay, solank ons dit net nie te hard vat vandag nie. Ek is nogal paced.”
“Nee, man, ons vat dit lig, ek belowe!” lag Leon. Frans lig sy wenkbroue ongelowig en gee ‘n snork.
“Jou lig is ander ouens se swaar, pêl. Maar, okay, kom ons gaan. Dit gaan netnou begin besig raak.”
Hulle stap sommer van die skool se sportvelde af na die gym toe.
“Het jy gehoor van Jacques Steynberg se party Saterdagaand?” vra Frans terwyl hulle stap. Leon ken die matriekseun van wie Frans praat eintlik net van sien.
“Jacques wat post-matriek doen?”
“Einste,” sê Frans. Leon skud sy kop.
“Huh-uh. Vertel bietjie?”
“Wel,” begin Frans, “Jacques word Vrydag 19 en hy hou ‘n party en sy ouers is as usual op een of ander trippie na een of ander spa toe, maar almal weet dis net code vir dat sy ma weer in rehab is en dat sy pa daarnaby by sy tannie-hulle of iets bly.”
“So?”
“So, daar gaan niks grootmense wees nie en dis ‘n open party! You know what that means, buddy!”
“I know what that means, buddy! Bergkruin-chicks!”
“Presies!” kom dit opgewonde van Frans. “En daar’s so oulike enetjie in graad 10 by hulle wat ek al lankal lus is om te bêre. Sy’t sulke oulike netbal-boudjies. I’d like to give that a spank!”
“Aaah, dis net af, ou!” lag Leon. “Wel, jy sal dit maar alleen moet enjoy. Ek kan nie…”
Frans val hom in die rede.
“Jy kan nie wat nie, Leon? Toestemming kry nie? Jy’s sewentien, my ou. Jou pa-hulle kan nie vir ewig op jou kop sit nie. Hel, daar is outjies wat in graad agt is wat met meer wegkom as jy.”
“Jy ken nie my pa nie.”
“Oom Fanie Steyn, groot ou, werk by daai Van Vrede-dude se pa se garage. Bit of a non-cheery disposition.”
“Non-cheery disposition? Highly bedonnerd is nader aan die waarheid.”
Frans stop vir Leon en sit sy hande op sy skouers.
“Maar hy is nie jy nie, Leon. Dis tyd dat jy dit bietjie besef.”
Leon begin weer stap.
“Ek weet dit. Ek weet dit al lankal, maar solank as wat ek nog onder sy dak bly, moet ek nog sy reëls gehoorsaam. Dis nie One Tree Hill hierdie waar jy sommer jouself kan emancipate van jou ouers af nie.”
“Ja, okay,” gee Frans toe, “ek besef dit. Ek sê maar net. As jy wil, kan ons vir hom tune jy kom by my slaap, ons sê ons moet aan ‘n taak werk of iets.”
Leon bars uit van die lag.
“Yeah, right, hy gaan verseker daarvoor val! Nee, sorry, tjom, lyk my ek gaan hierdie een, soos die meeste ander parties, ‘n skip moet gee. Sy baas se laaitie het blykbaar bietjie roids by die skool gespuit so nou is dinge by die werk aan die moeilike kant en daarom is hy die afgelope dag of wat especially bemoerd. Maar neem foto’s met jou kamera, ek wil sien watse aksie was daar!”
Frans grinnik.
“Om jou net lus te maak? My plesier!”

*****

Mnr. Venter se fluitjie blaas skril en die Eerstespan se oefengroep draf natgesweet nader en gaan sit in ‘n groep voor hom.
“Goed, kêrels, ons is klaar vir vandag,” begin die kort, stewige afrigter en hier en daar klink daar ‘n “Dankie tog!” onderlangs op. Hy besluit om dit vir eers te ignoreer en gaan voort:
“Maar dit beteken nie dat julle nie jul eie oefenprogramme hoef na te kom nie. Ek herhaal weer: as jy ná die rugbyweek jou plek in die Eerstespan wil hê, gaan jy hom moet verdien en moenie dink ek gaan jou kies as jy nie jou plek verdien nie, al is jou pa ook wié.”
Sonder dat hy dit bedoel, land sy oë op Juan toe hy die laaste woorde sê. Juan, al klaar rooi van die son en die uitputting, word nog rooier. Hy kyk af en laat sak sy kop op sy gekruisde arms wat op sy knieë rus. Man, what an asshole! dink hy. Vir wat moet die ou drol nou juis op my kom staan en pick?
“Rufus, dit geld vir jou ook. Ek gee nie om hoe dit by jou ou skool gewerk het nie, maar hier by Hoërskool Bergkruin gaan dit nie oor wie jy is nie, maar oor hoe goed jy speel. Goed, manne, sien julle môremiddag.”
Toe die ander ouens opstaan en na die krane toe slenter, bly Juan net waar hy is, trek sy oefenhemp uit en gaan lê sommer net daar agteroor in die son met sy arms oor sy gesig. Van die krane se kant af kyk Wihan op en sien hom daar lê. Hy maak sy waterbottel vol, stap nader en spuit dan vir Juan ‘n volskoot op die maag. Dit laat Juan regop ruk.
“Hey, ou! Wat maak jy?” vra hy moegerig vir sy vriend. Wihan lag.
“Kom uit die son uit, ou. Jy gaan sonsteek kry.”
“Ten minste kry hy dan ‘n steek,” laat hoor Sibu van waar hy nadergestaan het. Juan kan nie help om vir sy vriende te glimlag nie. Hy steek sy arms uit en hulle trek hom op.
“Kom. Gaan ons gym toe?” vra Wihan. Juan skud sy kop, vat Wihan se waterbottel en spuit dit dan op sy eie kop uit.
“Nope, ek is gehok, onthou. Ek spuit mos in anyway roids, so vir wat sal ek wil gaan gym?” vra hy sarkasties. Wihan gryp sy waterbottel terug en forseer die laaste paar druppeltjies oor sy eie gesig uit.
“Is jy gehok van gym ook?” vra Sibu.
“Ek mag net skool toe en oefening toe, that’s it. In fact, ek dink my pa gaan vroeg by die werk waai om te kyk of ek betyds by die huis is. Ek cardio maar daar in my kamer en doen ‘n paar sprints in die backyard.”
“It sucks to be you,” laat val Wihan weer. “Ek dink ons moet vir Rufus gaan wys waar’s die gym, Sibu. Apparently is sy biceps nog nie groot genoeg na Venter se smaak nie.”
Sibu kyk na waar Rufus eenkant naby die sportgronde se kiosk besig is om sy toks uit te trek.
“Rufus! Kom gou hier!” roep hy hom. Juan laat ‘n effense kreun uit en Wihan stamp hom met die elmboog in die ribbes.
“Gee die ou ‘n kans, hy het mos verduidelik,” sê hy deur sy tande terwyl hy vriendelik in Rufus se rigting glimlag en vir hom beduie om nader te kom. Juan doen nie die moeite om te glimlag nie.
“Beteken nie ek hoef hom te like nie,” sis hy deur sy tande terug. Soos wat Rufus aangestap kom, stap Juan verby hom en skuur effens teen sy skouer.
“Lekker oefening,” is al wat hy mompel. Rufus kyk oor sy skouer.
“Ja…jy ook,” probeer hy, maar Juan ignoreer hom, sluit sy fiets se slot los en verdwyn dan op sy fiets in die straat af.
Rufus frons, maar Wihan kom staan langs hom en sit sy arms in sy sye.
“Moenie oor hom worry nie, hy sal regkom. Gaan bietjie deur ‘n rowwe patch by die huis. Hy gebruik drugs en als. Hy doen deesdae tik ook. Shame.”
Rufus se oë rek groot.
“Genuine?” vra hy geskok. Wihan bars uit van die lag.
“Is jy mal, ou? Luister, laat ek jou nou een ding vertel: in hierdie dorp moet jy blêrrie versigtig wees vir wat mense jou vertel. Dis 80% van die tyd ‘n verdraaiing van die waarheid. As jy iets oor iemand hoor, kom vra jy eers vir my. Of, beter nog, jy gaan vra daardie persoon sommer self. Skinderstories bring tog net moeilikheid.”
Rufus lag senuweeagtig.
“Okay…”
“Kom,” sê Sibu. “Ons is oppad gym toe. Kom sommer saam, dan wys ons jou waar dit is.”

*****

Die netbal- en hokkiemeisies van Hoërskool Bergkruin het gewoonlik nie veel met mekaar uit te waai nie en kompeteer dikwels om die aandag van die rugby- en hokkieseuns, maar vanmiddag is dit anders. Hulle sit in ‘n bondel op die verste punt van die pawiljoen en kyk na die Eerstespanrugby-oefengroep wat sopas klaargemaak het met hul oefening en nou met kaal bolywe staan en water drink.
“Oh my soul, check die nuwe ou, julle!”
Sugte van verlange gaan op.
“Kyk sy six-pack. Dis mooier as al die ander ouens s’n.”
“En sy arms is so…mánlik. Ek kan nie glo hy is nou eers graad 10 nie.”
“Ek wens ek was daai waterbottel!”
‘n Hele paar giggels klink op tussen die meisies.
“He can suck on me like that anytime!”
“Sorry, girls, maar hy het blykbaar ‘n meisie,” laat Rozaan van haar hoor waar sy ook verlangend na Rufus staar.
“Ag, jy’s nie ernstig nie.”
“Nee, dis die waarheid. Hy het my self vertel toe ons pouse gestaan en gesels het.”
“Aah, girl! Hoe klink sy stem?”
Noudat die meisies agtergekom het dat Rozaan die eerste een was wat interaksie met die nuwe wonder bewerkstellig het, is sy die middelpunt van die aandag.
“Soos ‘n droom! En hy het sulke sterk hande en die mooiste paar oë, julle kan dit nie glo nie. Hy lyk amper soos ‘n jonger weergawe van McSteamy van Grey’s Anatomy.”
Verlangend sug die meisies en staar Rufus aan terwyl hy saam met Sibu en Wihan van die sportgronde af wegloop.
“Wel, ek het nuus vir daai girl in Pretoria: sy het kompetisie,” verklaar Corna, die senter van die Eerste Netbalspan. Onmiddellik is die atmosfeer ‘n bietjie meer gespanne tussen die meisies: gaan dit ‘n hokkie- of ‘n netbalmeisie wees wat eerste vir Rufus eerste gaan vang?

*****

Teen die tyd dat Wihan-hulle by die gym aankom, is dit al klaar tjok en blok.
“Nogal crowded,” merk Rufus op.
“Dié tyd van die dag, ja,” antwoord Sibu droog. “Thanks to Venter kom ons altyd so laat eers hier uit.”
“En Sibu is te vrek lui om in die oggend te kom gym,” las Wihan aan. Sibu snork.
“Lazy? Me? Jou moer, pêl. Anders as jy moet ek vroeg opstaan om kaalvoet taxi rank toe te loop, sodat ek een kan vang skool toe.”
Weer eens lyk Rufus onkant betrap en dié keer besluit Wihan om die grappie nog verder te rek.
“Ag, Sibu, jy kan maar ophou om my op ‘n guilt trip te probeer sit oor jy swart is. Ek worry lankal nie meer nie. Ek weet in elk geval nie wat soek ‘n charcoal black soos jy in hierdie witmens-gym nie.”
Sibu sien die lagduiweljies in Wihan se oë en speel saam.
“Jy beter begin worry, white boy. Ek gaan jou en elke ander witvel in hierdie gym se baas wees eendag. Anyway…”
“Miskien moet ons oor ‘n uur of wat terugkom, ek sien julle ouens is bietjie tense,” val Rufus hulle ongemaklik in die rede. Wihan en Sibu bly skielik stil en begin dan proes van die lag.
“Sorry, ou, ons moes net. Jy’s lekker gullible!” lag Sibu.
“Ek’s jammer,” sê Wihan ook. “Jy moenie als so ernstig opvat nie, Rufus, jy sal ‘n flippen hartaanval kry. Kom, hierdie ander ouens se asses. Ons het net soveel reg om hier te wees as hulle.”
Wihan vat vir Rufus na die ontvangstoonbank toe sodat hy ‘n lidmaatskapvorm kan voltooi, terwyl Sibu intussen vir hulle ‘n locker gaan soek waarin hulle hul gymsakke kan toesluit.
Terwyl hulle die vorm staan en invul, word Wihan skielik met ‘n gym-handdoekie van agter af geslaan en hy kyk om. Dis Leon en Frans, wat sopas klaargemaak het met hul sessie.
“Hoe lyk dinge, tjomma?” groet Leon hom.
“Lekker en jy?” groet Wihan vriendelik terug. Hy en Frans skud ook blad.
“Kan ek jou maar opsit as reference, Wihan?” vra Rufus en kyk ook om. Frans se oë rek verbaas.
“Flip, ou, as ek nie van beter geweet het nie, het ek gedink jy is Rufus Lambert. Ek sweer, jy lyk presies soos hy,” sê hy. Wihan en Rufus kyk na mekaar.
“Ehh…” begin Wihan, maar Rufus steek sy hand uit.
“Rufus Lambert. Aangename kennis. Ek is nou in Hoërskool Bergkruin.”
“Okay…” antwoord Frans en skud blad. Leon gee hom ook ‘n stewige handdruk.
“Welkom in die dorp. Net jammer jy’s in die verkeerde skool!”
Rufus weet nie regtig wat om te sê nie, maar dan sit Wihan sy arm om sy skouers.
“Ignoreer daai opmerking. Jealousy makes you nasty.”
“Ja, ja, keep telling yourself that,” antwoord Leon. “Hoorie, ons is gaar, so check julle later.”
“Cheers, buddy!” groet Wihan hulle en Rufus lig ook sy hand op in ‘n groet.
Leon en Frans stap natgesweet en rooi uit by die gym se deur.
Frans kyk oor sy skouer terug in ongeloof.
“Nou wat sal Rufus Lambert hier maak?” wonder hy hard-op.
“Hulle het seker maar hiernatoe getrek of iets,” antwoord Leon en gooi sy gymsak oor sy skouers.
“Ja okay, obviously. Ek bedoel, hoekom het hy nie by sy ou skool gebly nie? Hy gaan Beeld-trofeë en al daai goed mis.”
Leon glimlag tergend vir sy vriend.
“Pla dit jou? Dis vir my so mooi dat jy sy belange so op die hart dra!”
Frans klap met sy tong.
“Loop vlieg man. Ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ja, whatever,” sê Leon tergend, maar raak dan ernstiger. “Ek gaan nie nou al my kop breek oor die feit dat ons aartsvyande sopas die beste flank in skolerugby bygekry het nie. Dis later se worries. Kom ons pak ‘n draffie uit.”

*****

Martin van Vrede bly hierdie dag baie langer in sy kantoor as gewoonlik. Hy het papierwerk om af te handel en hy doen dit nooit tuis nie. Hy is in elk geval nie regtig lus om huis toe te gaan nie. Sedert Juan se storie by die skool is die atmosfeer daar so dik dat jy dit met ‘n broodmes kan sny. Hy weet dat hy hoofsaaklik self daarvoor verantwoordelik is, maar dit sal ook weer oorwaai. Hierdie dinge doen gewoonlik.
Martin gooi sy vulpen neer. Eintlik kan hy dit nog steeds nie glo nie. Hier sit hy, werk homself oor ‘n mik om vir sy familie te sorg en dís die dank wat hy daarvoor kry! Vandat hy met die besigheid begin het, swoeg en sweet hy om te bewys dat hy nie van sy vrou en haar familie se geld afhanklik is nie. Wel, nie heeltemal nie en die afgelope paar jaar beslis nie meer soveel soos aan die begindae nie. Hoewel sy eers gestry het, het Martin daarop aangedring om aan Zelda die geld terug te betaal. Vir hom was dit ‘n saak van eer en trots.
Daarom kan hy nie verstaan dat Juan bereid is om sy lewe sommer so weg te smyt nie. Hy wil so graag hê dat sy kinders ‘n beter lewe moet lei as wat hy gehad het. As hulle dit net kan verstaan, sal dinge ook beter gaan. Hulle ondankbaarheid maak dinge vir hulle gesin net onaangenaam. Zelda help ook nie juis nie. Sy het net haar kop die heeldag in die wolke met boeke oor kristalle en auras en sulke belaglike zen-goed. Sy moet ook ‘n slag haar kant bring. Sy maak verniet asof sy nie ‘n aandeel het in die mislukkings in hul kinders se opvoeding nie!
Martin trek die onderste laai van sy lessenaar oop en gooi vir hom ‘n stewige dop. Dit sal help as hy bietjie kalmer by die huis aankom. Hy sal vanaand vir Juan sê dat hy van volgende week af nie meer gehok is nie, maar dat hy in sy spore sal moet trap. Hy beter dit nie waag om grootkop te kry net omdat hy nou skielik in die rugbyweek gaan speel nie. Martin Motors gee elke jaar ‘n aansienlike bedrag as borg vir die rugbyweek en daar word van hom verwag om die kuiers in die aand by te woon. Hy wil nie homself vir sy seun skaam terwyl hy dit doen nie.
Martin sluk die whisky met een sluk af en gooi dan nog ‘n skoot. Net vir die wis en die onwis.

*****

Juan gryp papnatgesweet na die gymhanddoekie wat oor sy stoel se ruglening hang en vee sy gesig en bolyf af. Nog net touspring vir so tien minute lank, dan is hy klaar met sy oefening vir die dag. Dis moeiliker om in sy kamer te gym en net cardio daar te doen as wat hy gedink het, maar hy het ‘n tipe oefenprogram aanmekaar geslaan wat hom darem deur sy hoktydperk sal hou. Hy sal net aanhou om die Muscle Growth supplements ook te drink in die tyd. Gelukkig het hy dit van die begin af in sy kamer gebêre.
Net toe Juan die springtou vat, klop iemand aan sy kamerdeur.
“Ek’s besig!” sê hy, maar die deur gaan nogtans oop en sy suster, Marli, kom ingestap. Hulle verskil skaars elf maande, maar Juan is die oudste en Marli is nou eers in graad nege.
“Ek het vir jou water met ys in gebring,” sê sy en sit die groot glas, propvol ysblokkies wat belowend daarin rinkel, op sy bedkassie neer. “Ek kon hoor jy’s besig om te oefen.”
Juan glimlag vir sy suster. Toe hulle jonger was, het hulle soos kat en hond baklei, maar die laaste ruk het hulle eintlik nogal baie close geraak. Marli is nie meer heeltemal so irriterend soos sy altyd was nie en hulle kan actually oor dinge gesels. Hy weet nie of dit is oor hy ouer geword het nie en of dit dalk hulle altwee is wat meer volwasse geword het of wat nie. Hulle sê mos ook meisies word vinniger volwasse as seuns – dalk is dit die rede? Maak tog nie regtig saak nie. Dis lekker om nie altyd in mekaar se hare te wees nie.
“Thanx,” sê Juan en vat ‘n groot sluk van die water. Hy skommel dit ‘n keer of wat in sy mond rond en sluk dit dan af.
“Tot wanneer is jy gehok?” vra Marli en Juan trek sy skouers op.
“Ek weet nie. Jy weet hoe’s Pa. Een oomblik moerse befoeterd en die volgende lag hy vir sy eie grappies dat mens hom ‘n myl ver kan hoor, so dit kan enige iets van ‘n week tot ‘n maand wees. Of langer, you never know.”
“Pa sal jou nooit so lank hok nie. Hy weet jy moet gym toe gaan vir Rugbyweek.”
“O ja? En wat dink jy is ek besig om te doen?”
Marli sug en gaan sit op sy bed terwyl Juan nog ‘n sluk van die yskoue water vat.
“Ek weet nie, Boeta. Pa is deesdae baie funny. Dis…ek weet nie. Hy bly al hoe langer by die winkel. Vandaand was hy tot vrek laat toe daar. Hy’t nou eers by die huis gekom.”
Juan frons.
“Regtig?”
“Mmm, en toe ek hom ‘n soen gee, kon ek sweer iets het weird geruik.”
“Weird soos in hoe?” vra Juan.
“Weird soos in asof hy iets gedrink het. En sy hemp het uitgehang. Ek bedoel, Pa se hemp hang nooit uit nie. En nou lê hy en slaap op die bank.”
Juan sit die glas, waarvan die inhoud aansienlik gesak het, terug op die bedkassie en vat dan weer die springtou.
“As Pa hom soos ‘n suiplap wil gedra, is dit nie my besigheid nie,” verklaar hy en begin touspring.
“Ek het nie gesê hy’s ‘n suiplap nie.”
“Ek weet. Ek sê net as hy homself soos een wil gedra, moet hy maar vir hom kry. Ek worry nie.”
Marli staan van die bed af op en vat die glas.
“Wel, solank jy nie woorde in my mond lê nie. Ek gaan bad. Roep my as dit netnou One Tree Hill is,” sê sy, stap uit en maak die kamerdeur agter haar toe. Sy is bietjie bekommerd oor Juan. Daar loop allerhande vieslike stories oor hom by haar skool rond en dit maak haar ook ongelukkig. Die kinders sê dat hy ‘n druggie is en dat as mens so baie steroids inspuit soos wat hy doen, ‘n mens sommer netso morsdood kan neerslaan op ‘n rugbyveld.
Marli is in Hoërskool Ewoud Heymans en sy het self gekies om soontoe te gaan. Daar was ‘n verskeidenheid faktore wat haar keuse beïnvloed het: hoofsaaklik wou sy nie in ‘n skool wees waar sy Juan van Vrede se sussie sou wees nie. Sy is haar eie mens en verdien dit om so behandel te word. Verder is al haar vriendinne van laerskool soontoe en dis net dom om dan van vooraf te wil begin vriende maak, veral as mens goed met jou vriendinne oor die weg kom en jy die keuse tussen ‘n paar goeie hoërskole het. Ewoud Heymans se netbal is ook uitstekend en hulle bied sang as ‘n vak aan, die ander groot liefde van Marli se lewe. Om te sing is vir haar om vlerke te kry en weg te skiet van hierdie wêreld en die crap wat sy daagliks by die huis moet face.
Almal dink hulle is die perfekte gesin. Haar oupa-hulle is vrek ryk, dit weet sy. Haar pa en ma is high society mense op die dorp en gaan dikwels na een of ander grand funksie toe. Hulle is ook heavy betrokke by die kerk en sy en Juan gaan gereëld na die kerk se Jeug toe – een van die min dinge, saam met haar sang, wat haar sane hou. Sy is nie so seker dat Juan dit heeltemal soveel soos sy geniet of waardeer nie, want daar is nie juis van sy skoolvriende wat soontoe gaan nie. Tog, sy sukkel nooit om hom daar te kry nie, wat seker ‘n goeie teken is.
Maar die afgelope paar maande is dit asof iemand of iets ‘n los garinkie in hul gesin gekry het, daaraan getrek het en nou besig is om die hele spul uitmekaar te laat rafel. Sy weet nie hoe sy deur dit gaan kom of wat gaan gebeur nie. Al wat sy weet, is dat sy nie vir Juan alleen kan los in hierdie tyd nie. Sy het op Mxit by haar Jeug-vriendinne wat saam Juan in die skool is gehoor van die nuwe ou wat blykbaar so goed is in rugby en wat agter Juan se meisie aan is. Juan moet pasop. Alhoewel sy en Rozaan redelik goed oor die weg kom, vertrou sy wat Marli is haar nie baie verder as wat sy ‘n eetkamertafel kan gooi nie. As Juan nie versigtig is nie, gaan daai girl hom nog vrek seer maak.

  1. January 2, 2008 at 3:23 pm

    OK, ek’t jou storie gelees. Uiteindelik! Het nou eers daarby uitgekom. Het noggie One Tree Hill gekyk nie, maar Friday Night Lights slaan maar sterk deur.

    Hoop TO was good! (met komplimente aan Ockert van Duitsland se laaste comment op die Deon Maas post)

  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: