Home > afrikaans, Blogroll, Life, South Africa, Uncategorized > Backstabbing…what happened to me

Backstabbing…what happened to me

Hey everybody
Sorry that this post is in Afrikaans. There will be a translation within the next few days. Also, I will catch up with all the promises I made, like the expose on rugby and religion and stuff on going back and all that. It’s just that this has been a hectic time and if you read this then you will see why…

Blessings!
Tiaan

Hallo almal

Ek skryf hierdie post net om ‘n paar stories te stop wat die rondte doen en om te sorg dat die waarheid veilig bly. Ook om julle wat nie hiervan gehoor het nie in te lig (sorry, dis nie ‘n mooi storie nie!)! Gelukkig het dit ‘n positiewe einde en ‘n waarskuwing…

Ek het Saterdagaand 24 Maart 2007 na die Sêrrie-finals op TUKS saam met vriende wat ek lanklaas gesien het (Peach Boshoff en ander) in Hatfield Square gekuier. Dit was ‘n baie lekker aand, almal was in ‘n opgewekte bui en omdat ons mekaar lanklaas gesien het, het ons lekker gekuier. Dié wat my ken behoort teen die tyd al te weet dat ek ‘n bier op sy tyd geniet, maar dat ek gelukkig lankal geleer het om myself te kan beheer. Hierdie spesifieke aand was geen uitsondering nie.

Miskien moet ek net ‘n bietjie konteks ook gee, vir die wat nie die omgewing ken nie. Die manskoshuise is ongeveer 1.2 km van kampus af en ongeveer 1.7 km van die Square af, hang af watter pad jy stap. As jy teen ‘n redelike pas stap, vat dit 15 minute van Magrietjie-dameskoshuis (reg oorkant die ingang van die Square) tot by Kollegetehuis (waar ek bly). Dis nou as jy opdraai en met Suidstraat by Duncanstraat insluit en dan afdraai en met Duxburyweg tot by Lunnonweg loop. Lunnonweg loop in die manskoshuisterrein in. In Duxburyweg gaan jy verby ‘n Mesieskool, St Mary’s Diocesan School for Girls. Die straat is redelik verlig, dis nie regtig wat jy sou noem ‘n agterstraatjie nie. Hierdie pad is een wat ons (meeste mansstudente wat op die proefplaas woon) al baie gestap het in ons lewens.

Ek was ‘n week en ‘n half vantevore in ‘n motorongeluk met my bakkie. Niemand het seergekry nie en die bakkie het net bakskade opgedoen, maar hy was in so ‘n toestand dat ek nie op die oomblik met hom kon ry nie. Daarom het ek die betrokke Saterdagaand voetgeslaan kampus toe vir die Sêrrie-finals, waarna ek Square toe is. Dis baie naby aan kampus en ‘n mens kan basies regoor kampus stap tot daar.

Nou ja, so kuier ons toe die aand voor Cheeky Monkey en later in Chillies. Omdat ek die Maandag daarna nog ‘n Dogmatiek-vraestel gehad het om te skryf (‘n Nederlandse handboek!), het ek hier teen 00:30 besluit om dit ‘n aand te roep en terug koshuis toe te gaan. Al het ek net 3 biere gedrink, het ek tog besluit om eers by die Sasol-garage in Duncanstraat aan te gaan en ‘n cheese&ham-pie te koop. Met die vleispastei in die een hand en my selfoon in die ander hand het ek verder gestap. Nou, ek weet dit was waarskynlik nie die slimste ding om te doen nie. So, les nommer 1 uit hierdie aand: moenie laataand alleen op jou selfoon loop en sms of Mxit nie!

Omdat ek verlede jaar oppad na die kommune waar ek toe gebly het, gemug is, was ek wel op my hoede vir mense wat agter my geloop het. Toe ek dus daardie aand weer mense agter my hoor, het ek eers gaan staan en hulle laat verby gaan. Dit was by die hek van St Mary’s. Ek het nie opgelet hoe ver die drie swart ouens wat toe verby my geloop het, voor my gestap het nie. ‘n Ent voor hulle het nog 2 ander swart outjies geloop, 1 wat ek herken het omdat hy ‘n eerstejaar in my koshuis is.

Terwyl ek nog so loop en sms, word ek skielik gestop deur ‘n hand wat my van voor stop. Ek het yskoud geword omdat die vorige mugging onmiddellik deur my kop geflits het en die eerste ou sê toe ook die gevreesde woorde:
“Hey, I want your phone!”
Ek weet sommige van julle het gelag toe julle my reaksie hoor, maar wat anders kon ek doen? Dit sou die 2de keer wees wat ek gemug word, en as dinge so vinnig gebeur, reageer ‘n mens instinktief. So ek skree toe:
“No!”
Die volgende gebeure het alles so vinnig gebeur dat ek wonder hoe ek alles kan onthou, maar ek dink nou dis daardie ding van jou brein wat die gebeure stadiger maak sodat jy kan reageer (ek het iets daarvan geleer toe ek die toets vir my wapenlisensie geskryf het).
Met dié dat ek “No!” skree, ruk die een wat voor my gestaan het, ‘n mes uit. Ek dog toe: goed, ek sal my foon gee, maar voor ek nog enigiets kan doen, voel ek hoe die een wat agter my kom staan het, my reeds met ‘n mes in die rug steek. Ek het geskree en soos wat ek op my knieë neerval, gryp die een wat langs my gestaan het, my foon. Die voorste een se oë het wild rondgekyk en toe hardloop hulle met ‘n spoed daar weg.

Vir ‘n paar minute (oomblikke? minute? ek weet nie hoe lank nie) het ek net geskok daar, op die draai van die pad op my knieë gesit. Ek kon nie glo wat sopas met my gebeur het nie. Nie net is ek (weer) van my selfoon beroof op ‘n gewelddadige wyse nie – hierdie keer was die mense wat dit gedoen het, bereid om my seer te maak, dood te maak…net om my selfoon te steel. Ek bedoel, hoe doen ‘n mens dit? Hoe kan jy net besluit, sonder enige rede: ek gaan vanaand hierdie persoon se besittings vir my vat en sommer sy lewe ook neem om my doel te bereik. Hoe kan enigiemand so dink???

Ek besef toe dat ek nie daar kan bly nie en dat ek niemand kan bel nie. Gelukkig was die ingang van die hek by die manskoshuise net omtrent tweehonderd meter van my af en met my hand op my rug staan ek toe op en strompel daarnatoe. ‘n Ent voor my het die ander 2 ouens wat ek ook gesien het, gestap. Die eerstejaar van my koshuis, Abraham, het toe gaan staan. Ek het hulle gevra om my tot by die koshuis te help. Hulle het gesê dat hulle my hoor skree het, maar dat hulle nie nader wou gaan nie.

By die koshuis gekom het ek by die gang op die grondvloer, Die Gat, ingegaan en by die tweede kamer van die punt af byna die deur afgeklop. Ek het geweet dat my rug bloei en dat ek nodig het dat iemand my hospitaal toe moet neem. Daar was nie antwoord by die deur nie, maar die ouens wat reg oorkant hulle gebly het, het uitgekom. Gelukkig het ek hulle ook geken en hulle het my toe hospitaal toe gevat, Little Company of Mary in Groenkloof, Pretoria. Van die skok en adrenalien het ek naar begin raak. By die hospitaal het die dokter rustig die wond skoongemaak en my vrese oor HIV/Vigs besweer, my met Tetanus ingespuit en met 4 steke die wond toegewerk. Ons is toe terug koshuis toe.

Die volgende dag het ek vir my gaan pynpille koop, maar kon nie antibiotika kry nie omdat dit mos met voorskrif gekry word. Later die dag het my pa se suster, Tannie Connie, voorgestel dat ek Maandag na hul huisdokter toe gaan om die saak af te handel. Alles was fine daardie Sondag, en ek het selfs verder aan die Dogmatiek geleer gekry.

Teen die aand het die nuus natuurlik ook al reeds soos ‘n veldbrand versprei en by die kerk moes ek net die heeltyd vertel. Die weergawes is maar kort gehou. Tydens die diens het ek egter agtergekom dat ek weer duiselig en moeg begin raak en dat iets nie lekker is nie. Na die tyd het ek en twee van my vriende, Cobus en Maartje, gaan notas afrol vir die volgende dag se Dogmatiek-vraestel. Daar het ek regtig sleg begin voel en begijn hoofpyn kry. Ons het toe al reeds besluit dat ek nie die volgende dag gaan eksamen skryf nie, maar dit tot die hereksamens sal laat oorstaan.

Die volgende oggend het ek gedog ek gaan dood. As ek gelê het, was alles okay, maar sodra ek regop gekom het, het my agterkop so erg begin pyn dat dit my letterlik weer platgetrek het. Ek kon nie regop bly nie en het toe my Tannie gebel vir daardie afspraak by die dokter. Ons is toe later soontoe en hy, Dr Etienne Lubbe, het ‘n vriend van homgebel. Hulle het toe besluit dat die beste ding sal wees is as ek ‘n neurochirurg sien. So, toe is ons terug Little Company of Mary toe. Daar het ek Dr Gurnell gesien wat toe voorstel dat hy rugmurg van my trek om toetse te doen en my dan vir 2 dae in die hospitaal te laat bly vir observasie. ( Dit was die eerste keer dat ek opgeneem is, anders as die rumours wat sê dat ek 3 keer opgeneem is oor die naweek!) So is ek toe in die hospitaal ingeboek. Die lumbal puncture het die aand plaasgevind en dit is regtig so seer soos wat die mense sê! Die toetse het die volgende oggend teruggekom en alles het gesê dat my rugmurg skoon is. Toe het ek net die res van die 2 dae in die hospitaal gelê terwyl my antibiotika met ‘n drup ingevoer is. Woensdagmiddag 28 Maart is ek teen 17h30 uit die hospitaal ontslaan. En ja, die Saterdagoggend daarna het ons op die Kalahari Konserttoer van NG Universiteitsoord (waarvan ek en Annelie Bouwer die toerleiers was) vertrek…

So, leer asseblief hieruit dat
• ‘n mens nie in SA alleen kan rondloop nie selfs al ken jy die pad
• jy nie op jou foon moet loop en sms/mxit nie – bly eerder bewus van jou omgewing
• aanvallers nie noodwendig hobo’s of gommies is nie – my aanvallers was geklee soos enige ander student
My steke is vanoggend uitgehaal en die wond is mooi toe. My rug pyn nog as ek sleg geslaap het of op ‘n snaakse manier gelê het, maar verder is alles onder beheer. Die geestelike shots wat ek gevat het, is ook al baie beter, maar die emosionele genesing gaan waarskynlik langer vat. Dis vir my moeilik om (swart) mense agter my rug te vertrou. Verskoon my, die 2 kere wat ek gemug is, was dit nie deur wit mense nie…

Anyway, so dis dan die feite van my kant af. Asseblief: bly veilig. Kyk na julself. Ek het groot geskrik en ek is jammer as ek julle laat skrik het. Pas julself dus op! Dis gevaarlik daarbuite en ons wil tog nie mekaar verloor nie!

Mooi bly. Ek is lief vir jul almal!

Mr T

  1. aventer
    April 12, 2007 at 6:36 pm

    Is baie bly om te hoor dat jy oraait is. Klink na ‘n horrible ervaring. Die vertroue ding is heeltemal te verstane. Maar darem het jy baie goeie vriende wat jou sal help.

    Bly veilig

    Annemarie

  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: