Home > afrikaans, Blogroll, Bybel, church, gebed, Jesus, prayer, religion, theology > Die Feesmaal (I): Gebed

Die Feesmaal (I): Gebed

FEESMAAL

“U laat my by ‘n feesmaal aansit
terwyl my teenstanders moet toekyk…”

Verantwoordelike teologie. Wat is dit? Kan so iets vasgevat, gedefinieer, beskryf word? Ek hoop van harte so! Want daarsonder sal dit chaos wees daar buite – erger as wat dit reeds is. Dis ‘n teologie wat eerstens verantwoord kan word deur die Bybel, natuurlik, deur altyd binne konteks te bly sonder om “verse-picking” te pleeg. Verder moet dit ook verantwoord kan word deur die lewe – ervarings deur mense, of dit nou geloofservarings is of andersins – maar die werklike lewe met al sy swaar en seer, sy lekker en sy goed, sy op sowel as sy af. Dis ‘n teologie wat vergelyk kan word met ‘n restaurant waar jy ‘n maand vooruit moet bespreek om plek te kry en waar jy lank vir jou kos wag, maar wanneer dit kom, is dit deur en deur die moeite werd!

Wat sal onverantwoordelike teologie dan wees? Dis ‘n teologie wat ‘n cheap, plastiek godsdiens verkondig. ‘n Teologie van maklike antwoorde, kitsoplossings, patroongebede en klein boekies met blomme op die voorblad. Dis ‘n teologie wat byna soos ‘n kistkosrestaurant is: dit het ‘n redelike wye verskeidenheid van maklik bereikbare antwoorde en as jy dit nie kry nie, dan vra jy nie reg nie. Dit kom toegevou in waspapier of polistireenhouers en hou net ‘n klein rukkie voordat ‘n mens nog daarvan nodig het. Dis baie gewild en almal gebruik daarvan, maar diep binne weet ons dis nie volhoubaar nie. Kyk maar wat het met die arme ou van Supersize Me gebeur!

Nou, die probleem kom in wanneer ons op laasgenoemde begin staatmaak. Verbeel jou SPUR of DROS hardloop uit patties uit. Vinnig hardloop hulle na die MacDonalds langsaan toe, koop ‘n paar burgers en sit dit vir hul klante voor en verwag boonop dat die klant dit moet waardeer en daarvoor betaal – die prys wat ‘n SPUR-burger sou gekos het. Dis tog absurd, of hoe? Maar dis tog wat ons doen. Mense kom na ‘n erediens of godsdienstige bymekaarkoms om met vaste kos gevoed te word en dan gee ons hulle brood en water en dikwels eintlik net plasiek. En as hulle dan, soos die mense in die restaurant nie weer daardie spesifieke plek besoek nie, ook ons byeenkomste/samekomste begin vermy, vra ons skielik hoekom? Dan dink ons skielik aan nuwe “spyskaarte”, miskien ‘n nuwe look vir ons “restaurant”, dalk verander ons ons naam om mense weer te lok. Maar ons kos? Ons gaan voort om ons klante te kul en vir hulle louwarm, tweederangse kos voor te sit en net ‘n gereformeerde sousie oor te gooi sodat dit darem lyk soos die een op die prentjie.

Genoeg met die kos-metafore! sou jy sê. Teen dié tyd water jou mond seker lankal al…of is daar dalk ‘n wrang nasmaak wat daarin agtergebly het, of ‘n sooibrand wat nog deurslaan na die laaste “maaltyd” en dit wat daar gebeur het. In ‘n samelewing waar kos ‘n integrale deel van ons almal se verskillende kulture uitmaak, dink ek is die metafoor juis besonder gepas. Almal kan relate. So, sit aan jou borslap, want dalk gaan hierdie ‘n morsige besigheid wees en dalk gaan die sop spat!

Gebed

Die kinders sit in die kerkbanke, angstig, afwagting in hul hartjies wat klop. Die gebedsmarathon gaan byna begin, nog net so 20 minute of so voordat die 25-uur van gebed afskop. Almal is in skofte gedeel en daar is 15 bidstasies waar daar vir verskillende sake voorbidding gedoen word. Maar eers is daar (en ek sukkel om die woord getik te kry, so laat dit my hare rys) gebedsopleiding. Ons gaan eers nou, binne 20 minute, vir die kinders wie se ouderdomme wissel van 12 tot 17 leer hoe om ons verstande oop te maak dat ons God se stem kan hoor, anders kan ons nie Sy stem hoor nie.

Die eerste vrou kom vorentoe met ‘n skryfbord waarop sy ‘n sirkel geteken het wat in drie dele verdeel is. Ons almal weet ons is ingedeel in liggaam, siel en gees, begin sy. Ons liggaam is die deel wat ons toegooi onder die klippe as ons doodgaan, ons verstand en gees is dit waarmee ons dink en emosies voel. Ons siel is dit waarmee ons bid, die deel wat met God kontak het

Ekskuus?

Sodra jy tot bekering kom, word jy deel van die geesteswêreld, dan het jy toegang tot die geesteswêreld, daarom moet ons “geestesoë oopgemaak word” sodat ons kan sien wat God vir ons sê.

Kan iemand asseblief gou ordentlike eksegese gaan doen van Efesiërs 1? Dankie!

So, dan is jy nog hier op die aarde, maar reeds deel van die geesteswêreld.

Het ek iets gemis? Is ons terug na ‘n dualistiese, gnostiese wêreldsbeskouing waar alles wat vleeslik is, sondig is en alles wat geestelik is, rein is? Het Jesus nie reeds die wêreld oorwin nie? Is hier nog hierdie twee-wêrelde ding waar ons net moet oppas of ons word uitgesny uit die wingerdstok (gelukkig kan ons teruggëent word, onthou!)?

Jy moet net jou gees instel op God se stem, jy moet jouself oopstel anders kan God nie met jou praat nie.
So asof ons Hom skielik tot ons vermoëns kan beperk. Ek sidder by die gedagte daaraan.

Sy deel vir almal bandjies uit met ‘n versie uit 2 Kronieke uit daarop, vir dié wat hulle tot gebed verbind.

WAT??!!

In plaas van ‘n lewe van gebed, ‘n lewende verhouding met God wat deur Jesus en die Heilige Gees 24/7 in jou woon, leer ons nou vir ons kinders dat hulle net met God kan praat en Hom net kan hoor as hulle iets amazings van hulle kant af gedoen het. Dan sal die Koning (!) ‘n oudiënsie met hulle toestaan, want hulle het al die regte voorbereidings getref.

Onthou ek het gesê die eerste vrou het opgestaan. Nou was dit die tweede een se beurt. Redelik geset, al oor haar ouderdom van jeugwerk doen (ja, ek dink regtig daar is so iets soos ‘n expiry date vir jeugwerk. Dink logies daaroor. Dit het niks met jou ouderdom te doen nie, maar alles met jou uitgangspunt, mindset en aanslag) en reg om hierdie arme kinders se koppe lelik deurmekaar te maak.

Ons het ‘n wonderlike pa, die beste een wat daar is! skop sy af, selfs al is jou eie pa nie so watwonders nie of al hou jy van hom, hierdie Een is beter.As jy jou pa vir die motor se sleutels vra, gaan hy nie eers oor drie weke vir jou sê: ‘Hier is die sleutels’ nie. Jy gaan sê: ‘Huh?’ Jy gaan nie weet waaroor dit gaan nie. As ons God iets vra, antwoord Hy ons dadelik. As jy Hom nie hoor nie, dan luister jy net nie.

ASSEBLIEF, HERE, HELP!!!

Hoe kan ons sulke absolute snert, sulke onsin, sulke rubbish aan kinders in die vormingsjare van hul geloof verkondig en dan vra waarom hulle later uit die kerk uit loop net om nooit weer terug te kom nie?
But wait, there’s more:

Okay, ons gaan gou oefen om God se stem te hoor(!). Draai so twee-twee na mekaar toe, iemand wat jy nie goed ken nie. Okay. Vra nou vir God om vir jou iets moois te sê oor die persoon langs wie jy sit. En God is nie ‘n skinderbek nie, Hy sal nooit vir jou iets lelik sê van daai persoon nie. Okay, een-twee-drie, bid.

Die opdrag kom sommer so, asof sy vir die kinders sê om gou die 2x-tafel uit te skryf en te kyk wie’s eerste klaar. Ek sit daar, met my oë toe, tot stilswye geskok, net voordat ek hierdie gekkespul wou verlaat, maar shame, daar is hierdie girltjie en ek sit nou maar langs haar. Here, bid ek, vir die doel van hierdie oefening, asseblief wys my net iets, ek kan nie hierdie belaglike vrou hanteer of…watookal nie. Asseblief, Here. Al wat ek sien is…niks, net die girl wat langs my sit en daardie dynserigheid wat ‘n mens het as jy te lank in die son in gekyk het en dan jou oë toemaak.

Amen, beëindig sy die kinders se gebede.Goed, kom ons hoor wat het die Here vir julle gesê (so asof ons nou net almal ‘n order by die Wimpy gemaak het, kom ons kyk watse toy het elkeen gekry). Julle twee eerste.

Sy begin op ‘n streep en soos die kinders iets sê, interpreteer sy en lê sy dit uit, sonder om te verduidelik en sonder om te stop. Haar groot lyf stoomroller voort terwyl my hart al hoe meer ‘n beklemming kry hoe nader sy aan my kom. Nie oor ek bang is of enigiets nie, maar omdat ek ongemaklik is hiermee. Dit kan tog nie van God af wees nie, kan dit? Goed, ek is seker in geen posisie om te sê sy kan nie profeteer of watookal nie, maar asseblief, kan dit dan verantwoordelik hanteer word? Kan daar in ag geneem word dat hierdie kinders elkeen op ‘n verskillende geloofspad is, en daarby nog elkeen op ‘n verskillende plek in daardie spesifieke geloofspad?

Wat het jy gehoor? Niks nie, tannie, kom die antwoord van die seuntjie in die voorste bank. Wat het jy gesien? Enige prentjie? ‘n Skrifgedeelte dalk? Nee, tannie…nog nie las die seuntjie as ‘n nagedagte aan. Toemaar, jy moet nog so bietjie oefen. Maak jou oë toe en probeer weer.

Hallo? Is ons in die Hogwarts School of Witchcraft and Wizardry dat ons deur net weer te probeer (hilarious – ons pogings, ons wat probeer!) skielik hierdie charm, hierdie towerspreuk gaan regkry?

Toe kom sy by die dominee.

Wat het jy gesien? Vra sy. Nee, ek het net die heeltyd gedink aan die vers in Matteus wat sê geseënd is die sagmoediges…Ja, onderbreek sy hom. Sien, die Heilige Gees praat met Skrif met die dominee, omdat hy baie meer Skrif in sy hart het as julle, met julle ander praat Hy deur prentjies.

Verskoon my. Ek gaan buitekant ‘n kat skiet.

Die ergste is dat ek nie hierdie gebeurtenis opgemaak het nie. Dit het werklik gebeur. In ‘n gewone plattelandse NG gemeente. Dit het my hele dag ontstel en ek was regtig skoon naar vir die res van die dag. Ek het half hartseer teruggedink aan my eie hoërskool-katkisasie en besef dat dit hierdie tipe goed was wat my in my lewe die seerste gemaak het. Ek sê met opset nie my “geloofslewe” nie. Vir my is daar nie ‘n onderskeid tussen my “geloofslewe” en my “gewone lewe” of sulke snert nie. Ek het een lewe en alle aspekte daarvan, my godsdiens, my akademie, my speeltyd, watookal, is geïntegreerd met mekaar. Soos ek gesê het: hierdie tipe uitgangspunte, hierdie benaderings, is die goed wat my die seerste gemaak en die diepste gesny het. Dis sulke goed waar verse buite konteks gepluk is om ‘n doel te dien. Die vraag is net: wat gebeur wanneer daar nie vrugte afgewerp word nie? Wat gebeur as ek nie “tot alles in staat is deur Hom wat my krag gee” nie? Wat as ek nie by die “toekoms, die verwagting” wat God vir ons wil gee uitkom nie? As ek nie “Voorspoed, en nie teënspoed nie” beleef nie, maar juis die teenoorgestelde? Hoe maak ek nou as my ouers al vir hoeveel jare bid vir ‘n plek van hul eie waar hulle die Here kan dien en Sy woord kan uitdra? God is mos veronderstel om “onmiddellik” te antwoord – as Hy nie doen nie, is dit “ons wat nie luister nie”. Ek moes sukkel-sukkel leer dat ‘n mens nooit, maar nooit vir enigiemand so iets kan sê nie. Dit maak mense net seer.

Kom ons kyk hoekom: die kind bid nou, met ‘n geopende siel of gees of verstand of watookal (gerieflikheidshalwe is die Heilige Gees skielik nie meer in hom/haar nie) tot God. Sy/haar ouers het huweliksprobleme en dit gaan baie sleg of daar is siekte in die gesin, die pa het kanker en die ma het ‘n verhouding met ‘n ander man. Daar word gebid dat God sal ingryp en die huweliksprobleme sal oplos of die pa van sy kanker sal genees. Maar dit gebeur nie…Die ouers skei tog, die pa sterf uiteindelik ná ‘n lang siekbed aan kanker en die ma sit haar buite-egtelike verhouding voort, nou sonder die vorige skuldgevoel. Wat nou? Nou ervaar die kind: ek het nie reg gebid nie, want God het nie onmiddellik my geantwoord nie. Of ek het nie geluister nie, maar een ding is wel seker: ek is nie goed genoeg vir God nie en my gebede nog minder. Of ek is nie ‘n goeie Christen nie, want hoekom hoor ek dan nie vir God nie? Hoekom het al hierdie slegte dinge dan nogsteeds, ondanks my gebede wat met ‘n geopende hart, siel, gees en verstand gedoen is, gebeur?

Die kind gaan soek nou troos op ‘n plek wat dit aanbied: die wêreld. ‘n Plek wat met ope arms wag en sê: kom deel jou pyn hier. Ons gee nie oplossings nie, maar darem kan ons vir jou ‘n dop koop. Hier hoef jy net vir ander mense te vra vir hulp en as dit nie werk nie, kan jy dit met hulle opvat want dan is dit hulle wat nie deliver nie, dis nie jy wat verkeerd vra of op die verkeerde manier gevra het en dan gee ons vir jou die teenoorgestelde van jou versoek nie.

Ons verloor ons mense, nie net uit gemeentes nie, maar uit die Kerk van Christus, oor ons hulle seermaak deur die twak wat ons in die naam van die Bybel aan hulle verkondig.

  1. Sue
    March 7, 2007 at 2:07 pm

    Hey, Tiaan

    Ek kan net sê OI!! Ek is nie ‘n teoloog van enige aard nie en kan definitief nie beskou word as gekwalifiseerd om iets sinvols kwyt te raak oor so ernstige gemors nie. Ek het toevallig hier uitgekom deur ‘n ander blog en ek kon nie ophou lees nie. Hoe kan mense so closed-minded en pleinweg idioties wees? Seriously?! Selfs ek met my gebroke kennis van teologiese aangeleenthede kan besef dat hierdie vrouens besig is om ernstig aan te jaag. Ek moet, as sielkunde student, uit ‘n sielkundige oogpunt na hierdie gebeurtenis kyk. Die hoof issue hier, is die skending van ‘n kind se geloof of die totale vernietiging van dit wat daar is/was. Maar op sielkundige vlak, gaan jy ‘n kind wat uit jou voorbeeld se omstandighede uitkom, totaal ten gronde laat gaan. Selfbeeld en selfwaarde, of eerder die tekort hieraan, is wat in die meeste gevalle kinders dryf tot drastiese optrede. Deur die een ding(geloof/Christus) wat konstant en suiwer in so kind se lewe is of kan word, weg te neem, is ‘n uitstekende resep vir die vlug na drastiese optrede.

    Nou ja, daar is my ongekwalifiseerde opinie gebore uit skok.

    Noudat ek jou blog gevind, sal jy weer van my hoor.

  2. Kowie
    April 19, 2007 at 9:44 am

    Dankie vir die stukkie. Het my in my keel gegryp – al wat ek kon aan dink is ” vergewe hulle Vader, want hulle weet nie wat hulle doen nie …” Ek wou nou iets geskryf het, maar kan nie – wil net gaan bid dat Christus met ons genade moet he vir ons domastrantheid, ons onsiendheid, ons onnoselheid. Ons neem so maklik die opregtheid uit nie net kinders, maar ook uit volwassenes se verhouding met hul Abba Vader se verhouding – maak dit op in sulke plastiessakkies – sulke geykte resepte Ek voel so magteloos as ek voor sulke goed kom soos in jou artikel – ek wil nie veroordeel nie, dit is net so indien nie erger, maar waar en hoe begin mens om sulke goed aan te spreek? Moet ek soos Martin Luther dit aan die deure gaan spyker? Ek bid: ” here. help my om so te leef dat ek ander mense na U kan bring, dat U in hulle kan werk om U wonderlikheid en heerlikheid ook aan hulle te bewys. Maak ons oe oop sodat ons kan sien en weet – U is die Heer! Amen”

  1. No trackbacks yet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: