The Life and Times of Mr T

You can’t run from the wind - you trim your sails, face the music and keep going…

Die soeke na die historiese Hansie

Gisteraand het ek die langverwagte HANSIE gaan kyk. Inspirerend, indrukwekkend, briljant vervaardig en well-acted was dit lag-lag een van die beste flieks wat ek nog vanjaar gesien het. Dalk omdat ek Suid-Afrikaans is. Dalk omdat ek sy biografie deur Garth King gelees het. Dalk omdat dit so reguit, sonder om doekies om te draai, wys hoe versoekings jou skelm aanlok, stadigies meesleur en jou op die ou end só toespin in ‘n spinneweb van leuens en geheime dat jy naderhand nie meer weet watter kant toe om te draai nie en hoe jou versoeking absoluut niks vir jou voel nie. Dit begin net met: “Maar jy doen niks verkeerd nie!” “Niemand sal seerkry nie!” “Wie gaan jy nou eintlik benadeel? Jy verskaf net inligting…” En dan, wanneer jy aan die einde van jouself gekom het, wys die fliek hoe en dat ‘n mens daaruit kan kom en wat die pad vorentoe is.

Gelukkig is dit ‘n ware verhaal oor ‘n werklike held in Suid-Afrika en die pad wat hy gestap het (en nie ‘n ou wat eers ná die fliek oor sy lewe beroemd geword het nie). Daarom is die credibility bo verdenking. ‘n Mens kan ook nie alles moontlik oor Hansie se lewe in ‘n twee-uur fliek inprop nie. Vir ‘n omvattende leeswerk, kry die boek wat, nes die fliek, deur Global Creative Studios vervaardig is en deur Hansie se familie ondersteun word, en lees dit. Jy gaan huil.

Die fliek self is in terme van produksiegehalte absoluut op internasionale standaard. Hoe hulle van daai video-footage ge-edit het, wil ek baie graag uitvind. Die krieket-tonele is almal 100% realisties en opwindend. Die klankbaan is goed en gepas en kom nie oordramaties en forserend voor nie. Die kamerawerk is deurgaans spot-on. Net een klein dingetjie: daar is ‘n bietjie te veel slow-motion toneeltjies in. Goed, ek weet dit is om effek te skep, maar daar is ook so iets soos overkill.

Frank Rautenbach se acting aan die begin van die fliek het vir my ietwat eendimensioneel oorgekom, veral met Hansie se getuienis in die Rhema-kerk, maar soos wat die fliek ontwikkel het, kon ‘n mens sien hoe Frank werklik homself in Hansie ingrawe en as’t ware deel word van hom. Dit was by die toneel waar hy in ‘n hotel se sitkamer met Ali Bacher praat en vir hom sê dat hy krieket wil los, dat ek gewonder het waar Hansie ophou en Frank begin en andersom – hence die post se titel! Want iewers agter die uitbeelding op die skerm is daar die regte mens met sy emosies en belewenisse wat deur al hierdie storms moes gaan. Ek verwys weer na die boek. Gaan lees dit!

Teen die einde van die King-kommissie en daarna was Frank se uitbeelding genuine goed. Dalk het hy dit aspris só gedoen om die ontwikkeling by Hansie aan te dui. As dit die geval was, wel, excellent. As dit nie die geval was nie…kom ons hoop maar eerder dit was die geval. Sarah Thompson wat vir Bertha speel, doen deurgaans goeie werk, veral wanneer Hansie op die ou einde álles aan haar bekendmaak en later by die begrafnis. Net ietsie wat funny, maar darem nie steurend was nie, was wanneer Hansie en Bertha alleen in tonele was. Ons almal in Suid-Afrika weet tog hulle was albei Afrikaans, so wanneer hulle dan Engels met mekaar praat, was dit ‘n bietjie weird (Sarah se aksent het natuurlik nie hiervoor gehelp nie!). Maar, soos ek gesê het, dit pla nie juis nie. Sommer net ‘n kantaantekening. Ek het vir Eric Nobbs as Ewie Cronjé geniet en sou graag meer van Sybill Coetzee as Hansie se ma wou sien, maar helaas is dit ‘n fliek en nie ‘n mini-reeks nie, so sy het beperkte tyd gehad.

Oor die algemeen is ek werklik beïndruk met HANSIE. Die akteurs, vervaardigers, almal – dit is ‘n goeie stuk werk waarop Suid-Afrikaners met reg baie trots kan wees. Ek het so kwaad geraak vir die manier hoe die media hom afgemaak het as hierdie sleg hond, nadat hulle aanvanklik byna die grond waarop hy geloop het, aanbid het. En hartseer. Die tonele by Grey Kollege laat die hoendervleis soos pitswere op jou arms uitslaan so mooi en hartseer is dit. Ook later wanneer Peter Pollock Die verhaal van die verlore seun vertel en dit ‘n metafoor vir Hansie (en so baie van ons) se lewe word.

‘n Mens wonder of die vervaardigers van die begin af die internasionale mark in gedagte gehad het. Ek sou met groot trots hierdie fliek aan die res van die wêreld vertoon (behalwe dalk in Indië!). Dit bring sy boodskap van versoekings en vergifnis oor sonder om pragmaties te wees of so in-your-face evangeliserend soos Faith Like Potatoes. Hier kan jy self jou mind opmaak en ek dink baie meer mense gaan hulleself, of ten minste ‘n deel van hulleself, in Hansie se storie herken as in Angus Buchan s’n.

Dis ‘n goeie fliek. Ek hoop dit maak baie geld en ek hoop dit is Suid-Afrika se inskrywing vir buitelandse rolprent vir die Oscars. Ek hoop dit maak genoeg geld sodat Global Creative Studios nog sulke flieks kan maak en dat dit beleggers se beursies sal oopmaak sodat ek ook eendag in hierdie genre kan volg. Ek hoop veral dat hierdie huldeblyk vir die Cronjé-familie vertroostend sal wees. Ek wil hulle ook bedank vir die pragtige foto’s en footage aan die einde van die fliek – dit het amper soos skending van ander mense se privaatheid gevoel, maar ek wil dankie sê dat hulle bereid was om dit te deel.

Laastens hoop ek dat hierdie fliek vir baie mense sal kan wys dat versoekings jou soos ‘n maalkolk kan meesleur, maar dat die waarheid jou vrymaak en dat daar vergifnis en ‘n pad vorentoe is.

www.hansiecronje.com

September 29, 2008 Posted by tiaan | Life, Reality, South Africa, South African stories, Suid-Afrika, choices, movies, sports | , , , , , | No Comments

Hoekom Pieter Koen nooit ooit weer naby Musiekteater mag kom nie en hoekom geen hoërskool hom ooit weer daarvoor mag gebruik nie

* vir sekuriteitsdoeleindes, privaatheid en sodat ek nie geskiet word nie, is die name hier uitgehaal of verwyder.

Hoërskool-revue’s is sekerlik een van die heel lekkerste dinge wat daar is. Ek dink met groot fondness terug aan my eie paar revue’s waaraan ek deelgeneem het. Die ure se oefen voor die tyd, die balansering met jou sportaktiwiteite en akademie (ons sou soms in die voorportaal in ons sportklere sit en huiswerk doen op stoele terwyl ons wag vir ons beurt om te gaan oefen) en dan die hype wanneer dinge bymekaarkom: die aantrek backstage, grimering, kostuums, opening night met die kaas en wyn en uiteindelik closing night met die laaste show en al die bedankings en blomme en die details oor waar die foto’s en die dvd/video bestel kan word. Dis goed en elke hoërskoolkind moet dit ten minste een keer in sy of haar lewe ervaar.

So, toe M-hulle se skool, Hoërskool X, ook ‘n revue aanpak, was ek natuurlik opgewonde, gegewe die bogenoemde paragraaf en my agtergrond en drama-affiliasie yada yada yada. Hulle het al lank terug begin oefen en vanaand was ek by die laaste van slegs 2 shows. Hulle het in die P-teater in M P, Pretoria, opgetree. Interessante keuse – hoekom nie hul eie skoolsaal se verhoog nie? Ek weet nou nog nie.

Maar, goed, toe is ons nou Performer toe. My aand het op ‘n uiters slegte noot afgeskop, wat dalk my ingesteldheid beïnvloed het: my sitplek was agter teen die muur, reg by die deur. Die heel crapste spot in die flippen teater. Behalwe vir die feit dat mense die hele tyd laat inkom, sit jy onder die galery, so jy het ‘n dakkie bokant jou kop wat die akoestiek tien keer meer bass gee as wat nodig is.

Nou, die groot ding met hierdie produksie, hulle trekpleister of watookal, was Pieter Koen. Hy sou al die male leads in die show sing. GROOT FOUT! Want seriously, is hierdie show Pieter Koen en die X’e of is dit Hoërskool X-revue met gaskunstenaar Pieter Koen? ‘n Mens kon nie agterkom nie. Wat ‘n mens wel kon agterkom, was dat hy glad nie, geheel en al en glad nie, daarby ingepas het nie.

Probleem nommer 1: As jy ‘n liedjie soos Memory, Music of the Night, You’re The One That I Want, Maria, Phantom of the Opera of Summer Nights sing, móét jy die woorde reg hê! Daar is min dinge in die lewe wat my so kan afpis as wanneer mense die verkeerde woorde van ‘n liedjie sing, met net so ‘n fokken smile op hulle gesigte asof hulle artistic license die ding beter maak. Dit doen nie.

Probleem nommer 2: Kry dan ten minste iemand wat ervaring het in Musiekteater. Vra vir Jannie Moolman of so iemand. Ek weet hy skud nie sy biscuit nie, maar ten minste kan hy die hoë note in Music of the Night moeiteloos baasraak sonder om tricks te trek of te klink soos ‘n stoomtrein wat uitasem raak.

Probleem nommer 3: WTF met die storielyn? Goed, ek weet ons spot met die sprokies en feetjieland en die Wolf mag maar met Tinkerbell iets aan hê (al is die Wolf vroulik) en die Drie Varkies mag vir Hompiekedompie rond begelei en die Three Blind Mice se komedie was actually snaaks (ek het my kliphard gecan toe die een oor ‘n trappie struikel en heel reflektief oor sy mic sê: “O, fok!” Freudian slip, much?!), maar waar de hel het die hot lugwaardinne ingepas? Dankie tog hulle was hot! En jammer, ek weet die Liewe Heksie en die ou Tannie wat die verteller was het die storie geskryf en die hele ding aanmekaar gesit, maar my hel, kry dan kinders om te act, my magtag! Flip, mens steel nie jou eie shine so nie!

Probleem nommer 4: Elke liedjie met Pieter Koen in. Hy moet bly by dit waarin hy goed is, naamlik biscuit-skudding en tattoo-ing, verkieslik op ‘n kunstefees soos Aardklop waar ‘n mens semi-gesuip kan wees as jy na hom luister en saam skud. Hy is nie stage actor nie, hy is ‘n entertainer.
Uitsonderings was Maria uit West Side Story en, actually, Phantom of the Opera se titellied…wel, ten minste totdat hy begin skree het “Sing, my angel!” aan die einde. Dit het hy eintlik heel goed gedoen.

Probleem nommer 5: Daar was eintlik net 3 outjies in die hele revue. Of 5. Maar daar was nie regtig ander nie. Ja, goed, die Eerste Rugbyspan is ingespan om die T-Birds te wees, soos dit maar altyd in hoërskool-weergawes van Grease gebeur en hulle was die twee gangs in West Side Story, maar dit was dit. En Greased Lightning se choreografie was verbeeldingloos en traag. Soos op baie plekke. Grease se choreografie het oor die algemeen nie sin gemaak nie. Hier en daar was daar strokes of brilliance, maar oor die algemeen…bleh.

Probleem nommer 6: Die speel van regte liedjies waar die oorspronklike kunstenaars dit sing terwyl die kinders te moves doen…as die kinders veronderstel is om self te sing. Gebruik hulle talente, my magtag! Selfs al sing hulle dan vals, ten minste gee jy daai Eerstespan-breker die kans om sy tenoor te laat hoor. Post-High School Musical is sing nie meer so groot skande nie.

Hier teen halftyd het dit regtig vir my gevoel of ek my een arm uit sy potjie kan ruk en met my gums aan die bloedkant kan begin kou. Dis nie hoe ek gewoonlik voel tydens musicals nie. Nooit. Ek was eintlik bly ek het by die deur gesit, ek het op ‘n stadium dit oorweeg om te loop. Net jammer ek was nie daar met my eie vervoer nie.

Goed, tweede helfte breek aan. En dis beter, dankie tog! Nie fantasties nie, maar beter.

Goeie punt nommer 1: Kostuums! Waar hulle dit ookal gehuur het, well done. Behalwe met Ipi Ntombi – soos N tereg opgemerk het, dit het meer soos Egiptiese haremmeisies gelyk as mense uit ‘n ‘n shanty-town.

Goeie punt nommer 2: Die ou en die (10-jarige!) meisie wat die latin-dans gedoen het. Uitstekend, absoluut! Ek was momenteel weegevoer en het regtig gedink: WOW! Dít is hoe die hele show moes wees. Die ou was blêrrie goed en hy is blykbaar nou eers 14, so ek sien ‘n blink toekoms vir die man.

Goeie punt nommer 3: M S! En ek belowe jou dis nie ‘n biased Goeie Punt nie. Ja, natuurlik is hierdie post subjektief, hello, maar sy was regtig goed. Sy kry sang opleiding en het al aan Eistedfodds en goed deelgeneem, so ek het darem verwag sy gaan dinge kan reg doen. En sy het, dankie tog! Sy was Maria in West Side Story en het vir ons I Feel Pretty gesing. Nou sy kan musiekteater doen! Selfs toe sy per ongeluk ‘n skop agter die kop kry, was sy nie van stryk gebring nie. Sy het lekker in die rol ingeleef, hoe kort dit ookal was, en haar stem het die hoë note heel gemaklik baasgeraak, selfs al het sy na die tyd gesê sy was nie fiks nie en het uitasem geraak. Nie so geklink nie. Well done, M!

Goeie punt nommer 4: Wel, eintlik al die solo-sangeresse. Veral die girl wat Hopelessly Devoted To You gesing het. Olivia Newton-John sou trots gewees het op haar.

Goeie punt nommer 5: Elke scene waar Pieter Koen NIE in was NIE. Die fokus was op die kinders, waar dit moes wees, en ons kon hulle talente waardeer en nie wonder of dit nou maar net ‘n onderafdeling was vir sy rambling voordrag van You’re The One That I Want nie. John Travolta sou beslis nie trots gewees het nie.

Goeie punt nommer 6: Die choreografie van die gang-fight-toneel in West Side Story. Briljant. Die ouens pull dit so geloofwaardig af, dat ‘n mens dink Hoërskool X moet dalk in die vervolg nét ‘n produksie van West Side Story aanpak. Dit behoort hulle goed te doen (hulle het net ook hier die oorpronklike songs gebruik, wat steurend oorgekom het).

Goeie punt nommer 7: Die hoof en sy adjunkte se weergawe van No Matter What. Not bad, not bad at all. En dit is by the way die regte manier om onderwysers in ‘n skoolproduksie te gebruik: jy gee vir hulle cameo’s. Jy maak hulle nie die hoofkarakters nie.

Die afsluiting: ja, okay, hoe sluit ‘n mens so iets anders af as met We Go Together? So dit was fine. Die probleem is net, na die bedankings…toe doen almal saam Skud Jou Biscuit. AAAAAHHHHHHHHHGGGGGGHHHHHHHH!!!!!!!!!!!!!!!
WTF????!!!!!!
Ja, ons weet Pieter Koen was die “gaskunstenaar” (of “Broadway-ster” soos hulle in hul vroeë Lappop-rendition geclaim het – oh my word), maar is dit nodig om ‘n aand waar ons fokus op musicals is met sy trademark af te eindig en dan mal te gaan asof hy nou net self musiek as sulks ontdek het? I don’t think so.

Ná die tyd het ons (ek en N en sy vrou, wat backstage gehelp het) eers vir die onderwysers gaan gelukwens (!) en alles. En hier is die draaipunt van hierdie post, yay! Want net hierdie geselsies na die tyd het die ding weer vir my in perspektief kom sit.

Kudo’s nommer 1: Dit vat ongelooflik baie effort om so ‘n produksie op die planke te bring. Ek haal daarom al my hoede af vir die kreatiewe span agter die revue.

Kudo’s nommer 2: As die kinders dit geniet het, was dit suksesvol. Punt. Nie of die een dansende couple op die verhoog neergesloeg het en of Hompiekedompie ‘n paar keer nie sy val kon keer nie en of almal die hele tyd honderd persent op die noot gesing het of whatever nie. As die kinders dit geniet het en voor hulle vriende in die P-teater kon optree en na die tyd sê: “Wow, dit was lekker! Ons sal dit weer doen!” Dan was dit geslaagd. En in hierdie geval was dit.

Net ‘n laaste ding: Scout assbelief jou hele skool deur vir talent totdat jy senior seuns het wat kan sing. Jy hoef nie ‘n Afrikaanse Popster in te span wat jou derduisende rande kos net sodat jy sy naam op die kaartjie kan sit om jou produksie ‘n sukses te maak nie. Inteendeel.
Musiekteater is die een ding wat Pieter Koen nooit ooit weer mag doen nie. Ek is seker sy twee-jaar oue seuntjie wat saam met hom op sy heup sy biscuit geskud het en met permanente tinitis in sy ore gaan grootword, sal saam met my stem

September 23, 2008 Posted by tiaan | Life, Reality, South Africa, Sprokies, Suid-Afrika, jeug, music, musicals, musiek, random, schools, skole, song and dance, youth | , , , , , , , , , , , , | 2 Comments

Hansie-movie

Ek gaan dit Vrydagoggend kyk. Wie kom saam? Hier is solank ‘n lusmaker-link:
Hansie
http://www.writingstudio.co.za/page1789.html

September 22, 2008 Posted by tiaan | South Africa, South African stories, Suid-Afrika, movies, sports | | No Comments

Beertjie Booyse, sy boytjies en R.R. Ryger

So once in a while loop ek by ‘n boekwinkel in en koop actually ‘n boek waarvan ek nog nooit voorheen gehoor het nie, soms op ‘n uitverkoping of iets. Nie ‘n groot literêre werk of ‘n diep teologiese boek nie – hulle het ook hulle tyd en plek – maar sommer net ‘n boek.

Verlede Donderdag was weer so ‘n dag en die boek wat ek in die hande gekry het, was Beertjie en sy boytjies deur R.R. Ryger. Nou, ek het al met R.R. Ryger se goed kennis gemaak – dikwels skelm op Vlak Ses van TUKS se biblioteek of al op hoërskool, skelm in Vryheid se openbare biblioteek. Skelm, want dis nie die soort boeke wat mens voor ander mense oor spog nie. In elk geval nie by die hoërskool se CSV nie. Daarvoor is dit te progressief. En met progressief bedoel ek hulle laster, vloek, verkrag, suip, baklei, praat politiek en maak ander mense dood.

Nou hoekom like ek dié boek? Want dis real. Dis 1986, dis Pretoria, Suid-Afrika hier in die middel van Junie en PW Botha het sopas ‘n noodtoestand in die land afgekondig. Vir Beertjie Booyse is dit belangriker om uit te vind waar sy volgende dop vandaan gaan kom as om oor die politiek te worry. Hy word darem op hoogte van sake gehou deur sy seun Chris, oftewel Sugar, wat 16 is en ‘n provinsiale bokser. Sugar het groot aspirasies en is eintlik die enigste een in die huisgesin wat dit gaan maak. Te midde van sy twee ouer broers, naamlik Andreas, oftewel King Lizard wat uit die army ge-AWOL het en deur die polisie gesoek word vir ‘n moord waarvan sy broers nie weet nie, en Johan, oftewel Ketter, wat in matriek is en kaptein is van die 3e span en wie se vuiste vir niks verkeerd staan nie en eintlik net graag biltong wil steel uit oom Sakkie Saunders wat uit die Bosoorlog kom se slaghuis uit met behulp van sy vriende Harry die Wreker wat uit matriek geskors is en Jacob Weinstein wat sy beste pêl is…is Sugar die bokser die enigste een wat nie sy lewe totaal en al wegpis nie. Behalwe dat hy verlief is op Luna, die skoolslet, wat weer op haar beurt verlief is op Joos le Roux, die een onnie en afrigter van die 3es, wat haar ná sy eie bekering onder sy vlerk geneem het en haar op die regte pad probeer hou deur ‘n verhouding met haar aan te knoop (hulle het wel besluit om te wag totdat sy klaar met skool is voordat die verhouding ernstig word).

Dinge word gekompliseer (ja, gekompliseer!) wanneer Beertjie agterkom hy het ‘n “kiem in sy brein” wat sy seuns met ys en whisky moet regdokter en waarin hulle gedeeltelik slaag. Die MP’s is ook ernstig op Andreas se spoor, soveel so dat hy besluit om ‘n duck te maak via Swaziland na Amerika toe om ‘n loopbaan in comics teken te gaan pursue. Hy het selfs sy eie superhero geskep, King Lizard (sy alter ego? Nah…), wat hy hoop om eendag eers ‘n animated en later ‘n live-action movie van te maak. “Daar’s geld in nuwe heroes, my ou.” Die probleem is net dat Andreas die meester is van sy eie ondergang. Iets wat baie van ons onbewustelik, nes hy, regkry.

Ketter is ambisieus in die leier-sin van die woord. Hy is die leier van die 3e span en hou sy spanpraatjie by die President-hotel se bar. Wanneer Beertjie siek word en die MP’s na Andreas soek, is hy ook die een wat die fort hou, met Sugar wat op sy eie manier die situasie probeer hanteer en Oom Apies, Beertjie se drinkebroer-buurman in toom moet hou. Ketter vat nie kak van kabouters of van voor-op-die-wa polisiemanne nie. Toe die een polisieman wat soos Laurel van Laurel & Hardy lyk hom vir ‘n bier vra, antwoord hy summier:
Is jy fokken zef in jou kop? Jy kom hiernatoe om my broer op te sluit en dan vra jy my vir ‘n bier. Hoe werk jou brein, my ou?
Ketter se probleem is dat hy oorhaastig is en in die proses kelder hy/Sakkie Saunders sy rugbyloopbaan (?). Hoe het ons nou weer op Junie se Skoolverwisselingkamp gesê rondom tyd en plek van nonsens aanjaag? “Location, location, location...” Moenie by ‘n slaghuis inbreek op Soweto-dag net nadat daar ‘n noodtoestand in die land afgekondig is nie. Dis moeilikheid soek en jy mag dalk net ‘n been verloor.

Of Beertjie breinvliesontsteking of breinkanker het, weet ons nie. Of Sugar, die liberale oopkop een met tyd vir wit én swart, met genoeg deursettingsvermoë en talent maar met die verkeerde agtergrond toe by die kampioenskappe opgdaag het, weet ons nie. Wat verder met Ketter gebeur het en of hy herstel het is ook ‘n geheim. Maar dikwels weet ons nie wat met almal gebeur nie. Die lewe gebeur nie in periodieke fases van eksposisie, motoriese moment, opbou van die verhaal, krisis, klimaks en afloop na ‘n gelukkige einde toe nie.

Soms (en ek hoop vir Sugar se part regtig so) kom ‘n mens weg uit jou omstandighede en word jy nie ‘n gevangene daarvan nie (hoewel Sugar nog deel van sy omstandighede was, het hy nooit soos ‘n slagoffer voorgekom nie. Hy was byvoorbeeld die enigste een wat kerk toe gegaan het, op sy eie, sonder om te worry oor wat sy gesin daarvan gaan sê of dink. Hy het sy eie keuses gemaak). Soms word jy wel ‘n gevangene daarvan. Ek ken self sulke mense en ek huil as ek daaraan dink. Soms aanvaar jy jou lot en word jy wat ander mense in elk geval van jou verwag. Ander kere sit jy met hierdie spanning in jou van jou talente en ambisies wat jou voortdryf, maar iets in jou binneste stuur jou teen ‘n 1000 myl per uur in die teenoorgestelde rigting op ‘n tragiese ramp af.

Die vraag bly: is ek die slagoffer van my omstandighede, of kan ek iets daaromtrent doen?

September 22, 2008 Posted by tiaan | Afrikaanse stories, Life, Reality, South Africa, South African stories, Suid-Afrika, afrikaans, choices, thought provoking stuff | , , , , | 1 Comment

Punch-Vat Helde

Okay, hierdie is die heel varsste, updated weergawe van die storie wat bestaan. Lees, comment en geniet! Maar onthou net, ek het copyright…

PUNCH-VAT HELDE
deur Tiaan van Niekerk

DEEL 1

Juan van Vrede staar nikssiende na sy skoene waar hy in die skoolhoof, mnr. Spies, se kantoor sit. Mnr. Spies sit die foon terug op die mikkie en vou sy hande.
“Jou pa sal nou hier wees om jou te kom haal, Juan. Ek moet sê ek is regtig uiters teleurgesteld. Jy is werklik die laaste leerling van wie ek dit verwag het.”
Mnr. Spies rammel voort, maar Juan kyk nie op nie. Hoe kan hy begin om te verduidelik? Dit sal nie eens help nie, onderwysers verstaan tog nooit nie. Minste van almal mnr. Spies. Die ou droë bokkom feature net by sportgeleenthede omdat die hoof daar móét wees. Verder weet hy niks van wat daar aangaan nie. Hoe sal hy ooit die druk kan verstaan wat daar op die skool se sportpresteerders rus? As ‘n mens vir die Eerste Rugbyspan op skrumskakel uitdraf, is jy met ‘n vingerklap publieke besit. Almal in die dorp ken jou skielik en al die kinders by die skool wil jou vriend wees. Veral as jy dit al in graad 10 regkry.
Dis net, almal se verwagtinge het hom heeltemal onkant gevang en hy het geweet daar is nie ‘n manier dat hy al die valkoë wat hom dophou, kan teleurstel nie. En dit alles nadat hy skaars twee weke vantevore gekies is vir die span wat tydens die Rugbyweek, wat hul skool elke jaar aanbied, gaan speel. Dit is ‘n seker teken dat jy ook vir die Eerstes gaan speel wanneer die liga begin.
Die inspuitings het na ‘n maklike oplossing gelyk…en net voor hy homself kon inspuit, vang daai stupid nerd-prefek, Henkie, hom. Dit was eintlik sy eie skuld – die skool se badkamers is seker die domste plek om so iets te doen, maar dit was net hierdie een keer. Hy het nog altyd net gewone supplements gebruik, soos al die ander ouens wat gym. Hierdie was die eerste keer dat hy iets getry het wat hy skelm moes doen.
“Dit kan jou jou plek in die Eerstespan kos, weet jy,” dring Mnr. Spies se stem tot hom deur. Juan kyk verskrik op.
“Nee, asseblief Meneer, ek vra mooi. Dit was regtig die eerste keer, die enigste keer. Ek het nog nooit so iets gedoen nie. Asseblief, Meneer, net nie my plek in die span nie. My pa sal…” Juan dink aan sy pa. Sy pa sal dit wat vandag gebeur het nooit oorleef nie, besef Juan. Nie dít nie.
“Hy sal my nooit vergewe nie.”
Mnr. Spies loer na hom van onder sy uilagtige wenkbroue.
“Juan, ek wil hê jy moet besef hoe ‘n ernstige oortreding dit is. Dit val onder dwelmgebruik op die skoolterrein. Ek is eintlik veronderstel om jou summier te skors. Maar gelukkig ken ek jou en ek weet dat jy nog baie vir die skool en die Eerstespan kan en gaan beteken, as jy jouself regruk. Daarom gaan ek jou net ‘n skriftelike waarskuwing gee. Jy kan self vir jou pa vertel hoekom hy jou vroeër as gewoonlik by die skool moes kom oplaai.”

*****

Wihan Gerber is vroeg op die veld. Hy kom altyd so 20 minute voor rugbyoefening veld toe om sy skopwerk te oefen. As Eerstespan-losskakel kan hy nie bekostig om teleur te stel nie. Nie hierdie jaar nie. Dit is die eerste keer in ‘n lang tyd dat hulle skool ‘n ordentlike losskakel het en hy besef maar alte goed dat daar meer as net sy reputasie op die spel is. Reeds in graad 7 was hy al verkies tot die provinsiale o/13 Craven Week-span en van toe af is hy geoormerk om die volgende groot losskakel van Hoërskool Bergkruin te word. Hy het elke jaar sy bes gegee, maar toe hy die vorige jaar uiteindelik vir die ope spanne begin speel, het die afrigters hom met opset nie vir die Eerstespan gekies nie.
“Sodat jy ‘n bietjie ryper kan word,” was mnr. Frikkie Venter, die afrigter se woorde. Wihan weet dat hulle hom nog ‘n jaar wou spaar sodat hy nie te gou peak en homself uitbrand in die Eerstespan nie.
Om vir die Eerste Rugbyspan van Hoërskool Bergkruin uit te draf, is iets waaroor elke seun in die skool droom. Dis nie net ‘n eer om jou skool te verteenwoordig nie, maar dit gee aan jou die kans om in die jaarlikse rugbyweek te speel. Die hele dorp drom daardie week saam en vanoor die hele land reis skole na Bergkruin toe om te kom deelneem. Al die stalletjies, besoekers en gees wat daar in die deelnemende skole gebou word, maak van die week ‘n hoogtepunt in die jaar. Hier het jy die geleentheid om vir die hele dorp en vir al die talentsoekers te wys presies wat in jou steek.
Dis met die rugbyweek in sy kop dat Wihan weer aanlê en lostrek met ‘n skop wat hy redelik in die hoekie opgestel het. Dis net-net regs verby en hy draf om die bal te gaan haal.
“Hey! Wat skop jy soos ‘n paloeka?” hoor hy iemand skree. Wihan kyk om en sien sy vriend Sibusiso Mdladla wat met sy toks om sy nek by die veld aankom.
“Ag, sjarrap jy, jou houtie!” skree hy terug. Hy sien hoe Sibu krul soos hy lag. Wihan tel die bal op en draf glimlaggend nader.
“Ja, white boy, gee bietjie hier dat die houtie jou wys hoe,” sê Sibu toe Wihan by hom kom. Wihan hou die bal terug.
“A-a-a. Gaan was eers jou hande, ek wil nie pap op my bal hê nie.”
“Please. Jy skop so shit, ‘n mens sal dit nie eens kan sien nie,” hap Sibu hom terug. Wihan lag.
“Nou toe, wys my, laat ek sien.”
Sibu vat die bal en gaan stel hom min of meer op dieselfde plek op van waar Wihan se vorige skop was. Hy meet sy treë af, draai dan om en hurk vooroor, kompleet soos wat Derick Hougaard sou maak. Hy wikkel ook ewe plegtig sy tongetjie voordat hy vorentoe hardloop en die bal tref. Die bal trek laag en skuur onderdeur die dwarslat.
“Laduma!” skree Wihan. “Jy moet maar by sokker bly, pêl!” Sibu se stelskopvermoë is nie juis watwonders nie, maar hy is so sterk soos ‘n bees en so rats soos ‘n kat – die skool se beste vleuel.
Sibu gaan haal die bal en draf laggend terug na Wihan toe.
“Ja, okay. Die sokkerboys het my weggejaag. Hulle tune ek’s ‘n coconut.”
“It sucks to be you,” kom dit lakoniek van Wihan af.
Sibu gooi vir hom die bal.
“Het jy gehoor wat vandag met Juan gebeur het?”

*****

Leon Steyn gooi sy gymsak oor sy skouers en begin huistoe draf. Hierdie is elke middag se roetine: rugbyoefening ná skool, dan gym toe draf, ‘n goeie sessie insit en dan terugdraf huistoe. So maak hy seker dat hy topfiks bly vir die strawwe seisoen wat voorlê. Al die oefening het sy lyf hard en soepel gemaak en hy weet die girls vrek daaroor as hy sy hemp uittrek, maar hy raak elke keer só ongemaklik dat hy bloedrooi begin bloos. As hulle maar net geweet het hoeveel ure se werk daarin gesit is! Veral vir hom. Hy was nie altyd so sterk gebou gewees nie. Toe hy jonger was, was hy eintlik nogal tingerig. Hy het maar eers op hoërskool so heavy begin gym, maar toe die gogga hom eers gebyt het, was daar geen stop aan hom nie.
Die strate waarlangs Leon draf is heerlik skaduryk. Die stokou akkerbome maak ‘n koepel bokant sy kop en keer die laatmiddaghitte weg sodat sy natgeswete lyf kan afkoel. Die seisoen wat voorlê gaan nie maklik wees nie. Hy draf vanjaar vir die tweede keer uit vir Hoërskool Ewoud Heymans se Eerstes op binnesenter. Verlede jaar het hy eintlik meer gebench as wat hy regtig wedstryde vir die Eerstespan gespeel het, maar elke keer dat hy op die veld gedraf het, het die opwinding deur sy are gesuis. Hy is mál daaroor om sy arms om ‘n aanstormende opponent se bene te slaan en hom te laat gras vreet. Al die ander skole weet van hom en is bang vir hom, daarvan is hy maar alte bewus. Nie dat hy vuil speel nie. As ‘n mens ‘n geel kaart kry, moet jy vir tien minute uitsit en dit pas hom soos ‘n gat in die kop. Daarom tackle hy so hard as wat hy kan, so skoon as wat hy kan. Dan kan ‘n mens tog die hele wedstryd speel!
Vandag is die hitte vir Leon net een te veel. Toe hy by die huis kom, gooi hy sy gymsak in sy kamer neer, trek sy hemp uit en spring sommer so met sy oefenbroekie bo-oor die muur in die erf langsaan in. Hy swem altyd daar omdat hulle nie self ‘n swembad het nie. Die koel water is lekker verfrissend en Leon kan voel hoedat die knope in sy spiere skiet gee.
Hy swem nog ‘n lengte of wat onder die water en kom dan op. Die een seun wat in dié huis woon staan op die kant en wag hom in.
“Yes, tjomma!” groet hy hom toe Leon die kant bereik.
“Yes, Wihan! Wat sê jy?”

*****

Juan slaan sy kamerdeur toe en plons dan voor sy rekenaar neer. Sy pa het hom wragtig gehok! Hy het presies gereageer soos wat Juan gedink het hy gaan. Eintlik erger. Toe hy uitvind van die inspuitings, was hy buite homself van woede.
“Is jy nou ‘n junkie, hè? Wil jy nou saam met die junkies in die strate jouself gaan loop en inspuit? Watse tipe mens is jy, Juan?! Hoe de moer het ek julle groot gemaak? Jou ondankbare klein stuk stront! Ek sal jou wys. Ek sal jou belet om enige plek heen te gaan. Nie gym toe nie, nie winkels toe nie, nêrens heen nie! Kom ons kyk hoe bou jy nou spiere, jou patetiese klein flop!”
Sy pa het by die kombuisdeur uitgestorm en hom net daar laat staan. Vir ‘n oomblik was Juan heeltemal oorbluf. Hy het geweet sy pa gaan dit nie ligtelik opvat nie, maar hy het nou nie heeltemal verwag om ‘n flop genoem te word nie. Hy het toe maar na sy kamer toe gestap terwyl sy pa se woorde die heeltyd in sy kop bly maal het.
“Jou ondankbare stuk stront…jou patetiese klein flop!”
Hy wens sy pa het hom eerder met die vuis geslaan, of met ‘n sambok. Dit sou nie naastenby so seer gemaak het nie…
Martin van Vrede het pens en pootjies in die botter geval die dag toe hy met Zelda Weyers, die tweede kind en oudste dogter van een van die rykste families op die dorp, getrou het. Hyself het armerig groot geword en sy pa se vis en tjips besigheid in die onderdorp naby die taxi-staanplekke het net-net goed genoeg gedoen sodat hulle darem kon oorleef. Vandag is hy ‘n gesiene man en een van die grootste motorhandelaars op die dorp. Martin Motors, wat hy met Juan se oupa se geld begin het, doen uitstekend en sy golf-voorgee laat hom gereeld loop en spog. Maar vir Juan was sy pa was nog altyd iemand wat op ‘n afstand was. Iemand wat ‘n reuse front vir die res van die dorp voorhou, maar tuis sy ware kleure wys.
Gelukkig is daar darem nog Rozaan. Die Desembervakansie by Ballito was net iets wat hy nog nooit voorheen beleef het nie! Ja, okay, hy het voorheen al kamstig met meisies uitgegaan, maar dit was net sulke gevryery agter die skoolsaal tydens sokkies en stupid beertjie-sms’e. Met Rozaan is dit anders. Sy is nie so kinderagtig soos die ander girls nie en sy hou ook van sport, nes hy. Sy is ‘n hokkie-chick en speel vleuel vir die skool se tweede span. Sy doen blykbaar moderne danse ook, en saam met die hokkiespelery het dit gemaak dat sy lag-lag die mooiste paar bene in die skool het!
Maar die vakansie…dit was magic. Hy het nog nooit so oor ‘n girl gevoel soos hy oor haar voel nie, en elke dag besef hy net meer en meer hoe baie hy van haar hou. Van die begin van die skooljaar af is hulle al waaroor die kinders by die skool kan praat.
Juan trek sy selfoon nader. Hy wonder of sy nou op Mxit is? Gelukkig kan sy pa hom nie dit belet nie. Hopelik kom hy nie later en kom vat sy foon van hom af nie!
Juan sien dat die kolletjie langs Rozaan se naam nog groen wys. Hy glimlag effens. Dankie tog.
Hei, wmj? Tik hy. Hy het skaars die boodskap gestuur, toe sien hy dat daar nou ‘n rooi kolletjie langs haar naam wys. Rozaan is now offline sê die skermpie. Hy gooi sy foon op sy bed neer. Dit suck! Sy het hom seker nie gesien nie. Hy sal maar later weer probeer.
Sy gedagtes keer onwillekeurig terug na die gesprek in die kombuis. Sy verdomde pa! As sy pa in die eerste plek nie soveel pressure op hom gesit het nie, sou hy dit seker nooit gedoen het nie. Alles wat hy nog ooit aangepak het, het hy gedoen sodat hy sy pa kon beïndruk en sy goedkeuring kon wegdra. Daarom het hy van kleins af aan alle sportsoorte moontlik deelgeneem. Atletiek, rugby, tennis, krieket, swem. Hel, hy het selfs laasjaar by die skool se kadetorkes aangesluit!
Alles net sodat hy dalk ‘n regmerkie in sy pa se boekie kon kry. Hy wens sy pa wou net een keer, net één keer, vir hom sê dat hy dit raaksien wat Juan doen. Hoeveel keer nadat hulle ‘n wedstryd gewen het, het hy nie gehoop dat sy pa vir hom sou sê: “Mooi drie, my seun,” of “Jou tackling was vandag regtig goed” nie! In plaas daarvan was dit altyd iets in die lyn van “Mmm, julle mannetjies is nog maar lekker onfiks” of “Vir iemand wat nou net ‘n game rugby gespeel het, lyk jy nie regtig moeg nie. Het jy jou beste gegee?”
Vandag se kommentaar was egter vir Juan die toppunt. Na alles wat hy gedoen het, elke prestasie wat hy gekry het – elke atletiekrekord wat hy gebreek het, elke swemprestasie en elke drie wat hy gedruk het, noem maar op – is dít wat hy vir sy pa is: ‘n stuk stront, ‘n patetiese klein flop…
Hy sal hom wys. Hy sal cardio in sy kamer soveel as wat hy kan, hy sal squats doen, push-ups, sit-ups en pull-ups en touspring. Maar van nou af sal hy dit vir homself doen.
Juan skrik vir homself as hy besef wat hy voel: hy haat sy pa.

*****

Wihan sit sy tas voor hul registerklas in die B-blok neer net toe Juan daar aangestap kom.
“Yes bra!” groet hy sy beste vriend sedert laerskooldae, al verskil hulle ‘n jaar. Juan kyk skalks op.
“Hey, ou. Wat sê jy?”
“Nee, stil man. Ons het jou gister by rugby gemis.”
Wihan is egter versigtig om die vraag te vra wat hy eintlik wil vra. Hy kan sien iets byt aan sy vriend. Dit gaan nie cool wees om hom nou te beskuldig nie, besef hy.
“Is jy okay?” vra Wihan vir Juan. Juan gaan staan ‘n oomblik skielik stil. Hy haal ‘n keer of wat stadig, diep asem.
“Kom ons gaan sit daar op die trappies. Ek gaan jou in anyway vertel en ons het nou tyd.”
Wihan is bly dat hy dit nie uit Juan hoef te trek nie.
“Sibu het allerhande goed kwytgeraak gister van dat jy op moerse roids…”
“Sjarrap! Wil jy stories hoor of wil jy die waarheid hoor?”
Wihan besef dat hy nou sy ore en mond in proporsie moet gebruik.
“Sorry, pêl. Ek luister.”
Juan kyk hom eers met geligte wenkbroue aan en vra hom dan:
“Laat ek net eers hoor: wat sê die rumours?
Wihan vou sy arms en rus dit op sy knieë.
“Wel, wat ek gehoor het, is dat jy gister in die badkamer deur drie prefekte gevang is waar jy uitgepass gelê het. Daar was apparently naalde by jou en dit was glo duidelik dat jy jouself met steroids ingespuit het. Van die rowwer weergawes sê ook dat hulle Tik by jou gekry het, sodat jy meer energie op die veld kan hê of so iets…”
“En jy glo dit?” vra Juan hom. Wihan skud sy kop.
“No ways, bra. Ek ken jou te goed vir dit, maar toe jy nie gister by rugby was nie, het ek nogals geworried begin raak. Dis hoekom ek jou nou self, reguit, vra.”
Juan se een mondhoek begin lig in ‘n glimlag.
“Thanks, buddy, ek waardeer dit dat jy na my toe kom. Die ander klomp is te chickenshit en ‘n skinderstorie is mos in anyway lekkerder as die waarheid.”
Wihan sit sy arm om sy vriend se skouers.
“Plesier, ou, jy ken my mos. Maar wat het nou rêrig gebeur?”

*****

Die tweede periode het pas aangebreek en Rozaan Fourie sit in die Bedryfsekonomie-klas, besig om deur haar langvrae te lees, toe die interkom skielik lewe kry.
“Juffrou Nothnagel, kan jy asseblief een van die graad 10’s afstuur kantoor toe? Hier is ‘n nuwe leerling wat hulle moet kom ontvang.”
“Goed so, Meneer!” antwoord Mevrou Nothnagel, ‘n middeljarige vrou met swart spykerhare, ietwat gedweë. Sy kyk verveeld in die klas rond.
“Rozaan, wil jy nie gou gaan nie, asseblief?” vra sy haar. Rozaan staan teësinnig op. Sy hou eintlik niks hiervan nie, hierdie hele nuwe-kind-ontvang-ding, en om die een of ander rede vra onnies haar altyd om dit te doen, al sedert haar laerskooldae. As dit ‘n ou is, is hulle gewoonlik sulke vaal japies wat dink hulle gaan haar in die gange score en as dit ‘n meisie is, verwag hulle om onmiddellik haar beste vriendin te wees. Sy sien nie werklik nou hiervoor kans nie.
Rozaan wens eintlik dis ‘n meisie. Vandag is nie die regte dag vir outjies wat aan die puberteit-en-puisie-kompleks ly nie. Eintlik is vandag glad nie die regte dag vir enige ou nie. Hoewel sy baie van Juan hou en hulle na die vakansie nie-amptelik as die hotste couple in die skool gesien word, is sy nie meer so seker dat sy wil voortgaan met die verhouding nie. Boonop het sy gisteraand boodskappe van Juan af gekry wat half anders was as gewoonlik en wat haar net nog meer deurmekaar gemaak het oor hoe sy nou eintlik voel. Hy het heeltyd sulke goed gestuur soos hoeveel sy vir hom beteken, hoeveel hy haar mis, selfs dat hy haar liefhet! Dis só nie Juan nie, maar sy het besluit om hom nie nou al onraad te laat vermoed nie en het op die ou end ook vir hom ‘n sms gestuur met so gesiggie wat vir hom ‘n soentjie blaas. Sy het hom nog nie vanoggend voor skool gesien nie en ook nie in klas nie, omdat hy die eerste twee periodes Biologie het.
Sy voel half dat sy hom nie nou kan drop nie. Dalk is sy verkeerd, dalk moet sy tog maar probeer om hierdie ding te laat werk. Dis tog nie asof hy soos soveel ander ouens maak en hulle meisies met ander terte by iemand se stupid house party verneuk nie. Ja, dink sy terwyl sy afstap kantoor toe, sy gaan hierdie verhouding met Juan ‘n kans gee.
Toe sy by die kantoor instap, vervaag al haar goeie voornemens. Voor haar staan ‘n flippen sexy ou met sulke grysbruinerige hare en die blouste blou oë wat sy in haar hele lewe gesien het. Hy het nie ‘n skooltrui aan nie en sy kan sien hoe sy skoolhemp met moeite sy groot bo-arms binne hou. Hy glimlag vir haar toe sy binnekom en dis die mooiste, witste, perfekste glimlag.
Mnr Spies stel hulle aan mekaar voor.
“Hierdie is Rufus Lambert. Hy en sy gesin het sopas van Pretoria af hiernatoe getrek. Volgens sy vakkeuses moet hy nou saam met julle Bedryfsekonomie hê. Ons is bly hy is nou deel van ons skool – Rufus sou vir Hoërskool Waterkloof se Eerstespan gespeel het as hulle nie verhuis het nie.”
Dit kan Rozaan nie in die minste skeel of hy vir Waterkloof of Affies of Monnas of vir Gatkantrand sou speel nie. Sy gee selfs nie om of hy vir Bergkruin speel nie. Al wat saak maak, is dat sy hom eerste gesien het en dat hy vir haar geglimlag het…
“Haai, ek is Rozaan,” sê sy skamerig en steek haar hand uit. Rufus vat haar hand en gee dit ‘n drukkie. Dis nie so petieterig soos wat party ouens sal doen nie en ook nie so grof soos wat ‘n mens van die rugbybrekers verwag nie. Dis net reg – dis asof hy haar vroulikheid respekteer, maar tog ook met haar rekening hou as eweknie.
“Haai, Rozaan. Ek is Rufus,” sê hy en dit voel vir Rozaan asof haar knieë gaan ingee. Hy het die mooiste stem! Dis so dieperig en manlik, maar nie grof en skor nie.
Sy glimlag weer skaperig terwyl sy in sy oë staar en besef dan dat hulle klas toe moet gaan.
“Kom saam, dan gaan ons klas toe,” kry sy dit skaapagtig uit. Rufus knik.
“Regso. Dankie, Meneer Spies. Ek sal vanmiddag half drie op die rugbyveld wees.”
Hy swaai sy boeksak oor sy skouer asof dit absoluut niks weeg nie. Rufus sien hoedat Rozaan vol bewondering na hom kyk en hy begin lag.
“Hier’s nog niks in behalwe ‘n paar skryfblokke en ‘n pennesakkie nie!”
Rozaan voel asof die aarde haar kan insluk. Hy het gesien hoe sy oop en bloot na hom staar! Hy stap tot reg voor haar.
“So, waar is ons klas?”

*****

Juan, Wihan en Sibu kom tydens langpouse van die snoepie se kant af na die speelgrond toe aangestap. Juan het die dag nog nie vir Rozaan te sien gekry nie. Vroeg-vroeg het sy Bedryfsekonomie gehad terwyl hy Biologie gehad het, kortpouse was daar ‘n rugbyvergadering en daarna was hy in die Tegniese Tekeninge-klas. Toe langpouse aanbreek, het hy vir Sibu op die stoep raakgeloop en dié het eers daarop aangedring dat hy en Wihan saam hom snoepie toe stap sodat hy ‘n vleispasteitjie kon gaan koop.
Toe hulle om die draai van die gebou kom, gaan al drie doodstil staan.
“Sien julle boys wat ek sien?” vra Sibu deur sy pasteitjie se skilferkors.
“Die beste flank in skolerugby…” begin Wihan, maar Juan val hom in die rede.
“…staan by my girl en chat!”
Juan se vuiste bal outomaties langs sy sye en hy kan voel hoe sy nek styf word, maar Sibu sit sy arm op sy skouer.
“Relax, bra. It’s probably all innocent. Ek meen, ons moet eers uitvind wat hierdie perd in ons skool doen. Met ons skoolklere aan!”
“Perd is die regte woord,” brom Juan en Wihan lag.
“Kom ons gaan hoor wat is sy storie.”
Hulle stap nader, met Sibu voor en Juan wat stuurs aan die agterkant nadertou. Rozaan en Rufus staan eenkant onder een van die jong boompies en gesels. Dit lyk asof hy haar iets vreeslik snaaks vertel, want sy staan en giggel haarself morsdood.
Juan se mond hang oop. Jeepers, wat ‘n bakvissie! dink hy en kan skielik nie glo dat hy dit van sy eie meisie dink nie.
“I don’t believe my eyes! Rufus Lambert! Wat maak jy hierso?” val Sibu met die deur in die huis. Rufus staar hom half ongemaklik aan.
“Ken ek jou…?” begin hy en steek sy hand halfhartig uit. Sibu gryp dit vas en gee hom ‘n stewige handdruk.
“Sibusiso Mdladla, regtervleuel van die Eerstespan. Ek scheme ons gaan nog baie met mekaar te doen kry.”
Rufus glimlag terug. Wihan staan nader en stamp vir Sibu uit die pad uit.
“En ek is Wihan, losskakel van die Eerstes. Ek is net bly jy jol nie my posisie nie. Ons weet almal wie jy is, jou reputasie loop jou vooruit.”
Rufus skud ook met hom blad, maar Juan staan eenkant met gevoude arms teen ‘n stoeppilaar die klomp en gadeslaan. Rufus sien hom egter en stap nader.
“Haai. Jy is seker Juan,” sê hy vriendelik en steek sy hand uit. Juan ignoreer dit.
“Ja. En jy staan en chat met my girl,” kom dit kort-af. Rufus lag.
“Flip, sorry ou, ek kan net dink hoe dit vir jou moes gelyk het. Ek, uh…my girl is in Pretoria, ek het nie ‘n move op Rozaan probeer maak nie.”
Weer steek Rufus sy hand na Juan toe uit. Juan sien oor Rufus se skouer hoe sy vriende by hulself staan en proes oor sy verkeerde aannames, terwyl Rozaan blosend vir hom glimlag. Hy voel hoedat sy wange begin rooi word soos wat hy bloos en steek dan sy hand terug uit.
“Aangename kennis,” brom hy, maar sy bui begin merkbaar lig. Nou bars Wihan en Sibu hard-op uit van die lag terwyl Juan na Rozaan toe stap en haar hand gaan vat.
“Sorry,” sê hy jammer en gee haar ‘n drukkie. Rozaan gee hom ‘n vinnige soen op die wang.
“Ek moet sê, ek voel eintlik nogal gevlei. Dit was half lekker toe jy jaloers was!” fluister sy in sy oor en Juan glimlag breed.
Intussen vra Wihan en Sibu vir Rufus verder uit.
“Wat doen jy nou in ons skool?” vra Sibu die vraag wat hulle nog die heeltyd brand. “Ek dog jy is in Waterkloof?”
“Ek was, maar toe koop my ouers ‘n prokureurspraktyk hier op die dorp en toe trek ons hiernatoe.”
“Nou maar hoekom het jy nie daar in Pretoria gebly nie? Ek meen, jou geleenthede is net soveel meer, is dit nie?” vra Wihan.
Rufus trek sy skouers op.
“Ag, ek weet as ek my beste gee en goed speel, sal ek eventually kom waar ek wil wees. Ek kan mos op Varsity weer in Pretoria gaan rugby speel. As ek nou op hoërskool ook goed doen, kan ek dalk Cravenweek maak en daarna inkom by Tuks se Rugby-akademie. Van daar af pak ek die pad aan Blou Bulle toe.”
“Jy laat dit so easy klink,” sê Sibu en Rufus lag.
“Ja, wel, ek doen dit maar om myself gemotiveer te hou.”
Net toe lui die klok en die kinders beweeg traag van die speelgronde af terug klas toe vir die laaste skof van die dag.
“Kom, Rufus,” roep Rozaan hom. “Ons het nou Afrikaans.”

*****

Leon spuit die water uit sy bottel in sy mond, spoel dit rond en spoeg dit dan uit. Dit was ‘n warm, strawwe rugbyoefening en hy voel nogal uitgeput. Hy wonder of hy nie vandag die gym moet los nie? Nee wat, skud hy dit af. ‘n Paar slukke water en hy sal fine wees. Hy kan nie een dag se gym skip nie, onder geen omstandighede nie.
“Hey, wat lyk jy so ernstig?” vra sy vriend Frans en spat hom nat met water uit die kraan waarlangs hulle staan. Leon spuit hom met sy waterbottel terug.
“Ag, sommer niks. Kom jy saam gym toe?”
Frans gorrel met die water in sy mond en spoeg dit dan dat dit met ‘n sierlike boog trek.
“Okay, solank ons dit net nie te hard vat vandag nie. Ek is nogal paced.”
“Nee, man, ons vat dit lig, ek belowe!” lag Leon. Frans lig sy wenkbroue ongelowig en gee ‘n snork.
“Jou lig is ander ouens se swaar, pêl. Maar, okay, kom ons gaan. Dit gaan netnou begin besig raak.”
Hulle stap sommer van die skool se sportvelde af na die gym toe.
“Het jy gehoor van Jacques Steynberg se party volgende Vrydagaand?” vra Frans terwyl hulle stap. Leon ken die matriekseun van wie Frans praat eintlik net van sien.
“Jacques wat post-matriek doen?”
“Einste,” sê Frans. Leon skud sy kop.
“Huh-uh. Vertel bietjie?”
“Wel,” begin Frans, “Jacques word volgende Vrydag negentien en hy hou ‘n party en sy ouers is as usual op een of ander trippie na een of ander spa toe, maar almal weet dis net code vir dat sy ma weer in rehab is en dat sy pa daar naby by sy tannie-hulle of iets bly.”
“So?”
“So, daar gaan niks grootmense wees nie en dis ‘n open party! You know what that means, buddy!”
“I know what that means, buddy! Bergkruin-chicks!”
“Presies!” kom dit opgewonde van Frans. “En daar’s so oulike enetjie in graad 10 by hulle vir wie ek al lankal lus het om te bêre. Sy’t die hotste paar bene en sulke oulike netbal-boudjies. I’d like to give that a spank!”
“Aaah, dis net af, ou!” lag Leon. “Wel, jy sal dit maar alleen moet enjoy. Ek kan nie…”
Frans val hom in die rede.
“Jy kan nie wat nie, Leon? Toestemming kry nie? Jy’s sewentien, my ou. Jou pa kan nie vir ewig op jou kop sit nie. Hel, daar is outjies wat in graad agt is wat met meer wegkom as jy.”
“Jy ken nie my pa nie.”
“Oom Fanie Steyn, groot ou, werk by daai Van Vrede-dude se pa se garage. Bit of a non-cheery disposition.”
“Non-cheery disposition? Highly bedonnerd is nader aan die waarheid.”
Frans stop vir Leon en sit sy hande op sy skouers.
“Maar hy is nie jy nie, Leon. Dis tyd dat jy dit bietjie besef.”
Leon begin weer stap.
“Ek weet dit. Ek weet dit al lankal, maar solank as wat ek nog onder sy dak bly, moet ek nog sy reëls gehoorsaam. Dis nie One Tree Hill hierdie waar jy sommer jouself kan emancipate van jou ouers af nie.”
“Ja, okay,” gee Frans toe, “ek besef dit. Ek sê maar net. As jy wil, kan ons vir hom tune jy kom by my slaap, ons sê ons moet aan ‘n taak werk of iets.”
Leon bars uit van die lag.
“Yeah, right, hy gaan verseker daarvoor val! Nee, sorry, tjom, lyk my ek gaan hierdie een, soos die meeste ander parties, ‘n skip moet gee. Sy baas se laaitie het blykbaar bietjie roids by die skool gespuit so nou is dinge by die werk aan die moeilike kant en daarom is hy die afgelope dag of wat especially bemoerd. Maar neem foto’s met jou selfoon se kamera, ek wil sien watse aksie was daar!”
Frans grinnik.
“Om jou net lus te maak? My plesier!”

*****

Mnr. Venter se fluitjie blaas skril en die Eerstespan se oefengroep draf in die warm namiddagson nader en gaan sit in ‘n groep voor hom.
“Goed, kêrels, ons is klaar vir vandag,” begin die kort, stewige afrigter en hier en daar klink daar ‘n “dankie tog!” onderlangs op. Hy besluit om dit vir eers te ignoreer en gaan voort.
“Maar dit beteken nie dat julle nie jul eie oefenprogramme hoef na te kom nie. Ek herhaal weer: as jy ná die Rugbyweek jou plek in die Eerstespan wil behou, gaan jy hom moet verdien en moenie dink ek gaan jou kies as jy nie daar hoort nie, al is jou pa ook wié.”
Sonder dat hy dit bedoel, land sy oë op Juan toe hy die laaste woorde sê. Juan, al klaar rooi van die son en die uitputting, word nog rooier. Hy kyk af en laat sak sy kop op sy gekruisde arms wat op sy knieë rus. Man, what an asshole! dink hy. Vir wat moet die ou nou juis op my kom staan en pik?
“Rufus, dit geld vir jou ook. Ek gee nie om hoe dit by jou ou skool gewerk het nie, maar hier by Hoërskool Bergkruin gaan dit nie oor wie jy is nie, maar oor hoe goed jy speel. Goed, manne, sien julle môremiddag.”
Toe die ander ouens opstaan en na die krane toe slenter, bly Juan net waar hy is, trek sy oefentrui uit en gaan lê sommer net daar agteroor in die son met sy arms oor sy gesig. Van die krane se kant af kyk Wihan op en sien hom daar lê. Hy maak sy waterbottel vol, stap nader en spuit dan vir Juan ‘n volskoot op die maag. Dit laat Juan regop ruk.
“Hey, ou! Wat maak jy?” vra hy moegerig vir sy vriend. Wihan lag.
“Kom uit die son uit. Jy gaan sonsteek kry.”
“Ten minste kry hy dan ‘n steek,” laat hoor Sibu van waar hy nadergestaan het. Juan kan nie help om vir sy vriende te glimlag nie. Hy steek sy arms uit en hulle trek hom op.
“Kom. Gaan ons gym toe?” vra Wihan. Juan skud sy kop, vat Wihan se waterbottel en spuit dit dan op sy eie kop uit.
“Nope, ek is gehok, onthou. Ek spuit mos in anyway roids, so vir wat sal ek wil gaan gym?” vra hy sarkasties. Wihan gryp sy waterbottel terug en forseer die laaste paar druppeltjies oor sy eie gesig uit.
“Is jy gehok van gym ook?” vra Sibu.
“Ek mag net skool toe en oefening toe, that’s it. In fact, ek dink my pa gaan vroeg by die werk waai om te kyk of ek betyds by die huis is. Ek cardio maar daar in my kamer en doen ‘n paar sprints in die backyard.”
“It sucks to be you,” laat val Wihan weer. “Ek dink ons moet vir Rufus gaan wys waar’s die gym, Sibu. Apparently is sy biceps nog nie groot genoeg na Venter se smaak nie.”
Sibu kyk na waar Rufus eenkant naby die sportgronde se kiosk besig is om sy toks uit te trek.
“Rufus! Kom gou hier!” roep hy hom. Juan laat ‘n effense kreun uit en Wihan stamp hom met die elmboog in die ribbes.
“Gee die ou ‘n kans, hy het mos verduidelik,” sê hy deur sy tande terwyl hy vriendelik in Rufus se rigting glimlag en vir hom beduie om nader te kom. Juan doen nie die moeite om te glimlag nie.
“Beteken nie ek hoef hom te like nie,” sis hy deur sy tande terug. Soos wat Rufus aangestap kom, stap Juan verby hom en skuur effens teen sy skouer.
“Lekker oefening,” is al wat hy mompel. Rufus kyk oor sy skouer.
“Ja…jy ook,” probeer hy, maar Juan ignoreer hom, sluit sy fiets los en verdwyn dan in die straat af.
Rufus frons, maar Wihan kom staan langs hom en sit sy arms in sy sye.
“Moenie oor hom worry nie, hy sal regkom. Gaan bietjie deur ‘n rowwe patch by die huis. Hy gebruik al lankal drugs, deesdae tik ook. Shame.”
Rufus se oë rek groot.
“Genuine?”
“Is jy mal, ou! Luister, laat ek jou nou een ding vertel: in hierdie dorp moet jy blêrrie versigtig wees vir wat mense jou vertel. Dis 80% van die tyd ‘n verdraaiing van die waarheid. As jy iets oor iemand hoor, kom vra jy eers vir my. Of, beter nog, jy gaan vra daardie persoon sommer self. Skinderstories bring tog net moeilikheid.”
Rufus lag senuweeagtig.
“Okay…”
“Kom,” sê Sibu. “Ons is oppad gym toe. Kom saam, dan wys ons jou waar dit is.”

*****

Die netbal- en hokkiemeisies van Hoërskool Bergkruin het gewoonlik nie veel met mekaar uit te waai nie en kompeteer dikwels om die aandag van die rugby- en hokkieseuns, maar vanmiddag is dit anders. Hulle sit in ‘n bondel op die verste punt van die pawiljoen en kyk na die Eerstespan-oefengroep wat sopas klaargemaak het met hul oefening en nou met kaal bolywe staan en water drink.
“Oh my soul, check die nuwe ou, julle!”
Sugte van verlange gaan op.
“Kyk sy six-pack. Dis mooier as al die ander ouens s’n.”
“En sy arms is so…mánlik. Ek kan nie glo hy is nou eers in graad 10 nie.”
“Ek wens ek was daai waterbottel!”
‘n Hele paar giggels klink op tussen die meisies.
“He can suck on me like that anytime!”
“Sorry, girls, maar hy het blykbaar ‘n meisie,” laat Rozaan van haar hoor waar sy ook verlangend na Rufus staar.
“Ag, jy’s nie ernstig nie.”
“Nee, dis die waarheid. Hy het my self vertel toe ons pouse gestaan en gesels het.”
“Aah, girl! Hoe klink sy stem?”
Noudat die meisies agtergekom het dat Rozaan die eerste een was wat interaksie met die nuwe wonder bewerkstellig het, is sy die middelpunt van die aandag.
“Soos ‘n droom! En hy het sulke sterk hande en die mooiste paar oë, julle kan dit nie glo nie. Hy lyk amper soos ‘n jonger weergawe van McSteamy van Grey’s Anatomy.”
Droomverlore sug die meisies en staar Rufus aan terwyl hy saam met Sibu en Wihan van die sportgronde af wegloop.
“Wel, ek het nuus vir daai girl in Pretoria: sy het kompetisie,” verklaar Corna, die senter van die Eerste Netbalspan. Onmiddellik is die atmosfeer ‘n bietjie meer gespanne tussen die meisies.

*****

Teen die tyd dat Wihan-hulle by die gym aankom, is dit al klaar stampvol.
“Nogal crowded,” merk Rufus op.
“Dié tyd van die dag, ja,” antwoord Sibu droog. “Thanks to Venter kom ons altyd so laat eers hier uit.”
“En Sibu is te vrek lui om in die oggend te kom gym,” las Wihan aan. Sibu snork.
“Lazy? Me? Jou moer, pêl. Anders as jy moet ek vroeg opstaan om kaalvoet taxi rank toe te loop, sodat ek een kan vang skool toe.”
Weer eens lyk Rufus onkant betrap en dié keer besluit Wihan om die grappie nog verder te rek.
“Ag, Sibu, jy kan maar ophou om my op ‘n guilt trip te probeer sit oor jy swart is. Ek worry lankal nie meer nie. Ek weet in elk geval nie wat soek ‘n charcoal black soos jy in hierdie witmens-gym nie.”
Sibu sien die lagduiweljies in Wihan se oë en speel saam.
“Jy beter begin worry, white boy. Ek gaan jou en elke ander witvel in hierdie gym se baas wees eendag. Anyway…”
“Miskien moet ons oor ‘n uur of wat terugkom, ek sien julle ouens is bietjie tense,” val Rufus hulle ongemaklik in die rede. Wihan en Sibu bly skielik stil en begin dan proes van die lag.
“Sorry, ou, ons moes net. Jy’s lekker gullible!” lag Sibu.
“Ek’s jammer,” sê Wihan ook. “Jy moenie als so ernstig opvat nie, Rufus, jy sal ‘n flippen hartaanval kry. Kom, hierdie ander ouens se asses. Ons het net soveel reg om hier te wees as hulle.”
Wihan vat vir Rufus na die ontvangstoonbank toe sodat hy ‘n lidmaatskapvorm kan voltooi, terwyl Sibu intussen vir hulle ‘n locker gaan soek waarin hulle hul gymsakke kan toesluit.
Terwyl hulle die vorm staan en invul, word Wihan skielik met ‘n gym-handdoekie van agter af geslaan en hy kyk om. Dis Leon en Frans, wat sopas klaargemaak het met hul sessie.
“Hoe lyk dinge, tjomma?” groet Leon hom.
“Lekker en jy?” groet Wihan vriendelik terug. Hy en Frans skud ook blad.
“Kan ek jou maar opsit as reference, Wihan?” vra Rufus en kyk ook om. Frans se oë rek verbaas.
“Flip, ou, as ek nie van beter geweet het nie, het ek gedink jy is Rufus Lambert. Ek sweer, jy lyk presies soos hy,” sê hy. Wihan en Rufus kyk na mekaar.
“Ehh…” begin Wihan, maar Rufus steek sy hand uit.
“Rufus Lambert. Aangename kennis. Ek is nou in Hoërskool Bergkruin.”
“Okay…” antwoord Frans en skud blad. Leon gee hom ook ‘n stewige handdruk.
“Welkom in die dorp. Net jammer jy’s in die verkeerde skool!”
Rufus weet nie regtig wat om te sê nie, maar dan sit Wihan sy arm om sy skouers.
“Ignoreer daai opmerking. Jealousy makes you nasty.”
“Ja, ja, keep telling yourself that,” antwoord Leon. “Hoorie, ons is gaar, so check julle later.”
“Cheers, buddy!” groet Wihan hulle en Rufus lig ook sy hand op in ‘n groet.
Leon en Frans stap natgesweet en rooi by die gym se deur uit.
Frans kyk oor sy skouer terug in ongeloof.
“Nou wat sal Rufus Lambert hier maak?” wonder hy hard-op.
“Hulle het seker maar hiernatoe getrek of iets,” antwoord Leon en gooi sy gymsak oor sy skouers.
“Ja okay, obviously. Ek bedoel, hoekom het hy nie by sy ou skool gebly nie? Hy gaan Beeld-trofeë en al daai goed mis.”
Leon glimlag tergend vir sy vriend.
“Pla dit jou? Dis vir my so mooi dat jy sy belange so op die hart dra!”
Frans klap met sy tong.
“Loop skyt man. Ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ja, whatever,” sê Leon tergend, maar raak dan ernstiger. “Ek gaan nie nou al my kop breek oor die feit dat ons aartsvyande sopas die beste flank in skolerugby bygekry het nie. Dis later se worries. Kom ons pak ‘n draffie uit.”

*****

Juan gryp papnat na die gymhanddoekie wat oor sy stoel se ruglening hang en vee sy gesig en bolyf af. Nog net touspring vir so tien minute lank, dan is hy klaar met sy oefening vir die dag. Dis moeiliker om in sy kamer te gym en net cardio daar te doen as wat hy gedink het, maar hy het ‘n tipe oefenprogram aanmekaar geslaan wat hom darem deur sy hoktydperk sal hou. Hy sal net aanhou om die Muscle Growth supplements ook te drink in die tyd. Gelukkig het hy dit van die begin af in sy kamer gebêre.
Net toe Juan die springtou vat, klop iemand aan sy kamerdeur.
“Ek’s besig!” sê hy, maar die deur gaan nogtans oop en sy suster, Marli, kom ingestap. Hulle verskil skaars elf maande, maar Juan is die oudste en Marli is nou eers in graad nege.
“Ek het vir jou water met ys in gebring,” sê sy en sit die groot glas, propvol ysblokkies wat belowend daarin rinkel, op sy bedkassie neer. “Ek kon hoor jy’s besig om te oefen.”
Juan glimlag vir sy suster. Toe hulle jonger was, het hulle soos kat en hond baklei, maar die laaste ruk het hulle eintlik nogal baie close geraak. Marli is nie meer heeltemal so irriterend soos sy altyd was nie en hulle kan actually oor dinge gesels. Hy weet nie of dit is oor hy ouer geword het nie en of dit dalk hulle altwee is wat meer volwasse geword het of wat nie. Hulle sê mos ook meisies word vinniger volwasse as seuns – dalk is dit die rede? Maak tog nie regtig saak nie. Dis lekker om nie altyd in mekaar se hare te wees nie.
“Thanks,” sê Juan en vat ‘n groot sluk van die water. Hy skommel dit ‘n keer of wat in sy mond rond en sluk dit dan af.
“Tot wanneer is jy gehok?” vra Marli en Juan trek sy skouers op.
“Ek weet nie. Jy weet hoe’s Pa. Een oomblik moerse befoeterd en die volgende lag hy so vir sy eie grappies dat mens hom ‘n myl ver kan hoor, so dit kan enige iets van ‘n week tot ‘n maand wees. Of langer, you never know.”
“Pa sal jou nooit so lank hok nie. Hy weet jy moet gym toe gaan vir Rugbyweek.”
“O ja? En wat dink jy is ek besig om te doen?”
Marli sug en gaan sit op sy bed terwyl Juan nog ‘n sluk van die yskoue water vat.
“Ek weet nie, Boeta. Pa is deesdae baie funny. Dis…ek weet nie. Hy bly al hoe langer by die werk. Vanaand was hy tot vrek laat toe daar. Hy’t nou eers by die huis gekom.”
Juan frons.
“Regtig?”
“Mmm, en toe ek hom ‘n soen gee, kon ek sweer iets het weird geruik.”
“Weird soos in hoe?” vra Juan.
“Weird soos in asof hy iets gedrink het. En sy hemp het uitgehang. Ek bedoel, Pa se hemp hang nooit uit nie. En nou lê hy en slaap op die bank.”
Juan sit die glas, waarvan die inhoud aansienlik gesak het, terug op die bedkassie en vat dan weer die springtou.
“As Pa hom soos ‘n suiplap wil gedra, is dit nie my besigheid nie,” verklaar hy en begin touspring.
“Ek het nie gesê hy’s ‘n suiplap nie.”
“Ek weet. Ek sê net as hy homself soos een wil gedra, moet hy maar vir hom kry. Ek worry nie.”
Marli staan van die bed af op en vat die glas.
“Wel, solank jy nie woorde in my mond lê nie. Ek gaan bad. Roep my as dit netnou Prison Break is,” sê sy, stap uit en maak die kamerdeur agter haar toe. Sy is ‘n bietjie bekommerd oor Juan. Daar loop allerhande vieslike stories oor hom by haar skool rond en dit maak haar ook ongelukkig. Die kinders sê dat hy ‘n druggie is en dat as mens so baie steroids inspuit soos wat hy doen, ‘n mens sommer netso morsdood kan neerslaan op ‘n rugbyveld.
Marli is in Hoërskool Ewoud Heymans en sy het self gekies om soontoe te gaan. Daar was ‘n verskeidenheid faktore wat haar keuse beïnvloed het, maar hoofsaaklik wou sy nie in ‘n skool wees waar sy Juan van Vrede se sussie sou wees nie. Sy is haar eie mens en verdien dit om so behandel te word. Verder is al haar laerskoolvriendinne soontoe en dis net dom om dan van vooraf te wil begin vriende maak, veral as mens goed met jou vriendinne oor die weg kom en jy die keuse tussen ‘n paar goeie hoërskole het. Ewoud Heymans se netbal is ook uitstekend en hulle bied sang as ‘n vak aan, die ander groot liefde van Marli se lewe. Om te sing is vir haar om vlerke te kry en weg te skiet van hierdie wêreld en die crap wat sy daagliks by die huis moet face.
Almal dink hulle is die perfekte gesin. Haar oupa-hulle is vrek ryk, dit weet sy. Haar pa en ma is high society mense op die dorp en gaan dikwels na een of ander grand funksie toe. Hulle is ook heavy betrokke by die kerk en sy en Juan gaan gereeld na die kerk se Jeug toe – een van die min dinge, saam met haar sang, wat haar sane hou. Sy is nie so seker dat Juan dit heeltemal soveel soos sy geniet of waardeer nie, want daar is nie juis van sy skoolvriende wat soontoe gaan nie. Tog, sy sukkel nooit om hom daar te kry nie, wat seker ‘n goeie teken is.
Maar die afgelope paar maande is dit asof iemand of iets ‘n los garinkie in hul gesin gekry het, daaraan getrek het en nou besig is om die hele spul uitmekaar te laat rafel. Sy weet nie hoe sy daardeur gaan kom of wat gaan gebeur nie. Al wat sy weet, is dat sy nie vir Juan alleen kan los in hierdie tyd nie. Sy het op Mxit by haar Jeug-vriendinne wat in Hoërskool Bergkruin is gehoor van die nuwe ou wat blykbaar so goed is in rugby en wat agter Juan se meisie aan is. Juan moet pasop. Alhoewel sy en Rozaan redelik oor die weg kom, vertrou sy wat Marli is haar nie baie verder as wat sy ‘n eetkamertafel kan gooi nie. As Juan nie versigtig is nie, gaan daai girl hom nog vrek seer maak.

*****

Toe die skoolklok die Vrydagmiddag lui om die naweek aan te kondig, is dit asof die skoolgebou sy asem moeg uitblaas terwyl die kinders by die terrein uitborrel.
Hoewel hy soos ‘n celebrity behandel word sedert hy by Hoërskool Bergkruin aangekom het, het Rufus nog nie regtig vriende gemaak wat hy nou juis ‘vriende’ sou noem nie. Pouses staan hy by die manne en almal wil net heeltyd oor sy rugby gesels. Nie dat daar iets fout is met rugbypraatjies nie, dis net…hy sou graag ‘n bietjie van die aandag van homself af wou reflekteer. In sy ou skool was hy een van baie; hier voel hy amper soos ‘n walvis in ‘n plaasdam – almal weet van hom en almal soek ‘n stukkie van sy aandag.
Daarom het dit hom nie verbaas toe hy hoor hoedat iemand hom roep op pad na die skool se hoofhek toe nie. Wat hom wel verbaas het, is wie dit was.
“Hey, Rufus!” hoor hy Juan se stem. Rufus kyk om. Hulle het vier van hul ses vakke saam en vandag was ‘n vol rooster, so hulle het mekaar dikwels gesien, maar hy het van die begin af die gevoel gekry dat Juan nie van hom hou nie. Hy weet Juan is bang dat hy vir Rozaan gaan afvry, maar hy het self ‘n meisie. Eintlik is hy en Juan in baie dieselfde posisie, aangesien hy self ‘n bietjie bekommerd is oor wie by sy meisie in Pretoria aanlê.
“Hey, Juan,” sê hy en wag vir Juan. Dié lyk omgekrap. Toe Juan by hom kom, maak hy keelskoon.
“Kan ons gou praat?” vra Juan saaklik.
“Ja, sure,” antwoord Rufus. Juan beduie na die bankie onder die groot akkerboom wat in die voortuin voor die ou skoolgebou staan. Hulle gaan sit en Rufus wonder ietwat wantrouig waaroor Juan hom wil spreek.
“Jy het seker gehoor van die open-party wat vanaand by Jacques Steynberg se huis plaasvind?” vra Juan. Rufus knik onseker.
“Ja, so soort-van…dis die ou wat sy post-matriek in die ander hoërskool doen, nè?”
“Ja. Toe hy nog in ons skool was, was sy parties die grootste en wildste van almal. Al die ouens raak gesuip en al die girls raak maklik.”
“Klink lekker,” probeer Rufus met ‘n glimlag, maar die ernstige kyk op Juan se gesig laat dadelik sy glimlag verdwyn. “Of whatever.”
“Anyway, soos ek gesê het, dis gewoonlik ‘n moerse party en dis wanneer sy ouers daar is. Vanaand gaan hulle nie eens daar wees nie, so dinge beloof om heeltemal hand-uit te ruk. Daarom wil ek jou ‘n guns vra.”
Rufus frons.
“Watse guns?”
Juan maak weer sy keel skoon.
“Rozaan gaan na die party toe en ek wil hê jy moet ‘n ogie oor haar hou. Jy weet, net bietjie opcheck.”
“Jy bedoel ek moet op haar spy?” vra Rufus. “Hoekom gaan jy nie self na die party toe nie?”
Juan is nie lus om die verhaal met iemand wat vir hom eintlik ‘n totale vreemdeling is, te bespreek nie. Hy praat al klaar te lank na sy sin met hierdie javel.
“Nie dat dit enige van jou besigheid is nie, maar ek is gehok en sal dit daarom nie kan maak nie. Maar ek weet jy en Rozaan kom goed oor die weg, so…ek het jou hulp nodig.”
Rufus voel nogal gevlei, maar hy vertrou nog nie heeltemal die water nie.
“Hoekom vra jy vir my en nie vir Wihan of Sibu nie?”
Juan vererg homself.
“Man, as jy dit nie wil doen nie, los dit! Ek het net gedog ek sal probeer om jou te vertrou sodat ons vriende kan wees, want ek kan sien dat dit op hierdie stadium vir die hele skool baie meer om die halsbandjie as om die hondjie gaan, maar as jy dink jy gaan in hierdie skool self regkom, moet jy asseblief voortfo…”
Rufus, wat besef dat hy die gebaar totaal en al verkeerd geïnterpreteer het, val Juan in die rede net toe dié opspring om te loop.
“Whoa, sorry, ou. Dis nie wat…ek het nie bedoel…sorry.”
Vir ‘n oomblik staar Juan hom aan met yskoue oë en gaan sit dan weer.
“Let me rephrase: ek het iemand nodig om te kyk laat my girl nie ‘n ander gomgat van Ewoud Heymans vry nie. Wihan en Sibu is so jags soos plaaskatte en daarom gaan hulle self te besig wees om chicks te soek dat ek hulle nie gaan vra nie. Dis vir jou ‘n geleentheid om nuwe mense te ontmoet en die sosiale kringe van Bergkruin te betree. Al wat ek vra, is dat jy af en toe met Rozaan sal gesels sodat die ouens dalk dink julle twee het iets aan en haar dan uitlos. Ek weet mos nou van beter.”
Rufus bloos en knik dan instemmend.
“Dis reg, Juan. Sorry oor netnou. En jy’s reg, dis nie maklik om met mense te gesels as hulle net in jou rugbyprestasies vaskyk nie.”
“Tell me about it. Maar thanks, ek is klaar laat om huis toe te gaan, so ek moet waai. Gee my gou jou nommer?”
Vinnig ruil die twee seuns selfoonnommers uit en dan val Juan in die pad.
“Cheers.”
“Bye,” groet Rufus terwyl hy op die bankie agterbly. Sjoe. Hy kan net dink hoeveel hierdie gesprek van Juan moes gevat het. Hy neem homself voor om die aand sy bes te doen om nie vir Juan teleur te stel nie. Juan is self ‘n baie gewilde ou in die skool en een van die top sportmanne. Toe hy die vorige dag deur die voorportaal gestap het, het hy na die sportbekers in die vertoonkas gekyk en Juan se naam op ‘n hele paar daarvan gesien. Dit sal lekker wees om hom as ‘n vriend te hê.

*****

Wanneer Rozaan in die middag by die huis kom, is die eerste ding wat sy doen, nog voordat sy haar skoolklere uittrek, om haar hi-fi aan te sit. Dis vir haar aaklig om so in stilte te moet funksioneer. Haar ouers werk albei voldag en omdat sy die enigste kind is, kan dinge baie eensaam raak as dit te stil is by die huis. Sy is ‘n meisie wat dit verkies om tussen baie mense te wees, om met ‘n klomp mense op ‘n slag te mingle.
Daarom kan sy nie wag vir vanaand se party nie. Binnekort is dit in elk geval Rugbyweek, wat beteken dat die dorp met troppe ouens van ander skole en plekke oorval word en dus interessante potensiaal oplewer.
Toe sy in haar kamer instap, sit die donkerkop haar hi-fi op relatiewe hoë desibels aan. Sy gooi haar skooltas in die hoek langs haar lessenaar neer en trek dan haar skoene uit en maak haar skoolrok se belt los. So ja, nou kan sy begin dink. Wat gaan sy inpak vir vanaand? Sy gaan by haar vriendin Lisa aantrek en sommer daar oorslaap ook. Lisa se ouers gee net vir haar ‘n huissleutel, hulle bly nie wakker en wag tot sy by die huis is soos haar eie ma-hulle nie.
Rozaan gaan staan besluiteloos voor haar oop kasdeure. Juan gaan nie vanaand daar kan wees nie, want hy is mos gehok, so sy hoef nie hom in ag te neem as sy moet kies wat om aan te trek nie. Hy hou nie baie daarvan as sy, na sy sin, te kort rompies aantrek nie.
Maar hel, almal sê sy het die mooiste bene in die skool en wat help dit dan as jy dit nooit wys nie? Nee, flip, vanaand gaan sy wys wat sy het. Sy het niks om oor skaam te wees nie. Nie ‘n sentimetertjie selluliet nie! Dankie, hokkie-oefeninge!
Sy wonder of Rufus vanaand daar gaan wees? Dit sal dalk ‘n goeie ding wees vir hom, sodat hy ‘n slag die ander kinders in die dorp ook kan ontmoet. Sy gee glad nie om om hom ‘n bietjie tuis te laat voel nie! Toe hy nou die dag so kaal bolyf op die rugbyveld gestaan het, het sy gewens sy kon met haar hande oor sy klipharde maagspiere streel. Ja, goed, Juan is self flippen goed gebou, maar hy is meer die atletiese tipe. Rufus lyk meer soos ‘n tradisionele rugbyspeler.
Sy betrap haarself hoe sy planne maak om vanaand vir Rufus alleen te kry, maar onthou dan dat hy gesê het hy het ‘n meisie. Damn! Sy wonder hoe ernstig is hulle? Out of sight, out of mind. Hy sit seker en treur oor hy nie by sy girl kan wees nie en sy sal vanaand seker maak dat sy daar is om hom te troos as die heimwee te erg raak.
En, selfs al val hy nie vanaand al vir haar planne nie – daar gaan baie ouens van Ewoud Heymans daar wees en daar is self ‘n paar studs wat daar rondloop…
Sies, Rozaan! Kom die stemmetjie binne haarself. Juan het jou nog nie een keer ‘n halwe rede gegee om hom te wantrou nie en hier staan jy en planne maak oor hoe jy hom gaan verneuk.
Skuldgevoelens kruip teen haar rug op. Sy was nog nie eens by sy huis sedert hy gehok is nie en as sy sien dat hy op Mxit opkom, gaan sy dadelik af. If anything is hy eintlik geregtig daarop om haar te verneuk.
Sy skud haar skouers, amper asof sy die gevoel soos water van haar rug af wil afskud. Hulle het nie met mekaar getrou nie en hoewel die begin van die verhouding vreeslik romanties was, doen dit nou niks meer vir haar nie. Dis nie asof Juan nie meer vir haar aantreklik is nie – hy is lag-lag een van die sexyste ouens in die skool! – maar nêrens het hulle hul “undying love” aan mekeer gesweer nie. Wat ookal vanaand gebeur, dis in elk geval verby, besluit sy. Ek sal hom net môre sê en dan moet hy nou maar daarmee deal.

*****

Rufus staan ongemaklik voor die groot, oop hekke aan die voorkant van Jacques Steynberg-hulle se erf. Juan het vir hom per sms verduidelik waar dit is en hy het met sy motorfiets soontoe gery. Nou sit hy hier op sy motorfiets en hy het nie ‘n clue wat om te doen nie.
Rufus vee sy sweterige handpalms aan sy broekspype af. What the hell? dink hy. Dis nie die eerste party wat hy in sy lewe bywoon nie, so hoekom voel hy so ongemaklik? Dis seker tog orals maar dieselfde, met die dronk main ouens, die smooth-talkers wat net wil score en die girls wat orals rondstaan asof iemand hulle randomly soos tuinkabouters daar geplant het. Hier en daar sal daar ‘n girl wees wat saam met die manne kuier, of twee wat saam-saam sletterig rondval ná ‘n shot tequila of twee. Dis ‘n reuse fake spul, maar dis eintlik ‘n speletjie en solank jy by die status quo sou hou, sou alles fine wees.
Probleem is, hy is nie seker by watter deel van die status quo hy moet hou nie, want hoewel hy seker as een van die rugbybrekers geklassifiseer kan word, is hy terselfdertyd die nuwe ou in die skool en die dorp en hy is nie baie seker hoe daardie rol vertolk moet word nie. Hulle het sy hele lewe lank op een plek gebly en hy was nog nooit een van die “nuwe” kinders in die skool nie. Toe hy die nuus dat hulle gaan trek gekry het, was hy heeltemal onkant gevang. Tog het hy gehoop…maar dit het alles in rook opgegaan.
Nou het Juan hom nog hierdie weird guns ook gevra! Dis nie asof dit dinge makliker maak nie, want nou moet hy vir Rozaan ook nog tussendeur juggle. Om alles te kroon, kry hy nie antwoord by sy eie meisie se selfoon nie.
‘n Vuka Scooter stop met ‘n gepor-por-por langs hom. Die persoon haal sy valhelm af en Wihan se breë glimlag begroet hom.
“Yes, ou, hoe lyk dinge?”
Rufus is bly om iemand te sien wat hy nou al darem ‘n bietjie ken.
“Hey Wihan! Nee, goed goed. Waar’s Sibu vanaand?”
Wihan kyk vir Rufus aan asof hy mal is.
“Sibu? By hierdie party? I don’t think so. Ek en hy is tjommas, maar nie almal is só verlig nie. Veral nie Ewoud Heymans se kinders nie. Daai boertjies sal vir Sibu so vinnig laat pad vat dis nie eens snaaks nie.”
“O, okay,” trek Rufus sy skouers op.
“Nou kom ons gaan in,” sê Wihan en hy ry voor Rufus die groot erf binne. Rufus skop sy motorfiets aan die brand en volg kort op sy hakke.

*****

Juan gooi die springtou gefrustreerd in die hoek van sy kamer en val dan met sy sweterige lyf en al op sy bed neer. Hy haat dit om nie by die party te kan wees nie! Almal gaan daar wees – soos in álmal!
Behalwe vir sy bekommernisse oor Rozaan, is dit tyd dat hy saam met die main manne kuier as een van hulle. Hy ken die meeste van die ouens al van laerskool af en met sommige van hulle is hy al lankal redelike goeie vriende. Nou is hy egter in ‘n spesifieke posisie as Eerstespan-skrummie, en in graad tien daarby, en hy wil nie hê die ouens moet dink hy is eintlik ‘n mama’s boy wat eerder by die huis wil bly en bolle rol as om saam met hulle te kuier nie. ‘n Mens word bitter vinnig uitgesluit. As jy nie jouself deel máák van die groep nie, gaan niemand dit doen nie, en as jy weer sien sit jy alleen. Om uitgesluit te wees van die Eerstespan terwyl jy vir hulle speel, is iets wat ongelooflik vernederend kan wees. Die blote gedagte gee vir Juan koue rillings.
Dit het ‘n paar jaar vantevore met ‘n Eerstespanspeler gebeur en die dorp het behoorlik gegons oor dié ou wat maar net nie by die span ingepas het nie. Allerhande belaglike bespiegelings het oor die arme ou rondgeloop, met die gewone simpel stories oor sy seksuele voorkeure wat natuurlik die leitou geneem het. Dit was nie lank nie, toe quit hy in elk geval die span. ‘n Verlies, want hy was op daardie stadium die skool se vinnigste kortafstand-atleet en dit alles net omdat hy nie juis saam met die main manne gekuier het nie. Juan snork. Hy sal nogal graag die regte rede daarvoor wou weet.
Juan staan op, neem die klein gymhanddoekie en vee oor sy gesig en bolyf. Hy wonder hoe lank sy pa beplan om hom gehok te hou. In die verlede het dit nog nooit langer as ‘n paar dae geduur nie, maar then again, hy het nog nooit amper steroïede-inspuitings by die skool ingespuit en is daarvoor gevang nie. Dit mag dalk sy pa se besluit ietwat kompliseer, dink Juan grimmig. Intussen doen hy drie keer ‘n dag sy cardio en hy drink sy supplements getrou. Dít volg hy presies volgens die voorskrif – na die affêre met die inspuitings het hy nie lus om ‘n bloutjie met die goed wat hy actually mag gebruik ook te loop nie.
Sy kamer voel skielik te warm en Juan besluit om onder die stort te gaan inspring. Die strale water op sy gespanne skouers bied welkome verligting en Juan voel hoedat sy spiere effens skiet gee. Hoekom dinge by die huis ook so tense moet wees, weet hy regtig nie. Ja, goed, hulle was nog nooit sonder probleme nie, maar dit was nog nooit iets major nie – klein goedjies, af en toe.
Maar deesdae…dis ‘n ander storie. Dis asof sy ouers opgehou het om met mekaar en met hom en Marli te praat. Ja, goed, hulle práát nog fisies met mekaar, maar dis sulke niksseggende sinne, sulke leë woorde. As hy net kon verstaan wat aan die gang is, sou dit seker ook help. Iewers moet dinge tog weer begin beter gaan.
Juan skud sy kop. Dalk verbeel hy homself, dalk is dit sy hormone, dalk is dit puberteit. Hy móét net ontspan!
Dan besef Juan die absurditeit van sy gedagtes. Hel, al die druk van buite en hier pressure hy homself ook nog om te ontspan…dit tref hom soos ‘n nat vis deur die gesig. Man, dit is net crazy! Hy sal vanaand ‘n bietjie vroeër bed toe gaan, ‘n paar ontspanningstegnieke wat hy een keer in ‘n tydskrif raakgelees het probeer. Hy moet sommer ‘n slag Bybel lees ook, hy het dit heeltemal te lank laas gedoen. Hy voel ‘n bietjie soos ‘n hypocrite as hulle Sondagaande by die Jeug is. Die ander kinders dink sy geestelike lewe is fine, maar hy skeep dit eintlik heavy af. Miskien as hy dít regruk, sal die ander dinge ook in plek val.

*****

By Jacques Steynberg se huis is die partytjie in volle swang. Skalla, een van Jacques se beste vriende, het homself as DJ aangestel en sorg dat polsende musiek die soel naglug in dreun met lywe wat orals op die maat daarvan dans. Skielik kom ‘n klomp van die ouens van die tuinhuisie se kroeg af na ‘n groep meisies toe aangestorm en gryp hulle om hulle in die swembad te gooi. Gillend protesteer die meisies halfhartig en met ‘n geplons en ‘n gespat van water beland ‘n hele paar van hulle in die groot swembad, die ouens inkluis. Frans, wie se idee dit was, gil uitgelate ‘n oorwinnigskreet vanuit die warm swembad.
Van waar hy eenkant op een van die patiostoele sit met sy hande om ‘n leë bierblik gevou, aanskou Rufus die situasie met gemengde gevoelens. Dis nie ‘n bad party nie. Die musiek is lekker, die atmosfeer is gesellig en daar was selfs ‘n reuse tafel vol allerhande snacks – en nie sommer net chips en dip nie! Dit was duidelik dat een of ander gourmet chef ‘n paar lang ure in ‘n kombuis deurgebring het. Hy kon aflei uit die ander ouens se gepratery, en deur doodeenvoudig rondom hom te kyk, dat hier báie geld in hierdie huishouding teenwoordig is.
Wihan kom na hom toe aangestap met ‘n bier vir hul elk.
“Thanks, Wihan,” sê hy en klink syne teen Wihan s’n. Wihan vat ‘n groot sluk.
“Wat sit jy so eenkant? Jy moet mingle, tjomma.”
“Ja, ja,” antwoord hy ‘n bietjie verleë. “Ek skep net ‘n bietjie vars lug. Dis flippen bedompig daar by die bar!”
Wihan lag en vat nog ‘n sluk van sy drankie.
“You got that right. Gepraat van warm, hier is ‘n paar hot girls by die hierdie party.”
“Jip,” stem Rufus saam. “Dit kan jy weer sê!”
Wihan babbel voort langs hom, maar Rufus besef skielik dat hy heeltemal vergeet het om vir Rozaan dop te hou, en nou kry hy haar nêrens te sien nie. Shit! Waar kan sy wees? O, crap, o, crap, o, crap! Juan gaan die lewe vir hom hel maak as hy vanaand opslip.
“Het jy dalk vir Rozaan gesien?” onderbreek hy vir Wihan wat besig is om die meisies te rate. Wihan trek sy mond op ‘n plooi.
“Ek dink sy was een van dié wat in die water gegooi is. Hoekom?”
“Moet haar gou iets gaan vra,” antwoord hy vaag.
Wihan maak sy bier klaar.
“Okay. Ek gaan nog ‘n bier kry. Moenie sonder my waai nie, oraait? As ons saam ry huis toe kan ons mekaar darem opcheck dat ons veilig is!”
Rufus lag.
“No sweat.”
Met sy oë soek Rufus tussen die laggende, gillende meisies in die swembad en sien dan vir Rozaan waar sy en Lisa in die water rondplas. Op die ingewing van die oomblik trek hy sy hemp uit en spring ook in. Die ouens is besig om die meisies te dip en in die water rond te skiet en skielik is dit die perfekte geleentheid vir hom om te join.
Toe die meisies sien dat Rufus saam met hulle in die water is, klink die gille so hard en so deurmekaar op dat ‘n mens nie kan agterkom presies om watter rede hulle histeries raak nie. Frans kry ‘n klein rugbyballetjie van êrens af en gooi dit na hom toe.
“Toe, Meneer Waterkloof, wat sê jy: dink jy die girls kan die bal by ons kry?”
Rufus sien die uitdagende kyk in Frans se oë en weet hierdie is ‘n maak of breek punt.
“Nie as dit van my afhang nie!” sê hy dan met ‘n glimlag, gooi die bal terug vir Frans en swem dan nader. Die ander ouens sien dit raak en hulle kom almal blitsvinnig bymekaar, terwyl die meisies eenkant op hul eie groepeer.
“Okay, manne,” begin Frans en sy oë vonkel stout. “Daar is net een ding waaroor ons gou moet praat: wanneer ek skree ‘knoffel’, vergeet van die bal en duik vir ‘n girl se ass en dan byt jy dit. My broer op varsity het my vertel hulle koshuis doen dit. Hulle noem dit ook Boudbyt!”
Die ouens bars kliphard uit van die lag en die meisies kyk wantrouig in hul rigting.
“Stefan, jy gaan diep. Rufus, sorg dat jy oop bly. Die res van ons, sprei uit en moenie laat ‘n klomp girls ons name gat maak nie. Oraait?” Ondeund lag die ouens saam en neem dan stelling in. Die meisies is ook klaar gekoukus en versprei deur die swembad.
“Reg?” skree Frans en gooi dan die rugbyballetjie hoog die lug in.

*****

Dis donker en stil in die Steyn-huis, maar Leon lê wawyd wakker in sy bed. Hy wonder wat gaan by Jacques se partytjie aan? Hy sal wat wou gee om daar te wees! Frans het vroeër die aand vir hom ‘n foto of wat met sy selfoon gestuur en dit lyk regtig soos die partytjie van die jaar. Okay, die eerste prentjie was van Frans wat met ‘n uitgesteekte tong voor die bar staan, maar nogtans. Die ander prentjies het darem ‘n groter view van die party self gegee.
Leon spits sy ore om te hoor of sy pa snork. Dis tjoepstil in die huis. Vir ‘n oomblik oorweeg Leon die gedagte om uit te glip en op ‘n manier by die party uit te kom. Dis min genoeg dat ouens van die twee aartsvyand-skole saam kuier. Ja, sure, almal ken wedersyds iemand in die ander skool en almal het oor en weer vriende, maar daar is min partytjies wat regtig só groot is en wat almal akkomodeer. Gewoonlik, as daar ‘n party is, hou die ouens van dieselfde skool maar bymekaar. Op die rugbyveld is daar in elk geval geen genade nie, maak nie saak hoe close buddies julle is nie. Daar gaan dit om net een ding: die groot, blink trofee waarom die twee skole elke jaar meeding. Hulle val in dieselfde liga en moet teen mekaar meeding, maar hulle is ook tradisioneel opposisieskole en daarom het die skoolhoofde dit al lankal goed gedink om hulle om ‘n trofee te laat speel.
Leon kan nie wag vir die Rugbyweek nie! Hy raak sommer opgewonde as hy net daaraan dink. Daagliks wemel die sportgronde gewoonlik van die mense – skoolkinders, familie, ondersteuners…maar veral werwers en keurders. Hy voel hoe die vlinders in sy maag meteens lewe kry. As hy vanjaar die keurders kan beïndruk…hy wil bitter graag in sy lewe Cravenweek speel.
Op laerskool het hy, hoewel hy heelwat skraler was as die ander outjies van sy ouderdom, dit tog tot op streeks-provinsiale vlak gemaak. Hy onthou nog hoe lekker dit vir hom was toe hy een van die keurders aan ‘n ander hoor sê het toe hy verby hulle stap: “Jitte, daardie mannetjie tackle darem maar ‘n hond uit ‘n bos uit! ‘n Mens kan sien hy’t hart.”
Hy het nie omgekyk nie en aangestap asof hy dit nie gehoor het nie, maar sy hele binneste het sommer so geelwarm geword van lekkerte. Wow! het hy gedink. ‘n Provinsiale keurder dink ek het hart.
Dit sou egter nie heeltemal genoeg wees om hom tot op provinsiale vlak te neem nie en sedertdien is dit een van Leon se groot drome. Die afgelope paar jare het hy homself daarop toegespits om ‘n spesialis op sy posisie te word. Hy het elke Sports Illustrated en SA Rugby waarop hy sy hande kon lê, verslind en alles oor senters, en veral binnesenters, opgeslurp en toegepas. Oor naweke sou hy een van die duiksakke by die skool leen en dan agter in hul erf, vir ure aanmekaar, sy skouers teen die sak gooi. Laag ingaan, Leon, laag ingaan. Albei skouers, leer om met albei skouers te kan tackle, sou hy oor en oor vir homself sê.
In ‘n poging om te oefen hoe om ‘n bewegende opponent te lak, het hy die duiksak een dag aan die wasgoedpaal se een windmeularm vasgemaak. Hy het die wasgoedpaal so hard as moontlik gespin, ‘n vinnige draai gehardloop en op die sak afgestorm. Met die duikslag het hy die hele paal saam met hom geneem en besef dat die plan dalk nie so lekker gaan werk nie. Sy pa moes die oggend werk en nog voordat hy terug by die huis was, was die paal weer op sy plek. Toegegee, die een arm het ‘n bietjie meer gebuig gelyk as voorheen, maar toe Fanie Steyn die middag by die huis kom en die wasgoedpaal sien, het hy net effens gefrons, stip na die paal gekyk…en toe ‘n trekkie van ‘n glimlag op sy gesig gekry.
Al die ekstra ure wat hy ingesit het, het vrugte afgewerp en dit is een van die redes hoekom hy al die vorige jaar by die Eerstes se oefengroep ingesluit was. Sy dodelike plettervatte is wyd bekend en dis vir hom wat Leon is lekker om te weet daar is iets waarin hy vrek goed is. Nie dat hy noodwendig daarop uitgaan om die ouens onnodig af te skryf nie, maar dit bly ‘n kontaksport en ‘n tawwe een daarby en dit is tog lekker om te hoor hoe ‘n opponent sy wind met ‘n harde hikgeluid verloor.
Leon luister weer of hy sy pa kan hoor. Nog steeds is daar geen geluid nie. Vir ‘n sekonde of twee oorweeg hy dit om tóg na die partytjie toe uit te glip. Hulle sal nog nie nou al klaar wees nie, dit weet hy goed. Dan besluit hy finaal daarteen. Om daar te kom, beteken hy sal óf fiets moet ry, óf hy sal sy pa se bakkie moet steel en dit gaan beslis sy pa wakker maak. Nee, die risiko is net té groot. As hy sy pa nou gelukkig hou, kan hy dalk die volgende keer meer toegeeflik wees.

*****

“Stefan!” skree Rufus en gooi die rugbyballetjie, wat hy sopas by Corna afgeneem het, vir die ander seun. Die meisies stoei hard om besit van die balletjie, maar dis duidelik ‘n spul kranige rugbyseuns wat saam met hulle in die water is en hulle maak dit nie vir die meisies maklik nie. Hier en daar behaal die meisies wel sukses – Corna is immers Hoërskool Bergkruin se Eerste Netbalspan-senter en sy en haar eweknie van Ewoud Heymans maak vanaand ‘n goeie span.
Corna duik voor Frans verby en dis net die oomblik waarvoor hy gewag het.
“KNOFFEL!” bulder hy skielik en onmiddellik is daar chaos in die verhitte swembad soos wat die ouens duik om elkeen ‘n meisie aan die boud te hap. Dit vind met gemengde welslae plaas en dis eintlik maar net ‘n geskree en ‘n gelag en baie water wat gespat word. Lisa trek met ‘n elmboog los en tref vir Stefan solied op sy neus.
“Aaah!” skree die seun en hou sy bloeiende neus vas. “Son of a bitch!”
Die ander ouens lag vir hom en Wihan, wat ook kort ná die begin van die aanvanklike speletjie ingespring het, help hom uit.
Rufus sien hoedat Rozaan vir ‘n ietwat verbaasde, maar tog trotse, Lisa niksvermoedend gelukwens, terwyl Frans regmaak om agter haar in te duik. Hy wonder of hy dit moet keer. Dit tel seker nie as vry nie, maar…toe hy sien dat Frans onder die water ingaan, doen hy dieselfde en swem nader. Net voordat Frans op sy prooi kan toesak, stamp Rufus hom eenkant toe en maak asof dit eintlik hy was wat vir Rozaan gemik het. Die twee seuns breek saam die oppervlak van die water.
“Sorry, ou, my fout,” maak hy kamstig verskoning. Frans sluk die aas.
“Nee, no worries,” sê hy en vervolg dan fluisterend. “As ek geweet het jy wil haar vanaand score, sou ek nie vir haar gegaan het in die eerste plek nie!”
Rufus lyk ‘n oomblik uit die veld geslaan.
“Hoe nou?”
Frans sit sy arm om sy nek en trek hom na die rand van die swembad toe.
“Die ou wat dit regkry om ‘n girl se boud te byt, het eerste dibs op haar en sy is off limits vir die ander ouens vir die res van die aand. Ken jy nie die game nie?”
Rufus lag en vee met sy hand die water van sy gesig af.
“Nie hierdie weergawe nie! Pleks jy sê my?” gaan hy gemaak-ernstig voort.
“Jip,” gaan Frans voort. “Man, ek sou nie gemind het om daai gat ‘n hap te gee nie. Haar boyfriend is nie eens hier om my te stop nie. Dalk moet ek tog try om haar om die hoekie te lei.”
Dis presies wat Rufus bang was hy sou sê en daarom probeer hy Frans se aandag op iemand anders fokus.
“Wat van Corna? Sy’s nogal hot en losserig.”
Frans skud sy kop.
“Nee dankie, pêl. Been there, done that, got the sifilis. Nie weer nie.”
Rufus se mond val in ongeloof oop.
“Aah! Genuine?”
Frans knik instemmend en ietwat verleë.
“Ja, so…nee, ek raak nie weer aan daai girl met ‘n tang nie. Jy kan haar maar kry as jy wil.”
Rufus keer heftig.
“Nee, dis okay, thanks. Ek het in anyway ‘n…”
Hy sny sy sin in die middel stomp-af. As hy nou vir Frans moet laat weet hy het ‘n meisie, gaan dié by hom wil weet hoekom hy vir Rozaan soek en hy is nie lus om dit nou alles te verduidelik nie.
“Ek bedoel, ek moet ‘n draai gaan loop,” probeer hy cover.
“Pee sommer in die swembad,” laat hoor Frans van hom. Rufus lag, klim dan uit en steek sy hand na Frans toe uit om hom ook uit te help.
“Dis ‘n nommer twee, pêl. Mense gaan dit sien.”
Frans kry meteens ‘n idee.
“Was daar nie sulke Lunch Bar-goed op daai tafel nie?” vra hy en hardloop dan gly-gly na die groot tafel toe met die eetgoed op.
Rozaan het ook uit die swembad geklim en staan eenkant met ‘n handdoek om haar lyf en gesels met Lisa en ‘n paar van hul ander vriendinne. Rufus kan sien hoekom Juan vir haar gegaan het: die girl is ‘n absolute babe! Haar swemklere beklemtoon elke stukkie van haar pragtige lyf en haar nat, gitswart hare wat nou in sulke slierte op haar skouers hang, is genoeg om enige ou heeltemal van sy sinne te beroof. Dan is daar natuurlik ook haar beroemde bene…
Rozaan kan uit die hoekie van haar oog sien hoedat Rufus haar aanstaar. Jeepers, ouens is darem só obvious! Dit lyk nie eens asof hy dit probeer wegsteek nie. Wel, een van die redes hoekom sy by hierdie party is, is tog om ‘n ander ou te vry en Rufus is by verre die hotste ou by die partytjie.
“Jy weet hy check jou uit, nè?” vra Lisa skelm.
“Uh-huh,” sê Rozaan.
“Jy weet hy kom hiernatoe aangestap, nè?”
“Uh-huh!”
Rozaan voel opgewonde. Dis nie asof sy iets meer by hom soek nie, maar sy gaan beslis nie nee sê as hy haar na een van die tuin se donker hoekies toe trek nie.
“Hey,” sê Rufus toe hy by hulle kom.
“Hey jouself,” groet sy vriendelik terug. Tergerig gly haar oë onverbloemd oor sy sterk lyf. Rufus sien dit. Oh boy, dink hy. Hier kom moeilikheid.
“Wil jy gou saam met my…ek gaan gou…” Rufus sukkel om die woorde uit te kry op só ‘n manier dat sy nie die idee kry wat hy dink sy het nie. Rozaan het egter lankal daardie idee en sy vat hom aan die hand.
“Kom.”
Sy lei hom na die westekant van die groot tuin, in die rigting van die tennisbaan, waar daar baie groot struike is wat die sig van nuuskierige koekeloerders sal versper. Die gras is ‘n week vantevore gesny en is sag en klam onder hul kaal voete.
Toe sy seker is dat niemand hulle kan sien nie, sit Rozaan haar hande om Rufus se nek en trek hom nader.
Dit vat elke greintjie wilskrag wat hy bymekaar kon skraap, maar net voordat hulle lippe mekaar ontmoet, keer Rufus haar.
“Rozaan…”
Rozaan, wat al haar oë toegemaak het in afwagting op die soen, kyk hom tergerig met haar neutbruin oë aan.
“Wat nou, jou sexy ding?”
Rufus weet dat as daar medaljes vir dié soort ding was, het hy verseker ‘n goue gekry, want weer ‘n keer weerstaan hy die versoeking om tog maar toe te gee en die girl vuurwarm te vry.
“Dis…dis Juan,” kry hy dit uiteindelik uit.
“Wat van hom?” vra sy kort-af. Hel, dink Rufus, nou moet ek my woorde mooi kies!
“Hy…ek en hy het vanmiddag na skool ‘n bietjie gesels en goed en ek weet dit klink weird omdat ons die eerste slag toe ons mekaar ontmoet het nou nie juis gebond het nie, maar ek dink dat ons dalk pêlle kan wees. As ek nou sy meisie sou vry…dit sou dinge net opneuk.”
“So, jy kies my ou bo my?” kom Rozaan se onverwagte vraag. Rufus maak haar hande, wat nog steeds om sy nek gevou is, los en hou dit dan in sy sterkes vas.
“Dis nie dit nie, glo my. Onthou, ek het ook nog ‘n meisie. Ons sou albei nou gecheat het, besef jy dit? En ek dink nie dat Juan of my meisie dit van ons verdien nie. Wat dink jy?”
Rozaan sug saggies. Hy het ‘n punt beet.
“Ja…dis net…” begin sy, maar hou dan op. Sy kan nie glo sy gaan haar gevoelens met hierdie hunk deel terwyl sy hom eintlik wou vry nie, maar nou ja.
“Sien, ek en Juan het op ‘n vreeslike romantiese noot afgeskop en alles was net perfek, jy weet. Ons was dié couple toe die skool weer begin het. Almal het gesê ons pas so goed bymekaar en alles was net soos dit moet wees.”
“Nou hoekom wil jy dan op hom cheat?” vra Rufus.
“Want…ek is nie seker hoe ek oor hom voel nie. Ek dink hy is liewer vir my as ek vir hom en ek is bang sy jaloesie vernietig ons altwee,” kom dit vreeslik melodramaties.
“Wat?” lag Rufus. “Dis die grootste klomp crap wat ek nog van ‘n girl af gehoor het!”
Rozaan rol haar oë.
“Ja, okay, vergeet van die jaloesie-stukkie, maar die res is actually waar. Hy is ‘n moerse nice ou en alles, ek is net nie heeltemal seker of ek reg is om die verhouding ernstiger te neem nie.”
“Nou vir wat sê jy dit nie reguit vir hom nie? Ons ouens like dit as girls ons in hulle vertroue neem, weet jy.”
Rozaan voel skuldig.
“Jy’s seker reg.”
“Natuurlik is ek reg. Ek is ‘n ou.”
Rufus besef meteens hoe dit geklink het.
“Ek bedoel, ek is reg oor hoe ons ouens dink,” probeer hy opmaak. Rozaan tik tergend met haar naels op sy breë borskas.
“Relax! Ek is nie een van daai feministiese bitches nie. Aaah! Julle ouens kom ook met moord weg, weet jy?”
Rufus bloos en hy kan sweer sy kan in die maanlig sien hoe rooi hy word.
“So, is jy nog lus om te bly? Of gaan ons waai?”
Rozaan vee haar hare uit haar gesig uit.
“Kom ons gaan. Ek gaan net vir Lisa sê. Maar kom ons hou hande vas as ons van hier af loop, dan keer dit sommer die unwanted attention ook!”
Hierdie keer stap Rufus voor en eers toe hulle by haar vriendinne is, los hy haar hand.
“Ek kry net gou my hemp en my helmet.”
Terwyl sy ‘n opgemaakte storie vir haar opgewonde vriendinne vertel, tel Rufus sy hemp op die patio-stoel op en pluk dit oor sy kop. Hy sien vir Wihan waar hy en die ander manne by die bar staan en kuier. Wihan sien hom ook raak en kom aangestap.
“Gaan ons spore maak?” vra hy. Rufus knik.
“Jip. As jy reg is?”
Wihan sluk die laaste slukkie bier af.
“Kom ons maak ‘n kraak.”
Teen die tyd dat hulle by hul motorfietse kom, wag Rozaan en Lisa al klaar vir hulle daar. Rozaan klim agter by Rufus op en Lisa gaan sit agter Wihan. Sy slaan haar arms om Wihan se lyf en hy glimlag skielik breed.

*****

Toe Juan se selfoon uiteindelik piep, is hy nog wakker. Hy het, nadat hy ‘n hele spul ontspanningstegnieke toegepas het, begin Bybel lees – die storie van Daniël en sy vriende en dit het hom so gefassineer dat hy nie kon ophou nie.
Juan kyk op sy selfoon:

Als was fine. Jou girl is safe. Sien Maandag.

Verligting spoel deur hom en Juan glimlag. Dit moes eintlik nogal baie van Rufus gevat het om Rozaan vanaand so die heeltyd op te check. Hy skuld die ou groot!
Dan skiet ‘n ander gedagte skielik vir Juan binne. Hy moet vir Rufus ‘n bietjie saamvat Jeug toe. Dis ‘n heelwat gesonder omgewing vir Rufus om mense te ontmoet as Jacques Steynberg se partytjies en hy soek al lankal ‘n vriend om saam met hom te gaan. Ja, hy sal hom môre sms en sê hy moet saamkom.
Binne oomblikke is Juan vas aan die slaap.

*****

Maandag is ‘n bewolkte dag en teen die middag, toe dit tyd is vir rugbyoefening, het dit saggies begin reën. Die afkondigings oor die interkom aan die einde van die dag het egter vir die Eerstespan bevestig dat daar wel oefening sal wees en daarom sit die klomp ouens nou op die skool se hoofpawiljoen, besig om hul toks aan te trek terwyl mnr. Venter nog op pad is. Met skaars drie weke oor voor die vakansie en die Rugbyweek wat in die tweede week daarvan is, moet hulle soveel oefentyd as moontlik insit.
“Dink jy ons gaan lank oefen vandag?” vra Rufus vir Juan wat langs hom sit en sy veters vasmaak. Juan trek sy skouers op.
“Weet nie. Venter kan soms snaaks wees. Pla my in elk geval nie, ek’s lus om te oefen.”
Rufus sien die ietwat harde trek in Juan se oë toe hulle opstaan en solank begin losmaak. Juan het hom oor die naweek gesms en hom saamgenooi na hulle gemeente se Jeuggroep toe wat Sondagaand bymekaar gekom het. Dit was heel okay. Almal was heavy nice en hy het ‘n hele paar kinders herken van skool en selfs twee Ewoud Heymans-meisies wat op Jacques se party was. Wihan was ook daar, loud en joviaal soos Rufus hom leer ken het. Juan self het hom baie vriendelik ontvang en hom die heeltyd geselskap gehou. Vandag by die skool was Juan ‘n bietjie stiller, maar sy nors houding van die vorige ruk was darem heeltemal weg.
Mnr. Venter se fluitjie sny skielik skril deur die seuns se ore.
“Raait, manne! As julle gedink het ons gaan vandag rustig vat, maak julle ‘n fout! Gryp die tyres – vandag gaan ons werk dat die modder spat!”
Vinnig hardloop elke ou en kry vir homself een van die buitebande wat aan ‘n rek vasgemaak is en onder die pawiljoen lê. Die rekke word om hul skouers gesit en dan word daar sprints gehardloop, met die bande wat agterna sleep.
Die ouens gaan staan op die wegspringmerk in ‘n ry.
“Gereed? Gaan!”
Rufus, Juan en Wihan is gelyk aan die voorpunt, met Sibu wat net ‘n kort kop voor hulle is. Nog nege keer laat mnr. Venter die manne 100 meter ver met die bande voluit hardloop en roep hulle dan bymekaar. Dit het intussen harder begin reën sodat dit nou op die ouens neersous en die gras waaroor hulle hardloop is een groot modderpappery. Die bande het ook begin water skep, wat veroorsaak het dat dit swaarder word met elke lopie.
“Raait!” skree Mnr. Venter. “Bring die duiksakke!”
Twee ouens met dryfsakke en twee duiksakke word in die modder opgestel. Waar Sibu staan en blaas, kan hy sy oë nie glo nie.
“Is this guy for real?” hyg hy saggies na Wihan se kant toe.
“Man, ons doen dit net,” hyg Wihan ewe moeg terug en vee die water uit sy oë uit. Juan staan en blaas soos ‘n omgekrapte bul, maar Rufus kan sien dis baie meer van vasberadenheid en opgehoopte aggressie as van moegheid. Hyself kan voel hy het hard gewerk, maar daar is nie ‘n manier dat hy nou kan laat slap lê nie.
“Gereed? Gaan!”
Op Venter se fluitjie storm Juan eerste vorentoe en dryf in die eerste dryfsak in. Hy loop die ou heeltemal uit die aarde uit en hardloop dan voort na die eerste duiksak toe. Hy slaan albei sy arms om die sak en duik dit sodat die modder in alle rigtings spat. Dan spring hy op na die tweede dryfsak, stamp die ou wat dit vashou só hard dat hy op sy rug te lande kom en duik dan die laaste duiksak met ‘n kreet plat. Kort op sy hakke volg Wihan, daarna Sibu en dan Rufus en die res van die span.
Vir Juan word dit meer as net ‘n tackle-oefening. Met elke ronde gaan hy harder in, duik laer en doen dit met meer geweld en aggressie as die vorige keer. Elke keer as hy ná die tweede duiksak opstaan, voel hy meer verlig. Hy het nog altyd alles ingesit tydens oefeninge, maar vandag is dit anders. Vandag is sy motivering anders. Vandag is elke dryfsak en elke duiksak sy pa.
Want die vorige aand was die eerste aand wat sy pa hom met die vuis geslaan het.

*****

Toe die reën Marli se netbal-oefening kanselleer, het sy die kans aangegryp en besluit om ‘n ekstra sangoefening in te werk. Dit werk baie beter om by die skool sang te oefen as by die huis, want die skool se musiekkamers is klankdig en daar pla sy niemand nie. Sy kan die deur agter haar sluit, haar musiek aansit en haar net daaraan oorgee sonder om bekommerd te wees dat haar ma haar gaan onderbreek of kom vra om sagter te wees.
Sy vergeet heeltemal van tyd en toe sy uiteindelik by die musiekkamer uitstap, sien sy hoedat die rugbyseuns net van die veld af kom. Die reënstorm van vroeër die middag het darem uiteindelik bedaar en sy stap sommer na die hek van die sportgronde toe. Sy het haar ma gesms om haar te kom haal, maar dit kan dalk nog ‘n rukkie neem. Haar ma is nie een wat baie aktief in die middag is nie en haat dit anyway om gesteur te word.
Marli sug terwyl sy haar selfoon in haar skoolsak gooi. Eintlik wil sy glad nie huis toe gaan nie. Die vorige aand was net…iets wat sy nooit weer wil beleef nie.
Sy en Juan het skaars teruggekom van Jeug af toe haar pa op hulle begin skree het. Sy kon eers nie verstaan wat aangaan nie, maar toe het sy die leë bottel Cane op die koffietafel gesien staan en alles het meteens sin gemaak. Haar ma was nêrens te sien nie, maar die hoofslaapkamerdeur was toegesluit. Haar pa het hulle uitgeskel vir als wat sleg is, vir skynheilige skuim wat by die kerk voorgee dat hulle engeltjies is. Juan het verbyster teen die yskas bly staan en niks gesê nie en net haar pa se tirade aangehoor. Hy het op haar geskree dat niemand haar in elk geval ooit sal wil hê nie en dat sy nooit iewers met haar sang sal kom nie.
Juan het dit erger gekry.
“Ja, jou stuk vrot vel, wat het jy vir jouself te sê? Jou mooi soet gaan hou by die kerk, nè? Wie dink jy probeer jy impress, hè? Die Here? Want Hy like jou ook net so min soos ek!”
Dis toe dat Juan vorentoe gestorm het, op hulle pa af. Nie dat sy presies kon agterkom wat hy wou regkry nie. Sy het gillend agter hom verby gehardloop teen die trappe op en halfpad boontoe gaan staan. Hulle pa het die koffietafel en die bottel Cane omgestamp en vir Juan deur die gesig geklap en daarna ‘n vuishou in die maag gegee, wat hom wind-uit gelaat het en hom op die mat laat krul en hyg het na asem.
“Jy’s nie meer gehok nie, drol,” was al wat haar pa gesê het voor hy slingerend by die agterdeur uit is.
Sy het eers daar op die trappe neergesak en geskok begin snik. Juan het sy asem teruggekry en kreunend teen die trappe opgesukkel. Sy wou hom help, maar hy het haar weggewys.
“Los my,” is al wat hy saggies kon uitkry. Sy kon sien dat hy baie pyn het – en nie net fisiese pyn nie.
Die volgende oggend was haar pa se kar al reeds weg toe hulle skool toe is. Sy het ‘n lift saam met ‘n vriendin gekry en die hele dag van die situasie by die huis probeer vergeet.
Maar nou lê dit soos ‘n berg voor haar, een wat sy nie weet hoe sy dit gaan uitklim nie. In haar hele lewe het iets soos gisteraand nog nooit gebeur nie.
Marli gaan sit op die sementbankie by die hek en maak haar oë toe. Miskien is alles net ‘n slegte droom, miskien gaan sy een of ander tyd wakker word uit hierdie nagmerrie uit. Ag, Here, waarom moet hierdie dinge met ons gebeur? Ons is dan U kinders, ek en Juan probeer U dan tog dien, bid sy. Is dít dan wat ons daarvoor kry?
Sy sit nog so met haar oë toe, toe iemand skielik langs haar kom sit.
“Hey, Marli,” groet Leon Steyn en plak dan uitgeput langs haar neer. Sy maak haar oë oop en herken hom byna nie. Van kop tot tone is hy besmeer van die modder. Net sy gesig is ‘n bietjie skoon ná ‘n waspoging by een van die krane.
“Haai, Leon,” groet sy skamerig terug. Leon is een van die main rugby-ouens in die skool, hoekom sal hy nou skielik met háár wil praat? Sy het nie eens geweet hy ken haar naam nie!
Leon vee selfbewus oor sy hare waarin daar vaalbruin modderkoeke saamgepak het.
“Wat doen jy nog so laat by die skool?” vra hy en glimlag. Sy tande is baie wit teen sy modderbruin gesig!
“Ek het sang geoefen,” antwoord sy. “Jy?”
Vir ‘n oomblik kyk Leon haar vraend aan. Kan die girl nie sien hy het rugby geoefen nie? Maar dan sien hy hoe sy agterkom dat sy ‘n baie obvious vraag gevra het en hulle altwee proes van die lag.
“Ja, ek het ‘n…’n panda gejag,” spot hy. Hy sien hoe Marli verleë word en probeer haar dan troos deur sy hand op haar skouer te sit, maar dis vuil en vol modder.
“O, crap! Nou’s jou skoolklere ook vuil,” begin hy verskoning maak, maar dan begin Marli saggies te snik. Nou weet hy glad nie wat om te doen nie.
“Ek’s jammer oor jou skoolklere, ek het nie bedoel…”
Marli beduie met haar hand dat hy moet stop. Sy kry ‘n tissue van iewers uitgetoor en vee dan haar oë af.
“Dis nie dit nie. Vandag is net nie my dag nie,” kom dit snuiwend. Leon voel verlig.
“O, sorry man. Iets waarmee ek kan help?” Hy weet nie waar hierdie skielike beskermingsdrang vandaan kom nie, maar dis asof hy net graag dit wat hierdie meisie laat huil, wil uitwis.
Marli skud haar kop.
“Ek dink nie so nie! Maar dankie. Dis altyd lekker om te weet iemand wil help.”
Sonder dat sy dit beplan het, sit sy haar kop teen sy bors en gee nie eens om oor die modderbesmeerde rugbytrui nie. Leon sit sy arms om haar skouers en druk haar saggies teen hom vas.
“Toemaar, alles sal regkom,” sê hy en kyk op na die horison se kant toe.
“Hoe weet jy?” vra Marli en tel haar kop op. Leon glimlag en beduie met sy hand na waar die wolke begin ooptrek het.
“Die reënboog. Reënboë beteken altyd daar is hoop.”

*****

Laat die middag kom Wihan modderbesmeer en stokflou by die huis aan. Hy en Sibu het besluit om die gym ‘n skip te gee ná die strawwe oefensessie waardeur mnr. Venter hulle gesit het. Hy is in elk geval te vuil, die gym sal hom wegjaag as hy in hierdie toestand daar aankom!
“Gaan sit jou vuil toks buitekant sodat die modder daarso droog kan word,” het sy ma hom met een kyk beveel. Wihan se ma is nie ‘n moeilike mens nie, maar vir modder het sy nie veel ruimte in haar lewe of haar huis nie. Buitekant, beslis. Wihan en sy maatjies het kleintyd al in die tuin modderdamme gebou en dan met hul besmeerde arms en bene die sitkamer binnegestorm. Die laaste keer het sy op hulle afgekom waar hulle besig was om in die sitkamer haar splinternuwe wit langhaarmat vol oulike bruin voetspoortjies te betrap. Net daar het sy ‘n buitestort laat insit langs die swembad.
“Jy spoel jou modder daar af en nie in my huis of my swembad nie,” was haar reël en die gesin het maar te goed geweet om vinnig daarby in te val.
Daarom het Wihan sy ma sommer so deur die kombuisvenster gegroet en die opdrag om sy toks buite te los daar ontvang. Hy loop om die huis en gaan sit agter op die stoeptrappie, trek sy toks uit en stap dan na die buitestort. Gelukkig het sy ma dit goed gedink om ook ‘n warmwaterkraan te laat installeer!
Die warm water laat ‘n groot lekkerte oor sy lyf kom soos wat dit sy moeë spiere masseer. Hy stort sommer so met sy oefenbroekie aan en vir ‘n paar minute staan hy net doodstil, toe-oë en laat die water oor hom spoel.
Dan tref ‘n vlaag yskoue water hom van bo sodat hy van skok na sy asem hyg.
“What the fudge..?”
Wihan kyk op en sien hoe Leon homself skeur van die lag.
“Jis, pêl, nou het jy met die verkeerde leeu se snorbaarde gespeel!” sê hy en spring uit die stort. Leon kan sien wat Wihan se plan is en probeer terugvlug oor die muur na hul eie erf toe, maar Wihan kry hom tog aan die enkel beet en trek hom terug sodat albei agteroor op die gras langs die heining val. Dit word ‘n gestoeiery, maar Leon is sterker as Wihan en pen hom uiteindelik vas.
“Wat gaan jy nou doen?” vra hy tergend.
“Dít,” sê Wihan en met ‘n flip-beweging van sy geoefende losskakelbene skiet hy vir Leon bo-oor sy kop sodat hy binne-in die swembad beland. Proesend kom Leon terug na die oppervlak.
“Okay, okay, ons is seker quits,” gee hy laggend toe toe Wihan hom hand gee om hom uit te help. Toe Wihan hom egter wil uittrek, pluk Leon vinnig sy arm. Wihan verloor sy balans en beland ook met ‘n gespat van water binne-in die swembad. Sy oë is groot toe hy weer die rand bereik.
“My ma gaan ons vrek maak!”
“Hoekom?” wil Leon met ‘n effense frons weet. Wihan beduie na die water.
“Die modder…”
“O, crap,” kom dit verskrik van Leon. Die twee spring op en skiet dan albei oor die muur na Leon-hulle se erf toe. Leon gaan haal twee handdoeke en die ouens droog hulself tot ‘n mate af. Moeg gaan sit hulle teen die huis se muur.
“Is julle ook so heavy gedril vandag?” vra Wihan moeg.
“Jip,” antwoord Leon. “Reën of te not, oefen sal ons oefen. Ek neem aan dis ook die rede dat jy soos ‘n koöperasie-outa lyk?”
“Ja,” sê Wihan. “Venter het vandag geen genade gehad nie. Die ouens kon naderhand net nie meer nie. Selfs daai nuwe ou, Rufus, was naderhand kas toe. Net Juan het gelyk asof hy nooit gaan moeg word nie. Hy het geoefen soos ‘n dier.”
“Sy sussie is nogals oulik.”
Wihan frons.
“Marli?”
“Mmm. Ek het so bietjie met haar gechat na skool en stuff. Sy’t vreeslik gehuil, toe troos ek haar.”
“Wat?!” lag Wihan. “‘Toe troos ek haar’. Wat’s dit veronderstel om te beteken?”
“Net wat ek sê! Ek het haar vasgehou…en sy het haar kop op my bors gesit.”
“En toe vry jy haar?”
“Dis…my besigheid,” kom dit ontwykend van Leon, maar Wihan kan sien hoe die ou verleë word.
“Ek het dit geweet! Toe vry jy haar sommer net daar in die straat. Lekker, man.”
“Ek het haar nie sommer net daar in die straat gevry nie! Dis nie hoe dit is nie.”
Wihan trek sy wenkbroue op.
“Nou hoe is dit dan? Verduidelik ‘n bietjie?”
Leon weet hy het homself in hierdie hoek in gekry en nou sal hy maar moet praat.
“Ek dink ek like haar. Ek ken haar al lankal van sien en so en sy is moer mooi. Sy is nie soos die ander meisies in graad nege nie – sy het actually breins.”
“En mangels,” val Wihan hom in die rede. Leon klap sy tong.
“Ag, voertsek, man! Ek sê mos ons het nie gevry nie. Sy’s ‘n goeie meisie en dis nie asof ek haar net wil score en los nie.”
“Jy beter haar nie seer maak nie,” sê Wihan skielik ernstig. “Dinge by hulle huis is nie lekker nie en as jy haar gaan gebruik, gaan ek jou net móét donder.”
“Ek sê mos ek gaan nie! Haar huislike omstandighede beïnv