Voorskou: ‘n opkomende Rugby-skoolstorie

Ek is besig om my hand te waag aan ‘n jeugverhaal, ‘n Suid-Afrikaanse rugbyskoolstorie, in die lyn van Friday Night Lights/One Tree Hill, maar in Suid-Afrika. Lees solank en comment asseblief, sodat ek kan weet wat julle dink!😉 Ek sal na Kersfees en Stranddiens weer posts opsit van die ou stranddienste.

Rugbyskoolstorie

Martin van Vrede het met sy gat in die botter geval die dag toe hy met Zelda Weyers getrou het. Sy is die tweede kind en oudste dogter van een van die rykste families op die dorp – goeie mense wat hul rykdom eerlik verdien het, maar sy en die ander kinders was nogtans ‘n bietjie bederf. Toe Martin haar die dag in die kerkpaadjie sien afstap, het hy geweet sy probleme is verby. Hy kom self nie uit ‘n watwonderse familie uit nie. Hulle het maar armerig groot geword. Sy pa het ‘n vis en tjips besigheid in die onderdorp naby die taxi-staanplekke gehad, so hulle het darem genoeg gehad om van te leef, al was dit ook maar net-net.
Vandag is hy ‘n gesiene man en een van die grootste motorhandelaars op die dorp. Sy kinders doen goed op skool en sy vrou kan jy altyd deur ‘n ring trek. Martin Motors, wat hy met sy skoonpa se geld begin het, doen uitstekend en sy golf-voorgee laat hom breed glimlag. Basies is daar niks in sy lewe wat verkeerd kan gaan nie.
Skielik lui sy selfoon in sy langbroek se sak.

Juan van Vrede staar nikssiende na sy skoene waar hy in die skoolhoof, Mnr.Spies, se kantoor sit. Mnr.Spies sit die foon terug op die mikkie en vou sy hande.
“Jou pa sal nou hier wees om jou te kom haal, Juan. Ek moet sê ek is regtig uiters teleurgesteld in jou gedrag. Jy is werklik die laaste leerling van wie ek dit verwag het.”
Mnr. Spies rammel voort, maar Juan kyk nie op nie. Hoe kan hy begin om te verduidelik? Dit sal nie eens help nie, onderwysers verstaan nooit nie. Minste van almal Mnr. Spies. Die ou droë bokkom feature net by sportgeleenthede omdat die hoof daar móét wees. Verder weet hy niks wat daar aangaan nie. Hoe sal hy ooit die druk kan verstaan wat daar op die skool se sportpresteerders rus? As ‘n mens vir die Eerste Rugbyspan op skrumskakel uitdraf, is jy met ‘n vingerklap publieke besit. Almal in die dorp ken jou skielik en al die kinders by die skool wil jou vriend wees. Veral as jy dit al in graad 10 regkry. Dis net, almal se verwagtinge het hom heeltemal onkant gevang en hy het geweet dat daar nie ‘n manier is dat hy almal wat hom met valkoë dophou sal kan teleurstel nie. Hy is skaars twee weke vantevore gekies vir die span wat vir die Rugbyweek, wat hul skool elke jaar aanbied, gaan speel. Dit is ‘n seker teken dat jy ook vir die Eerstes gaan speel wanneer die liga begin.
Die inspuitings het na ‘n maklike oplossing gelyk…en toe vang daai stupid nerd prefek, Henkie, hom waar hy in die badkamer homself inspuit. Dit was eintlik sy eie skuld, die skool se badkamer is die simpelste plek om so iets te doen, maar dit was net hierdie een keer. Hy het nog altyd net gewone supplements gebruik, soos wat almal wat gym maar doen. Hierdie was die eerste keer wat hy iets getry het wat hy skelm moes doen.
“Dit kan jou jou plek in die Eerstespan kos, weet jy,” dring Mnr. Spies se stem tot hom deur. Juan kyk verskrik op.
“Nee, asseblief meneer, ek vra mooi. Dit was regtig die eerste keer, die enigste keer. Ek het nog nooit so iets gedoen nie. Asseblief, meneer, net nie my plek in die span nie. My pa sal…” Sy pa sal dit nooit oorleef nie, besef Juan. Nie dít nie. “Hy sal my nooit vergewe nie.”
Mnr. Spies loer na hom vanonder sy uilagtige wenkbroue.
“Juan, ek wil hê jy moet besef hoe ‘n ernstige oortreding dit is. Dit val onder dwelmgebruik op die skoolterrein. Ek is eintlik veronderstel om jou summier te skors. Maar gelukkig ken ek jou en ek weet dat jy nog baie vir die skool en die Eerstespan kan en gaan beteken, as jy jouself regruk. Daarom gaan ek jou net ‘n skriftelike waarskuwing gee. Jy kan self vir jou pa vertel hoekom hy jou vroeër as gewoonlik by die skool moes kom oplaai.”

*****

Wihan is vroeg op die veld. Hy kom altyd so 20 minute voor rugbyoefening veld toe om sy skopwerk te oefen. As Eerstespanlosskakel kan hy nie bekostig om teleur te stel nie. Nie hierdie jaar nie. Dit is die eerste keer in ‘n lang tyd dat hulle skool ‘n ordentlike losskakel het en hy besef maar al te goed dat daar meer as net sy reputasie op die spel is. Hy was in graad 7 verkies tot die provinsiale o/13 Craven Week-span en van toe af is hy geoormerk om die volgende groot losskakel van Hoërskool Bergkruin te word. Hy het elke jaar sy bes gegee, maar toe hy die vorige jaar uiteindelik vir die ope spanne begin speel, het die afrigters hom met opset nie vir die Eerstespan gekies nie. “Sodat jy ‘n bietjie ryper kan word,” was Mnr. Frikkie Venter, die afrigter se woorde. Hy wat Wihan is, weet dat dit net ‘n rookskerm was. Hulle wou hom nog ‘n jaar spaar sodat hy nie te gou peak en homself uitbrand in die Eerstespan nie.
Om vir die Eerste Rugbyspan van Hoërskool Bergkruin uit te draf, is iets waaroor elke seun in die skool droom. Dis nie net ‘n eer om jou skool te verteenwoordig nie, maar dit gee aan jou die kans om in die jaarlikse derby teen Hoërskool Ewoud Heymans te speel.
Dis met hierdie dag in sy kop dat Wihan weer aanlê en lostrek met ‘n skop wat hy redelik in die hoekie opgestel het. Dis net-net regs verby en hy draf om die bal te gaan haal.
“Hey! Wat skop jy soos ‘n paloeka?” hoor hy iemand skree. Wihan kyk om en sien sy vriend Sibusiso wat met sy toks om sy nek by die veld aankom.
“Ag, sjarrap jy, jou houtie!” skree hy terug. Hy sien hoe Sibu krul soos hy lag. Wihan tel die bal op en draf glimlaggend nader.
“Ja, white boy, gee bietjie hier dat die houtie jou wys hoe,” sê Sibu toe Wihan by hom kom. Wihan hou die bal terug.
“A-a-a. Gaan was eers jou hande, ek wil nie pap op my bal hê nie.”
“Please. Dit sal nie eens wys tussen al die shit wat jy op dit skop nie!” hap Sibu hom terug. Wihan lag.
“Nou toe, wys my, laat ek sien.”
Sibu vat die bal en gaan stel hom min of meer op dieselfde plek op van waar Wihan se vorige skop was. Hy meet sy treë af, draai dan om en hurk vooroor, kompleet soos wat Derick Hougaard sou maak. Hy wikkel ook ewe plegtig sy tongetjie voordat hy vorentoe hardloop en die bal tref. Die bal trek laag en skuur onderdeur die dwarslat.
“Laduma!” skree Wihan. “Jy moet maar by sokker bly, pêl!” Sibu se stelskopvermoë is nie juis watwonders nie, maar hy is so sterk soos ‘n bees en so rats soos ‘n kat – die skool se beste vleuel.
Sibu gaan haal die bal en draf laggend terug na Wihan toe.
“Ja, okay. Die sokkerboys het my weggejaag. Hulle tune ek’s ‘n coconut.”
“It sucks to be you,” kom dit lakoniek van Wihan af. Sibu gooi vir hom die bal.
“Het jy gehoor wat vandag met Juan gebeur het?”

*****

Rozaan maak die voordeur oop.
“Hey Lies. Kom in,” nooi sy haar vriendin Lisa binne.
“Jy het ernstig geklink toe ons op Mxit gechat het. Wat gaan aan?” vra Lisa haar prontuit toe hulle in Rozaan se kamer sit. Sy gaan lê op Rozaan se bed, terwyl Rozaan by die voetenent gaan sit. Sy sug en trek haar voorkop op ‘n plooi.
“Ag, dis net…ek weet nie, Lies. Dis asof dinge tussen my en Juan…dis net nie dieselfde as toe ons op vakansie was nie.”
Lisa lag. Hierdie is nie ‘n nuwe probleem nie. Rozaan en Juan gaan uit van die einde van die vorige jaar af toe hulle Desember toevallig saam in Ballito vakansie gehou het. Sedert hulle terug is, is hulle al waaroor almal in die skool kan praat. Lisa kan egter sien dat die nuwigheid besig is om verby te gaan.
“Wat het jy gedink, hmm? Dat alles hier by die skool so romanties gaan wees soos ‘n maanligaand op Ballito se strand? Jammer om jou teleur te stel, maar jy kan dit maar op jou maag skryf…”
Rozaan gooi haar met ‘n kussing.
“Thanks hoor! Jy weet net hoe om ‘n mens op te cheer!”
Lisa gooi die kussing terug.
“Welkom by die kruispad: dis nou wat jy gaan moet besluit of hierdie net ‘n vakansiefling met Juan van Vrede was, en of jy in ‘n ernstige verhouding met hom wil wees.”
Rozaan val agteroor op haar bed neer.
“Dis juis die ding: ek weet nie.”

*****

Leon Steyn gooi sy gymsak oor sy skouers en begin huistoe draf. Hierdie is elke middag se roetine: rugbyoefening ná skool, dan gym toe draf, ‘n goeie sessie insit en dan terugdraf huistoe. So maak hy seker dat hy fiks bly vir die strawwe seisoen wat voorlê. Al die oefening het sy lyf hard en soepel gemaak en hy weet die girls vrek daaroor as hy sy hemp uittrek, maar hy raak elke keer só ongemaklik dat hy bloedrooi begin bloos. As hulle maar net geweet het hoeveel ure se werk daarin gesit is! Veral vir hom. Hy was nie altyd so sterk gebou gewees nie. Toe hy jonger was, was hy eintlik nogal tingerig gewees. Dit het maar eers op hoërskool begin, nadat…Leon skud sy kop, asof hy so die gedagtes wil uitskud. Dink aan positiewe goed. Negatiewe gedagtes is afbrekend vir ‘n mens se gesondheid. Positiewe energie, fokus daarop.
Die strate waarlangs Leon draf is heerlik skaduryk. Die stokoue akkerbome maak ‘n koepel bokant sy kop en keer die laatmiddaghitte weg sodat sy natgeswete lyf kan afkoel. Die seisoen wat voorlê gaan nie maklik wees nie. Hy draf vanjaar vir die tweede keer uit vir Hoërskool Ewoud Heymans se Eerstes op binnesenter. Verlede jaar het hy eintlik meer gebench as wat hy regtig wedstryde vir die Eerstespan gespeel het, maar elke keer wat hy op die veld gedraf het, het die opwinding deur sy are gesuis. Hy is mál daaroor om sy arms om ‘n aanstormende opponent se bene te slaan en hom te laat grond vreet. Al die ander skole weet van hom en is bang vir hom, daarvan is hy maar al te bewus. Nie dat hy vuil speel nie. As ‘n mens ‘n geel kaart kry, moet jy vir tien minute uitsit en dit pas hom soos ‘n gat in die kop. Daarom tackle hy so hard as wat hy kan, so skoon as wat hy kan. Dan kan ‘n mens tog die hele wedstryd speel!
Vandag is die hitte vir Leon net een te veel. Toe hy by die huis kom, gooi hy sy gymsak in sy kamer neer, trek sy hemp uit en spring sommer so met sy oefenbroekie bo-oor die muur in die erf langsaan in. Hy en sy broer swem altyd daar, omdat hulle nie self ‘n swembad het nie. Die koel water is lekker verfrissend en Leon kan voel hoedat die knope in sy spiere skiet gee. Hy moet dit regtig meer doen, sodat hy kan ontspan!
Leon swem nog ‘n lengte of wat onder die water en kom dan op. Die een seun van dié huis staan op die kant en wag hom in.
“Yes, tjomma!” groet hy hom toe Leon die kant bereik.
“Yes, Wihan! Wat sê jy?”

*****

Juan slaan sy kamerdeur toe en plons dan voor sy rekenaar neer. Sy pa het hom wragtig gehok! Hy het presies gereageer soos wat Juan gedink het hy gaan. Eintlik erger. Toe hy uitvind van die inspuitings, was hy buite homself van woede.
“Is jy nou ‘n junkie, hè? Wil jy nou saam met die junkies in die strate jouself gaan loop en spike? Watse tipe mens is jy, Juan?! Hoe de moer het ek julle groot gemaak? Jou ondankbare klein stuk stront! Ek sal jou wys. Ek sal jou belet om enige plek heen te gaan. Nie gym toe nie, nie winkels toe nie, nêrens heen nie! Kom ons kyk hoe bou jy nou spiere, jou patetiese klein flop!”
Sy pa het by die kombuisdeur uitgestorm en hom net daar laat staan. Vir ‘n oomblik was Juan heeltemal oorbluf. Hy het geweet sy pa gaan dit nie ligtelik opvat nie, maar hy het nou nie heeltemal verwag om ‘n flop genoem te word nie. Hy het toe maar na sy kamer toe gestap terwyl sy pa se woorde die heeltyd in sy kop bly maal het.
“Jou ondankbare stuk stront…jou patetiese klein flop!”
Hy wens sy pa het hom eerder met die vuis geslaan, of met ‘n sambok. Dit sou nie naastenby so seer gemaak het nie…
Gelukkig is daar darem nog Rozaan. Die vakansie by Ballito was net iets wat hy nog nooit voorheen beleef het nie! Ja, okay, hy het voorheen al kamstig met meisies uitgegaan, maar dit was net sulke gevryery agter die skoolsaal tydens sokkies en stupid beertjie-sms’e. Met Rozaan is dit anders. Sy is nie so kinderagtig soos die ander girls nie en sy hou ook van sport, nes hy. Sy is ‘n hokkie-chick en speel vleuel vir die skool se tweede span. Sy doen blykbaar moderne danse ook, en saam met die hokkiespelery het dit gemaak dat sy lag-lag die mooiste paar bene in die skool het!
Maar die vakansie…dit was magic. Hy het nog nooit so oor ‘n girl gevoel soos hy oor haar voel nie, en elke dag besef hy net meer en meer hoe baie hy van haar hou.
Juan trek sy selfoon nader. Hy wonder of sy nou op Mxit is? Gelukkig kan sy pa hom nie dit belet nie. Hopelik kom hy nie later en kom vat sy foon van hom af nie!
Juan sien dat die kolletjie langs Rozaan se naam nog groen wys. Hy glimlag effens. Dankie tog.
Hei, wmj? Tik hy. Hy het skaars die boodskap gestuur, toe sien hy dat daar nou ‘n rooi kolletjie langs haar naam wys. Rozaan is now offline sê die skermpie. Hy gooi sy foon op sy bed neer. Dit suck! Sy het hom seker nie gesien nie. Hy sal maar later weer probeer.
Sy gedagtes keer onwillekeurig terug na die gesprek in die kombuis toe. Sy verdomde pa! As sy pa in die eerste plek nie soveel pressure op hom gesit het nie, sou hy dit seker nooit gedoen het nie. Alles wat nog ooit aangepak het, het hy gedoen sodat hy sy pa kan beïnduk en sy goedkeuring kan wegdra. Daarom het hy, van kleins af, aan alle sportsoorte wat hy kon deelgeneem. Atletiek, rugby, tennis, krieket, swem. Hel, hy het selfs laasjaar by die skool se kadetorkes aangesluit! Alles net sodat hy dalk sy pa se goedkeuring kan wegdra. Hy wens sy pa wou net een keer, net één keer, vir hom sê dat hy dit raaksien wat Juan doen. Hoeveel keer nadat hulle ‘n wedstryd gewen het, het hy nie gehoop dat sy pa vir hom sou sê: “Mooi drie, my seun” of “Jou tackling was vandag regtig goed” nie! In plaas daarvan was dit altyd iets in die lyn van “Mmm, julle mannetjies is nog maar lekker onfiks” of “Vir iemand wat nounet ‘n game rugby gespeel het, lyk jy nie regtig moeg nie. Jy jou beste gegee?”
Vandag se kommentaar was egter vir Juan die toppunt. Na alles wat hy gedoen het, elke prestasie wat hy gekry het – elke atletiekrekord wat hy gebreek het, elke swemprestasie en elke drie wat hy gedruk het, noem maar op – is dít wat hy vir sy pa is: ‘n stuk stront, ‘n patetiese klein flop…
Hy sal hom wys. Hy sal cardio in sy kamer soveel as wat hy kan, hy sal squats doen, push-ups, sit-ups en pull-ups en touspring. Maar van nou af sal hy dit vir homself doen. Juan skrik vir homself as hy besef wat hy voel: hy haat sy pa.

*****

Wihan sit sy tas voor hul registerklas in die B-blok neer net toe Juan daar aangestap kom.
“Yes bra!” groet hy sy beste vriend sedert laerskooldae, al verskil hulle ‘n jaar. Juan kyk skalks op.
“Hey ou. Wat sê jy?”
“Nee, stil man. Ons het jou gemis by rugby gister.”
Wihan is egter versigtig om die vraag te vra wat hy eintlik wil vra. Hy kan sien iets byt aan sy vriend. Dit gaan nie cool wees om hom nou te beskuldig nie, besef hy.
“Jy okay?” vra Wihan vir Juan. Juan gaan staan ‘n oomblik skielik stil. Hy haal ‘n keer of wat stadig, diep asem.
“Kom ons gaan sit daar op die trappies. Ek gaan jou in anyway vertel en ons het nou tyd.”
Wihan is bly dat hy dit nie uit Juan hoef te trek nie.
“Sibu het allerhande goed kwytgeraak gister van dat jy op moerse roids…”
“Sjarrap! Wil jy stories hoor of wil jy die waarheid hoor?”
Wihan besef dat hy nou sy ore en mond in proporsie moet gebruik. Hy is eintlik nie regtig daarvoor bekend dat hy die beste luisteraar in die skool is nie. Inteendeel, hy is nogal ‘n impulsiewe ou wat dikwels praat voordat hy mooi gedink het wat hy sê. Nie dat hy iets sleg daarmee bedoel nie – dit gebeur sonder dat hy regtig daarop fokus.
“Sorry, pêl. Ek luister.”
Juan kyk hom eers met geligde wenkbroue aan en vra hom dan:
“Laat ek net eers hoor: wat sê die rumours?
Wihan vou sy arms en rus dit op sy knieë.
“Wel, wat ek gehoor het, is dat jy gister in die badkamer deur drie prefekte gevang is waar jy uitgepass gelê het. Daar was apparently naalde by jou en dit was glo duidelik dat jy jouself met roids ingespuit het. Een van die rowwer weergawes sê ook dat hulle E by jou gekry het, sodat jy meer energie op die veld kan hê of so iets…”
“En jy glo dit?” vra Juan hom. Wihan skud sy kop.
“No ways, bra. Ek ken jou te goed vir dit, maar toe jy nie gister by rugby was nie, het ek nogals geworried begin raak. Dis hoekom ek jou nou self, reguit, vra.”
Juan se een mondhoek begin lig in ‘n glimlag.
“Thanks, buddy, ek waardeer dit. Dat jy na my toe kom. Die ander klomp is te chicken shit en ‘n skinderstorie is mos in anyway lekkerder as die waarheid.”
Wihan sit sy arm om sy vriend se skouers.
“Plesier, ou, jy ken my mos. Maar wat het nou rêrig gebeur?”

*****

Die tweede periode het pas aangebreek en Rozaan sit in die Bedryfsekonomie-klas, besig om deur haar langvrae te lees, toe die interkom skielik lewe kry.
“Juffrou Nothnagel, kan jy asseblief een van die graad 10’s afstuur kantoor toe? Hier is ‘n nuwe leerling wat hulle moet kom ontvang.”
“Goed so, Meneer!” antwoord Mevrou Nothnagel, ‘n middeljarige vrou met swart spykerhare, ietwat gedweë. Sy kyk verveeld in die klas rond.
“Rozaan, wil jy nie gou gaan nie, asseblief?” vra sy haar. Rozaan staan teësinnig op. Sy hou eintlik niks hiervan nie, hierdie hele nuwe-kind-ontvang-ding, en om een of ander rede vra onnies haar altyd om dit te doen, al sedert laerskooldae af. As dit ‘n ou is, is hulle gewoonlik sulke vaal japies wat dink hulle gaan haar in die gange score en as dit ‘n meisie is, verwag hulle om onmiddellik haar beste vriendin te wees. Sy sien nie werklik nou hiervoor kans nie.
Rozaan wens eintlik dis ‘n meisie. Vandag is nie die regte dag vir outjies wat aan die puberteit-en-puisie-kompleks ly nie. Sy het gisteraand boodskappe van Juan af gekry wat half anders was as gewoonlik en wat haar net nog meer deurmekaar gemaak het oor hoe sy nou eintlik voel. Hy het heeltyd sulke goed gestuur soos hoeveel sy vir hom beteken, hoeveel hy haar mis, selfs dat hy haar liefhet! Dis só nie Juan nie, maar sy het besluit om hom nie nou al onraad te laat vermoed nie en het op die ou end ook vir hom ‘n sms gestuur met so gesiggie wat vir hom ‘n soentjie blaas. Sy het hom nog nie vanoggend voor skool gesien nie en ook nie in klas nie omdat hy Biologie het waar sy Rekeningkunde het, maar sy voel half dat sy hom nie nou kan drop nie. Dalk is sy verkeerd, dalk moet sy tog maar probeer om hierdie ding te laat werk. Dis tog nie asof hy soos soveel ander ouens maak en hulle meisies met ander terte by iemand se stupid house party verneuk nie. Ja, dink sy terwyl sy afstap kantoor toe, sy gaan hierdie verhouding met Juan ‘n kans gee.
Toe sy by die kantoor instap, is dit asof al haar gedagtes met ‘n magneet by haar kop uitgesuig word. Voor haar staan ‘n flippen sexy ou met sulke grysbruinerige hare en die blouste blou oë wat sy in haar hele lewe gesien het. Hy het nie ‘n skooltrui aan nie en sy kan sien hoe sy skoolhemp met moeite sy groot bo-arms binne hou. Hy glimlag vir haar toe sy binnekom en dis die mooiste, witste, perfekste glimlag.
Mnr Spies stel hulle aan mekaar voor.
“Hierdie is Rufus Lambert. Hy en sy gesin het sopas van Pretoria af hiernatoe getrek. Volgens sy vakkeuses moet hy nou saam met julle Bedryfs hê. Ons is bly hy is nou deel van ons skool – Rufus sou vir Waterkloof se Eerstespan gespeel het as hulle nie verhuis het nie.”
Dit kan Rozaan nie in die minste skeel of hy vir Waterkloof of Affies of Monnas of vir Gatkantrand sou speel nie. Sy gee selfs nie om of hy vir hulle skool speel nie. Al wat saak maak, is dat sy hom eerste gesien het en dat hy vir haar geglimlag het…
“Haai, ek is Rozaan,” sê sy skamerig en steek haar hand uit. Rufus vat haar hand en gee dit ‘n drukkie. Nie so petieterig soos party ouens sal doen nie en ook nie so grof soos wat mens van die rugbybrekers verwag nie. Dis net reg – dis asof hy haar vroulikheid respekteer, maar tog ook met haar rekening hou as eweknie.
“Haai, Rozaan. Ek is Rufus,” sê hy en dit voel vir Rozaan asof haar knieë gaan ingee. Hy het die mooiste stem! Dis so dieperig en manlik, maar nie grof en skor nie.
Sy glimlag weer skaperig terwyl sy in sy oë staar en besef dan dat hulle klas toe moet gaan.
“Kom saam, dan gaan ons klas toe,” kry sy dit uiteindelik uit. Rufus knik.
“Regso. Dankie, mnr Spies. Ek sal vanmiddag half drie op die rugbyveld wees.”
Hy swaai sy boeksak oor sy skouer asof dit absoluut niks weeg nie. Rufus sien hoedat Rozaan geamuseerd na hom kyk en begin lag.
“Hier’s nog niks in behalwe ‘n paar skryfblokke nie!”
Rozaan voel asof die aarde haar kan insluk. Hy het gesien hoe sy oop en bloot na hom staar! Hy stap tot reg voor haar.
“So, waar is ons klas?”

(word vervolg…)

  1. No comments yet.
  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: