Retief Burger/LUIDKEELS en VERTIKAAL in Vryheid…Blou Bul Rugby…en Rassisme
‘n Paar kort topics wat ek gou wil aanraak, net om hier en daar goeters rond te stir.
DISCLAIMER: hierdie entry is nie vir sensitiewe lesers nie.
Dis vandag die Super 14-finaal op Loftus Versfeld in Pretoria, ‘n uiters Blou Pretoria en ek wens ek was daar, maar in plaas daarvan het ons ‘n big screen in die kerksaal waarop ons die wedstryd gaan wys. Dit kombineer ons met ‘n bring-en-braai en VERTIKAAL se optrede ná die tyd. Maandagaand was Retief Burger-hulle hier gewees en dit was awesome. Daar is net ‘n klein sakie met ‘n skool wat kinders gehou het om vir ‘n mode-parade/big brag-ding te oefen en veroorsaak het dat hulle nie kon kom nie, al het hulle saam met ons baie daarna uitgesien. Maar ons sal daardie kinders saamvat wanneer ons Pretoria toe road trip vir die Luidkeels 3 cd-opname!
En, nog ‘n ding: julle kan maar sê alle Blou Bulle is tappit, maar elkeen van die driedrukkers laas naweek het met ‘n gebaar die eer aan God gegee vir hul talente en dit openlik op TV gewys. Daarom sal ek die span aanhou ondersteun, al boe die ander mense op die pawiljoen ook hoe.
Die rassisme-ding kom al van laas week af. Vir die wat nie weet nie, dis alive and kicking (and swearing). Ek het net maar weer beleef hoe verskillend mense gekondisioneer word, afhangende van die omstandighede waarin hulle is. Hoërskool Richardsbaai is een van 3 Afrikaanse hoërskole in KwaZulu Natal en tydens ‘n sportgeleentheid teen Hoërskool Vryheid (‘n parallel-mediumskool) het ons (VHS) daar by hulle gaan speel. Gedurende die dag sit ek saam met party van die kinders agter die een veld se rugbypale en kyk na ‘n wedstryd, met ‘n paar volwasse dames wat agter ons gesit het, op ‘n walletjie, so hulle was effens hoër as ons en hulle het op ‘n bankie gesit. Daar kom toe van die hokkie-ouens daar by ons aan en ons gesels toe oor hoe hulle wedstryd was. By ons het een van die swart spelers, Mpilo, gesit. Mpilo, ‘n gewilde leerling in graad 11, is in die Afrikaanse medium en het ‘n baie goeie verhouding met die wit inders – hulle is vriende en die wit kinders aanvaar hom ook so. Dis een van die voordele van ‘n dubbel- of parallelmediumskool: hulle leer kinders hoe om in die nuwe Suid-Afrika te kan funksioneer en goed te kan funksioneer ook!
In elk geval, die hokkie-ouens staan toe half voor die dames, wat mooi aangetrek is en eintlik heel ordentlik lyk) en een van hulle vra toe of die seuns sal skuif sodat hulle kan sien, wat die seuns toe doen.
Mpilo kyk toe heel onskuldig net om, om te sien wie daar sit.
“Wat kyk jy?” vra die een vrou ongeskik.
“Ek kyk vir jou,” kom Mpilo, wat nie op sy bek geval is nie, se antwoord.
Driftig spring die vrou op en storm nader.
“Gaan kyk vir jouself, jou fokken swart nerf. Jy is net ‘n fokken werfetter…”
“Jy is een, Tannie!” kom dit van Mpilo.
“Ag jy is fokol werd, jou fokken swart nerf…”
(gesprek verkort)
“Moenie so met my vriend praat nie, assebief!” probeer een van die wit seuns tussenbeide tree. As Mpilo se gesig wit van woede kon word, het dit.
“Kom ons loop net, ouens,” kry ek met moeite die ouens daar weg, Mpilo asvaal en duidelik diep seergemaak. Ons stap verby die kiosk na die pawiljoen toe, waar die ander “swart nerwe” van ons skool sit, om by hulle aan te sluit. Ek kry net gou eers vir Mpilo ‘n koeldrank om hom te kalmeer.
“Toemaar, Mpilo, daai vrou weet nie waarvan sy praat nie, hoor jy? Sy het nie ‘n idee waarvan sy praat nie,” probeer die een wit ou hom troos, maar dis duidelik dat Mpilo se gedagtes hom anders oortuig.
Julle kan sê wat julle wil, maar dis wat gebeur het. Eina. Terwyl die wit kinders, Afrikaanses en Engelses, in die een skool hulle bes probeer om dit te “maak werk” (amper soos daai girl gesê het aan die einde van Remember The Titans), gee party ander mense doodeenvoudig glad nie om nie. Terwyl die een spul by die omstandighede in Suid-Afrika aanpas en werk daarvan maak, trek die ander terug en haat nogsteeds “die fokken kaffers”…
Wat my laat wonder: aan watter kant van die draad staan jy?

Recent Comments