Deon Maas se satanisme-artikel

Ek wou aanvanklik nie my energie op Deon Maas spandeer nie want ek het regtig beter dinge om met my tyd te doen, maar nou ja, by public demand, hier is dit nou:

Hy begin sy artikel (“Die Deon Maas Blad: 666 is net ‘n syfer”, Rapport, 4 November 2007) met ‘n verwysing na ‘n arrestasie in Pretoria-Noord op ‘n vrou wat klaarblyklik by satanisme betrokke is en vertel dan op pittige wyse hoe dit gebeur het en verwys na die satanistiese artikels waarop die polisie beslag gelê het: bloedbesmeerde Bybels, menshare, swart kerse, swart klere en en en.

Nou gaan hy voort om homself en sy gebruik van kerse en swart klere te verduidelik, asof almal nog in die denkraamwerk vasgevang is dat die kleur swart alles omvat wat boos is.

Hy noem dan dat satanisme ‘n godsdiens is en dat “ons Grondwet bepaal dat almal die vryheid het om die godsdiens van hul keuse te beoefen”. Fair enough, dankie tog vir godsdiensvryheid, maar dis wat jy doen terwyl jy jou godsdiens beoefen en of dit teen die wet is wat saak maak. Dieremishandeling, verkragting en seksuele mishandeling van minderjariges, moord en dwelmmisbruik is wel sake wat teen die wet is en wat jou met die gereg gaan laat bots. Sy afsluiting van die paragraaf is ok funny: “Satanisme maak steeds ‘n beter lamppaal-plakaat as Moslems, selfs al blaas hulle minder goed op en rig meer skade aan hulself aan as diegene rondom hulle.” Okay, dis waar – totdat jy betrokke raak. Die skade wat dan aan jou aangerig word, is onbeskryflik. By the way, die tannie van langsaan soek ook nog haar kat, Sokkies.

Maas verduidelik verder, baie oppervlakkig, hoekom hy nie ‘n groot aanhanger van “georganiseerde godsdiens” is nie, omdat “massa-opsweping” klaarblyklik nie sy ding is nie. Okay. Moet dan net nie kerk toe gaan nie – godsdiens bestaan immers nie NET uit bymekaarkomste nie. Maas weet dit skynbaar nie.

Hy sê ook hoekom hy nie aan satanisme deelneem nie – die dinge wat hulle doen is vir hom te veel moeite. (Go figure, hy is te lui om in die dag godsdiens te beoefen, vir wat sal hy dit in die nag doen?).

Dis al argument wat hy aanvoer téén dit. Hy maak dan ook die stelling dat satan nie noodwendig boosheid verteenwoordig nie en net maar ‘n ander filosofie is, waar jy net tot ‘n ander god bid. Wat ook debatteerbaar is.

Nou probeer hy, op ‘n baie ondeurdagte wyse, die argument aanvoer wat hy aan die einde van sy rubriek opsom (dat mens na ander moet luister en hul idees respekteer) deur na ‘n paar van die sogenaamde nege “gebooie” van satanisme te kyk.

En hier lê my groot probleem met Maas se artikel. Dit is darem die onwetenskaplikste, mees naïewe manier van ‘n onderwerp hanteer wat ek in ‘n laaaaaaang tyd gesien het! Maas is veronderstel om ‘n intelligente mens te wees, wat “ander se idees respekteer sonder om noodwendig daarmee saam te stem”. Nou hanteer hy ‘n paar idees wat skynbaar in satanisme gepropageer word (maar wat ook nou nie juis missing is in enige ander godsdiens nie, for that matter) asof dit hul oorsprong in die satanisme gehad het en dat ons eintlik vir hulle daarvoor moet dankie sê. Ek wonder of Maas weet van die Verligting, die modernisme en die post-modernisme – hulle het darem maar ‘n BAIE groot invloed gehad op hierdie sogenaamde 9 gebooie wat aan ons voorgehou word!

Maar goed, veronderstel ons gee hom die voordeel van die twyfel. Kom ons kyk na die dinge wat hy uitlig:
1. Dwaasheid: “kyk na die storie agter die storie, moenie alles met ‘n paplepel opeet nie”. Juis! Dit wil nie vir my voorkom of hy dit met satanisme gedoen het of met enige van die godsdienste/kerkinstansies (wat hy geensins onderskei nie!) wat hy later kap nie. Daar is beslis net op die oppervlak na dinge gekyk. Die storie agter die storie by satanisme is nogals grim, om dit lig te stel.
2. Pretensie: “moenie voorgee dat jy iets is wat jy nie is nie”. Goed en wel. Maar dis beslis nie ‘n idee wat Anton laVey of sy volgelinge uitgedink het nie. Dis ietsie uit die post-modernisme.
3. Solipsisme: “doen aan ander wat hulle aan jou gaan doen”. Dog eat dog world, huh? Die probleem lê egter dat Maas aanvaar dat “enige ander geloof” se siening is “draai die ander wang”. Die EINTLIKE Goue Reël wat deur alle godsdienste loop en in die algemene logika ook ‘n redelike sterk inslag gevind het, is: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.” Dit is dan dus die teenpool vir sy beskrywing van solipsisme. Maas verreken dit egter glad nie en val terug op iets wat hy een keer iewers gehoor het. Die “draai die ander wang”-gesprek in die Bybel het in die volksmond vreeslik vervlak en ons predikante en pastore sal ernstig moeite moet maak daarmee om vir mense te verduidelik wat dit werklik beteken. Dit het met baie meer as wangdraai te make. Ek het nie nou plek vir die eksegese nie, maar ons is mos nou al almal mooi groot genoeg om dit eintlik al te geweet het.
4. Selfbedrog: “moenie jouself aan jou eie neus rondlei nie”. Weer eens ‘n geleende begrip uit die modernisme, nie iets authentic satanisties nie.
5. Kudde-onderwerping: “moenie toelaat dat ander mense jou dwing om goed te doen wat jy nie wil doen nie”. Hallo logika! En hallo die Pastorale Briewe in die Nuwe Testament. Dit gaan keer op keer oor mense wat verlei word en aan ander se vals raad en leer toegee of daardeur deurmekaar gemaak word, waarteen die Bybel dan ‘n redelike sterk saak aanvoer, albeit met ‘n Christelike oogmerk, maar nogtans – dis nie asof die satanisme kopiereg op die idee (of enige van die bogenoemde) het nie. Maas sê ook “dit moedig vrye denke aan en ondersteun die strewe na opinies wat gebaseer is op kennis wat jy self inwin”. Hier het hy eintlik die Verligting, die Aufklärung, ontdek – nie satanisme nie.

En nou doen hy nog ‘n simpel ding: hy voer sy eie argument net halfpad. Het hy uit column-space uitgehardloop? Het die ander artikel op die blad oor die toekoms en Chinese te veel plek gevat, of wat? Want nou sê hy: “Ek is seker teen die tyd verstaan jy die punt wat ek wil maak”. Nee, Deon, ek verstaan nié. Wat IS die punt wat jy wil maak nou eintlik? Want sover klink dit net vir my na argumente hoekom satanisme in vandag se tydsgees hoort. Niks nuwe nuus nie, boet, alles geleende idees.

Hiervandaan toon Maas op ‘n uitstekende wyse dat hy glad nie die verskil tussen gelowe, godsdienste en kerkverbande verstaan nie. Ook val hy hier die foute wat hierdie gelowe/godsdienste/kerkverbande maak aan, in plaas daarvan om na húlle belydenisskrifte te kyk – die “reëls” van hierdie gelowe/godsdienste/kerkverbande. Hy probeer hier die appels van die satanisme met die peersap (nie eens die pere nie!) van die ander genoemde gelowe/godsdienste/kerkverbande te vergelyk en natuurlik duik hy in die hek.

Die Rooms Katolieke is wel teen die gebruik van kondome in ‘n era van VIGS, maar hulle is ook teen voorhuwelikse en onverantwoordelike seks.
Die Anglikane se eenheid mag dalk wel bedreig word, maar die feit dat hulle homoseksuele predikers aanvaar, is ‘n HUGE stap. Dit sê iets van die manier hoe hulle bereid is om met randfigure in die samelewing om te gaan. Meer as wat die satanisme kan sê – wanneer laas het jy ‘n satanistiese koeksisterverkoping of pannekoekstalletjie gesien ten bate van die hulpbehoewendes in Mamelodi of Danville? Ek vra net.

Al wat hy oor “ons eie susterkerke” (waarvan hy nie deel is nie) sê, is dat hulle sukkel om hulle voete in ‘n nuwe bedeling te vind. Okay, wie sukkel nié om hul voete in ‘n nuwe bedeling te vind nie? Ek wonder verder of Maas enige benul het van die kerkherenigingsproses in die familie van NG Kerke wat op die oomblik aan die gang is (vergeet net eers van die probleme, die feit is dat die proses loop). Dit getuig van ‘n grootse, verantwoordelike roepingsbewustheid en ‘n doelbewuste poging om wel hul “voete in ‘n nuwe bedeling te vind.” Die Hervormde Kerk se afgelope Kerkvergadering het ook weer eens bewys dat hulle ernstig is met ekumene. As jy nie weet wat die woord beteken nie, gaan soek dit op.

Party van die Apostole (sic) weier om swart mense in die kerk te aanvaar.” Wie is die “Apostole”, Deon? Is die sogenaamde Ou Apostel-kerk? Is die die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS)? Want, uhm, die swart gemeentes is al jarrre gelede by die AGS ingelyf. Of jy nou by die AGS in Mamelodi of by die AGS in Hatfield of Sunnyside is, jy is by ‘n AGS kerk. Daar is hulle die NG Kerkfamilie een voor en dien wel as inspirasie.

Hier hou Maas op en vergeet gerieflikheidshalwe van die Grieks-Ortodokse kerk (die 3e stroom in die Christelike Kerk, naas die Rooms-Katolieke en Protestantisme) of selfs die Church of Jesus Christ of Latter-day Saints (die Mormone). Hoekom kap hy nie hulle nie? Ek meen, daar is sekerlik ook iets wat hulle verkeerd doen. Of hoe, Deon? Sense the sarcasm…

Die algemene opmerkings wat hy maak rondom die “Christelike kerke” is eweneens slegs oppervlakkige observasies. Die stelling dat die “duiwel die kerk in besigheid hou” laat mens net ‘n mens se kop skud. Ai ai ai. Die kerk is in “besigheid” omdat daar MENSE is, nie omdat daar ‘n duiwel of demone of ‘n Kersvader is nie. Mense en hul lief en leed hou die kerk in “besigheid”. In fact, as dit nie vir Christendom was nie, het satanisme nie regtig bestaansreg gehad nie. (Dis dus eintlik die kerk wat die duiwel in besigheid hou…)

Sure, tieners is hardkoppig en woed heerlik voort in die storm-en-drang fase van hul lewens, maar ek moet nog die tiener ontmoet wat by satanisme ‘n draai gemaak het, daar uit is en teruggekeer het na die Christelike geloof toe en sê dat dit lekkerder was toe hy/sy ‘n satanis was. Gaan kyk na die tieners wat wél ingeskakel is by een of ander vorm van kerkjeugaksie. Hulle bots ook met hul ouers, maar hulle het ‘n ander uitlaatklep. En natuurlik is satanisme nie die enigste ander “aantreklike opsie” (hoe de hel, excuse the pun, is dit anyway aantreklik?) as jy nie meer sondagskool toe wil gaan nie. Maas behoort dit te weet.

Christelike kerke pas nie hulle “reëls” aan “in ‘n samelewing wat vorentoe beweeg” om hul lede te behou nie. Hulle pas wel hul maniere van doen aan en beweeg sáám met die samelewing vorentoe. Ja, kerke sukkel om jongmense te behou, maar daardie jongmense wat die kerk verlaat, kom wel een of ander tyd weer terug. Gaan kyk maar net wat gebeur met jong mense wat oorsee gaan werk, byvoorbeeld Londen. Hulle stroom na die kerke toe.

En as kerke belasting moes betaal het, sou hulle dalk meer werkbare planne gemaak het om hul persele te behou en as hulle dit dan tog sou verloor, sou hulle in skoolsale bymekaar kon kom – kerkwees gaan tog mos nie oor die byeenkoms op die Sondag nie (hoewel daar ongelukkig nog heeltemal te veel mense is wat so dink). Dalk sou kerke dan juis oorleef.

Propageer sy “rubriek” satanisme? Ek stem saam: nee, dit doen nie. As dít propaganda is, is dit in die eerste plek bitter swak propaganda. Dis wel ‘n swak nagevorsde, idiotiese stuk aandagsoekery en Maas kry presies reg wat hy wil hê: hy vergryp hom aan mense se godsdiens (iets waaraan hy in elk geval nie deel het nie) en gooi die vrye sê, wat hy homself oor alles en almal toegeëien het, rond en bont daaroor. Hy kry publisiteit en aandag en dis eintlik al waaroor hy omgee.

Ek voorspel dat Deon Maas dieselfde paadjie as South Park gaan loop: dit skok aanvanklik vreeslik, en gaan daarop uit om dit te doen, en niks of niemand word ontsien nie – maar later steur niemand hulle gewoon meer daaraan nie. Dit bly skokkend, dit hou aan om uit te tart, maar dit phase niemand meer regtig nie.

Hy claim dat “as ons wil hê ander mense moet ons punt insien en ons idees respekteer, moet ons hul punt insien en hul idees respekteer. Om iemand anders se idee te verstaan, beteken nie dat jy daarmee hoef saam te stem nie. Dit beteken dat jy luister na wat hulle sê en dan kan saamstem dat julle nie saamstem nie. Dit beteken dat jy leer wat in ander mense se koppe aangaan en hulle dieselfde vryhede toelaat wat jy verwag dat hulle aan jou moet gee.”

Nou ja, Deon, hoekom practise jy dan nie wat jy preach nie? Jy het halfhartig gekyk na ‘n paar idees wat volgens die strekking van die artikel (net) in satanisme voorkom en dan sommer so ligweg dit wat jy as die teenpool sien, op ‘n onwetenskaplike wyse gekritiseer. Die vryhede wat jy verwag die kerke of wieookal jou moet gee, gun jy hulle duidelik self nie. Of dalk doen jy, maar dis tog al te lekker om langs die kant te staan en vingers na almal rondom jou te wys asof hulle geen invloed op jou of jou wêreld het nie.

Op Maas se uiters verwronge, argaïese wêreldbeeld gaan ek nie nou eens ingaan nie. Ek vind dit wel uiters vreemd dat ‘n agnostic soos hy in die bestaan van die duiwel glo…
Verder hanteer hy gelowe/godsdienste/kerkverbande uiters naïef. Ek sal graag wil weet wanneer laas hy nou regtig ‘n kerk besoek het om uit te vind wat daar aangaan.

Ek self is nie aldag mal oor kerkpolitiek nie, inteendeel dit frustreer die hel (pun intended!) uit my uit. Maar ek is wel lief vir die kerk en die Christendom. Om op my vroeëre argument voort te borduur: wanneer laas het jy ‘n satanistiese kerkbasaar gesien waar die opbrengs ten bate van die werk van die gemeente gaan? Of ‘n liefdadigheidsprojek wat deur TUKS-studente aangepak word met satanisme as die hoof dryfveer? Of wie het al gehoor van die Satanistiese Maatskaplike Raad/Diens, wat na armes en weeskinders omsien en mense se sosiale probleme hanteer? Nie ek nie…

Dis dieselfde “georganiseerde” kerke wat wél hierdie dinge doen, Deon. Dít is die dinge wat vreedsame naasbestaan bevorder. “How do you change the world? One Act of Random Kindness (ARK) at a time…” Ek sien die satanisme het daai een onder die duim. Raait…

Nou’s ek moeg. Ek gaan nie weer my tyd en energie op hierdie stront mors nie. O, ja, laaste ding: hy is wel reg dat 666 net ‘n syfer is. Dis Keiser Nero s’n.

  1. November 13, 2007 at 11:05 am

    Gelukkig het jy die moeite gedoen en nie ek nie. Dis maklik om te kritiseer, om vinger te wys. Christene moet dit baie keer leer, ons wys sekerlik te maklik vinger na ander, maar Maas, met sy ‘verligte, diepgaande filosofiese denkwyse’ moet skynbaar ook. Iemand moet dalk vir die arme man net goeie teologie voorskryf, want hy het duidelik nog net met die slegste uit die Christendom, en enige godsdiens, te doe gehad. En O ja, begin dalk by Max Warren se 7 reë;s vir gesprek met mense van ander geloofsisteme, een daarvan is om nie die beste uit een geloof met die slegste uit ‘n ander te vergelyk nie. ‘n Ander is dat sisteme nooit met mekaar kan praat nie: Satanisme kan nie met die Christendom praat nie, ook nie Agnostici met enige stroom nie. ‘n Agnostikus kan met ‘n Christen praat, dan is dit dialoog, dan kan mens luister.

  2. Immanuel van Tonder
    November 13, 2007 at 1:14 pm

    Tiaan, briljant gedoen! Jou skerpsinnige kritiese evaluering van Maas se artikel verdien ‘n toekenning. Ek het lekker gelag en saam gehuil … ek weet jy het moeg geraak of gaan swot (laaste paragraaf), maar ek wil sê: Moenie ophou nie! doen dit weer.

  3. Ferdinand
    November 13, 2007 at 3:59 pm

    Hi Tiaan!
    Dankie vir jou stuk – dis skerp, goed deurdag, ontbloot Deon Maa vir wat hy regtig is en ook die Christene of “Christene” ouens wat al hul speelgod uit die kot gooi omdat dit die ergste vorm van Godslastering sou wees. Wat sê jy van die SMS wat sê dat Christene Rapport moet boikot?
    NS: Jou groei is duidelik sigbaar-doet zo voort!
    Shalom
    fvn

  4. Nelius
    November 13, 2007 at 4:02 pm

    Wragtig pragtig!
    Amen op jou en Cobus en Immanuel se reaksies op jou!

  5. November 14, 2007 at 4:19 am

    Tiaan. Ek dink jou analise is spot on. Maar ons almal val daarvoor om vir Deon te gee presies wat hy vra: reaksie. Ek dink persoonlik sy rubrieke is net ‘n fase en kan nie dit self onderhou in die langtermyn nie.

    Ferdinand: Vergeet van ‘n aksie om Rapport te boikot. Die toevallig verkope van koerante in SA is net te hoog. Ek het self gesien hoe omstrede boikot aksies, gewoonlike van Christene, teen van die Afrikaanse koerante, tot verhoogde sirkulasie lei!

  6. November 14, 2007 at 8:03 am

    Dankie vir almal se kommentaar! Ek waardeer dit as mense wie ek respekteer vir my hul eerlike opinie oor ‘n saak gee. Ek is self nie regtig gespin oor die Rapport-boikotte nie en dink ook die rubriek gaan sy trefkrag verloor kort voor lank.

  7. André
    November 14, 2007 at 11:34 am

    Dankie Tiaan!
    Ek kan nie altyd so kommentaar oor iemand uitlewer nie, en glo dit is nodig want mense moet net bietjie na hul-self kyk om wat hulle tot die lewe bring. Ek lees nie so baie artikels nie, maar weet dat mens by sekere plekke uitkom met ‘n doel. Al wat mens maar moet op staatmaak is dat mense soos die tog eendag sy foute sal raaksien en sy plek sal vind in die Here.

  8. SHARON C. HARRIS
    November 15, 2007 at 3:44 pm

    Well done Mr T
    Ek is so bly ek het na my hart geluister & nie die sms aangestuur nie. Ek is baie lief vir my volkie maar mapstieks ons kan darem maklik op hol raak. Plaas ons net bietjie vir onsself dink dat iemand wat so ‘n “bee-atch” kan wees niks kan weet van christenskap of satannisme nie for that matter.
    Ek gaan nou dadelik die e-pos vir al my maatjies stuur want as ek dit vir hulle moet verduidelik stem hulle dalk net saam met Mnr Maas. GHIE GHIE GHIE

  9. Carli
    November 15, 2007 at 4:35 pm

    Hi Tiaan
    Baie geluk met ‘n uitstekende stuk skryfwerk. Jy is absoluut reg as jy sê dat Deon Maas net aandag en sensasie soek en dat hy sal voortgaan om dit te soek, EN dat hy duidelik nie respek het vir enige mens of ding nie. Die onderwerpe van sy artikels sal altyd kwessies wees wat kwel in vandag se tyd, ons moet maar gewoond raak daaraan.
    Ek besef maar net dat ek moet lief bly vir die kerk en die Christendom, en moet baklei daarvoor, al gaan dit hoe sleg en al het ons elkeen ook watter slegte ervaringe rondom die kerk gehad in die verlede. Dis net deel van wie ek is, en dit sal altyd wees. Interessant, die Here sê ook dat ons eintlik nie nodig het om Sy saak hier op aarde te beveg nie, Hy het dit al lankal gedoen. Hy veg eintlik vir ons. So, ek dink Hy sit daarbo en lag eintlik oor die hele saak! En dat ons ons aandag moet bepaal by wat regtig belangrik is en by wat Jesus ons kom leer het – om vir alle mense lief te wees en hulle te seën, en hulle nie moet oordeel nie (ek moet dit ook nog leer). So, kom ons seën maar vir ou Deon, nie dat ek dink hy weet enigsins wat dit beteken nie, soveel beter dan eintlik! Ek’s eintlik jammer vir die amre siel.
    Net ‘n stukkie getuienis – Ek het daardie Sondag die Rapport oopgemaak, die artikel se onderwerp gesien, en gedink- Ai, wat skryf hy nou alweer!, maar tog ‘n mental note gemaak om dit later te lees. En ek het nooit weer daarby uitgekom om dit te lees nie, en tot vandag toe het ek nie. Besef dit was maar net genade van Bo!
    Hou so aan.
    Carli

  10. November 15, 2007 at 5:05 pm

    Uitstekend. Baie dankie. Ek is ook nou moeg gelees aan jou lang post, maar dit was beslis die moeite werd. 🙂

  11. November 16, 2007 at 5:53 am

    Tiaan: Interessant tog, Die Burger en Beeld berig vandag dat Rapport Maas se rubriek skrap oor die beplande boikot.

  12. Charlotte
    November 16, 2007 at 2:43 pm

    Hi, nice post. Ek het snaaks genoeg nie die column gelees nie, net die nuus artikel wat se dat dit geskrap is. Dit lyk wel vir my of dit reaksie gekry het, en miskien was dit goed dat Christene vir ‘n slag weer praat oor wat vir hulle belangrik is. Ek was al in genoeg gesprekke oor evolusie vs skepping, kleindoop vs grootdoop etc. om te kan sien dat ons dit tog baie meer geniet as om te verskil as saam te stem. Dalk kan ons nou saamgesels oor dit waaroor ons saamstem, en nie argumenteer oor dit waaroor ons verskil nie.

  13. Joe de Lange
    November 19, 2007 at 4:01 pm

    “nie iets authentic satanisties”

    Wat presies bedoel jy met “authentic satanies”?

    “Ek vind dit wel uiters vreemd dat ‘n agnostic soos hy in die bestaan van die duiwel glo…”

    Wat gee vir jou die idee dat Maas in die duiwel glo?

    Anton La Vey, die stigter van The Church of Satan het nie in ‘n werklike duiwel geglo nie maar eerder vir Satan gebruik as ‘n metafoor vir hul teenstand teen aspekte van die samelewing en kerk. Die naam, Satan, spruit immers uit die Hebreeuse woord vir “teenstander”.

    “Ek wonder of Maas weet van die Verligting, die modernisme en die post-modernisme – hulle het darem maar ‘n BAIE groot invloed gehad op hierdie sogenaamde 9 gebooie wat aan ons voorgehou word!”

    Dit het ja. Unashamedly. So ver ek Satanisme as ‘n gekodifiseerde geloof verstaan spruit dit juis uit die Verligting, modernisme en post-modernisme. Hoe presies is hierdie ‘n argument teen Maas se sentrale punt dat Satanisme ‘n erkende godsdiens moet wees?

    My enigste beswaar teen die rubriek is dat Maas se karikatuur aan die begin van die artikel (katslag en bloedbesmeerde bybels) verteenwoordigend is van ‘n okkultiese form van Satanisme – ek wee nie wat hulle dit noem nie, maar dit is beslis nie ‘n gekodifiseerde geloof nie en het in elk geval niks met Anton La Vey en sy 9 gebooie te doen nie.

  14. ..........
    November 19, 2007 at 4:44 pm

    Dis n groot kommer dat die regte kwessie van vryheid van spraak heeltemal mis gekyk word ten gunste van n argument teen satanisme. Dit vat nie n besonder morele persoon om die foute van satanisme raak te sien nie. Dit is wel n prestasie om oopkop genoeg te bly om objektiewe opmerkings oor n ander geloof te maak.

    “wanneer laas het jy ‘n satanistiese koeksisterverkoping of pannekoekstalletjie gesien ten bate van die hulpbehoewendes in Mamelodi of Danville?” – daar het jy my verloor, belaglik

  15. November 19, 2007 at 7:29 pm

    maas is overrated en effe dom. laat staan tog net die vent, jy mors jou asem.

  16. cornelis
    November 20, 2007 at 12:01 pm

    Wow! raait, ek weet nou nie veel van teologie nie tiaan, maar ek het al die moeilike woorde gaan opsoek en verstaan 100% dat jy was seker maar bietjie onsteld na die lees van daardie artikel (soos die res van ons), ek is bly dat daar christene is wat hulle self so sterk kan uitdruk en vir die res van ons dit mooi in beter perspektief kan sit! ek wil vir jou se dankie! as ek ooit ernstige issues het, dan sal ek jou bel! lyk my jy weet maar waarvan jy praat! well done!

  17. wolliem
    November 20, 2007 at 10:38 pm

    Tiaan, baie goed en Johan, ek stem volkome saam met jou.

  18. Gemini
    November 21, 2007 at 8:39 am

    Tiaan ek het jou stuk baie geniet – doen so voort.
    Verskillende mense het verskillende menings en mens sal nooit kry dat almal saamstem nie. My mening is net dat Deon Maas ‘n baie liberale mens en verlore siel is. Hy kan sy menings uitspreek en mense afkraak soos hy wil, maar eendag sal ook hy verantwoording moet gaan doen daarvoor. Wat die mense se reaksie op die Rapport betref, ja goed ons sal dalk nie die gewenste uitwerking op Rapport kan he nie, maar ten minste wys dit vir ons dat daar darem nog ‘n handjievol Christene is wat nog vasstaan in hulle geloof en wat veg vir dit wat vir hulle belangrik is. Ek is nie skaam om te erken dat ek die sms ook aangestuur het na feitlik almal op my lys van kontakte nie. Ons as Christene moet saamstaan. Ander mense kan maar van ons verskil en vingers wys, maar as ‘n saak vir ons belangrik is, maag ons daarteen of daarvoor opstaan. Dit is egter net vir my baie hartseer om te sien hoe ons wereld besig is om te verval. Mense raak al hoe meer losser van geloof en dryf al hoe meer weg van God af en tog het ons Hom so nodig. Ek wens net almal wil dit besef, maar nou ja dit is hulle keuse en elke mens is tog geregtig op sy/haar eie keuses in die lewe. Dan stem ek ook nie saam met Deon wat na Satanisme verwys as ‘n godsdiens nie. Die woord godsdiens is na my mening afgelei van die woord God. Godsdiens is dus om God te dien, op watter manier jy dit ookal doen. Sataniste dien beslis nie vir God nie so hy kan dan eerder na Satanisme verwys as ‘n geloof maar beslis nie as godsdiens nie. Maar nou ja Deon se pitte is seker nie almal meer lekker vars nie, want soos Tiaan ook gese het: Deon raak dinge kwyt sonder om eers mooi sy feite te gaan seker maak. Punt van die storie bly egter: maak nie saak hoe baie ons van mekaar hieroor verskil of daaroor te kere gaan nie, solank jou saak met jou geloof reg is, is als okay,

  19. Joe de Lange
    November 21, 2007 at 9:49 am

    Johan, of mens nou vir Maas laaik of nie het boggerol te doen met sy argument.

    Wat my veral opgeval het oor die sms-storm is hoeveel mense die “veldtog” vergelyk met die Mohamad karikatuur herrie – amper asof hulle as’t ware sulke fanatisisme bewonder! Die rubriekie was nie eers godslasterlik nie en al was dit – Christene is almal godslasterlike verdoemdes in die oe van Islam. Ek’s self nie mal oor Maas nie (ek vind hom glib)maar wragtig dis tyd dat julle dit in julle koppe kry dat alle Afrikaners nie Christene is nie dat Afrikaanse koerante soos Rapport immers nie die Kerkbode is nie. Of lees Christene net stof wat hul vooropgestelde idees beaam?

    ‘n Veel meer konstruktiewe benadering tot die ontsteltenis sou gewees het vir Rapport om ‘n teenvoeter in die volgende uitgawe te publiseer.

  20. November 21, 2007 at 11:41 am

    Hi!

    Ek het toevallig op die blog ‘geland’ na ‘n Google soek wat ek gedoen het vir Deon Maas…eerste keer wat ek hier ‘verby lees’…goed gedoen.Die inhoud en kwaliteit van jou blog is van ‘n hogere standaard.Net vinnig…ek is effens teleurgesteld op die reaksie oor Maas.Ek dink society (en dit sluit ‘ons Christene’ in ),het ouens soos hy nodig. Hy is amper jou ‘gewete’ en hy gee jou so dan en wan ‘n ietsie om oor na te dink.’n Ietsie om jouself aan te toets en aan jou die geleentheid te gee om op te staan vir waarin jy glo (en nie glo nie).Sy ‘afdanking’ en boikot was onnodig.Ons weet mos waarin (en in Wie) ons glo…Dit sal mos simpel wees om soos kinders op die speelgrond na die juffrou te hardloop elke keer as iemand met ons ‘lelik’ is…In elk geval.

    lekker dag verder
    p

  21. Henry
    November 21, 2007 at 12:25 pm

    Hallo Tiaan

    Dankie vir ‘n puik stuk. Ek sal dit laaik as hierdie skrywe van jou in die hoofstroom media te lande kan kom. Ek het nie self die artikel gelees nie, want ek vermy Maas waar ek kan. Noudat ek dit wil lees is dit nêrens te sien nie. Ek kom egter uit jou kritiek agter dat dit ‘n saamgeflanste stuk is wat so bietjie waarheid, ‘n klomp onkunde en heelwat Maas-opinie bevat. Dit blyk nie ‘n deeglik nagevorste stuk te wees nie. Maar nou ja, dis net ‘n rubriek en daar geld nie reëls tov inhoud nie, of hoe?

    Wat my egter frustreer is dat Christene as ‘n klomp onnosel skape voorgestel word. Selfs van die akademici dink hy’s cool. http://www.news24.com/Die_Volksblad/Briewe/0,,5-89_2224525,00.html

    Waar val ons uit die bus uit dink jy? Wat sou na jou mening die regte optrede gewees het? Dalk net ophou om Rapport te koop en stilbly daaroor?

    Blessings vir jou.

    Henry

  22. Ockert Brits
    November 24, 2007 at 12:07 pm

    Tiaan,

    Ek het die hele relaas rond om Deon Maas vanoggend gelees, en jou kommentare ook. Ek vind jou kommentaar goed. Nie dat ´n mens andere nie die geleentheid gun om hulle standpunt te lug nie, maar sinvolheid, deurdagtheid en ´n goeie samehang is tog in ´n publikasie gevra…

    Nou vir my kramp. Ek is so 10 jaar gelede na Duitsland toe verplaas. Ons familie besoek SA elke jaar. Wat ons opval en irriteer (nogal my tienderjarige kinders ook!) is dat almal in SA deesdae in ´n Engelse d**l getrap het. Dit is so mode om Engelse uitdrukkings die hele tyd tussen-in te laat val. Ek weet ons praat ook maar so, maar dit het so toegeneem en nou selfs in ´n goeie artikel soos joune. Man!!! Sommige van die uitdrukkings is ook raakgevat en passend, maar het ons Afrikaners so lui en onkreatief geword dat ons nie meer sulke uitdrukkings self uitdink nie? Wat het geword van op-die-kop-geslane uitdrukkings in Afrikaans soos “koffiemoffie”, ens.? Asseblief Tiaan, en almal daar, bou maar weer aan ons taal…?

  23. KIND VAN GOD
    August 27, 2008 at 12:15 pm

    Ek lees nie koerant, kyk nie nuus en is kieskeurig wat op die tv in ons huis toegelaat word, deur sulke uitlatings wat net die verkeerde ore of ogies moet bereik, soos Deon Maas se uitlatings. Maar soos die nootlot is sou ons op RSG sy program luister oor satanisme wat ‘n geloof is wat vrylik beoefen moet word en op ander geleentheid ook die gebruik van “drugs” wat wettig gemaak moet word. Die man is uit om hiusgesinne,tieners se lewens te verwoes. Ek hoop hy kom tot sy sinne, want ek wil nie hy wees wat in ‘n Lewendige God se hande gaan val die. AMEN

  24. KIND VAN GOD
    August 27, 2008 at 12:20 pm

    TIAAN
    DANKIE DAT DAAR NOG SULKE OOPKOP JONGELING SOOS JY IS TIAAN WAT NIE BANG IS OM SULKE MENSE SOOS DEON MAAS TE LAAT WEET HY IS EINTLIK PATETIES IN ONS CHRISTENE SE OE. HY VERDIEN WAT NA HOM TOE GEGOOI WORD.

  25. Walton
    September 29, 2008 at 11:25 am

    Die ou Apostoliese geloof het swart wit en bruin mense in die kerk.hoekom kom kyk julle nie self nie

  1. No trackbacks yet.

Leave a reply to Henry Cancel reply